(This document is also available in English)

(“Die uitverkiesing” is deel van ‘n reeks van 3 artikels: Die uitverkiesing, Die doop met water en Die doop met die Gees.  Die gesamentlike bronnelys word by al drie artikels herhaal.)

Inleiding

Die uitverkiesing

Soteriologie

Die oorsprong van die sonde

Die polęre en a-polęre denkrigtings

Sinergisme

Infralapsarisme

Bestaansvraag: die verhouding tussen God en mens

Die rol van die wil in ‘n verhouding

Onderskeid tussen wil en natuur

Die aard van die menslike wil en natuur

Die aard van geloof

Grondbeginsels van die uitverkiesing

Die voorneme en die grond van die uitverkiesing

Ons is in Christus uitverkies

Die universele aard van die uitverkiesing

Belangrike Skrifgedeeltes

Bespreking van spesifieke Skrifgedeeltes

Ps 37:28 – God bewaar sy gunsgenote

Ps 51:7; Jr 17:9; Pred 9:3 – Diep gewortelde sonde

Ps 139:2-4 – U verstaan van ver my gedagte

Ps 139:16 – Dae dat alles bepaal was

Spr 16:4 – Alles is gemaak vir sy doel

Jr 1:5 – Ek het jou geken voordat…

Jr 20:7 – Jeremia se gebed

Jr 31:18 – Efraim se weeklaag

Jr 31:33 – Ek sal vir hulle ‘n God wees

Klg 5:21 (vgl Jr 31:18) – Gebed tot bekering

Mt 6:8 - Jul Vader weet wat julle nodig het

Mt 11:27 – Elkeen aan wie die Seun dit (Hom) wil openbaar

Mt 13:11 – Dit is nie aan hulle gegee nie

Jh 5:21 – Die Seun maak lewend wie Hy wil

Jh 6:29,37,44 (sien ook 6:65) – Die wat van die Vader leer

Jh 6:65 – Niemand kom na My as dit nie deur die Vader gegee is nie

Jh 8:43,47 – Hulle kan nie na sy woord luister nie

Jh 10:25-27 – Julle is nie van my skape nie

Jh 10:28-29 – Niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie

Jh 12:39 en Rm 11 – Israel wat nie kon glo nie

Jh 14:17 – Die węreld kan nie die Gees van die waarheid ontvang nie

Jh 15:16 – Ek het julle uitverkies om vrug te dra

Hd 13:48 – Almal wat verordineer/bestem is tot die ewige lewe

Hd 15:7 – God het lank gelede verkies dat die Heidene hoor

Hd 15:18 – Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend

Rm 3:10-23 – Niemand soek God nie

Rm 3:24 – Regverdiging sonder verdienste

Rm 8:8 – Die wat in die vlees is kan God nie behaag nie

Rm 8:29-30 – Die wat Hy vantevore verordineer het

Rm 9 – God se soewereine plan om Heidene ook te kies

Rm 11 – Die toekoms van Israel

2 Kor 3:5 – Ons is nie uit onsself bekwaam nie

2 Kor 4:4 – Die sinne is verblind

2 Kor 5:15 en 2 Tm 2:11 – Almal het gesterf

Ef 2:8 – Die redding is ‘n gawe van God

Flp 1:29 – Dit is gegee om te glo en te ly

Flp 2:12 – Werk julle eie heil uit

Flp 2:13 – Dit is God wat in julle werk om te wil en te werk

2 Ts 2:13 – Van die begin verkies tot saligheid

2 Ts 3:2 – Die geloof is nie deel van almal nie

2 Tm 1:9 – Gered volgens sy eie voorneme van genade

Tt 3:5 – Na sy barmhartigheid het Hy ons gered

1 Pt 1:1-2 – Uitverkore volgens die voorkennis van God

1 Pt 1:10 – Die genade is vir julle

1 Pt 2:8 – Bestem tot ongehoorsaamheid

2 Pt 1:1 – Aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het

2 Pt 2:9 – God verlos die godsaliges uit die versoeking

1 Jh 5:16 – Gebed om lewe vir die broer

Op 5:9 – Gekoop uit elke stam, taal, volk en nasie

Op 13:8; 17:8 – Name geskryf in die boek van die lewe

Konsekwensies van partikuliere predestinasie en geloof as God-ingegewe gawe

Konsekwensie van partikuliere uitverkiesing

Gebed vir gelowiges en die nodigheid van prediking

Objektiewe heilsekerheid?

Afvalligheid van gelowiges

Die Dortse Leerreëls

Konsekwente ootmoed

Is selfstandige geloof gelyk aan sinergisme?

“Perseverance of the saints” (sanctificatio)

Karikatuur van God se genade en liefde

Bibliografie

Inleiding

Die doop, die doop met die Heilige Gees,en die uitverkiesing was in die geskiedenis van die Christendom sensitiewe onderwerpe, en in sekere opsigte kontroversiëel van aard.  Hierdie onderwerpe was dikwels die bron van verdeeldheid en selfs skeuringe binne kerke.  Die rede hiervoor is enersyds omdat dit die mens se persoonlike belewenis van Christenskap baie direk raak, en andersyds die feit dat die Bybel nie in teologies gedistilleerde terme daaroor praat nie.

Dit is onmoontlik om oor ‘n onderwerp soos die doop te praat sonder om dit ook in verband te bring met die soteriologie (reddingsleer), of te wel, die verstaan van die menslike wil, geloof, en God se genade by die redding van die mens.  Dit het natuurlik ook alles te doen met die uitverkiesing.  Die soteriologie, waarvan die uitverkiesing ‘n onderafdeling is, lę dus ten grondslag van die teologiese besinning oor die doop, en die doop met die Heilige Gees.

Met die oog op die bespreking gaan veral gekyk word na die Gereformeede en Arminiaanse tradisies.  Die Gereformeerde tradisie praat oor die verlossing van die mens op so ‘n manier dat die menslike wil of keuse geen selfstandige en deruslaggewende rol daarin speel nie.  Dit sou afbreuk doen aan God se louter, reddende genade, wat ‘n sentrale tema of interesse binne die Gereformeerde teologie is.  Die Arminiaanse tradisie darenteen, beklemtoon die vrye en selfstandige wil of keuse van die mens by verlossing.  Die erkenning van die vrye wil is vir hulle noodsaaklik en deurslaggewend vir redding.

Myns insiens is die teologiese posisies binne hierdie twee tradisies gelei deur sentimente, eerder as deur grondige eksegese.  Met ander woorde, mense is geneig om te redeneer vanuit ‘n sekere agenda, wat dikwels deur tradisie bepaal word.  Vir die Gereformeerde is dit belangrik dat God se loutere genade tot sy reg kom, en vir die Arminiaan is dit belangrik dat die menslike wil tot sy reg kom.  In beide gevalle is dit ‘n basiese voorveronderstelling.

Dit hou natuurlik verband met die post-modernistiese debat oor menslike voorveronderstellings.  Die vraag is of dit enigsins moontlik is om objektief, of sonder enige agenda teologies te kan redeneer.  Aan die een kant ontnugter die post-modernistiese debat enige teologiese besinning tot so ‘n mate dat dit die teoloog laat in ‘n posisie waar enige iets wat hy sę, getipeer en gedekonstrueer kan word, omdat sy besinning noodwendig onderhewig is aan ‘n bepaalde agenda of ideologie.  Aan die ander kant stel die post-modernistiese ontnugtering die uitdaging aan die teoloog om op so ‘n manier te besin dat dit kritiek lewer op bestaande en gevestigde beskouinge, insluitende sy eie.  Hoewel dit waarskynlik nie kategories moontlik is nie, kan dit ten minste sy strewe wees.  Die bespreking oor die uitverkiesing gaan in hierdie studie ook op hierdie vlak geskied.

Hierdie studie poog om geykte beskouďnge, met spesifieke verwysing na Gereformeerde en Arminiaanse denke, in heroorweging te neem, en sodoende opnuut te kyk na die grondbeginsels van die geloof, veral ook in die lig van die toenemende groei in vernuwings- en vernuwende kerke węreldwyd.

 

 

Soteriologie

Die twee uitsluitende standpunte van die Arminiaanse- en die Gereformeerde tradisies bestaan as gevolg van die inherente probleem binne die soteriologie om die menslike wil en keuse te balanseer met God se vrye inisiatief van genade.  Hierdie twee aspekte is in die verlede so teenoor mekaar afgespeel, dat die debat tussen die twee partye geëindig het in ‘n dooie punt, waar beide partye weier om te onderhandel.  In die meer onlangse teologiese besinning binne die soteriologie bestaan die neiging om beide aspekte langs mekaar of parallel te laat bestaan, sonder om dit in verband met mekaar te bring.  Die spanning moet behou word.  Die resultaat hiervan is ‘n paradoksale posisie.

Dit is juis hierdie posisie wat die gelowige dikwels laat met ‘n geloofskrisis.  Argumente oor hierdie onderwerp word maklik persoonlik opgeneem, want ervaringe oor redding, geloof en persoonlike verlossing lę baie na aan die hart en raak die kern van enige Christen se geloofsbelewenis.

Die vraag wat hierdie studie vra, is of ‘n paradoksale posisie binne die soteriologie houdbaar is, en of daar nie ‘n manier is om die menslike wil en die goddelike genade wel op ‘n sinvolle wyse met mekaar in verband te bring nie.

Skrifgedeeltes soos Kol 1:9; Ef 1:17-18 en Flp 1:9-10, waar Paulus bid dat ons tot kennis en alle wysheid en geestelike insig van God se wil sal kom, en dat ons begrip en kennis sal hę om die dinge waarop dit aankom te onderskei (1983 Vertaling), lewer myns insiens kritiek op die behoud van ‘n paradoksale of onverklaarbare posisie binne die teologie.  Dit streef eerder daarna om God se wil te verstaan en uit te lę.  So ook 1 Kor 2:14-16, wat praat van die natuurlike mens wat die dinge van die Gees van God nie aanneem nie, en dit nie kan verstaan nie, teenoor die geestelike mens wat alle dinge beoordeel.  Wie het die gedagtes (nouV) van die Here geken?  Maar ons (die geestelike mens) het die gedagtes van Christus.  1 Jh 2:20,27 praat daarvan dat die wat die salwing van Here ontvang het, alles weet, en dat die salwing die mens aangaande alles leer.

Dit beteken egter nie dat al God se weë sondermeer tot in die fynste besonderhede uitgelę kan word nie (Rm 11:33).  Sekere dinge sien ons wel deur ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:12).  Die vraag is egter of die verstaan van die menslike wil en God se genade ook deel is van dit wat ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel sien.  Die basiese veronderstelling van hierdie studie is dat die menslike wil en God se genade so sentraal is tot die verstaan van die evangelie, en dat dit op soveel plekke in die Skrif uitgelę word, dat dit sonder enige redelike twyfel nie val in hierdie kategorie nie.

‘n Paradoksale posisie is myns insiens ook bevraagtekenbaar vanuit die strewe na wetenskaplikheid.  Die bibliologiese vakke maak sterk aanspraak daarop dat dit die teks van die Bybel op ‘n wetenskaplik verantwoordbare manier wil bestudeer.  Dit voldoen onder meer ook aan die kriteria van die Logika - wat ‘n wetenskap op sy eie is.  Boers (1979:13) se definisie van teologie is: “a coherent, logical[1], necessary system of general ideas in terms of which every element of our experience concerning matters relating to God can be interpreted.”  Dieselfde kan nie altyd van die dogmatologiese vakke gesę word nie.  Daar word die kriteria van die Logika dikwels ter syde gestel om dogmatiese voorveronderstellings te regverdig.  Dit blyk daarom heeltemal aanvaarbaar vir baie dogmatici te wees om vanuit ‘n verstaansparadigma te opereer wat nie gebaseer is op premisse en konklusies nie, maar eerder op dogmatiese agenda’s.

Aangesien ‘n paradoksale posisie binne die soteriologie ‘n meer onlangse neiging is, en kongruent is met ‘n postmodernistiese en verligte węreldbeskouing, word baie van die tradisionele formuleringe binne die Gereformeerde tradisie, wat veral bestaan het ten tyde van die skolastiese denke, vandag beskou as te “swaar Gereformeed” of “Calvinisties.”  Die skolastiese denke het juis daarna gestreef om paradoksale posisies binne die soteriologie te vermy.  Hiervan is daar talle voorbeelde, waarvan die Dortse Leerreëls geen uitsondering is nie.  Kyk maar na Hoofstuk 1, Artikel 6 en 7, waar God ‘n sekere aantal mense voor die grondlegging van die węreld gepredestineer het vir die ewige lewe en ander verwerp het.  Hoewel dit vandag uit verskillende oorde ontken word, is hier myns insiens sterk sprake van supralapsarisme (letterlik “bo” “val” “isme”).  Hiervolgens word die beslissing van die redding buite of bokant die mens gevel, en berus die redding uitsluitlik by God se keuse.  God gee geloof in.  In sy volle konsekwensie kom daarop neer dat God die menslike wil ondervang en eintlik vir die mens besluit.  In ooreenstemming hiermee word die teologie uitgebou dat die sondeval tot gevolg gehad dat die mens totaal verdorwe is.  Die mens se wil is hiervolgens inherent sleg en kan nie uit sy eie vir God kies nie.  Al wat oorbly is God se reddende genade.  Die mens is totaal passief in die verlossing, en kan ook nie die genade aanneem of sy eie maak nie, maar slegs ontvang.  Die logiese keersy van hierdie soort uitverkiesing is dat God doelbewus sekere mense verwerp: dubbele predestinasie.

Die probleem wat by so ‘n streng Gereformeerde formulering ontstaan het, is dat dit nie rekening gehou het met die volle verantwoordelikheid van die mens ten opsigte van die sonde, en die feit dat mense verlore gaan en God verwerp nie.  Dit hou ook verband met die teodisee vraagstuk.  Het God die sonde of die slegte geskep?  Dit kan tog nie wees nie.  Vandaar het die stelling van die prinsipiële onverklaarbaarheid van die sonde ontstaan, wat waarskynlik een van die eerste tekens binne die teologie was van ‘n paradoksale posisie.

Die stelling van prinsipiële onverklaarbaarheid van die sonde sę dat die sonde nie verklaar kan word nie, maar slegs bely kan word.  Die tipiese vrae wat ter sprake kom is: Kon Adam en Eva vir God kies?  Indien wel, hoekom het hulle dan teen God gekies?  Was hulle wil goed of sleg?  Indien hulle wil goed was, hoekom het hulle vir die slegte gekies?  Indien hulle wil sleg was, beteken dit dat God die sonde geskep het?  Omdat daar nie antwoorde vir hierdie soort vrae was nie, en omdat die Gereformeerde teoloë besef het dat ‘n posisie van dubbele predestinasie eintlik ‘n streep deur God se karakter trek, het die stelling van die prinsipiële onverklaarbaarheid van die sonde ontstaan[2].  Daarom is ook gesę dat die logiese konsekwensie van die uitverkiesing (wat sou neerkom op dubbele predestinasie) nie uitgewerk mag word nie.

Maar is die sonde werklik onverklaarbaar?  Is verklaring werklik verontskuldiging?  Verklaring is slegs verontskuldiging as die oorsaak van die sonde buite die mens gesoek word, maar nie as die oorsprong van die sonde blootgelę of uitgewys word nie.  Dit lyk of niemand hierdie stelling probeer bevraagteken nie, aangesien almal te bang is om in die sogenaamde strik van verontskuldiging te trap.

Die oorsprong van die sonde

Dit is belangrik om die oorsprong van die sonde te probeer aandui, want dit hou direk verband met die balans tussen God se genade en die menslike wil.  Waar kom die sonde vandaan?  Om die sonde direk aan God toe te skryf maak nie sin nie.  Dit was ook nie die gevolg van die sondeval asof die sondeval 'n transendente grootheid is nie.  Die sondeval verwys eerder daarna dat die sonde die gevolg is van Adam se keuse.  Adam was slegs die eerste een wat teen God gekies het.  Adam was in hierdie sin ‘n tipe van die hele mensheid.  Dit beteken egter nie dat ons nou ons skuld op hom kan verplaas nie, inteendeel, die een misdaad het vir alle mense tot veroordeling gekom (Rm 5:18).  “Almal het afgewyk, saam het hulle ontaard.  Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie” (Rm 3:12).  Na Adam het almal ook vir die sonde gekies.  Die skuld vir die sonde lę juis by onsself.

Die verklaring van die sonde is naamlik dat die sonde die gevolg is van die wilskeuse van die mens.  As dit nie so was nie, sou die mens nie meer verantwoordelikheid vir die sonde kon aanvaar nie.  Die feit dat die mens ‘n vrye wil het, en uit sy eie daarvoor kies, maak nog nie die sonde intrinsiek onverklaarbaar nie.  Mens sou wel op ‘n tweede vlak kon vra: “Waarom wil die mens die een of die ander?”  Dit is ‘n vraag na die aard van die menslike wil (wat later bespreek sal word), maar op ‘n primęre vlak is die sonde die gevolg van die wilskeuse van die mens.

As mens ontken dat jy ‘n vrye wil het ten opsigte van die sonde, en ontken dat jy self daarvoor gekies het, dan het jy jouself verontskuldig.  Mens verontskuldig jouself nie deur die sonde te verklaar nie, want die verklaring van die sonde is juis dat dit die mens se skuld is.

Meeste teoloë stem saam met die gedagte van menslike verantwoordelikheid, maar baie vereng die betekenis daarvan.  Hulle sę dat die mens verantwoordelik is ten opsigte van jou keuse vir die sonde, maar nie ten opsigte van jou keuse om te glo nie.  Met ander woorde, mens kan slegs vir die sonde kies, nie vir God nie.  Dit hou verband met die paradoksale posisie wat vroeër genoem is.  My vraag is of mens dan nog van verantwoordelikheid kan praat?  As mens slegs vir die sonde kan kies, en jou keuse vir God gepredestineer is, maak dit nie dat jy eintlik nie ‘n keuse het nie?  Het jy by implikasie dan nie juis jouself verontskuldig nie?

Die polęre en a-polęre denkrigtings

Die polęre en a-polęre denke help om die probleem van goddelike en menslike aandeel in die redding skerper te omlyn.  In die ontwikkeling van die Gereformeerde teologie is gewoonlik na polęre denke verwys as God en mens wat as konkurrente of mededingers gesien word.  Dit dui daarop dat die redding van die mens op 'n kwantitatiewe skaal beoordeel word. Die subjek (God) en die objek (die mens) word geskei, en word dikwels verwys na as die subjek-objek-splitsing.  Hiervolgens word die genade gesien as God se daad en die geloof die mens se daad.  Die somtotaal van die goddelike en menslike aandeel vorm dan 'n kwantitatiewe geheel wat die mens se redding teweegbring.  Volgens hierdie benadering is die redding van die mens argumentshalwe 10% die mens se aandeel en 90% God se aandeel.  Dit maak egter nie saak hoe dit bereken word nie, ‘n polęre formulering van die redding van die mens bly problematies, want dit eindig in ‘n haarklowery oor die persentasie goddelike of menslike aandeel.  Die meer onlangse Gereformeerde teoloë het ook hierdie gevaar ingesien en erken dat mens a-polęr oor die redding van die mens moet dink.  Hulle stel voor dat die mens se wil en keuse by die verlossing heeltemal ingesluit en omvat moet word in relasie met God en sy heilshistoriese werking.  Daarmee ontken hulle nie die menslike wil nie, maar laat dit nie op sy eie of outonoom staan nie.  Die menslike wil word dus ingesluit by God se heilswerk. 

Polęre denke strek myns insiens dieper as dit.  Dit het ook te make met die teenoormekaarstelling van goed en sleg.  Met ander woorde, buiten dat God en mens as konkurrente gesien word met die polęre model, word die goeie pool (God) afgespeel teenoor die slegte pool (die mens).  Juis omdat daar niks goeds in die mens sit nie, skep dit ‘n probleem oor hoe om hierdie twee pole by mekaar uit te bring.  Dit gaan ook oor die polariteit al dan nie van die menslike wil, die menslike natuur en God se genade.  Dit is op hierdie vlak wat ek meen dat die Gereformeerde teologie nog nie heeltemal uit die polęre denke ontsnap het nie.  Omdat daar volgens die Gereformeerde leer niks goeds in die mens se wil is nie (en die wil dus polęr gemeet word), word die menslike wil ingesluit en as’t ware ondervang in God se heilswerk.  In hierdie sin word die mens op ‘n manier uit die skema verwyder, en hom laat insink in die ander pool.   In effek bly daar net een pool oor, naamlik God.  Dit word dan as a-polęr voorgestel. 

