Weerlegging van die Proefskrif wat God ontken

 

Jacobus Wilhelm Gericke 2003.  “Does Yahweh exist? A philosophical-critical reconstruction of the case against realism in Old Testament Theology.”  Doktorale proefskrif in Ou Testament. Universiteit van Pretoria. Die proefskrif is beskikbaar op http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-03192004-135203/

 

Inhoud

 

Agtergrond en motivering

Oor logika, kontradiksies en harmonisering

Kardinale dokumente

Inleiding

Metodologie

Foutiewe verwysings

Argument 1

Argument 2

Argument 3

Argument 4

Argument 5

Argument 6

Argument 7

Gevolgtrekkings en slot

 

Agtergrond en motivering

 

Ek het Jaco leer ken op ‘n internet-gespreksforum as “Wedergestorwe Christen” (WC).  Jaco se tragiese storie van hoe hy eers ‘n fundamentalistiese, fanatiese Christen was wat later ‘n totale omkering ondergaan het deur middel van sy teologiese studies, en alle sekerhede in God en die Bybel prysgegee het en sy geloof verloor het, het baie opslae gemaak in ‘n groot aantal Christene se geloofsbelewenis.  Maar meer as dit.  Dit het ook die nie-gelowiges in groot getalle gelok om saam te gesels oor baie van hierdie einste sake waaraan Jaco sy geloof verloor het.  Sy storie kan in die aanhangsels aan sy proefskrif (skakel hierbo) gelees word.  Wat opval oor die geloofskrisis waarin hy homself nou bevind is juis omdat hy volhou dat sy krisis juis ontstaan het omdat hy (soos hy sê) die Bybel ernstig opgeneem het en alles gelees het vir wat dit sê (klaarblyklik sonder om vooropgestelde dogma op die teks af te dwing).  Hy is dus huiwerig om homself ‘n “ateïs” te noem, omdat hy, juis a.g.v. sy agtergrond, homself nie heeltemal wil los maak van die term “Christen” nie.  Die realiteit van die saak is dat menige gelowiges deur sy invloed begin het om hulle eie geloof in God en die Bybel prys te gee.

 

Die primêre motivering vir hierdie aantekeninge is om as hulpmiddel te dien vir gelowiges wat baie dieselfde vrae het as Jaco, of wat met kritiek teen die betroubaarheid van die Bybel gekonfronteer word.  Die bedoeling is om hulp te verskaf aan Christene om hulleself teenoor hierdie tipe kritiek te verantwoord.  As ek sien wat die invloed is van liberale teologie op die geloofslewe van baie gelowiges, en dat baie selfs hulle geloof daardeur verloor het, dring dit my om my hulp aan te bied deur middel van my eie verstaan van God en die Bybel, asook my persoonlike getuienis.  Hoewel Jaco telkens sê hy is oop vir kommentaar en sê dat hy hulp soek in sy krisis, is hierdie aantekeninge nie bedoel om vir Jaco anders te oortuig nie.  Natuurlik verwag ek nie dat Jaco eensklaps na die lees van hierdie aantekeninge (indien hy dit lees) skielik sy teologie of uitkyk gaan verander nie.  Trouens, ek glo vas dat net God se Heilige Gees sulke werk in mense se lewens kan doen.  Ek antisipeer eerder dat Jaco by die lees hiervan dit sal afmaak as die aantekeninge van ‘n fundamentalis (wat ek terloops nie is nie – sal later meer daarop ingaan) wat niks van sy krisis verstaan nie en vanuit ‘n totaal ander paradigma redeneer.  Voorts antisipeer ek dat Jaco waarskynlik kan dink ek is arrogant om te dink ek kan sy proefskrif so maklik “weerlê.”  Daarom wil ek die term “weerlê” kwalifiseer.  Uit die aard van die saak, omdat ek vanuit ‘n ander verstaansparadigma as Jaco werk, en ek nie met die bevindings van sy studie saamstem nie, noem ek dit weerlegging.  Maar ek verstaan “weerlegging” bloot as my verantwoordelikheid en roeping om vanuit my oortuiging en verstaan van wat reg en waar is te reageer op dit wat ek as valse lering of misleiding beskou.  2 Tim 4:2 sê: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.”  Met weerlegging bedoel ek nie “onbetwisbaar teenbewys” nie.  Ek dink gewoon dat menslike verstaan op hierdie aarde te gebroke is daarvoor.  Ek bedoel ook nie dat ek dink my interpretasies is verhewe bo korreksie nie. 

 

Dit bring my by my sekondêre motivering vir die skryf van hierdie aantekeninge, en dit is om myself te verantwoord ten opsigte van die konklusies van hierdie proefskrif, asook ten opsigte van die moontlike probleemareas en moontlike probleemtekste wat die proefskrif aanspreek.  Ek wil nie summier al die moontlike probleme wat Jaco op die tafel bring en al die tekste wat moontlike verstaans-probleme mag hê sondermeer van die tafel probeer afvee nie.  Ek gee wel toe dat daar moeilik verstaanbare tekste is wat Jaco op die tafel plaas, maar myns insiens kan dit binne ‘n volwasse, beskeie teologiese verstaan geïntegreer word sonder om in ‘n werklike “cognitive dissonance” posisie te beland.  Daarmee saam verstaan ek ook dat die menslike rede en logika gewoon te gebrekkig is om alle dinge wat die Bybel sê oor God en sy karakter volledig te verstaan.  Die tipe “probleemtekste” wat Jaco aanhaal sou ek sê dien die doel om mens se eie teologie, jou dogmatiek (veral jou verstaan van God) en jou eie Skrifbeskouing te verryk, eerder as om wesenlike teologiese- en filosofiese teenstrydighede in die Bybel op te merk en sodoende die baba by die badwater uit te gooi.  Maar daarmee saam gee ek ook te kenne dat ek myself ten sterkste distansieer van die teologiese- en filosofies-kritiese aannames en konklusies van sy proefskrif.

 

Oor logika, kontradiksies en harmonisering

 

Die eerste vraag wat mens moet vra wanneer mens na ‘n proefskrif soos hierdie kyk, is: wat is ‘n kontradiksie?  ‘n Kontradiksie is iets wat bots met logika.  Nou sou mens kon vra: watter logika?  Dit is inderdaad een van my onderliggende vrae oor die uitgangspunte van Jaco se proefskrif.  Soos waarop ek later sal terugkom, sou mens meer geneig wees om kontradiksies uit te wys as jou logika reglynig of simplisties is as wanneer jou logika ruimte laat vir diverse gesigshoeke.  Natuurlik is daar bepaalde “constraints” (beperkings / grense) oor wat nog kan deurgaan as logika.  Mense se dogma oor God is hulle eie logiese konstruk waaraan hulle verstaan van God gemeet word.  Logika kan te eng wees (soos bv. die skolastiese denke) of te ruim (bv. vorme van Boeddhisme of baie vorme van postmoderne denke).  Soos ek later sal verduidelik is my gevoel reg deur die proefskrif dat Jaco met ‘n baie eng logika werk, en dat dit een van die onderliggende redes is waarom hy in die krisis beland het waarin hy nou is.

 

Harmonisering is nie noodwendig om moontlike kontradiksies in ‘n eng logiese skema in te forseer nie.  In terme van die Bybel is dit belangrik om bewus te wees daarvan dat die betekenis van ‘n teks nie noodwendig “voor-die-hand-liggend” is nie, en dat soms onder die oppervlak gesoek moet word vir die werklike betekenis.  Ander faktore wat die interpretasie bemoeilik is die taal en kulturele konteks van die Bybelse teks.  Baie van hierdie faktore is onbekend aan ons of die afleidings wat ons oor die betekenis van die taal en konteks kan maak is onvolledig of ontoereikend.  In baie gevalle moet mens dan werk met moontlike betekenisse.  Om tekste te harmoniseer beteken nie dat alle moontlike probleemtekste by wyse van spreke dieselfde toonhoogte of dieselfde tipe klank moet maak nie.  Die “akkoord” wat gesoek moet word is nie noodwendig klassieke harmonie nie.  Soms kan die musiek jazz wees!  Jazz-akkoorde maak nie altyd vir ons kognitief sin nie, maar as ons dit hoor teen die groter geheel, bring dit nuwe dimensies en verryk ons oor.  In ‘n sekere sin kan dit vir baie mense te veel van ‘n “acquired taste” wees, waarmee baie mense eerder “cope” deur nie eers te probeer verstaan nie, maar net te aanvaar.  Ek self is egter iemand wat eerder geneig sal wees om dit wat ek glo ook redelik te verklaar – al is my verklaring soms effens gekompliseerd of selfs gebrekkig.  Om dus terug te kom na die harmonisering van tekste (wat natuurlik deel is van apologetiek)…  Harmonisering is voldoende deur slegs moontlike betekenisse aan te dui, en kontradiksies kan slegs gehandhaaf word as geen moontlike verklarings (tot harmonisering) gegee kan word nie. 

 

Die ander belangrike aspek van harmonisering wat aangetoon moet word is dat detail in tekste kan verskil in die sin dat dit aanvullend is.  M.a.w. beide tekste kan verstaan word binne ‘n moontlike scenario wat albei stelle detail kan bevat.

 

Hierdie definisie van “harmonisering” en “kontradiksie” moet deurgaans in gedagte gehou word in my verklaring van die tekste waarna die proefskrif verwys.

 

Kardinale dokumente

 

1. Voordat ek kritiek lewer op Jaco se interpretasies van spesifieke tekste oor Jahwe, is dit kardinaal dat die leser sal kyk na die oorsigtelike studie wat ek uitgewerk het oor die KARAKTER VAN GOD soos wat dit in die Bybel uitgbeeld word, met spesifieke verwysing na die Ou Testament.  Hierdeur word al reeds baie tekste oor God se karakter binne 'n groter verstaans-perspektief gebring.  Daardeur val verlerlei oënskynlike kontradiksies oor God en sy karakter in plek.  Trouens, ek het die stuk opgestel voordat ek geweet het dat die tekste ter sprake net so kom uit ‘n spesifieke seksie van Jaco se proefskrif (ek sal weer hierna verwys waar van toepassing).  Dit verduidelik veral die verhouding van die bose tot God, gevalle engele, God se liefde, heiligheid, regverdigheid, oordeel, straf, sy toelatende wil, en sy dinamiese en onpeilbare aard.  Sien Die karakter van God.

(http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=16&Itemid=15 )

 

2. Die volgende dokument waarna ek dikwels verwys, wat kardinaal is t.o.v. die agtergrondsverstaan van my kritiek is die dokument wat ek uitgewerk het oor die UITVERKIESING.  Dit lê ten grondslag van die manier waarop God se alwetendheid en voorkennis verstaan moet word in terme van die mens se vrye wil.  In kort: God weet nie vooraf wat die mens gaan kies nie (hoewel God op enige bepaalde tydstip weet wat in die gedagtes van mense aangaan – omdat Hy alomteenwoordig is), juis omdat dit die bestaansdoel van die mens is om met Hom in 'n wederkerige verhouding te staan waarin God ruimte geskep het vir die outonome vrye keuse van die mens.  Individuele predestinasie wat as't ware "in beton gegiet sou wees" en enige vorm van fatalisme word dus afgewys.  Vir 'n uitgebreide verduideliking hiervan, sien Die uitverkiesing.

(http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_wrapper&Itemid=17 )

 

3. Die derde kardinale dokument waarna ek dikwels verwys is die dokument oor EVOLUSIE OF SKEPPING?.  Dit is ‘n wetenskaplike en teologiese bespreking oor die evolusieteorie, waarin die skepping in 6 letterlike dae wetenskaplik en teologies verantwoord word.  Sien Evolusie of Skepping?

(http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_wrapper&Itemid=20 )

 

Ek sou aanraai dat die leser ten minste vertroud sal wees met die inhoud van bogenoemde drie dokumente om die kritiek teen die proefskrif te verstaan.  Die ander dokumente waarna ek ook verwys in hierdie studie, wat belangrik is t.o.v. die verstaan van die kritiek wat ek lewer is:

 

4. Engele, demone en magte

(http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=17&Itemid=15 )

 

5. Die teodisee vraagstuk

(http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=18&Itemid=15 )

 

6. Die drie-eenheid

(http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=7&Itemid=15 )

 

Ek verwys gereeld na hierdie dokumente, waarvan die skakels in die dokument aktief is (mens kan klik daarop).

 

Inleiding

 

Jaco speel reg deur die proefskrif die rol van duiwelsadvokaat om die bestaan (ontologiese status) van Jahwe te bevraagteken.  Hy baseer hoofsaaklik sy argumente daarop dat hy meen dat die voorstelling van Jahwe in die Bybel so “pluralisties” en “divers” is, dat dit as “fiktief” aangedui kan word (p. 32 van hfst 1, sien ook hfst. 1 p. 6).  Sy bevraagtekening van die bestaan van Jahwe (die God van Abraham, Izak en Jakob) word gedoen aan die hand van sewe hoof-argumente (wat afsonderlik bespreek sal word).  Hy maak verder die hipotese dat enige aanspraak op realisme en die bestaan van God, wat gewortel en verwant is aan ‘n studie van die teks van die Ou Testament, problematies is (hfst. 1 p. 8).

 

Metodologie

 

Die eerste probleem wat ek opmerk is dat Jaco se proefskrif hoofsaaklik werk op die basis van makro-analise.  Filosofies-kritiese vrae word aan die teks gevra, eerder as wat diepgaande eksegese van die teks of individuele tekste self gemaak word.  Vir Jaco is mikro-analise, wat te doen het met eksegese en die betekenis van individuele tekste self, slegs ‘n “voorlopige stap” tot die groter folosofiese konklusies (p.24 van hfst 1).  Hierdie blyk myns insiens die grootste leemte in sy metodologie te wees, want die betekenis en verstaan van die teks is kardinaal voordat enige filosofiese afleidings daarvan gemaak kan word.  Die gevaar bestaan dat die filosofiese agenda die makro-analise kan stuur en bepaal en so individuele tekste eensydig of oppervlakkig kan interpreteer.

 

Die tweede metodologiese tekortkoming is die gebrek aan ekstensiewe ondersoek van religieuse taal, die veronderstelde of geantisipeerde natuur van God, die verhouding tussen die spesifieke religieuse diskoers, ens.  (Dit hou ook verband met die onderskeie dogmatiese beskouings oor die karakter van God).  Hy gee toe dat hierdie sake slegs van sekonkdêre belang is en dat die aandag wat daaraan bestee gaan word beperk is. (p. 21 van hfst 1.).  Hierin skuil die gevaar om eensydig slegs bepaalde dogma's oor die natuur van God in oënskou te neem wat in die hand speel van die voorveronderstellings van die duiwelsadvokaat.  En dit terwyl onderskeie dogma's slegs voorlopige en beperkte formuleringe is van die karakter van God.  Dogma is slegs bepaalde interpretasies van mense oor God en kan nooit as finale of betroubare weerspieëling van God se karakter beskou word nie. 

 

Die duiwelsadvokaat het ook 'n bepaalde interpretasie op die tekste wat hy navors.  Enige lees van enige teks ontsnap in elk geval nooit die element van interpretasie nie.  Die navorser se interpretasie word uiteindelik afgespeel teen ander interpretasies – dogma teen dogma.  Selfs as hy argumenteer (p. 23 van hfst 1) dat argumente van die duiwelsadvokaat gemik moet wees teen "spesifieke uitbeeldings van Jahwe in die Ou Testamentiese tekste," ontsnap dit nog nie die element van interpretasie van die kant van die navorser nie. 

 

Foutiewe verwysings

 

Jaco lys ‘n hele aantal foutiewe teksverwysings.  Daarmee bedoel ek nie dat ek nie met sy interpretasie van die tekste saamstem nie, en ek verwys ook nie na variante teksverwysings in verskillende vertalings nie (bv. dat die teksverwysings van Psalms verskil tussen vertalings), maar dat die verwysings doodgewoon tegnies verkeerd is.  Waar ek kon het ek die bedoelde tekste probeer opspoor en dan daarop gereageer.  Foutiewe tekste het ek onderstreep en rooi gemerk.  Ek het egter nie alle foutiewe verwysings aangeteken nie.

 

Argument 1

 

Jaco se eerste argument dat Jahwe nie bestaan nie, is die van teologiese pluralisme.  Hy lys 'n klompie tekste wat volgens hom mekaar weerspreek en hanteer dit van huis uit as kontradiksies sonder om dit teologies en eksegeties te ondersoek.  Trouens, by nadere ondersoek blyk dit dat die sg. kontradiksies in baie gevalle kunsmatig is en in ander gevalle baie eklektiese interpretasies as basis gebruik, en nie gebou is op deeglike eksegese soos Jaco suggereer nie.

 

2 Kon 5:15; Jes 45:5 praat daarvan dat daar geen ander God as Jahwe is nie. 

Gen 3:22 sê nie dat daar ander gode is nie maar dat God uit meervoudige persone bestaan (drie-enig); Rigt 11:24 praat van die god Kamos van die Amoriete; Ps 82:1 verwys na heersers en nie na werklike gode nie (sien konteks: veral vers 7); Ps 97:7 praat van afgode (waarskynlik gevalle engele / demone) wat "platval" voor God (vgl. "elke knie sal buig…") (sien Die karakter van God).

Ps 139; Jes 40-55 en Spr 15:11 praat van God se alwetendheid, maar soos ek uitwys (Die uitverkiesing) weet God nie noodwendig watter keuses mense gaan uitoefen nie. Gen 18:21; 22:12 is bloot manifestasies / verteenwoordigers van God (later bespreek).  Deut 8:2 praat oor selfkennis van jou eie hart.  Deut 13:8 het nie verband met die onderwerp ter tafel nie.  Soos Jaco later aan my bekend gemaak het, het  hy eintlik Deut 13:1-3 bedoel.  God beproef / toets die mens "of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel."  God het ook aan die mens 'n vrye keuse gegee.  Die mens se toewyding aan God (sy liefde vir God) word nie gepredestineer nie (anders as wat hiper-gereformeerde denke suggereer).  Dit is onderworpe aan die mens se eie wil en keuse. Die mens se vrye keuse is dit wat hom uitsonder as skeppingskroon en hom in die posisie plaas om in 'n wederkerige, persoonlike verhouding met God te tree.  God laat die ruimte / moontlikheid dat die mens ook teen Hom kan kies.  As die mens se keuses dus nie gepredestineer is nie, beteken dit dat God nie noodwendig vooraf weet wat die mens gaan kies nie.  Baie mense kan God dien met die lippe en selfs met die hart (wat God op enige tydstip ken of weet), maar as beproewing kom, dan "vou" hulle.  Wat beteken “werklik liefhet”?  Of die mens werklik vir God liefhet, kan slegs bepaal word in beproewing sodat God kan vasstel of die mens enduit gaan kies om God bo alles lief te hê.  God se alwetendheid behels dat Hy alles van almal weet op enige gegewe tydstip (ook die mens se gedagtes) op so 'n manier dat die wil / keuse van die mens steeds waarlik vry is (sien Die uitverkiesing).  Die begrip “waarlik liefhet” in Deut 13:3 bevat onderliggend dus die element van die nie-gepredestineerde wilsvryheid van die mens.

Die kontrastering dat Jahwe die toekoms ken (Gen 15; Jes 40-55; Ps 139 en Dan 1-12) en nie ken nie (Gen 1-11,18; Job 1-2; Jon 3) is baie vaag en kunsmatig.  Daar moet in elk geval ‘n onderskeid getref word in die keuse van mense (wat God nie noodwendig vooraf weet nie) en dit wat God beoog en beplan om te doen.  God kan beplan om die toekoms te rig en te laat uitkom soos Hy wil – selfs ongeag wat mense kies.  Hy kan in elk geval ook mense se keuses beïnvloed as Hy wil of hulle harte verhard (sien Die uitverkiesing).

God wat berou kan kry en sy gedagte verander is een van die dinamiese aspekte van God se karakter (Gen 6; Eks 32; Num 14; Amos 7 – sien Die karakter van God).  Num 23:19 en 1 Sam 15:29 het te doen met God se getrouheid aan sy eie woord en beloftes.

Die verhouding waarin die bose tot Jahwe staan word in Die karakter van God bespreek (Jes 45:7; Kl 3:17; Am 3:8 teenoor Gen 6,18; Ps 82; Mal 1-3).

Jahwe wat dikwels (Gn 2-36, Ex 1-40) en selde (Pred 1-12; Ester) aan mense verskyn is ‘n kunsmatige onderskeiding – dit hang af van die spesifieke omstandighede, die mense se verhouding met God, asook die momente van God se besondere heils-openbaring in die geskiedenis.

Die kontrastering van Jahwe wat in oënskynlik menslike vorm (Gen 1:26; 18; 32; Dan 7:9) en nie-menslike vorms bestaan (Deut 4:12; Job 10:4).  Hier kom te veel verskillende aspekte na vore om hierdie tipe vergelyking te tref.  Bv. Gen 1:26 praat van die mens wat in God se beeld geskape is en Dan 7:9 praat van 'n bepaalde visioen wat Daniël gesien het (wat nie noodwendig 'n presiese replika van die wese van God hoef te wees nie).  God kan ook op verskillende maniere manifesteer.  In Deut 4:12 manifesteer God deur die vuur.  In Job 10:4 word die vraag gevra of God soos 'n mens sien (klaarblyklik nie, wat Hy kan alles sien).

Die kontrastering van Jahwe wat sou rus "nodig" hê (Gen 2:2-3; Eks 31:17; Ps 44:24) teenoor dat Hy nooit slaap of sluimer nie (Ps 121:4; Jes 40:28), kan ook nie stand hou nie.  God se rus in Gen 2:2-3 het niks te doen met of God rus "nodig" gehad het nie, maar het te doen met die teken wat God vir die mens neergelê het, nl. om die sewende dag te heilig en tot rusdag te verklaar.  Eks 31:17 praat ook hiervan.  Ps 44:24 is beeldspraak en figuurlike taal om God tot aksie op te roep, en bedoel nie dat God werklik slaap nie (sien volgende vers).

Die afspeel van God as nasionale God (Deut 4:19; Rigt 11:24; Ps 147:20) of universele God (Amos 9:17; Dan 1-12; Job 1; Mal 1:11) kan nie stand hou nie, want die een sluit nie noodwendig die ander uit nie.  In een sin is God die God van alle nasies, in die sin dat God in beheer staan van die ganse mensdom en die skepping, en bv. reën gee ook vir ongelowiges en hulle in die lewe hou, maar in terme van verbond en persoonlike verhouding is Jahwe net die God van sy eie mense.

Jahwe se alomteenwoordigheid (Ps 139:7-10; Jer 23:23-24) word ook nie weerspreek deur Gen 4:16; 11:5; 18:21; 1 Kon 19:11-12 nie.  Kain wat "weggegaan het van die aangesig van die Here" (Gen 4:16) beteken nie dat hy uit God se alomteenwoordigheid beweeg het nie, maar dat hy uit 'n persoonlike verhouding met God getree het.  Gen 11:5: God se "neerdaal" (figuurlik) is nie 'n aanduider van God se lokus nie, maar van God se verwerdiging.  Dit word voorts retories gebruik om God se minagting van die toring van die mense uit te druk.  Gen 18:21 se "neerdaal" praat van God wat in menslike vorm wil verskyn.  1 Kon 19:11-12 is 'n bepaalde manifestasie van God.

Jahwe wat uitgebeeld word as "bang" en "onseker van Homself" (Gen 11:6; 18:17) teenoor Jahwe wat vreesloos en in beheer is (Jes 40-55) is ook nie akkuraat nie.  Gen 11:6 is allermins 'n erkenning van "bangheid" of "onsekerheid" deur God, maar God sê dat (omdat hulle so saam werk en dieselfde taal praat) niks hulle meer daarvan sal weerhou om hulle eie voornemes te verwesenlik nie – tensy God natuurlik ingryp.  En dit het Hy ook gedoen.  God was nie deur hulle bedreig nie, maar eerder deur hulle gebelg.

 

Jaco is dus nie reg om net hierna te beweer dat elke teksgedeelte in eie reg bestudeer is met in-agneming van elk se eie konteks nie.  As mens hierdie tekste-lysie lees, kry mens eerder die indruk hy het dit maar net by iemand anders "geknip en geplak."  Die daaropvolgende (voorlopige) konklusies staan na my mening dus op uiters losse skroewe.  En selfs al laat mens ruimskoots toe vir diverse uitbeeldings van God se kraktertrekke, moet die skrywers se eie persepsies en gesigshoeke eers verreken word voordat ontologiese afleidings oor die bestaan van God gemaak kan word (juis omdat menslike gesigshoeke nooit 'n perfekte of volledige refleksie van God se karakter kan wees nie).  Dit word nie gedoen nie.  Voorts moet mens ook vra na die logika / dogma waaraan hierdie kontraste gemeet word.  Is dit geldige kriteria?  Myns insiens nie, want dit blyk asof die tipe onderliggende dogma waaraan Jaco die eienskappe / karakter van Jahwe meet, neig na 'n simplistiese uitbeelding van God se karakter.

 

Jaco borduur dan voort en postuleer 'n aantal "wedersyds uitsluitende" weergawes van wat Jahwe in die verlede gedoen het.

 

Hy lys:

"Weersprekende skeppingsverhale" (bv. Gn 1 en 2; Ps 74 / Job 26; Job 38-40; Jes 43; 51; Spr 8; Ps 90).

Wat Gen 1 en 2 betref:

By nadere ondersoek blyk dit egter dat Gen 1 ‘n sekere chronologie daar stel, maar dat Gen 2 slegs ‘n verduideliking en ‘n uitbreiding is op sekere aspekte van Gen 1. 

Gen 1:11 “En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so.”

Gen 2:4 “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.  Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, (5) was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. (6) Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.”

Gen 2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”

Gen 2:8 “Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.”

Gen 2:9 “En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.”

Gen 2:10 “En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak…”

Gen 2:15 “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.”

Gen 2:18 “Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.”

Gen 2:21 “Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap…”

Gen 2 sê hoe die plante moes water kry om te groei.  Dit praat van “toe” die aarde en die hemel gemaak is.  Dit dui nie noodwendig op ‘n spesifieke dag nie.  Die 1933 Afrikaans se “die dag toe” kan misleidend wees, want die Hebreeuse “yôm” dui nie noodwendig op ‘n spesifieke “dag” nie, maar word dikwels figuurlik gebruik om ‘n periode of ‘n tydperk aan te dui (sien Strongs; vgl. ook die eskatologiese “dag van die Here” wat nie noodwendig op een dag dui nie).  Gill (in John Gill's Exposition of the Entire Bible) sê: “meaning not any particular day, not the first day, in which the heavens and the earth were created; but referring to the whole time of the six days, in which everything in them, and relating to them, were made.”  Die teks sê nie dat die mis op ‘n spesifieke dag oor die aarde gekom het nie.  Die gedeelte oor die mis sê eerder hoe die bevogtiging van die plante geskied het.  Dit impliseer ook nie dat daar nie plante of struike op aarde was nie, maar wel dat hulle nog nie in die “âdeh” (uitbreiding, veld, bewerkte land) was nie (sien Brown-Driver-Briggs en Strongs se lexica).

Baie sê dat die mens as gevolg van Gen 2 nie op die sesde dag gemaak kon wees nie, aangesien dit net ná die plantlewe genoem word (2:7), maar die teks sê nie dat die mens spesifiek op dieselfde dag gemaak is as toe die plante water gekry het nie.  Eerder as wat dit ‘n tydsaanduiding is, gee dit ‘n verduideliking oor hoe die mens gemaak is – volgens Henry: “a more particular account of the creation of man.”  Gen 2:7 sê: “So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”  Die term “tôledâh” in 2:4 (afstamming, familie, geskiedenis) dui ook daarop dat ‘n beter kyk gegee word op die verloop van gebeure in terme van die mens se rol en betrokkenheid in die gebeure aan die begin.  Dit word dus veral uit die perspektief van die mens se geskiedenis geskryf, en nie in terme van die chronologie van die skepping self nie.  Plante word bv. genoem juis omdat die mens dit gebruik as voedsel (Henry in Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible).

Die ander punt waarop sommige meen daar 'n teenstrydigheid bestaan met die chronologie in Gen 1, is die gedeelte in Gen 2:18-21.

Gen 2:18-21 "Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.  (19)  En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.  (20)  So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.  (21)  Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak."

Kritici meen dat Gen 2:18-21 impliseer dat die diere die mens gemaak is, omdat God gesê het dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie (vers 18).  Vers 19-20 dui op die feit dat God diere geskep het, dat die mens name aan die diere gegee het en dat God nie vir die mens 'n hulp onder die diere gevind het wat by hom pas nie.  Vers 21 vertel hoe God vanuit een van Adam se ribbebene die vrou gevormeer het.  Vers 19 en 20 begin beide met die Hebreeuse "waw."  Hoewel "waw" baie verskillende dinge kan beteken (bv. "en," "want," "so," "ook") sou ek sê gee vers 19-20 die motivering vir waarom God die hulp (vrou) gemaak het waarvan vers 21 praat, eerder as dat dit ‘n tydsaanduiding is vir die skep van die diere.  Mens sou vers 20 kon vertaal met: “Want die HERE God het uit die aarde geformeer…”  Sien bv. die Statevertaling: “Want als de HEERE God uit de aarde al het gedierte des velds…”  Webster, wat ook ‘n vertaling van die hele Bybel gedoen het, laat die "waw" onvertaald, en vertaal gewoon: “Out of the ground Yahweh God formed every animal of the field…”  Die "waw" kan nie gebruik word om 'n noodwendige chronologie aan te toon tussen vers 18 en 19 nie.  Daar is dus geen tekstuele merkers of aanduiders wat 'n chronologie impliseer of noodsaak nie.  Vers 19-20 stel bloot die feit dat God diere gemaak het en sê nie pertinent dat Hy dit die mens gemaak het nie.  Ook in die betekenis van die teks is daar geen aanduiders dat die diere noodwendig die mens gemaak is nie.  Ek sou eerder sê vers 18 gee die tema aan van die inligting wat daarop volg (vers 19-24), naamlik die feit dat God gevind het dis nie goed vir die mens om alleen te wees nie en dat Hy besluit het om vir hom 'n hulp (vrou) te maak.  Vers 19-24 kleur dan God se motivering en sy werkwyse in om by hierdie doel uit te kom.

Die hele trant van Gen 2 is in elk geval van so aard dat dit nie aanspraak maak op chronologie nie, maar bloot meer inligting en detail gee oor sekere aspekte van God se skepping wat nie in Gen 1 vervat is nie.  Gen 1 maak wel aanspraak op 'n chronologie, en aangesien Gen 2 dus nie aanspraak maak op chronologie nie, is daar dus geen grondige rede om ‘n teenstrydigheid op te merk tussen Gen 1 en Gen 2 nie.

 

Ps 74 is 'n gedig oor die grootheid van God se verlossingswerk in die geskiedenis en sy betrokkenheid by die skepping.  Dit is ryk aan metafore, beeldspraak en digterlike taal en besing God se lof eerder as wat dit 'n tegniese "skeppings-weergawe" (creation account) gee. 

Job 26 is ook metaforiese taal om God se beheer oor die natuur en sy almag oor die geskape wêreld te beskryf.  Dit gebruik ook personifikasie (bv. vers 11: die pilare [metafoor]… staan verstom [personifikasie]).  Net soos Ps 74 gee dit geen tegniese weergawe van die skepping nie, maar besing God se almag en die majestueusheid van sy skepping.

Job 38-40 praat ook in digterlike taal oor bepaalde aspekte van God se skepping wat in metaforiese taal die prag, krag en majesteit beskryf van dinge soos die see, weersverskynsels, spesifieke diere / voëls, ens.  Weereens, dit is nie 'n bepaalde "skeppings-weergawe" nie.

Jes 43 praat eerder van God se werk en betrokkenheid by sy volk in die geskiedenis as dat dit 'n "skeppings-weergawe" is.

Jes 51 is ook metaforiese taal vir hoe God sy volk gelei en gerig het in die geskiedenis.  Dit het niks met die skepping te doen nie.

Spr 8 is 'n gedig / lied oor die wysheid en die oorsprong daarvan (van voor die skepping: klaarblyklik as eienskap van God).

Ps 90 praat van God wat voor die skepping al daar was en besing die grootheid en majestueusheid van God.

 

Gen 4:26; Eks 6:3; Jos 24 is ook nie weersprekende getuienis oor die openbaring van die naam Jahwe nie.  Mense het al vroeër die Here by die naam Jahwe aangeroep (Gen 4:26).  Eks 6:3 sê: “by die naam Jahwe het hulle my nie geken (yada) nie.”  Hierdie frase beteken nie dat hulle nie God by daardie naam genoem het nie, maar dat hulle hom nie persoonlik geken het as Jahwe soos Moses nie. Die frase “om die naam van Jahwe te ken” of die frase “om Jahwe te ken” word gereëld op hierdie manier gebruik.  Sien bv. 1 Sam 3:7, waar Samuel “nog nie Jahwe geken het nie,” hoewel hy “gedien het voor Jahwe” (1 Sam 2:18) en “in guns by Jahwe toegeneem het” (1 Sam 2:26).  Dieselfde tipe gebruik is in Eks 6:7; 16:11-12; 29:46.  Vir ‘n baie goeie voorbeeld, sien: Jes 52:5-6: “Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster.  (6)  Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek!”  Sien ook Jer 16:21!  Sien http://www.apologeticspress.org/articles/2881

Die weergawes van 2 Sam 24:1 en 1 Kron 21:1 word baie maklik verduidelik met begrip vir die verhouding waarin die bose tot God staan (sien Die karakter van God).

