(“Die doop met die Gees” is deel van ‘n reeks van 3 artikels: Die uitverkiesing, Die doop met water en Die doop met die Gees.  Die gesamentlike bronnelys word by al drie artikels herhaal.)

 

Die term “doop met die Heilige Gees”

Vir wie is die doop met die Heilige Gees bedoel?

Wat is die doop met die Heilige Gees?

Dit is 'n gawe wat God gee op grond van sy belofte.

Dit is 'n salwing met die krag van die Here.

Dit gee vrymoedigheid om te getuig.

Die gawes van die Heilige Gees kom tot manifestasie.

Die doop met die Heilige Gees is 'n toerusting vir 'n bediening wat op die gelowiges gerig is.

Dit gaan saam met die vrug van die Heilige Gees.

Dit gaan saam met 'n totale oorgawe.

Die doop met die Heilige Gees gaan saam met God se leiding in die volle waarheid.

Ontvang mens dan nie die Heilige Gees by bekering nie?

Die mens as liggaam, siel en gees

Die doop met die Heilige Gees is nie dieselfde as wedergeboorte nie

Hoe word mens gedoop met die Heilige Gees?

Die wesenlike van die godsdiens

Bibliografie

 

Die term “doop met die Heilige Gees”

Baie mense assosieer die “doop met die Heilige Gees” met die Pinksterkerke of Charismatiese kerke.  Dit word dikwels gesien as ‘n “second blessing” wat jou help om ‘n “heiliger” of ‘n “beter” Christen te wees.  Baie verkeer ook onder die indruk dat die doop met die Gees sinoniem is met “spreek in tale.”

Afgesien daarvan dat die term “doop met die Heilige Gees” verskillende konnotasies by verskillende mense het, is dit ‘n term wat telkens voorkom in die Nuwe Testament.  Dit kom in al vier die evangelies en Handelinge voor:

1.   Mt 3:11: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat na my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om te dra nie.  Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”

2.   Mk 1:8: “Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.”

3.   Lk 3:16: “... antwoord Johannes almal en sę: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie - Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”

4.   Jh 1:33: “... Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.”

5.   Hd 1:5: “Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie.”

6.   Hd 11:16: “... Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.”

Vir wie is die doop met die Heilige Gees bedoel?

Daar is talle voorbeelde in die Nuwe Testament van mense wat gedoop is met die Heilige Gees.  Uit hierdie voorbeelde is dit duidelik dat dit bedoel is vir almal wat glo, nie net vir spesiale of “super-Christene” nie:

1.     Petrus sę in Hd 2:38: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word... en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”

2.     Hd 10:44: “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval...”

3.     Jl 2:28 en Hd 2:17: “In die laaste dae sal ek my Gees uitstort op alle vlees...”

4.     Voorbeelde van mense wat met die Heilige Gees gedoop is:

Hd 2:1-4                                                                                   (Die mense teenwoordig tydens pinkster)

Hd 4:29-31                                                                                                                (Die Joodse Raad)

Hd 8:15-17                                                                                                          (Die mense in Samaria)

Hd 9:16-17                                                                                                                                (Paulus)

Hd 10:44-46                                                                                                                           (Cornelius)

Hd 11:15                                                                                                     (Die gemeente in Jerusalem)

Hd 19:1-6                                                                                                               (Die mense in Efese)

1 Tm 4:14; 2 Tm 1:6-7 (Timoteus)

Mt 3:16; Mk 1:10; Lk 3:22[1]; Jh 1:32-33 (Jesus)

Wat is die doop met die Heilige Gees?

Dit is 'n gawe wat God gee op grond van sy belofte.

OT Tekste

1.     Jes 44:3 sę: “Want ek sal water[2] giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.” (Vgl. Jes 55:1; Jr 2:13; 17:13; Sg 14:8; Jh 4:10).

2.     Jl 2:28-29: “En daarna sal ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense sal drome droom, julle jongelinge gesigte sien.  En ook op my diensknegte en diensmaagde sal ek my Gees uitgiet.”[3]

God se oorspronklike doel met die skepping van die mens was om 'n intieme liefdesverhouding met hom te hę (1 Jh 1:1-3).  In die Ou Testament het die mense nog geleef onder die vloek van die wet (Gl 3:10), en hulle kon nie in so 'n direkte verhouding met God staan nie.  Die priester kon byvoorbeeld net een maal per jaar versoening doen vir die sondes van die volk (Heb 9:7).  Maar deur die dood van Christus het ook die wat vroeër ver was (heidene), naby gekom deur die bloed van Christus (Ef 2:13), want deur Hom het almal nou toegang deur die een Gees tot die Vader (Ef 2:18).  Ons het nou vrymoedigheid om in te gaan in die heiligdom (Heb 10:19), deurdat die voorhangsel in twee geskeur het aan die kruis (Mk 15:38).  Dit alles wil God volle gestalte gee in die gelowige se lewe deur die doop met die Heilige Gees.  Die doop met die Heilige Gees is in die eerste plek God se begeerte.  Hy begeer dit meer as wat enige mens dit kan begeer.  Daarom het Hy dit reeds in die Ou Testament beloof.  Die Nuwe Testament getuig van die waarmaking van God se belofte:

NT Tekste

1.     Hd 1:4: “Hy het hulle bevel gegee... om te wag op die belofte van die Vader.”

2.     Hd 2:33: “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor.”

3.     Hd 2:38-39: “... Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.  Want die belofte kom julle toe en julle kinders.”

4.     In Hd 8:19-20 wil Simon die gawe van die Heilige Gees met geld koop om mag te hę, sodat elkeen wat hy die hande oplę, die Gees kan ontvang.  Maar Petrus antwoord hom en sę: “Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.”

Dit is 'n salwing met die krag van die Here.