Die vraag is of dit ‘n bevredigende oplossing bied ten opsigte van die goed-sleg skema.  Dit is net so goed die katode (in skeikundige terme) word van die anode verwyder en dan as a-polęr voorgehou.  Maar styg dit werklik uit bokant die polęre denksiteem?

Die vraag wat hier gevra moet word is of daar hoegenaamd in die soteriologie met goed en sleg, of poitief en negatief gewerk moet word.  Die polęre kategorie word myns insiens nie ontsnap deur die een pool op een of ander manier te verwyder, of in die ander pool op te neem nie.

Sinergisme

Sinergisme lę ook binne die kader van die polęre denke, of andersom.  Dit is waar die menslike keuse en daad (werk?) van geloof gesien word as medewerkend met God se genade, en sodoende die somtotaal van die verlossing meebring.  Dit was veral ook die tipe denkrigting van die Arminiane.  Die probleem wat die Gereformeerdes met die Arminiane gehad het, was dat die mens, as hy bloot op grond van sy eie wilskeuse gered word, hy op een of ander manier ‘n bydrae tot die verlossing gelewer het, en op daardie manier die redding verdien het.  Dit sou dan ‘n streep trek deur God se genade.

Die manier waarop sinergisme egter aanvanklik afgewys is, figureer ook op die vlak van die polęre denke, want vrystaande menslike keuse by verlossing is afgewys, omdat dit sou beteken dat daar tog iets goeds is in die natuurlike menslike wil.  Met ander woorde, die polariteit van die menslike wil was deurslaggewend vir die afwysing van sinergisme.

Die vraag bestaan steeds, hoe kan die redding tegelyk ‘n gawe van God wees, en ook ‘n menslike keuse?

Infralapsarisme

Die paradoksale posisie binne die soteriologie was in ‘n sekere sin onvermydelik, want dit was die enigste manier waarop aan beide God se genade en die menslike keuse by verlossing vasgehou kon word.  Die positiewe hiervan is die feit dat daar vanuit meer Bybelse kategorieë as keiharde, reglynige konstrukte na ‘n saak gekyk is wat einlik baie persoonlik is, en alles te doen het met die Christen se geloofsbelewing.  Dit het nou wel nie al sy vrae beantwoord nie, maar dit het ten minste op ‘n manier aan God se genade en die mens se eie verantwoordelikheid meer reg laat geskied.  Dit kan getipeer word as infralapsarisme (sien Jonker 1989:65-70).  Dit staan teenoor supralapsarisme, in die sin dat dit nie die redding en uitverkiesing wil verstaan aan die hand van dubbele predestinasie nie.  Eerder as wat dit die uitverkiesing wil verstaan as ‘n ewige dekreet wat in die begin deur God voltrek is, wil dit vanuit die posisie van geredde sondaar (van onder na bo), kyk na die uitverkiesing.  Dit hou steeds vas aan die gedagte van uitverkiesing en verwerping, maar dan as iets wat ten tyde van verlossing in Christus voltrek word, eerder as voor alle ewigheid.  God se uitverkiesing geskied op so ‘n manier dat dit die menslike respons en keuse insluit en omvat.  Maar dit gebeur nie op so ‘n manier dat die menslike keuse tot geloof op sy eie staan nie, maar ingegee word deur God se genade. 

In hierdie sin bly die realiteit van die uitverkiesing van diegene wat die supralapsariese standpunt huldig en diegene wat die infralapsariese standpunt huldig, in wese dieselfde.  Dit word net uit verskillende hoeke beskou.  Met ander woorde, beide standpunte sien die mens se keuse by verlossing in dieselfde lig.  Die verskil kom in dat die infralapsariese posisie die mens se keuse tot verwerping van God se genade, wel volkome op sy eie laat staan.

Hoewel die infralapsariese posisie op hierdie punt verwys na ‘n posisie van ootmoed of bewoënheid, is dit in wese net ‘n eufemistiese manier om ‘n paradoksale posisie binne die teologie te erken, maar na gelang van die intrinsieke aard van infralapsarisme, daarmee genoë neem.

Indien ‘n paradoksale posisie dan bevraagtekenbaar is, en aangesien ‘n skolastiese denksisteem nie reg laat geskied aan eg Bybelse kategorieë nie, op watter manier kan aan biede die menslike keuse en God se soewereine genade vasgehou word?

Bestaansvraag: die verhouding tussen God en mens

Aangesien dit problematies is om die redding van mens te sien in terme van die persentasie aandeel van God en/of mens, is dit nodig om oor God en mens te praat in terme van ‘n totaal ander verwysingsraamwerk, en dit is die van ‘n inter-persoonlike verhouding, waar “goed” of “sleg” voorlopig op die ys gehou word.  Die bedoeling daarvan is om die fokus terug te herlei na die oorspronklike verhouding tussen God en mens.

Anders gestel, die Arminiaanse versus Gereformeerde stryd wat vir eeue al aan die gang is, het hoofsaaklik gehandel oor die soteriologie.  Die mees fundamentele vraag in die teologie was ‘n heilsvraag: “Hoe verstaan ons redding van die mens?” 

Myns insiens is dit ‘n meer fundamentele vraag om te vra: “Met watter doel het God die mens geskep?”  Dit sou ek beskryf as die bestaansvraag.  Die verlossing van die mens is nie ‘n doel op sigself nie.  God red nie die mens sonder meer nie.  Dit is ‘n middel tot ‘n groter doel.  Wat is hierdie doel?

1 Jh 1:1-3 werp meer lig op die onderwerp:

Met die frase: “in die begin,” toon 1 Johannes ‘n sterk ooreenkoms met Gn 1 en Jh 1.  Dit dui op ’n prinsipiële beginsel of waarheid.  Dit dra van huis uit ‘n baie persoonlike karakter: “wat ons gehoor het… met ons oë gesien het… wat ons aanskou het… en ons hande getas het.”  Dit praat van menslike betrokkenheid – betrokkenheid by “die Woord van die lewe.”  Hierdie lewe is geopenbaar: “die ewige lewe” (vers 2). Hierdie lewe dui op Jesus (vgl. Jh 14:6).  Dit dui op die verlossingsplan wat God vanaf die grondlegging van die węreld gehad het, sodat almal wat deel kry aan Jesus, deel het aan die lewe.  Maar wat is die doel van hierdie ewige lewe?  Vers 3: “sodat (ina) julle gemeenskap (koinwnia) met ons kan hę, en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.”  Die eintlike doel van God se verlossingsplan met die mens is die gemeenskap met die Vader en die Seun.  Die “gemeenskap met ons” kan nie plaasvind sonder die “gemeenskap met die Vader en die Seun” nie.  Die verhouding met die Vader en die Seun is die gemeenskaplike belang van die gelowiges.  Dit is die ewige lewe waarvan die skrywer praat.  Die gemeenskap met die Vader is die rede vir die bestaan van die mens.  Die lewe van die mens vind slegs betekenis indien dit deel is van die ewige lewe in gemeenskap met die Vader en die Seun.  Dit is die oorspronklike doel waarmee Hy die mens gemaak het. 

Maar wat is die aard van hierdie gemeenskap met die Vader en die Seun? 

‘n Prominente merker in 1 Jh is ginwskw (om te ken).  Dit kom voor in 1 Jh 2:3,4,5,13,14,18,29; 3:1,6,16,19,20,24; 4:2,6,7,8,13,16; 5:2,20.  Dit is interessant om die ontwikkeling van hierdie tema in die brief na te gaan.  1 Jh 2:3 begin met “as ons sy gebooie bewaar” as die manier hoe ons Hom ken.  Vers 5 praat van “elkeen wat sy Woord bewaar.”  Dit praat ook van die liefde wat volmaak geword het en van “ons is in Hom.”  Vers 13 en 14 praat van die ken van Hom in terme van die oorwinning oor die bose.  Vers 18 praat van die kennis van die Antichris en die feit dat dit die laaste uur is.  Vers 29 praat van die regverdigheid van Hom en die doen van geregtigheid.  Hoofstuk 3:1 sę ons word kinders van God genoem.  Vers 6 sę as ons Hom ken, sondig ons nie meer nie.  Vers 16 praat daarvan dat Hy sy lewe vir ons afgelę het.  Vers 24 praat van sy Gees wat Hy (vir) ons gegee het.  Hoofstuk 4:2 praat van die belydenis dat Jesus in die vlees gekom het.  Vers 6 praat van gehoorsaamheid aan die waarheid.  Vers 7,8 praat van die liefde teenoor mekaar.  Vers 13 praat van “dat Hy ons van sy Gees gegee het.”  Dit kom ooreen met 3:24, maar is meer persoonlik.  Ons deel in sy Gees.  Vers 16 sę God is liefde en dat ons in die liefde bly en daarom ook in God self.  Dit praat al baie meer intiem van ons verhouding met God.  Hoofstuk 5:2 praat van die liefde vir die kinders van God in terme van die liefde vir God en die bewaring van sy gebooie.  Vers 20 is die klimaks.  Dit praat van die ken van die Waaragtige self, die ewige lewe.  Dit is waarom dit eintlik gaan.

Hoewel daar baie fasette van “ken” in 1 Jh bestaan, is daar dus ‘n bepaalde progressie in die ken-motief.  Dit begin by die bewaring van sy gebooie en raak al meer persoonlik.  Dit eindig in die ken van die Waaragtige self.  Die ken-motief kan gesien word as die verklaring of betekenisgewing aan die “gemeenskap met die Vader en sy Seun” (1:3).  Die ken van die Waaragtige is dit waarom dit eintlik gaan.  Dit gaan oor ’n verhouding met God.  Dit is die rede vir die bestaan van die mens – sy skeppingsdoel.  Dit was die oorspronklike doel waarvoor Adam en Eva gemaak is.  Die sonde het die verhouding verbreek.  Redding of verlossing het daarom ‘n liefdesverhouding met God ten doel. 

Soos die ken-motief, is die liefde-motief ook ’n belangrike merker in 1 Johannes.  Hoewel die liefde meestal gemik is op die horisontale dimensie, kom die vertikale dimensie van liefde, en spesifiek die wedersydse aspek van die liefde tussen God en mens ook na vore: 1 Jh 4:19-20 praat van die feit dat God die mens eerste liefgehad het, en dat die liefde van die mens teenoor God moontlik is op grond hiervan. 

Dit is egter nie net in 1 Jh waar die verhouding tussen God en mens uitgebou word nie, daar is talle ander voorbeelde waarna net kortliks verwys sal word.

‘n Ander strategiese Johannese teksgedeelte wat die belangrikheid van ’n verhouding met God onderstreep is die priesterlike gebed (Jh 17:3,11,21-23; Vgl. ook die “ken-” motief in Mt 7:23).  Jesus sę in Jh 17:3: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”  Jesus bid dat ons een kan wees net soos God een is (vers 11,21,22) en dat ons in Jesus, en Jesus in ons kan wees (vers 23), sodat die węreld kan glo.  Die bekende uitspraak van Jesus in Mt 22:37-40 en Lk 10:27 kan ook in dieselfde lig verstaan word.  Ons liefdesverhouding met God en die liefde vir die naaste wat daaruit voortvloei, beklemtoon dieselfde beginsel.

Die vraag na die bestaandoel van die mens kan ook sterk Paulinies begrond word:

Die geregtigheidsbegrip kom telkens voor by Paulus.  Rm 3:21-26 word beskou as die sentrale gedeelte om die geregtigheid te beklemtoon.  Die sonde het die verhouding tussen God en mens vertroebel, en is herstel deur die geregtigheid wat deur die geloof in Christus ontvang word.  In hierdie sin behels die geregtigheid meer as net ’n juridies of godsregtelike herstel, dit het te doen met ’n interpersoonlike gebeure.  Dit praat dan spesifiek van die regte verhouding in hierdie verband (Pelser 1984:262-269).

Dieselfde gedagte kom ter sprake as Paulus op ‘n dieper vlak verwys na die gemeenskap met die Seun (1 Kor 1:9).  Dit gaan oor ‘n persoonlike verhouding.  In 1 Kor 6:17 word die gemeenskap met die Gees vergelyk met die gemeenskap tussen man en vrou.  Dit is baie intiem.  Die tema van gemeenskap met die Gees kom ook voor in Flp 2:1. 

Die ken-motief by Paulus het ook alles te doen met die mens se liefdesverhouding met God.  Tekste wat veral hierop dui is Rm 1:28; 14:14; 1 Kor 8:3; 13:12; Gl 4:9; Ef 3:19; 4:20; 1 Ts 4:5; 2 Ts 1:8; 1 Tm 2:19 en Tt 1:16.  Baie treffend is Flp 3:8-10: “…ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde… en een met Hom te wees… Al wat ek wens is om Christus te ken…” (1983 Vertaling).  Dit is vir Paulus die allesoortreffende motief as hy aan die gemeente in Filippi skryf.  Dit is vir hom die kern waarom alles gaan. 

Die motief van die liefde van God vir die mens (Rm 5:5,8; 8:35,37,39; 9:13; 15:30; 1 Kor 8:3; 16:22; 2 Kor 5:14; 13:11,14; Gl 2:20; Ef 2:4; 3:19; 5:2,25; 6:23; Flp 2:1; 2 Ts 2:16; 3:5; Tt 3:4) en die liefde van die mens vir God (Rm 8:28; 1 Kor 2:9; Gl 5:6; Ef 6:24; Kol 1:8; Flm 5), kom ook dikwels voor in die Pauliniese literatuur.  1 Tm 1:14 en 2 Tm 1:13 praat nie slegs van die liefde van God of die liefde van die mens nie, dit sluit beide in.  Hier is dus sprake van ’n wedersydse liefdesverhouding.  In hierdie verband is die Efesiërbrief veral verligtend.  Ef 1:4 praat van die voorneme van verkiesing in Christus: “om sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”  Dit spreek van die bedoeling van God se voorneme in Christus.  Die rede vir verlossing in Christus is sodat die mens in ’n liefdesverhouding met God kan tree en leef.  Hoofstuk 3:17 praat van Christus wat in die hart van die gelowige woon – “julle wat in die liefde gewortel en gegrond is.”  Die gelowige moet die liefde van Christus leer ken (vers 19).  Die doel daarvan is dat hy vervul kan word tot al die volheid van God.  Hier is dus ’n vervlegting van die “ken-” motief en die “liefde-” motief.  Dit gaan alles oor die wedersydse liefde tussen God en mens.

God se grootste hartsbegeerte is inderdaad om 'n persoonlike liefdesverhouding met die mens te hę.  “Hy begeer met jaloesie die gees wat Hy in ons laat woon het.” (Jk 4:5) Hier moet “gees” met 'n kleinletter vertaal word[3].  God begeer met ander woorde die mens se gees met jaloesie (Vgl. dit met Jesus se hartsgebed in Jh 17:21-23).  Die sonde wat Adam gedoen het, het ook nie God se oorspronklike doel met die mens gekanselleer nie, inteendeel, God het die verlossing bewerk in Jesus Christus sodat ons deur Hom toegang het tot die Vader (Jh 14:6) en die allerheiligste van God (Heb 10:18-19) – en dit sonder dat die mens enige verdienstelike werk hoef te doen (Rm 4:4,5).  Die verlossing van die mens is dus nie ‘n doel op sigself nie, maar staan ondergeskik aan die groter doel, naamlik die verhouding tussen God en mens.

Juis omdat dit God se diepste bedoeling is om met die mens 'n verhouding te hę, en omdat dit ten grondslag lę van Christenskap, het Christenwees sedert aanvang die karakter van 'n wedersydse verhouding.  Dit is waarom mens praat van 'n verbondsverhouding waarin God met die mens staan.  Geloof is die manier waarop die mens deel raak van die verbond (Gl 3:7).  Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb 11:6).

Die rol van die wil in ‘n verhouding

Aangesien die wedersydse verhouding tussen God en mens sentraal in die evangelie en die hele boodskap van die Bybel staan, kan dit nie anders as om ‘n verreikende invloed te hę op die soteriologiese gesprek nie.  Om die waarheid te sę, dit lę ten grondslag daarvan.

Omdat die menslike keuse baie relevant is ten opsigte van die verhouding tussen God en mens, kan dit verhelderend wees om eers te kyk na die rol van die wil in ‘n menslike verhouding, en daarna na die rol van die wil in die verhouding tussen God en mens.

Die wil van die mens is dit wat hom van die dier onderskei.  Ware liefde tussen twee partye is slegs moontlik as elkeen spontaan kies om die ander lief te hę.  Die een kan nie sy liefde op die ander een afdwing en die ander een forseer om hom lief te hę nie.  Hy moet spontaan daarvoor kies.  Anders is dit soos ‘n man wat vir ‘n vrou om die ja-woord vra.  As die vrou net ja kan sę omdat dit dalk vooraf so bepaal is, of as haar wil so geprogrammeer word deur die man (indien dit moontlik sou wees), sou haar “ja” vir die man eintlik niks beteken nie.

In terme van die soteriologie sou mens kon sę dat die heil wat God deur sy genade vir die mens bewerk, nie in stryd is met God se oorspronklike intensie om met die mens ‘n wedersydse liefdesverhouding te hę nie.  Anders gestel, die heil vind neerslag binne die kader van die mens se skeppingsdoel.

Dit plaas onmiddelik ook ‘n vraagteken agter enige vorm van determinisme, want ware liefde tussen twee partye is slegs moontlik as elkeen sonder gepredetermineerde noodwendigheid daarin staan.  God se liefde maak nie van die mens ‘n marionet nie, maar ‘n mens met ‘n vrye keuse.  Dit is ware genade.  Vir die mens is dit nie ‘n kuns om iets te maak wat doen wat hy dit laat doen nie.  Dit is wel ‘n kuns om iets te maak wat sy eie nie-gepredetermineerde keuses kan uitoefen.  Kyk maar na die pogings in die rekenaarwęreld om “artificial intelligence” te maak.  Geen mens het al daarin geslaag om so iets te maak nie – net God kan, en dit is genade – dit onderskryf die grootheid, soewereiniteit en almag van God.  Enige iemand kan ‘n marionet maak…

Dus, vir enige verhouding om tussen twee partye te bestaan is dit nodig dat elk sy eie wil het.  As God net marionette gemaak het, sou Hy nie ‘n verhouding met hulle kon hę nie.  God moes iets maak, naamlik die menslike wil, wat selfstandig kan funksioneer en sy eie besluite neem.  Is dit nie ‘n groter wonder as wat dit is om marionette te maak nie?

Vir God om iets of iemand te maak met sy eie vrye wil, impliseer ‘n sekere risiko aan God se kant.  Om iets met sy eie wil te maak, is daar die risiko dat dit ook teen jou kan kies.  Sonder hierdie risiko sou daar nie sprake kon wees van ‘n wedersydse verhouding nie.  Dit is binne hierdie raamwerk dat God se liefde enigsins sin maak.  So het God ‘n sekere ruimte geskep waarin die mens Hom uit vrye keuse kan dien.  Op dieselfde manier is ruimte gemaak dat die Satan uit die hemel kon val en Adam vir die sonde kon kies op grond van hulle eie wilskeuse.  Dit beteken nie daarom dat God die sonde of die kwaad geskep het nie, maar dat God ruimte geskep het om te heers oor sy skepping, en waarin Hy in ‘n persoonlike verhouding met die mens kan tree.  Hierdie ruimte gee aan die skepping ‘n bepaalde vryheid.  Daarom is daar ook 'n duidelike verskil tussen die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis.  Die kenmerk van die koninkryk van die lig is die van vryheid, en die van die duisternis, die van gebondenheid en dwang. 

Om die mens nie 'n keuse te gee in sy verlossing nie is eintlik dwang, al sou die mens daardeur gered word.  As iemand vir jou iets lekkers om te eet aanbied, en wag dat jy dit aanvaar of verwerp, het hy baie meer genade as iemand wat iets in jou keel afdruk - al is dit ook iets lekkers en al hou jy ook daarvan.

Die grootheid van God se genade lę juis daarin dat hy aan elke mens 'n vrye wil gegee het, want Hy het ons na sy beeld geskape (Gen 1:26).  Dit is die grootste gawe wat God vir elke mens kon gee.  Die wil van die mens is die kenmerk van sy individualiteit.  Dit is wat die mens uitsonder as die hoogste skepping.  Dit is wat 'n mens waarlik mens maak; dit is wat maak dat die mens werklik ‘n verhouding met God kan hę.  Dit onderstreep die gronddoel van die skepping van die mens.