Om Jahwe se interaksie en ingrype met die menslike wêreld in Gen 1-35; Jon 1-4 en Pred 1-12 as “weersprekend” te sien, kan nie stand hou nie, veral as die persepsies van mense (hoe hulle God beleef) in gedagte gehou word, as die intensies en oogmerke van die skrywers in gedagte gehou word en as God se openbaring(s) aan die mens verstaan word as progressiewe heils-openbaring met spesifieke uitstaande momente daarin.

Daar is ook geen rede om die gedeeltes in Eks 12-40; Lev 1-27 en Jer 7:22 as “weersprekend” te sien nie.  Dit verwys na onderskeie momente van hoe God die wet en sy verbond aan sy volk gegee het.

Om “weersprekende verhoudings tussen Jahwe en die ‘chaosmagte’” in te lees in Ps 74:14; Ps 104:26 en Jes 27:1 is ook nie akkuraat nie.  Ps 74:14 verwys gewoon na “see-skepsel / seediere” wat God aan die volk as voedsel voorsien het (sien die konteks).  In Ps 104:26, verwys “leviatan” na ‘n krokodilagtige of draakagtige reptiel of seedier (later in meer detail bespreek).  In Jes 27:1 word “leviatan” metafories gebruik vir die Satan as synde dat hy 'n soort draak of seedier is (vgl. Op 12-13).

Om die weergawes van die dekaloog in Eks 20 en Deut 5 as “weersprekend” te beskou bloot omdat hulle nie “woord vir woord” met mekaar ooreenkom nie, is om die Bybel baie simplisties te interpreteer.  Die inhoud en essensie van beide is identies.  Eks 34 vertel van waar Moses vir die tweede keer na die berg Sinaï gegaan het en weer twee kliptafels saamgeneem het.  Hierdie gedeelte bevat nie die dekaloog as sodanig nie, maar belig die momente van God se openbaring aan Moses en sekere aspekte van sy wet en verbond.

Om die vooruitskouende visioene en profesieë deur Jahwe in Jes 65-66 en Dan 11-12 as “weersprekend” te beskou is verregaande.  1) Eers moet mens kyk of na dieselfde eskatologiese momente verwys word, 2) of dieselfde aspekte daarvan belig word, 3) of dit visioene of profesieë is, ens.  Pred 1:4-9 en 3:15 is nie eskatologiese vooruitskouings nie, maar vertel bloot hoe die loop van die lewe is.

Dat Jaco die verhouding van die dooies tot Jahwe (Gen, Deut, Ps 6:4-5; 88:10-12; Jes 38:18-19; 1 Sam 28; Ps 49;73, Jes 14; 26 en Dan 12; Pred 9:10) as “weersprekend” bestempel, is vergesog omdat in hierdie gedeeltes slegs bepaalde aspekte van die dood belig word, soos dat hulle nie God sal loof nie (Ps 6; Jes 38).  Dan 12 praat van die opwekking van die dooies in die verre toekoms.  Pred 9 sê daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid, ens. nie.  Die inligting oor die toestand van die dode is baie kripties in die Bybel.  Daar word geen volledige verstaan van die doderyk in die Bybel aangebied nie.  Om hoë-vlak gevolgtrekkings daaruit af te lei oor die presiese status van die dooies, of om kontradiksies daarin op te merk is nie moontlik nie.  Die data daaroor is te min en onvolledig.

 

Die volgende area waarin Jaco ‘n aantal beweerde kontradiksies inlees hou verband met Jahwe se wil en die manier hoe Hy dit eties toepas.

 

Die kontrastering wat gemaak word dat Jahwe dit as “reg” (Gen 3:16-19; 9:22; Eks 20:5; 2 Sam 21:1) of “verkeerd” (Deut 24:16; Eseg 18:4) sien dat kinders “gestraf word vir die sonde van Vaders,” kan soos volg verklaar word: 

Gen 3:16-19 se vloek wat God uitspreek bevat nie die komponent van “straf van kinders” nie, maar het te doen met Adam en Eva se eie straf en die vloek op die natuur.  Die kinders wat by implikasie daaruit sal voortkom dra nie een of ander “straf” nie, maar die moontlikheid dat hulle hoegenaamd kan kinders hê is geskep (=genade), wat andersins nie die geval sou wees nie.

Gen 9:22 praat van Gam wat gesondig het toe hy sy vader naak gesien het.  Sy sonde was nie so seer daarin dat hy sy vader naak gesien het nie, hoewel dit waarskynlik nie betaamlik was vir ‘n seun om sommar in sy pa se tent te gaan nie (?), maar sy sonde het eintlik daarin gelê dat hy homself daarin verlekker het en dit aan sy broers gaan vertel het.  Vanuit ander vloedverhale (wat kopieë was van die ware verhaal: later bespreek) blyk dit dat Gam ‘n slegte en arrogante persoon was: ‘n korrupteerder van die mensheid.  Hy was ook die vader van Kus, wat die Vader was van Nimrod, wat begin het om die geweldenaar op aarde te wees (Gen 10).  En dit nie as gevolg van die vloek wat Noag oor Kanaän uitgespreek het nie (want dit het bloot daaroor gegaan dat sy nageslag sy broers se nageslag moes dien: Gen 9:25), maar myns insiens het Gam sy slegte gesindheid oorgedra op sy kinders en kleinkinders.  Vloeke oor nageslagte is in elk geval nie dieselfde as straf nie, want mense in “vervloekte nageslagte” of heidense nageslagte kon ook in dieselfde verhouding met Jahwe staan as hulle hulle tot Hom bekeer het (bv. Rut).

Eks 20:5, wat praat van God wat “die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat,” het nie te doen met straf aan die kinders nie, maar het te doen met die gevolge en implikasies van iemand se sonde op sy kinders.  Gewoonlik dra so iemand sy sonde of slegte gesindheid oor op sy kinders.  In hierdie teks is God se besoeking in elk geval by kwalifikasie: “van die wat my haat,” m.a.w. “waarvan die kinders ook (dieselfde) misdaad pleeg.”

Ook in 2 Sam 21:1 moet die hongersnood waarin Dawid homself bevind het eerder gesien word as nagevolg en implikasie van Saul se sonde, eerder as ‘n straf vir Dawid.  Dit is in elk geval nie net Dawid wat hieronder gely het nie, maar die ganse Israel.

(sien ook Die karakter van God vir hoe God se straf verstaan moet word).

Die aantyging dat Jahwe “beveel dat die aanbidding gesentraliseer en beperk moet word tot een spesifieke plek” (met verw. na Deut 12:5) kan nie volgehou word nie.  Hier word bloot gesê dat die volk die plek van aanbbidding (tempel) moet opsoek en daarheen moet kom, maar nie dat aanbidding tot Jahwe “beperk” gaan wees tot ‘n spesifieke plek of ruimte nie.

Jaco kontrasteer die gedeeltes wat suggereer dat Moabiete nie tot die gemeenskap toegelaat mag word nie (Deut 23:3; Neh 13:24), of wel tot die gemeenskap toegelaat word (Rut 1-4).  Die belangrike onderskeid hier is dat Deut 23:3 en Neh 13:1 praat daarvan dat hulle “van die vergadering” (byeenkomste) verbied word.  Rut 1-4 vermeld dat die Jode met Moabitiese vroue in die huwelik getree het en dat hulle later by die volk aangesluit het (proseliete).  Huwelike met Moabitiese vroue word nie in die wet verbied soos met Kanaänitiese vroue nie (Deut 7:3).  Neh 13:24-25 vermeld bloot Nehemia se misnoë daarmee dat die kinders van die Jode wat o.a. met Moabitiese vroue getrou het, nie Joods gepraat het nie (en klaarblyklik nie tot die Joodse geloof oorgekom het nie).

Wat die moorde van Jehu betref.  Hoewel die moorde in 2 Kon 10 Jahwe se wil was, was dit op sigself nie die rede waarom Jahwe “die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek” het nie (Hos 1:4).  Dit was die motief daarvan en die manier daarvan wat verkeerd was, nl. dat hy sy eie eer daarvoor gesoek het en sy eie wraak met God se opdrag vermeng het.  Hy het dit gedoen as vergelding teen die sondaars, maar nie met aversie teen die sonde nie, want hy het daarna “nie sorgvuldig in die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart gewandel nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie.” (2 Kon 10:31).

Die bewering dat Jahwe beveel het dat kinders deur die vuur (van Molog) moes gaan (o.g.v. Eseg 20:20-27) in teenstelling met bv. Jr 7:31, is nie korrek nie.  Eseg 20:26 se: “Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is.”  God se “verontreiniging deur hulle offergawes” was nie ‘n bevel van God asof Hy dit oor hulle gebring het nie, maar soos die konteks uitwys het God dit toegelaat dat hulle hulleself besoedel: “ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode…” (Eseg 20:31).

Die kontrastering van Jahwe wat “wou hê dat die mense ‘n koning moes hê” (Deut 17:14-15) en dat Hy “nie wou hê dat die mense ‘n koning moes hê nie” (1 Sam 8:5-8), hou nie water nie.  1 Sam 8:5-8 sê nie dat God nie ‘n koning wou hê nie.  Dit sê “die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig” (vers 6).  Daarop reageer God: (1Sa 8:7-9): “Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.  (8)  Soos al die werke wat hulle gedoen het, van dié dag af dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien het—so doen hulle ook met jou.  (9)  Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer.”  Hoewel God sy misnoë aan Samuel te kenne gegee het omdat hulle Hom verwerp het as hulle eintlike koning, was God steeds van voorneme om ‘n koning oor Israel te laat aanstel (vers 9).  Hy was beslis nie gekant daarteen nie.

In verband met Jahwe se wil of konings ryk of arm moet wees.  Deut 17:16-17 het te doen met ‘n beperking van die aantal perde (aangesien hulle nie moet teruggaan op die pad nie), vroue en hoeveelheid goud en silwer van die eerste koning (wat later Saul blyk te wees).  Dit op sigself is egter nie ‘n verbod op rykdom in die algemeen nie, maar slegs ‘n beperking op ‘n sekere dinge.  Wat God se wil is vir die eerste koning het in elk geval nie noodwendig toepassing op latere konings nie.  God se wil vir elke indidividu m.b.t. wat God aan elk toevertrou kan sekerlik verskil van persoon tot persoon.  God se gawe van rykdom aan Salomo het in sy konteks sin gemaak (1 Kon 3:13).  Die tiendes wat die koning moet neem en die slawe wat die koning sou oorneem is net een aspek wat in ‘n mate verband hou met die koning se rykdom, maar nie genoeg om af te lei dat God of vir of teen rykdom van konings is nie.  Weereens, dit hang af wat God aan individuele konings toevertou.

Word die toelating tot die vergadering van ontmandes deur Jahwe verbied in Deut 23:1 en in Jes 56:3 nie verbied nie?  Nee, Jes 56:3 sê niks oor die toelating van ontmandes tot die vergadering (geestelike byeenkomste) nie, maar dat hy nie moet sê “hy is 'n droë boom” nie.

Of dit geoorloof is om te trou of gemeenskap te hê met 'n broer of suster wat 'n ander moeder gehad het, word in Lev 18:9 verbied (sien ook Deut 27:22) en in 2 Sam 3:13 afgekeer.  In Gen 20:12 was dit wel geoorloof vir Abraham om met sy half-suster te trou, omdat hierdie wet eers later gekom het.

Die tipe offers vir sonde word in Jaco se proefskrif geproblematiseer: In Lev 4:14 'n jong bul vir die sondes van die volk, in Lev 9:3 'n kalf, 'n bokram en 'n lam; in Num 15:24 'n jong bul (nie 'n bokram soos Jaco verkeerdelik in sy proefskrif aandui nie).  Die kalf in Lev 9:3 en 'n jong bul is baie naby aan dieselfde ding, hulle ouderdom verskil net effens.

Betreffende die ouderdom waarop Leviete moet begin diens doen in die tempel (30 jaar in Num 4:3,23; 25 jaar in Num 8:24; en 20 jaar in 2 Kron 23:24).  Dit het verskil na gelang van die behoeftes en grootte van die tempel.

Die onderskeid wat Jaco maak dat Jahwe uitermate besorg is oor morele waardes en vroomheid (Spr 1-9) en nie uitermate besorg is oor morele waardes en vroomheid nie (Pred 5-9), is vaag en ongegrond.  Die spesifieke kontekste, die houding en gevoel van die skrywers en hulle onderskeie perspektiewe moet in ag geneem word.

 

Om net te beweer dat realisme summier gedekonstrueer is net deur bondige (ongegronde) interpretasies van ‘n paar tekste te lys, sonder die bereidheid om die kontekste te bespreek, is ‘n bietjie optimisties (p. 43).  Die tipe logika waaraan die tekste gedekonstrueer word is ook onder verdenking in terme daarvan dat dit neig na simplisme, en bv. nie voldoende rekening hou met die kompleksiteit van God se karakter, die kompleksiteit van die karakters van die Bybel en die gelaagdheid van die teks self nie.  In die gedeelte wat volg bespreek Jaco die bevindings van baie van die tradisie-kritici en die bronne-kritici sonder om teenargumente te verreken (p.44-52).  Jaco se stelling dat Noag, Jakob, Moses, ens. nie feitelik is nie, maar fiktiewe literêre konstrukte, word nie begrond of beredeneer vanuit verskillende hoeke nie, maar blyk slegs die konklusie te wees van sekere kritici (p. 46).  Die argument dat weergawes van Jahwe so verskil dat mens moet kies: “of die een weergawe of die ander,” is kunsmatig, want wat daarvan as beide weergawes inderdaad getrou is (as en waar dit inderdaad verband hou met Jahwe se karakter), en dat Jahwe se se karakter dalk net meer kompleks is as wat ge-antisipeer is?  Is “die een of die ander” die enigste twee opsies? (p. 46).  Die kritiek vanuit die bronne-kritiek wat op beweerde “onversoenbare” sienings van Jahwe dui, word verabsoluteer en nie teologies begrond nie (p.48).  Enige “onversoenbaarheid” moet aangetoon word d.m.v. multi-dimensionele eksegese van die teks, asook 'n behoorlike ontleding van die logika van die geantisipeerde godsbeeld.  Die hele teorie oor die verskillende bronne bly in elk geval hoogs spekulatief.  Die res van sy bronne-argument rus dus op baie losse skroewe (tot p 52).  In terme van Jaco se dekonstruering van realisme omdat konserwatiewe teoloë “of die een of die ander” uitbeelding van Jahwe moet aanvaar, berus ook op die voorveronderstelling dat daar inderdaad bewys kan word dat daar weersprekende getuienis oor Jahwe se karakter is in die Bybel (waarvan grondige eksegese ontbreek).  Hoewel dit seker waar mag wees van sekere konserwatiewe teoloë, kan die argument nie stand hou as konserwatiewe toeloë kan aantoon uit die teks dat die uitbeeldings van Jahwe in die Ou Testament mekaar inderdaad NIE weerspreek nie (p. 53).

 

In Jaco se daaropvolgende bespreking van teoloë se harmonisering van tekste en hulle verklaring van baie van die maniere waarop Jahwe uitgebeeld word in die Bybel as metafore, word ‘n karikatuur van gemaak.  Dit gebeur veral wanneer hy vra hoe die skepping kon plaasvind deur ‘n “metaforiese God” wat “metafories” geskep het (Gen 1-2), ens.; of waar hy sê “as alles tot die laaste woord eerder metafories waar is as letterlik waar” (p.56); of waar hy vra: “wat motiveer die geloof onder Ou Testamentiese toeloë dat alle ‘God-talk’ in die teks metafories is.” (p. 57).  En waarskynlik is daar teoloë by wie daar sulke tendense teenwoordig is, maar ‘n goeie begronding en argumentering van ‘n argument moet nie gemaak word deur uiterste posisies in die teologie teen mekaar af te speel nie, maar ook deur meer gebalanseerde behoudende teologiese sienings in ag te neem (waar bv. harmonisering nie simplisties is nie en waar teoloë nie ten alle koste hulle eie dogma in die teks wil inlees nie).

 

Die argument wat die duiwelsadvokaat uitmaak teen die “progressiewe openbaring” van God as synde dat dit oënskynlik weersprekende uitbeeldings van Jahwe harmoniseer, is ook ‘n stooiman.  Hoewel daar toeloë is wat op hierdie basis harmonisering doen, sou ek sê dui “progressiewe openbaring” eerder op progressief nuwer en meer kante van God en sy karakter wat geopenbaar word, eerder as wat vroeër openbarings van God daardeur opgehef of versag of geherinterpreteer moet word.  In hierdie proses word mense se verstaan van God eerder voortdurend verbreed as voortdurend verskuif.

 

Argument 2

 

Jaco se tweede argument word gestel vanuit die hoek van wat hy noem “onortodokse teologie.”  Hy postuleer ‘n ortodokse of tradisionele Christelike siening van God as een wat gebou is op sy 1) ewigheid, 2) eenheid (een God), 3) onsigbaarheid, 4) almag, 5) alwetendheid, 6) alomteenwoordigheid en 7) dat Hy geheel en al goed is, liefdevol en nie verantwoordelik vir die bose nie.  Die eerste vraag wat gevra kan word is wat presies onder hierdie sienings verstaan word.  Hoewel baie van die tradisionele en veral tradisioneel-gereformeerde sienings van God neig daarna om hierdie begrippe reglynig en skolasties te verstaan, dink ek persoonlik dat hierdie begrippe nooit God in ‘n “boksie” kan druk nie.  Dit is slegs rasionele hulpmiddels om bepaalde aspekte van God te probeer verstaan (veral iets soos triniteit).  God bly in wese misterieus.  Die menslike logika agter hierdie begrippe bly gebroke.  Persoonlik dink ek bv. God se alwetendheid beteken dat God op ‘n gegewe tydstip alles van almal weet, maar dat Hy nie noodwendig weet wat die mens gaan kies nie (tensy Hy sy wil manipuleer om wel ‘n bepaalde keuse uit te oefen).  Sien Die uitverkiesing.  Wat God se alomteenwoordigheid betref, dink ek God kan kies om op so ‘n manier te manifesteer (op die manier van sy keuse) dat Hy sy teenwoordigheid lokaliseer.  Jesus se inkarnering is so ‘n voorbeeld.  Maar dit beteken nie God was op daardie stadium slegs daar teenwoordig nie, want die Vader het bly bestaan toe Jesus mens geword het.  Wat ek voorts dink God kan doen is om doelbewus sy teenwoordigheid by sekere plekke te onttrek, bv. in die hel.  In terme van God se relasie tot die bose dink ek ook dat die ortodokse manier waarop Jaco dit formuleer problematies kan wees.  Sien Die karakter van God.

 

Indien Jaco bedoel om ‘n “populêr ortodokse” siening af te skiet, is daar dus bepaalde punte waar ek met hom gedeeltelik saamstem, omdat ek ook dink “populêr ortodoksie” sienings van God kan op bepaalde punte problematies wees.  My antisipasie is dus dat Jaco versigtig moet wees om nie ‘n karikatuur af te skiet nie.  Wat van diegene wat wel voorsiening maak vir meer gelaagdheid en kompleksiteit (ook nie noodwendig teenstrydigheid nie) binne hul verstaan van God?  Hy sê: “as dit waar is dat Jahwe uitgebeeld word op maniere wat die profiel van die entiteit weerspreek wat veronderstel word om werklik te wees, volg dit dat, as God bestaan, moet Jahwe-soos-uitgebeeld ‘n fiktiewe karakter wees.” (p. 64).  Die probleem kom in: wie se interpretasie of weergawe van die “veronderstelde” profiel van Jahwe?  Al wat Jaco hier gebruik om aan te meet is sekere (eng?) tradisionele formuleringe oor God se karakter.  Myns insiens kan die dogma oor God se karakter nooit ‘n klaar sisteem wees nie.  In daardie sin dink ek dat selfs die beste dogmatiese formulerings oor God se karakter is slegs analoog tot die menslike verwysingsraamwerk en bly altyd in ‘n groot mate kunsmatig en antropomorf.  Jaco se dekonstruksie van veronderstelde “bybelse – tog ortodokse” sistematiese teologieë as manier hoe realisme gedekonstrueer word, is dus problematies (p.64), want dit impliseer dat “ortodokse” sienings van God verteenwoordigend is van die ware karakter van God.  Jaco erken daarom ook dat hierdie argument die grootste graad van pertensie het (my eie woorde) van al sewe argumente (p. 64).  Hy sê egter later dat hierdie hoofstuk steeds sterk argumente teen realisme gee omdat hy meen dat ortodokse teologie baie populêr is (nie ‘n goeie argument op sigself nie), en dat baie van die ortodokse karakteruitbeeldings van Jahwe uit meer “gebruikersvriendelike” tekste geleen is (wat volgens Jaco nie goed vertaal of reg geïnterpreteer is nie) (p. 65).  Maar wat hy nie sê nie, is dat wat hy aanbied as “direk uit die teks,” is ook maar net sy interpretasie daarvan is (net soos wat die geval was met die tekste wat aangehaal is in die vorige hoofstuk).  Op hierdie manier bring hy ter regverdiging dan weer die argument van teologiese pluralisme by (om as't ware bietjie te help om hierdie hoofstuk te ondersteun), wat myns insiens die hele argument van hierdie hoofstuk nog meer op losse skroewe laat staan.

 

1. Oor Jes 43:10 (wat Jaco as argument wil gebruik dat God nie van alle ewigheid bestaan nie):

Die teks sê: “Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God / god geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.”  Die enigste gode wat “geformeer is” is heidense gode (vers 12; vgl. Jes 44:9-10).  Daar was geen sulke gode voor God nie, juis omdat hulle “geformeer” is – hulle is maaksels, fabrikasies, menslike afgode.  Die rede waarom daar ook geen sulke gode ná God kan wees nie, is juis omdat God ewig is.  Hierdie gedeelte is net die manier hoe in menslike taal uitdrukking gegee word aan dieselfde beginsel en gedagte as wat in net die volgende hoofstuk weergegee word: God is die Eerste en die Laaste, en buiten God is daar geen God / god nie (Jes 44:6-8; sien ook Jes 41:4; vgl. Op 1:11).  Jes 44:9-10 "Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring geen voordeel nie; en hulle getuies—dié sien niks en weet niks, sodat hulle beskaamd staan.  (10)  Wie maak ‘n god en giet ‘n beeld wat geen voordeel aanbring nie?"  Jes 43 en 44 begin ook deur te verwys na Jahwe as (enigste) Skepper en Formeerder wat Israel geformeer het (Jes 43:1,15; 44:2).  Alle (af)gode is dus deur mense geformeer.

Die obskure interpretasie wat Jaco suggereer dat Jahwe nie van alle tye daar was nie en neerkom op teogenesis (dat God 'n geskape wese sou wees), kan nie kontekstueel begrond word nie, maar word myns insiens in die teks ingeforseer sonder om die groter konteks in ag te neem (sien veral Jes 44).  Om dan 'n hele teorie oor die invloede van buite-bybelse heidense tradisies daarmee te verbind (waar bv. 'n veelgodedom geskep is) is ewe ongegrond.  Daar is in elk geval nie genoegsame rede om te dink dat die buite-bybelse tradisies voor die Ou Testamentiese tradisie bestaan het nie (later bespreek).  Die sogenaamde parallelle met mitologiese entiteite en motiewe is ook spekulatief en in baie opsigte myns insiens 'n vervalsing van die outentieke tradisie (later bespreek).

Voorts is die mate waarin die menslike verstand 'n rasionele greep op die betekenis van die ewigheid kan hê, uiters beperk.  Die karakter en wese van God val ook binne hierdie kategorie.  Met die interpretasie van Jes 43:10 is daar dus al reeds ‘n bepaalde beperking op die mate waarin ons dit kan verstaan.  Die duiwelsadvokaat is myns insiens daarom nie net "onortodoks" nie, maar ook pretensieus.  Jaco se vrae oor wat God sou doen voor die skepping, hoekom Hy juis die aarde geskep het, ens. (einde p. 72-73) illustreer die lompheid van die menslike rede as dit kom by pogings tot verstaan van die ewigheid en die wese van God.

 

Die duiwelsadvokaat-houding teenoor Gen 1, waar hy die moontlikheid suggereer dat die skepping nie ex nihilo (uit niks) was nie, maar dat die "chaos" al reeds bestaan het voor die skepping, word nie eksegeties begrond nie.  Trouens, die teks sê juis die teenoorgestelde: "In die begin het God die hemel en die aarde geskape.  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters." (Gen 1:1-2).  Die aarde is eers geskep.  Dit is die begin, nie die woes en leë toestand nie.  As begronding vir sy siening gee Jaco James Barr op, asook dat dit dan sou harmoniseer met die Enuma elish skeppingsepos – 'n kunsmatige harmonisering (p. 72).

 

Jaco boduur dan voort op die implikasies van teogenesis wat natuurlik net soveel vrae bring as antwoorde, bv. "waar sou die chaos vandaan kom?" en "hoekom is daar iets en nie niks nie?" (p. 73).  Maar ook 'n agnostiese of ateïstiese houding sit met hierdie probleemvrae.  Myns insiens kan die natuurlike rede geen uiteindelike sin in hierdie lewe vir homself konstrueer nie, net God kan deur sy Gees dit doen in mense se harte, deurdat Hy Homself aan jou openbaar en jou lewe verander deur wedergeboorte.

 

Jaco se verwysing na Daniël, waar God as "Oue van Dae" gesien word (Dan 7:9-14) as dat God sou oud word en doodgaan, hou glad nie rekening met die feit dat dit 'n blote visioen is nie.  Onthou, die menslike verstand weet nie hoe God lyk nie en kan Hom ook nie voorstel nie.  Eers as ons verheerlikte liggame en verstand het en nie meer ten dele ken nie en God van aangesig tot aangesig sien, sal ons weet hoe God lyk.  God gee gereeld visioene aan mense wat bloot prentjies en beelde is om sekere waarhede aan mense oor te dra.  Daniël se visioen van God moet in dieselfde lig verstaan word, en mens moet huiwerig wees om wesens-eienskappe van God hieruit af te lei.  En hoewel God as "Oue van Dae" en sy hare "soos skoon wol" geteken word, beteken dit nie noodwendig dat die prentjie wat Daniël gesien het is die van 'n "ou man" nie (die woord "man" of "mens" kom in elk geval nie in die teks voor nie).  Myns insiens het die "Oue van Dae" sy "Dae" besonder goed gedra.  Die daaropvolgende argumente oor Jahwe se beweerde mortaliteit (waar Jaco bv. beweer dat Jahwe moes van die boom van die lewe eet om aan die lewe te bly) is bloot duiwelsadvokaat-spekulasie en het geen eksegetiese (of enige ander) begronding hoegenaamd nie (p. 75).

 

2. Jaco se volgende argument is daarop gebou dat hy meen die Bybel sê dat Jahwe nie die enigste God is nie.  Die tekste kan soos volg ingedeel word:

Tekste waar God in die meervoud van Homself praat (“Ons”): Gen 1:26; 3:22; 11:7; Jes 6:8; 41:22-23.  Die tema van God as trinitariese wese (een wese en drie persone) kom reg deur die Bybel voor, en word reeds hier in die Ou Testament gesuggereer (wat ek verstaan onder “triniteit” bespreek ek in Die drie-eenheid).  Maar die presiese betekenis daarvan is nie duidelik nie.  Dit kan moontlik ook verwys na God se engele as deel van Sy hemelse leermag (?).

Tekste wat op ander (af)gode dui buiten God: Eks 12:12; 18:11; 20:2; Rigt 11:23-24; 1 Sam 26:17-20; 2 Kron 2:5.  Wat belangrik is, is dat die (af)gode nie noodwendig hier menslike beelde is nie, maar inderdaad demone.  En in hierdie verband is dit belangrik om die geskiedenis van engele en demone (gevalle engele) te ken.  (Ek bespreek dit in Die karakter van God onder die hofie: “In watter relasie staan die bose tot God?” en nog meer volledig in Engele, demone en magte).

Jahwe is heerser bo alle magte en demone, nie in die sin dat Hy hulle beheer en orkestreer nie, maar in die sin dat Hy bo alle magte is (vgl. Kol 1:16; 1 Pt 3:22), en hulle beperkte speelruimte toegelaat word.  Ps 50:1 sê Jahwe is die “God van die gode.”  Hier kan verstaan word dat Jahwe ook God is bo alle geestelike wesens (hetsy engele of demone).  Almal is ondergeskik aan Hom.  In hierdie lig kan ander skrifgedeeltes ook verstaan word: bv. Ps 82:1,6; 95:3; 97:7,9; Jes 8:19; Dan 11:39.

“Elohim.”  Eks 2:28.  Hoewel sommige vertalings “elohim” hier vertaal met “die gode,” beteken dit hier gewoon “God.” (sien OAV; vgl. Gen 1:1).  Dit sinspeel reeds op die triniteit.  “Elohim” moet ook in Gen 3:5; Rigt 9:9,13 en Eseg 28:2,13; Sag 12:8 vertaal word met “God.” 

Deut 32:8, wat Jaco vertaal met “sons of El” is bloot Israel (“yisraél”).

Die term “seuns van God” (Gen 6:2,4; Job 1:6; 2:1; 38:7; Ps 89:7), lyk of dit ‘n geykte term was om na engele te verwys (sien ook die buite-bybelse boek Henog).  Gen 6 vertel van hoe hierdie engele gesondig het.  Job 1:6 en 2:1 vertel van die Satan as een van God se engele (wat geval het) en met God in gesprek gaan.  Streng gesproke is demone dus ook engele, maar gevalle engele (vir meer detail, sien Engele, demone en magte).

Die term “gode” beteken ook soms engele of hemelse wesens, bv. Ps 8:6.  In 1 Sam 28:13, as Samuel uit die dood te voorskyn kom, sien die dodebesweerster hom as ‘n “hemelse wese” (sien OAV).

Die uitdrukking “jy vir hom ‘n god wees” in Eks 4:16 het te doen daarmee dat Moses die middelaar tussen God en die volk en God se verteenwoordiger sal wees.  Daarom is hy “soos God” vir die volk.  Volgens Eks 7:1 sal Moses “soos ‘n god” wees vir Farao.

Ps 45:7-8 is Messiaans.  Dit praat van Jesus (God) as een van die persone in die drie-eenheid (sien Heb 1:9).

Jes 14:13 se “en sit op die berg van samekoms” is ‘n metafoor wat te doen het met die hemelse leërskare / engele.

 

Nie een van hierdie tekste dekonstrueer dus monoteïsme nie, want hoewel ander geestelike magte (hetsy engele of demone) plek-plek daarin geïdentifiseer kan word, is Jahwe die enigste ware God.  Die duiwelsadvokaat strek dinge bietjie ver wanneer hy wil beweer dat die shema (Deut 6:4) meer as een of meer as een variasie van Jahwe impliseer.  Dit is om iets in die teks in te forseer wat nie daar staan nie (p. 81).

 

3. Wat die sienbaarheid van God betref.  Dit is natuurlik so dat God nie deur ‘n gewone mens gesien kan word en bly lewe nie (Eks 33:20), en daarom nog nooit het nie (1 Tim 1:17).  Ons moet eers verheerlikte, volledig geestelike liggame kry voordat ons God van aangesig tot aangesig kan sien (1 Kor 13:12).

In die OT is daar egter verskillende maniere waarop God homself aan die mens gemanifesteer het; bv. deur ‘n vuur (Deut 4:33), deur drome (Gen 28:12-13), deur visioene (1 Kon 22:19; Jes 6:1; Dan 7:9,13; Amos 7:7; 9:1-2), of in ‘n ander vorm (Eks 24:9-11; Job 42:5).  God het ook aan mense verskyn deur verteenwoordigers / boodskappers, bv. engele.  Gen 18:1-2 is so ‘n voorbeeld.  Hoewel Gen 18:1 sê dat Jahwe aan Moses verskyn het, sê dit net daarna (vers 2) dat God in die vorm van drie mans (engele in menslike manifestasie) aan hom verskyn het.  Ook in Gen 32:32 het God d.m.v. ‘n verteenwoordiger aan Jakob verskyn.  Vgl. Heb 13:2  “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.”

 

Jaco se beredenering op hierdie punt ignoreer die implikasie van die moontlikheid van God om:

1)   op verkeie maniere en in verskillende fisiese vorme te manifesteer,

2)   dat God d.m.v. ‘n verteenwoordiger(s) kan verskyn, en

3)   dat drome / visioene nie ‘n direkte aanskouing van God is nie, maar bloot beelde en prentjies wat verstaanbaar gemaak word vir die menslike simboliese universum.

Meer hieroor later…

 

4. Die insinuasies wat die duiwelsadvokaat maak dat Jahwe nie almagtig is nie is ongegrond.

Soos reeds uitgewys is die insinuasie dat God nie ex nihilo geskep het nie (maar vanuit “pre-existing chaos”) ongegrond (Gen 1:1-27), want in die begin het God die hemel en die aarde gemaak.  Dit is ook uitgewys dat Jahwe nie “nodig” gehad het om te rus nie (Gen 2:1).  Gen 2:5 sê nie dat Jahwe mense “nodig het” om die grond te bewerk nie, die teks sê bloot dat God besluit het om mis te stuur oor die aarde (klaarblyklik om dit te bevogtig en bewerkbaar te maak).  Die teks noem “en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.”  God het dit dus goed gedink om die grond te bevogtig 1) omdat daar ook nog nie plante was nie en hulle water nodig het om te ontkiem en te groei en 2) sodat die grond lekker bewerkbaar kan wees as hy die mens maak.  Die aantyging wat gemaak word dat God “nodig het” om te reis om informasie te bekom (Gen 3:8-11; 11:5-7; 18:7? – ek neem aan dis 18:21) is ook ongegrond.  God se teenwoordigheid in die aandwind en sy roepe na Adam was nie omdat Hy nie klaar geweet het wat Adam en Eva gedoen het nie, maar was God se manier om in gesprek te tree met Adam en Eva.  Hulle kan in elk geval nie vir God wegkruip nie.  Soos reeds bespreek is Gen 11-5-7 metaforiese taal. 