Tekste

1.     Hd 1:8: “... maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom...”  Hierdie vers staan in verband met 1:5, met ander woorde, die frase “wanneer die Heilige Gees oor julle kom” staan direk in verband met die doop van die Heilige Gees.

2.     Hd 4:30: “... deurdat U u hand uitsteek tot genesing en tekens en wonders...” (kyk ook vers 31).

3.     Hd 9:22: “... Saulus het al meer krag ontvang...” (dit staan i.v.m. 9:17).

4.     Hd 10:38: “... Jesus van Nasaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag.”

5.     Hd 19:11: “... en God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen...” (dit staan i.v.m. 19:6).

Geen mens kan volle lewensvervulling of geestelike groei ervaar sonder die krag van die Here nie.  Geen mens kan getuig of in die diens van die Here staan sonder sy krag nie.  Die Here begeer dat elke gelowige dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, sal ervaar (Ef 1:20).  God wil sy krag uitstort in elke mens se lewe sodat die gelowiges in Jesus se naam duiwels sal uitdryf, met nuwe tale sal spreek, slange sal opneem en as hulle iets dodeliks drink dit hulle geen kwaad sal aandoen nie, op siekes die hande sal lę sodat hulle gesond kan word (Mk 16:17-18). 

Dit gee vrymoedigheid om te getuig.

Tekste

1.     Hd 1:8: “... en julle sal my getuies wees...”

2.     Hd 4:31: “... en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”

3.     Hd 8:25: “nadat hulle kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het...” (dit staan i.v.m. 8:17)

4.     Hd 9:27: “... en hoe hy in Damaskus vrymoediglik gespreek het...” (dit staan i.v.m. 9:17)

5.     In 2 Tm 1:6-7 praat Paulus met Timoteus oor die doop met die Heilige Gees wat hy ervaar het, en sę dan (vers 8): “Skaam jou dan nie oor die getuienis van ons Here Jesus oor my nie...”

Baie gelowiges sukkel met vrymoedigheid om te getuig.  Seker een van die eerste kenmerke van die doop met die Heilige Gees is dat dit vrymoedigheid gee, en 'n begeerte om te vertel wat die Here in jou lewe gedoen het.  Dit gee vrymoedigheid om die Woord van die Here te verkondig.  Dit gee jou die begeerte om sonder ophou oor die Here te praat.  Dit maak jou vry van jouself en spontaan om op te staan vir die evangelie.

Die gawes van die Heilige Gees kom tot manifestasie.

Hierdie onderwerp is seker die onderwerp wat die meeste geassosieer word met die doop in die Heilige Gees.  Baie mense is maar baie versigtig daarvoor omdat hulle dink dit lę te veel klem op die eie ek, en die mens verhef.  Ander wonder of dit werklik bestaan.  Die Bybelse getuienis hieroor is egter volop:

Tekste

1.     Hd 2:4: “... en hulle het begin spreek in ander tale

2.     Hd 4:30: “... deurdat U u hand uitsteek tot genesing, tekens en wonders...” (kyk ook vers 31)

3.     Hd 10:46: “... want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God grootmaak...”

4.     Hd 19:6 “... en hulle het in tale gespreek en geprofeteer.”

5.     1 Tm 4:14: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.”

6.     2 Tm 1:6: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande” (Vgl. vers 7).

Soorte gawes

In 1 Kor 12:8-10 en Rm 12:6-8 word verskillende soorte gawes gelys:

Die gawes wat in 1 Kor 12:8-10 genoem word, kan beskryf word as die meer aanskoulike gawes.  Dit is nie talente nie, maar besondere werkinge van die Gees:

1.     “... want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee.”  'n Woord van wysheid is 'n inspirasie van die Gees om bonatuurlike insig op 'n gegewe moment te openbaar, en om die waarheid op 'n besondere manier op 'n situasie te betrek.  'n Woord van wysheid is die perfekte wil of denke van God vir 'n spesifieke situasie wat Hy aan iemand openbaar.

2.     “en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees.”  Dit is spesifieke godgegewe inligting aangaande 'n sekere saak of persoon in 'n gegewe situasie.  Dit is 'n openbaring van dinge wat nie met die natuurlike sintuie waargeneem kan word nie.  Dit word in die mens se gees of geestesoog geopenbaar.  Hierdie kennis kan ook in 'n visioen  geopenbaar word.  Dit kan byvoorbeeld dinge wees wat in die verlede met 'n persoon gebeur het of dinge wat 'n persoon nie aan die lig wil bring nie.  

3.     “aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees.”  Dit is nie geloof tot redding nie, maar besondere geloof, geloof om berge te versit, geloof om die Woord en die krag van die Here prakties te laat realiseer, geloof wat glo dat die onmoontlike moontlik is.

4.     “en aan 'n ander genadegawes van gesondmakings deur dieselfde Gees.”  In Grieks is beide “genadegawes” en “gesondmakings” in die meervoudsvorm.  Daar is verskillende gawes van gesondmakings.  Hoewel die Skrif nie hierop uitbrei nie, leer die praktyk dat sekere mense byvoorbeeld beter is met ledemate, ander met ingewandeprobleme, ander met griep of borssiektes, ens.  Daar is dus verskillende genesingsgawes.  Alles deur die werking van dieselfde Gees.

5.     “aan 'n ander werkinge van kragte.”  Dit is myns insiens die moeilikste gawe om te definieer, maar behels meer as net genesings.  Dit is die gawe om kragdadige dinge te doen of te laat gebeur op ‘n direkte of indirekte wyse.    Die geval waar doeke en voorskote van Paulus mense genees het en duiwels uitgedryf het, is waarskynlik ‘n goeie voorbeeld van hierdie gawe (Hd 19:11-12)  ‘n Ander voorbeeld is waar die vrou aan Jesus se kleed geraak het, en daardeur gesond geword het (Mk 5:27).