Hoewel die infralapsariese posisie nie die wil en keuse van die mens ontken nie, en juis praat van die verhouding tussen God en mens, bly dit ‘n vraag of die insluiting van die mens se wil by God se heilswerk nie die bestaansdoel van die mens in gedrang bring nie, en sodoende die essensiële karakter van die oorspronklik bedoelde liefdesverhouding tussen God en mens verlam nie.  Het die bestaansvraag dan nie weer geswig voor die soteriologiese vraag nie?

Onderskeid tussen wil en natuur

Die vraag is nou, as die mens se wil en sy keuse dan so noodsaaklik is in die redding, beteken dit dat die mens sy redding verdien?

Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om te kyk na die aard van die menslike wil.  Is die wil van die mens dieselfde as sy natuur?  Hierdie vraag is so deurslaggewend, dat die soteriologie myns insiens in ‘n groot mate daarby staan of val.

Vir die verstaan van die menslike natuur, is dit nodig om te kyk na Adam se posisie ten opsigte daarvan, en die invloed wat die sonde gehad het op die menslike natuur as ‘n geheel.  Adam se sonde het meegebring dat die sonde heerskappy voer in hierdie węreld.  Die dood het geheers oor die węreld deur die misdaad van die een (Rm 5:17).  Dit was die gevolg van die vloek wat God in Gn 3:17 uitgespreek het.  Almal het in Adam korporatief gesterf (1 Kor 15:22).  Op dieselfde wyse is almal wat opgewek is tot die ewige lewe, korporatief in Christus opgewek (kyk bv. na die interessante parallel tussen 1 Kor 15:22 en Kol 2:11-15).  Dit het alles te make met die vleeslike toestand of menslike natuur (sarx: kyk 1983 Afrikaanse vertaling van Kol 2:11).  Vanaf Adam se sonde is die menslike natuur verdorwe (vgl. die parallel met Adam se ontdekking van sy naaktheid: Gn 3:7).  Op die vraag of daar ‘n verband bestaan tussen die menslike wil en natuur, is die interpretasie van Rm 7 deurslaggewend:

Die bekende uitspraak van Paulus: “…die goeie wat ek wil doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek,” word dikwels gebruik om ‘n algemene worsteling in ‘n gelowige se lewe uit te druk.  Maar eksegese met betrekking tot die inherente struktuur van Rm 7, dui daarop dat Paulus hier die toestand van die mens wat in die vleeslike toestand verkeer (die mens wat nog nie tot bekering gekom het nie) beskryf (sien Ridderbos:1966).  Daar is tekstuele merkers wat daarop dui.  Vers 5 wat sę: “toe ons nog in die vlees was,” staan in teenstelling met vers 6: “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was.”  Hy tref dus ‘n duidelike onderskeid tussen hierdie twee bestaanswyses of toestande.  Vanaf vers 9 tot by vers 26 brei Paulus uit op die toestand van die ou mens.  In die hele gedeelte bly sy trant dieselfde.  Vers 9 sę: “sonder die wet het ek vroeër gelewe.”  In vers 14 praat hy van die toestand as vleeslik en verkoop onder die sonde (dit wil sę nog nie losgekoop deur Christus se bloed nie).  Dieselfde geld vir vers 18: “want ek weet dat in my, dit wil sę in my vlees niks goeds woon nie.”  Die Gees van God woon klaarblyklik nog nie in hom nie.  In vers 24 sę hy: “Ek, ellendige mens!  Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”   Die 1983 vertaling sę: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”  “Ek dank God deur Jesus Christus onse Here.”  Dit is ‘n sug na verlossing.  Die “doodsbestaan” is in hierdie konteks ‘n vervalle en onverloste toestand wat sug na verlossing.  In vers 26 verwys hy terug na die toestand van die ou mens wat hy pas beskryf het.  “So dien ek...”  Vers 26 sę dieselfde as vers 18, net in ander woorde. 

Sommige interpreteer egter vers 26 as die toestand van die nuwe mens omdat dit chronologies ná die sugting vir verlossing (vers 24-25) staan, en verstaan dan vers 18 ook as die toestand van die nuwe mens (omdat vers 26 en 18 ooreenstem).  Dit is egter nie houdbaar nie, want Rm 8 verwyder enige moontlikheid vir dubbelsinnigheid.  Hier kom ‘n duidelike wending: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.”  Nou word die toestand van die nuwe mens bespreek in kontras met Rm 7, waar die toestand van die ou mens sopas bespreek is.  Rm 8:9 sę bv.: “julle is egter nie in die vlees nie.”  Dit staan in kontras met Rm 7:14 wat sę: “…maar ek is vleeslik…” en vers 18 wat sę: “ek weet dat in my, dit wil sę in my vlees, niks goeds woon nie.”

In die lig hiervan (die feit dat Rm 7:9-26 op die toestand van die ou mens dui), word die verhouding tussen wil en natuur verhelder.

In 7:18 sę Paulus dat om te wil (goed doen) is by hom aanwesig, maar hy kan dit nie realiseer nie (vers 19).  In vers 26 (wat ‘n opsomming is van die toestand van die ou mens) praat van sy gemoed (parallel met vers 18-19: dit wil sę sy wil ) wat die wet van God dien, maar met sy sondige natuur dien hy die wet van sonde.  Paulus verduidelik dus die toestand van die ou mens as ‘n toestand waar die wil teenwoordig is om die goeie te doen, maar die vermoë om dit ten uitvoer te bring, ontbreek (as gevolg van die sondige natuur wat nog teenwoordig is).  So tref hy ‘n duidelike onderskeid tussen wil en natuur.

Die implikasie hiervan is tweeledig:

1.     Die menslike natuur kan polęr gemeet word: goed of sleg / gered of ongered.  Die menslike natuur is dus bepalend ten opsigte van sy destinasie.  Iemand wat in die sondige natuur is en bly, gaan verlore, maar iemand waarvan die sondige natuur verwyder is (Kol 2:11), is gered en het die ewige lewe.

2.     Die wil staan egter op ‘n ander vlak as die menslike natuur.  Dit het te doen met sy keuse, maar kategoriseer die mens nie met betrekking tot sy destinasie nie.  Dieselfde wil (wat goed wil doen) is beide by die ongeredde en die geredde teenwoordig.  Kyk maar na die moderne bewustheid om die natuur te bewaar, om reg te eet, of om węreldvrede te bewaar.  Inteendeel, Rm 2:14-15 wys daarop dat die Heidene wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, omdat hulle gewete saam getuienis gee en hulle gedagtes mekaar onderling beskuldig of verontskuldig.

Soos Rm 7:26 uitwys (wat in verband staan met 7:18-19), hang die menslike denke (nouV) ten nouste saam met dit wat die mens wil (qelw) (Vgl. ook Rm 2:14-15).  Die vermoë wat die mens in sy gevalle toestand het om tussen goed en kwaad te onderskei (Gn 2:9,17; 3:5) lę op die vlak van die wil en die denke, maar dit maak nog nie die mens in sy wese of natuur goed nie.

Die aard van die menslike wil en natuur

Aangesien die wil en denke op ‘n ander vlak lę as die menslike natuur, word dit nie prinsipiëel beďnvloed of getransformeer by die redding van die mens nie.  Daarom bly dit nodig vir die bekeerde om telkens sy denke te laat vernuwe (Rm 12:2; Kol 3:2). 

Die vraag bly steeds hoe die menslike wil verstaan moet word ten opsigte van die polęre en a-polęre denke.  Staan die wil neutraal in die sin dat dit beide goeie en slegte eienskappe bevat?  Dit is problematies, want dit impliseer dat die wil in ‘n middelposisie staan binne die polęre kategorie. 

Die vraag waarom dit eintlik hier gaan is in watter terme of in watter kategorieë mens oor die mens se wil moet praat?  Tot dusver kan die volgende afleidings in verband met die aard van die menslike wil gemaak word:

1.     Dit is ‘n dinamiese eienskap van die mens se siel wat bokant die menslike natuur staan, en hom in staat stel om die goeie of die slegte te kies, maar het geen realiserende krag ten opsigte van sy destinasie nie.

2.     Dit is nie ‘n sekere substans wat polęr gemeet kan word nie.  Anders gestel, dit bevat nie intrinsiek 'n sekere substans wat die mens kategoriseer met betrekking tot sy destinasie nie.

Om te vra of die wil intrinsiek goed of sleg is, is eintlik ‘n ontoepaslike vraag.

Die menslike natuur, wat eerder tuishoort binne 'n polęre kategorie, staan fundamenteel ten opsigte van die mens se kategorisering in terme van goed of sleg.

Ten diepste is goed om binne ‘n persoonlike verhouding met God te staan en sleg om buite ‘n persoonlike verhouding met God te staan.  Sonde is in sy kern nie slegte dinge of dade nie, maar die noemer vir ‘n verkeerde destinasie.  Die wedergebore mens het deel aan die goddelike natuur (2 Pt 1:4).  Die kern van sy wese is verander.  Hy is nie meer uitverkoop aan die sonde nie (Rm 7:14), maar is ‘n nuwe skepping.  Sy ou natuur is verwyder in Christus (Kol 2:11: 1983 vertaling).  Daarom kan 1 Jh 3:9 sę: “ons kan nie meer sondig nie.” Omdat die menslike natuur sy destinasie bepaal, is mens in sy kern óf volmaak in Jesus, óf ongered en ver van God.  Daar is nie 'n tussenposisie nie.

Dit is belangrik om daarop te wys dat die menslike natuur van die ongeredde mens enersyds totaal en al verdorwe is, en andersyds dat die mens se wil geen realiserende krag het ten opsigte van sy redding nie.  Anders gestel, daar is niks intrinsiek in die menslike natuur of in sy wil wat hom van destinasie kan laat verander nie.  As dit so was kon hy sy verlossing verdien.

Hoe word die mens dan gered?  Word hy buite om of ten spyte van sy wil gered?

Ja en nee.  Die wil wat beďnvloed word deur die denke, word oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, en aanvaar op grond van die Heilige Gees se oortuiging die verlossing in Christus (Jh 16:8).  Dit opsigself is egter nog nie die verlossing nie, en verander ook nie die mens se destinasie nie!  Maar, dit op sigself is geloof.

God red en wederbaar die mens op grond van hierdie geloof.  Hy haal die ou mens uit en skep die nuwe mens.  Hy verwyder die sondige natuur (Kol 2:11) en verander die bestemming van die mens.  Selfs die feit dat die mens ‘n wil het en die verlossing kan kies en aanvaar, impliseer nog nie dat sy wil iets substansieels bevat wat sy redding kan bewerkstellig nie.  Die menslike wil kies slegs om die verlossing wat God deur Jesus Christus bewerk het, te ontvang.  Dit is die wonder van God se genade.

Aangesien die onderskeid tussen wil en natuur nie altyd so sterk in die teologie omlyn word nie, word die wil en natuur dikwels saam gebruik, en van albei in die polęre kategorie gepraat.  Dit is dan wanneer dit moeilik word om nie te eindig in een of ander paradoksale teologiese posisie nie.

Die aard van geloof

Vanuit die gesprek van die aard van die menslike wil, kan die aard van geloof ook beter verstaan word.  Die menslike wil is van so aard dat enige ongeredde mens die goeie nuus van die evangelie kan glo (Jh 3:16).  Dit is tog die kern van die evangelie!  Die evangelie is juis bedoel vir sondaars en mense waarvan hulle menslike natuur verdorwe is.  Geloof kan dus nie 'n werk of prestasie wees wat guns by God verdien nie.  Jesus Christus se dood het reeds volkome guns by God verwerf.  Geloof in Christus is nie iets wat jou beter maak as iemand anders nie.  Dit is ook nie iets wat maak dat jy eendag kan sę: “Wel, ek was beter as daardie ander een, want ek het darem geglo” nie.

Geloof tot redding is om iets in ontvangs te neem wat eintlik reeds joune is.  Dit is soos iemand wat sę: “Hier is vir jou 'n splinternuwe motor.  Dit staan hier in jou motorhuis en is klaar op jou naam geregistreer.  Alles is klaar gedoen.  Glo jy dit?”  As jy sę: “Ja, ek glo dit,” maak dit dat jy die motor op enige manier verdien het?

Geloof in sy aard is nie 'n werk van geregtigheid nie:

Rm 3:21-22 sę: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet... die geregtigheid van God naamlik deur die geloof...”

Rm 3:27 sę dat ons nie gered word deur die wet van die werke nie, maar deur die wet van die geloof (vgl. Rm 3:28; Gl 2:16).  Hoewel die wet van geloof die wet van die werke vervang, staan dit op dieselfde vlak.  Aangesien God gesien het dat niemand die wet van die werke kon volbring nie, het hy dit vervang met die wet van die geloof.  Dit is die nuwe wet.  Al verskil is, die nuwe wet is onverdienstelik, en daarom kan almal dit volbring (vers 22-26).

Rm 4:4-5: “...aan hom wat werk, word loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie maar glo... word sy geloof (nie God se geloof nie) tot geregtigheid gereken.”

Die werke van die wet word met verdienstelikheid geassosieer, en geloof word met onverdienstelikheid geassosieer.  Hierdie teksgedeeltes praat van die intrinsieke aard van beide geloof en die werke van die wet.  In Rm 4:4 word geloof teenoor werk gestel, nie geloof teenoor guns nie.  Geloof is op sigself nie 'n werk nie.  Geloof is nie genade omdat God dit ingee nie, maar omdat geloof op sy eie onverdienstelik is.  ‘n Ander beeld om te gebruik is die van geloof in ‘n geneesheer.  Ek moet glo dat die geneesheer my lewe kan red, voordat ek op die operasietafel klim.  As ek van die operasietafel opstaan is daar egter geen manier waarop ek die redding verdien het nie.

Baie teoloë sien egter geloof as 'n oorkoepelende begrip om die totale proses van bekering te beskryf en is huiwerig om oor die karakter van geloof te praat soos dit op sigself is.  Hulle sal wel erken dat geloof leeg is, maar dan omdat God geloof ingee, en nie omdat dit intrinsiek en op sigself leeg is nie.  As dit so is dat God eers geloof moet ingee sodat dit onverdienstelik kan wees, volg dit logies dat geloof intrinsiek ‘n verdienstelike karakter dra.  Daarom sę hulle ook mens word nie op grond van[4] jou geloof gered nie, maar langs die weg van die geloof. 

Dit is problematies om te sę dat God as't ware eers vir jou moet glo, om dit onverdienstelik te maak, want dit is nie God wat moet glo nie, die mens moet glo. 

Wat baie nie verstaan nie, is dat geloof in sy wese juis alle pogings om jouself te red, laat vaar.  Dit dra van huis uit ‘n oorgee-karakter.  Jy verlaat jou alleenlik maar op God.  Geloof tot redding is per definisie gerig op die inhoud van die geloof, en nie die een wat glo nie.  Daarom bou 'n mens jou heilsekerheid nie op jou eie prestasie nie, maar op Christus se verdienste aan die kruis.

Die wonder van geloof lę dus daarin:

1.             Dit staan op sy eie as ‘n keuse van die mens se wil, en laat sodoende reg gekied aan die vrye wilskeuse van die mens.

2.             In sy aard is geloof op geen manier verdienstelik nie, en laat sodoende reg geskied aan God se vrye inisiatief van genade.

Die antwoord op die vraag oor hoe om die menslike vrye wil te balanseer met God se vrye genade lę dus in die wonder van geloof.  Geloof is die sleutel tot die verstaan van die evangelie en die uitverkiesing.

Geloof is egter nie iets wat in ‘n vakuum ontstaan of tot uiting kom nie.  Geloof het ook alles te doen met die oortuigingswerk van die Heilige Gees en die genadige beskikking van God.  Maar geloof is nie in stryd met God se oorspronklike bedoeling om met die mens ‘n persoonlike verhouding te hę nie.  Daarom is geloof ook gelyk aan die menslike keuse. 

Die feit dat die mens, mens is, en hoegenaamd ‘n vrye keuse het, is in elk geval ‘n gawe van God.  God se genade is nie beperk tot sekere individue nie, maar het aan alle mense verskyn (vgl. Tt 2:11).  Dus, in die eerste instansie is die mens se keuse, geloof, God se verkiesing in Christus, ja die hele evangelie is gelyk aan God se ganadige beskikking en sy barmhartigheid aan die mens.

Grondbeginsels van die uitverkiesing

Die voorneme en die grond van die uitverkiesing

Die soteriologie is deurslaggewend tot die verstaan van die uitverkiesing.  Die uitverkiesing is daarom nie vreemd aan die soteriologie nie.  Dit is ook nie in stryd met die bestaansdoel van die mens nie.  Die uitverkiesing onderstreep juis God se begeerte om met die mens in ‘n persoonlike verhouding te tree.

Om die uitverkiesing te verstaan, is dit nodig om ‘n onderskeid te maak tussen God se voorneme van verkiesing (Rm 8:28; 9:11; Ef 1:9,11; 3:11; 2 Tm 1:9) en die grond of toegang tot die verkiesing. 

Die voorneme van sy verkiesing dui op die voorafbepaalde heilsplan in Christus.  Die heilsplan wat Hy van ewigheid af gehad het, het betrekking op Christus se dood, waardeur almal gered kan word.  Dit is die hart van die uitverkiesing.  Dit is die genade en liefde wat God uitstort oor die węreld (Jh 3:16).  Daarin het die wil van die mens geen inspraak nie.  Dit berus volkome by die soewereiniteit en die vrye inisiatief van God.  God hoef dit nie te gedoen het nie.  Dit was egter God se voorneme om mense wat aan Christus se verlossing deel het, te kies en te bestem vir die ewige lewe.  God se uitverkiesing vind dus uitdrukking in die heilsplan in Christus.

Die grond vir die uitverkiesing is die geloof.  Dit is die manier waardeur die mens toegang het tot die verkiesing.  Geloof behaag God (Heb 11:5-6).  So kry ons toegang tot die genade waarin ons nou staan (Rm 5:2).  So raak ons deel van die uitverkore volk van God (Gl 3:7).  Geloof is die wyse waarop mens deel raak van die ewige heilsplan in Christus.

Ef 3:8-12 som dit goed op: Paulus sę aan hom is die genade gegee om die evangelie onder die heidene te verkondig.  Hy noem dit in vers 4 en 9 ‘n verborgenheid.  Dit word saam met die voorneme van God se verkiesing verstaan (1:9,11).  Vers 9: “sodat dit aan almal aan die lig kan bring wat die rentmeesterskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Christus.”  En dit (vers 11-12) “volgens die ewige voorneme wat hy opgevat het in Christus Jesus in wie ons vrymoedigheid het en die toegang het met vertroue deur (op grond van) die geloof in Hom.”

Die probleem met die verstaan van die uitverkiesing ontstaan wanneer dit gesien word as ‘n partikuliere beslissing wat ten opsigte van elke individu gevel word.  In die verlede is dit hoofsaaklik verklaar vanuit twee hoeke:

1.             Die Gereformeerde siening verklaar die uitverkiesing aan die hand van God se soewereine, transendente besluit, wat beide ‘n ewigheids- (universele-) en effektiewe (partikuliere) dimensie bevat.  God se uitverkiesing vind heilshistories plaas en omvat die menslike besluit.

2.             Die Arminiaanse siening verklaar die uitverkiesing aan die hand van God se voorkennis.  God het vooraf geweet wie sou Hom aanneem in die geloof en wie nie.

Beide sieninge bevat myns insiens ‘n gedeelte van die waarheid.  Die probleem met die Gereformeerde siening is egter dat dit nie werklik die menslike vryheid tot sy reg laat kom nie en tog ‘n sekere determinisme veronderstel.  Die probleem met die Arminiaanise verklaring is dat dit grens aan ‘n soort fatalisme.  God weet reeds alles vooraf, en wat moet gebeur, moet gebeur.

Die vraag is of daar hoegenaamd ‘n partikuliere of individuele moment in die uitverkiesing bestaan?

Hoewel daar skrifgedeeltes is wat praat van predestinasie (proorizw = “decide from the beginning”), waarvan die bekendste waarskynlik Ef 1:5-11 is, het dit altyd te doen met die universele voorneme van verkiesing.  Dit praat daarvan dat God van alle ewigheid af die wat gaan deel word van die verlossing in Christus (deur geloof), bestem het om as sy kinders aan te neem.  Dit praat nie van die uitverkiesing van spesifieke individue nie.

In ‘n sekere sin beteken die voorneme van verkiesing dat God van die grondlegging van die węreld af reeds vir die mens gekies het.  Ons keuse tot geloof is ‘n reaksie op God se “ja” in Christus (2 Kor 1:18-20).  Die beslissing van die uitverkiesing is dus reeds gevel.  Dit bestaan daarin dat God prinsipiëel vir die mens in Jesus Christus gekies het.  Daar bestaan nie ‘n tweede moment wat God weer sekeres kies nie.  Hy het klaar gekies in Christus.