In Gen 18:21 word gesê dat God wil “neerdaal en sien” of die mense van Sodom en Gomorra werklik gehandel het “soos die geroep oor hulle is.”  Hier word van drie "mans" of "manspersone" gepraat (vers 2), waarvan twee engele is en die derde een met Jahwe geïdentifiseer word (sien vers 13,22; 19:1).  Jahwe het in menslik geïnkarneerde vorm of in die vorm van 'n bepaalde menslike manifestasie aan Abraham verskyn, waarskynlik in die persoon van die Seun.  Hoe dit ook al sy, God kan kies om sy teenwoordigheid te lokaliseer.  Die "neerdaal" gedeelte (vers 21) is waarskynlik heel logies omdat die drie manne daarvandaan (van die ingang van die tent) opgestaan het (vers 16) en waarskynlik saam met Abraham na 'n hoër plek gegaan het sodat hulle kon neerkyk op Sodom en Gomorra.  Jahwe het in die menslike vorm waarin Hy aan Abraham verskyn het gesê Hy wil sien of die mense van Sodom werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by Jahwe gekom het; en so nie, wil Hy dit weet.  God het 'n geroep in Sodom gehoor, waarskynlik van Lot (vers 20,21) wat waarskynlik by God gepleit vir die stede.  Abraham sou ook later pleit vir Sodom (vers 24-33).  God eer dit.  Dat God vir Abraham sê: "Ek sal neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek sal dit weet," is God se manier om in menslike terme met Abraham en die stede te handel.  Dit is nie omdat God nie weet dat die stede eintlik deur en deur boos is nie, maar dit is die enigste manier waarop God vir Abraham kan laat voel dat Hy sy (en waarskynlik Lot se) wens eerbiedig.  Ons het hier amper met 'n soort regsaak te doen tussen God en Abraham.  God handel baie vaderlik en konsidererend met Abraham.  God is soos 'n pa wat vir sy kind 'n kans wil gee om sy saak te stel en self sy kind se versoeke omtrent die saak te eerbiedig al weet die pa dat die kind nie regtig 'n saak het nie.  En voorts laat God die moontlikheid ter wille van Abraham oop dat daar selfs diegene in Sodom kan wees wat voor Sy besoeking oor die stad hulle kan bekeer.  Die oordeel oor Sodom is nog nie gevel nie, en daar is tydsverloop tussen God se gesprek met Abraham en die punt van finale oordeel.  Die beginsel dat God die mens se wil / keuse eerbiedig kan dus nie hier buite rekening gelaat word nie. Soos vroeër verduidelik word die mens se keuse nie vooraf gepredestineer deur God nie.  God weet nie noodwendig wat die mens gaan kies nie.

Dat Jahwe sou bang wees is ook al weerlê (Gen 3:22; 11:5-7).  Die beweerde onvermydelike toekomsbestemmings van mense wat “onmoontlik vir Jahwe sou wees om te verander” (Gen 15:13; 16:12; 18:17-18) kan nie stand hou nie.  Gen 5:13-14 praat van hoe Abraham by God kla dat sy nageslag nou vanuit sy bediende moet voortkom.  God antwoord dan juis: “Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom [Isak], hy sal jou erfgenaam wees.”  Die vloek wat Jahwe in Gen 16:12 uitspreek is finaal juis omdat Hy getrou is aan Sy Woord en beloftes, en dit is juis Hy wat sal sorg dra dat dit waar word.  Ook Gen 18:17-18 het te doen met God se getrouheid aan Homself en sy beloftes.

Soos vroeër genoem was die man waarmee Jakob geworstel het (Gen 32:22-33) ‘n bepaalde inkarnasie / manifestasie / verteenwoordiger van God.

Die ander aspek van God se wil wat Jaco nie moet verwar met almag nie, is die feit dat God aan die mens ‘n vrye keuse gee, en dat hy nie daardie keuse pre-determineer nie.  God kan wel die mens se wil stuur as Hy ‘n bepaalde heilsplan in gedagte het, maar Hy het juis die mens met ‘n vrye wil en keuse gemaak omdat Hy begeer om met Hom in ‘n persoonlike, wederkerige, spontane verhouding te hê (Sien Die uitverkiesing).  Eks 13:17 val bv. binne hierdie katergorie.  Die Israeliete is nog steeds vry om hulle keuse te verander, en God weet hoe maklik hulle geneig is om afvallig te raak.  Daarom help God hulle om sterk te staan, net soos enige goeie vader sy kind sal help om nie bo sy kragte versoek te word nie.  Deut 7:22 is bloot goeie raad aan hulle dat hulle nie te vinnig die volke moet verower nie, want omdat hulle nog klein is in getal, dat wilde diere nie oor hulle die oorhand kry nie.  Natuurlik kan God ook die wilde diere van hulle af weg hou, maar God wil juis sy volk stelselmatig die oorhand laat kry, omdat dit vir hulle eie beswil is, en omdat God hulle wil blootstel aan die elemente van die natuur.

Die gedeeltes oor die Leviatan is onder dispuut (later bespreek).  Ps 74:14 en Ps 104:26 verwys myns insiens nie na bose magte nie.  Wat Jes 27:1 betref, waar metafories oor die Satan gepraat word, kom dit ooreen met Op 12-13.  God kon lankal die Satan en sy magte vernietig het en hulle van hulle mag ontneem het – en God gaan ook eendag.  Maar God laat steeds aan die Satan en sy demone beperkte speelruimte toe, juis omdat God begeer dat mense tot ‘n verhouding met Hom toetree uit vrye keuse midde in ‘n sondige wêreld. (sien Die uitverkiesing en Die teodisee vraagstuk)

Wat Rigt 1:19 betref (Jaco se proefskrif sê: Right 1:21?).  Die teks sê dat Israel nie die bewoners van die laagte kon verdryf nie, omdat hulle ysterwaens gehad het.  Die konteks wys uit dat dit op sigself nie die rede was waarom Israel hulle nie kon verdryf nie, maar omdat Israel bang was vir hulle (vers 27-32).

Die bewering wat gemaak word dat Jahwe “hulp nodig het” en dat Hy hulle vervloek het omdat hulle Hom nie gehelp het nie (Rigt 5:23) is vergesog.  Hulle word vervloek omdat hulle nie wou deelneem aan die oorlog nie (vers 16-18).  Hulle wou nie God se mense help nie.  Goed vloek hulle oor hulle onwilligheid en nie omdat Hy hulle “hulp nodig gehad het nie.”

Jaco se suggestie dat God nie almagtig is nie, omdat Hy magte of mense gebruik om sy wil uit te voer (1 Kon 22:20-23; Jes 63-3-5) is ongegrond.  Wat 1 Kon 2 betref.  God kan enige iets gebruik net soos Hy wil.  Die feit dat God hier ‘n (vrywillige) leuengees gestuur het, beteken nie dat God sy uiteindelike doel nie op ander maniere kon bereik nie, maar God het gekies om dit op hierdie manier te doen.  En natuurlik is dit so dat engele en demone ook ‘n vrye wil het.  Wat Jes 63 betref.  Dit gaan hier oor die feit dat oordeel en verlossing alleen God se werk is.  Die mens is nie in staat om God daarin by te staan nie.  Dieselfde geld ook vir Christus se verlossing en oordeel.

Jaco beweer dat die dood buite Jahwe se sfeer van kontrole is (Ps 6:4-5; 88:10-12; Jes 38:10-18).  Die ewige dood vir diegene wat verlore gaan het God so bepaal, maar God het wel mag om mense uit die dood op te wek en mense van die ewige dood te verlos.  Die retoriese vraag in Ps 88:10 bevestig dit.  Maar natuurlik sal niemand God loof in die toestand van ewige geestelike dood nie (Jes 38:18; Ps 6:5).  Want hulle kans tot redding is verby.

 

Die term “almagtig” kan inderdaad misleidend wees, want daar is ‘n aantal dinge wat God nie kan doen nie.  God kan nie lieg nie en God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord en beloftes nie.  Dikwels stel God sekere grense vas vir magte of oor die lewe, wat God nie oortree nie.  Dit is nie omdat Hy teoreties nie kan nie, maar omdat dit teen sy karakter is.  Maar geen mag of krag of eksterne persoon is sterker as God nie.  Die begrip “oormagtig” beskryf in baie opsigte hierdie kwaliteit van God vir my beter.

 

5. Wat die “ortodokse” siening van alwetendheid betref, is daar myns insiens ook ‘n paar probleme mee.  Die volgende is ‘n belangrike onderskeid:  God weet wel alles van alle dinge af op ‘n gegewe tydstip, maar God predestineer nie die keuse van die wesens wat Hy skep (wat wel ‘n wil het) nie.  In terme van die mens het God gekies om ‘n bepaalde ruimte te skep waarin die mens vanuit eie keuse tot ‘n verhouding met God kan toetree al dan nie – sodat daardie verhouding spontaan en wederkerig kan wees (sien Die uitverkiesing vir ‘n volledige bespreking).  Maar God is 1) wel by magte om iemand se wil te stuur en te beïnvloed om ‘n groter doel te bereik (veral as dit verband hou met die tot stand bring van die heil) en 2) God is by magte om die toekoms te laat uitkom soos Hy wil, omdat niemand of niks kan keer dat Sy beloftes, profesieë en voornemens sal waar kom nie.  God sal sorg dat dit gebeur soos Hy beplan en belowe, kom wat wil.

God se gesprek met die mens in die tuin (Gen 3:9-13) bring nie vir God informasie wat Hy nie geweet het nie, maar 1) dit is God se manier om in gesprek te tree met die mens, 2) om hom ‘n kans te gee om homself te verdedig en sy eie saak te stel, en 3) dit is veral om die mens te toets en te kyk of hy gaan kies om homself te regverdig en of hy sy skuld gaan bely.  Num 22:9 is in dieselfde trant.  God wou sien of Bileam sou kies om eerlik teenoor God te wees en of hy God se wil sou doen of nie. 

Gen 18:17 is reeds bespreek.  Gen 22:12 het te doen met God se ruimte wat hy laat dat die mens self kan kies om God gehoorsaam te wees of nie.  God wou Abraham se geloof toets.  Deut 8:2 is ‘n uitstekende voorbeeld van waar God aan die mens ‘n vrye, nie-gepredetermineerde keuse gee.  Die volgende tekste (wat Jaco aanhaal) het ook te doen met hierdie vryheid wat God aan die mens gee om sy eie keuses uit te oefen: Num 14:27; Deut 13:1-3; Rigt 2:20-3:4; 2 Kron 32:31; Ps 14:2; Jer 3:7,19; 26:2-3; 36:3,7; 51:8 en Jes 47:12.

In Eks 13:17 bewaar God die volk van versoeking (soos reeds bespreek).

1 Kon 22:19-22 is reeds bespreek.

Wat Job 1:6-8 betref.  Dit is die Satan (wat nie alwetend is nie) wat die aarde deurkruis het.  God vra juis vir die Satan of hy ag gegee het op God se kneg Job (want God ken Job).  Dit is ook nie asof God nie geweet het waar Satan was nie, maar dit was God se aanknopingspunt om met Satan in gesprek te tree.

Wat Ps 139 betref.  Let wel, die teks sê nie dat mense se dae en presies wat gaan gebeur vooraf bepaal / gedetermineer is nie, maar wel dat God op ‘n gegewe tydstip alles kan sien en ken, insluitende mense se gedagtes (sien Die uitverkiesing vir ‘n volledige bespreking van hierdie psalm).

 

Die onderskeid tussen a) God se alwetendheid in terme van alle dinge en alle gedagtes op enige gegewe tydstip, en b) God se vermoë (kom wat wil) om sy toekomstige beloftes tot vervulling te bring, los in ‘n groot mate die probleem op oor hoe die vrye wil van die mens kan bestaan midde in God se voornemens.  Want God hoef nie te weet wat mense gaan kies om steeds sy plan uit te voer nie.  Want soms kan God selfs, al gee hy aan die mens ‘n vrye keuse, sy plan uitvoer deur mense se wil te rig of ten spyte van mense se wil.  God is dus magtig om die wil van die mens te stuur as Hy wil, maar net as dit werklik vir Hom nodig is.  Presies hoe hierdie dinamika werk, kan egter nie uiteengesit word in terme van lynregtige menslike logika nie.  Wat God se alwetendheid betref, sou ek sê dat enige tipe alwetendheid wat op fatalisme neerkom, nie Bybels is nie.

 

6. Wat God se alomteenwoordigheid betref, stem ek in ‘n mate saam met Jaco dat dit in sekere scenario’s problematies kan wees.  Om een voorbeeld te noem, God is nie in die hel teenwoordig nie.  God kan kies om sy teenwoordigheid by plekke te onttrek.  Dit sou meer akkuraat wees om te sê God kan oral teenwoordig wees waar en wanneer Hy wil.  ‘n Ander onderskeid wat belangrik is om te tref is dat God vernaam in ‘n geestelike dimensie verkeer.  Maar God kan ook kies om aan mense sy teenwoordigheid fisies kenbaar te maak deur inkarnasies en fisiese manifestasies.  Dit beteken egter nie dat as God se teenwoordigheid op hierdie manier fisies kenbaar is, dat Hy dan NET daar teenwoordig is nie. 

Gen 3:9; 4:16; 11:4-9; 18:17; 28:11-12 en Job 1:6 is reeds bespreek.

Wat Gen 17:22 betref.  Dit was God se inkarnasie / manifestasie wat opgevaar het.

Eks 19:20-21 was ook ‘n bepaalde fisiese manifestasie van God se teenwoordigheid.  Dieselfde geld vir Num 12:5.

Wat 1 Sam 26:20 betref.  Hier is twee moontlike verklarings.  1) Baie vertalings vertaal “voor die aangesig van Jahwe” (bv. KJV, Ned. Statevertaling, Green Literal).  2) Dit is ‘n metaforiese uitdrukking om hier uit te druk dat Saul dan buite die wil en seën van die Here sal optree, en ook dat Dawid dan weg van God se volk in ‘n vreemde land moes sterf.

In 1 Kon 19:11-13 bring God fisiese weerverskynsels, maar manifesteer eers sy geestelike teenwoordigheid in die sagte koelte.  God kan kies hoe Hy sy teenwoordigheid wil manifesteer.

Job 23:3 beklemtoon juis die feit dat 1) God nie vasgepen kan word tot een lokus nie en 2) dat God onsigbaar en ‘n geestelike Wese is.

Waar daar in Pred 5:1 gepraat word van God wat in die hemel is en die mens wat op die aarde is, word nie bedoel dat hulle vasgevang is in ruimtelike dimensies nie, maar dat God geestelik is en die mens fisies.  Dieselfde geld vir Dan 2:28.

Jes 64:1 is bloot ‘n kreet / hunkering na God se fisies gemanifesteerde teenwoordigheid (wat natuurlik vervul is in die persoon van Jesus Christus).

Jon 1:3, wat daarvan praat dat Jona hom klaargemaak het om van die aangesig van die Here af weg te vlug, vermeld dit vanuit Jona se perspektief, nie dat Jona inderdaad kon ontsnap van die teenwoordigheid van Jahwe nie.  Trouens, die feit dat God ‘n wind op die see gestuur het en later ‘n vis voorsien het, wys juis daarop dat Jona nie kon wegvlug vir die Here nie.

Miga 1:3, waar gepraat word van God wat “uit sy woonplek gaan,” is net soos vers 4 metaforiese taal om aan te dui dat God homself laat manifesteer binne-in die fisiese realm.

 

7.  God se goedheid en die verhouding waarin die bose tot Hom staan word in detail bespreek in Die karakter van God en in ‘n groot mate ook in Die uitverkiesing.  Die karakter van God is trouens ‘n studie van presies hierdie afdeling van Jaco se proefskrif en van presies die tekste wat deur Jaco aangehaal word, met natuurlik addisionele informasie oor God se karakter wat ek bygewerk het.  Die tekste kom wel nie in dieselfde volgorde voor nie en is deur myself hier en daar onder ander hofies ingedeel, maar al die sake wat ter sprake kom word bespreek.  Om op te som, God is nie die outeur van die bose nie, maar God is die skepper van die ruimte waarin mense en engele vrylik kan kies om Hom te dien of nie.  Die bose is ten diepste om teen God te kies.  Ek verduidelik in Die uitverkiesing breedvoerig dat God juis mense met ‘n vrye keuse gemaak het sodat hy in ‘n wederkerige, spontane verhouding met God kan toetree.  Natuurlik is daar ook die risiko dat wesens met hule eie wil teen God kan kies.  Die bose vind dus sy oorsprong in die keuse van gevalle engele en die mens.  God is dus nie die direkte oorsaak daarvan nie.  God kan wel bose magte stuur om sy wil te doen (soos om ‘n leuengees te stuur), maar dit is nie God self wat nie bose doen nie.  Dit moet in elk geval onderskei word van God se oordeel, waaronder iets soos banvloek ook tel.  God se oordeel is nie strelend of aanskoulik nie, maar altyd regverdig, en net so integraal deel van sy karakter as bv. sy liefde.

Wat ek wel hier sal lys is die tekste wat Jaco aangehaal het onder elk van sy hofies (3.2.7.1-3.2.7.12) wat ek meen nie relevant of relevant genoeg is ten opsigte van die kritiek ter tafel nie (waarvan sommige foutiewe teksverwysings is), ook omdat daar baie tekste is wat myns insiens foutief geïnterpreteer is:

 

In 1 Sam 6:1-8 praat die waarsêers van die Fillistyne van beelde en goue voorwerpe "wat hulle vir God wou maak" omdat hulle die ark gesteel het (en oor die feit dat hulle die ark gesteel het, onheil oor hulle gebring het).  Dit het niks te doen met God wat boosheid aanbring nie.

Ps 139:16 sê God se oë het die substansie van my ongevormde liggaamsdele gesien en dit alles in sy boek opgeskryf, in dae waartydens Hy bepaal het hoe ek moet lyk en hoe ek moet wees, toe nog geeneen van my liggaamsdele in hulle finale vorm daar was nie (sien Die uitverkiesing vir ‘n uitgebreide bespreking hiervan).

Spr 16:4 sê: " Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil."  Hierdie stelling veronderstel nie ‘n sekere predestinasie of determinisme nie.  Daar word nie gesuggereer dat God alle gebeure veroorsaak nie.  Die mens is vry om die weg te kies wat hy wil (vers 1-3).  Daar is egter sekere gevolge gekoppel aan sekere optredes (vgl. 1933, 1983 Afrikaans, Living).

Vgl. die volgende vertalings:

NIV: “The Lord works out everything for his (referring to everything) own ends.”

NEB: “The Lord has made each thing for its own end.”

Die daaropvolgende verse verduidelik dit.  God koppel sekere bestemmings aan sekere optredes: goddelose vir die dag van onheil (vers 4); hoogmoediges… sal nie ongestraf bly nie (vers 5); deur liefde en trou word die skuld versoen (vers 6), ens.

Dit het dus niks daarmee te doen dat God "vir morele boosheid verantwoordelik" sou wees nie.

Spr 16:9 praat van die mens wie se hart sy eie weg uitdink, maar die Here rig (gee rigting aan) sy voetstappe.  Dit het niks te doen met boosheid wat aan God toegeskryf sou wees nie.

Spr 19:21 sê daar is baie planne in ‘n mens se hart en dat die raad van die Here sal bestaan – weereens is daar geen verband met "boosheid wat God sou bewerk" nie.

Eks 1:16-21 vertel van waar die koning van Egipte bevel gegee het om al die pasgebore seuntjies te laat doodmaak, en hoe die vroedvroue die seuntjies laat lewe het teen die koning se bevel in.  Dit was nie God wat dit beveel het nie.

Eks 5:1-3 praat van Moses en Aäron wat aan die Farao meegedeel het dat hy die Isrealiete moet laat trek sodat God hulle nie tref deur die pes of die swaard nie.  God se straf sou net volg op ongehoorsaamheid.

Eks 11:2-3 vertel van hoe Moses aan Farao gesê het dat hy aan die volk moet sê dat elkeen van sy naaste silwer en goue goed aan die volk moet leen (met die oog op hulle fees) en hoe die Here guns aan die volk verleen het voor die oë van die Egiptenaars.  Dit het niks te doen met God wat "boosheid sou beveel of beloon" nie.

1 Sam 16:1-3 gaan oor hoe Samuel oor Saul treur, terwyl God vir Saul verwerp het om koning te wees oor Israel.  God het vir Samuel opdrag gegee om Isai na sy offermaaltyd te nooi en op die Here te wag vir verdere instruksies.  Dit het ook niks te doen met God wat "boosheid sou beveel of beloon" nie.

1 Kon 9:4-5 praat van hoe God aan Solomo sê: (1Ki 9:4-5) “En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, met ‘n volkome hart en in opregtheid deur te doen net soos Ek jou beveel het, en my insettinge en verordeninge onderhou,  (5)  dan sal Ek die troon van jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ‘n man ontbreek op die troon van Israel nie.”  Weereens het dit niks te doen met God wat "boosheid sou beveel of beloon" nie.

Jes 20:1-3 praat van hoe Jesaja sonder sy profetiese mantel en sonder skoene vir drie jaar lank moes loop as teken en sinnebeeld m.b.t. Egipte en Kus.  Hier is geen verband met God wat "boosheid sou beveel of beloon" nie.

Gen 3:1 sê dat die slang listiger (meer subtiel) was as al die diere van die veld wat God gemaak het en dat hy met Eva gepraat het.  Die "subtielheid" van die slang is nog redelik neutraal, aangesien dit van alle slange gesê sou kon word op daardie stadium, maar die feit dat daardie spesifieke slang met die Eva gepraat het is 'n aanduider dat daardie slang 'n inkarnasie was van die Satan self.  Daar word geen direkte verband gelê met God en die bose nie.

Eks 28:41(?) sê hoe Aäron en sy seuns rokke, gordels en musse moes dra.  Hulle moes gesalf en geheilig word sodat hulle in die priesteramp kon bedien.  Dit het niks te doen met God wat boosheid "sou beveel of beloon" nie.

Eseg 12:2(?) praat van hoe Esegiël woon onder ‘n wederstrewige huis wat oë het om te sien maar nie sien nie; ore het om te hoor maar nie hoor nie, want hulle is ‘n wederstrewige huis.  Dit het niks met God se beweerde "inkonsekwentheid of passiwiteit" heens die vermedigvuldiging van boosheid te doen nie.

God vermaan die volk deur Sy Woord aan Esegiël (in Eseg 18:2-3) dat die volk nie die spreekwoord meer moet gebruik nie; die spreekwoord wat sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?”  Met ander woorde, God het dit daarteen dat die kinders moet boet en verantwoordelik gehou word vir die sondes van die vaders.

Een van die wette in Deut 24:16 is dat die kinders nie vir die vaders (se sonde) en die vaders nie vir die kinders (se sonde) gedood mag word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.

Eseg 18:1-20 stel dieselfde beginsel, naamlik dat elkeen verantwoording moet doen vir sy eie sondes.

Die beweerde teenstrydigheid hiervan (dat sommige tekste sou sê dat mens wel moet boet vir jou vaders se sondes – en ander nie), is reeds bespreek.

Gen 3:1 vertel hoe die slang (nie alwetend nie) aan Eva vra of dit so is dat God gesê het dat hulle nie van al die bome van die tuin mag eet nie.

Ps 104:26 praat van die skepe en die Leviatan (krokodilagtige of draakagtige reptiel of seedier) wat God geformeer het om daarin te speel (later bespreek).

Dan 4:35 vertel hoe Nebukadnésar sê hoe die aardbewoners as niks geag word, en dat God na sy wil handel met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en dat niemand enige iets daaraan kan doen nie.

Job 41:7 (OAV 40:26) vra of mens die vel van die Leviatan (krokodilagtige of draakagtige reptiel of seedier: later bespreek) vol skerp ysters kan steek en sy kop met 'n vissersharpoen kan steek.

Dan 11:36 praat van die koning wat sal doen net wat hy wil en homself sal verhef en hom groot hou bo enige god.  Hy sal wonderbaarlike singe spreek teen God, en hy sal voorspoedig wees totdat die grimmigheid ten einde is.  Dit is bloot profetiese woorde.

Eks 28:35 sê dat Aäron die hoëpriesterlike mantel moes aanhê as hy in die tabernakel diens doen, "sodat die geluid daarvan gehoor word as hy in die heiligdom, voor die aangesig van die HERE, ingaan en as hy daar uitgaan, dat hy nie sterwe nie."  God se optrede is hier nie vreemd nie, maar die klokkies is gewoon 'n bevel van God aan Aäron wat gehoorsaam moet word.

In Deut 4:19 is deel van die verordeninge van God dat sy volk nie die son, maan en sterre mag dien nie, want dit is "dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het."

 

In ‘n sekere sin het ek simpatie vir die soort probleme wat Jaco in hierdie afdeling op die tafel sit, omdat baie daarvan verband hou met God se onpeilbare, komplekse en misterieuse karakter, wat ons nooit in terme van menslike logika volledig kan verstaan nie.  Maar dat daar ‘n komponent van oordeel en liefde gelyk teenwoordig is in God, is gewis (wat ek alles in Die karakter van God bespreek).  Trouens, dit is juis die element van oordeel in God se karakter (dat Hy heilig is en die sonde haat en oordeel) waaraan die wêreld aanstoot neem.  Dit is dieselfde rede waarom hulle stamp teen die Steen.  Geen sondaar soek ‘n God van oordeel nie, net ‘n “Krismisvader” wat net liefhet en nooit oordeel nie.  Ironies soos wat dit mag klink, sou dit egter God se liefde goedkoop en sekulêr maak.  Dit is juis die feit dat God heilig is en sonde haat, wat sy onverdiende liefde so spesiaal en so kosbaar maak.

 

Argument 3

 

In hierdie argument probeer Jaco ‘n saak daarvoor uitmaak dat Jahwe ‘n blote projeksie is van die sosiale, psigologiese en menslike ervarings en die wêreldbeeld van sy tyd (polimorfiese projeksie).  Hy beskuldig Jahwe selfs daarvan dat Hy in dieselfde “ongeloofwaardige” bygelowe van die samelewing geglo het, en om daardie rede ‘n menslike projeksie moet wees (p. 152-153).

 

Jaco begin deur ‘n klompie argumente op te maak wat Jahwe “al te menslik” laat lyk.

 

1. Hy begin deur te sê Jahwe "glo verkeerdelik” in sekere dinge. 

 

Die belangrikste dokument wat hier ter agtergrond verstaan moet word is die dokument wat ek opgestel het: Evolusie of Skepping?  Hierdie dokument is kardinaal t.o.v. die verdediging van die skepping in 6 dae as 1) wetenskaplik verantwoordbare beginsel en 2) teologies verantwoordbare beginsel.

 

Gen 1:1-2:4a; Eks 31:17, wat ‘n skepping in 6 dae bevestig is wetenskaplik verantwoordbaar (sien skakel hierbo).

Die bewering wat gemaak word dat daar ‘n “oseaan is bo die sterre in die lug” (Gen 1:6; Job 38:34), is ongegrond.  Die “uitspansel” wat skeiding gebring het tussen “waters en waters” kan soos volg verstaan word:  Eerstens, daar bestaan verskil van mening oor die vertaling van die Hebreeuse “râqîya‛” (“uitspansel”).  Dit is nie seker of dit net na die sigbare atmosfeer of na die volledige hemelruim bokant die vaste aarde verwys nie.  Hoewel sekere Joodse tradisies dit as ‘n soort soliede suspensie of koepel beskou het, kan daardie interpretasie nie op hierdie teks afgedwing word nie.  Dit lyk eerder of beide die atmosfeer en die hemelruim deel is van hierdie term en dat dit eerder verwys na ‘n beperkte hemelruim (wat ek op my evolusie-dokument bespreek).  In ‘n sin is die atmosfeer ook deel van die hemelruim, want dit hou nie net op ‘n sekere punt skielik op nie, maar word geleidelik dunner totdat die partikels baie ver van mekaar af is.  Buite ons atmosfeer is daar in elk geval ook partikels – net minder en verder uit mekaar.  Beide die “atmosfeer” en die oop “hemelruim” (waarin sterre is) kan as “uitpansel” verstaan word.  Daar is dus nie ‘n “oseaan bo die sterre” soos Jaco beweer nie, maar die atmosfeer, wat uit ‘n groot persentasie waterdamp en wolke bestaan is ook deel van die “uitspansel.”  Die rede waarom God skeiding gebring het tussen “waters en waters” is waarskynlik omdat al die water in die atmosfeer en die water wat later die see en onderaardse water sou word, vermeng was (waarskynlik in baie digte waterdamp) en dat die atmosferiese ruimte baie groter was om dit alles te bevat.  Dit is ook moontlik dat daar voor die vloed 'n tipe ys-kappie bo-oor die aarde se atmosfeer was (later bespreek).  Job 38:34 dui bloot op die waterdamp in die wolke.

Dat die landmassa wat op water gevestig is (Deut 5:8; Ps 24:2), word natuurlik bevestig deur die hidroplaat-teorie van Walt Brown, waar daar voor die vloed ‘n groot massa ondergrondse water was wat uitgekom het tydens die vloed by die mid-oseaniese riwwe en die oseane baie groter gemaak het (vgl. Ook Ps 136:6; Job 38:8; Spr 8:28; Gen 7:11; 8:2).  Ek verduidelik dit onder die hofie: “Hoe sou ‘n wêreldwye vloed plaasvind?” in Evolusie of Skepping?

Die bewering dat Jahwe "glo" dat Hy (slegs) “in die lug net bokant die aarde” lewe, is reeds verkeerd bewys.  Gen 11:5-7; 18:21 is reeds bespreek.  Jes 14:12-14 praat van Lucifer wat in sy hart sê: “Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!”  Dit is alles metaforiese taal om Lucifer se opstand teen God te beskryf en in ‘n sin juis die ironie van sy begeerte beskryf, naamlik dat hy God wil lokaliseer en as’t ware wil vaspen tot ‘n spesifieke ruimte, juis omdat hy (Lucifer) vasgepen is tot ‘n spesifieke ruimte.  Maar die terminologie is alles metafories.  Jes 18:4 is vergelykende taal: “soos glinsterende hitte bo die sonlig, soos ‘n douwolk…”  Jahwe se posisie “bo” die kring van die aarde (Jes 40:22), praat van sy verhewenheid en grootheid teenoor die nietigheid van die mens (soos sprinkane), eerder as wat dit Jahwe se lokus aandui.  Dit is vergelykende taal (net soos “Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon” ook vergelykende taal is).

Die feit dat God die hemelliggame kon laat stilstaan of manipuleer sonder enige noodlottige effekte (Jos 10:12-14; Jes 38:8) is net so geloofwaardig as wat mens wil hê dit moet wees.  Myns insiens, as God die hemele en die aarde uit niks kon skep, die dode kan opwek, ens. is niks vir Hom onmoontlik nie!

Jaco se bewering dat Jahwe "glo" dat die sterre minderwaardige skeppings is, klein wesens is wat ‘n goddelike weermag verteenwoordig en ook objektiewe konstellasies is met astrologiese krag, hanteer ek as volg: Eerstens is dit belangrik om daarop te wys dat die term “sterre” in die Bybel nie altyd na fisiese lig-gewende hemelliggame verwys nie, maar ook na heersers, engele en self na demone (Rigt 5:20; Job 38:7; Jes 14:12,13; Dan 8:10; sien ook Jud 1:13 en Op 12:4 en 9!; ook gesien in buite-bybelse geskrifte soos Henog 18:15-16: “…The stars which roll over fire are those which transgressed the commandment of God before their time arrived…”; Jud 1:13).  Sy eerste verwysing is Gen 11:14-17.  Ek neem aan dit moet Gen 1:14-17 wees.  Hier is geen aanduiding dat die sterre minderwaardig is nie, maar wel ondergeskik in terme van die relatiewe lig wat hulle afgee op die aarde.  Sy tweede verwysing is Rigt 5:21.  Ek neem aan dit moet Rigt 5:20 wees (reeds hierbo gelys).  Daar is nie ‘n verwysing na sterre in Jes 24:21 nie, wel na die “leërskare.”  Die verwysing na Job 38:31-33 is nie van toepassing hier nie, want dit is digterlike en hipotetiese vrae oor die sterre en die sterretekens wat sinspeel op God se skeppingskrag en almag.

Die aantyging dat Jahwe die maan as 'n bron van lig sien en nie as 'n reflektor nie (Gen 1:14-16; Jes 30:26), kan nie hieruit bewys word nie, want in hierdie tekste word niks oor die aard van die maan as lig-gewer gegee nie.  Dit stel bloot die feit dat die maan lig afgee maar nie op hoedanige manier dit gebeur nie.

Die aantyging dat Jahwe "glo" dat die aarde plat is en dat Jahwe kon "afkyk" op die totale oppervlak daarvan, kan nie uit die gegewe tekste afgelei word nie.  Dan 4:35 handel oor niks van hierdie aard nie (teks: "daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?").  Jes 40:22 sê juis die teenoorgestelde as dat die aarde plat is.  Dit sê Hy sit bo die "kring van die aarde."  Die res van die teks is metaforiese en vergelykende taal. (Vir 'n detail bespreking oor die onderwerp of die Bybel 'n plat aarde verkondig, sien "Evolusie of Skepping?" onder die hofie: "Verkondig die Bybel 'n plat aarde?")