6.     “aan 'n ander profesie.”  Hierdie is nie die gawe van preek of die gawe om God se boodskap te verkondig nie (soos die 1983 vertaling verkeerdelik vertaal[4]).  Dit is die gawe om 'n direkte woord van God aan mense mee te deel.  Dit kan betrekking hę op die hede of die toekoms.  Dit hang af van wat God wil sę.  'n Profesie kan 'n woord van God vir 'n gemeenskap van gelowiges wees, maar kan ook op 'n individu betrekking hę.

7.     “aan 'n ander onderskeiding van geeste,”  Dit is nie om goeie onderskeidingsvermoë in die algemeen te hę nie, maar het spesifiek te doen met die onderskeiding tussen geeste.  Dit kan meer in die algemeen funksioneer: om te onderskei of 'n gees van God of van Satan is, of meer in die besonder: om byvoorbeeld te onderskei tussen 'n gees van dood, vrees, misleiding ens., soos die Gees van God dit openbaar.

8.     “aan 'n ander allerhande tale,”  Hierdie gawe is nie ‘n aanleg of vaardigheid in tale nie.  Dit is die gawe van glossolalie: die 1983 vertaling vertaal dit goed: “om ongewone tale of klanke te gebruik.”  Glossolalie is te onderskei van die spreek in verskillende węreldtate soos dit op pinksterdag plaasgevind het (Hd 2:4).  Hoewel dit dieselfde Gees is wat beide bewerkstellig, vind glossolalie veral uiting in die volgende modusse:

·       Onverstaanbare klanke wat beskryf kan word as liefdestaal of aanbiddingstaal tot God.  Dit kan ook gebruik word in sang (1 Kor 14:15).  Dit gaan meestal gepaard met doop met die Gees (maar is nie ‘n voorvereiste daarvoor nie).  Geen mens kan dit verstaan nie.  Dit is die spreek van verborgenhede (1 Kor 14:2).  Dit is direkte kommunikasie van jou gees met God se Gees, en jou verstand is nie daarby betrokke nie (1 Kor 14:14).  Hierdie gawe stig jouself (1 Kor 14:4).  Mens het beheer oor hierdie gawe om dit te gebruik wanneer jy wil (net soos profesie: sien 1 Kor 14:32), maar mens het nie beheer oor die vorming van die woorde nie, dit is geďnspireer deur die Heilige Gees.

·       Om in tale te spreek vir die gemeente met die oog op uitlegging.  Hierdie gawe funksioneer saam met die gawe om tale uit te lę (1 Kor 14:13).  In kombinasie is dit amper soos 'n profesie en stig die gemeente.

·       Spreek in tale word ook gebruik om in te tree in gebed vir iemand anders, as God iemand of iets op jou hart lę, en jy weet nie hoe of waarvoor om te bid nie.

·       Spreek in tale om bose magte of versoekinge af te weer.  Omdat dit direkte kommunikasie met God in die Gees is, kan die duiwel kan dit nie verstaan nie, en word daardeur weerstaan.

9.     “aan 'n ander uitleg van tale.”  Dit is die gawe om 'n taal wat in die gemeente gespreek is, uit te lę, of om jou eie taal uit te lę (1 Kor 14:13).  Soos reeds genoem, funksioneer hierdie gawe baie op dieselfde wyse as profesie.

Baie van hierdie gawes werk in kombinasie met mekaar soos God dit laat manifesteer.

Die gawes wat in Rm 12:6-8 beskryf word, is minder aanskoulik maar net so belangrik en geestelik soos bogenoemde gawes.  Inteendeel, dit is bekend dat spreek in tale, genesings en wonders ook voorkom onder die nie-Christelike godsdienste (vgl. ook Eks 4:3 waar Moses sy staf in ‘n slang laat verander het.  Die heidense towenaars kon dit ook doen), maar die lys wat in Romeine beskryf word, vloei voort uit ware liefde, wat die Duiwel nie kan namaak nie:

(profesie kom hier weer voor)

10.  bediening.  Om iemand anders te dien en te stig deur bediening.

11.  lering.  Die gawe om waarhede aangaande die Skrif aan ander oor te dra en hulle daarin te onderrig.

12.  vermaning / bemoediging.  Dit is om iemand anders in liefde tereg te wys of te bemoedig sodat dit hom of haar opbou.

13.  uitdeel.  Die gawe om van jou geld, kos of besittings aan ander te gee, sonder om iets terug te verwag.

14.  leiding of voorgang.  Die gawe om geestelike leiding te kan neem met die salwing en gesag wat die Gees gee.

15.  bewys van barmhartigheid of genade.  Die gawe om op te tree teenoor iemand met die hart en die genade van God.  Dit gaan gepaard daarmee om die behoefte by iemand raak te sien, en hom of haar te help met dieselfde gesindheid as Christus (vgl. die barmhartige Samaritaan).  

Hierdie lys van gawes is nie bedoel om ‘n geslote lys te wees nie.  Die Gees kan enige ander gawe ook in die lewe van die gelowige laat manifesteer – soos Hy wil.  Die verskillende gawes is daar om ander gelowiges op te bou en in die geloof te versterk, en nie daar vir eie gewin of rede tot hoogmoed nie.  Dit is letterlik daar om ander te dien.  Die een wat die meeste gawes het, moet eintlik die grootste dienskneg wees.

Daarom sę Paulus dit is nie verkeerd om jou te beywer met die oog op die gawes nie, maar dit moenie wees vir eie gewin nie.  Daarom sę hy hulle moet hulle eerder beywer om te profeteer, want dit is op die gemeente gerig (1 Kor 14:1).