Ons is in Christus uitverkies

Christus is die punt waar die uitverkiesing sy finale en beslissende moment bereik.  Dit is waarheen die voorneme van verkiesing heengewys het, en waarin dit volbring is.

Daarom sę Ef 1:4 en 2 Tm 1:9 ons is in Christus uitverkies.  Die wat deur die geloof  deel kry aan Christus is deel van die verkiesing.  Die uitverkiesing het in die eerste plek betrekking op Christus.  1 Pt 1:18-20: “...julle weet dat julle nie uit ververganklike dinge... losgekoop is... nie, maar deur die kosbare bloed van Christus... wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die węreld...”  Hy is die Uitverkorene van God (Jes 42:1).  Mt 25:34 sę: “Dan sal die Koning (Jesus: vgl. vers 31) vir die wat aan sy regterhand is, sę: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die węreld af.”  Ander verse wat hierop dui is Hd 2:23 en 4:28 (vgl. Hd 3:18).

Die heilsgebeure in Christus verteenwoordig die voorneme van God wat van die begin reeds daar was.  Deur die geloof kry ons deel aan Christus (Gl 3:7,16,26-27) en dus deel aan die ewige voorneme (verlossingsplan in Christus) wat God van die begin af gehad het.  God het reeds van die grondlegging van die węreld af geweet van die verlossing wat in Christus sou kom.  Alle dinge het deur Christus ontstaan (Kol 1:15-19). God het dit van die begin af so bestem dat die wat vir God liefhet, gelykvormig sal wees aan die beeld van sy Seun (Rm 8:28-29).  Die manier waarop God vantevore die uitverkiesing in Christus beplan het, is nie op ‘n deterministiese of fatalistiese wyse nie.  Dit was ‘n plan wat God ten alle koste voorgeneem het om uit te voer.  Niks kon Hom stuit nie, want Hy is oormagtig.

Mens sou dus kon sę uitverkiesing is net ‘n ander woord vir evangelie.  Dit onderstreep eintlik die hele evangelie.  Dit onderstreep ook die genade van God: die genadige voorsiening wat God vir die mens maak om gered te word sonder verdienste – nie op grond van goeie werke of herkoms nie; op grond van geloof – daar is geen onderskeid nie.  Niemand word spesiaal bevoordeel nie.  Dit onderstreep die liefde en regverdigheid van God.  Dit is ‘n saak wat vreugde bring (goeie nuus) vir die hele węreld (Jh 3:16).  Dit is nie ‘n obskure element in die teologie wat liewer vermy moet word nie.  In die lig van die soteriologie is die uitverkiesing daarom nie ‘n doel op sigself nie, maar die omskrywing van God se begeerte om met die mens in ‘n persoonlike verhouding te tree.

Die universele aard van die uitverkiesing

Soos reeds gesien, is dit problematies om die uitverkiesing te verstaan aan die hand van ‘n partikuliere beslissing.  Hoewel die uitverkiesing van Israel meer in hierdie rigting verstaan kan word (wat later bespreek sal word), moet hul verkiesing steeds nie deterministies verstaan word nie.

Sommige beweer dat Christus se dood slegs bestem was vir ‘n gepredestineerde groep mense wat hy uitverkies het.  Dit staan bekend as die leer van die limited atonement.  Verdedigers van hierdie standpunt (bv. Owen 1985) wy egter die meeste tyd daaraan om teksgedeeltes wat op die universele redding van die mens dui, weg te verklaar.  Argumente in hierdie verband berus dikwels op aannames en is moeilik versoenbaar met ‘n eg evangeliese boodskap.

Tekste wat op die universele redding van die mens dui is die volgende:

1.     Tekste wat daarop dui dat Christus vir alle mense gesterf het: Jes 40:5; Jh 3:16; Jh 12:32; Tt 2:11; Rm 5:15,18; 14:15; 1 Kor 8:11; 2 Kor 5:15,19; 1 Tm 2:6; 2 Pt 2:1; Heb 2:9; 10:29!; 1 Jh 2:2; Mt 18:14.

2.     Tekste wat daarop dui dat God wil hę dat alle mense gered word: 1 Tm 2:4; 2 Pt 3:9.

Die Bybelse getuienis dat Christus inderdaad vir alle mense gesterf het, is oorweldigend.  God se heilsplan wat daar was van voor die grondlegging van die węreld af bestaan, sluit alle mense in.  Daarom kan alle mense deel in die verlossing in Hom, want God wil hę dat alle mense gered word.  Alle mense verkry egter nie outomaties die ewige lewe nie en deel nie in die lewendmakende krag van sy dood en opstanding nie, want almal kom nie tot geloof in Christus nie, en nie almal word gelykvormig aan sy dood en opstanding nie (Rm 6:5).

Belangrike Skrifgedeeltes

Jos 24:15; 1 Kon 18:21

Die volk moet self kies wie hulle wil dien: Die Here of die Baäl-afgode, want God is ‘n jaloerse God (Jos 24:19).

Jh 1:12

Aan almal wat Jesus aanneem (lambanw), gee God die mag om kinders van Hom te word.  As iemand Jesus Christus aangeneem, skenk God aan hom die wedergeboorte.  God maak hom ‘n nuwe mens.  Die aanneming moet geskei word van die wedergeboorte.  Die aanneming het te doen met die menslike keuse van geloof, terwyl die wedergeboorte te doen het met die hartsveranderende werk van God wat Hy doen op grond van die geloof.

Rm 5:2

Die geloof is die toegang tot die genade waarin ons staan.  Dit is die manier wat God uitgekies het in sy voorneme waardeur die mens deel raak van God se heilsplan.  As die mens glo, raak hy deel van die genade van God in Christus Jesus.

Rm 10:12-13

Die Here is ryk oor elkeen wat sy naam aanroep, want elkeen wat die naam van die Here aanroep sal gered word.  Die redding van die mens kan nie losgemaak word van ‘n bewuste besluit en belydenis om Jesus as die Here van jou lewe te aanvaar nie.

1 Tm 4:10

God is ‘n behouer van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

NKJV: God is the Savior of all men, especially of those who believe.

Dus, die redding is vir alle mense, maar die wat glo, kry deel aan die verlossende genade in Christus.  Ongelowiges deel ook in God se genade (deur die skepping en sy voorsiening deur die natuur), maar nie aan die genade in Christus nie, omdat hulle nie glo nie.

Heb 11:6

Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, want hy wat tot God gaan moet glo.  God se oordeel bring ook die mens se dade binne rekening (Mt 16:27; Jh 8:39; 1 Kor 3:12-15; 2 Kor 5:10; 1 Pet 1:17; Op 22:12), nie as beslissende of finale kriterium vir redding nie, maar as vrug van geloof, anders is geloof dood (Jk 2:20).  God se oordeel behels meer as net dat iemand hemel toe of hel toe gaan.  Dit het ook te doen met loon wat toegereken gaan word op grond van werke.  Die Bybel brei egter nie uit oor hierdie dimensie van God se oordeel nie.

 

Bespreking van spesifieke Skrifgedeeltes

Die vraag wat by die meerderheid van hierdie tekste ter sprake kom, is of die uitverkiesing die vrystaande menslike keuse uitsluit, en of God elke individu se lot vooraf bepaal het.  Ter wille van maklike verwysing word die skrifgedeeltes chronologies behandel.

Ps 37:28 – God bewaar sy gunsgenote

Hierdie gedeelte praat daarvan dat God getrou is teenoor sy “gunsgenote” (KJV: “saints”).  Hy sal hulle bewaar en hulle nooit verlaat nie.  Hierdie “gunsgenote” van God word soos volg gekwalifiseer:

1.     Die wat afwyk van die kwaad en doen wat goed is (vers 27).

2.     Die regverdiges.  Hulle verkondig wysheid en spreek wat reg is.  Die wet van God is in hulle harte (vers 29-31).

3.     Hy wat op die Here wag (vers 34).

4.     Die vrome en opregte, die man van vrede (vers 37).

Ps 51:7; Jr 17:9; Pred 9:3 – Diep gewortelde sonde

Hierdie tekste sę iets oor die diep gewortelde sonde wat in die hart van die mens teenwoordig is.  Die “hart” in hierdie gedeeltes verwys na sy natuur.  Dit is wat wedergebore moet word uit water en Gees (Jh 3:5), want God deursoek die hart en oordeel die mens op grond daarvan (Jr 17:10).  Soos voorheen bespreek, moet die sondige natuur onderskei word van die wil van die mens.

Ps 139:2-4 – U verstaan van ver my gedagte

Dit praat van God se alwetendheid, en veral die feit dat Hy die mens se gedagtes ken.  God se “verstaan” is hier nie ‘n voorkennis nie, maar die vermoë van God om jou gedagtes te “lees” van ‘n afstand.  Niks is vir Hom verborge nie (vers 7).  Die 1983 Vertaling van vers 2 is daarom nie korrek nie (“U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom”).  Hy “deurvors” (omsluit / omring – Statevertaling) jou “gaan” (jou weg / reis) en jou “lę” (vers 3); hy bepaal dit nie (1983 vertaling); Hy is wel goed daarmee bekend.  God ken jou gedagtes so goed dat hy weet wat jy gaan sę, nog voordat daar ‘n woord op jou tong is (vers 4).  Dit is net ‘n ander manier om te sę dat God jou gedagtes ken.  God ken dus nie jou gedagtes omdat hy voorkennis het daarvan nie, maar omdat hy alwetend en alomteenwoordig is, en mense se gedagtes kan “lees.”

Ps 139:16 – Dae dat alles bepaal was

Die 1933 vertaling lui: “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”  By die KJV val die “dae” weg: “…in thy book all my members were written, which in continuance were fashioned, when as yet there was none of them.” 

In die boek van die lewe is al my ongevormde liggaamsdele (ongevormde klomp) opgeskryf.  Dit praat van God se alwetendheid.  God ken die mens deurgrondelik (vers 1).  Hy verstaan jou en deurvors jou.  Hy is bekend met al jou weë (vers 3).  God was teenwoordig by die vorming van die mens se ingewande (vers 13).  Vers 15 praat ook van die feit dat God kennis gehad het van die mens se vorming, en dat hy daadwerklik daarby betrokke was.  Die frase “in u boek is hulle almal opgeskrywe” (vers 16) sę hoe goed God jou ken en hoe Hy alles van jou af weet, tot in die fynste besonderhede, reeds tydens die vroegste stadium van jou vorming.  Dit praat nie van ‘n stadium voor jy bestaan het nie, maar ‘n moment ten tyde van jou vorming: “Thine eyes did see my substance, yet being unperfect” (KJV).  Die “dae dat alles bepaal was” kan verwarrend wees.  Dit praat nie van dae wat sal volg nie (wat die 1983 vertaling verkeerdelik vertaal met: “al my lewensdae is in U boek opgeskrywe”), maar praat van die dae toe God die mens gevorm het en bepaal het hoe sy gebeente of liggaam moet lyk (sien ook die Statevertaling). Die frase “toe nog geeneen van hulle daar was nie” verwys nie na die “dae” nie, maar na die “ongevormde klomp.”  Dit praat steeds van dieselfde moment of die “dae” toe God die mens gevorm het.  Die KJV vertaal letterlik in voortsetting / voortduring is hulle (my liggaamsdele) gevorm.

Geparafraseerd sou vers 16 soos volg vertaal kon word:

U oë het die substansie van my ongevormde liggaamsdele gesien en dit alles in U boek opgeskryf, in dae waartydens U bepaal het hoe ek moet lyk en hoe ek moet wees, toe nog geeneen van my liggaamsdele in hulle finale vorm daar was nie.

Hier is dus nie sprake van deterministiese voorafbepaling nie, maar wel van God se alwentendheid en hoe die vorming van elke mens deel is van sy werking.

Spr 16:4 – Alles is gemaak vir sy doel

Hierdie stelling veronderstel nie ‘n sekere predestinasie of determinisme nie.  Daar word nie gesuggereer dat God alle gebeure veroorsaak nie.  Die mens is vry om die weg te kies wat hy wil (vers 1-3).  Daar is egter sekere gevolge gekoppel aan sekere optredes (vgl. 1933, 1983 Afrikaans, Living).

Vgl. die volgende vertalings:

NIV: “The Lord works out everything for his (referring to everything) own ends.”

NEB: “The Lord has made each thing for its own end.”

Die daaropvolgende verse verduidelik dit.  God koppel sekere bestemmings aan sekere optredes: goddelose vir die dag van onheil (vers 4); hoogmoediges… sal nie ongestraf bly nie (vers 5); deur liefde en trou word die skuld versoen (vers 6), ens.

Jr 1:5 – Ek het jou geken voordat…

“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.”  Dit praat van God se alwetendheid (sien ook Ps 139).  God se “kennis” van Jeremia is in hierdie konteks nie noodwendig “voor-” kennis nie, maar praat van God se kennis van Jeremia tydens sy ongebore staat.  Die “heiliging” van God praat van God se afsondering vir heilige gebruik (sien Barnes [sa]).  Dit was God se plan met Jeremia om hom ‘n profeet vir die nasies te maak (sien Message).  Die feit dat God ‘n plan met iemand se lewe het, en dat Hy iemand afsonder en uitkies vir ‘n sekere doel, beteken nie dat so iemand noodwendig, of sonder enige keuse in daardie plan sal inval nie.  Iemand kan doelbewus teen God se plan met sy lewe kies en sy doel mis!

Jr 20:7 – Jeremia se gebed

“U het my oorgehaal en ek het my laat oorhaal.”  Die 1983 vertaling sę: “U het my mislei en ek het my laat mislei” (sien ook KJV).  Dit is moeilik om uit die konteks vas te stel wat presies Jeremia hiermee bedoel.  In die lig van die daaropvolgende verse blyk dit dat Jeremia baie ongelukkig is met sy omstandighede.  Mense dryf met hom die spot.  Hy redeneer met God daaroor.  Dit lyk of hy dink God het hom mislei, en dat hy ook homself verkwalik dat hy homself laat mislei het.  Hy verkwalik eintlik vir God dat Hy hom nie help nie (sien die Living Bible).  Hier is dus nie sprake van God se “oorhaling” as sou dit deterministies wees nie.  Die uitdrukking “U het my oorgehaal / mislei” is slegs die manier waarop Jeremia probeer om sy klag voor God te verwoord.

Jr 31:18 – Efraim se weeklaag

Efraim se weeklaag tot God word beskryf as met die woorde: “Bekeer my, dan sal ek my bekeer.”  Die NIV en NKJV sę: “Restore me and I will return.”  Die hartsverandering wat God bewerk, hang saam met hulle wil om te verander.  Die bekering is ‘n begeerte wat Efraim uitspreek.

Jr 31:33 – Ek sal vir hulle ‘n God wees

“Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, hulle sal vir My ‘n volk wees.”

Hier word gepraat van die hartsverandering wat God sal meebring.  Dit praat van ‘n nuwe posisie ten opsige van God waarin hulle gestel gaan word.  Dit is ‘n belofte van God op grond van sy nuwe verbond met die mens (vers 31).  In hierdie konteks kom die tweekantige aard van die verbond na vore.  Dit is ‘n ooreenkoms tussen God en mens.  Dit staan ook in verband met die oproep tot die volk (vers 21-22) om terug te keer.  Daar is nęrens ‘n aanduiding dat God die volk tot ‘n sekere toestand predestineer, asof daar geen reaksie van die volk se kant af was nie.  Vers 30 sę dat mense as gevolg van hulle eie ongeregtigheid sal sterwe.

Klg 5:21 (vgl Jr 31:18) – Gebed tot bekering

Hier is weer ‘n gebed tot bekering (soos in Jr 31:18).  Die gebed is ‘n bewuste versoek tot God wat saamhang met die wil om verander te word.  NKJV: “Turn us back to You and we will be restored.”

Mt 6:8 - Jul Vader weet wat julle nodig het

God weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vir Hom vra.  God weet dit, want Hy ken ons so goed.  Hy ken ons gedagtes (Ps 139), en ons hele menswees.  Daarom ken hy ons behoeftes ook.  Dit praat nie van God se “voor-” kennis nie, maar van God se alwetende kennis.

Mt 11:27 – Elkeen aan wie die Seun dit (Hom) wil openbaar

Niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.  Vergelyk hierdie gedeelte met die verklaring van Jh 5:21.  Net soos by Jh 5:21 word hier nie pertinent gesę aan wie die Seun Hom wil openbaar nie.  Dit stel slegs die feit dat die Seun ‘n sekere wil het.  Die vraag kan nou gevra word: aan wie wil die Seun Hom openbaar?  Hierdie vraag word in ‘n sekere sin beantwoord in die volgende vers (vers 28-29): die wat na Jesus kom en die wat Jesus se juk opneem en van Hom leer.  Hier is geen aanduiding dat die wil van die Seun partikulier van aard is, asof dit slegs op gepredestineerde individue dui nie.

Mt 13:11 – Dit is nie aan hulle gegee nie

Dieselfde gebeure kom ter sprake in Jh 12:39.  Sien dus die eksegese van Jh 12:39 vir die verklaring hiervan.

Jh 5:21 – Die Seun maak lewend wie Hy wil

“Die Seun maak lewend wie hy wil” staan in verband met vers 22: “Die Vader het die hele oordeel aan die Seun gegee.” (sien ook vers 27).  Die Seun kies die wat hy wil lewend maak.  Hy gebruik sy eie oordeel.  Dit sę egter nie dat daar geen grond vir verkiesing is, of dat die verkiesing lukraak plaasvind nie.  Maar op grond waarvan kies Hy wie hy wil lewend maak en wie wil Hy lewend maak?  Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (vers 24).  Die wil van die Seun staan dus in noue verband met die oproep tot geloof – en die oproep tot geloof is altyd ‘n ope oproep.

Die verklaring van Jh 6:38-40 gee ‘n duideliker uiteensetting van die wil van die Seun.  Die wil van die Seun is nie om sy eie wil te doen nie, maar die wil van sy Vader.  Vers 40: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo die ewige lewe mag hę.”

Jh 6:29,37,44 (sien ook 6:65) – Die wat van die Vader leer

In vers 28 vra die dissipels: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?  Die 1983 vertaling vertaal vers 29: “wat God van julle verlang is dat julle in Hom moet glo.”  Dit is “die werk van God” wat hulle moet volbring.  Dit is die brood (vers 26,32-35,41,48-51) wat hulle moet eet.  Dit vorm  die agtergrond waarteen die perikoop verstaan moet word. 

Wie kom na Jesus toe?

1.     Almal wat die Vader Hom gee (vers 37).

2.     Almal wie die Vader trek (vers 44).

3.     Elkeen wat van die Vader gehoor en geleer het (vers 45).

Hierdie drie maniere om na Jesus te kom, is verskillende kante van dieselfde munt.  Dit word nie teenoor mekaar gestel nie, maar belig dieselfde saak vanuit verskillende hoeke.

Die woord “trek” kan ook vertaal word met “aantrek” (attract). (Vgl Baur 1957; en die UBS-woordeboekie: Newman 1971).

Wie trek die Vader?  Hulle sal almal deur God geleer wees (vers 45).  God trek die mense aan deur wat hy leer (teach) deur die dood van sy Seun.

Die leer van die Vader en die aantrek van die Vader is dieselfde.  Daarom word almal na Jesus getrek met sy verhoging aan die kruis volgens 12:32.

Wat leer die Vader?  “julle sal weet dat dit Ek is... en dit wat ek van my Vader geleer het, dit spreek ek.” (8:28).  Jesus sę dit in verband met sy verhoging aan die kruis.  Dit is die waarheid wat ons sal vrymaak (8:32).

Dit is belangrik om te onderskei tussen twee verskillende betekenisse van “leer”:

1.     Om iemand te leer; Engels: teach (didaskw)

2.     Om self te leer; Engels: learn (manqanw)

Daarom word vers 45 in Engels soos volg vertaal (NKJV): “'And they shall all be taught by God.'  Therefore everyone who has heard and learned from the Father comes to Me.”

Alle mense sal deur God geleer (taught) of getrek wees, maar nie almal sal leer (learn) nie.  Om te leer (learn) is net ‘n ander manier om te sę “om te glo” (vers 29,30,35,36,40,47,64).  Net hulle wat gehoor en geleer het (learned) kom na Jesus toe. 