Die volgende aantyging is dat Jahwe "glo" die donderweer "is letterlik sy eie stem."  Eks 19:19 sê die geluid van die basuin het sterker geword en dat God telkens vir Moses hardop geantwoord het – niks van donderweer nie.  In Eks 20:18 was die donderweer, die basuin en die blitse nie God se stem self nie, maar dit het God se teenwoordigheid vergesel.  Eks 24:12 sê niks oor donderweer nie.  Die volgende teks wat Jaco aanhaal is Deut 5:21??  Hy bedoel seker Deut 5:22.  Hier word vertel dat die "hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ‘n groot stem toegespreek" is.  Die vuur, wolk en wolkedonkerheid was God se fisies gemanifesteerde teenwoordigheid en God het daardeur in 'n hoorbare stem (wat die hele volk kon hoor) gepraat.  In hierdie gedeelte word "donderweer" nie genoem nie, en daar word ook nie beweer dat sy stem gelykstaande was aan donderweer nie.  Deut 33:2.  Hier word vertel dat God in ligglans verskyn ('n bepaalde manifestasie) en dat daar aan sy regterhand vlammende vuur is – niks van donderweer nie.  Rigt 5:4 sê toe die Here in beweging gekom het, het die aarde gebeef, die hemel het gedrup en die wolke het water gedrup – niks van donderweer en Jahwe se stem nie.  1 Sam 7:10 sê bloot dat God donderweer gebring het, nie dat dit sy stem is nie.  Jes 30:27 sê: "die Naam van die HERE kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos ‘n verterende vuur" – niks van donderweer of Jahwe se stem nie.  Amos 1:2 sê: "Die HERE brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem" – niks van donderweer nie.  Sy stem wat "brul" is bloot 'n aanduiding van die fors en erns daarvan.  In Job 38:34 vra God aan Job of hy sy stem na die wolke kan verhef sodat dit reën.  Die stem van Jahwe word nie hier in verband met donderweer gebring nie, maar dit gaan bloot oor God se opdrag aan die wolke (kyk bv. hoe Jesus die storm stil gemaak het).  Die enigste 3 tekste wat genoegsaam verband hou met die identifisering van donder en Jahwe se stem, is die volgende:

Ps 18:13 (vers 14 in die OAV) sê "die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole."

Ps 29:3 "Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters."

Job 37:2-5 "Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.  (3)  Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.  (4)  Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.  (5)  God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is."

In al drie tekste het ons met digterlike taal te doen.  In Ps 29:3 word die stem van die Here met donderweer vergelyk.  Die donderweer is 'n metafoor vir God se majesteit en die geweldige fors en krag in God se gesproke Woord en sy wil.  In Ps 18:13 en Job 37:2-5 werk die metafoor andersom.  Hier is God se stem 'n metafoor vir die donderweer.  Die donderweer is nie God se stem self nie, maar die geweldige geluid en fors van die donderweer word met Jahwe se stem vergelyk.

Die aantyging dat Jahwe "glo" dat die wolke vorme van vervoer is vir gode in die lug (Ps 18:11; 104:3; Jes 19:1; 66:15) is ongegrond.  Ps 18:10 praat in digterlike en metaforiese taal oor God se beweging – dit moet nie letterlik opgeneem word nie.  Dieselfde geld vir Ps 104:3.  Hoe kan die “solders in die waters” letterlik wees?  Jes 19:1 is ook metafories.  Hoe kan “die hart van Egipte” letterlik “smelt” in Jahwe se binneste?  Jes 66:15, wat praat van sy oordeel is ook metafore / beeldspraak.

Die bewering dat Jahwe "glo" die wind is “letterlik” sy asem is ook ongegrond.  Eks 15:8 is beeldspraak.  Eks 14:21 het geen verband met sy asem nie.

Die bewering dat Jahwe "glo" die reënboog is “letterlik” sy boog waarmee Hy pyle kan skiet is belaglik.  Gen 9:12-15 praat oor die reënboog as teken van sy verbond – niks met pyle te doen nie. Hab 3:9a praat van die pyle van sy woord.  Die “pyl en boog” is die beeldspraak wat die profeet gebruik om die krag en akkuraatheid van die Here se woord te beskryf.  Hier is in elk geval geen verband met die reënboog nie!

Die bewering dat Jahwe "glo" die weerlig is “letterlik” sy pyl, is ook belaglik.  Ps 18:14; Ps 77:17; Hab 3:9,14 en Sag 9:14 is alles beeldspraak.

So is ook die bewering dat die hael “letterlik” sy artillerie is, belaglik.  Jos 10:11 vertel hoe God mense met haelstene getref het.  Daar is geen insinuasie dat Jahwe dit as sy “artillerie” beskou nie.  Job 38:22-33 is alles beeldspraak – digterlike taal.

Die volgende bewering is dat Jahwe "glo" dat daar letterlik ‘n plek onder die grond is waar die dooies lewe as skaduwee’s.  In Num 16:23-33 word vertel hoe Jahwe sê dat die aarde “sy mond (sal) oopmaak” (beeldspraak) en die mense sal verslind, ens., en dat hulle “lewendig na die doderyk (sal) afdaal” (vers 30).  Daarna het die aarde geskeur en “sy mond oopgemaak” en hulle verslind (vers 31-32).  Vers 33 sê: “So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.”  Die skeur in die aarde is inderdaad ‘n “nuwe ding” wat God gedoen het (vers 30).  Hierdie tipe wonderwerk het nêrens anders ‘n parallel nie.  Die aarde wat sy “mond oopgemaak het” is beeldspraak vir die feit dat God ‘n skeur in die aarde laat ontstaan het, waarin die mense geval het.  Die term “na die doderyk (sheol) afdaal” moet hier verstaan word as ‘n geykte idiomatiese uitdrukking om aan te dui dat iemand in sy graf ingaan.  Die woord "Sheol" verwys dan na "graf."  Tegnies het die mense dus "lewendig" in hulle eie graf ingegaan, want hulle het nie eers doodgegaan voordat hulle begrawe is nie.  Ps 55:15 gebruik dieselfde terme: “laat hulle lewendig in die doderyk [graf] neerdaal.”  Dieselfde Hebreeuse woorde word hier gebruik.  Hoewel die mense (volgends Num 16) in hulle eie graf geval het en by implikasie ook die doderyk betree het, was dit nie asof die doderyk letterlik ‘n opening in gekry het nie (asof die doderyk 'n plek onder die aarde was nie).  Die teks sê trouens dat die aarde (nie die doderyk nie) sy mond sal oopmaak.  “Sheol" is maar net die term wat gebruik word vir diegene wat in hulle grafte is, en by implikasie dood is.  Die figuurlike konnotasie dat Sheol “onder” is, is waarskynlik omdat mense wat dood is gewoonlik in die aarde begrawe is.  Die vertaling “doderyk” sou ek dus sê is by implikasie ook 'n geldige vertaling vir "Sheol," en word in ander kontekste so gebruik, maar in die konteks van beide Num 16 en Ps 55:15, is "graf" 'n beter vertaling.  Deut 32:22.  Die uitdrukking “Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder” is ‘n figuurlike uitdrukking om die algehele vernietiging wat aangerig word, aan te dui.  Job 38:16-17 is uit en uit beeldspraak.  Jes 7:11.  Aan Agas word gevra om ‘n teken te eis: “vra dit of in die diepte of bo in die hoogte.”  Die betekenis hiervan is nie heeltemal duidelik nie.  Dit kan óf beteken dat hy ‘n teken “vanuit die aarde of die hemel” moet vra, óf “vanuit die dode (soos dat die dode opgewek word) of die geestelike.”  Eseg 26:19-20 is metafories van die vernedering, vernietiging en verlatenheid, vermeng met die idiomatiese manier hoe oor die doderyk gepraat is.  Eseg 32:18-32 is ook deurspek van die idiomatiese manier hoe oor die doderyk gepraat is.  Am 9:2.  Die "op" en "af" motiewe is metaforiese taal om die geestelike uiterstes (hemel en hel) uit te druk en sê niks t.o.v. die letterlike posisionering van die hemel en die hel nie.

Oor Jaco se bewerings dat Jahwe “glo” dat die dood hulle aardse beroep / roeping in die dood voortsit en begrawe moet word om probleme met die hiernamaals te vermy, dat hulle kos nodig het en dat hulle menslike liggame kan hê en met die lewendes kan praat:  In 1 Sam 28:11-19, waar Saul en die dodebesweerster die manifestasie van Samuel gesien het, was ‘n wonderwerk van God en nie omdat die vrou hom “opgeroep” het nie.  Sy het dit nie verwag nie, en het geskreeu toe sy hom sien (vers 12), klaarblyklik omdat sy nie werklik mense uit die dood kon laat opkom het nie.  Wat presies die aard van die manifestasie was van Samuel en in watter tipe toestand God hom laat manifesteer het, is nie duidelik nie.  Dit was nie asof Samuel sy beroep / roeping voortgesit het nie, maar ‘n besondere wonderwerk van God om ‘n spesifieke boodskap aan Saul oor te dra.  Jes 14:10-16 is metaforiese taal vir die val van Lucifer, sy verwydering van God se teenwoordigheid en sy wegwerping na die realm van die dood (buite God se koninkryk en teenwoordigheid).  Eseg 32:19-32 is ook beeldspraak waarin die motief van die graf, die dood en die doderyk voorkom.  Lev 20:27 praat van 'n persoon wat 'n waarsêende gees het of 'n towenaar is.  Dit is demoniese geeste wat hierdie tipe manifestasies in mense aanbring.  Deut 26:14 praat daarvan dat "heilige goed" (waarskynlik offers en kos) uit die huis nie aan 'n dooie gegee mag word nie.  Dit word verbied.  Daar was waarskynlik diegene wat kos of offers aan dooies wou bring deur dit op hulle grafte te plaas, ens. (o.g.v. buite-Bybelse, heidense praktyke).  Hierdie teks sê dus die teenoorgestelde van wat Jaco beweer.  Dat daar wel so 'n bygeloof bestaan het is verseker, veral omdat dit beoefen is in die heidense afgodediens.  2 Kon 9:10 praat bloot van die dood van Isébel: dat die honde haar sal eet en dat daar niemand sal wees om haar te begrawe nie.  In Jes 8:19 word die praktyk van die "oproep van geeste" (wat inderwaarheid demoniese manifestasies is) verbied.  Jer 8:1 praat eskatologies van die bene van Juda, die vorste, priesters, profete en die inwoners van Jerusalem wat uit die grafte gehaal sal word, ens.  Jer 16:4 praat van hulle wat sal sterf en nie beklaag of begrawe word nie en voedsel sal wees vir die diere en voëls.

Jaco se bewering dat Jahwe "glo" dat ander “gode” bestaan (op dieselfde vlak as Hyself) is reeds weerlê.  Daar is wel iets soos demoniese magte en gevalle engele (ondergeskik aan God), soos voorheen bespreek.  Sy bewering dat Jahwe "glo" dat daar "fiktiewe lokusse" bestaan soos die berg van God in die noorde en die tuin van God (Eks 12:12?; Ps 82; Jes 14:13; Eseg 28:13,16; Jes 51:3) is ongegrond.  Die tuin en berg van die Here is metafore vanuit menslike verwysingsraamwerk om plekke of posisies in die geestelike realm te beskryf.

Dat Jaco beweer dat Noag, Job en Daniël fiktiewe karakters is, is sonder enige gronde.  Daar is niks in enige teks in die Bybel wat suggereer dat hulle nie historiese mense was nie – ook nie die twee aangehaalde tekste nie (Eseg 14:14; Jes 54:9-10).

Die aanklag dat Jahwe "glo" in mitiese karakters is ook ongegrond.  Die "Leviatan"-tekste is reeds aan geraak en sal later in meer detail bespreek word.  Dinosaurusse het net voor die vloed en nog 'n rukkie na die vloed gelewe. (sien Evolusie of Skepping?)

Jes 30:6 is 'n godspraak in beeldspraak.  Lev 17:17 praat van veldduiwels / demone.  Jes 34:14 praat o.a. van veldduiwels en naggeeste (demone).  In Amos 9:3 is die slang waarvan gepraat word metafories vir die Satan en/of sy magte.  Nie een van hierdies is mitiese karakters nie.

Dat daar reuse was (Gen 6:1-4; 14:5; 15:20; Deur 2:11,20; 3:11; Jos 12:4; 17:15) is korrek en kan nie teenbewys word nie (ook verklaar a.g.v. a] demoniese vermenging met mense o.g.v. Gen 6, en b] die atmosferiese omstandighede voor die vloed wat anders was [bv. hoër suurstofinhoud]).

Dit wat Jaco as "mixomorphs" beskrywe, is gerubs en serafs – geestelike wesens (Gn 3:24; Jes 6:2; Eseg 1).

In verband met die haas wat nie werklik herkou nie:  Volgens die moderne definisie het herkouing te doen met die mae van 'n dier en die manier hoe sy spysvertering werk.  Die antieke definisie was waarskynlik dat diere wat herkou-bewegings maak geklassifiseer word as herkouers (wat die haas wel doen) – wat dan verskil van die moderne definisie van wat herkouers is.  Dit verklaar waarom die haas in Lev 11:6 as 'n herkouer gesien word.  Die sg. wispelturigheid / onbestendigheid van die volstruis (Job 39:16-21) is nie so 'n vreemde waarneming van die werklike aard van volstruise nie.

Die aantyging dat Jahwe “glo” dat die mens gemaak is van stof en klei (Gen 2-3; Ps 103:14) is verwarrend.  Die gedeeltes sê nie dat die mens bestaan uit stof en klei nie, maar dat God hulle oorspronklik uit stof en klei geskep het.  Ps 103:14 is ‘n metafoor vir die nietigheid en verganklikheid van die mens.  En tog, as die mens (wat hoofsaaklik uit kool-“stof” bestaan) doodgaan en ontbind raak hy stof.

Jaco beweer dat “Jahwe glo dat die krag van die lewe in die bloed is, en dat die wind ( = gees = asem) lewe gee aan menslike (en goddelike) liggame.”  In Gen 4:10 praat God in beeldspraak met Kain.  Abel se bloed het nie werklik ‘n stem nie.  Dit is natuurlik so dat daar iets geestelik is aan bloed (Lev 17:14).  Dit is om dieslefde rede dat bv. Sataniste die bloed drink van diere en mense.  Dit plaas hulle onder 'n vloek omdat God dit so bepaal het dat daar 'n bepaalde geestelike verband tussen bloed en siel bestaan.  Hierdie verband lê egter nie op 'n rasioneel waarneembare vlak nie, maar is geestelik (metafisies).  Die geestelike waarde van bloed kan op 'n ander manier ook gesien word.  Die Ou Testamentiese offers was vir versoening.  Die Here Jesus se bloed wat gevloei het, het daarom ook geestelike waarde.  Die verband wat bloed het met lewe is dus nie fisies nie, maar metafisies.  Eseg 37:9-10 gebeur in 'n visioen.  Die Wind / Asem van God en die Gees van God word dikwels met mekaar geïdentifiseer.  Die Gees van God as "Wind" lê opgesluit in die woord "ruag."  Dit is egter nie 'n letterlike wind nie, maar 'n tipe standaard metafoor / idiomatiese uitdrukking vir God se Gees.  In Gen 2:7, waar God lewe geblaas het in die mens, bevestig 'n komponent van die feit dat God die mens na sy beeld gemaak het en dat die lewe 'n gawe van God is.  Die oostewind wat in Eks 14:21 die see oopgekloof het, het nie noodwendig direkte verband met God se Gees nie.  Eks 15:10 is 'n metafoor vir die wind wat God gestuur het om die see te kloof. 

Die bewering dat Jahwe "glo" dat denke (letterlik) van die hart kom en emosies van die niere (Jer 17:10) is nie grondig nie.  Hierdie tipe uitdrukknigs is standaard idiomatiese uitdrukkings om van die denke en die hart te praat.  Jahwe gebruik dieselfde tipe menslike taal en idiome wat vir hulle verstaanbaar is.  Hoewel sommige dalk letterlik geglo het die denke kom letterlik van die hart, ens. is dit nie noodwendig die geval nie.  Ons gebruik bv. die uitdrukking "my hart is seer."  Dit is 'n standaard idiomatiese uitdrukking wat sin maak in ons taal.  Maar ons bedoel nie noodwendig daarmee ons hart is letterlik seer nie.  Dieselfde geld vir die Hebreeuse uitdrukkings.

Wat die aanbidding (reukwerk en offers) van God onder die heidene betref (Mal 1:11).  Let wel, dit is nie die "al die mense van die wêreld" soos Jaco beweer nie, maar die heidene.  Hierdie gedeelte is profeties en dui op die toekoms wanneer nie-Jode God sal dien.

Die bewering dat Jahwe "glo" dat alle droogtes noodwendig goddelike misnoë verteenwoordig en altyd die resultaat is van sonde, is nie waar nie.  Lev 25:3-4 het te doen met die "sabbatsjaar" en het niks te doen met droogte nie.  In Deut 28:23-24 is dit waar dat God o.a. droogte sal stuur as die mens nie luister na sy woorde nie, maar dit sê nie dat alle droogtes die gevolg is van sonde nie.  1 Kon 17-18 vertel van die droogte waarvoor Elia gebid het wat God inderdaad as straf gebruik het (vgl. Jak 5:17), maar dit sê nie dat alle droogtes God se straf vir sonde is nie.

Jaco maak die stelling: "Jahwe self glo dat drome boodskappe is van die goddelike."  (Gen 36-50; Dan 1-12; Job 33; Sag 1-6).  Hierdie stelling is vreemd.  1) Jahwe gee inderdaad drome.  2) Daar is geen aanduiding dat die drome van 'n ander bron as Jahwe self kom nie.  3) Nêrens is daar 'n aanduiding (ook nie in hierdie aangehale gedeeltes nie) dat alle drome van God af kom nie. 

Jaco maak die stelling: "Jahwe self glo dat vloeke en seënings die effektiewe manier is om 'n scenario waarop gehoop word aan te bring." (Gen 49; Deut 33).  Die vloeke en seënings in hierdie gedeeltes het goddelike sanksie.  Jahwe self is die een wat sorg dat die vloeke en seënings uitkom.

Oor Jaco se stelling dat Jahwe self "glo" dat kennis van 'n persoon se naam beheer oor daardie persoon toelaat:  Gen 32:26-27 impliseer niks oor moontlike "beheer" deur Jakob oor God as hy Sy naam sou weet nie.  God wou dit maar net nie aan Jakob openbaar nie.  As God aan Moses sê: "EK IS WAT EK IS" (Eks 3:14), is dit nie omdat God nie sy naam wou bekend maak nie.  Dit is eerder 'n geval dat God nie 'n naam het nie.  God is wie Hy is.  God is juis anders as afgode met mensgemaakte name.  Rigt 13:17-18 impliseer ook niks van die aard nie.  Die Engel van die Here wou maar net nie sy naam bekend maak nie.  Dikwels wys die "Engel van die Here" op Jesus Christus.  En as dit hier die geval was, sou God dit so bepaal het, juis omdat die volheid van die tyd nog nie aangebreek het nie.

Oor die afgode wat mense gesien het as transendente realiteite (Jes 44:9-20):  Dit is inderdaad so dat hulle nie werklike gode is nie en dat die beelde slegs dooie items is.  Dit mag so wees dat mense gedink het dit verteenwoordig werklike gode, maar dit beteken nog nie hulle het werklik bestaan nie.  Jahwe lewer juis kritiek teen hierdie beskouing.  Maar dit is ook so dat demone 'n realiteit is.  Soms het demone hulleself verbind aan sekere afgode, maar dit was nie omdat die afgode inherent sekere demone verteenwoordig het nie.  Dit is eerder 'n geval van waar die Satan en sy magte op 'n manier eer vir hulleself gesoek het.

Jaco maak die stelling: "Jahwe self glo dat sosiale norme uit die hemel geval het."  Eks 20-34; Deut 4-5; Eseg 20:20-25.  Hierdie is ook 'n vreemde stelling, want Jahwe self het die wet aan die volk gegee.

Die stelling dat Jahwe "glo" dat sekere metale (soos goud) objektief meer waarde het eerder as dat mense dit as sodanig beskou (Gen 2:12; Eks 24:10; 25:11; Eseg 28:13; Hag 2:7) is ook vreemd.  God het self die waarde van sekere metale bo ander bepaal.  Goud is in elk geval uniek daarin dat dit uitstekend gelei, nie roes of verweer nie, 'n mooi voorkoms het, maklik bewerk kan word, swaar en duursaam is.

 

Oor die negatiewe stellings wat Jaco maak oor wat Jahwe “nie sou weet nie”:

 

Dat Jahwe nie sou weet van ander sterrestelsels nie, is ongegrond.  Die aarde as middelpunt al dan nie is relatief.

Die stelling dat Jahwe niks weet van die wêreld voor “homo sapiens” nie gaan uit van die voorveronderstelling dat die evolusie-teorie waar is.

Die stelling dat Jahwe niks weet van godsdiens voor die Bronstydperk nie, gaan uit van die voorveronderstelling dat daar ouer godsdienste is as Jahwisme (later bespreek).

Die stelling dat Jahwe niks weet van die geskiedenis voor die tweede millenium v.C. nie, is vreemd, siende dat die geskiedenis van die Bybel tot ongeveer 4000 v.C. teruggaan.

Die stelling dat Jahwe niks weet van die sg. gerekonstrueerde geskiedenis voor die uittog nie, gaan uit van die voorveronderstelling dat 1) die rekonstruksie geldig is en/of 2) dat die geskiedenis soos in die Bybel vermeld, aanspraak maak daarop om in alle opsigte volledig te wees.

Die stelling dat Jahwe nie basiese meteorologiese prosesse verstaan nie, is gewoon ongegrond.

Die stelling dat Jahwe niks weet van menslike psigologie nie is ook ongegrond.

Die stelling dat Jahwe niks weet van virusse en sekere mediese kondisies nie is ook ongegrond.

Die stelling dat Jahwe niks weet van wat binne die aarde aangaan nie en nie weet van mense anderkant die Nabye Ooste nie is ook ongegrond.

 

Wanneer Jaco die "enigste" drie opsies gee (1. dat dit eintlik mense is wat die dinge geglo het en aanspraak daarop gemaak het dat Jahwe dit ook geglo het, 2. dat Jahwe sulke dinge geglo het en 3. dat Jahwe nie bestaan nie: p. 159), dan vergeet hy een belangrike opsie (4.) – nl. dat sy interpretasies en waarnemings oor al hierdie aangeleenthede verkeerd is.  Vanuit bogenoemde lyk dit inderdaad of dit die geval is.  Dit maak sy konklusies oor nie-realisme dus waardeloos en eerder die resultaat van die karikatuur wat hy self geskep het.

 

Met Jaco se betoog teen die moontlikheid dat baie van die taal in die genoemde tekste metafories is, en dat baie van die uitdrukkings vaste idiomatiese uitdrukkings was, gooi hy die baba by die badwater uit.  Daar is baie gedeeltes waarin die metaforiese taal so duidelik is soos daglig.  Juis uit Job 38-41 waarin Jaco skynbaar weier om metaforiese taal in raak te sien, staan dit baie duidelik uit: “Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?” (Job 38:6).  “wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het?” (vers 8).  “Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het” (vers 10).  “Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien” (vers 22), ens.  Hoe op aarde kan dit letterlik bedoel word?  Dit is juis geskryf in digterlike taal.  Die ander aspek wat Jaco baie vinnig wil afskiet sonder om in diepte homself daarteenoor te verantwoord, is dat die Hebreeuse taal ryk is aan vaste idiomatiese uitdrukkings, bv. om “af te daal na die doderyk” of dat “ruah” (wind/Gees) bv. ‘n vaste uitdrukking is om beide wind en/of Gees te beskryf.  Geen taal is sonder idiome of standaard metafaoriese uitdrukkings nie.  Om hierdie aspekte net summier van die tafel te wil afskuif is myns insiens kortsigtig en onverantwoordelik.

 

2. Die volgende argument wat Jaco aanwend is dat hy die aantyging maak dat Jahwe se profesieë nie altyd waar word nie en dat Jahwe metodologies inkonsekwent is.  Die gedeeltes wat hy aanhaal om laasgenoemde te beweer (Rigt 6:13; 1 Sam 3:1; Ps 74:9; 77:7-11) wat as’t ware droogte-tydperke van profete en Jahwe se Woord verteenwoordig, is nie omdat Jahwe inkonsekwent is nie, maar omdat die volk ongehoorsaam was en van die wet en verbond afgedwaal het.  God se optrede in daardie verband is juis konsekwent.  Jaco is reg as hy sê dat daar valse profete is wat beweer hulle spreek Jahwe se woorde terwyl dit inderdaad nie die geval is nie (Jer 23:9-40; Eseg 13:1-23; Deut 13:1-5).  En tog staan dit God vry om selfs valse profesie toe te laat, juis omdat Hy dikwels die ongehoorsame en goddelose volk aan hulle eie lot wil oorlaat (bv. 1 Kon 22:22).  Die valse profesieë self is egter nooit God self se woorde nie.

 

Die lys van beweerde onvervulde profesieë wat Jaco aanbied, is soos volg:

 

Dat die Beloofde Land sou strek tot by die Eufraat (Gen 13,17).  Die belofte is inderdaad dat God aan sy volk die Land sal gee: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.” (Gen 15:18).  Gen 13, waar Abraham en Lot hulle gevestig het is nog voor daardie belofte.  Gen 17, waar God aan Abraham die hele land Kanaän gee as besitting (Gen 17:8), is nie bedoel om Abraham te beperk tot Kanaän nie, maar maak demografies sin vir die grootte van Abraham se huis.  Die volk het later in elk geval uitgebrei tot by die Eufraat (Deut 1:7; 11:24; Jos 1:4; 1 Kron 18:3).

Die belofte dat dit goed sou gaan met Israel as hulle getrou was aan die verbond (Lev 27; Deut 28), is nie verbreek nie.  Wat Ps 44 betref.  Die “roem in God” en die “loof van die naam van Jahwe” (vers 9), dat die volk nie bedrieglik gehandel het teen die verbond nie (vers 18), en dat die volk nie agteruitgewyk het en dat hul gange nie van die pad afgewyk het nie (vers 19), is alles uiterlik godsdienstige praktyke, en maak nie die moontlikheid toe dat hulle hart eintlik ver van God af was nie.  Volgens baie gedeeltes is uiterlike godsdiens in elk geval ‘n gruwel vir God (bv. Jes 1:13-14).  God soek baie meer as dit.  Maar desnieteenstaande beteken God se beloftes in Lev 27 en Deut 28 in elk geval nie dat die volk nooit ooit lyding sal ervaar nie, maar dat in die groter geheel God hulle steeds sal seën as hulle Hom werklik ken en werklik getrou is aan Hom (sien ook die Nuwe Testament, bv. Mt 5:10-12; 1 Pt 4:11-19). Wat Ps 89 betref.  Die verstoting van die gesalfde (vers 39) verwys waarskynlik na Christus wat sal kom.  God het sy toorn op Hom laat neerkom en Hom verlaat.  Maar daardeur het God juis sy beloftes nagekom om verlossing aan die nasies te bring.

Dat Jahwe in Jos 8:28 sê dat Ai verwoes sal word en nooit weer herbou sal word nie, is nie wat die teks sê nie.  Dit sê dat daarvan ‘n puinhoop gemaak is word “tot vandag toe.” Hoewel dit beset was na die ballingskap (Neh 7:32), was dit ten tye van die skrywe nog onbeset.  Dit bevesting dat Josua vroeër geskryf is as wat baie kritici beweer.  In Jos 8 is daar in elk geval geen belofte of profesie dat dit nooit ooit weer bewoon sal word nie, maar stel bloot die feit dat Jahwe dit verwoes het en dat dit in puin gelê is tot en met die opskryf daarvan in die boek Josua.

Dat die Dawidiese monargie nooit sal eindig nie (o.g.v. 2 Sam 7; Jer 33; Ps 89) is nie heeltemal korrek nie.  2 Sam 7:16 sê: “En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.”  Dit word nie bedoel as ‘n fisiese aardse koninkryk nie, maar dit word geestelik vervul.  Jer 33:17 sê: “Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie” en Jer 33:21-22 sê: “dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars.  (22)  Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.”  Dit dui op die geestelike nageslag van Dawid wat deur Christus sou deel raak van die verbond.  Psa 89:4 (5) sê: “Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.”  Dit word geestelik in Jesus Christus vervul, want Hy is die Gesalfde, gebore uit die geslag van Dawid (Lk 2:4; Jh 7:42; Rm 1:3; 2 Tim 2:8;  Op 22:16).  Die profesieë oor die ewige koningskap van Dawid moet ook saamgelees word met Ps 132:11; Jes 11:1; Miga 5:2 en Jer 23:5 “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.”  Dit dui op Christus!

Die bewering dat Josia “in vrede” sou sterf (2 Kon 22) en in die oorlog gewond is (2 Kon 23) is nie teenstrydig nie.  Let wel, 2 Kon 22:20 sê nie hy sal vredevol “gedood word” nie, maar wel vredevol in sy graf versamel word.  Buiten dat Josua nie deel was van die groot oorloë wat drie jaar na sy dood gevolg het nie, en dat hy vir sy lewensduur relatief kalm gelewe het, het hy, hoewel hy in oorlog gewond is, in Jerusalem gesterf saam met sy familie.  Tegnies is hy dus wel “in vrede” in sy graf versamel.

Jaco maak die stelling dat Jahwe “geglo” het dat die Israeliete wat deur die Assiriërs in ballingskap geneem is, sou terugkeer, gelei deur ‘n afstammeling van Isai.  Dit dui op Christus, en die belofte is geestelik vervul (Op 5:5; 22:16).

Die profesie dat Damaskus vernietig sal word (Jes 17) en soos Jaco sê: “soon be destroyed forever long ago yet it remains inhabited even today” is nie heeltemal korrek nie.  Damaskus is inderdaad verwoes.  Dit het plaasgevind onder die konings van Assirië, en veral onder Tiglat-Piléser.  Dis was in die vierde jaar van Agas (2 Kon 16:9).  Jes 17:6 impliseer dat daar wel ‘n oorblyfsel sal wees.  Jes 17 sê dus nie dat niemand ooit weer in Damaskus sal bly nie.  Maar die eertydse prag en praal en die hoogbloei van die stad is vernietig.  Daar is egter ‘n tweede moontlike interpretasie, en dit is dat die profesie eskatologies is en geestelik vervul sal word, m.a.w., net soos Babel tot ‘n val sal kom (verwysende na die bose, demoniese koninkryke en sisteme), Damaskus ook ‘n bepaalde bose geestelike setel verteenwoordig.  Dan verwys die oorblyfsel na gereddes. 

Jes 19:23-25 wat sê dat Egipte en Assirië saam die Here sal dien, dui ook op die evangelie-tydperk.  Egipte en Assirië is metafore vir verskillende nasies.

Jaco se bewering dat Edom vir ewig verlate sal bly (Jes 34:17) lyk bietjie na ‘n strooiman.  Jes 34:17 praat oor die wesens (die pylslang en die kuikendiewe: vers 15) waaroor die lot vir ewig gewerp is: dat aan hulle die land (Edom) as meetsnoer uitgedeel is en dat hulle dit ewig sal besit en van geslag tot geslag daarin sal woon.  Dit verwys daarna dat demone en bose wesens vir ewig in daardie streek sal woon.  Die teks sê dus nie iets oor die verlatenheid (i.t.v. mense wat daarin woon) al dan nie van Edom nie.

Jaco maak die stelling dat Jahwe “glo” in ‘n eskatologiese scenario waarvan die details nie meer kan realiseer nie as gevolg van “historiese en kulturele verandering.” (Jes 65-66).  Hierdie aantyging is vaag en ongemotiveerd.  Die nakroos uit Jakob (Jes 65:9) verwys na die geestelike Israel (gelowiges in Christus).  Diegene wat hulle rug op God draai sal vir die oordeel bestem wees.  ‘n Nuwe hemel en nuwe aarde wag op die uitverkorenes.  Jerusalem verwys na die nuwe, hemelse Jerusalem.  Dan volg ‘n aantal metafore om die hemelse bestaan te beskryf.  Jes 66 beskryf die finale oordeel en sy vertroosting vir die hemelse Jerusalem: sy geestelike volk.  Dit beskryf ook aspekte van die nuwe hemelse bestaan en die ewige oordeel.

Die aantyging dat Jójakim nooit ‘n eselbegrafnis ontvang het nie (2 Kon 24:6) soos in Jer 22:18-19; 36:29-31 aangedui, is ongegrond.  2 Kon 24:6 vermeld niks oor die aard van Jójakim se dood nie.  Dit sluit beslis nie die moontlikheid vir ‘n eselbegrafnis uit nie.

Die aantyging dat die ballingskap 48 jaar geduur het (Jer 29:10) terwyl geprofeteer is dat dit 70 jaar sou neem (Jer 29:10; Dan 9:2), maak nie sin nie.  Altwee hierdie tekste dui op 70 jaar.

Die profesie in Jer 50:3 oor die val van Babilon is eskatologies (sien Jer 51:8; Jes 21:9; Op 14:8; Op 18:2).

Aangesien die val van Babilon in Jer 50 eskatologies is, is die volgende aantyging dat Babilon vandag bewoon word deur mense, ook dus ongeldig.