Die doop met die Heilige Gees is 'n toerusting vir 'n bediening wat op die gelowiges gerig is.

Tekste

1.   1 Kor 12:4-6 noem 3 dinge wat saamgaan met die kragtige werking van die Gees: i) genadegawes ii) bedieninge en iii) werkinge.  In hoofstuk 12 brei Paulus uit oor die bedieninge en die gawes.

2.   In Rm 12:6-8 praat Paulus ook van die bedieninge wat saamgaan met die gawes van die Heilige Gees.

3.   In 1 Tm 1:12 praat Paulus van die bediening waarin God hom gestel het, en verwys net daarna (vers 13) na die omkeer wat God in sy lewe bewerkstellig het (Hd 9), waar hy gedoop is met die Heilige Gees.

Die bedieninge hang saam met die gawes.  Sekere gawes is die toerusting vir sekere bedieninge (bv. lering vir 'n leraar, profesie vir 'n profeet, leiding vir 'n herder ens.).

Ef 4:11 lys 5 verskillende bedieninge:

·       apostel (iemand wat aan die hoof staan van gemeentes: iemand wat nuwe gemeentes begin)

·       profeet (iemand wat die stem van God bekend maak aan gelowiges)

·       evangelis (iemand wat rondgaan om die evangelie te verkondig)

·       herder (iemand wat 'n kudde oppas, iemand wat 'n gemeente se belange dra en verantwoordelik is vir hulle)

·       leraar (iemand wat mense leer en oplei aangaande die waarheid van die Woord van God)

Dit gaan saam met die vrug van die Heilige Gees.

Tekste

1.   In Gl 5:16-18 word die gelowiges opgeroep om 'n Geesvervulde lewe te lewe, en vers 22 sę: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

2.   Hd 2:28:  “U sal my vervul met vreugde by u aangesig.” (hierdie uitspraak moet gesien word in die lig van Petrus se preek oor die doop met die Heilige Gees).

3.   Hd 13:52: “En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.”

4.   Ef 3:16-20: Paulus bid dat die gemeente “met krag versterk word deur sy Gees in die innerlike mens... julle wat in die liefde gewortel en gegrond is... en in staat wees om die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.”

5.   1 Kor 13 sę Paulus dat die gawes van die Gees sonder liefde leeg is (vers 1).  Die kragtige werking van die Gees gaan altyd saam met liefde (vers 1-13), lankmoedigheid (vers 4), vriendelikheid (vers 4), is nie jaloers, grootpraterig, opgeblase of onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly (vers 6) saam met die waarheid.

6.   In 2 Tm 1:6 praat Paulus met Timoteus oor die genadegawe wat hy gekry het met die oplegging van Paulus se hande.  In vers 7 gee Paulus die motivering: “Want God het ons nie 'n Gees[5] van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.”

Iemand wat gedoop is met die Gees het in die besonder die vermoë om die vrug van die Gees te openbaar.  Dít is eerder die teken of die bewys van die inwonende werksaamheid van die Heilige Gees as wat die gawes die bewys is, want die Satan kan ook die gawes naboots.  Dit is die verskil tussen iemand wat van die Duiwel besete is en iemand wat vervul is met die Heilige Gees.  Die boom word aan die vrugte geoordeel (Lk 6:44). 

Dit gaan saam met 'n totale oorgawe.

Tekste

1.   In Rm 12:1 roep Paulus die gemeente op om hulle liggame aan God te gee as lewende en heilige offers.  Dit staan in die konteks van sy verwysing na die genadegawes in 11:29 en 12:4-8.  Hy doen hierdie beroep op die gemeente op grond van die genade wat aan hom gegee is (12:3).

2.   In Gl 5:16,18 word die gemeente ook opgeroep om vervul[6] te word met die Heilige Gees en deur die Gees te wandel.  Daarmee saam gaan die bereidheid om alle vleeslike begeerlikhede prys te gee.

3.   In Hd 8:21 sę Paulus vir Simon dat sy hart voor God moet reg wees om die gawe van die Heilige Gees te ontvang.

4.   Oral in Handelinge gaan die wedergeboorte en die bekering die ontvangs van die gawe van die Heilige Gees vooraf (Bv. Hd 2:38; 19:4).

Die Heilige Gees sal Homself nooit op 'n mens afforseer nie.  Dit is moontlik om die Gees teen te staan of selfs uit te blus (Ef 4:30; 1 Ts 5:19).  Die Heilige Gees is soos 'n “gentleman.”  Hy sal nie beheer van jou neem as jy Hom nie toelaat nie.  Mens kan nie gedoop word met die Heilige Gees as mens nie totaal aan Hom oorgee, en bereid is om al jou vooropgestelde idees oor hoe jy dink Hy behoort te werk, laat vaar nie.  Om gedoop te word met die Gees is inderdaad om toe te laat dat die Gees beheer oorneem van elke faset van jou liggaam, siel en gees.  Dit is 'n totale oorgawe. 

Moenie dat iemand vir jou bid vir doop met die Gees net omdat jy na 'n ervaring soek, of net omdat jy ander mense wat dit ervaar, beny nie.  Mens het nodig om 'n begeerte te hę om die Here werklik te ken, en 'n bereidheid om jou lewe totaal aan God toe te wy.  As dit jou begeerte is, sal die doop met die Gees dit bevestig en versterk, en jou verhouding met God sal verdiep.

Die doop met die Heilige Gees gaan saam met God se leiding in die volle waarheid.

Tekste

1.   Jh 14:26: “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat ek vir julle gesę het.”

2.   Jh 16:13: “Maar wanneer hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

3.   1 Jh 2:20: “En julle het die salwing van die Heilige (Gees) en weet alles.

4.   1 Jh 2:27: “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie.”