Die teks sę dat Jesus almal sal opwek wat die Vader Hom gee (6:39,65).  Wie is die wat Hy gaan opwek?  Uit die konteks is dit duidelik: dit is diegene wat geleer of getrek is deur die Vader en leer, met ander woorde, die wat ook glo.

Opsomming

1.     Almal word getrek en almal word geleer (taught), maar nie almal leer (learn) nie – net die wat glo, leer (learn).

2.     Tog kan niemand na Jesus kom as die Vader hom nie leer of trek nie.

3.     Net die wat leer, gee die Vader aan Jesus.  Dit is hulle wat glo.

Jh 6:65 – Niemand kom na My as dit nie deur die Vader gegee is nie

Didwmi (gee) kan in hierdie gedeelte het die volgende vertalingsmoontlikhede:

1.     Granted to him: RSV, NKJV, NEB

2.     Given to him: KJV

3.     Enable him to: NIV

4.     Attract him: Linving

5.     Makes it possible: Good News

Ongeag watter vertaling verkies word, verwys hierdie vers terug na verse 37,44-45.  Deurdat God alle mense leer, en sy verlossing aan alle mense aanbied, stel hy almal in staat en leer (teach) hy almal aangaande die verlossing, hoewel nie almal gaan leer (learn) nie.  Tog kan niemand na die Vader kom as die lewe nie as ‘n geskenk (as brood vir almal) aan almal gegee is nie.  Dit kan slegs deur die geloof aanvaar word (vers 29,30,35,36,40,47,64).

Dit wat die Vader gee, verwys uiteindelik na Christus self (vers 69).  Net so dui die “trek” van die Vader (6:44) ook na die evangelie van sy Seun (6:40).

Jh 8:43,47 – Hulle kan nie na sy woord luister nie

Diegene wat na Jesus luister, ken nie sy spraak nie, want hulle kan nie na sy woord luister nie (vers 43).  Hulle onvermoë om te luister is omdat hulle die duiwel het as hulle vader en sy begeertes wil doen (vers 44).  Dit is ook omdat hulle nie glo nie (vers 45-46).  Hulle is nie uit God nie (vers 47).  Wie is wel uit God?  Die teendeel daarvan, die wat glo.  Jesus stel hier ‘n algemeen geldende feit.  Iemand wat die duiwel as vader het, luister nie na die waarheid nie, en die wat uit God is, met ander woorde die wat glo, luister wel na sy woorde.

Die frase: “ek qeou” (uit God) word nie in die teks verder verduidelik nie.  Dit verwys slegs na diegene wat glo teenoor diegene wat nie glo nie.  Dit verwys waarskynlik na die geboorte uit God (vgl. Jh 1:13; 3:5,8 en ook 1 Jh 3:9; 4:7; 5:1,4,18).  Daar is dus niks in die teks wat dui op predestinasie of ‘n sekere voorafbepaling van die wat “uit God” is en die wat nie “uit God” is nie.

Jesus praat hier met Israel (vers 52).  Die ongeloof van Israel kan beter verstaan word in die lig van Jh 12:39 (kyk bespreking).

Jh 10:25-27 – Julle is nie van my skape nie

Ons het hier te doen met die ongeloof van Israel.  Daarom moet dit in verband gelees word met die verduideliking van Jh 12:39.  Maar in hierdie gedeelte word die ongeloof gesien as die skuld van Israel self.  Vers 25 sę “ek het dit vir julle gesę en julle glo nie.”  Vers 26 dui hier nie op die predestinering van die ongeloof nie, maar op die feit dat die ongeloof ‘n eienskap of ‘n kenmerk is van hulle wat nie Jesus se skape is nie.  In vers 27 sę Hy dat sy skape luister na sy stem, word geken deur Jesus en volg Hom.  Implisiet sę Jesus dus dat die Jode nie luister nie, nie deur Jesus geken word nie en Hom nie volg nie.  Dit sę nie dat Jesus vooraf gekies het dat hulle nie sy skape moet wees nie, maar bloot dat hulle nie sy skape is nie, en dat hulle nie luister na sy stem nie ens.  Nou kan die vraag gevra word: waarom is hulle nie sy skape nie en waarom luister en volg hulle nie?  Die gedeelte sę nie spesifiek nie.  Al wat uit hierdie teks afgelei kan word, is hierdie gegewe kenmerke van die ongelowige Jode.  Die terme “nie glo nie,” “nie my skape nie,” “nie luister nie,” “nie ken nie” en “nie volg nie” is dus eintlik sinonieme terme.  Die een sę dieselfde as die ander, net op ‘n ander manier. 

Die gedeelte sę dus niks oor die rede of die grond waarom sommige sy skape is, en ander dit nie is nie.

Jh 10:28-29 – Niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie

Vir die verklaring van vers 29a, sien die verklaring van Jh 6:37.

Die vraag is of vers 28 en 29b sę dat ‘n Christen nie uit die koninkryk van God kan val nie.  Vers 28a sę dat Jesus sy kinders die ewige lewe gee, en net daarna dat hulle nooit verlore sal gaan tot in ewigheid nie.  Dit is eintlik ‘n logiese keersy van die feit dat iemand wat die ewige lewe het, nie verlore sal gaan nie (Vgl Jh 3:16).  Die gedeeltes oor die “ruk uit die Vader se hand” sę ook dieselfde, en is semanties parallel hieraan.  Dus, iemand wat die ewige lewe beërf, gaan nie verlore nie, en word nie uit die hand van die Vader geruk nie.  Geen eksterne persoon of party, selfs nie die duiwel, kan die ewige lewe van jou wegvat nie.  Maar kan jy jouself daarvan beroof?

Hoe weet mens jy het die ewige lewe, of te wel, hoe weet jy Jesus het aan iemand die ewige lewe gegee?  Hoe erg dit ook al klink, dit is nie te sę dat iemand wat glo, noodwendig die ewige lewe gaan beërwe nie, maar net iemand wat volhard in die geloof!  Volgens Du Toit (1991:327-340) bestaan daar juis in Johannes verskillende vlakke of dieptes van geloof.  Nie alle geloof is geloof in Jesus as persoonlike verlosser nie.  Vergelyk die gelykenis van die saaier waar van die saad op die rots en die doringrige grond geval het.  Sien ook Heb 6:4-6; 10:26-29, waar daar wel ‘n reële moontlikheid is om uit die koninkryk van God te val (elders meer breedvorig bespreek).

Dit sę egter nie dat ‘n gelowige nie seker kan wees van die ewige lewe nie.  Maar geloofsekerheid hou verband met die mate waarin jy glo dat jou verlossing nie van jouself en jou eie prestasie afhang nie, maar van Christus se verdienste aan die kruis, en van die mate waarin jy jouself aan Hom persoonlik toevertrou (Vgl. bv 1 Jh 5:13 “dit het ek aan julle geskrywe wat glo... sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het”).  Daarom is geloof nie ‘n kragtoer nie, maar ‘n wete dat God die verhouding tussen Hom en jou kom herstel het, en dat niemand anders daardie verhouding kan verbreek nie.

Jh 12:39 en Rm 11 – Israel wat nie kon glo nie

Hierdie mense kon inderdaad nie glo nie.  Hoekom nie?  Sodat die woord van Jesaja vervul kon word.  Die woorde van Jesaja (Jes 6:9-10) is in die vorm van ‘n gebed.  Jesaja bid ‘n spesifieke gebed: dat God hierdie volk se hart sal vet maak, hulle ore swaar, hulle oë toe, en dat hul hart nie sal verstaan nie.  Jh 12:39 is niks anders as die verhoring van ‘n gebed nie.  God is hier net getrou aan Homself.  Daarom het hierdie onvermoë om te glo, spesifiek betrekking op hierdie volk – Israel.  Dit is spesifiek deel van die plan van verlossing.  God het nie sonder meer mense uitgekies vir die oordeel nie, maar het Israel se harte verhard sodat die nasies kan glo (Rm 11:11,30).  En tog is dit nie of Israel totaal en al marionette in hierdie gebeurtenis was nie, want daar het selfs van die owerstes geglo, maar dit nie bely nie (Jh 12:42-43).  Volgens Paulus het net sommige van Israel nie geglo nie (sommige van die takke is afgebreek: Rm 11:17).  Paulus was in elk geval ook ‘n Israeliet, en het geglo.

Die ongeloof van Israel het gekom om versoening te bring aan die heidene.  Hulle verwerping was die versoening van die węreld (Rm 11:15).  Die ongelowige Israel was soos takke wat afgebreek is om plek te maak vir die wilde takke (heidene) wat teen die mak olyfboom ingeënt is (vers 19,24).  Daarom staan die heidene in die geloof, en het niks om op te roem nie (vers 20).

Die vraag kan nou gevra word of Israel weens hulle ongeloof nou geen kans meer op redding het nie?  Nee, hulle het nie gestruikel om te val nie, maar om Israel jaloers te maak (Rm 11:11).  Maar is God dan onregverdig as hy sommige van Israel nie ‘n kans gee om te glo nie?  Paulus het met hierdie selfde vraag geworstel (Rm 11:1-32).  Daarom haal hy ook Jesaja 6:9-10 aan (Rm 11:8).  Die rede hoekom God hulle harte verhard het, is omdat hulle ongehoorsaam was (Rm 11:20,30) en ontrou was aan God in die Woestyn.  Hulle is nie tot ongeloof gepredestineer nie, maar hulle het agter ander gode aangeloop.  Maar nou kan mens steeds die vraag vra: Is dit nie onregverdig dat God die Jode verblind as baie van hulle dalk nie eers deel gehad het aan die Woestyngebeure nie?  Gee God hulle nie ‘n regverdige kans om te glo nie?  God doen dit tog, want Paulus sę in Rm 11:22: “Let op die goedertierenheid en gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.”  Hier wys hy op die regverdigheid van God.  In vers 23 sę hy die Israeliete sal weer ingeënt word as hulle nie in die ongeloof bly nie (as hulle in Jesus glo; vgl. Jh 15).  Hoe so?  “Want die verharding ten dele oor Israel het gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het en so sal die hele Israel gered word” (Rm 11:25-26; Vgl. ook Lk 21:24).

Paulus noem hierdie waarheid ‘n verborgenheid (Rm 11:25).  Dit is nie iets wat tot die letter uitgewerk kan word nie.  Ons kan dit gerus oorlaat aan God se regverdigheid.  God se weë is groter as ons weë, en onnaspeurlik (Rm 11:33-36).

Dit maak egter geen verskil aan die posisie van die heidene ten opsigte van die geloof nie.

Jh 14:17 – Die węreld kan nie die Gees van die waarheid ontvang nie

Waarom kan die węreld die Gees van die waarheid nie ontvang nie?  Omdat hulle die Gees nie sien nie, en Hom nie ken nie.  Hier word nie ‘n fisiese “sien” bedoel nie, maar ‘n geestelike “sien,” wat eintlik ‘n uitbreiding is tot “ken.”  Die evangelie is wel vir die węreld bedoel (Jh 3:16), maar hoekom ken en sien hulle nie die Gees nie?

Nie omdat hulle daartoe gepredestineer is nie, maar:

1.     Omdat hulle nie glo nie (vers 1, 10,11,12. Vgl. ook vers 9 in konteks met 10-12).

2.     Omdat hulle Hom nie liefhet en nie sy gebooie bewaar nie (vers 15).

Jh 15:16 – Ek het julle uitverkies om vrug te dra

In die Joodse gemeenskap was dit die gebruik om jou eie leermeester te kies.  Jesus sę vir sy dissipels dat hulle Hom nie as hulle leermeester gekies het nie.  Die feit dat Jesus hulle gekies het, wys op sy motief van suiwer liefde, sonder enige belang aan hulle kant.  Hy het hulle aangetel en uitgekies vir ‘n spesifieke taak, en dit is om vrug te dra.  Die uitverkorenes het die keuse om beskikbaar te wees vir seleksie en diens (sien Culpepper 1988:1346).  Wat is in hierdie konteks die grond vir verkiesing?

1.     Die wat in Hom bly (vers 7).  Met ander woorde, die wat in Jesus is – die wat glo in Jesus en hulleself met Hom vereenselwig.

2.     Die wat sy gebooie bewaar (vers 10), naamlik om ander lief te hę (vers 12,17).

Hd 13:48 – Almal wat verordineer/bestem is tot die ewige lewe

“Daar het gelowig geword almal wat verordineer / bestem is tot die ewige lewe.”  Die relevante woord ten opsigte van die interpretasie van hierdie vers is tetagmenoi (van tassw).

Betekenismoontlikhede

1.     UBS Mini Lexicon (Newman 1971) gee die moontlikhede: appoint, set aside, command.

2.     Die Analitiese Lexicon (Bagster:1794) gee die moontlikhede: arrange, appoint, assign.

3.     Louw en Nida (1988) plaas dit in die semantiese veld van assign.

4.     Baur (1957) vertaal spesifiek Hd 13:48 met belong to, be classed among those possessing.

Vertalings

1.     verordineer: KJV, MKJV, 1933 Afrikaans

2.     appointed: Amplified, NKJV, NIV

3.     those who were marked out: NEB

4.     bestem is vir: 1983 Afrikaans

Interpretasie

Marshall (1980) sę daar is basies 3 interpretasies op hierdie gedeelte:

1.     Die geloof word deur predestinasie voorafgegaan.

2.     Mense het reeds hul vertroue in God gestel voordat hulle geglo het.

3.     Hier is spesifiek die heidene ook so bevoorreg om gereken te word onder die wat deel kan raak van die uitverkorenes.

Bruce (1990) sę tassw beteken klaarblyklik “enrolled” of “inscribed.”  Hy sę: “These showed by their faith that they had been so enrolled.”

In die woord tassw is daar geen inherente beduidenis op predestinasie of uitverkiesing nie, maar eerder dat hierdie mense ook deel het aan die ewige lewe.  Hulle tel ook onder die wat die ewige lewe het.  Hulle het ook die reg verkry (assign) om die ewige lewe te hę, of die ewige lewe is ook vir hulle bestem.  Dit maak egter nie saak watter vertaling gekies word nie, interpretasie 1 bly problematies.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat osoiaiwnion (“almal wat tel onder die wat die ewige lewe het”) nie ‘n voorwaarde is vir episteusan (“daar het gelowig geword”), of dit in tyd voorafgaan nie, maar eerder iets wat die episteusan verder uitbrei of klassifiseer.

Uit die konteks blyk dit dat dit hier gaan oor heidene wat tot bekering kom (sien vers 42,46).

Dit speel af teen die agtergrond van heidene wat die evangelie aanvaar het, teenoor Jode wat dit verwerp (vers 46) het.  Die punt wat die skrywer dus met die uitbreiding osoiaiwnion wil maak, is dat die heidene ook deel kan kry aan die uitverkiesing (vers 17).  Dit gaan nie hier om spesifieke individue wat vooraf bestem is om gelowig te word nie, maar oor die voorneme van God om gelowige heidene ook te bestem vir die ewige lewe.

Dit kan soos volg omskryf word:

Hulle het gelowig geword.  Hulle wat gelowig geword het, is ook bestem om die ewige lewe te kry op grond van hulle geloof, want heidene is ook bestem vir die ewige lewe.

Hierdie interpretasie word ook uit die konteks ondersteun:

1.     Vers 39 sę dat elkeen wat glo deur Christus geregverdig word.  Hier is die geloof die voorwaarde vir regverdiging, nie predestinasie nie.

2.     Die Jode se verwerping (vers 46) word gestel teenoor die geloof (aanvaarding) van die heidene.  Geloof is bepalend vir verwerping of aanvaarding, nie predestinasie nie.

3.     Die redding tot die nasies wat in vers 47 ter sprake kom, sę nie dat spesifieke individue gered gaan word op grond van predestinasie nie, maar dat die redding beskikbaar is vir alle mense.

Hd 15:7 – God het lank gelede verkies dat die Heidene hoor

God het lank gelede verkies het dat die Heidene deur Paulus se mond die woord van die evangelie hoor en gelowig word.  Dit onderstreep dieselfde beginsel wat in Hd 13:48 bespreek is.  Dit gaan hier nie oor die voorafbepaling van ‘n sekere spesifieke gebeurtenis, of die vooraf-bestemming van spesifieke individue nie, maar oor die plan en voorneme van God om heidene ook te kies wat die evangelie glo, nadat dit aan hulle verkondig is.  Hy het lank vooraf besluit en beskik dat die evangelie aan al die nasies beskikbaar gaan wees, want so lief het God die węreld gehad, dat hy sy enigste seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hę (Jh 3:16).  Dit is sy ewige voorneme.  Dit is die uitverkiesing.  Dit is die hart van die evangelie.

Hd 15:18 – Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend

In meeste grondtekste kom “aan God is al sy werke” nie voor nie.  Baie vertalings vertaal slegs: “Dit is van ewigheid af bekend.”  Indien “aan God is al sy werke” wel as deel van die teks beskou word, sou dit steeds nie ‘n sekere fatalisme impliseer nie.  Dit praat eerder van die feit dat God lankal geweet het wat hy gaan doen in die laaste tyd.  Sy voorneme en beloftes staan vas.  Niemand of niks sal God kan keer om sy werke, wat Hy lank voorheen al beplan het, te volbring nie. 

Rm 3:10-23 – Niemand soek God nie

Geen sondaar soek God nie (Rm 3:10).  Geen sondaar gaan haal God of kom uit sy eie by God uit nie.  God neem die inisiatief.  God kom na die mens toe.  Hy openbaar homself deur sy seun Jesus Christus aan die mens.  As die Gees van God die mens oortuig van geregtigheid, sonde en oordeel (Jh 16:8), kan hy die verlossing wat God vir hom bewerk het, aanneem.  Maar wie oortuig die Gees van geregtigheid, sonde en oordeel?  Die węreld (Jh 16:8), dit wil sę alle mense.  Daarom is die evangelie ‘n blye boodskap wat vir die hele volk is (Lk 2:10).

Soos vroeër bespreek, lę die probleem van verdorwenheid nie by die mens se wil nie, maar by sy natuur.  ‘n Ongelowige kan ook die goeie wil doen, maar hy kan dit nie ten uitvoer bring nie, want sy sondige natuur diskwalifiseer enige goeie pogings om werklik goed te doen of sy redding te verwerf (Rm 7:15).  Vers 18 sę ook: “Om te wil is by my aanwesig, maar om goed te doen vind ek nie.”  Om die verlossing deur ‘n wilskeuse te aanvaar is nie om iets goeds te doen of om ‘n goeie werk te verrig nie, dit is juis om te erken dat jy niks kan doen om gered te word nie, en dat jy slegs die verlossing wat Christus bewerk het, kan aanvaar.  Dit is geloof.  Met ander woorde, ‘n sondaar soek nie God nie, maar hy kan God se verlossing deur die geloof aanvaar nadat God na hom toe afgebuig het.  Interessant genoeg, noem die Hebriërskrywer geloof wel ‘n manier waarop God gesoek word (Heb 11:6).

Rm 3:24 – Regverdiging sonder verdienste

Die weg waarlangs mens gered word sonder verdienste, is die van geloof.  Die feit dat mens deur geloof kan deel hę aan die verlossing, is juis God se genade.  Geloof op sigself (m.a.w. sonder dat God dit eers hoef in te gee) staan teenoor verdienste (sien aard van geloof).

Rm 8:8 – Die wat in die vlees is kan God nie behaag nie

Die konteks van Rm 8 maak dit duidelik dat dit hier gaan om mense wat lewe of wandel deur die Gees of die vlees (vers 4).  Vergelyk die volgende vertalings :

1.     “... those who are living in the life of the flesh” (Amplified).

2.     “... those controlled by the sinful nature” (NIV).

3.     “... those who live under its control” (NEB).

4.     “... those who are still under control of their old sinful selves” (Living).

5.     “... those who obey their human nature” (Good News).

6.     “Die wat hulle deur die sondige natuur laat beheers” (1983 Afrikaans).

Dit gaan dus om sondaars wat nog nie tot bekering gekom het nie, mense wat willens en wetens kies daarvoor om in die vlees te lewe.  Dit staan teenoor vers 9 wat sę: “julle is egter nie in die vlees nie.”  Hier onderskei Paulus tussen die twee tipes mense of twee bestaanswyses: die wat in die vlees is (ongeredde sondaars), en die wat in die Gees is (geregverdigdes).

Omdat iemand wat nog in die vlees is, God nie kan behaag nie, is dit eers nodig dat die vlees afgelę moet word in Christus (Kol 2:11).

Hier word egter nie gesę dat ‘n sondaar nie kan glo nie, inteendeel, net sondaars kan glo tot redding (Rm 3:21-24), daar is geen onderskeid nie.  Daarom is dit onmoontlik om God te behaag sonder geloof (Heb 11:5-6).