Die aantyging dat Tirus nooit deur Nebukadnezar verwoes is nie (Eseg 26 en 32) is ongemotiveer en kan nie vanuit Eseg 32 afgelei word nie.  Vanuit die argeologie en die geskiedenis is dit in elk geval duidelik dat Tirus wel verwoes is.

Die aantyging dat Egipte nooit vir 40 jaar veralte gelê het nie (Eseg 29:12) is ongegrond.  Dit kan nie sonder enige twyfel vanuit die geskiedenis of die argeologie geverifiëer word nie.  Daar is ook niks in die Bybel wat dit weerspreek nie.

Die profetiese beeldspraak oor die heilige waters en die nuwe land en die geestelike Israel in Eseg 47 is eskatologies en sien op 'n tyd in die nuwe hemel en die nuwe aarde (sien bv. vers 12).

Die bewering dat die Dawidiese monargie nooit tot stand gekom het nie, is ongegrond.  Hag 2:2-9 se verwysing na die "toekomstige heerlikheid van hierdie huis" (Hag 2:9) dui op die Messiaanse tydperk, waar Jesus vanuit die geslag van Dawid die huis geestelik herstel het (vgl. Heb 8:8-10).  In Sag 4:4-16 wat alles 'n visioen is, is Serubbabel wat die fondament van die "huis" lê 'n metafoor vir Christus wat die fondasie lê vir sy kerk.

Die aantyging dat die eskatologiese scenario's van Sag 12-14 nie meer kan realiseer nie omdat (soos Jaco sê) dat die onderskeie rolspelers (Huis van Dawid, Kanaäniete) en die landmerke nie meer bestaan nie, is ook nie waar nie.  Isreal, Jerusalem, die huis van Dawid en Juda (die Jode) is alles rolspelers wat in die Nuwe Testament betekenis het.  Sag 12:10 is duidelik Messiaans.  Die stamme van Israel is nog relevant tot en met Openbaring (Op 7:4; 21:12).  Die dag van die Here dui op die laaste oordeel en die nuwe Jerusalem en Juda wat later uitgebeeld word, dui op die nuwe eskatologiese bedeling.  Die Kanaäniete (14:21) is metafories vir vreemdelinge van God / sondaars.  Daar sal nie van hulle in die nuwe eskatologiese toestand wees nie.

Die aantyging dat Jahwe “geglo” het dat die wêreld sou eindig na die Griekse Ryk (Dan 8; 11-12) is gebaseer op ‘n foutiewe interpretasie van die profesieë van Daniël.  Die profesieë oor die einde van die wêreld dui op die verre toekoms.  Daar is strukturele merkers wat dit aandui.  Bv. Dan 8:17 "Verstaan, o seun van die mens: want die gesig sien op die tyd van die einde."  Dan 8:19 "…dit sien op ‘n bepaalde tyd van die einde." Dan 11:6 "Aan die einde van jare sal hulle (die konings) hulleself verenig."  Dan 11:35 "Sommige van die wat verstaan, sal val, om hulle te beproef, en om hulle te louter, en om hulle wit te maak, tot die tyd van die einde, want dit is vir ‘n vasgestelde tyd bestem."  Dan 11:40 sê "In die tyd van die einde sal die koning van die suide aan hom (die laaste koning) stoot."  Dan 12:8-10 "Ek het gehoor, maar nie verstaan nie, en het gesê: O my Heer, wat sal die einde van al hierdie dinge wees? (9)  En Hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde is gesluit en verseël tot die tyd van die einde toe. (10)  Baie sal gereinig word, en wit gemaak word, en beproef word, maar die goddelse sal goddeloos wees, en geen goddelose sal verstaan nie, maar die wyse sal verstaan."

 

Die manier hoe Jaco hierdie bewerings aanbied laat mens wonder 1) of hy werklik in diepte gekyk het na die profesieë, 2) of hy rekening gehou het met die moontlikheid dat baie van die profesieë nog in vervulling moet gaan, 3) of hy rekening gehou het met die misterieuse taal, beelde en die kompleksiteit van die profesieë, 4) of hy oop is daarvoor dat interpretasies van liberale teoloë oor die vervulling al dan nie van die profesieë verkeerd kan wees nie, en 5) of Jaco, siende dat hy meen dat hierdie gelysde profesieë nie waar geword het nie, of hy dan daarmee erken dat al die ander profesieë wel waar geword het?

 

3. Die volgende argument wat Jaco aanwend is dat hy beweer Jahwe het al-te-menslike behoeftes.  Hierdie argument is myns insiens baie kunsmatig.  Hy neem ‘n klompie beweerde karaktertrekke van Jahwe, en plaas ‘n “Yahweh needs to” vooraan, sonder dat die element van “needs to” enigsins voorkom in die tekste.  Die aantygins is in meeste gevalle ‘n ingeforseerde gesigshoek.  Ek gaan daarom nie op almal kommentaar lewer nie.  Baie van die karaktertrekke is inderdaad waar van Jahwe, maar dit is nie omdat Hy ‘n behoefte daaraan het nie, maar omdat dit gewoon ‘n goddelike karaktertrek is, bv.

 

Jahwe het geen gelyke nie.  Die tekste wat Jaco aanhaal (Gen 1:26-27; 3:22; 11:6; Jes 14:12-14) waar mense soos God is of merkwaardige dinge doen of waar Lucifer teen God in opstand kom, is dit allermins ‘n bedreiging vir God.  God het juis daardie ruimte in sy skepping toegelaat sodat sy skepsels uit vrye keuse ook teen Hom kan kies.

Jahwe regeer oor alle mense, nie omdat hy ‘n behoefte het daaraan nie.  Die tekste wat Jaco aanhaal ter ondersteuning (Eks 19:6; Deut 4:19; 32:8-9) het hy as’t ware “sommar net vir die lekker” ‘n “needs to” vooraan gaan sit.

Dieselfde geld vir die aantyging dat Jahwe “’n behoefte sou hê” om sy reputasie te behou (Deut 32:26-27; Mal 1-3).

Die aantyging dat Jahwe “’n behoefte het” om hoog bo in ‘n private dakwoonstel te bly (Gen 11;18) is gebaseer op ‘n foutiewe interpretasie van hierdie gedeeltes waarin die metaforiese taal (Gen 11) en die fisiese manifestasie van Jahwe (Gen 18) ontken word (reeds bespreek).

Die aantyging dat Jahwe “’n behoefte het” om sy direkte en persoonlike kontak met die algemene bevolking te beperk, is totaal ongegrond.  Die visioene van Dan 9-11 is geensins ‘n teks ter ondersteuning nie.

Die aantyging dat Jahwe “’n behoefte het” om “af te show” of om “dramatic entrances” te maak is belaglik.  Eks 19; Ps 29 en Hab 3 doen ook niks vir hierdie aantyging nie.

Jahwe bring “goeie protokol” deur sy wet omdat dit deel is van sy karakter en Sy verbond ten behoewe van die mens (Eks 20-4-; Lev 1-26) – nie omdat Hy “’n behoefte het” daaraan nie.

Die aantyging dat Jahwe “’n behoefte het” om anoniem te bly is ook ongegrond.  Jahwe koppel nie ‘n sekere menslike naam aan Homself nie (Gen 32:29 en Eks 3:14), omdat Hy nie vir sy mense as’t ware “‘n boksie wil gee waarin hulle Hom kan druk nie.”  En tog gee Hy wel aan hulle ‘n naam: “EK IS.”  Dit weerspiëel God se werklike karkater en beskryf sy almag en uniekheid, en andersheid van die afgode.

Jahwe het nie “’n behoefte” om gevrees te word nie, maar dwing vrees af as gevolg van sy karkater en wie Hy is (Eks 20:19-20; Spr 1:7; Job 38-41).

Die aantyging dat Jahwe “’n behoefte het” om “tantrums te gooi” is eerder ‘n behoefte van Jaco se kant om Gos te verkleineer, as wat dit enigsens ‘n refleksie is van God se optrede soos deur die tekste aangehaal.  Dat Jahwe se toorn ontvlam is gewis (Eks 32:10; Num 16; 2 Sam 21; 24), maar dit reflekteer juis God se integriteit en heiligheid en die feit dat Hy sonde haat – ‘n deel van God se karakter wat van nature aanstoot gee aan die wêreld.  God is gewoonlik traag om Sy toorn ten toon te stel en bly lank geduldig.  As God se toorn wel losbreek is dit gewoonlik ‘n laaste uitweg wanneer mense volhardend hulle rug op God draai.  In alle gevalle verdien die mense dit dubbel en dwars (sien ook Die karakter van God).

Om te sê God “het ‘n behoefte aan” jaloersheid, is ‘n eensydige verwringing van daardie kwaliteit van God.  God is jaloers (Eks 20:5; Eks 43:14).  Dit is deel van sy heiligheid en dat hy die sonde en afgodery haat.  Maar dit is ook deel van God se guns om in ‘n verbond met die mens te tree waarin die mens vrylik kan kies om God te dien en hom tot God te verbind of nie.  God neem hierdie verbond ernstig op.  God se jaloersheid sê dus ook iets oor God se “commitment” teenoor mense en die feit dat Hy in ‘n spesiale, heilige, intieme liefdesverhouding met die mens wil tree wat onverdeeld moet wees van beide kante.

Die aantyging dat God “’n behoefte het” om “geheime te hou” vir mense oor hoe God te werk gaan (Deut 29:29; Job 28-42; Pred 3:11; 8:16-17; 11:5; Spr 25:2), is beslis nie ‘n akkurate waarneming nie.  God is gans anders as mense.  God is Gees en bestaan in ‘n geestelike, metafisiese dimensie.  God se wese en werking is te hoog en onberyplik vir die mens om te verstaan.  Die natuurlike menslike verstand en logika is onvoldoende om ‘n klaar verstaan op God te hê.  Al manier waarop God sy wese en karakter aan mense bekend kan maak is in menslike taal en beelde.  Daar is net sekere aspekte van God se wese wat nie in menslike taal omgesit kan word nie.  Hierdie tekste moet baie in hierdie lyn verstaan word.

Die aantyging dat Jahwe “’n behoefte het aan” offers en reukoffers (Gen 8:21; Lev 1:9,13,17), is ook ‘n eensydige vertolking van die verband waarin offers tot God staan.  Offers is die manier waarop die mens wederkerig toetree tot die verbond en liefdesverhouding met God.  Dit is deel van die verbondsooreenkoms juis om die mens daarin te betrek en hom te help om die aandag weg van sy eie selfsug te rig na God toe sodat hy meer onbevange daardie verbondsverhouding kan ervaar.

Ps 132:13 sê: “Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê…”  Sion het die lokus aangedui van waar die aardse tempel moes wees, maar dit is ook geestelik bedoel.  Vers 17 is hiervan die aanduider: “Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ‘n lamp toeberei.”  Dit dui op die geestelike huis wat vanuit Christus sou verrys.  Mens sou seker kon sê God het ‘n behoefte hieraan, want dit vorm deel van sy intensie om toe te tree tot ‘n persoonlike, wederkerige liefdesverhouding met die mens (sien Die uitverkiesing).  “Sion” dui daarom in baie gevalle na die eskatologiese, geestelike Sion (bv. Jes 10:12-24; 33:20).

Dat God geëer en geprys wil word is gewis (bv. Jes 6:2-3).  Dit is egter nie om narsistiese redes nie, maar omdat God binne die ruimte van aanbidding Homself aan die mens kan openbaar vir wie Hy is, waarin die mens homself kan sien vir wie hy werklik is, en waarin God en die mens kan toetree tot ‘n intieme, liefdesverhouding wat onverdeeld is van beide kante.  God word nie in die eerste plek geëer omdat Hy ‘n behoefte het daaraan nie, maar omdat God God is en die mens sy skepsel, en omdat hierdie orde deur aanbidding bevestig word.  Slegs met die bevestiging van hierdie orde kan die mens werklik sin en werklike vervulling vind in sy bestaan.

Die rede waarom Jahwe aan die mens wette gegee het (bv. Eks 20), is nie omdat Hy ‘n behoefte het aan beheer nie, maar omdat die mens leiding deur God nodig het, en omdat die wet aan die mens ‘n veilige ruimte van liefde en dissipline gee, en gegee is om aan die mens lewe te bring (Lev 18:5).

God gee ook nie aan die mens netelige / klein pligte omdat Hy as’t ware hom met klein take wil bemoei nie (soos Jaco impliseer nie).  God gee juis aan die mens werk, sodat hy nie ledig kan agteroorsit sodat God alles vir hom as’t ware met ‘n lepeltjie kan invoer nie.  Dit impliseer ‘n bepaalde selfstandigheid wat God aan die mens gee tot sy eie beswil (Gen 1:26-27; 2:5).

Oor of Jahwe rus “nodig het” is reeds bespreek (Gen 2:1-3).

Die aantyging dat Jahwe gereeld opnames moet doen om vas te stel “of sy subjekte hom steeds ondersteun” om te kyk of hulle lojaal is, is vaag, ongegrond en ongemotiveer.  Die tekste wat Jaco ter ondersteuning aanhaal (Deut 2,6,13) impliseer nêrens dat Jahwe op ‘n manier op die aarde “opnames” moet maak oor of sy volk Hom steeds dien nie.

 

Die daaropvolgende kommentaar van die duiwelsadvokaat (p. 169-170) illustreer sy aversiewe voorveronderstellings.  Eerder as dat hierdie sg. “behoeftes” vanuit die tekste na vore kom, lyk dit of die duiwelsadvokaat die een is wat “’n behoefte het” – ‘n behoefte om Jahwe af te bring tot ‘n menslike maaksel.

 

4. Jaco se volgende argument is dat hy meen dat Jahwe soms al-te-menslik uitgebeeld word.  Hy lys dan ‘n aantal voorbeelde (Jaco se bewering in aanhalingstekens):

 

“Jahwe het ‘n menslike vorm.”  Gen 1:26-27 sê dat Jahwe die mens na sy beeld / gelykenis gemaak het.  Dit lyk of Jaco daarin interpreteer dat die mens “soos God lyk” in terme van fisiese voorkoms.  Dit sou ‘n simplistiese interpretasie wees.  Myns insiens praat dit eerder oor 1) die geestelike-, en wils-dimensie van die mens (wat nie by diere teenwoordig is nie) wat die mens “na God se beeld” laat wees, dit wat die mens bv. in staat stel om te “heers” (vers 28), en 2) dat die mens as volmaak en sondeloos geskape is.  Om voorts te interpreteer dat Jahwe hier “in menslike vorm” uitgebeeld word, kan nie tegnies van die teks afgelei word nie, maar eerder dat die mens ‘n weerspiëeling van God se karakter dra (op welke manier ook al).  Gen 5:1-3 handel nie oor God of sy vorm nie, maar sê bloot dat Adam se kind in Adam se gelykenis is.  Hier kan geen direkte of noodwendige parallel met die mens wat in God se gelykenis gemaak is, getrek word nie.  Trouens, die konnotasie hier is eerder dat Set ook as sondaar gebore is omdat sy pa gesondig het in teenstelling met Adam wat wel in die beeld van God (sondeloos) in die wêreld gekom het.  Die verwysing na die mens wat as beeld van God geskep is in Gen 9:6 en daarom nie doodgemaak mag word nie, verwys myns insiens ook na die geestelike dimensie van die mens. In Eks 24:10-11 het Moses en die oudstes van Israel ‘n bepaalde manifestasie of visioen van God gesien - waarskynlik in ‘n mens-agtige vorm.  Jes 6:2 is ‘n visioen van God.  Eseg 1:26 vorm ook deel van ‘n visioen (Eseg 1:1).  Dan 7:9 is ook ‘n visioen (die implikasie van visioene sal later bespreek word).  Sag 14:4 is metaforiese taal.

“Jahwe lyk soos ‘n ou man.” (Dan 7:9) Let wel, nie ‘n ou “man” nie, maar ‘n “Oue van Dae.”  Dit is ‘n visioen en nie ‘n werklike verskyning van Jahwe nie (reeds bespreek).

“Jahwe het oë.” (Ps 11:4; 2 Kon 19:16).  Beide is antropomorfe maniere om God te beskryf.  Jahwe het oë, maar dit wat ons verstaan onder God se “oë” is maar net ‘n antropomorfe vergelyking (iets wat sin maak binne ‘n menslike verstaansraamwerk) van God se “sig,” wat ‘n geestelike, metafisiese Wese is.

Dieselfde geld vir baie van die ander “sintuie” / “ledemate” / “liggaamsdele” van God:

“Jahwe het ore.” (Num 11:1; 2 Kon 19:16)

“Jahwe het ‘n hart.” (Jes 15:5; Jer 48:35-36; Jes 16:9 bevat niks oor God se hart nie – net dat God ween; 63:15 praat ook nie van God se hart nie, maar die “ontroering van sy binneste”; Jer 31:20 praat ook van die “ontroering van sy binneste”; Eseg 28:2 praat tegnies nie van Jahwe se hart nie maar praat oor die hart van die vors van Tirus wat sy hart gemaak het soos die hart van ‘n god.).  Die Hebreeuse “lêb” (hart) is in elk geval reeds ‘n figuurlike term – ook al word dit in menslike konteks gebruik.  Stongs verklaar “lêb” in elk geval: “the heart; also used (figuratively) very widely for the feelings, the will and even the intellect; likewise for the centre of anything”, ens.

“Jahwe het voete.” (Eks 24:10-11.  Dit was ‘n bepaalde manifestasie van God [vroeër bespreek]; Sag 14:4: dit is metaforiese taal vir God se sterk teenwoordigheid in Sy oordeel.)

“Jahwe het hande en vingers.” (Eks 31:18; Deut 9:10; Jer 1:9; Ps 8:4 is metafories vir sy skeppingswerk)

 

In die volgende voorbeelde is ook antropomorfismes: terminologie in menslike taal om Goddelike emosies en kwaliteite te beskryf.  Dit kan nooit ‘n klaar greep kry op die werklike karaktertrekke van God nie, want menslike taal bly analoog tot die werklikheid van God, en is verbonde aan ons menslike simboliese universum (ons verwysingsraamwerk, taal- en kultuur-simbole):

 

“Jahwe lag.” (Ps 2:4; 37:13; Job 12)

“Jahwe huil.” (Jes 15:5; 16:9,11; Jer 9:10; 48:30-32,35-36; Jer 12:7 sê niks oor Jahwe wat huil nie – foutiewe verwysing?)

“Jahwe ruik lekker geure.” (Gen 8:21; Lev 1:9,13,17; 26:31)

 

Die volgende voorbeelde wat Jaco aanhaal dien nie sy argument nie, omdat in nie een van die gevalle dit letterlik bedoel word nie (of foutief geïnterpreteer is):

 

“Jahwe het ‘n mond.” (Ps 18:9 is metaforiese taal).

“Jahwe het lippe.” (Jes 30:26-27 is ook metaforiese taal).

“Jahwe het ‘n tong.” (Jes 30:26-27 – metaforiese taal).

“Jahwe het ‘n gesig.” (Gen 32:30 – ‘n boodskapper / verteenwoordiger van God [nie God self nie] het verskyn aan Jakob; Eks 33:20 praat van Jahwe se “aangesig” – nie dat dit ‘n menslike gesig as sodanig is nie; Rigt 13:16 – Die Engel van die Here [boodskapper van God – nie God self nie] het aan Manoag verskyn.  Daar word niks van sy gesig gesê nie.)

“Jahwe het ‘n rug.” (Eks 33:23 praat nie van Jahwe se “rug” nie, maar dat Moses Hom “van agter” sal sien.  Dit was in elk geval net ‘n bepaalde manifestasie van God wat aan Moses verskyn het.)

“Jahwe het arms.” (Jes 52:10: Jahwe se arm is metafories vir sy krag)

“Jahwe het ‘n neus.” (Eks 15:8: Jahwe se blaas van sy “neus” is metafories vir die manier hoe Hy die waters opgestapel het; Ps 18:9,15 is alles digterlike en metaforiese taal).

“Jahwe het hare.” (Dan 7:9 – dit is ‘n visioen)

“Jahwe sit soos ‘n man.” (Jes 6:1; Eseg 1:26 en Dan 7:9 is alles visioene).

“Jahwe staan soos ‘n man.” (Gen 28:13 is deel van ‘n droom; Ps 82:1 is digterlike, metaforiese taal vir God se majestueusheid, oordeel en oormag; Amos 7:7 is ‘n visioen; 9:1 is ‘n visioen).

“Jahwe loop soos ‘n man.” (Gen 3:8.  Jahwe loop, maar Hy loop nie noodwendig “soos ‘n man” nie.).

“Jahwe praat soos ‘n man.” (Gn 1:1-27; 3:9-23; 11:6; 1 Kon 22:19-22; Job 1-2) Jahwe praat, maar nie noodwendig “soos ‘n man” nie.

“Jahwe dink soos ‘n man.” (Gn 18:17-19; Eks 13:17; Jes 63:5; Jer 3:17-19).  Jahwe dink, maar nie noodwendig “soos ‘n man” nie.  Wat sou in elk geval die kriterium wees om “soos ‘n man” te dink?

“Jahwe skree.” (Jes 42:14 praat van die basuingeluid wat nie gehoor sal word nie – niks van skree nie)

“Jahwe fluit.” (Jes 7:18 is ‘n metafoor – sien ook vers 20)

“Jahwe raak moeg.” (Gen 2.  God rus nie omdat Hy moeg is nie – reeds bespreek; Jes 7:13 – die woord “lââh” word figuurlik gebruik: “om te grief”).

“Jahwe slaap.” (Ps 44:23 sê nie God slaap nie – reeds bespreek; Jer 7:25 sê Jahwe het “vroeg en laat” [‘n figuurlike uitdrukking om aan te toon dat God dit gereeld en telkemale gedoen het] sy profete gestuur – dit het niks te doen met Jahwe se beweerde slaap nie – en selfs al sou mens “vroeg en laat” letterlik opneem het dit te doen met wanneer Hy die profete gestuur het en nie waneer Hy slaap al dan nie; 25:3 – dieselfde uitdrukking [vroeg en laat] word hier gebruik; Jes 51:9 – die uitroepe: “ontwaak, ontwaak” roep God op tot aksie en het niks te doen met of Hy slaap nie)

“Jahwe dra klere.” (Jes 6:1 is ‘n visioen; 63:1-2 is beeldspraak).

 

Jaco erken wel dat baie van hierdie voorbeelde metafories bedoel is, maar ontken dat alle verwysings na God wat raakpunte het met menslike kwaliteite metafories is.  Tegnies is dit korrek (soos ook hier bo aangedui), maar wat Jaco nie binne rekening bring nie, is:

 

1)     Alle taal is eintlik maar simbole.  Die woord “hart” verwys bv. nie altyd na iets fisies nie, maar na iets figuurliks (ook by mense).  Om te sê God het ook ‘n “hart” is dus nie noodwendig so vreemd nie.  Daarmee word nie noodwendig bedoel God het ‘n fisiese orgaan wat bloed pomp nie, maar dat God bv. emosie het.  Maar selfs met iets konkreet soos ‘n oog byvoorbeeld, as ons sê God het oë, bedoel ons nie noodwendig dat God fisiese sig-organe het wat net soos die mens sin werk nie, maar eerder dat God ‘n (metafisiese) meganisme besit wat kan waarneem.  Trouens, die Bybel se persepsie van God se waarneming is nie dat hy “soos mense” sien nie, maar dat Hy totaal op ‘n ander manier en in ‘n ander dimensie kan sien met “oë” wat waarskynlik niks soos menslike oë is nie (omdat hy bv. alomteenwoordig en alwetend is).  En tog sou ek sê is dit steeds legitiem om van God se “oë” te praat, al bedoel ons iets totaal anders as fisies menslike oë.  Want watter ander woord kan mens gebruik om God se waarneming te beskryf?  Daar is geen ander woorde nie.  En dit is die punt.  Die Bybel is in menslike woorde en menslike taal geskryf, omdat die menslike verwysingsraamwerk, menslike taal- en kultuur-simbole al is wat die Bybelskrywers gehad het om God se kwaliteite te beskryf.  Trouens, God self gebruik dikwels menslike taal om sy wil en wese aan die mens te openbaar.  Enige taal oor God is dus beperk, analoog tot die menslike simboliese universum, en antropomorf, en kan nooit die werklike aard en wese van God beskryf nie.  Slegs God self, deur die inwoning van sy Gees kan hierdie beperktheid van die menslike logika en natuurlike verstaansvermoë transendeer.

2)     ‘n Visioen en ‘n droom hoef nie ‘n direkte referent in die werklikheid te hê nie.  Wat hier belangrik is, is dat dit nie die droom- of visioen-toestand is wat anders geïnterpreteer moet word omdat dit nie in ‘n wakker, bewuste toestand gebeur nie (hulle was nie noodwendig aan die slaap of in ‘n trans nie).  Wat hier belangrik is, is dat visioene en drome “prentjies” en “beelde” is wat God op ‘n bonatuurlike wyse aan mense toon, met ‘n spesifieke betekenis.  Die prentjies, hoewel dit karakters kan insluit wat werklik lyk (m.a.w. wat korrespondeer met aardse wesens en verskynsels), is egter ook ‘n soort taal.  Dit is simbole wat iets in die werklikheid verteenwoordig, net soos taal ook tekens is wat dinge in die werklikheid verteenwoordig.  Die prentjies is nie ‘n direkte weerspiëeling of ‘n lewensgetroue weergawe van die werklike entiteite en gebeure self nie, maar ‘n kommunikasiemiddel van God aan die mens om sekere waarhede te kommunikeer.  Die ander uiters belangrike aspek wat onthou moet word, is dat diegene wat goddelike drome of visioene gesien het, prentjies kon gesien het wat hulle nie akkuraat in menslike taal (wat verbonde is aan ‘n beperkte verwysingsraamwerk) kon uitdruk nie, maar woorde en terme gebruik het wat so na as moontlik probeer beskryf het wat hulle gesien het.  Die oomblik as visioene of drome uitgedruk word in taal, gaan daar in meeste gevalle dus iets verlore van wat werklik gesien is.  Daar vind dus dubbele verwydering plaas van wat God wou kommunikeer: 1) dat God groter waarhede wou komminikeer as wat vervat kon word in die prentjies wat Hy gegee het, en 2) dat die prentjies groter / anders was as wat in die Hebreeuse taal uitgedruk kon word.  Dit is slegs die Heilige Gees wat mens weer kan terugbring na God se oorspronklike bedoeling.

3)     God besit inderdaad eienskappe of karaktertrekke wat baie ooreenkom met menslike eienskappe en karaktertrekke.  Hoewel God gans anders is, is Hy nie so anders dat die mens geen gemeenskaplike grond met Hom kan deel nie.  Laasgenoemde is myns insiens noodsaaklik vir ‘n wederkerige liefdesverhouding.  Hierdie ooreenkomste is egter nie ‘n bedreiging vir God se andersheid en verhewenheid bo die mens nie.

4)     Die oorspronklike bedoeling en verstaan van die teks deur die oorspronklike skrywers en lesers (of hoorders) is nie noodwendig die enigste legitieme verstaan van die teks nie.  Soos ek dit sien, bestaan daar ‘n bonatuurlike dimensie aan die Bybelse teks.  Daar is meer aan die Bybel as net die bedoelde woord deur die skrywers van die Bybel en selfs meer aan die Bybel as wat die verstaansraamwerk van die oorspronklike lesers (of bedoelde lesers) voor ruimte laat.  Aangesien die Bybel deur God self geïnspireer is, bestaan daar ‘n goddelike dimensie agter die woorde van die Bybel wat groter is as die woorde in die Bybel self.  ‘n Aanduider hiervan vind ons in 2 Kor 3:14, waar Paulus skryf dat daar ‘n bedekking bly oor die lees van die Ou Testament wat slegs in Christus vernietig word.  Sonder ‘n lewende verhouding met Christus ontbreek die goddelike perspektief op die Ou Testament.  Die taal, beelde, metafore, beeldspraak, profesieë en geskiedenis van die Ou Testament maak slegs sin deur die bril van Christus.  En dit impliseer dat die simboliese universum van beide die Bybelskrywers en eerste lesers (of hoorders) in ‘n sin nog ontoereikend was en nog nie vanuit hierdie Christus-perspektief die Bybel kon verstaan nie.  Die Gees van Chistus as ware en uiteindelike (“ultimate”) Hermeneut alleen kan ons begelei tot die werklike bedoeling van die Ou Testamentiese Teks (ek kom later weer terug op hierdie tema).

5)     Die argument van Jaco wat telkens na vore kom is dat dogmatiese vooroordeel mens die Ou Testament op ‘n spesifieke manier laat interpreteer, maar is dit wat Jaco “dogmatiese vooroordeel” noem nie juis daardie goddelike dimensie agter die Bybelse woorde wat Jaco net nie wil erken nie?

6)     Met Jaco se bewering dat Jawe ‘n produk is van antropomorfiese projeksie (p.173), erken hy onbewustelik dat God gans anders is (in Jaco se geval: “behoort te wees”) as wat mense kan antisipeer en selfs in menslike taal kan uitdruk.  Want hoe anders as in menslike taal, beelde en verwysingsraamwerke sou mens kwaliteite van ‘n gans andere God kan beskryf?

 

5. Jaco se volgende argument is daarop gebou dat hy beweer dat Jahwe ‘n al-te-menslike moraliteit het.  Sy kritiek gaan meestal daaroor dat hy te ‘n groot verband sien tussen die moraliteit in die Bybel en die nabygeleë antieke kulture, en dat hy meen dat baie van die “bygelowe” deur Jahwisme geïnkorporeer is.  Jaco beweer dat die Ou Testamentiese skrywers hulle mense “mislei” het m.b.t. die oorsprong daarvan (hoewel dit deur Jahwe self ingestel is).  Hy beweer dat die wette aanbied is as “’n refleksie van universele, objektiewe en ewige normatiewe kodes wat in die kosmos ingebou is van alle tye af” (p. 175):

 

Die doodmaak van diere met die oog op offers (Lev 1-7)

Die tydperk van onreinheid wat ‘n vrou moet deurmaak as sy geboorte aan ‘n dogtertjie gegee het is twee keer so lank as met ‘n seun (Lev 12:4-5).

Dat die slaan van ‘n slaaf onaanvaarbaar is as hy daardeur sterf, maar aanvaarbaar is as die slaaf na ‘n dag of twee doodgaan, omdat die slaaf “eiendom” is. (Eks 21:21).

Diegene wat in aanraking gekom het met ‘n dooie, moet gereinig word deur die as van ‘n rooi koei (Num 19:1-22).

Kledingstukke kon nie van twee verskillende materiale gemaak word nie en lande kon nie met twee verskillende soorte sade besaai word nie (Lev 19:19).

‘n Jong bokkie kon nie in sy moeder se melk gekook word nie (Eks 23:19; 34:26).

Die eet van vark was verbied (Lev 11:7).

 

Die wette wat hierbo genoem word is nie “’n refleksie van universele, objektiewe en ewige normatiewe kodes wat in die kosmos ingebou is van alle tye af” nie (p.175).  Dit word in elk geval nêrens in enige van hierdie spesifieke tekste gesuggereer nie.  Dit is ook nie bloot “kultuurgebonde” soos baie teoloë beweer, asof mens net die teks moet verdiskonteer met in ag neming van die kulturele aspekte nie.  Ek stem nie saam met die suggestie dat baie van die wette oorgeneem is vanuit ander kulture nie.  Die rigting van beïnvloeding het juis andersom gewerk, waar die ander kulture en godsdienste beïnvloed is deur die outentieke openbaring, maar a.g.v. die sonde het ander Buite-Bybelse tradisies dit vervals en geprofaniseer (meer hieroor later).  Eerder as wat die wette “kultuurgebonde" was, sou ek sê was dit verbonde aan die Ou Verbond en die Ou Bedeling wat in Christus vervul is.  Die wet (met al sy onderafdelings en kleiner wette) was slegs ‘n tugmeester na Christus (Gl 3:24-25).  Die wette hierbo gelys, en baie ander Ou Testamentiese wette (oor offers en reiniging, ens.) was reg vir ‘n spesifieke tyd en deel van ‘n spesifieke verbond.  In die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur onder die wet, om die wat onder die wet was los te koop (Gl 4:4) – Christus het die Ou Verbond oud gemaak (Heb 8:13)

 

Die volgende kan nie werklik as wette beskryf word nie, en / of is ongeldige voorbeelde (soos ek sal verduidelik):

 

Die aantyging dat ‘n vrou gif moet drink om te bepaal of sy skuldig is aan owerspel (Num 5:23-27) is nie korrek nie.  Die water “van bitter smart” is nie gif nie maar simboliese water wat, as die vrou skuldig is ‘n vloek oor haar sal bring, en as sy onskuldig is, nie ‘n vloek ook haar sal bring nie.

Die aantyging dat die sonde van een persoon straf bring op die kollektiewe groep en dat mense moet ly o.g.v. die sonde van hulle voorvaders, is nie heeltemal korrek nie.  Gen 3:14-19 en 2 Sam 21 is nie geldige voorbeelde nie – dit is reeds bespreek.  In Josua 7:1 word Israel gestraf vir hulle eie vergrype aan die bangoed, en  nie vir die feit dat Agan die bangoed bekom het nie.  In 2 Sam 24 word vertel hoe Dawid gesondig het deur die volk te tel.  Vers 1 sê dat Jahwe Dawid teen die volk aangehits het, menende dat God die Satan toestemming gegee het om Dawid aan te hits (sien 1 Kron 21:1; sien Die karakter van God), omdat God se toorn teen Israel ontvlam het, klaarblyklik a.g.v. hulle sonde.  Hoewel Dawid dus die pes (van die drie moontlike strawwe) gekies het, en die pes die hele volk getref het, moet onthou word dat God se toorn van die begin af in elk geval teen die hele Israel was a.g.v. hulle sonde.