Een van die eienskappe van 'n persoon wat gedoop is met die Gees, is 'n ywer om die Woord van God te bestudeer en te verkondig.  Die Gees maak die Woord op 'n nuwe manier lewendig.  Mens se oë gaan oop vir die geweldige rykdom en krag van die waarheid van die Woord.  Die Gees stel mens in staat om op 'n dinamiese manier die Woord te laat gestalte kry in jou denke en jou dade.  Sonder die volle wysheid en insig van die Heilige Gees kan die Woord van God nie sy volle doel in die lewe van die mens bereik nie.  2 Kor 3:14-17 praat ook van die bedekking oor oor die Ou Testament wat slegs in Christus en die werking van sy Gees (vers 17), vernietig word.

Ontvang mens dan nie die Heilige Gees by bekering nie?

Volgens die Bybel is dit duidelik dat niemand kan sę: “Jesus is die Here”, behalwe deur die Heilige Gees nie (1 Kor 12:3).  Jesus sę ook vir Nikodemus dat die wedergeboorte plaasvind uit water en Gees (Jh 3:5).  Die Gees is al teenwoordig by die oortuiging van sonde by die mens (Jh 16:8).  Alreeds by wedergeboorte woon God se Gees in al sy volheid in jou.  God gee nie sy Gees in dele nie (sien ook Jh 7:37-39). 

Wat gebeur dan by die doop met die Heilige Gees?  God se Gees kom nie vir die eerste keer in jou lewe nie, maar vervul en salf jou van binne.  Die vervulling met die Gees kan beter verstaan word as gekyk word na die onderskeid tussen liggaam, siel en gees:

Die mens as liggaam, siel en gees

Daar is ‘n paar skrifgedeeltes wat praat van die onderskeid tussen liggaam, siel en gees by die mens, waarvan die vernaamste Heb 4:12 en 1 Ts 5:23 is. (Sien ook: gees: Rm 8:16; 1 Pt 4:6; Jk 4:5 – 1983 vertaling; siel en gees: Job 7:11; Jes 26:9; 42:1; siel en liggaam: Jes 10:18; 51:23; Miga 6:7; Mt 10:28; liggaam en gees: Dan 7:15; 1 Kor 5:3; 6:20; 7:34; Jk 2:26).

 

 

 

 

 

 


Hoewel dit vanuit ‘n holistiese benadering ten opsigte van die mens problematies is om die mens te kompartementaliseer, dink ek dat die onderskeid tussen liggaam, siel en gees steeds behou kan word.  Dit is egter belangrik om die verskillende fasette van die mens altyd in noue verband met mekaar te verstaan, sonder om die een in die ander te laat opgaan.  In hierdie verband is 1 Ts 5:23 eintlik ‘n goeie voorbeeld.  Paulus praat van ‘n volkome heiliging.  Dit sluit al drie elemente van die mens in.  Die mens moet geheel en al onberispelik bewaar word.  Hy verstaan die onderskeid in terme van die geheel van menswees:

1.     gees: Soos vroeër bespreek, verhelder die onderskeid tussen wil en natuur die vertaan van geloof by redding.  By die sondaar word die menslike gees beheer deur die sarx (vlees) – die sondige natuur of bestaanswyse.  By bekering word die sondige natuur weggesny in Christus (Kol 2:11) en vervang met ‘n nuwe skepping (2 Kor 5:17), gebore uit die Gees van God (Jh 3:5), uit die onverganklike saad van die Woord (1 Pt 1:23).  Ons gees / natuur word nuut gemaak en getuig saam met God se Gees dat ons kinders van God is (Rm 8:16).  Die mens se gees bepaal sy destinasie.  As dit beheer word deur ‘n sondige bestaanswyse (vlees), bring dit die (geestelike) dood mee, en as die vlees afgesterf word en nuutgemaak word deur die Gees, leef dit in die Gees (Rm 7:5; sien ook Rm 6:4-6).  Ons (sondige natuur) leef dan nie meer nie, maar Christus (in die vorm van sy Gees) leef in ons (Gl 2:20).  Volgens 2 Pet 1:4 kry ons deel aan die goddelike natuur (in teenstelling met die sondige natuur).  Dit bepaal ons nuwe destinasie. 

Die mens se hart val in die meeste gevalle ook in hierdie kategorie (bv. Die besnydenis van die hart in die gees: Rm 2:29; die Woord van God word in die hart gesaai: Mk 4:14; Julle moet mekaar uit ‘n rein hart liefhę, want julle is wedergebore uit ‘n onverganklike saad: 1 Pt 1:22)[7].

2.     siel: Die siel is die setel van die wil, denke en emosies.  Dit bepaal die mens se persoonlikheid en individualiteit.  Dit moet vernuwe word op ‘n deurlopende basis (Rm 12:1-2; 2 Kor 4:16; Ef 4:23).

3.     liggaam: Dit is die tempel van die Heilige Gees (1 Kor 6:19).  Daarom moet dit geoefen en gedissiplineer word om onder die beheer van die Gees te staan.  Aangesien dit “in” en “deel is van” hierdie węreld se bestaan, moet dit eers verheerlik word by Christus se koms (Flp 3:21).

Die doop met die Heilige Gees is die gebeure of proses waar die Gees totale beheer neem van jou siel, dit wil sę jou denke, emosies en wil, asook jou liggaam.  Met die doop met die Heilige Gees word elke moontlike kamer van die mens se siel aan God oorgegee en onder die beheer van die Heilige Gees gestel.  Die saad van die Woord waaruit ons gebore is (1 Pt 1:23), is in hierdie sin dieselfde as die Gees.  Die saad ontkiem tot ‘n plant wat groei deur die skeiding van gees, siel en liggaam (vgl. Heb 4:12), wat ons van binne vernuwe en versterk (Ef 3:16), en vrugte dra (sien bv. Kol 1:8-11).  Die Satan sal alles in sy vermoë doen om hierdie Woord by ons te steel (Jh 10:10, sien ook die gelykenis van die saaier: Mt 13:1-23), want hy weet dat dit lewe voortbring en ons denke vernuwe.