Rm 8:29-30 – Die wat Hy vantevore verordineer het

Hierdie teksgedeelte moet verstaan word teen die agtergrond van vers 28 wat sę dat alles ten goede meewerk vir hulle wat vir God liefhet (qeon is die voorwerp) – “vir hulle wat volgens sy plan geroep is” (die roeping word in vers 30 verder verduidelik).  Dit dui hier op die mense wat deel word van God se plan of voorneme deurdat hulle vir God liefhet.  God het van die begin af die voorneme gehad dat alles (“alles” dui op vers 29-30: die roeping, verheerliking ens.) ten goede sal meewerk vir hulle wat Hom liefhet. 

Vers 29 kan vertaal word met “die waarvan Hy voorheen geweet het...” (proginwskw: Vgl. NKJV en NIV).  Hierdie voorkennis dui nie op name van spesifieke individue nie, maar op diegene wat inpas in sy plan / voorneme – die wat deel kry aan die plan waarvoor hy van die grondlegging van die węreld af voorsiening gemaak het (in Jesus) – die wat vir God liefhet (vers 28).  Hy het dit so besluit dat hierdie mense ook gelykvormig sal wees aan die beeld van sy seun.  Vers 30: In God se plan het Hy besluit dat hierdie mense (wat Hom sou liefhę) deel sal kry aan God se roeping, regverdiging en verheerliking. Hier is wel sprake van voorkennis, maar dan as voorafbepaalde bestemming in die algemeen, vir die wat deel raak aan die plan waarvoor God in Christus voorsiening gemaak het.  Dit gaan in die gedeelte by uitstek oor die inhoud van die voorneme in Christus.  Anders gestel, die wat deel kry aan die plan waarvoor God van voor die grondlegging van die węreld af voorsiening gemaak het, deurdat hulle God liefhet, sal ook deel hę aan die hele “geskenkpakkie”: die roeping, regverdiging en verheerliking.

Op ander plekke in die Nuwe Testament impliseer roeping nie noodwendig uitverkiesing nie.  Volgens Mt 22:14 is baie geroep, maar nie almal is uitverkies nie (Vgl. ook die “leer” (“teach”) van die Vader in die bespreking van Jh 6:45), maar uitverkiesing veronderstel wel roeping.

Rm 9 – God se soewereine plan om Heidene ook te kies

In Rm 9 is die Israeliete ongelukkig dat die heidene ook nou deel kan kry aan die verbonde (vers 4).  Dit lę vir Paulus na aan die hart dat hulle so voel, en hy is bedroef daaroor, want hy is ook ‘n gebore Israeliet (9:2-3).  Hy sę egter dit is nie asof die Woord van God verval het nie (9:6), en hy wys daarop dat hulle wat kinders is van die belofte, gereken word as kinders van God (:8).  “Kinders van die belofte” word in 4:16 omskryf: “Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal.”  Daarom is nie almal Israel wat uit Israel is nie, maar hulle wat kinders is van die belofte (9:6-8).  Die Living Bible vertaal 9:8 met “those who believe the promise of salvation.”  Dus, slegs die wat glo is deel van die belofte, of jy nou fisies ‘n Israeliet is of nie (vgl. ook 9:28, 32, 33).  Dit gaan dus nie oor die uitverkiesing van spesifieke individue nie, maar oor die verkiesing van almal wat glo, Jood of nie-Jood. 

Dit gaan in Rm 9 oor die voorneme van God (9:11).  Dit gaan oor die wat hy roep (9:11).  En wat is sy voorneme?  Wie roep hy?  In vers 24 sę Paulus God roep uit die heidene sowel as die Jode.  Die Jode kan nie verstaan dat die heidene wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, dit nou verniet ontvang nie (slegs deur te glo: 9:30).  Hulle dink dit is onregverdig dat God heidene ook in sy voorneme toegelaat het, en wil selfs met God daaroor twis.  Dan sę Paulus dat God soewerein is in sy handelinge.  Hy kan besluit hoe hy mense wil verlos.  Die voorneme van God hang nie af van die een wat wil of die een wat loop nie, maar van God se barmhartigheid.  Wie is die mens wat God se voorneme wil bevraagteken, hoe kan Israel vir God sę: “hoekom het U my so gemaak?” (9:20).

Die vraag wat in Rm 9:19 gevra word, is 'n vraag wat Paulus antisipeer: "Waarom verwyt Hy dan nog (vind Hy dan nog fout)?  Want wie het sy wil weerstaan?"  Die vraag wat Paulus vra kan soos volg geparafraseer word: Waarom vind God nog fout met die Jode nadat Hy hulle harte verhard het met die oog daarop om redding aan die nie-Jode ook te bring (vgl. Vers 30), want niemand kon in elk geval nog ooit daarin slaag om God te verhinder om sy wil en bedoeling uit te voer nie?  Paulus redeneer dat dit eintlik 'n ontoepaslike vraag is, want God het hulle nie daadwerklik geblameer nie, want Hy moes na regte sy toorn en sy krag aan hulle bekend maak, maar Hy het nie.  Hy het hulle met baie geduld verdra wat eintlik die blaam en die hel uit die staanspoor verdien het (vers 22).  Hierdeur het God nie effektief blaam toegevoeg nie, maar Hy het die rykdom van sy heerlikheid bekend gemaak aan die werktuie van genade wat hy voorberei het vir sy heerlikheid (vers 23).  Dit is daarom 'n parafrase vir die evanglie waar sy genade getoon word.  En tot wie het God se genade gekom?  Mense van alle nasies – Jode ingesluit (vers 24).  In die Nuwe Testament, verkry alle mense daarom die geregtigheid deur die geloof (vers 30).

Die volgende kan dus uit Rm 9:19 afgelei word:

  1. Die vraag wat Paulus aanspreek is nie 'n vraag wat onderliggend is aan God se werking nie, maar 'n vraag wat hy vanuit sy gehoor antisipeer.

2.     Paulus toon aan dat hierdie vraag eintlik 'n ontoepaslike vraag is en dat die teenoorgestelde waar is.

3.     Paulus wil daarom nie die idee behou dat God steeds mense verwyt nadat Hy hulle vooraf gekies het nie.

4.     Die blaam was op die Isrealiete voordat Hy besluit het om hulle harte te verhard met die oog op die evangelie.  Die verharding van hulle harte was daarom nie 'n verandering in hulle destinasie nie, maar God het hulle gebruik in sy plan om redding tot die nasies te bring, selfs al was hulle reeds oppad hel toe.

5.     Die verharding van hulle harte is nie gelyk aan ewige veroordeling nie, maar dit dien 'n groter doel: naamlik om die verlossing na al die nasies te bring.

Dit gaan dus in Rm 9 oor die uitverkiesing as verkiesing wat heidene ook insluit, nie oor partikuliere verkiesing nie.  Die verkiesing is nie op grond van sekere dinge wat in jou guns tel nie (soos dat jy ‘n fisiese afstammeling van Abraham is nie), maar op grond van iets onverdienstelik, naamlik geloof.

Oor die vraag: hoekom verhard God die harte van die Israeliete (vers 18), kyk na die bespreking van Jh 12:39 en Rm 11.

Rm 11 – Die toekoms van Israel

Sien die bespreking van Jh 12:39.

2 Kor 3:5 – Ons is nie uit onsself bekwaam nie

Ons is nie uit onsself bekwaam om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God.  Die klem lę hier op die “as uit onsself” en nie op die “bedink” nie.  Vergelyk die Engelse Vertalings:

Bv. die NIV: “Not that we are competent in ourselves to claim anything for ourselves, but our competence comes from God”

Ons kan nie dink dat ons self oor die vermoë beskik om bedienaars te wees van die nuwe testament nie.  Dit gaan hier oor die bekwaammaking van die Gees.  Sy Gees gee ons die vermoë om bedienaars van die nuwe testament te wees (vers 6).  Die nuwe bedeling van die Gees, sowel as die vermoë om daarin te wandel, kom van God.  Dit gaan nie hier om die verlossingswerk van die Gees nie, maar oor die bystand en bekragtiging van die Gees met die oog op hierdie bediening.  Die mense in Korinthe het te veel op hulle eie vermoëns staat gemaak, en word daarom ook teen aanbevelingsbriewe gemaan (vers 1).

2 Kor 4:4 – Die sinne is verblind

Die bedekking van die evangelie vir die wat verlore gaan, hang saam met 3:15.  Die god van hierdie węreld het die ongelowiges se sinne verblind.  Maar wanneer hulle hulleself tot die Here bekeer het (vgl. KJV, NIV ens.), word die bedekking weggeneem (3:16).  Vir wie is die evangelie bedek (4:3)?  In (die harte van) die wat verlore gaan.  Hoekom gaan hulle verlore?  Nie omdat hulle daartoe gepredestineer is nie, maar omdat hulle nie glo nie (vers 4; KJV: “them which believe not”).  Daarom het die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, nie op hulle geskyn nie.  Die bedekking van die evangelie word nie vir spesifieke individue vooraf bepaal nie, maar is die beskrywing van die toestand van die harte van die wat nie glo nie.  Dit is die geval met almal wat nie glo nie.  Hulle harte bly verblind totdat die Heilige Gees die bedekking kom wegneem, nadat hulle Christus in die geloof aangeneem het.  Die proses van oortuiging van die Heilige Gees vind plaas in die harte van die wat nie net geleer is aangaande die goeie nuus nie, maar ook self geleer het, en wat die evangelie ter harte geneem het (vgl. Jh 6:45).  Hulle harte is verlig.  Hulle het die Gees van die geloof, soos geskryf is: “Ek het geglo, daarom het ek gespreek” (vers 13).

2 Kor 5:15 en 2 Tm 2:11 – Almal het gesterf

2 Kor 5:15 sę: "omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is."  Volgens 2 Kor 5:15 het alle mense gesterf omdat Christus vir alle mense gesterf het, maar dit beteken nie noodwendig dat alle mense lewe nie.  "Die wat lewe" moet nie meer vir huleself lewe nie.  Wie kry deel aan die nuwe lewe?  Net die wat "in Christus is," raak nuwe skepsels (2 Kor 5:17).

 

2 Tm 2:11 sę: "Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe."  Hier lyk dit of almal wat saam met Christus gesterf het ook saam met Hom lewe.  2 Tm 2:11 kan nie op dieselfde manier verstaan word as 2 Kor 5:15 nie.  Die verskil tussen hierdie twee gedeeltes is dat 2 Tm daarvan praat dat mense wat met Christus gesterf het ook met Hom sal lewe.  Almal wat volgens 2 Kor 5:15 gesterf het, het dus gesterf maar nie met Christus gesterf op dieselfde manier as in 2 Tm 2:11 nie.

 

Wat beteken dit dat alle mense gesterf het omdat Christus vir alle mense gesterf het?  Dit moet op dieselfde manier verstaan word as ander gedeeltes waar verwys word na alle mense wat dood is in die sonde. 

 

Rm 5:12 "Daarom, soos deur een mens die sonde in die węreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het."

 

Rom 6:23 "Want die loon van die sonde is die dood..."

 

Alle mense wat nie wedergebore word nie en nie in Christus is nie (2 Kor 5:17), is en bly geestelik dood in hulle sonde, want die ewige dood, wat die gevolg is van die sonde, heers oor almal wat nog in die sonde is en bly (vgl. Rm 6:12,14).  Christus se dood spreek ook daarvan dat alle mense die dood verdien.  Christus het vir alle mense gesterf, wat beteken dat God die hele węreld met Homself versoen het in Christus (2 Kor 5:19) en ook potensiëel almal se straf (wat God aan alle mense verskuldig is) op Christus laat neerkom het, sodat elkeen wat hom met God laat versoen (2 Kor 5:20) deur geloof en as gevolg daarvan in Christus is, se straf reeds deur Christus gedra is.  Iemand wat nie Jesus se soenverdienste aan die kruis aanvaar nie en nie in Hom glo nie kan nie deel hę aan God se versoening in Christus nie, en sal wel God se direkte straf ontvang (2 Th 1:9; Heb 10:29). 

 

Hulle wat die Woord in geloof aangeneem het, word wedergebore uit 'n onverganklike saad (1 Pt 1:23) en het in alle opsigte deel aan Christus.  Daarom praat die doop van die gelowige se identifikasie en gelykvormigheid aan Christus se dood en opstanding.  Die gelowige kry in alle opsigte deel aan dit wat Christus verrig het deur sy dood en opstanding.  Deur die gelowige se verbondenheid met Christus word sy vlees afgelę (Kol 2:11), is hy 'n nuwe skepping (2 Kor 5:17) en hy kry deel aan die goddelike natuur (2 Pt 1:4).  Die gelowige se verbondenheid met Christus in sy dood en opstanding (waarvan die doop spreek) word baie goed verduidelik deur die volgende Skrifgedeeltes:

 

Rm 6:5-6 "Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;  (6)  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie."

 

Rm 6:8-9 "As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,  (9)  omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie."

 

Kol 2:12 "omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het."

 

Rm 8:10 "Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid."

Ef 2:8 – Die redding is ‘n gawe van God

Hierdie vers verwys terug na vers 5: “uit genade is julle gered.”  Daarom is die 1983 vertaling van vers 8 myns insiens ‘n goeie vertaling: “hierdie redding is nie uit julleself nie.”  Die touto (dit) verwys semanties in die eerste plek na die redding (vgl. vers 5), nie na die geloof nie (vgl. Zerwick & Grosvenor 1988, Amplified Bible).  ‘n Mens kan jouself nie red nie.  As mens dit raaksien en sien dat net God deur Jesus die Here jou kan red, en dit so aanvaar, en dit bely, word jy gered (Rm 10:10), want dit is gelyk aan geloof.  Die Lewende Bybel vertaal dit so: “Ons kon onsself nie red nie, maar God gee dit vir ons verniet as ons op Jesus Christus vertrou.”

Dit is egter grammatikaal moontlik om die touto te verstaan as terugverwysend na die hele frase (m.a.w. die redding en die geloof).  Maar selfs al verwys die touto na die hele frase, is die dia pistewV (deur die geloof) net ‘n uitbreiding op seswsmenoi (julle is gered).  Dit gaan in hierdie gedeelte in die eerste plek oor die redding en die lewendmaking van die mens (Ef 2:5).  Mens sou die frase ook kon vertaal: “Want uit genade is julle gered (deur die geloof), en dit is nie uit julleself nie: dit is ‘n gawe van God.”  Die “(deur die geloof)” is ingevoeg om te sę hoe die redding plaasvind, naamlik deur die geloof.  Die geloof is die weg waarlangs mens deel het aan die reddende genade, want dit staan teenoor die verdienste.  “It is by grace that you have been saved because you have faith” (Louw & Nida 1988:379).

Vergelyk Rm 4:4,5.  Hier is dit nie genade wat teenoor verdienste gestel word nie, maar geloof, want geloof op sigself is nie ‘n verdienstelike werk nie, daarom is dit volgens genade.  Met ander woorde, dit is nie genade omdat God geloof ingee nie, maar omdat geloof inherent nie ‘n verdienstelike karakter het nie.  God weet dit en daarom het Hy dit die manier gemaak waarop die mens gered kan word.  Daarom is die weg van die geloof op sy eie, gelyk aan genade. 

Hier in Ef 2:8 kom dit op presies dieselfde neer.  Geloof is die toegang tot die genade (Rm 5:2).

In Ef 2:8 verwys die dia pistewV na die manier van redding: deur die geloof.  Daarom word hier in algemene terme gepraat (dia + Akkusatief).  Die klem is hier nie in die eerste plek op die aksie van geloof van die individu nie, maar op die weg van die saligheid, die voorneme van God wat in Christus geopenbaar is, en dit is nie deur mense uitgedink nie.  Die voorneme van God om mense op grond van hulle geloof, sonder verdienste te red, is in elke opsig ‘n weerspieëling van God se loutere genade.  Dit is in totaliteit ‘n gawe van God waaraan alle mense kan deel.

Flp 1:29 – Dit is gegee om te glo en te ly

Christus het dit genadiglik gegee om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.  Die relevante woord wat in die Grieks gebruik word is ecarisqhn, 2 ekv. aor. ind. van carizomai.

Betekenismoontlikhede

1.     Die Mini-woordeboek van die UBS-teks (Newman 1971), gee die moontlikheid om dit te vertaal met granted

2.     Die Analitiese woordeboek (Bagster Press:1794) gee die moontlikheid: granted a favour.

3.     Zerwick & Grosvenor (1988): Grant: as a grace or privilege.

4.     Bauer se Lexicon (1957) gee ‘n spesifieke verwysing na Flp 1:29, en vertaal dit dan met: granted the privilege of.

Vertalings

1.     Granted: NIV, RSV, NKJV.

2.     Given the privilege of: Good News, Living.

3.     Granted the privilege: NEB, Amplified.

4.     Die voorreg gegee: 1983 Afrikaans, Lewende Bybel.

Interpretasie

Die konteks van Flp 1 (en veral vers 27-30) dui daarop dat Paulus besig is om hierdie mense te bemoedig wat besig is om die stryd van die geloof te stry (1:27).  Paulus kom te hore van hulle moeilike omstandighede (1:27) en verneem van die lyding wat hulle moet deurmaak ter wille van Christus.  Hy verneem dat hulle teenstanders het in hierdie stryd (1:28) wat dit vir hulle moeilik maak om te glo, en hulle lyding ter wille van Christus, vererger.  Die frase: “ter wille van Christus” is belangrik.  Wat Paulus deur hierdie vers vir die gelowiges wil sę, is dat hulle hulle geloof as ‘n voorreg moet beskou, want hulle doen dit nie vir hulleself nie, maar vir Christus.  Dit kom dan ooreen met 2 Kor 1:6.  Daarom roep hy hierna ook die gemeente op om dieselfde gesindheid as die van Christus te openbaar.

Paulus is in elk geval nie hier besig om ‘n definisie (soos bv. in Rm 4-5) oor geloof tot redding te gee nie.  Hy praat eerder van die feit dat hulle Christene is (in Hom glo) as oor die aard van geloof.  Die konteks is die van bemoediging teen die agtergrond van die stryd van die geloof wat hulle stry.

‘n Interpretasie wat bekeringsgeloof as God-ingegewe gawe hier wil inlees, het te doen met ‘n paar ander kontekstuele probleme:

1.     Dit strook nie met die algemene trant van die gedeelte nie.

2.     Die infinitief van beide “geloof” en “lyding” maak so ‘n interpretasie onwaarskynlik, want die infinitief pas beter in die konstruksie met “as ‘n voorreg beskou” (soos verduidelik is).

3.     As God geloof sou ingee, gee hy dan lyding ook in?  Die twee terme is trouens deel van dieselfde Griekse konstruksie.

4.     Dit sou ook nie rym met ander Pauliniese uitsprake nie (vgl. Tt 2:11; Rm 3:27; 5:2,15,18; 10:12-13; 14:15; 1 Kor 8:11; 2 Kor 5:15,19; 1 Tm 2:4,6; ens.).

Flp 2:12 – Werk julle eie heil uit

Katergazomai (uitwerk) kan soos volg vertaal word:

Betekenismoontlikhede

1.     Die Mini Lexicon van die UBS teks (Newman 1971) gee onder andere die volgende moontlikhede: do, bring about, work out, make ready.

2.     Die Analitiese Lexicon (Bagster Press:1794) gee die volgende spesifiek in verband met Flp 2:12: to work, practise, realize in practice.

3.     Liddle & Scott (1924) gee o.a. die moontlikheid: to effect, to prevail upon, to work in.

4.     Louw & Nida (1988) stel effect voor m.b.t. hierdie gedeelte.

5.     Baur (1957): work out.

Vertalings

1.     Work out: RSV, KJV, NKJV, NEB.

2.     Werk uit: 1933 Afrikaans, Statevertaling (werkt uws).

3.     Continue to work out: NIV.

4.     Keep on working...to complete: Good News.

5.     “Cultivate, carry out the goal, fully complete” (Amplified).

6.     “Do the good things as a result from being saved” (Living).

7.     “Julle moet julle daarop toelę om as verloste mense te lewe”: (1983 vertaling).

8.     “Julle moet julle daarop toelę om die redding wat God julle gegee het in julle lewe uit te werk” (Lewende Bybel).

Interpretasie

Die term katergazomai (“werk uit”) op sy eie kan op twee maniere geďnterpretreer word:

1.     As iets wat jy tot stand moet bring.

2.     As iets wat reeds tot stand gekom het, wat jy moet uitlewe. 

Mens sou dus vereenvoudig kon sę by 1. lę die klem op die werk, en by 2. lę die klem op die uit (na buite of uitwaarts).