Dat vrouens en kinders doodgemaak was deur die banvloek in oorlog was nie ‘n reël nie, want dit was nie altyd God se opdrag om vroue en kinders met die banvloek te tref nie – net as God ‘n spesifieke goddelose nasie wou uitwis wat in elk geval God se straf verdien het (Num 31:17-18,27; Jos 6:21-24; sien Die karakter van God).  Die bewering wat Jaco maak dat die maagde as buit (booty) vir die soldate gedien het, is nie korrek nie.  Die maagde moes “vir hulle in die lewe bly” (Num 31:18).  Hulle word nie as buit beskryf nie – ook nie in Josua 6 nie.  Hulle is waarskynlik geproseliteer en in die volk opgeneem, beslis nie vir seksuele plesier nie (as dit is wat Jaco wil insinueer[?]).

 

6. In Jaco se volgende argument beweer hy dat Jahwe se goddelike sosio-politiese opset al-te-menslik is.  Hy postuleer dat die goddelike realm 'n sosiomorfiese projeksie is van mense, asof hulle die totale kosmos verstaan het as een of ander koninkryk of staat.

 

Jaco beweer dat Jahwe se koninkryk 'n Yster Tyd monargie reflekteer (Deut 32:8-9; 1 Sam 8:7; Dan 6:27).  Hierde tekste reflekteer niks van hierdie aard nie.  Hierdie bewering is uiters vaag en ongemotiveerd.  Mens moet in elk geval onderskei tussen Isreal as koninkryk en Jahwe se geestelike koninkryk.  Daniël 6:27 handel nie eers oor Jahwe se koninkryk nie, maar die koninkryk van Nebukadnesar.

Die bewering dat Jahwe 'n blyplek het waar Hy op 'n troon sit, is ongegrond. (Jes 6:1 en Dan 7:13 is visioene; Ps 11:4 is 'n gedig met metaforiese taal).

Die beweerde hemelse transportasie met strydwaens en perde is ongegrond.  2 Kon 2:11-12 is 'n bepaalde bo-natuurlike manifestasie, waarskynlik van engele.  Dit het nie in die hemel verskyn nie, maar op die aarde.  Die "rekeb" (strydwa) van vuur en "sûs sûs" (perd) van vuur was die naaste taal-simbole om hierdie bo-natuurlike verskynsel mee te beskryf.  Dit het waarskynlik nie werklik soos 'n aardse "strydwa" en 'n "perd" gelyk nie.  Stongs beskryf "rekeb" as: "a vehicle; by implication a team; by extension cavalry; by analogy a rider, that is, the upper millstone: - chariot, (upper) millstone, multitude [from the margin], wagon."  "Sûs sûs" word so verklaar: "From an unused root meaning to skip (properly for joy); a horse (as leaping); also a swallow (from its rapid flight): - crane, horse ([-back, -hoof])."  Sag 6:1-8 is 'n visioen.

Dat Jahwe se geestelike leër "swaarde" het is ongegrond.  Gen 32:1-2 noem slegs dat God 'n leër het, niks van swaarde nie.  Jos 5:13-15 vertel van die man met die ontblote swaard – 'n leërowerste.  Dit was 'n engel wat in menslike vorm gemanifesteer het.  2 Sam 24:16 noem nie dat die engel 'n swaard gehad het nie.  Daar is nie 'n vers 27 of 'n hoofstuk 27 nie!

Dat Jahwe gebruik maak van raadgewers is totaal en al ongegrond.  1 Kon 22:20-23 het niks met raadgewers van God te doen nie, maar is God se gesprek met ondergeskiktes: bose geeste.  Jes 6:3 het te doen met Serafs wat God se heiligheid besing – dit het niks met raadgewers te doen nie; Jer 23:18 vra 'n vraag oor die raad van Jahwe, nie oor raad van raadgewers of oor raadgewers self nie.  Ps 82:1 praat oor die gerig wat God hou tussen ander heersers en juis nie dat hulle op gelyke of raadgewende vlak met Hom verkeer nie (ook vroeër bespreek).  Ps 89:5 praat oor die vergadering van die heiliges, sy kinders – niks met raadgewers te doen nie.  Job 1:6.  Die Satan word beslis nie as God se gelyke of raadgewer gesien nie, maar sy teenstander.

Dit wat Jaco as "mixomorphic sentinels" beskrywe, is Serafs en Gerubs – geestelike wesens (soos engele) (Gen 3:24; Eks 25:18-22; 26:1; Jes 6:2-3; Eseg 1; 41:18-19).

Jaco se bewering dat Jahwe se "blyplek" Yster-Tyd-musiek het is lagwekkend.  Job 38:6 sê niks oor musiek nie.  Job 38:7 (as Jaco dalk dit bedoel het) sê: " Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?"  Ek hoor nie mooi die Yster-Tyd-musiek hierin nie!  Ps 150:1-6 sê niks oor Jahwe se musiek nie, maar praat oor die musiekinstrumente wat hulle gebruik om Hom te loof en te prys!  Ons kan ook nie veel uit hierdie psalm aflei oor die aard van die musiek nie.  Ons gebruik in elk geval vandag soortgelyke instrumente: tromme, simbale, tamboeryne, fluite, shofar’s (basuine), trompette (ook verwant aan basuine), kitare (verwant aan siters, harpe), ens.

Die volgende bewering wat Jaco maak is dat Jahwe seuns het wat trou, gemeenskap het, brood eet, saam sing en linne aantrek.  Gen 6:1-4.  Die term “seuns van God” is ‘n standaard uitdrikking wat dui op geskape engele wat gesondig het (reeds bespreek: sien Engele, demone en magte).  Ps 78:25.  Die manna wat die Isrealiete geëet het word beskryf as die “brood van magtiges / engele.”  Dit is ‘n uitdrukking om aan te dui dit is spesiale, koninklike, God-gegewe kos.  Job 1-2.  Die term “seuns van God” dui hier ook op (gevalle) engele.  Job 38:4-7.  Dieselfde term “seuns van God” (wat op engele dui) word hier gebruik. Eseg 9:2, waar Esegiël manne met linne bekleed gesien het, was ‘n visioen. Dieselfde geld vir Dan 10:5.

Jaco sê Jahwe skryf op boekrolle.  Eks 32:32.  Die “boek” van God is ‘n metafoor vir die wat ingesluit is by God se heil.  Dieselfde geld vir Ps 69:29.  In  Ps 139:16 is “boek” ‘n metafoor vir die feit dat God alles kan sien en van alles weet.  Dan 7:10 en Dan 10:21 is deel van ‘n visioen

 

Met Jaco se daaropvolgende kommentaar wat hy self beskryf as “sarkastiese retoriese vrae” (p. 178-182), probeer hy die manier hoe Jahwe en sy koninkryk in die Bybel uitgebeeld word, beskryf as die uitsluitlike produk van die sosiale en kulture milieu en simboliese universum van die tyd.  Die impliksie van sy sarkasme is dat as oor Jahwe in ‘n ander (sê maar moderne) tydvak geskryf is, ander taal, vergelykings en metafore gebruik sou word (bv. laptop in plaas van boek, ens.).  Wel, in ‘n sekere sin is daar ‘n mate van waarheid in.  Waarom?  Want die taal- en kultuur-simbole waarmee God en sy werk in die Ou Testament beskryf is, is inderdaad verbonde tot die reikwydte van verwysing van die antieke taal waarin dit geskryf is.  Soos reeds gesê, alle taal oor God is uiteindelik maar simbole wat sin gee in mense se verstaansraamwerk.  Alle menslike woorde oor God is dus analoog tot die werklikheid wat dit denoteer.  Maar dit neem nie die realiteit weg dat die mense in die Ou Testament ook dinge gesien en verstaan het wat hulle nie mooi in woorde kon omsit nie.  Daarom is die taal van die Ou Testament so ryk aan gedigte, metafore, beeldspraak en simboliek.  Die oomblik as God se openbaring in mensewoorde omgesit word, sou mens kon sê is daardie mensewoorde kultureel bepaald.  En daarom het ons altyd die Groot Hermeneut nodig om sy Woord los te maak van ons eie en andere (soos die Bybelskrywers) se kulturele bepaaldheid.

 

7. Jaco se volgende argument is op die vlak van ekologiese antropologie, omgewingsielkunde en die ontologiese status van die natuur en handelinge van Jahwe.  Hy begin deur te wys daarop dat die tendens bestaan dat buite-Bybelse godsdienste se taal, beelde en simboliek baie verbonde was aan hulle ekologiese omgewing en klimaatsomstandighede.  Hy onderskei bv. dat afgode by die pole anders is as afgode by die trope, ens.  Na analogie daarvan beweer Jaco dat die persoon, aard, handeling, ens. van Jahwe ook ‘n produk is van daardie ekologies-gebonde verwysingsraamwerk (wat hy noem: ‘n konstruk van ‘n primitiewe hermeneutiek van die natuur).  Hy noem die volgende voorbeelde:

 

Aangesien donderstorms in palestina voorkom, beweer hy dat weerlig en hael Jahwe se wapens is en wolke sy vervoer is (Eks 19:19; 20:18; 24:12; Deut 5:21; 33:2; Right 5:4; Ps 18:13; 1 Sam 7:10; Jes 30:27; Am 1:2; Ps 29:3; Job 37:5; 38:34).  Hierdie bewerings, wat ek met verwysing na al hierdie tekste vroeër bespreek het, is almal sonder gronde.

Die volgende bewering wat Jaco maak is dat vulkane deel is van die teofanie (Eks 19; Deut 4; Dan 7; Mig 1:3-4; Hab 3).  Die manier waarop Jahwe verskyn het in Eks 19 en Deut 4 herinner miskien aan vulkaniese aktiwiteit (bv. die wolk / rook), maar dit was nie tegnies vulkaniese aktiwiteit nie.  Dan 7:9 is nie 'n geldige voorbeeld nie, want buiten dat Daniël 'n visioen gesien het, is daar geen ooreenkoms met vulkaniese aktiwiteit en die vuurvlamme van die Oue van Dae se troon en die wiele daarvan wat soos brandende vuur was nie.  Miga 1:3-4.  Die berge wat soos was voor God wegsmelt en die laagtes wat oop skeur, soos was voor die vuur, soos water wat langs ‘n helling afstroom, wat wel herinner aan vulkaniese aktiwiteit, is metafore vir God se vernietigende oordeel.  Hab 3:10, waar gepraat word van berge wat Jahwe sien en bewe van angs en ‘n wolkbreuk wat verby storm is nie geldige voorbeelde nie, omdat dit geen noodwendige ooreenkoms het met vulkaniese aktiwiteit nie.  Dit is ook metafore vir die almag van God.

Jaco beweer dat aardbewings deel is van Jahwe se teofanie of die modus van sy toorn en oordeel is.  Num 16.  Hierdie stukkie geskiedenis waar God die aarde laat oopgaan het om mense as’t ware in te sluk is nou nie ‘n aardbewing per se nie, maar daar is sekerlik ooreenkomste.  Ps 68:8-9 is ‘n gedig en die aarde wat bewe is ‘n metafoor vir God se kragdadige werking.  Ps 106:17 verwys na dieselfde insident as in Num 16.  Jes 24:19-20.  Die wankeling, skudding en waggeling van die aarde is ‘n metafoor vir God se oordeel.  Am 1:1-2.  Amos 1:1 praat van ‘n spesifieke aardbewing as tydsaanduider.  Die “brul” van die Here uit Sion (vers 2) staan nie in verband met die aardbewing nie, maar is ‘n metafoor vir die kragtige woorde en uitsprake van Jahwe.  Sag 14:4-5 is beeldspraak vir die oordeel van God.

Jaco sê dat droogtes gereeld voorkom in die omstreek, en dat dit “geïnterpreteer is” as die gevolg van sonde, waar goeie reënval en oeste die resultaat is van Jahwe se seën (Lev 26:19-20; Deut 28:22-24; 1 Kon 17-18).  Dit is inderdaad so dat droogte dikwels die gevolg is van Jahwe se vloek a.g.v. sonde en reën en goeie oeste die gevolg is van God se seën.

Jaco beweer omdat die land grens aan die see, is daar menige stories oor Jahwe wat “die chaosmagte binne sy vasgestelde grense hou.”  Gen 1:9 het niks met “chaosmagte” te doen nie maar met die manier hoe God geskep het. Job 38:8-11 is digterlike, simboliese taal oor die vorming van die see.  Daar is geen sprake van “chaosmagte” nie.  Ps 89:10.  “Rahab” is hier ‘n verwysing na Egipte – niks met “chaosmagte” te doen nie (later in meer detail bespreek).  Ps 93:4.  Die gebruis en die golwe van die see is ‘n metafoor vir Jahwe se hoogheid en sterkte – niks met “chaosmagte” te doen nie (vers 1).  Ps 106:9 praat van die wonderwerk van God waar Hy die Skelfsee oopgekloof het sodat die volk daardeur kon trek.

Jaco beweer dat die mense van Jahwe het die huilende winde en rondlopende wilde diere (wat in die suide en ooste voorkom) gesien is as demone wat agtervolg.  Lev 17:17.  Hy bedoel seker Lev 17:7.  Dit praat van veldduiwels / afgode.  Demone het natuurlik die vermoë om in die vorm van diere te manifesteer of om in diere in te vaar.  In Jes 13:12 sê Jahwe “Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.” – niks oor winde of diere nie.  Jes 34:14 praat van die veldduiwels, boskatte en wildehonde wat sal bymekaar kom a.g.v. die dag van wraak van Jahwe.  Dit is waarskynlik hier metafore vir (of dalk inkarnasies van) demoniese geeste.

Jaco sê in die verre suide van die Arabiese skiereiland tot die ooste van Midian tot die noorde van Sirië is daar hoë berge waarvan baie vulkanies aktief is, bedek is met sneeu, waar ook donderstorms voorkom.  Hy sê dit is die berge van Jahwe van waar Hy na sy mense kom.  In Eks 17-24 en Deut 4:10-12 figureer die berg Sinai, waar God deur rook, basuin en vuur aan Moses verskyn het.  Die presiese lokus van hierdie berg is nie seker nie, en ook nie of dit ooit vulkanies aktief was nie.  1 Kon 19:8-13 beskryf waar Elia op Horeb op God gewag het.  Daar was eers ‘n wind wat die berge geskeur het, toe ‘n aardbewing, toe ‘n vuur, en toe ‘n sagte koelte waarin Jahwe Homself aan Elia openbaar het.  Eks 3:1.  Hier word van Horeb gepraat, maar hier is geen aanduider van iets wat herinner aan vulkaniese aktiwiteit of donderweer nie.  Rigt 5:4 is metafories (soos vroeër bespreek).  Hab 3:3-4.  Dat God (die Heilige) van die berg Paran kom, word nie in verband gebring met enige iets wat herinner aan vulkaniese aktiwiteit of donderweer nie, en gee ook nie per se aan die berg Paran heilige status nie.

Die bewering dat die oases “tuine van die gode” is, is ongegrond.  In Gen 13:10 word genoem dat Lot die Jordaanstreek gesien het, en dat dit met die “tuin van die Here” (Eden) en met Egipteland vergelyk word.  Eseg 28:13-16 verwys na die vors van Tirus wat met ‘n / die duiwel verbind word.  Dit is alles metaforiese taal om die vors van Tirus se eertydse verbintenis met God in sy teenwoordigheid en onder sy heerskappy te beskryf.  Jes 51:3 vertel hoe Jahwe Sion sal troos en sal maak soos Eden en soos die tuin van die Here.  Dit is ‘n vergelyking.

Die volgende bewering wat die duiwelsadvokaat maak is dat hy meen dat die plaaslike diere baie ooreenkoms toon met die gerubs en serafs.  Gen 3:24 gee geen beskrywing van die gerub nie.  Eks 25:18-22 noem dat die gerubs vlerke het.  Eks 26:1 gee geen beskrywing van die gerubs nie.  Jes 6:2-3 beskryf die serafs met 6 vlerke.  Ek twyfel of daar soortgelyke diere of voëls was in die Ou Nabye Ooste!  Eseg 1 wat praat van wesens met 4 vlerke, menshande, kalfspote, ens., was ‘n visioen.  Eseg 41:18-19 praat van gerubs met gesigte soos ‘n mens en soos ‘n leeu.  Dit was ook ‘n visioen (sien die bespreking van visioene en drome hierbo onder punt 4).

Die stelling wat Jaco maak dat internasionale ekonomiese en politiese ontwikkeling die gevolg is van goddelike oordele oor Israel, Juda of sy vyande, is vaag en ek verstaan nie die punt wat hy daardeur wil maak nie (Lev 26; Deut 28; 2 Kon; Jes-Mal).  Dit is so dat Jahwe sy volk gerig het en beskerm het teen ander nasies.

Die punt wat hy probeer maak dat die Baalse gode ooreenkomste toon met Jahwe sal in die volgende hoofstuk bespreek word.

Die bewering wat hy maak dat, omdat die volk in tente, huise, of paleise gewoon het, dat Jahwe uitgebeeld word as dat Hy in ‘n paleis woon, is ongegrond.  Ps 132.  Die woonplek en rusplek van Jahwe is Sion.  Dit is die geestelike Sion, m.a.w. sy teenwoordigheid onder sy kinders.  Sion word daarom ook eskatologies gebruik as geestelike destinasie (bv. Jes 10:12-24; 33:20).

Die ooreenkoms wat Jaco trek tussen hekke van stede wat dikwels naby riviere is, en Sheol wat dieselfde geografiese eienskappe besit, is totaal ongegrond.  Job 38:17 is ‘n gedig, en die “poorte van die dood” en die “poorte van die doodskaduwee” is bloot metafore vir die toegang tot die dood.

 

1)   Die groot swakpunt van hierdie argument van Jaco, buiten dat baie van skrifverwysings in elk geval nie sy bewerings ondersteun nie, is dat al hierdie natuurlike verskynsels (soos vulkane, donderstorms, weerlig, aardbewings, oase’s, droogtes, berge, die see, winde, diere, tente, huise, paleise, ens.) hoegenaamd nie beperk is tot Palestina en die Nabye Ooste nie.  En selfs al sou dit wees, maak Jaco dieselfde foute as met sy vorige interpretasies: 

2)   Soos vroeër verduidelik is visioene prentjies met dieper betekenis.  Die manier hoe die skrywer egter hierdie prentjies in woorde omsit is altyd verbonde aan sy taal en simboliese universum.  So, hoewel die taaltekens in die Hebreuse teks nooit die simboliese universum van die skrywers transendeer nie, kan dit waarna dit verwys wel. 

3)   Metafore is simbole van geestelike waarhede of realiteite.  Metafore dien daarom die doel om geestelike waarhede of entiteite in mensewoorde om te sit om dit meer verstaanbaar te maak. 

4)   Die ander aspek wat binne rekening gebring moet word, wat hiermee saamhang, is dat God se openbaring aan die mens in sy zits im leben is, met ander woorde, God openbaar homself dikwels in beelde, manifestasies en simbole wat verstaanbaar is vir die taal en kulturele raamwerk van die ontvanger.  Teoreties sou God Homself anders kon openbaar het as sy mense in ‘n ander klimaatstreek gebly het (hoewel ek twyfel).  Maar die kultuurgebonde taal, kultuur en simbole waarin die Bybel geskryf is, is juis om hierdie rede nie ‘n bedreiging vir die transendensie en totaal-andersheid en dinamika van God nie.

5)   Dit is belangrik om op te merk dat baie manifestasies van Jahwe vir Jaco “herinner aan” spesifieke natuurverskynsels, omdat daar soms ooreenkomstige elemente teenwoordig is (bv. rook en vuur op die berg herinner aan ‘n vulkaan, ens.), maar daar is niks in enige van die tekste wat aandui dat dit inderdaad vulkane, storms of wat ook al was nie.  Jaco se afleidings word bloot op grond van sy assosiasie gemaak.

 

8.  Jaco sluit die hoofstuk af met vrae oor wat Jahwe voor die skepping sou doen, hoekom Hy hoegenaamd geskep het, hoekom sy skepping en die wesens wat hy geskep het is soos dit is, ens.  Baie van hierdie vrae word in Die uitverkiesing bespreek. Ander vrae hang saam met die teodisee probleem en Jahwe se relasie tot die bose.  Baie daarvan word in Die teodisee vraagstuk en Die karakter van God bespreek.  Baie van die vrae hou verband met dinge wat ek reeds in my kommentaar aangeraak het, bv. waarom Jahwe Homself in menslike taal en kultuurgebonde simbole openbaar.  Baie vrae het foutiewe premisse (bv. hoekom Jahwe in “fiktiewe karakters glo”), waarvan die premisse reeds weerlê is.  Vrae oor waarom sekere wette gegee is, word verklaar met verwysing na die progressiewe obenbaring van God van wet en verbonde tot en met die Nuwe Testament (reeds aan geraak, en later verder omskryf).  Daar is natuurlik nie klaar antwoorde oor al die vrae oor Jahwe se redes hoekom Hy eerder dinge op ‘n sekere manier gedoen het as op ‘n ander manier nie.  Want God is God, en daar bly ‘n komponent van misterie aan sy karakter (sien Die karakter van God).  As ons alles oor God se karakter in mensewoorde kon verklaar, sou Hy nie meer God gewees het nie.

 

Vir baie van hierdie tipe vrae is daar in elk geval ook nie antwoorde vanuit ‘n ateïstiese of agnostiese perspektief beskikbaar nie.  Vanuit ‘n ateïstiese of agnostiese perspektief sou mens bv. kon vra.  Waarom bestaan ons?  Hoekom is daar iets en nie niks nie?  ens.  Myns insiens is die lewe vir die ateïs totaal en al sinloos.  Om in die bestaan van Jahwe as God te glo, maak dus meer logiese en redelike sin i.t.v. ontologie as wat die teenoorgestelde sin maak.

 

Argument 4

 

Die volgende argument wat die duiwelsadvokaat konstrueer, is die van mitologie en sinkretisme.  Hy begin deur te beweer dat die invloed van mitologie en die inhoud van ander antieke godsdienste baie groter in die Ou Testament is as wat teoloë aanvanklik wou toegee.  Met Jaco se beskouing van wat 'n mite is, kan ek myself mee vereenselwig.  Ek stem saam dat 'n mite verwys na iets a-histories – iets wat nie werklik so plaasgevind het nie.  Ek stem egter nie saam met Jaco dat daar mites teenwoordig is in die Bybel nie.  Van die kriteria wat Jaco aan die hand doen om 'n Bybelse teks met sg. mitologiese parallelle te laat aandui dat Jahwe nie bestaan nie, is:

 

1. Dat die parallel van die heidense godsdiens bestaan het voor die ontstaan van die Ou Testamentiese teks. 

2. Dat die entiteite en scenario’s in die parallele meestal fiktief is.

3. Dat die Ou Testamentiese outeurs sulke diskoers aangepas het vir hulle eie doel d.m.v. spesifieke parallelle of a.g.v. 'n algemene kulturele voorraad (of poel van diskoers) waarna hulle toegang gehad het.

4. Dat Jahwe as 'n karakter uitgebeeld word in die gerekonstrueerde scenario's, waarvan die diskoers gegrond is in 'n mite of substansiële spore van sinkretisme en / of bygelowigheid bevat.

 

Wat punt 1. betref: 

 

Eerstens, dat baie van die basiese tridisies (soos die skeppingstrasidies en vloed-tradisies) van heidense godsdienste ouer sou wees as die Ou Testamentiese tradisies is iets wat nie met sekerheid aangedui kan word nie, maar berus op vooroordeel en bepaalde aannames.  Meeste historiese kritici gaan uit van die voorveronderstelling dat die Ou Testamentiese geskrifte baie later neergeskryf is as wat werklik die geval is.  Een aspek van hierdie bevooroordeeldheid is gebaseer op die aanname dat die inhoud van profesieë bv. nie voor die werklike gebeure geskryf kon gewees het nie omdat dit "te goed is om waar te wees" of "ongeloofwaardig" sou wees.  Die basiese voorveronderstelling van meeste historiese kritici wat die Ou Testamentiese tekste baie láát dateer is naturalisties van aard, wat by voorbaat die moontlikheid uitsluit dat die tekste bonatuurlike insig op die toekoms kon vertoon, en daarom later geskryf moes gewees het.  Voorts word variasie in style, taal en genre dikwels deur historiese kritici verabsoluteer om die ontstaansgeskiedenis van die OT tekste te diversifiseer en te problematiseer.  Dit maak egter baie meer sin om die Ou Testamentiese Tradisie te sien as OUER AS ENIGE ANDER GODSDIENSTRADISIE.  Soos later sal blyk, is hierdie 'n uiters belangrike en kardinale punt! (soos verder ook nou verduidelik sal word).

 

Tweedens word dit deur meeste Ou Testamentiese kritici aanvaar dat die Ou Testament lank in 'n mondelingse tradisie bestaan het voordat dit neergeskryf is.  Dit maak die datering van baie van die Ou Testamentiese geskrifte dus minder relevant.  Daar is geen empiriese data beskikbaar oor watter tradisie (tussen bv. die Ou Testamentiese tradisie en die Babiloniese tradisie) die oudste is nie.  Hoewel genoeg data in elk geval ontbreek m.b.t. wanneer die tradisies in geskrewe vorm begin neerslag vind het, kan dit nie as kriterium dien om vas te stel watter tradisie die oudste is nie. 

Sien bv. http://www.research-assistance.com/paper/26244/a_ra_default/floods_in_holy_bible__gilgamesh.html

 

Derdens, die kanse is beter dat die beïnvloeding in terme van parallelle met heidense godsdienste in die ander rigting plaasgevind het (vanaf die OT tradisie na die ander tradisies) (sien bv. McDowell, J 1999. The New Evidence that demands a verdict. p. 101).  Siende dat vervalsing die oudste truuk in die boek is, en dat die Satan sedert Babel die waarheid wou verdraai en profaniseer, maak dit baie meer sin dat heidense godsdienste reg oor die wêreld 'n gedeelte van die waarheid behou het (bv. die wêreldwye vloedverhaal wat teruggevind kan word in baie ander antieke godsdienste, bv. Babelonies, Maöerie, Chinees – die Chinese woord "boot" is bv. onder andere opgemaak uit "agt" en "vaartuig."  Ooreenkomste met Bybelse konsepte en ander Chinese woorde [bv. toring = mens + een + spraak + gras + kleisteen, tuin = stof + asem + 2 mense + ingeslote ruimte] is ook algemeen: sien byvoorbeeld http://www.morgenster.org/signs.htm, http://www.apologeticspress.org/articles/485 ens.), maar dat 'n mindere of meerdere mate van vervalsing van huis uit deel was van daardie godsdienste se tradisies – hetsy mondelings of geskrewe.  Na die vloed het Nimrod (ook bekend as Ninus), die seun van Kus, die seun van Gam, begin om die geweldenaar op die aarde te wees (Gen 10:8).  Hy was die stigter van Babel in die land Sinear (vandag se Sumer) waarvan die Sumeriese geskrifte gevind is.  Na sy dood is hy as ‘n god vereer, en ook sy vrou, Semiramis.  Die Babeloniese kultus wat hieruit onstaan het, het regoor die wêreld in verskillende vorme versprei.  Dit is opmerklik dat ooreenkomstige godsdienstige rites en gebruike in al die antieke misterie-godsdienste voorgekom het.  Dit is byvoorbeeld bekend dat Semiramis, sy vrou, as ‘n moeder uitgebeeld is (wat onder die Chaldese as die “Koningin van die Hemel” vereer is, sien Jr 7:18; Jes 44:17-25) met Nimrod (haar man) as ‘n baba op haar skoot.  Dieselfde moeder-baba uitbeelding is gevind in die verering van Rhea en Tammuz (in die oosterse nasies), Isis en Oiris (Egipte), Isi en Iswara (Asië), Cybele en Deoius (antieke Rome), Fortuna en Jupiter (Griekeland), Irene, die godin van vrede, met Plutus in haar arms, en selfs in China en Japan: Shing Moo (die “Heilige Moeder” in China) met ‘n baba in haar arms.  Die beelde en voorstellings wat uit hierdie kulture opgegrawe is, lyk presies dieselfde as die Madonna-beeld van die Rooms Katolieke Kerk (wat baie ander beelde en simboliek vanuit die heidense godsdienste ge-akkomodeer het).  Die Jesuiete sendelinge was verbaas om vir Shing Moo in China te vind, want sy was byna identies aan die Madonna-beeld van die Rooms Katolieke Kerk, met die “heerlikheid romdom haar” (halo) inkluis.  So het al hierdie godsdienste ooreenstemmende karkatertrekke, simbole, feeste, gelowe en gebruike.  Alles kom van dieselfde bron: Babilon  (sien Hislop, A 1959. The Two Babylons. Neptune, NJ: Loizeaux Brothers. p. 133-137).

Volgens die woordeboek beteken vervalsing: “met vreemde bestanddele meng; namaak; verdraai.”  Dit is soos om banknote te vervals.  Hulle lyk dikwels net soos die ware Jakob, maar die egte watermerke ontbreek.  Soms is dit nodig om net bietjie te dink hoe Satan sou redeneer.  Wat sou die beste strategie vir hom wees om die eer weg van die ware God te kry en op homself te rig?  Die beginsel is eenvoudig: skep soveel valse godsdienste wat kopieë is van die ware een, maar meng dit met vreemde bestanddele hier en daar.  Een van die ander tegnieke van Satan is ook om die outentieke  tradisie te probeer infiltreer.  Hy het baie slinks te werk gegaan.  Hy het nie alleen daarin geslaag om kopieë van die waarheid in ander godsdienste op so ‘n manier te maak dat dit (obskure) ooreenkomste met die waarheid bevat nie, hy het ook daarin geslaag om ‘n geweldige hoeveelheid dwaling, valse leringe en verdeeldheid binne die Christelike tradisie te bring.  En die bewys daarvoor is verbysterend.  Die Christendom het die meeste verskillende stominge, teen-stromige en denominasies.  Hoekom juis Christenskap?  Want die Satan weet die waarheid is in die outentieke weergawe daarvan, en hy sal alles in sy vermoë doen om die waarheid te laat verdraai, of om vreemde elemente in Christenskap in te bring.  Daar is baie voorbeelde, bv. die Ishtar-fees (paasbuns en paaseiers), Kersfees, ens.  En dan nie eers te praat van sy infiltrasie in die Roomse-, Grieks-ortodokse- en Koptiese kerke nie.  Baie van hierdie infiltrasie het in die vroeg-Christelike eeue veral in Rome neerslag gevind.  Buiten die gebruik om babatjies te besprinkel, wat Rome direk gaan leen het uit die Babiloniese godsdiens, kan dieselfde gesê word van talle godsdienstige vervormings van die Roomse Kerk.  Die manier waarop die triniteit uitgebeeld word, is dieselfde as hoe dit in die Babiloniese godsdienste uitgebeeld is, asook die moeder-baba uitbeelding (Jesus en Maria word uitgebeeld net soos Semiramis en Nimrod, Isis en Osiris ens.).  Die verering van Maria het ook babiloniese wortels, asook die Madonna-beelde.  Die Rooms Katolieke feeste is geleen uit Babilon; so ook die die heilige mis (waar die dun ronde koekie bv. op die altare in Egipte gevind is, wat die son simboliseer), die laaste oliesel, die vagevuur en die daarmeegepaardgaande gebede vir die afgestorwenes, die verering van relikwieë, die rosekrans / bidsnoer (rosary) en die verering van die “Heilige Hart,” die kleding en bekroning van beelde en heiliges, die gebruik van lampe en waskerse, die soewereine pousdom, asook priesters, monnike en nonne.

 

Wat die volgende drie punte van Jaco betref:  Indien dit aanvaar word dat die beïnvloeding m.b.t. die basiese tradises (soos die skeppingstrasidies en vloed-tradisies) in die rigting vanaf Jahwisme na die heidense godsdienste toe plaasgevind het, maak dit die volgende drie kriteria problematies.

 

Die meeste voorbeelde in die hele lys van parallelle wat Jaco dan lys met heidense antieke geskrifte in terme van die basiese tradisies, kan baie maklik verklaar word aan die hand van die outentieke oorsprong, nl. Jahwisme, wat op verskeie maniere gekopiëer is en met valse, vreemde, mitologiese en fiktiewe elemente vermeng is.  Alexander Hislop dui aan dat alle antieke godsdienste hulle oorsrpong het in Babilon (sien Hislop, A 1959. The Two Babylons. Neptune, NJ: Loizeaux Brothers).  Maar dan moet ek bysê, ek vermoed baie van die vermeende parallelle wat Jaco in sy ellelange lys aandui, is kunsmatig en / of bevat 'n groot hoeveelheid spekulasie.  Ek laat my in elk geval nie vertel Jaco het hierdie palallelle eksegeties probeer nagaan nie!

 

Dat daar egter bepaalde raakpunte met die heidense godsdienste bestaan b.m.t. simbole, gebruike, segswyses en ander heidense tradisies en gebruike, kan nie ontken word nie, maar dan moet baie goed gekyk word na hoe hierdie raakpunte figureer en hoe dit hanteer word in die Ou Testament.  Dit figureer gewoonlik op die volgende maniere:

 

A.   Daar is dikwels plekke in die Ou Testament waar heidense gebruike en praktyke afgewys word (bv. Lv 19:31; Eks 23:19).