Dit is iets wat nie noodwendig by wedergeboorte al gebeur nie.  Daarom gebeur dit so maklik dat mense wat pas tot bekering gekom het, weer terugval as hulle nie in die gemeenskap van die gelowiges opgeneem, en as hulle nie onder die performatiewe Woord van God gestel word nie.

Die doop met die Heilige Gees is nie dieselfde as wedergeboorte nie

Uit die volgende tekste kan gesien word dat die doop met die Heilige Gees nie dieselfde is as die bekering of wedergeboorte nie:

1.   Die dissipels het reeds die Heilige Gees gehad voor Pinksterdag (Hd 2:4), want in Jh 20:22 staan daar dat Jesus op die dissipels geblaas het en gesę het: “ontvang die Heilige Gees.”

2.   Jesus, wat gedoop is met die Heilige Gees (Mt 3:16; Mk 1:10; Lk 3:22; Jh 1:32-33), het ook die Heilige Gees gehad daarvoor.  Lk 2:40 sę: “En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid.  En die genade van God was op Hom.” 

Oral in die Handelinge-geskiedenis is dit duidelik dat die mense wat gelowig geword het of gelowig was (en dus die Gees van die Here deur wedergeboorte ontvang het: Jh 7:37-39), ook gedoop is met die Heilige Gees: 

3.   In Hd 19:1-6 het Paulus by dissipels gekom wat wel met die bekeringsdoop van Johannes gedoop is, maar nog nie gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.  Net daarna is hulle gedoop in die naam van Jesus, en gedoop met die Heilige Gees.

4.   In Ef 5:18 word die gemeente opgeroep tot die vervulling met die Heilige Gees.  Die mense waarmee Paulus hier praat is gelowiges, nie mense wat nie die Gees nie het nie.

5.   Hd 8:12-15 sę: “Maar toe hulle Filippus geglo het... is hulle gedoop.  En Simon het ook self gelowig geword... En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.  Hulle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang.”  Hierdie mense het reeds tot geloof gekom, en het die Heilige Gees deur wedergeboorte en die aanneming van die lewende Woord ontvang.  Daarna is ook vir hulle gebid vir die vervulling met die Heilige Gees.

Baie teoloë probeer om hierdie tydsverloop tussen gelowigwording en doop met die Heilige Gees weg te verklaar:

·       Sommige meen dat die geloof nie 'n ware geloof was nie.  Hierdie interpretasie is nie oortuigend nie, want hulle is gedoop op grond van hulle geloof, en hulle geloof was van so 'n aard dat die mense in Jerusalem daarvan te hore gekom het.  Verder is dit problematies om die begrippe pisteuw (glo: vers 12) en decomai (aanneem: vers 14) te sien as terme wat net 'n tydelike of onegte geloof uitdruk.

·       Ander stem nie saam met bogenoemde standpunt nie, maar verklaar die tydsverloop tussen gelowigwording en doop met die Heilige Gees heilshistories.  Die gebeure moet dan verstaan word as die op-weg-wees van God met sy volk in die geskiedenis.  Die Pinkstergebeure word gesien as ‘n spesifieke moment in die heilsgeskiedenis wat heilshistories bepaald is.  Die gebeure in Samaria word dan gesien as ‘n soort verlenging van Pinksterdag.  Vir die mense in Samaria is dit dan vir die eerste keer Pinkster.  Volgens hierdie teorie maak die verlenging van Pinksterdag deel uit van die sogenaamde apostoliese tydperk wat eindig +/- 100 n.C.  Op hierdie wyse word die geleenthede van doop met die Heilige Gees ná Pinkster heilshistories verklaar as synde nog deel van Pinkster (sien Du Toit, BA 1977).  Daarna sou daar 'n tydperk volg waar die Heilige Gees nie meer op so 'n kragdadige en unieke manier werk nie.  Sommige gaan nog verder en sę dat daar glad nie meer profesie of spreek in tale vandag bestaan nie (vgl. Chantry 1987:37,51,116-118).  Chantry interpreteer 1 Kor 13:10 as dat “die volmaakte” reeds gekom het, en daarom is die gawes van die Gees nie meer nodig nie.  “Die volmaakte” wys dan op die kanon van die Nuwe Testament wat ná die sogenaamde apostoliese tydperk sou kom.  Die genoegsaamheid van die Skrif word baie sterk beklemtoon.  Hy sę ons het nie nog openbaringe van die Gees nodig naas die Skrif nie.  Hierdie siening is ‘n radikale vorm van streepteologie.  Die heilshistoriese interpretasie is myns insiens net ‘n sagter en meer genuanseerde vorm van streepteologie, want die doop met die Heilige Gees word gesien as ‘n afgeslote gebeure.

Daar is geen intrinsieke element of enige verwysing in die Skrif wat 'n afgeslote apostoliese tydperk suggereer nie.  Derhalwe is dit duidelik in Paulus se briewe dat die Heilige Gees net so kragdadig werk as in die Handelinge-tydperk (vgl. bv. 1 Kor 12-14).  Die belofte van die Heilige Gees is ook “vir hulle kinders en almal wat daar ver is” (Hd 2:28-39).

Dit wil voorkom of die heilshistoriese interpretasie ontstaan het as 'n poging tot verklaring vir die armoede aan die werk van die Gees in die kerk.

Hoe word mens gedoop met die Heilige Gees?