In hierdie konteks pas die tweede interpretasie beter – wat impliseer dat die verlossing reeds verkry is, en dat katergazomai gebruik word om die uitlewe van hierdie verlossing te beskryf:

1.     Die Bybelvertalings wat ‘n keuse maak vir een van die twee interpretasies, kies deurgaans die tweede vertaling (NIV, Good News, Amplified, Living, 1983 Afrikaanse vertaling, Lewende Bybel).  Dit is interessant dat die Lewende Bybel steeds die term “werk uit” gebruik, maar daaraan die nuanse van “uitlewe” gee.

2.     Uit die konteks is dit duidelik dat Paulus hier met gelowiges praat wat reeds die heil ontvang het.  Hy sę in vers 12: “soos julle altyd gehoorsaam gewees het.”  Dit is mense wat reeds die verlossing van Jesus Christus deur hul geloof aanvaar het.  Vers 14 sę ook “doen alles sonder murmurering en teëspraak.”  Hierdie “alles” verwys na alles wat saamgaan, of wat die implikasie is van die heil wat hulle ontvang het.  In vers 15 word die betekenis van vers 12 verder uitgebou en gekwalifiseer: “sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in hierdie węreld.”  Hier beteken die “werk uit” van die heil dat hulle soos ‘n lig moet skyn in hierdie węreld, sodat hulle lewens kan getuig van die heil wat God in hulle gewerk het.  En in dit alles werk God in hulle (deur sy Gees) en help hulle om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (vers 13).

Flp 2:13 – Dit is God wat in julle werk om te wil en te werk

Vertalings

1.     “God is always at work in you to make you willing and able to obey his own purpose” (Good News).

2.     “For God is at work within you, helping you to want to obey him, and then helping you to do what he wants” (Living).

3.     “It is God Who is all the while effectually at work in you [energizing]...” (Amplified).

4.     “Inspiring both the will and the deed” (NEB).

5.     “Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle.  Ja, dit is Hy wat so in julle werk.” (Van der Watt & Joubert 1997:642).

Interpretasie

God werk in ons en gee die energie / krag / vermoë (energwn) om te kan wil en te kan werk, want sonder God se krag is dit nie moontlik vir ‘n Christen om in Sy wil te wandel nie.  Dit gaan hier om die uitleef van jou Christenskap te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (vers 15).  God help jou om te wil om jou heil na buite uit te leef, maar Hy wil nie vir of namens jou nie, dit is nog steeds jy wat wil.  Vers 12 sę: Werk julle eie heil uit.”  Met ander woorde: “Julle moet dit doen, maar God stel julle in staat...”

2 Ts 2:13 – Van die begin verkies tot saligheid

Hier volg slegs ‘n paar vertalings wat myns insiens die interpretasie van die teks vergemaklik. 

1.     NEB: “We are always bound to thank God for you, my friends beloved by the Lord.  From the beginning of time God chose you to find salvation in the Spirit who consecrates you and in the truth you believe.”

2.     NIV: “But we ought always to thank God for you, brothers loved by the Lord, because from the beginning God chose you to be saved through the sanctifying work of the Spirit and through belief in the truth.”

3.     RSV vertaal ook: “through.”

Hier gaan dit weereens oor die voorneme van God se verkiesing.  Dit gaan oor die plan wat God van die begin af gehad het om mense te roep deur die evangelie (vers 14).  Die uitverkiesing is in Christus (vers 14).  Die gemeente verkry die heerlikheid van Christus.  Vers 13 is ander woorde om te sę dat die evangelie van die begin af in Christus (Vgl. Ef 1:4) aan ons geskenk is.  Hierdeur roep Hy ons op om die heerlikheid van Christus te verkry.  Die voorneme van verkiesing het die saligheid ten doel.  Die wyse waarop ons deel kry aan die saligheid is soos volg (vanuit die konteks):

1.     Deur (en) die heiligmaking van die Gees.  Dit is die manier waarop God die mens wederbaar deur geloof.

2.     En deur (en) die geloof.  Hy kies die uit wat glo.  Vers 10-12 sę dat die wat nie die waarheid aangeneem (decomai) het nie, en dit nie geglo het nie, geoordeel word.  En dan volg vers 13 in teenstelling daarmee.  Dan dank Paulus God dat hy nie dieselfde van die gemeente kan sę nie.  By implikasie het hulle wel geglo en die woord van die waarheid aangeneem.  Daardeur het hulle deel gekry aan God se ewige voorneme van verkiesing.

Geparafraseerd kan hierdie vers soos volg vertaal word:

Maar broers, ons moet God dank dat die Here ons so liefhet dat Hy van die begin af al ‘n plan gehad het om ons te laat deel kry aan die saligheid deur die heiligmaking van die Gees, en dit deurdat ons glo in die waarheid.

2 Ts 3:2 – Die geloof is nie deel van almal nie

“Die geloof is nie deel van almal nie,” sę bloot dat nie almal glo of tot geloof kom nie.  Dit sę niks oor die aard van die geloof nie.  Dit sę nie of geloof ingegee word of nie.

2 Tm 1:9 – Gered volgens sy eie voorneme van genade

Dit gaan hier oor God se eie voorneme en genade.  Dit is nie iets waarin die mens enige inspraak het nie.  God se genade en voorneme is geopenbaar in Christus Jesus.  Die verlossing is van alle ewigheid aan ons geskenk in Christus.  Met ander woorde, as ons deel raak aan Christus, het ons deel aan die verlossing wat hy volgens die voorneme van sy verkiesing van ewigheid af in Christus geskenk het (vgl Rm 9:11).  Hoe raak ons deel hiervan?  Ons word deel van Christus deur die geloof (vers 12).

Tt 3:5 – Na sy barmhartigheid het Hy ons gered

Hier word gepraat van die redding / verlossing van die mens.  Dit is alles God se werk.  Dit is God se geskenk in Christus.  Dit vind gestalte deur die wedergeboorte (vgl. Jh 3:5).  Hier word egter niks gesę van die toegang tot die redding nie.  Geloof is steeds nodig om hierdie redding deelagtig te word (vers 8; vgl. ook die bespreking van Ef 2:8).

1 Pt 1:1-2 – Uitverkore volgens die voorkennis van God

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die verstrooiing.  Hulle is uitverkore volgens die voorkennis van God, in die heiliging van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus.  God het vooraf kennis gehad (prognwsiV) en geweet dat Hy mense gaan uitkies in Christus (sien Ef 1:5-11).  Hulle sal deel hę in die heiliging (agiasmoV) van die Gees – dit is die wedergeboorte en heiligingswerk deur die Gees (Jh 3:5).  Hy het geweet dit sal mense bring tot gehoorsaamheid, omdat Hy besluit het om sy Gees as Trooster en Leidsman aan die wedergebore mens te skenk (die belofte van die Vader).  Die besprenkeling met die bloed van die Here Jesus praat van die innerlike gebeure van die hart, waarin die bloed van die Lam mense se sondes sal skoonwas en hulle gewetes sal reinig (Heb 10:22).  Dit alles is deel van die genadewerk waarvan God van altyd af geweet het, en wat hy vooraf beplan het, wat deur Chrustus se versoeningswerk beskikbaar gestel sou word.  Dit praat nie van individuele verkiesing nie, maar vervat die ewige voorneme van God om wedergeboorte en versoening aan die mense te skenk wat in Christus glo (1 Pt 1:3-5; sien ook Ef 3:8-12).

1 Pt 1:10 – Die genade is vir julle

Die genade wat vir hulle bestem is, waaroor die profete geprofeteer het, hou direk verband met die saligheid – die einddoel van hulle geloof (vers 9).  Die genade is vir hulle bestem wat glo.  Die Grieks sę: “thV eiV umaV caristoV” (die woord “bestem” of iets soortgelyks kom nie voor in die Grieks nie).  Letterlik: “die genade wat vir julle is…”  Dit beteken nie dat die genade net vir hierdie mense is nie, maar dat die genade vir almal is wat glo.  Vers 17 sę dat God sonder aanneming van die persoon oordeel oor elkeen se werk.  In vers 20 praat Petrus van God se voorkennis, nie voorkennis van sekere individue wat Hom sal aanneem nie, maar voorkennis van die kosbare bloed van Christus (vers 19).  Dit is geopenbaar om julle ontwil (vers 20).  Die “julle” verwys na die wat deur Hom glo in God wat hom uit die dode opgewek het (vers 21).

1 Pt 2:8 – Bestem tot ongehoorsaamheid

Jesus het ‘n Steen van aanstoot geword vir die wat deur hulle ongehoorsaamheid en hulle ongeloof (vers 7) daarteen stamp.  Die “bestemming” van hierdie mense dui nie op spesifieke individue nie, maar dit is die noodwendige gevolg van hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.  Die “bestemming” dui op die destinasie van die ongelowiges in die algemeen.  Hulle is dus nie tot die ongeloof bestem nie, maar die ongeloof / ongehoorsaamheid is tot “aanstoot” bestem.

Vgl. die volgende vertalings:

1.     NEB: “They trip because they refuse the Lord; this is the fate (trip) that is appointed to them (them that are disobedient).”

2.     Living Bible: “They will stumble because they will not listen to God's Word, nor obey it, and so this punishment will follow – that they will fall.” 

3.     Van der Watt & Joubert (1997:768): “Hulle struikel en val omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie.  Dit kan mens ook van hulle verwag.  God het vooraf geweet en besluit dat dit so sal wees.”

 

2 Pt 1:1 – Aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het

Petrus skryf aan die wat “net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het.”  Die relevante Griekse woord wat hier gebruik word is lacousin, dat. mv. ml. aor. part. van lagcanw.

Betekenismoontlikhede

1.     Baur (1957) gee die moontlikheid: obtain.

2.     Die Analitiese woordeboek (Bagster Press:1794) gee ook die moontlikheid: obtain.

3.     Liddill & Scott (1924, hoewel dit ‘n woordeboek is vir klassieke Grieks) gee die moontlikheid: Generally: to obtain, to get possession of.

Vertalings

1.     Verkry: 1933 Afrikaans, Statevertaling.

2.     Obtain: KJV, NKJV, RSV.

3.     Obtained an equal privilege of: Amplified.

4.     Share equally with us in the privileges of faith: NEB.

Interpretasie

Die vertaling “obtain” of “verkry” kan op sigself op twee maniere verstaan word:

1.     Om iets as gawe te ontvang.

2.     Om iets deelagtig te word of te verkry.

In hierdie konteks lyk dit meer waarskynlik om lacousin in ‘n algemene sin te verstaan, as iets wat jy deelagtig word, sonder om die menslike betrokkenheid of keuse noodwendig daarby uit te sluit.

Hier word nie van die fides qua (geloof waardeur jy glo) gepraat nie, maar die fides quae (geloof waarin jy glo) (Schelkle 1970:185).  Dit gaan nie hier om die “dat” van die geloof nie, maar die “wat” van die geloof.  Die geloof word beskryf deur isotimon (nęrens anders in die NT aangetref nie).  Bigg (1978:249) wys daarop dat hierdie woord dikwels verstaan is as “van gelyke waarde,” maar hy sę dit moet meer presies vertaal word met “van gelyke eer” of “van gelyke voorreg.”  Daarom lyk die vertalings van die NEB en die Amplified, wat dit vertaal met “die voorreg(te) wat ons het in die geloof,” of dit beter pas.  Wat Petrus eintlik wil sę, is dat die mense aan wie hy skryf in ‘n geloof glo wat deel in dieselfde voorregte as die geloof waarin hy glo.  Hoewel die mense waarvoor Petrus skryf hulle geloof deur sy bemiddeling (en nie deur Jesus self nie) verkry het, maak dit nie hulle geloof minderwaardig nie, want beide deel in dieselfde voorregte deur die geregtigheid van Jesus Christus (vgl. Bigg 1978:249). 

Geloof as bekeringsgeloof sou in hierdie gedeelte ‘n oor-interpretasie wees, en is moeilik versoenbaar met die konteks, waar die selfstandige karakter van geloof beklemtoon word:

1:5 Voeg by julle geloof...” (geloof wat selfstandig is).

1:9 “Hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.”  Petrus wil hulle hierdeur oproep om die vergifnis te glo en aan te neem.  Dit is ‘n wilsbesluit wat hulle moet neem.

1:10 “Beywer julle om julle roeping en julle uitverkiesing vas te maak.”  Dit is ‘n aktiewe besluit om seker te maak dat hulle gered is.

2:21 Hier gee Petrus die moontlikheid om afvallig te raak van die geloof.  Hy verwys na mense wat “die weg van geregtigheid geken het.”  Bekeringsgeloof kan hiervolgens nie as ‘n gawe gesien word nie, want dan sou dit beteken dat God geloof gee wat later afvallig word!

3:9 “God wil hę dat almal tot bekering kom.”  As God die geloof as gawe aan sekeres skenk, het hierdie vers geen betekenis nie, veral ook in die lig van ander Skrifgedeeltes (sien Jes 40:5; Jh 3:16; Tt 2:11; Rm 5:15,18; 14:15; 1 Kor 8:11; 2 Kor 5:19; 2 Pt 2:1; Heb 2:9; 1 Jh 2:2; Mt 18:14; 1 Tm 2:4,6). 

2 Pt 2:9 – God verlos die godsaliges uit die versoeking

God weet hoe om die godsaliges (eusebeia) te verlos uit die versoeking (sien KJV).  Die godsvrug is nie in hierdie konteks iets waarvoor iemand bestem is nie, maar is ‘n eienskap van die wat glo (1:5 en veral 1:9).

Die onregverdiges word bewaar vir die dag van oordeel.  Die “bewaring” is hier nie ‘n vooraf-bestemming vir spesifieke individue nie, maar die gevolg / bestemming van die onregverdiges – die wat die Here wat hulle gekoop het, verloën het (2:1).

1 Jh 5:16 – Gebed om lewe vir die broer

As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom (die) lewe gee — vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sę ek nie dat hy moet bid nie.”  Die “broeder” is ‘n mede-gelowige.  Dit gaan daaroor om vir hom te bid as jy sien dat hy sonde doen wat nie tot die dood lei nie (sonde tot die dood is ewige, uiteindelike en volhardende sonde, naamlik om jou rug totaal op God te draai en hom as’t ware te verloën.  Dit is die sonde wat mense doen wat verlore gaan).  God sal hom letterlik “lewe gee.”  Die KJV vertaal: “he shall give him life.”  Dit is nie hier die “ewige lewe” nie, maar “lewe” in die area van sonde waarvoor jy bid.

Op 5:9 – Gekoop uit elke stam, taal, volk en nasie

Hier is nie sprake van geloof, of uitverkiesing, of bestemming nie.  Die feit word bloot gestel dat Jesus mense loskoop uit elke stam, taal, volk en nasie.

Op 13:8; 17:8 – Name geskryf in die boek van die lewe

Die 1933 Afrikaanse vertaling vertaal 13:8 soos volg:

“En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die węreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is geskrywe is nie.” (vgl. 1983 Afrikaans, Statevertaling, RSV, Living, Good News)

Die NIV vertaal dit soos volg:

“All inhabitants of the earth will worship the beast – all whose names have not been written in the book of life belonging to the Lamb that was slain from the creation of the world.”  (vgl. KJV, NKJV, Statevertaling, REB, ISV)

Die vraag is op watter bysin die gedeelte: “van die gronlegging van die węreld” betrekking het – die name of die Lam?  Volgens die Grieks is beide moontlik.  Selfs Zerwick en Grosvenor (1988) kan nie kies nie:

1.     Die 1933 vertaling sou ooreenkom met Op 17:8 – wat minder problematies is om te vertaal: “wie se name nie van die grondlegging van die węreld af in die boek van die lewe...”  Op 13:18 en Op 17:8 sal dan ooreenkom in betekenis.

2.     Die NIV vertaling sou egter in betekenis ooreenkom met 1 Pt 1:20!

Nogtans sal ek kies vir eersgenoemde vertaling, bloot omdat ek meen dat die Openbaringskrywer waarskynlik dieselfde betekenis in gedagte gehad het by beide gedeeltes (13:8 en 17:8).

Die uitdrukking “grondlegging van die węreld” (katabolhV kosmou) kom slegs 10 keer in die Nuwe Testament voor en is bepalend vir die verstaan van hierdie gedeelte.  Dit kom voor:

1.     met pro + genitief: “voor die grondlegging van die węreld”: Jh 17:24; Ef 1:4; 1 Pt 1:20.  Dit wat beskryf word, is voor die grondlegging van die węreld afgehandel.  Dit is interessant om daarop te let dat op al drie plekke die persoon van Christus of die heilsgebeure in Christus ter sprake is.  Soos reeds verduidelik is, dui Ef 1:4 nie op individuele uitverkiesing nie, maar op die verlossing / verkiesing in Christus, dit wil sę op die verlossingsplan (voorneme van verkiesing).

2.     met apo + genetief: “vanaf/sedert die grondlegging van die węreld”: Mt 13:35; 25:34; Lk 11:50; Heb 4:3; 9:26; Op 13:8; 17:8.  Dit wat beskryf word, is steeds in die proses om te gebeur, maar het begin by die grondlegging van die węreld.  Dit word grammatikaal goed geillustreer deur Lk 11:50; Heb 9:26.  Dit skakel dus die moontlikheid van predestinasie uit by Op 13:8 en 17:8.  Die name is dus nie klaar ingeskryf voor die grondlegging van die węreld nie (soos wat onder meer die RSV, Good News verkeerdelik vertaal nie), maar dit het toe ‘n aanvang geneem.  Vgl. die Engelse “since / ever since” (UBS woordeboek: Newman 1971; REB-vertaling van Op 13:8; 17:8).

 

Konsekwensies van partikuliere predestinasie en geloof as God-ingegewe gawe

Individuele predestinasie en ‘n leer waar die wil van die mens nie selfstandig by sy redding kan bestaan nie, het sekere problematiese teologiese vertaansposisies tot gevolg:

Konsekwensie van partikuliere uitverkiesing

Diegene wat partikuliere uitverkiesing voorstaan, sien God se keuse om slegs sekere uitverkore individue aan te neem as grondliggend tot die uitverkiesingsleer.  Hoewel jonger formuleringe binne die teologie die menslike keuse by die redding wil inkorporeer, laat dit nie die wil op sy eie staan nie, omdat dit die genade-karakter van die uitverkiesing sou bedreig.  Die logiese konsekwensie van hierdie soort partikuliere uitverkiesing is egter teenstrydig.  Dit wil enersyds vashou aan God se onweerstaanbare genade, en andersysds ruimte laat vir die verkeerde wilsbesluit van die mens.  Dus, die mens word gered omdat God dit wil, maar gaan verlore omdat die mens dit wil.  Dogmatici wil aan beide vashou maar dit nie met mekaar in verband bring nie.  Die spanning moet behou word.  Die gevolg is ‘n paradoksale posisie, wat klaarblyklik heel aanvaarbaar geword het binne ‘n post-modernistiese paradigma.

Indien laasgenoemde probleem egter op die spits gedryf word, word gewoonlik in die laaste instansie teruggegryp na God se soewereiniteit ten koste van die vrye wil van die mens.  Dus, as die uitverkiesingsleer tot sy konsekwensie deurgevoer moet word, kan dit nie anders as om te eindig by determinisme en supralapsarisme nie.  Daarom kan daar nie werklik sprake wees van ‘n wedersydse verhouding tussen God en mens nie, want ‘n verhouding is nie moontlik as elk nie sy eie selfstandige keuse daartoe het nie (sien bespreking in hoofstuk 1).

Gebed vir gelowiges en die nodigheid van prediking

Indien idividuele verkiesing verstaan word as iets wat van alle ewigheid af bestaan, raak dit problematies om vir ongelowige mense te bid dat hulle tot bekering kom, want by implikasie probeer jy dalk om iets te verander aan ‘n uitverkiesing wat reeds vasgestel is.  Daardeur kom God se soewereiniteit in gedrang.  As die uitslag van God se verkiesing voor die gronlegging van die węreld klaar vasgestel is, gaan niks wat die mens doen of nie doen nie, enige iets daaraan verander nie. 

Dieselfde probleem onstaan met die nodigheid vir prediking.  As die uitslag van die uitverkiesing reeds vasgestel is, is dit enigsins nodig om nog die evangelie te verkondig en mense tot bekering op te roep?

Objektiewe heilsekerheid?