B.   Jahwe tree op om die profete van ander godsdieste te troef of oor hulle te triomfeer (bv. Eks 7:10-12; 1 Kon 18).

C.   In die Ou Testamenet word daar soms beeldspraak gebruik waar aangesluit word by bestaande mitologiese idees of verstaansraamwerke wat waarde gehad het in die heidense godsdienste.  Een so ‘n voorbeeld is waarskynlik Jes 27:1, waar met beeldspraak aangetoon word hoe Jahwe die “leviatan” (krokodilagtige of draakagtige reptiel of seedier) en die “tannîm” (draak) verslaan (vgl. Dan 7; Op 13).  Daar bestaan bv. ‘n mitologiese verhaal in die Ras Shamra waar “Lotan” die slang (serpent) met die sewe koppe verslaan word.  Die manier hoe die beeldspraak in Jesaja gebruik word, is nie om die mitologie oor te neem of te inkorporeer nie, maar om Jahwe se oormag oor alle vorme van die bose uit te beeld.  Dit is belangrik om hier raak te sien dat Jesaja nie aansluit by die heidense teologie nie, maar by hulle simboliek.  Jesaja sluit op so manier aan sonder om die mitologie aan te neem of goed te keur, maar eerder om aan te sluit by kontemporere simboliek waarmee die hoorders / lesers (ook Israel) mee goed bekend was.  Jesaja verwys d.m.v. simboliek (nie letterlik nie) hier na die Satan en sy magte, en hoe God oor hulle triomfeer.  Mens sou kon sê die tipe simboliek waarvan die skrywer gebruik maak, is hier die tipe taal wat hy gebruik om ‘n suiwer teologiese boodskap oor te dra.

 

Dit is ook belangrik om daarop te wys dat baie kritici “mitologiese figure” in die Bybel raaksien waar dit nie bestaan nie.  Twee van daardie voorbeelde is die “leviatan” (Job 3:8, 41:1 [1953 Afrikaans: Job 40:20]; Ps 74:14; 104:26; Jes 27:1) en die “behemoth” (Job 40:15-24 [1953 Afrikaans: vers 10-28]).  Geleerdes het al baie kop gekrap oor die betekenisse van hierdie terme.  In die verlede het baie "behemoth" vertaal met "seekoei" en "leviatan" met "krokodil" (sien bv. 1953 Afirkaans).  Maar beide vertalings was myns insiens raaiskote, aangesien dit waarna die terme verwys, onseker is.  Dit is juis om hierdie rede dat baie dit gesien het as verwysend na mitologiese figure.  Vanuit die beskrywings van die diere in Job 38-41 is dit egter opmerklik dat in die konteks van Job, na werklike diere verwys word.  Die leeuin, die kraai, die wilde-esel, die buffel, die volstruis, die perd ens. word onder andere beskryf.  In Job 40 en 41 word ook die "behemoth" en die "leviatan" beskryf.  Aan beide se beskrywings is dit duidelik dat hier na werklike, bestaande diere verwys word.  Die term "behemah," die enkelvoud van "behemoth" was 'n term om in die algemeen te verwys na "wilde diere" of "wilde vee." (Deut 32:24; Job 12:7; Ps 8:8; 50:10; Jer 12:4; Joël 1:20; 2:22; Hab 2:17).  Met nadere ondersoek lyk dit baie meer waarskynlik dat beide die terme "leviatan" en "behemoth" ook verwys het na werklike diere wat ons nie vandag ken nie, maar wat waarskynlik uitgesterf het.  Die beskrywing wat in Job 40 van die "behemoth" gegee word met sy baie sterk spiere, sy stert wat reguit is soos 'n seder, die senings van sy dye wat inmekaar gevleg is, sy bene wat "pype van koper is" en "stawe van yster is" (lang bene), en dat hy 'n "eersteling van die weë van God" is, pas glad nie by 'n seekoei nie, maar verwys eerder na 'n dinosaurus, en dan waarskynlik na 'n diplodocus of brachiosaurus (sien ook Brown-Driver-Briggs se verklaring).  Net so verwys "leviatan" nie na 'n krokodil per se nie, maar na 'n krokodilagtige of draakagtige reptiel of seedier, en dan meer spesifiek waarskynlik ook na 'n tipe dinosaurus – dalk 'n plesiosaurus of iets soortgelyks (sien ook Brown-Driver-Briggs se verklaring).  Dus, net die feit dat ons nie presies weet watter diere die "behemoth" en "leviatan" na verwys nie, en dat hulle waarskynlik uitgesterf het, beteken dit beslis nie outomaties dat dit na "mitologiese figure" verwys nie.  In alle gevalle in die Bybel dui "behemoth" en "leviathan" op werklike (uitgestorwe) diere, ook in Jes 27:1, maar daar word dit metafories gebruik vir die Satan en sy magte (net soos bv. in Dan 7 en Op 13). 

 

Baie van die sg. “drake” waarvan daar heelwat stories in die geskiedenis is, is waarskynlik ook dinosaurusse.  Gilgamesh praat van 'n groot draak wat hy teëgekom het toe hy bome gaan afkap het (ongeveer 2000 vC).  Alexander die Grote het op Indiërs afgekom wat groot blasende reptiele aanbid het wat hulle in grotte gehou het (330 vC).  China is bekend vir hulle draak-stories.  Dit is promionent op hulle potte, borduurwerk en graverings.  Engeland het 'n storie van 'n ene St George wat 'n draak doodgemaak het wat in 'n grot geleef het.  Daar is 'n storie van die tiende eeuse Ier wat skryf oor sy geveg met wat 'n Stegosaurus blyk te wees.  In die vyftienhonderds, het 'n wetenskaplike boek "Historia Animalium" 'n aantal diere gelys wat in lewende vorm aangeteken is, wat ons vandag dinosaurusse sal noem.  'n Bekende natuurkundige, Ulysses Aldrovandus, het 'n geveg tussen 'n landbouer genaamd Baptista en 'n draak aangeteken.  Die beskrywing daarvan pas die van 'n Tanystropheus.  Dit het gebeur op 13 Mei 1572 naby Bologna in Italië (Batten, Don [ed], Ham, K, Sarfati, J, Wieland, C 1999. The Updated & Exapanded Answers Book.  The 20 most-asked quoestions about creation, evolution, & the book of Genesis aswered. Truine Press: Brisbane. p. 235-236).  Wat dikwels gebeur het is dat uitgestorwe diere later vereer en vergoddelik is.  Dieselfde tendens is in elk geval ook in die geskiedenis teenwoordig m.b.t. mense (bv. Nimrod, Tammuz, ens.).  Brown-Driver-Briggs dui ook daarop dat die "tannîm" (draak) ook moontlik na 'n tipe dinosaurus verwys het (In Eseg 32:2, waar na die leeu en na "tannîm" verwys word, is waarskynlik 'n goeie aanduider dat "tannîm" ook na 'n bestaande dier verwys).  In die Bybel word die term "tannîm" dikwels metafories gebruik om gewoonlik na een of ander bose mag te verwys (Ps 91:13; Jes 27:1; Jes 51:9; Jer 51:34; Eseg 29:3; 32:2).  Die term "rahab," wat in die Ou Nabye Ooste ook na 'n tipe monster verwys het, word egter nie in die Bybel op dieselfde manier aangewend nie, maar het na Egipte verwys (Ps 87:4; Ps 89:10; Jes 51:9) om twee moontlike redes: 1) omdat hulle eie heidense simbole sulke soort monsters ingesluit het en / of  2) omdat "rahab" ook "trots" of "arrogant" kan beteken (afhangende van die vokalisasie).  Plekke waar "rahab" bloot "trots" of "arrogant" beteken, is bv. Job 9:13; 26:12; Jes 30:7.

 

Die volgende gedeelte, waar Jaco die sg. parallelle probeer aantoon met ander godsdienste regoor die wêreld is meestal al weerlê, en die wat nie is nie, is ongemitiveerd en beskou ek as spekulasie.  Waar daar egter wel ooreenkomste met ander godsdienste gevind kan word, kan dit maklik verklaar word aan die beginsel dat alle heidenste godsdienste hulle oorsprong het in Babel (soos vroeër bespreek).  Sekere aspekte van die waarheid is behou in die heidense tradisies, maar dit is met vreemde elemente gemeng en vervals.  Baie van die ander moontlike parallelle moet ook beoordeel word aan hoe dit in die Bybel figureer het, soos in punte A-C hierbo uiteengesit.

 

In Jaco se beredenering word die uiters belangrike faktor dat die Ou Testamentiese tradisie waarskynlik ouer is as die heidense tradisies (reg oor die wêreld), hoegenaamd nie binne rekening gebring nie.  Die feit dat hy ooglopend daarmee verskil word slegs twee keer in een sinnetjie in sy proefskrif vermeld (p.201,235) en nooit beredeneer nie, maar word klakkeloos deur hom aanvaar (vir soetkoek opgeëet).  Dit is egter van uiterste belang.  Trouens, die grootste gros van sy argumentasie val plat indien aanvaar word dat die Ou Testamentiese tradisie ouer is, want dan word die ooreenkomste met ander godsdieste verklaar aan die hand van vervalsing deur ander godsdienste van die outentieke tradisie (OT). 

 

Jaco redeneer gewoon dat die mites van die heidense godsdiens fiktief is, en daarom moet die Ou Testamentiese weergawes ook fiktief wees (p. 230).  Maar as aanvaar word dat die Ou Testamentiese tradisie ouer is, dan is word heidense tradisies nie "gemaak pas" of "gerekontekstualiseer" in die Ou Testament nie, maar andersom: die heidense godsdienste neem die waarheid en dik dit bietjie aan of verdraai dit.  Maar buiten dit, is die raakpunte wat die heidense tradisies met die Bybel het van so aard (punte A-C hierbo), dat dit nie in die inhoud van daardie tradisies ooreenkom nie maar hoogstens in die tipe beeldspraak en die tipe taal.

 

Dit bly in elk geval vreemd waarom Jaco nie die moontlikheid ooit beredeneer dat die raakpunte wat die Ou Testamentiese tradisie met heidense tradisies het, nie bestaan as gevolg van beïnvloeding vanaf Jahwisme in die rigting van die heidense godsdienste nie.  Want as daar sekere heidense tradisies is wat op 'n feitlik parallelle tydstip onstaan het met Jahwisme (of in sekere opsigte selfs voor latere ontwikkelinge van Jahwisme ontwikkel het), waarom word die moontlikheid nooit verreken dat baie van die ooreenkomste tussen die godsdienste nie juis andersom gewerk het as wat Jaco beweer nie, m.a.w. dat heidense godsdienste se mites eintlik maar die gevolg was van verdraaide waarheid nie?  Ook die bewering dat Jahwe se karaktertrekke 'n “hibriede konstruksie sou wees van Baal en Zeus,” ens. (p. 232), kan met meer waarskynlikheid andersom gesien word, waar Baal en Zeus inderdaad konstruksies (en verdraaiings) was op grond van Jahwe se karakter.

 

Die ander saak wat hiermee saamhang, waarvan Jaco ook nie rekenskap gee nie, is die unieke karakter van die Ou Testament.  Waarom sou die Ou Testament 1) histories so volledig wees m.b.t. sy ontstaan, 2) geen inherente mitiese onderbou vertoon nie (omdat die vertellings histories aangebied word) en 3) 'n geldige, logiese verklaring bied vir die ontstaan van ander godsdienste (Babel), terwyl ander godsdienste nie eers naastenby in hierdie opsigte met die Ou Testament kan kompeteer nie?

 

Die parallel wat Jaco wil lê tussen "El" en Jahwe, as synde dat "El" 'n Kanaänitiese god was, is 'n strooiman.  Hy kwoteer Gen 12-36 en Josua 24 ter ondersteuning.  Nêrens in hierdie tekste is daar 'n verwysing dat "El" 'n Kanaänitiese god was nie.  Genesis (bv. Gen 12:8) praat wel van die plek "Bet-El" wat in Kanaän was, maar dit was 'n naam wat deur Jakob aan die plek gegee is waarvan die naam eers "Lus" was (Gen 28:19).  Die verwysing na Jos 24 is ook obskuur.  Daar word die volk gevra om te besluit of hulle Jahwe wil dien of vreemde gode van  "oorkant die Eufraat" of die gode van die Amoriete.  Daar is geen verwysing na 'n Kanaänitiese god met die naam "El" nie.  Maar desnieteenstaande beteken "El" in elk geval net "God."  Jahwe is God.  "El" verwys nooit na iemand anders as Jahwe nie (bv. Gen 17:1).  Die res van die sg. ooreenkomste tussen "El" en "Jahwe" beskou ek dus as kunsmatig.

 

Die volgende beweerde oorkeenkoms wat Jaco probeer trek is tussen Jahwe en Baäl.  Buiten dat meeste van hierdie bewerings oor Jahwe totaal ongegrond is en dat die tekste wat hy aanhaal niks van die aard impliseer nie (en meeste in elk geval reeds weerlê is: bv. dat Jahwe letterlik 'n "storm goddelikheid" sou wees, letterlik donderweer in sy stem sou hê, letterlik pyle sou skiet, letterlik die wolke as vervoer sou gebruik, die Ugaritiese Lotan sou oorwin het, met die see (Yam) in konflik sou wees, letterlik 'n berg sou hê), is die volgende bewerings ook vals:

 

Dat Jahwe as 'n seun van God ("El") uitgebeeld sou word is totaal en al ongegrond.  Deut 32:8-9 sê niks van hierdie aard nie, maar dat Israel Jahwe se deel is, ens.  Om Job 1:6 te interpreteer asof Jahwe op gelyke voet sou wees met die (gevalle) engele ("seuns van God") is totaal en al vergesog.

Dat Jahwe uitgebeeld sou word as 'n bul of 'n kalf is nie korrek nie.  Gen 49:24 beskryf Jahwe as 'n herder.  Eks 32:4 verhaal van die gegote kalf wat gemaak is as afgod.  Dit was vir Jahwe 'n absolute gruwel!  'n Soortgelyke gebeure kom voor in 1 Kon 12:28.

Die feit dat Jahwe "Here" en "Allerhoogste" genoem word, en Jahwe wat verhewe is bo die dood is eerder 'n geval van Babilon wat geleen het vanuit Jahwisme as andersom.  Dieselfde geld vir die vergelyking in karaktertrekke van Jahwe met ander gode en die ooreenkomste tussen Jahwe se tempel en die tempels van die ander godsdienste (p. 237-240).

 

Jaco gaan dan voort om ‘n lys saam te stel van waar daar in die Ou Testament raakpunte is met “magiese praktyke” en “divinasie-praktyke” (p. 240-244).  Hier moet twee aspekte onderskei word:

 

1.   Waar heidense godsdienstige praktye veroordeel word.  In hierdie verband is daar inderdaad praktyke wat bonatuurlik is in die sin dat dit gepaard gaan met demoniese aktiwiteit (bv. “spells”, sieners, mense wat demoniese wonderwerke kon doen, ens.).  Dit was in meeste gevalle werkinge van die Satan wat in baie opsigte nabootsings is van God en sy vermoeëns.  Die Satan het vir baie goddelike gawes bose kopieë gemaak.  Bv. ‘n siener i.p.v. ‘n profeet.  Hulle kon egter nie werklik die toekoms uitlê nie, maar die “sieners” het demone geraadpleeg (dikwels onwetend) en gesê wat die demone vir hulle gesê het.  Dieselfde geld vir droom-uitleggers, ens.

2.   Daar is egter ‘n hele aantal sg. ooreenkomste wat Jaco voorhou wat gewoon kunsmatig is en nie deel was van Jahwisme nie. Daar is bv. nêrens tekens in die Ou Testamenet dat nekromansie, water-divinasie, astrologie, ens. deel was van outentieke Jahwisme nie.  Hierdie verskynsels was slegs deel van die heidens-godsdienstige tradisies.

 

Die volgende bewering wat Jaco maak is dat daar ‘n aantal “heilige bome” was in die Ou Testament, wat sou deel wees van Israel se godsdiens.  Eerstens, baie van hierdie name is net name vir plekke sonder dat daar enige konnotasie van “heiligheid” daaraan geheg is . Tweedens was baie van hierdie name deur Babiloniërs gegee (bv. “‘ânan” in Rigt 9:37 en “baäl-tâmâr” in Rigt 20:33). 

 

Dieselfde twee kriteria geld vir die beweerde “heilige waters” en die beweerde “heilige berge.”  Die berge waarop Jahwe verskyn het, bv. Sinai en Horeb was nie inherent heilig of het enige inherente magiese waarde vir die Isrealiete gehad nie, maar was bloot simbole vir God se openbaring in die geskiedenis.  Verering van objekte naas Jahwe was in elk geval verbode.

 

Die dier-name wat aan mense gegee word, het ander godsdienste eerder uit Jahwisme geleen as andersom.  Dieselfde geld vir teoforiese elemente en geestelike konneksies.  Diere is nie aanbid in Jahwisme nie, daar word slegs daarna verwys as die mense gesondig het en daardie sonde veroordeel is (bv. Eseg 8:10).  Die praktyk om iemand as synde “van ‘n klip af” te sien is ook veroordeel (Jer 2:27).  Sekere taboe’s het ontstaan vanuit Jahwisme en nie andersom nie.  Die aantyging dat Jahwisme vooroueraanbidding beoefen het is totaal ongegrond.  Dit is net los spekulasie.  Die verwysing na “teraphim” (huishoudelike gode) word ook nie gestaaf nie, en wanneer dit ter sprake kom in die tekste wat Jaco aanhaal, word dit nie as eie aan Jahwisme uitgebeeld nie, en meestal veroordeel.  Die verwysings na demone is meestal geldig, maar dit was oorspronklik deel van Jahwisme (as vyandige entiteite).  Die verwysings na die sg. “chaos entiteite” is ongeldig (reeds bespreek).  Wat die lys van “hemelse wesens” betref, behalwe vir die wat reeds weerlê is, is die res meestal geldig solank mens net reg onderskei watter is magte van God en watter is Sataniese en demoniese magte.  Dit is egter intrinsiek en oorspronklik deel van Jahwisme.  Ander godsdienste het gekopiëer van Jahwisme en dit verdraai.

 

Wat die laaste lys betref wat Jaco bylas, die volgende:

 

Die gebruik om liefdesappels te gee is in verband met seksuele vrugbaarheid is ongegrond.  Daar is geen noodwendige seksuele konnotasie in enige van die aangehaalde tekste nie (Gen 30:14; Hooglied 7:13), en was geestelik neutraal.  Die oplig van die arms in oorlog was eie aan Israel se geskiedenis en is oorgeneem in ander godsdienste.  Vas is ook eie aan Jahwisme en is deur ander godsdienste oorgeneem.  Die bewering dat betaling in ‘n sensus nodig was om vernietiging te vermy (Gen 30:12) was ‘n spesifieke, histories bepaalde kondisie vir die volk.  Ander godsdienste het waarskynlik hieruit geleen.  Dat Jaco palmlees in die Ou Testament inlees is totaal ongegrond.  Job 37:7 is niks van die aard nie en praat bloot van die verseëling van die hand van mense in die winter.  Dit is bloot beeldspraak om aan te toon dat mense nie dieselfde vlak van hande-arbeid in die winter verrig nie.  Spr 3:16 is ook beeldspraak vir hoe God die wyse mens se weë seën.  Teleportasie is teoreties moontlik vir God, omdat enige iets vir Hom moontlik is.  Dit is nie geleen vanuit ander godsdienste nie, maar die teenoorgestelde is eerder waar.  Die verwysing na telepatie is ongeldig.  1 Kon 14:1-6 is niks van die aard nie, maar ‘n woord van kennis van Jahwe.  Net so het God die droom aan Daniël uitgelê (Dan 2:29-36).  Die aantyging dat daar “premonisies” is in 1 Kon 19:17 en 2 Kon 8:11-15 is ongegrond.  Dit was inligting wat Jahwe gegee het en wat Hy toegesien het dat dit sou gebeur.  Die aantyging van telekinesis of psigokinesis is totaal ongegrond.  1 Kon 13:4 is ‘n handeling van God en 2 Kon 6:5 het absoluut niks hiermee te doen nie.  Die aantyging dat daar astrale projeksie in die Bybel is, is ongegrond.  2 Kon 5:25-26.  Dat Elisa vir Gehási vra: “Vanwaar, Gehási?” het niks met astrale projeksie te doen nie.  Dit is ‘n growwe aanname.  Eseg 3:14 praat van transportasie deur die Gees van God.  Eseg 8:1-4 praat van wat in die visioen gebeur het wat Esegiël gesien het: die Gees het hom opgehef.  Eseg 37:1 se geestelike transportasie gebeur ook in ‘n visioen.  Die uittrek van skoene in Jahwe se teenwoordigheid (Eks 3:5) is oorspronklik deel van Jahwisme en is gekopiëer in ander godsdienste.  Die gebruik van geestelike musiek om demone te verjaag (1 Sam 16:14-23; 2 Kon 3:15) lê nie soseer in die musiek self nie, maar in die geestelike krag waar God geloof en geprys word en waar Hy as Here verklaar word.  Danse is ook outentiek aan Jahwisme (1 Sam 10:5-6; 2 Sam 6:5) en is gekopiëer deur ander godsdienste.

 

In die tweede helfte van die hoofstuk waar Jaco al hierdie beweerde heidense elemente as deel van die Ou Testamentiese tradisie lys, beredenaar hy nie hoe en waar dit voorkom in die heidense godsdienste nie, en aanvaar gewoon klakkeloos dat die konsepte ontstaan het vanuit die heidense godsdienste.  Soos hy self suggereer, verg hierdie aannames baie meer begronding. 

 

Die Satan en sy magte, wat in stryd staan met God en sy magte, verklaar al die moontlike ooreenkomste tussen Jahwisme en heidense godsdienste aan die hand van die konsep van vervalsing (vroeër verduidelik).  Dit dekonstrueer ook Jaco se konklusies aan die einde van die hoofstuk.  Dat daar ‘n bose bonatuurlike dimensie bestaan, en dat die bose dikwels bo-natuurlik manifesteer is gewis.  Maar die bose sisteme en godsdienste wat sedert Babilon in die wêreld werksaam is, wat vir so baie mense oor die eeue heen verborge gehou word (Op 17:5) verklaar feitlik al hierdie aantygings van Jaco, en plaas dit binne ‘n logiese, verstaanbare geestelike raamwerk, waar God die bose misleiding toelaat tot op die punt waar Hy sal kom om te oordeel.  Ook hierdie proefskrif van Jaco is ‘n presiese demonstrasie van hoe fyn, gesofistikeerd en subtiel die misleiding van die Satan werk in die gedagtes van sy teikens.  In ‘n sin sien ek Jaco se proefskrif as deel van die finale aanslag teen God en sy kerk waarvan 2 Tess 2:11-12 praat: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,  (12)  sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”  Sien ook Rom 1:18-19 “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,  (19)  omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.”  Op die ou end is dit ‘n kwessie van gesag.  Wie gaan jy glo?  Vir God of vir Satan?

 

Wat Jaco wel reg het, is dat liberale teoloë inkonsekwent is.  As hulle arbitrêr sekere verhale en karakters “ontmitologiseer,” sou hulle as hulle konsekwent wou wees, ook vir God moes dekonstrueer.  En dit is presies wat Jaco doen.  Jaco se proefskrif is ‘n bewys van die bose agenda van die Satan agter liberale teologie wat maar net sy volle sirkel geloop het.

 

Argument 5

 

Hierdie argument konstrueer Jaco vanuit die bewering van “fiktiewe kosmografie.”  Hy beweer dat Jahwe volgens die Bybel letterlik afgebaken is tot die lug (sky).  Hy sê dat omdat Jahwe nie demonstreerbaar bo in die lug te vinde is nie, Jahwe nie daarom bestaan nie.  Hy gaan dan voort om op beweerde fiktiewe elemente in die Ou Testamentiese kosmografie te wys:

 

Jaco sê die Ou Testament staan 'n soliede uitspansel / hemel voor.  Hy baseer dit op die Hebreeuse woord: "râqiya" wat voorkom in Gen 1:6-8.  Die uitspansel kon nie solied wees nie, want die voëls het in die uitspansel gevlieg (Gen 1:20).  Die woord "raqiya" kom van die woord "râqâ," wat beteken "om uit te sprei" soos die gordyne van 'n tent of 'n pawiljoen.  Dit dui gewoon 'n uitbreiding of ruimte aan.  In die konteks van Gen 1:6-8 dui dit 'n omringende ruimte of uitbreiding aan wat die water in die wolke skei van die water op die aarde (see).  Dit is wat ons die atmosfeer noem, bestaande uit duisende klein partikels.  In Genesis word dit in 'n breër sin gebruik, en sluit die totale hemelruim in waarin die hemelliggame voorkom.  Tegnies is die buitenste ruimte natuurlik nie 'n vakuum nie, maar bestaan wel uit partikels – hulle is net minder en verder uit mekaar as in die atmosfeer van die aarde.  Die oorgang tussen die aarde se atmosfeer tot en met die buitenste ruimte is ook nie onmiddelik nie, maar geleidelik, waar die partikels al minder en verder uit mekaar word.  Dit lyk dus of die "uitspansel" in Gen 1:6-8 dus verwys na alles wat in die atmosfeer gesuspendeer is, insluitende alles van atmosferiese partikels tot en met die hemelliggame.  Jaco sê dat die uitspansel in Esegiël ook as solied gesien word.  In Eseg 1:22-26 word egter nie letterlik van die uispansel gepraat nie, maar iets soos / in die vorm van die uitspansel ("raqiya").  Dit was maar net die tipe vergelyking wat getref is om die verskynsel bo-oor die wesens se hoofde te beskryf wat bokant hulle hoofde uitgesprei was.  Dit word nie as solied beskryf nie, maar slegs dat dit die kleur het van 'n soort kristal of van ys.  Bokant dit was iets soos 'n saffiersteen in die gestalte van 'n troon, ens.  Dit is in elk geval belangrik om hier te besef ons het met 'n visioen te doen, wat slegs 'n bepaalde prentjie aan Esegiël kommunikeer, en niks te maak het met een of ander kosmografie nie.  Eseg 10:1.  Net soos in Eseg 1:22-26, word dieselfde beeld hier gebruik om die uitbreiding bokant die hoofde van die gerubs te beskryf.  Die beskrywing van die aarde waarmee Jaco dit vergelyk is Jes 40:22.  Daar word dit só beskryf: Jahwe "sit bo die kring van die aarde [aarde as rond], en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon."  Dit is duidelik metafore om die ruimte te beskryf wat God vir die aarde gemaak het en vir die wesens om daarin te woon.  Die aarde en die hemele is soos mense se tent waarin hulle woon.  En die mense is soos sprinkane.  Hier word nie bedoel dat die hemelruim 'n letterlike soliede bedekking vir die aarde is nie, net soos nie letterlik bedoel word dat mense sprinkane is nie.  Die vergelyking wat Jaco trek tussen Esegiël se uitspansel-tekste en Eks 24:10 hou nie water nie.  In Eks 24:10 sien die oudstes slegs 'n bepaalde manifestasie van Jahwe: "onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self."  Dit is geen refleksie op die aard van die uitspansel nie, maar bloot die visioen / manifestasie waarin hulle vir Jahwe gesien het.  Daar is ook geen aanduiding dat die “vloerwerk” verwys na die uitspansel nie.  Mens moet in elk geval in gedagte hou dat in hierdie tipe visioene of manifestasies van God, die mense waarskynlik in 'n geestelike dimensie ingekyk het, en dat dit wat hulle gesien het nie noodwendig met harde, konkrete, soliede objekte op die aarde vergelyk kan word nie.  Die laaste voorbeeld wat Jaco aanhaal is die van Job 37:18 deur Elihu, waar hy aan Job vra: "kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat sterk is soos ‘n gegote spieël?"  Hier word ook beeldspraak gebruik, waar die uitspansel beskryf word as sterk, en vergelyk word met 'n gegote spiëel, nie omdat die uitspansel self solied is nie, maar omdat dit bestendig is en die orde waarin die hemelliggame beweeg vas en seker is.  Mens moet ook verstaan dat hierdie tipe beeldspraak eie was aan die taal en kultuur van die tyd, net soos wat ons praat van die son wat "opkom" en "ondergaan" (terwyl dit nie werklik die geval is nie), of ons praat van die "uithoeke van die aarde" (terwyl die aarde nie werklik hoeke of uithoeke het nie).  Met taal word nie altyd letterlik bedoel wat dit sê nie, maar is bloot die kultuur-referent of taal-teken om na 'n bekende verskynsel te verwys.  Iets daarvan is waarskynlik ook waar van al hierdie gedeeltes ter sprake.  Trouens, in die Ou Testament is die taaltekens in elk geval uiters beperk om dinge te beskryf wat groter was as die reikwydte van die Hebreeuse taal self.  Daarom wys die linguiste en semantici daarop dat mens aan taal moet dink as betekenisse waarvoor woorde gerangskik word, eerder as dat woorde elk vaste betekenisse dra.  In kort: “woorde het nie betekenisse nie, maar betekenisse het woorde.”

 

Die volgende bewering wat Jaco maak is dat die Ou Testament sou impliseer daar is ‘n see van reënwater "aan die ander kant van die sterre bokant die uitspansel" (Gen 1:6-7).  Die argument berus daarop dat hy beweer die waters bo die uitspansel was solied.  Hierdie bewering kan egter nie deur die teks gestaaf word nie.  Die waters waarna verwys word bo in die uitspansel (atmosfeer) is gewoon waterdamp / wolke en die waters onder die uitspansel is in vaste vorm.  Hy sê daar is geen aanduiding in die teks dat die water mis of waterdamp is nie, maar die teenoorgestelde is ook waar.  Daar is ook geen aanduiding dat die water in vaste vorm is nie.  Jaco beweer die water is in vaste vorm anderkant die sterre, met verwysing na Ps 148:4.  Die woord wat in Ps 148:1 en vers 4 gebruik word is “shamayim” (nie “raqiya” – uitspansel soos in Gen 1:6-7 nie), en kan of verwys na die gedeelte waarin die wolke beweeg (lug) of na die hemelruim waarin die sterre beweeg (“shamayim” kan ook verwys na die “hemel” verwysend na die geestelike dimensie van God se teenwoordigheid: later bespreek by die uitleg van 1 Kon 8:22 en Deut 16:15).  In die konteks van Ps 148 merk mens op dat die skrywer begin by die hemele en engele, hy beweeg dan na die sterre, en dan na die lug waarin die water is (vers 1-4).  Dan beweeg hy nader na die aarde, na die seemonsters (dinosaurusse), ens.  Hier is dus ‘n bepaalde rigting waarin die psalmdigter beweeg, al nader na die aarde en die mense.  Dit lyk dus meer waarskynlik en pas beter by die konteks om die “shamayim” in vers 1 te sien as die “hemele” en “shamayim” in vers 4 te sien as die "lug."  Die water in die lug verwys dan na die waterdamp / wolke.  ‘n Belangrike aspek van die skepping soos dit in Gen 1 beskryf word, is die waarskynlikheid dat die atmosferiese samestelling anders daar uitgesien het voor die vloed as na die vloed.  Wat presies hierdie samestelling was, weet ons nie presies nie, en kan ons ook nie presies vasstel nie.  Een indikator is dat die persentasie suurstof in die atmosfeer baie hoër was voor die vloed.  Dit kan afgelei word van lugborreltjies in antieke amber-stukke waarvan die suurstofinhoud as 30% hoër as die huidige suurstofinhoud van die atmosfeer gemeet is.  Dit wil voorkom asof die suurstofinhoud, die druk en die waterdampinhoud baie hoër was as wat dit nou is.  Dit was ‘n tipe “green-house” effek waarin lewe baie weliger gefloreer het as nou.  Dit is die tipe omstandighede waarin dinosaurusse met klein longe kon floreer (nog getuienis dat die suurstofinhoud hoër was) en waarin mense groter kon word en heelwat ouer kon word as nou.  Daar bestaan bv. die teorie dat daar voor die vloed ‘n tipe ys-kappie hoog bo in die atmosfeer was wat die atmosfeer as’t ware oorspan het.  Dit bied ook ‘n baie goeie moontlike verklaring vir die idee van “water bo die uitspansel” (Gen 1:7).  vgl. "Evolusie of Skepping?"

 

In Jaco se volgende bewering sê hy dat die doderyk (Sheol) letterlik onder die aarde is.  Hy verwys hoofsaaklik na Num 16:20-35.  Hierdie bewering is al reeds bespreek en weerlê (onder Argument 3), waar ek aangetoon het dat "afdaal in die doderyk" (Num 16:30) 'n geykte idiomatiese uitdrukking was om gewoon uit te druk dat iemand na sy graf gaan (op dieselfde wyse as wat bv. "val" in die uitdrukking "in depressie val" idomaties is).  Tegnies het die mense dus "lewendig" in hulle eie graf ingegaan, want hulle het nie eers doodgegaan voordat hulle begrawe is nie. Die aarde (wat hulle graf sou raak) het sy mond oopgemaak, nie die doderyk as sodanig nie, asof dit gelokaliseer was onder die aarde nie.  Jes 14:9, wat praat oor die "doderyk daaronder" wat in beroering is oor Lucifer se val, is ook 'n voorbeeld van die idomatiese manier om oor die doderyk te praat.  Soos vroeër aangetoon, is die "op" en "af" motiewe in Amos 9:2 metaforeise taal om die geestelike uiterstes (hemel en hel) uit te beeld en sê niks t.o.v. die letterlike posisionering van die hemel en die hel nie.

 

Die volgende bewering wat Jaco maak is dat daar "fiktiewe" kosmografiese eienskappe aan die aarde sou wees:

 

Dat die aarde jonk is (ongeveer 6000 jaar oud: Gen 1; 1 Kron 1-10) is natuurlik wetenskaplik en logies moontlik, soos aangedui in die bespreking: "Evolusie of Skepping?"