Volgens die Bybel het die mense die doop met die Heilige Gees hoofsaaklik op drie maniere ontvang:

1.   Waar mense eendragtig saam gebid het.

·       Hd 1:14: “Hulle het almal eendragtig volhard in gebed en smeking...”

·       Hd 2:1: “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.”

·       Hd 4:31: “En toe hulle gebid het, is die plek geskud...”

2.   Waar die Woord van God met 'n besondere salwing verkondig is.  In Hd. 10:44 en 11:15 was Petrus nog besig om te spreek toe die Heilige Gees op almal geval het.

3.   Deur handoplegging.

·       Hd 8:17: “Hulle het hul toe die hande opgelę, en hulle het die Heilige Gees ontvang.”

·       Hd 9:17: “En Ananias het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelę en gesę: Saul, broeder, die Here het my gestuur... sodat jy met die Heilige Gees vervul kan word.”

·       Hd 19:6: “En Paulus het hulle die hande opgelę, en die Heilige Gees het op hulle gekom...”

·       1 Tm 4:14: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.”

·       2 Tm 1:6: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.”  In die lig van vers 7 het hierdie oplegging van die hande betrekking op die doop met die Heilige Gees.  Want Paulus sę: “want God het ons nie 'n Gees[8] van vreesagtigheid gegee nie...”

·       Hd 8:19 sę dat Simon die gawe van God met geld wou koop.  Maar presies wat wou hy met geld koop?  Hy wou “die mag sodat elkeen wat hy die hande oplę die Gees kan ontvang,” koop.  Die houding ten opsigte van hierdie mag was verkeerd (vers 21), maar dit maak nog nie dat dit wat hy wou hę, nie bestaan nie.  Hierdie mag kan baie in dieselfde sin verstaan word as Mk 16:17-18 en Mt 28:18-20.  Trouens, hierdie mag om ander die hande op te lę, is God se gawe aan elkeen wat glo (Hd 8:20).

Die meeste mense het op hierdie manier die Heilige Gees ontvang.  

Die handoplegging is 'n belangrike manier om vir ander gelowiges te bid, nie net vir die doop met die Heilige Gees nie, maar ook vir genesing (Mk 5:23; 6:5; 8:23; 16:18; Lk 4:40; 13:13; Hd 28:8), vir seën (Mt 19:15; Mk 10:16), en vir toerusting (Hd 6:6; 13:3).

Heb 6:2 praat van die leer van die handoplegging wat een van die basiese grondbeginsels is van die Christelike geloof.  Dit is een van die maniere waarop God sy seën en sy krag aan mense gee. 

Om iemand die hande op te lę vir doop met die Heilige Gees, is nie om op een of ander manier jou gawe of gawes oor te dra op iemand anders nie.  Dit is slegs om in die gemeenskap van die gelowiges een te wees en God te vertrou vir sy belofte, want waar twee of meer op die aarde oor 'n saak saamstem en daarvoor bid, wat hulle ook al van die Vader vra, dit sal hulle verkry (Mt 18:19). 

Handoplegging is egter nie die resep vir doop met die Heilige Gees nie.  Dit sou daarom nie verkeerd wees om alleen te bid vir die doop met die Heilige Gees nie, maar daar is ‘n tweede faktor wat bykom as gelowiges saam bid, en dit is eenheid, iets wat baie krag dra in die geestelike węreld (want die koninkryk van die duisternis is verdeeld: Lk 11:18).

Die wesenlike van die godsdiens

Ek wil afsluit deur te vra: “Wat is die wesenlike van die godsdiens?”  Ek kry geen beter antwoord as Rm 12:1 nie: “Gee julleself as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”  Die wese van die godsdiens is die lewe en liggaam wat in God se diens is, die bekeerde en Gees-vervulde lewe.  Die beklemtoning van God se genade help niks as dit nie gestalte vind in die mens se lewe nie.  Dit is die manifestering van God se genade wat sy genade beklemtoon.  Slegs die mens in wie God se genade gestalte gevind het, kan God werklik eer.  Eer aan God is nie mooi woorde oor genade nie, maar eer aan God is ‘n totale lewe wat in die regte verhouding met God is – ‘n verhouding van geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rm 14:17). 

Hierin is die kernboodskap van die Goeie Nuus te vind.  God se genade moet by die regte adres aankom.  Daar is die waarheid.  Dit bly nie in die lug hang nie.  Die waarheid bestaan dus nie in die eerste plek in ingewikkelde teorieë of goed uitgewerkte teologieë nie, maar is daar waar die genade van God manifesteer, daar waar die genadegawes en die vrug van die Gees in werking tree, naamlik in die vernuwende kerk – die kerk wat vrugte dra.  Die boom word tog aan sy vrugte geoordeel (Lk 6:44).

Die waarheid is daar waar die kerk die menslike tradisies kan deurbreek en die vrymakende krag van die Woord laat gestalte kry in elke faset van Christenwees.  Dan maak die waarheid waarlik vry.

Bibliografie

Analytical Greek Lexicon, 1794. London: Samuel Bagster & Sons.

Barnes, A [sa]. Albert Barnes’ notes on the Bible

Barret, CK 1968. The First Epistle to the Corinthians. London: Adam & Charles Black.

Barth, K 1969. The Doctrine of Reconciliation. Vol IV, Church Dogmatics. Edinburgh: T & T Clark.

Baur, W 1957. Greek-English Lexicon of the New Testament and other Early Christian Literature. Zondervan: The University of Chicago Press.

Beasley-Murray, GR 1972. Baptism in the New Testament. Cape Town: Oxford University Press.

Bigg, C 1978. The International Critical Commentary. A Critical and Exegetical Commentary on the Epistles of St. Peter and St. Jude. Edinburgh: T & T Clark.

Boers, H 1979. What is New testament Theology? Philadelphia : Fortress.