Objektiewe heilsekerheid is myns insiens ook ‘n kontradiksie, want dit sou daarna verwys dat die mens heilsekerheid kan hę omdat die keuse van verlossing buite jouself lę.  Die vraag bly egter: Hoe weet jy jy het deel aan die ware geloof en nie van die geloof wat ooreenstem met die saad wat op die rotse of in die doringrige grond val nie? (gelykenis van die saaier).  ‘n Antwoord kan nie op hierdie vraag gegee word, sonder om ‘n subjektiewe dimensie van geloofsekerheid te erken nie.  Op die vraag: “Hoe kan mens seker wees van jou geloof?”, sal die antwoord wees: “hou vas aan die belofte” of, “neem dit aan in die geloof” of, “dit is net iets wat jy op ‘n dag weet.”  Die vraag is of mens hoegenaamd kan sę dat heilsekerheid objektief is.  Heilsekerheid is ‘n ervaring.  Dit gaan oor die vraag of jy seker is.  Dit is nie iets wat jy kognitief kan objektiveer nie.  Heilsekerheid is per definisie ‘n subjektiewe ervaring.  Op grond hiervan is die heilsekerheid van diegene wat aan objektiewe heilsekerheid wil vashou eintlik juis in gedrang, want hoe weet jy jy is uitverkies?  Hoe weet jy jy het nie net ‘n skyngeloof nie? 

As geloof ingegee is, kan heilsekerheid sekerlik nie iets wees wat jy met ‘n sogenaamde “kragtoertjie” moet bekom nie.  God moet dit sekerlik ook ingee!  Maar wat sę mens nou vir mense wat ernstig worstel met heilsekerheid?  “Ek sal bid dat jy dit ontvang: wees maar geduldig” of, “bid daarvoor, glo dit, neem dit aan,” met ander woorde, “doen die kragtoertjie.”

Afvalligheid van gelowiges

Verantwoordelike eksegese van Heb 6:4-6 wys daarop dat dit wel moontlik vir gelowiges is om uit die genade van God te val.  Dit het wel betrekking op gelowiges, want dit praat van mense wat:

1.     verlig geword het

2.     die hemelse gawe gesmaak het

3.     die Heilige Gees deelagtig geword het

4.     die goeie Woord van God gesmaak het

5.     en die kragte van die toekomstige węreld (gesmaak het).

Die brief word in elk geval aan gelowiges gerig.  Vergelyk Heb 10:26,29; 12:3,14.

Die meeste Gereformeerde teoloë ontken die moontlikheid dat ‘n gelowige afvallig kan raak (sien die perseverance of the saints by die Dortse Leerreëls).  Sommige wil tog hierdie moontlikheid ooplaat (o.g.v. Heb 6:4-6), maar dit skep noodwendig die volgende probleme:

1.     Indien mens so ‘n moontlikheid sou ooplaat en terselfdertyd wil vashou aan geloof as God-ingegewe gawe, beteken dit dat God iets gedoen het by die redding van die mens se lewe wat jou nie wesenlik verander het nie.  Dit plaas ‘n vraagteken agter die integriteit van die geloof wat God sou ingegee: God gee dan die gawe van geloof in, maar vat dit later weer terug!

2.     Indien dit so is dat mense afvallig word, nadat hulle op grond van hulle eie keuse tot geloof gekom het, is die mens se keuse dan nie wel bepalend met betrekking tot sy destinasie nie?

Die leerstuk oor die perseverance of the saints, staan ook is in stryd met die leerstuk oor die banvloek in die kerk.  Hierdie leerstuk sę dat ‘n Christen wat afvallig raak of dwaal, afgesny kan word van die koninkryk van God.  Hoe kan dit gerym word met die res van die Gereformeerde teologie?  Gee God die gawe van geloof aan iemand, maar dit kan later weggevat word deur die kerk?

Die Dortse Leerreëls

Die Dortse Leerreëls is dikwels al beskuldig van die verkondiging van ‘n dubbele predestinasieleer en supralapsarisme (d.w.s. om ‘n leer te verkondig waarin die uitslag van die uitverkiesing reeds voor die grondlegging van die węreld vasgestel is).  Die lering van die Dortse Leerreëls is ook al getipeer met die term TULIP, wat staan vir Total depravity, Unconditional election, Limited atonement, Irresistible grace en Perseverance of the saints

Stellings in die Dortse Leerreëls sluit onder meer die volgende in:

Hoofstuk 1, Artikel 6: “...Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping...” (dubbele predestinasie).

Hoofstuk 1, Artikel 7: “...Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die menslike geslag uitverkies.” (supralapsarisme)

Baie teoloë het daarom al probeer “verskoning maak” vir die Dortse Leerreëls deur te verwys na die skolastiese denke en die invloed van Beza in daardie tyd.  Dit bly egter ‘n probleem om die kritiek teen die Dortse Leerreëls af te weer.

Die probleem is dat die kerk steeds baie sterk steun op die Dortse Leerreëls, en dat dit steeds ‘n belydenis-vereiste is vir jongmense wat belydenis van geloof wil aflę of as predikante gelegitimeer wil word.  Daar word vir hulle gesę dat mens moet kyk na die algemene trant daarvan en dat die hart daarvan onderskryf moet word, ongeag sekere formuleringe wat dalk vandag problematies kan wees.  Die vraag is egter, wat nou daarvan as sekere problematiese formuleringe deel vorm van die hart van die Dortse Leerreëls?

Konsekwente ootmoed

Meeste teoloë, ter regverdiging van ‘n paradoksale posisie binne die teologie, gryp terug na ‘n posisie van konsekwente ootmoed.  Die feit dat sekere posisies binne die dogmatiek as paradoksaal verstaan word, is te wyte aan die mens se beperkte verstaan.  Die probleem is egter dat die ootmoed-posisie in wese ‘n vroomheids-posisie is.  Dit is ‘n bril of ‘n voorveronderstellings-posisie.  Dit bepaal dat die soewereiniteitsaspek van God konsekwent beklemtoon moet word.  Dit is myns insiens waar die teologie sy fundamentele uitgangspunt vind.  Alle teologiese afleidings moet ondergeskik gestel word aan hierdie vroomheidservaring. 

Hierdie vroomheidsposisie vra vir die konsekwente handhawing van God se alles-omvattende genade, omdat dit vrees dat die verlossing moontlike eer vir die mens sou inhou.  Stellings wat byvoorbeeld die konsekwente ootmoedbeginsel sal onderstreep is die volgende:

·       “Hoekom gaan mense verlore?  Dit kan ons nie verklaar nie.  Ons moet ook nie probeer om die sonde te verklaar nie.  Ons kan dit net bely.” (die prinsipiële onverklaarbaarheid van die sonde).

·       “Ek het God nie gekies nie, Hy het my gekies.”

·       “Ons moes almal verlore gegaan het, maar God het my uitverkies.  Ek moenie vra hoekom Hy juis vir my uitverkies het - en nie vir die wat verlore gaan nie...  Ek kan maar net op my knieë neerval en sę ‘dankie, dankie, dankie...’”

Hierdie stellings mag miskien strelend klink op die ore, nie omdat dit logies sin maak nie, maar omdat dit die voorveronderstellings-posisie van konsekwente ootmoed bevestig.  Dit bied ‘n soort ontsnapping van die soeke na logiese verstaan.  Dit transendeer my beperkte verstaan, en eindig in ‘n Godsbeeld wat wesenlik onverklaarbaar en misterieus is, en ‘n mensbeeld wat hunker na ‘n minderwaardigheidskompleks.

By sekeres is daar selfs ‘n strewe na ‘n tipe masogistiese satisfaksie, wat die gevoel van minderwaardigheid versterk.  Hierdie ervaring word dan die onderliggende vroomheidservaring.

Die ootmoedbeginsel word dan amper ‘n soort verdienstelike of danige nederigheid.  Dit kan vergelyk word met iemand wat nie ‘n kompliment wil aanvaar nie.  Die oomblik as dit lyk of jy iets is of iets kan, wil jy dit nie aanvaar nie.

Hierdie totale uitgelewerdheid aan God se genade wat nie aangeneem of weerstaan kan word nie, bring ‘n tipe passiwiteit en ‘n fatalisme by gelowiges mee - ‘n hoop dat die Here een of ander tyd sal ingryp en dalk jou lot sal verander.  Maar as God dit nie doen nie is jy kwaad vir Hom!  Dikwels het dit tot gevolg dat mense die Here dien vir dit wat hulle uit Hom kan kry, en nie omdat hulle dit uit spontaan gekose liefde doen nie.

Die konsekwente handhawing van die ootmoedbeginsel kom neer op die verskraling van die natuurlike of algemene genade van God aan alle mense.  Indien die algemene genade die vrye keuse van die mens sou insluit met betrekking tot die redding, sou sulke genade indruis teen die vroomheidsbeginsel van ootmoed.  Daarom word daar ook ‘n skerp onderskeid getref tussen algemene en besondere genade.  Hierdie onderskeid het myns insiens ontstaan om die beginsel van konsekwente ootmoed te handhaaf.

Is selfstandige geloof gelyk aan sinergisme?

Vanuit bogenoemde vroomheidsposisie word die beginsel van geloof as vrye keuse van alle mense verwerp, en afgemaak as ‘n sinergisme

Hierdie aanklag moet beoordeel word teen die agtergrond van die polęre en apolęre denke:

Soos reeds genoem, word die redding van die mens volgens die polęre denke beskryf aan die hand van ‘n kwantitatiewe skaal van menslike en goddelike aandeel.  Die beskuldiging van sinergisme figureer egter steeds op die vlak van die polęre denke, want diegene wat sinergisme afwys, streef na ‘n 0% menslike aandeel en 100% goddelike aandeel.  Dit sou redeneer dat as die ongelowige mens in staat sou wees om self te glo, dit ‘n hoër waarde as nul aan die mens gee, en daarom sou neerkom op sinergisme.  Soos ook genoem (by die aard van geloof), hou dit verband met die verkeerde siening dat geloof nie op sigself leeg is nie, maar leeg is omdat dit ingegee sou wees.

Die apolęre denke verstaan die mens egter in terme van ‘n dinamiese, wederkerige verhouding met God waar elk sy eie wil en persoonlikheid het.

Gevolgtrekkings

1.     Die beskuldiging van sinergisme is ongegrond ten opsigte van geloof as grond vir redding, want dit verstaan geloof verkeerd (Rm 3:28; Gl 2:16; Rm 4:4).  Dit is juis ‘n erkenning dat jy niks uit jou eie kan doen nie, en jouself volkome op God verlaat.

2.     Die beskuldiging van sinergisme is ongegrond ten opsigte van redding as die mens se keuse, want die redding as die mens keuse berus juis op die apolęre denke.  Dit berus op die apolęre denke omdat die mens sien in ‘n persoonlike verhouding met God (sien die bespreking van die bestaansvraag).

“Perseverance of the saints” (sanctificatio)

Op grond van hierdie leerstuk word die uitverkorenes bewaar teen afvalligheid: “Een maal ‘n kind van God – altyd ‘n kind van God.”  Hierdie leerstuk lewer egter die volgende probleme op:

1.     Indien mens sou vashou aan die soewereine heilswerk van God in Christus sonder om die mens se keuse op sy eie te laat staan met betrekking tot die redding en die lewenswandel (sanctificatio), waarom gee God dan nie ook aan alle Christene ‘n sekere teologiese verstaan in nie?  Hoekom dink Christene dan so verskillend?  Is dit omdat God die waarheid so verskillend ingee?  Of is dit omdat dit waarin jy glo, bepaal word deur jou eie geloof en jou eie keuse?

2.     Indien die leer oor die onvoorwaardelike verkiesing en die bewaring van die heiliges tot sy volle konsekwensie uitgewerk word, eindig dit in ‘n soort determinisme, want die wil van die sondaar kan nie vir die goeie kies nie, en die wil van die gelowige kan nie vir die slegte kies op so ‘n manier dat hy uit die genade val nie.  In beide gevalle word die wil van die mens dus bepaal of gedetermineer deur God se wil.  God “wil” dus eintlik namens die mens voor en na bekering.  Die gevolg hiervan is dat mens ook nie van ‘n verhouding tussen God en mens in die volle sin van die woord kan praat nie.

Karikatuur van God se genade en liefde

Hoewel diegene wat partikuliere predestinasie voorstaan, wil vashou aan ‘n konsekwente handhawing van die genade van God, word genade op so ‘n manier geteken dat dit ‘n vraagteken agter die karakter daarvan plaas.  Hoe kan genade net sekere uitgesoekte mense bevoordeel of dalk hulle lot vooraf bepaal?  Hoewel teoloë soos Jonker (1989) dit glad nie op so ‘n wyse sal formuleer nie, bly dit steeds ‘n onderliggende probleem in die teologie.  Hoewel Jonker die probleem sal versag deur te vra na ‘n ootmoedige of infralapsariese kyk op die uitverkiesing, bied dit egter nog nie ‘n prinsipiële oplossing tot die probleem nie.

Ten spyte daarvan dat hedendaagse formuleringe binne die Gerreformeerde teologie voorsiening maak vir die keuse van die mens by verlossing, laat dit nie die menslike keuse op sy eie staan nie.  Dit word in God se heilswerk ingesluit, of daardeur omvat.  Dit impliseer tog dat die menslike keuse eintlik deur God gedetermineer word.  Die vraag is, as genade glad nie die mens se selfstandige keuse in aanmerking neem nie, is dit nog genade?  Is dit nie eerder ‘n gepredestineerde gevolg van die lot nie?  Die mens kan dan nie anders as ‘n marionet in die verlossing gesien word nie.  Dit maak dan dat God ook nie werklik ‘n wedersydse verhouding met die mens het nie.

Liefde dwing nie, liefde stel vry.  Liefde aan iemand anders is nie vooraf-bindend nie, dit maak ruimte dat die ander party spontaan kan reageer.  “Love is in the letting go.”  Kyk byvoorbeeld na die gelykenis van die verlore seun.

Partikuliere predestinasie hou ook verband met ‘n lynregte of rigiede Godsbeeld.  Dit ontneem God van sy dinamiese aard en sy reg om ook sy besluit te verander as hy sou wou, of “om berou te hę oor die onheil wat hy uitgespreek / beplan het.” (Jona 3:9-10; Jer 18:8; Jer 26:3,13,19) of God se openheid om met die mens in gesprek of geding te tree (Jes 43:26).

 

Bibliografie

Analytical Greek Lexicon, 1794. London: Samuel Bagster & Sons.

Barnes, A [sa]. Albert Barnes’ notes on the Bible

Barret, CK 1968. The First Epistle to the Corinthians. London: Adam & Charles Black.

Barth, K 1969. The Doctrine of Reconciliation. Vol IV, Church Dogmatics. Edinburgh: T & T Clark.

Baur, W 1957. Greek-English Lexicon of the New Testament and other Early Christian Literature. Zondervan: The University of Chicago Press.

Beasley-Murray, GR 1972. Baptism in the New Testament. Cape Town: Oxford University Press.

Bigg, C 1978. The International Critical Commentary. A Critical and Exegetical Commentary on the Epistles of St. Peter and St. Jude. Edinburgh: T & T Clark.

Boers, H 1979. What is New testament Theology? Philadelphia : Fortress.

Bornkamm, G 1939. Taufe und neues Leben bei Paulus. Theologische Blätter. Vol XVIII.

Bruce, FF 1990. The Acts of the Apostles. The Greek Text with Introduction and Commentary. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Burger, CW; Muller, BA; Smit DJ (ed) 1993. Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg. Kaapstad: Lux Verbi.

Chantry, WJ 1987. Signs of the Apostles. Great Britain : Hazel Watson & Viney Limited.

Cronje, K et al 1988. Grieks met Begrip: ’n Inleidende Grammatika, Toegespits op die Griekse Nuwe Testament. Auckland Park: Werkgroep vir Griekse Onderrig.

Culpepper, RA 1988. John, in Godwin, Edgemon (ed) 1988.

Dowley, T (ed) 1990. The history of Christianity. Oxford England: Lion Publishing.

Du Toit, AB (ed) 1984. Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel

Du Toit, BA 1977. Die ontvangs van die Heilige Gees in Samaria: ‘n eksegetiese studie van Handelinge 8:14-17. UNISA.

          – 1991. The Aspect of faith in the gospel of John with special reference to the farewell discourses of Jesus in Neotestamentica 25(2) 1991.

Furnish, VP 1984. 11 Corinthians. New York, London, Toronto: Doubleday.

Godwin, J, Edgemon, R (ed) 1988. Disciple’s Study Bible. Nashville: Holman.

Harris, MJ 1991. Collosians & Philemon: Exegetical Guide to the Greek New Testament. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Harrison, EF 1976. The Expositor’s Bible Commentary. Vol. 10. Grand Rapids, Michigan: Zondervan

Hislop, A 1959. The Two Babylons. Neptune, NJ: Loizeaux Brothers.

Hunt, JPT 1990. Colossians 2:11-12, the circumcision / baptism analogy, and infant baptism. Tyndale Bulletin. Vol. 41.2. November 1990.

Jonker, WD 1989. Uit Vrye Guns Alleen: Wegwysers in die Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Liddle & Scott’s Greek-English Lexicon 1924. London: Clarendon Press.

Louw, JP, Nida, EA 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains. New York: United Bible Societies.

Marshall, IH 1980. The Acts of the Apostles. London: Inter-Varsity Press.

Martin, RP 1974. Colossians and Philemon. London: Oliphants.

Meeks, WA 1983. The First Urban Christians: The social World of the Apostle Paul. New Haven, London: Yale University Press.

Mitton, CL 1976. Ephesians. London: Oliphants.

Muller, JAC 1958. Die Brief aan die Kolossense. Stellenbosch: CSV.

Newman, BM 1971. A Concise Greek-English Dictionary of the New Testament. London: UBS.

O’Brien, PT 1982. Colossians, Philemon. Waco, Texas: Word Books, Publisher.

Owen, J 1985. The death of death in the death of Christ. Great Brittain : Banner of Truth Trust.

Pelser, GMM 1984. Pauliniese Soteriologie, in Du Toit 1984: 256-281.

Peterson, D 1993. Engaging with God. A Biblical theology of worship. Michigan: Eerdmans.

Rendtorff, FM 1905. Die Taufe im Urchristentum im Lichte der Neueren Forschungen. Leipzig.

Ridderbos, H 1966. Paulus. Ontwerp van zijn theologie. Kampen: Kok, 1966.

Schelkle, 1970. Die Petrusbriefe der Judasbrief. Freiburg, Basel, Wien: Herder.

Van der Watt, J & Joubert, S 1997. Die Boodskap: Die Nuwe Testament in Hedendaagse Afrikaans. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Van Rensburg, JPJ 1953. ’n Eerste Griekse Grammatika. Stellenbosch-Grahamstad: Universiteits-uitgewers en -boekhandelaars (edms) beperk.

Van’t Spijker, W; Balke, W; Exalto, K; Van Driel, L (ed) 1983. Rondom de doopvont: Leer en gebruik van de heilige doop in het Nieuwe Testament en in de geschiedenis van de westerse kerk. Kampen: Uitgeverij de Groot Goudriaan.

Versteeg, JP 1983. De doop volgens het Nieuwe Testament, in Van’t Spijker et al. 1983: 9-133.

Wessels, GF 1993. Galasiërs 2:11-14, in Burger, CW; Muller, BA; Smit, DJ (ed) 1993: 160-170.

Zerwick, M, Grosvenor, M 1988. A grammatical analysis of the Greek New Testament. Rome: Biblical Institute Press.

 

Philip du Toit

 

Bespreek dit hier.



[1] Eie aksentuering.

[2] M.b.t. die onverklaarbaarheid van die sonde verwys meeste na Jes 5.  Hier word gepraat van God se wingerd wat vrugte moes dra en nie het nie.  Vers 4 sę bv.: “Waarom het ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?”  Hier word verwydering van God geďmpliseer, en veral die verkeerde rigting wat die volk ingeslaan het.  Dit hou verband met die sonde van die volk, maar die blote die feit dat die skrywer vra: “waarom,” sę nog nie dat die sonde inherent onverklaarbaar is nie.  Dit beskryf die gevoel en die vrae wat by God teenwoordig is.

[3]Vgl. die jongste tekskritiese gegewens. (Dit verskil van die 1933 vertaling).

[4]Vertalings in die 1983 Afrikaanse Vertaling wat praat van vryspraak “omdat” hy (of iemand) glo, is daarom vir menige teoloë ‘n verleentheid (bv. Rm 1:17; 3:28; 4:9,11,22,23; 5:1; 11:20; Gl 3:11; Flp 3:9; Kol 2:12; Heb 10:38; 11:3-5,7-9,11,17,20-24,27-31; 1 Pt 1:5).