Bornkamm, G 1939. Taufe und neues Leben bei Paulus. Theologische Blätter. Vol XVIII.

Bruce, FF 1990. The Acts of the Apostles. The Greek Text with Introduction and Commentary. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Burger, CW; Muller, BA; Smit DJ (ed) 1993. Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg. Kaapstad: Lux Verbi.

Chantry, WJ 1987. Signs of the Apostles. Great Britain : Hazel Watson & Viney Limited.

Cronje, K et al 1988. Grieks met Begrip: ’n Inleidende Grammatika, Toegespits op die Griekse Nuwe Testament. Auckland Park: Werkgroep vir Griekse Onderrig.

Culpepper, RA 1988. John, in Godwin, Edgemon (ed) 1988.

Dowley, T (ed) 1990. The history of Christianity. Oxford England: Lion Publishing.

Du Toit, AB (ed) 1984. Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel

Du Toit, BA 1977. Die ontvangs van die Heilige Gees in Samaria: ‘n eksegetiese studie van Handelinge 8:14-17. UNISA.

          – 1991. The Aspect of faith in the gospel of John with special reference to the farewell discourses of Jesus in Neotestamentica 25(2) 1991.

Furnish, VP 1984. 11 Corinthians. New York, London, Toronto: Doubleday.

Godwin, J, Edgemon, R (ed) 1988. Disciple’s Study Bible. Nashville: Holman.

Harris, MJ 1991. Collosians & Philemon: Exegetical Guide to the Greek New Testament. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Harrison, EF 1976. The Expositor’s Bible Commentary. Vol. 10. Grand Rapids, Michigan: Zondervan

Hislop, A 1959. The Two Babylons. Neptune, NJ: Loizeaux Brothers.

Hunt, JPT 1990. Colossians 2:11-12, the circumcision / baptism analogy, and infant baptism. Tyndale Bulletin. Vol. 41.2. November 1990.

Jonker, WD 1989. Uit Vrye Guns Alleen: Wegwysers in die Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Liddle & Scott’s Greek-English Lexicon 1924. London: Clarendon Press.

Louw, JP, Nida, EA 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains. New York: United Bible Societies.

Marshall, IH 1980. The Acts of the Apostles. London: Inter-Varsity Press.

Martin, RP 1974. Colossians and Philemon. London: Oliphants.

Meeks, WA 1983. The First Urban Christians: The social World of the Apostle Paul. New Haven, London: Yale University Press.

Mitton, CL 1976. Ephesians. London: Oliphants.

Muller, JAC 1958. Die Brief aan die Kolossense. Stellenbosch: CSV.

Newman, BM 1971. A Concise Greek-English Dictionary of the New Testament. London: UBS.

O’Brien, PT 1982. Colossians, Philemon. Waco, Texas: Word Books, Publisher.

Owen, J 1985. The death of death in the death of Christ. Great Brittain : Banner of Truth Trust.

Pelser, GMM 1984. Pauliniese Soteriologie, in Du Toit 1984: 256-281.

Peterson, D 1993. Engaging with God. A Biblical theology of worship. Michigan: Eerdmans.

Rendtorff, FM 1905. Die Taufe im Urchristentum im Lichte der Neueren Forschungen. Leipzig.

Ridderbos, H 1966. Paulus. Ontwerp van zijn theologie. Kampen: Kok, 1966.

Schelkle, 1970. Die Petrusbriefe der Judasbrief. Freiburg, Basel, Wien: Herder.

Van der Watt, J & Joubert, S 1997. Die Boodskap: Die Nuwe Testament in Hedendaagse Afrikaans. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Van Rensburg, JPJ 1953. ’n Eerste Griekse Grammatika. Stellenbosch-Grahamstad: Universiteits-uitgewers en -boekhandelaars (edms) beperk.

Van’t Spijker, W; Balke, W; Exalto, K; Van Driel, L (ed) 1983. Rondom de doopvont: Leer en gebruik van de heilige doop in het Nieuwe Testament en in de geschiedenis van de westerse kerk. Kampen: Uitgeverij de Groot Goudriaan.

Versteeg, JP 1983. De doop volgens het Nieuwe Testament, in Van’t Spijker et al. 1983: 9-133.

Wessels, GF 1993. Galasiërs 2:11-14, in Burger, CW; Muller, BA; Smit, DJ (ed) 1993: 160-170.

Zerwick, M, Grosvenor, M 1988. A grammatical analysis of the Greek New Testament. Rome: Biblical Institute Press.

 

Philip du Toit

 

Bespreek dit hier.



[1] Vgl. Lk 4:1,14,18-19.

[2] Vgl. Jh 7:37-39: “... As iemand dors het, laat hom na my toe kom en drink!  Hy wat in my glo soos die Skrif sę: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.  En dit het Hy gesę van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”

[3] Vgl. Hd 2:17-18.

[4] Dit is wel in latere uitgawes reggestel.

[5] Hoewel die 1933 vertaling Gees hier met 'n kleinletter vertaal, kan die Griekse pneuma hier ook met 'n hoofletter vertaal word.  Vgl. die 1983 vertaling, die Good News Bible en die Living Bible.

[6] Vgl. die 1983 vertaling.

[7] “Hart” word in die Bybel egter in verskillende betekenisse gebruik, en het dikwels ook te doen met die wil, en lę dan eerder op die vlak van die siel (bv. met die hart glo ons: Rm 10:10; laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem: 2 Kor 9:7).  Die hart dui in die meeste gevalle op die kern van iets, hetsy op die kern van menswees (gees) of op die kern van die bewusssyn (wil of siel).

[8] Hoewel die 1933 vertaling “Gees” met 'n kleinletter vertaal is, moet dit verstaan word as vrugte van die Heilige Gees (Vgl. die 1983 vertaling, Good News, Living).