Dat die skeppingsorde wat die Bybel aangee (bv. son en maan ná die aarde), fiktief is, is gebaseer op die onbewese aanname dat die heelal vanuit kosmologiese evolusie ontstaan het.

Dat die skepping binne 6 letterlike dae plaasgevind het is ook wetenskaplik moontlik, siende dat die aarde net 6000 oud kan wees.

Die volgende bewering is dat die Bybel leer die huidige aarde is ewig.  Hier moet twee begrippe onderskei word: 1) die huidige aarde en 2) die nuwe, eskatologiese aarde.  Soms word die een bedoel en soms die ander.  Wat in elk geval in gedagte gehou moet word met die Psalms en Prediker is dat ons hier met gedigte te doen het, en dat die tipe taal wat gebruik word nie altyd letterlik bedoel word nie.  Ps 78:69 sê God het sy heiligdom "soos hemelhoogtes [hoë bergvesting] gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig [voortdurende bestaan] gegrondves het."  Hier is meer as een moontlike interpretasie.  Die Hebreeuse "ôlâm" beteken hier nie noodwendig "vir ewig" in terme van alle tye nie.  Brown-Driver-Briggs wys daarop dat dit kan beteken: "1) long duration, antiquity, futurity, for ever, ever, everlasting, evermore, perpetual, old, ancient, world 1a) ancient time, long time (of past) 1b) (of future) 1b1) for ever, always 1b2) continuous existence, perpetual 1b3) everlasting, indefinite or unending future, eternity."  Maar die aarde kan hier ook na die nuwe, eskatologiese, ewige aarde verwys.  Dan sou die vers vrylik so vertaal kon word: "En Hy het sy (geestelike) heiligdom soos hemelhoogtes gevestig, soos die (nuwe) aarde wat Hy vir ewig (eskatologies) gegrondves het."  Ps 93:1 en Ps 104:5 sê bloot die wêreld staan vas sodat nie wankel nie – niks met ewigheid al dan nie te doen nie.  Ps 148:6.  Die Hebreeuse uitdrukking is "le-ad le-ôlâm," en kan vertaal word met "perpetuating for a very long time."  Die "ad" beteken "1) perpetuity, for ever, continuing future 1a) ancient (of past time) 1b) for ever (of future time) 1b1) of continuous existence 1c) for ever (of God’s existence)." en "ôlâm" se moontlike betekenisse het ek reeds hier bo by Ps 78:69 gegee.  Die uitdrukking dui myns insiens op die balans, wetmatigheid en voortdurende beweging waarin God die aarde en die ander hemelliggame in relasie met mekaar geplaas het.  Pred 1:4 gebruik ook die woord "ôlâm," wat nie noodwendig hier lettelik "vir ewig" beteken nie, maar "vir 'n baie lang tyd."  Jer 31:35-36.  Jahwe sê dat as die "verordeninge" (van "die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis") voor sy aangesig sal wyk, sal die "nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig vir altyd."  In 'n sin is dit natuurlik waar dat as die nuwe eskatologiese tyd aanbreek en die ou hemel en aarde sal verdwyn, dan sal daar nie meer 'n fisiese volk Israel op die aarde wees nie.  Jes 34:4 en Jes 51:6 dui natuurlik op die eskatologiese tyd wanneer die ou hemel en aarde sal vergaan.

Jaco sê dat die Bybel leer die aarde het hoeke.  Sag 6:1-5 is 'n visioen, waarin die vier geeste ter sprake kom.  Die vier strydwaens met perde dui aan dat die vier geeste verskillende funksies het.  Wat presies hierdie funksies is, is nie heeltemal duidelik nie.  Hier staan niks van die "vier hoeke" van die aarde nie (ek gee in elk geval 'n verduideliking oor die gebruik van "hoeke" van die aarde in Evolusie of Skepping?, onder die hofie: Verkondig die Bybel 'n plat aarde?).

Jaco se bewering dat die Ou Testament leer dat die gewelf van die lug ondersteun word deur pilare en berge van die aarde, is ongegrond.  In Job 9:6 het ons te doen met poëtiese taal en personifikasie.  “Die pilare gee bevel…”  Dit is duidelik nie letterlike pilare nie, maar metafore vir God se skepping – net soos die sterre bv. nie letterlik agter ‘n “seël” weggesluit word nie.  Die Suide woon ook nie in ‘n “kamer” nie.  Dieselfde geld vir Job 26:11.  Die “hemel se pilare” is ‘n metafoor wat gepersonifiëer word: “dit staan verstom.”  Job 18:4 het niks met pilare of die ondersteuning van die gewelf te doen nie, maar is beeldspraak oor die bestendigheid van die aarde ("'n rots sal nie uit sy plek versit word nie").  In Ps 75:3 word “pilare” figuurlik gebruik, want die “aarde” (êrets) is hier die inwoners (sien BDB).  Die bedoeling daarvan is dat God die regter is wat sekeres verhoog (as leiers / pilare) en sekeres verneder (vers 7).  Barnes (in Albert Barnes' Notes on the Bible) sê: “As applied to a prince or ruler, this means that the permanent structure of the state, the welfare of society, depended on his administration.”  Gill (in John Gill's Exposition of the Entire Bible) sê die “pilare” dui op die regverdiges.  Vir ander figuurlike gebruik van “pilare,” sien Gl 2:9 en Op 10:1.

Jaco beweer dat die Bybel sê die aarde is plat.  Dan 4:10-11,20 praat van die droom van Nebukadnesar waar die boom op die aarde so groot was dat dit "tot aan die einde van die aarde" en "oor die hele aarde" sigbaar was.  Dit is belangrik om hier te besef dis net 'n droom, en daar kan nie direkte verbande met die werklikheid getrek word nie, wat nog te sê kosmologie.  Die groot boom beskryf maar net die koninkryk van Nebukadnesar wat oor die hele aarde sou strek.  Wat mens ook in gedagte moet hou is 1) dat die wêreld gesien is vanuit die oogpunt van die Ou Nabye Oosterling.  Die wêreld vanuit hulle perspektief was net hulle bekende wêreld.  2) 'n Geweldige groot boom (wat omtrent so groot is soos die aarde self) is teoreties sigbaar oor die hele sferiese aarde as sy blare wyd genoeg sterk.  Daar is in elk geval goeie aanduidings in die Bybel dat daar wel sprake is van ‘n sferiese aarde: Jes 40:22 “Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon.”  Job 26:10 “Hy het ‘n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig.”  Spr 8:27 “Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy ‘n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed.”  Die Hebreeuse woord wat gebruik word is “chûg,” wat vertaal kan word met “sirkel, baan, omvat, rondom gaan/span.”  Dit is opmerklik dat daar nie ‘n aparte woord in Hebreeus bestaan het wat ‘n sfeer (drie dimensionele sirkel) aandui nie.  As die skrywers “sfeer” bedoel het, sou hulle waarskynlik “chûg” gebruik het.

Die oseaan waarop die land vloei (Gen 7:11; Eks 20:4; Ps 24:1 – sien ook Ps 136:6; Job 38:8), word natuurlik baie goed verklaar deur die hidroplaat-teorie.  Daarvolgens was daar 'n baie groot hoeveelheid onderaardse water voor die vloed wat tydens die vloed by die mid-oseaniese riwwe uitgekom het en die oseane gevul het (wat baie kleiner was vroeër).  Die kontinente het dan in hierdie proses vinnig beweeg weg van die mid-oseaniese riwwe af en baie van die berge en plato's gevorm, ens. (sien "Evolusie of Skepping?").

Die volgende bewering is dat die Bybel leer dat die hael, reën en sneeu vanuit stoorkamers in die lug kom. Job 38:22; Jer 10:13 en Amos 9:6 is almal baie duidelik beeldspraak.  Dit was 'n standaard tipe beeldspraak om oor hierdie verskynsels te praat, net soos ons bv. praat van die "kamers van jou menswees / hart."

Die beweerde lae hemel met sterre het geen gronde nie.  In Gen 11 word gepraat van hoe die mense hulleself voorgeneem het om 'n toring te bou wat tot aan die hemel reik.  Buiten dat "shamayim" nie altyd "hemel" beteken nie, maar gewoon "lug" of "sigbare hemel," lyk dit of die mense verwaand was en soos gode wou wees.  Hulle het waarskynlik gedink as hulle die toring hoog genoeg bou sou hulle soos gode wees.  Maar dit was natuurlik gebou op 'n foutiewe persepsie.  Vandaar die treffende beeldspraak dat God as't ware moes "neerdaal" (figuurlik) om die toring te besigtig.  Soos reeds bespreek, was die persoon wat met Abraham gepraat het in Gen 18 'n bepaalde manifestasie / inkarnasie / verteenwoordiger van God.  2 Kon 2:11 praat van hoe Elia na die hemel ("shamayim") opgevaar het.  Hier is dit nie duidelik of daarmee bedoel word dat Elia in die geestesdimensie in die teenwoordigheid van God opgeneem is nie, en of "shamayim" hier na "lug" verwys nie (m.a.w. of Elia nie net bonatuurlik getransporteer is nie).  Desnieteenstaande kan niks afgelei word oor die "nabyheid" al dan nie van die hemel nie.  In Jes 14:12-14 verwys "shamayim" hier na God se geestelike teenwoordigheid.  Die "kôkâb" (sterre) was 'n bekende aanduider vir engele (vgl. Op 12:3-17; Henog 18:15-16).  Strongs sê in elk geval dit kan figuurlik verwys na 'n "prins / vors" (vroeër bespreek).

Die sg. “objektiewe realiteit van (sterre)-konstellasies in die lug” is vaag.  Wat bedoel Jaco hiermee?  In Job 38:31-32 vra God of Job “die bande van die Sewe-ster (kan) knoop? Of die toue van die Oríon losmaak?” ens.  Die antieke mense het sekerlik sterrekonstellasies gesien en benoem.  Hier in Job word ook daarna verwys, maar die teks is kennelik beeldspraak wat sinspeel op die almag en skeppingskrag van God wat al die sterre in hierdie interessante vorme kon rangskik, in kontras met die mens wat niks daaraan kan verander nie.  Dit is duidelik dat die weergawe in Job nie die sterre-konstellasies as werklike wesens aanbied nie, maar dat beelde gebruik word om die waarhede te illustreer.  Dit vorm deel van ‘n gedig.

Die bewegende son en maan (Jos 10:12-14; Jes 38:8; Pred 1:5).  Die son wat “om die aarde draai” of die son wat “opkom” en “ondergaan” was bloot die manier waaroor gepraat is oor die relatiewe beweging van die son.  Relatief tot die waarnemer beweeg die son wel om die aarde.  Trouens, ons sê vandag ook die son kom op en die son gaan onder, al is dit nie ‘n presiese refleksie van wat in die werklikheid gebeur nie.  Rigt 5:21 is beeldspraak vir die heersers / hemelse magte wat geveg het.  Sterre beweeg in elk geval om die aarde relatief tot die waarnemer (soos die son).  Maar sterre staan in elk geval nie tegnies stil nie, maar beweeg relatief tot mekaar (sien. Bv. Alpha en Beta Centauri).

Dat die aarde stilstaan kan ook nie uit die tekste afgelei word nie.  Ps 93:1 praat van die bestendigheid en onwankelbaarheid van die aarde op sigself, nie in terme van sy relatiewe beweging m.b.t. die hemelliggame nie.  Ps 104:5.  Woorde soos “kûn” (oprig, grondves, aanwys, tot stand bring) en “môsâdâh” (fondasie) afkomstig van “yâsad” (stel, sit, beslis, vestig), word dikwels gebruik.  Die Skrif gee nie spesifieke aanduidings oor die aard van hierdie tipe “grondvesting” nie.  Dit poog ook nie om ‘n spesifieke kosmologiese verstaan daar te stel nie, maar word eerder figuurlik gebruik as metafore van die Here se almag en die standvastigheid van sy skepping (bv. 2 Sa 22:16).  Vir ‘n figuurlike gebruik van “môsâdâh,” sien bv. Jes 58:12 “En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.”

Dat die son ’n “ondergrondse kamer het” kan ook nie uit die Bybel afgelei word nie.  Ps 19A.  Die metaforiese taal in hierdie Psalm is so duidelik soos daglig (pun intended), bv. : “Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan.”  Dit is ‘n pragtige gedig.  Die dae word gepersonifiëer.  Dan word gesê God het aan die “eindes van die aarde” ‘n “tent gemaak” vir die son – sekerlik nie letterlik nie.  Want die son is sekerlik ook nie ‘n letterlike bruidegom wat uitgaan uit sy letterlike slaapkamer nie (vers 5).  Mens noem dit vergelyking en metafore – digterlike vryheid!  As Job in Job 3:7-8 sy eie lot bekla, dan wens hy dat die nag (waarop hy gebore is) "onvrugbaar" is en dat die "dagvervloekers" hom verwens, ens.  Dit het niks te doen met die sg. "ondergrondse kamer" van die son nie.

Jaco se volgende beswaar is "die gepersonifiëerde see met sy drake."  Job 38:8,10 is beeldspraak vir die mag van die see.  Soos ons reeds gesien het, verwys “leviatan” in Ps 104:26 na 'n krokodilagtige of draakagtige reptiel of seedier.  In Eseg 32:2 word "tannîm" (draak: waarskynlik tipe dinosaurus) metafories gebruik om na 'n bose mag (Egipte) te verwys (reeds bespreek).  Soos reeds bespreek, in Amos 9:3 is die slang waarvan gepraat word metafories vir die Satan en/of sy magte.  Nie een van hierdies is mitiese karakters nie.

Die sterre word ook nie as lewende wesens uitgebeeld nie.  Rigt 5:21 is beeldspraak vir die heersers / hemelse magte wat geveg het.  Soos reeds bespreek, verwys die woord “sterre” in die Bybel nie altyd na fisiese lig-gewende hemelliggame nie, maar ook na heersers, engele en self na demone (Rigt 5:20; Job 38:7; Jes 14:12,13; Dan 8:10; sien ook Op 12:4 en 9!; Henog 18:15-16; Jud 1:13).

Soos reeds bespreek, bestaan demone wel, en dit is baie moontlik dat hulle dikwels hou in verlate plekke (Lev 16; Jes 34:14).

Die bewering dat die aarde eindig net anderkant Armenië (noord), Iran (oos), Spanje (wes) en Ethiopië (suid), is totaal en al ongegrond.  Die geografiese landmerke wat in Gen 2:8-15 uiteengesit word is allermins bedoel om aanduidings van die einde van die aarde aan te dui.  Jon 1:2-3.  Jona wou na Tarsis vlug "van die aangesig van die HERE af weg."  Hy wou vlug weg van sy verantwoordbaarheid teenoor God.  Jona het waarskynlik geweet mens kan nie werklik van die Here af wegvlug nie (Ps 139), maar hy het nogtans in die teenoorgestelde rigting gevlug as waarna God hom geroep het.  Dit het in elk geval niks te doen met die sg. "eindes van die aarde" al dan nie.

Die bewering dat die Bybel leer dat die son, maan en sterre "klein liggies is tussen die waters en die uitspansel" is ook totaal ongegrond.  Gen 1:14-16.  Soos reeds genoem, verwys die uitspansel na die hele hemelruim, insluitende die atmosfeer.  Daar word nêrens gesê die sterre of hemelliggame is “tussen die waters” nie.  Die waterdamp en / of ys-kappie (sien vorige bespreking) vorm maar net deel van die nadere gedeelte van die “uitspansel.”  Jos 10:12-14 en Jes 38:8.  Die stilstaan van die hemelligame het niks te doen met die posisionering van die hemelligame m.b.t. die uitspansel nie. 

Dat die Bybel sê Jerusalem is die middelpunt van die wêreld, is nie heeltemal korrek nie.  Eseg 5:5 sê bloot dat God Jerusalem onder die nasies gestel het, en dat lande daar rondomheen is.  Vanuit die geografiese verwysingsraamwerk van God se volk, was Jerusalem wel in die sentrum daarvan.

Wat Jaco bedoel met “Jerusalem in die verre noorde by die bron van die water” is onduidelik.  Ps 48:3 sê bloot dat Sion die vreugde is, “aan die noordekant, die stad van die groot Koning.”  Dit het waarskynlik ‘n dubbele verwysing, nl. na die Stad van Dawid en na die hemelse, geestelike Sion.

Dat die Tuin van Eden by die bron van vier riviere is (Gen 2:11-14), kan nie geografies geverifiëer word nie, want 1) hoewel daar vandag riviere in Irak is met die name Tigrus en Eufraat wat baie dink moontlik na van hierdie riviere veryws, is dit onbekend presies waar die 4 riviere is waarna verwys word, en 2) die wêreldwye vloed het die geografie van die streek drasties verander.

Die berg van God in die noorde (Jes 14:13) is nie ‘n aardse geografiese punt nie, maar verwys na ‘n geestelike realiteit in God se koninkryk. 

Wat die sg. “tuin van die gode” betref: Eseg 28:12 verwys na ‘n aardse lokus: die Tuin van Eden, wat as metafoor dien om ‘n geestelike realiteit in God se koninkryk aan te dui.  Jes 51:3 trek ‘n vergelyking met die aardse Tuin van Eden, wat die Tuin van Jahwe genoem is.

In verband met ‘n “veelvalkkige onderwêreld”: Die term “onderwêreld” is (soos vroeër uitgewys) nie tegnies korrek nie.  Jes 14:9-20 praat nie juis oor vlakke in die doderyk nie, maar wel dat dit in beroering is en dat skimme opgewek word a.g.v. die val van Lucifer.  Die hele gedeelte bevat in elk geval sterk elemente van beeldspraak (bv. oor die harpe, bed, wurms en maaiers), en daar kan nie veel afleidings oor die aard van die doderyk hieruit gemaak word nie.  Eseg 32:18-32, wat praat oor Egipte, vervloek as’t ware vir Egipte met die woorde: “en laat hulle neerdaal (hy met die dogters van geweldige nasies) in die onderste plekke van die aarde, by die wat in die kuil neergedaal het.”  Die “onderste plekke van die aarde” en die “wat in die kuil neergedaal het” was deel van die standaard idiomatiese taal oor hoe die antieke mense oor die graf en die doderyk gepraat het (vroeëer bespreek).  Dieselfde standaard idiomatiese taal kom in vers 24 voor (vgl. ook Eseg 26:20; 31:14; Ps 30:9; 63:9).  Hier word in elk geval niks gesê van die beweerde “vlakke” van die doderyk waarvan Jaco praat nie – hoewel dit in teorie natuurlik moontlik is, maar dit lê in ‘n geestelike dimensie en die Bybel brei nie juis daaroor uit nie.

Die beweerde berge by die “ingang” van die doderyk is totaal ongerond.  Ps 42:7 lees: “o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af.”  Wat dit met sg. “berge by die ingang van die doderyk” te doen het, weet nigter alleen.  Die psalmdigter sê hy sal dink aan God se teenwoordigheid soos God homself konkreet aan sy volk geopenbaar het.  Dit doen hy d.m.v. die metafoor van die “land van die Jordaan” en die “Hermons(gebergtes).”  Die “klein gebergte” (“mizar”) is ‘n metafoor wat verwys na sy depressiewe en moedelose toestand.

Die sg. “rivier van die onderwêreld” is ook ongegrond.  Job 33:18 praat van God se redding uit die “shachath” die kuil, verwysende na die graf as metafoor vir die dood.  Job 36:12 praat van mense wat sal omkom deur die swaard en die laaste asem sal uitblaas – niks met die sg. “rivier van die onderwêreld” te doen nie.

 

Met hierdie lys wat Jaco aangee is daar dus ‘n aantal kosmologiese verskynsels wat wel waarskynlik en wetenskaplik verantwoordbaar is, maar daar is ‘n hele aantal standaard metafore, beeldspraak en idiomatiese taal, wat verbonde was aan die antieke wêreldbeeld en taalteken-universum van die antieke mens.  Laasgenoemde was nie in hulle beskouing werklike plekke, realiteite of entiteite nie, maar bloot deel van hulle ryk, idiomatiese taal.  En dit is baie moontlik dat baie van hierdie taal-simboliek beïnvloed deur heidense idees en konsepte, maar hier is dit belangrik om te onthou dat die Ou Testamentiese tradisie juis polemies staan teenoor heidense godsdienste en allermins heidense “teologie” aanneem of inkorporeer, maar juis outentieke, unieke inhoud gee met die gebruikmaking van die kontemporêre simboliek van die tyd, bloot omdat daardie simboliek deel was van hulle taal.  Daar is baie dinge in ons spreektaal wat ons ook simbolies bedoel en nie letterlik nie.  Ons praat bv. daarvan om “ons kar vol petrol te maak.”  Eintlik bedoel ons ons maak ons kar se petroltenk vol petrol.  Ons praat van die son wat “opkom” en “ondergaan” terwyl ons weet die aarde draai eintlik om die son.  Ons praat van ‘n “middelmannetjie” terwyl ons weet dit is nie werklik ‘n mannetjie nie.  Ons praat van iemand wat sy kursus “opskop” terwyl ons weet dat mens kan nie werklik jou kursus “skop” nie.  Ons praat van iemand wat ‘n “tentmaker” is (wat in die bediening staan terwyl hy sy eie inkomste genereer) terwyl hy nie werklik tente maak nie.  Ons sê dikwels “jy weet so min waarvan ek praat soos die man in die maan” terwyl ons weet daar is nie werklik ‘n man in die maan nie.  So is daar talle voorbeelde in ons eie taal waar ons standaard simboliese of idiomatiese uitdrukkings gebruik.  Die Hebreeuse taal is idiomaties en simbolies baie ryk.  Die bybelskrywers het hierdie selfde taal en idioom gebruik om God se Woord mee vas te lê.  Iemand wat dus die simboliek in die Bybel wil verstaan moet dus ‘n sensitiwiteit ontwikkel vir die Hebreeuse idioom.  Vir westerse logiese rasioneel-gedrewe mense is dit dikwels moeilik om hulleself in hierdie wêreld te verplaas, want ons is kultureel in baie opsigte te ver verwyderd van die Semitiese simboliese universum.  Dit kan daarom verwag word dat westerse teoloë dikwels hulle eie simboliese universum sal gebruik as maatstaf om sin te probeer maak van die simboliese universum van die antieke mens.  En myns insiens kan dit baie gevaarlik wees.

 

Waar is Jahwe?  Jaco beweer dat daar ‘n aantal tekste is wat Jahwe se bestaan empiries “teenbewys”:

 

Gen 11:5.  God se "neerdaal" (figuurlik) is nie 'n aanduider van God se lokus nie, maar van God se verwerdiging.  Dit word voorts retories gebruik om God se minagting van die toring van die mense uit te druk.

Gen 17:22.  Soos reeds bespreek was God se teenwoordigheid by Abraham ‘n bepaalde manifestasie / inkarnasie / verteenwoordiger – waarskynlik in die vorm van ‘n engel.  Dieselfde geld vir Gen 18:20-21.

Gen 28:12-17.  Reeds bespreek.  Hierdie was ‘n prentjie (goddelike taalteken) in Jakob se droom.

Gen 35:9-13 was ‘n bepaalde manifestasie van God.

Eks 19:9-13 en Eks 19:16-22 was ook ‘n bepaalde manifestasie van God in die fisiese sfeer.

Deut 16:15 wat lees: “Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer” was ook ‘n manier van praat wat verbonde was aan hulle taal.  Dit was nie letterlik verstaan asof God êrens “hoog in die lug” bly en daar “vasgepen” sit nie, maar is dikwels op hierdie manier gebruik as ‘n standaard idiomatiese uitdrukking om die geestelike dimensie waarin God verkeer as gans anders, en transendent uit te druk.  Die term “shamayim” (hemel) is ook dikwels op hierdie manier gebruik.  Ons praat dikwels vandag op dieselfde manier oor God, al bedoel ons nie letterlik God sit êrens vasgepen “hoog in die lug” nie.  Dieselfde geld vir Deut 27:15; 2 Kron 6:33; 20:6; Ps 11:4; 102:19-20.

Deut 30:26?  Hy bedoel seker Deut 33:26.  Dit praat van God “wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.”  Dit is metafore vir God se tansendensie en hoogheid aan die een kant, in kontras met sy verlossingswerk in die fisiese realm aan die ander kant.

Jos 10:10-11.  “Shamayim” beteken hier gewoonweg “lug” (sien BDB).

Rigt 13:15?  Jaco bedoel seker Rigt 13:20.  Die Engel van Jahwe is bloot ‘n verteenwoordiger van Jahwe.

2 Sam 22:5-17 en Ps 18:5-18 is ‘n gedig.  Dit is beeldspraak (reeds bespreek).

1 Kon 8:22.  Die die term “shamayim” (hemel) is nie verstaan as letterlike plek êrens bo in die lug nie, maar dit was die standaard idiomatiese manier van praat om God se teenwoordigheid in die geestelike sfeer aan te dui (sien ook Deut 16:15 se bespreking hierbo).

2 Kon 2:11 is reeds bespreek.  “Shamayim” kan óf verwys na die hemel as God se geestelike habitat óf na die lug.

1 Sam 18:38-39?  Jaco bedoel seker 1 Kon 18:38-39.  Die vuur van Jahwe wat “geval” het, het geen direkte verband met die lokus van Jahwe, as sou hy êrens “bo” gesit het en die vuur “ondertoe” gegooi het nie.

Job 1:16.  “Shamayim” beteken hier gewoon “lug.”

Job 22:12-14.  Elifas vra of God nie “gôbah shamayim” is nie.  “Gôbah” verwys na God se “verhewenheid” – nie in terme van sy fisiese hoogte nie, maar in terme van sy grootheid en majesteit.  “Shamayim” verwys hier na die hemel as transendente, geestelike sfeer waarin God is.  God se verhewenheid word vergelyk met die hoogte van die sterre.  In vers 14 laat skemer Elihu sy persepsie van God deur wat myns insiens nie heeltemal akkuraat is nie (later sou God aandui dat Job se vriende verkeerd gespreek het oor God: Job 42:7).  Elifas gebruik die beeldspraak dat God homself as’t ware bedek met donker wolke, en wandel binne die verhewe sfeer van die “shamayim” (“hemel” as geestelike sfeer), waardeur Elifas waarskynlik laat deurskemer dat hy dink dat God daardeur as’t ware nie werklik bemoeienis maak met die doen en late van die mens nie.  Hierdie uispraak van Elifas moet dus teen die agtergrond van die groter retoriese geheel van die boek verstaan word.

Job 37:2-5.  God se stem is ‘n metafoor vir die donderweer.  “Shamayim” verwys hier na die “lug” (sky).

Ps 14:2 verwys na God wat vanuit sy heiligheid en verhewenheid neersien op die mens vanuit die geestelike sfeer.

In Ps 18:10 praat die psalmdigter van hoe God die hemel as geestelike sfeer (shamayim) “gebuig” het vanuit sy verhewe posisie en Homself verwerdig het (neergedaal het) in die vorm van donkerte (donker wolk).  Dit is pragtige beeldspraak wat die psalmis gebruik, te midde van ander beeldspraak (bv. rook in sy neus, vuur uit sy mond [vers 9] en hoe hy gesweef het op die vlerke van die wind [vers 11], ens.).  Dieselfde geld vir Ps 144:5.

Ps 29:3.  Die “stem van God is op die water” is ‘n metafoor vir die donderweer.  Vers 10:  God wat “sit” op die vloed (van Noag) is ‘n metafoor vir God wat die aarde as’t ware geoordeel het vanuit sy regterstoel.

Ps 103:19.  Die konkinkryk wat Jahwe in die “hemele” (shamayim) vestig, verwys na die geestelike sfeer waarin God bestaan.

Ps 104:1-3.  God wat sy solders in die waters bou, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel is alles beeldspraak vir hoe God se almag en krag gesien kan word in die natuurelemente.

Jes 14:13-14 is reeds bespreek en as metaforiese taal uitgewys.

Jes 40:22. God wat “bo” (figuurlik) die kring van die aarde sit, is tekenend van sy verhewenheid bo die mens en sy skepping.  Dit staan ook binne die konteks van ander beeldspraak (reeds bespreek: bewoners as sprinkane, ens.)

Jes 64:1.  Die “hemele [shamayim] wat (moet) skeur” verwys na God wat vanuit sy heilige, werhewe geestelike sfeer moet inbeweeg in die fisiese dimensie.  Die “neerdaal” (figuurlik) praat van God se verwerdiging.

Jer 25:30.  Die Here wat “sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning” is metafore vir God se kragtige manifestasie en sy oordeel.

Jer 51:16. “Shamayim” beteken hier gewoon “lug” (sky).

Die “hemele” (shamayim) wat geopen is (in Eseg 1:1) verwys hier na die hemel as geestelike sfeer van God se teenwoordigheid.

Dan 7:13 vorm deel van ‘n visioen (reeds bespreek).

Miga 1:3.  Die Here gaan uit sy “woonplek” uit (figuurlik).  Dit bedoel God transendeer sy heilige geestelike realm waarin Hy verkeer, en manifesteer in die fisiese realm.  Hy “daal neer” (figuurlik) in die sin dat Hy vanuit sy verhewe posisie van heiligheid met fisiesie manifestasie die wêreld binnetree, en homself verwerdig om die “hoë plekke” – die geestelike bakens wat die mens in hoogmoedigheid as’t ware bo God verhef het – neer te werp (vers 4).

Amos 9:6 is metaforiese taal.  Die “solders” in die lug is metafore vir wolke, asook die “troepe wat Hy in/op die aarde vestig.”  Dit verwys na die een of ander van sy skepsels (moontlik diere).  Jaco se vertaling van “hemele bo die aarde” is nie na my mening ‘n akkurate vertaling nie.

 

Jaco se afleidings dat Jahwe en sy engele geteken word as dat hulle “letterlik” opgaan na die hemel, is dus ongegrond, asook dat Jahwe “letterlik” sou neerdaal.  Dat mense hulle hande uitbrei as hulle met God praat is ‘n natuurlike gebaar en het niks te doen met of God “bo” is nie.  Christene doen dit vandag ook.  Die ander afleidings dat Jahwe “letterlik” neerkyk op mense of dat donderweer “letterlik” Jahwe se stem is, is nog meer ongegrond, ens., ens.  Die manier van praat om God te sien as "bo in die hemel" en die mense "onder op die aarde," of dat God “opgaan” of “neerdaal” was gewoon die standaard figuurlike manier hoe mense oor God gepraat het.  Daar is baie ooreenkomste in ons hedendaagse taal met ‘n soortgelyke manier van praat.  Kyk bv. na hierdie sin: "Moenie dink omdat jy deel is van die boonste laag van die samelewing dat jy kan neersien op hulle wat onder die broodlyn lewe nie!"  Die lae van die samelewing is nie letterlik nie.  So ook woon diegene in die "boonste laag" van die samelweing nie letterlik op hoër plekke as diegene wat onder die broodlyn lewe nie.  Die “broodlyn” is ook nie ‘n letterlike lyn nie.  Nog 'n voorbeeld: "Professor moet ons arme ‘plebs’ hier onder tog net nie weer so uit die hoogte kom toespreek nie!"  Hier word nie bedoel dat die professor letterlik van 'n hoë plek af praat en dat die "arme plebs" letterlik êrens onder sit nie.  Dieselfde tipe taal-verskynsels kry ons in die Hebreeuse taal waarin die Bybel geskryf is.  Dit lyk vir my of Jaco nie blyke toon dat hy sensitief is vir hierdie dimensies in die Hebreeuse taal nie.  Ons praat vandag nog van God wat hoog verhewe is "in die hemel" en bedoel nie daarmee een of ander fisiese lokus bo in die ruimte nie. 

 

Die konklusies wat Jaco maak oor die die sg. fiktiwiteit van die Bybel kan dus met verantwoordelike eksegese en ‘n beter verstaan van die manier waarop die Hebreeuse taal in die Bybel aangewend is, nie volgehou word nie, maar vertoon eerder die armoede en onwilligheid aan ekstensiewe eksegetiese arbeid.  Maar meer as dit, dit wys net hoe ver die Satan en sy magte in hierdie wêreld al gevorder het om onder baie teoloë deur middel van subtiele (en soms minder subtiele) misleiding die Bybel tot so 'n mate te diskrediteer, dat baie van hulle hulle geloof verloor.

 

Argument 6

 

Jaco se volgende argument is vanuit die bewering dat die geskiedenis van die Bybel fiktief is.  Jaco erken dat dit tegnies onmoontlik is om empiries absoluut te verifiëer of die realiteit van die verlede en die teks wat daarvan getuig, met mekaar strook (p. 277).  Hy sê as die teks sekere karaktertrekke vertoon wat dit as fiksie uitwys, dat mens (sonder om die geskiedenis te ken) die geskiedenis waarna die teks verwys ook as fiktief kan beskou.  Die vraag is natuurlik of Jaco dit vanuit die teks sal kan bewys.

 

Hy begin deur hier en daar te verwys na die moontlike rekonstruksies van diegene wat die geskiedenis agter die teks probeer rekonstrueer, maar behandel dit nie in diepte nie, aangesien Jaco self nie daardie benadering wil volg om aan te toon of die geskiedenis agter die teks waar is al dan nie. 

 

Jaco se eerste argument is vanuit (beweerde) intra-tekstuele kontradiksies.  Hy redeneer dat as hy kan aantoon dat die gegewens in die tekste oor die geskiedenis mekaar weerspreek, dat hy kan aantoon dat die geskiedenis waarna die tekste verwys fiktief is (in die een teks of beide tekste), en dat Jahwe as gevolg daarvan nie sou bestaan nie. Die volgende beweerde teenstrydighede word aangetoon:

 

[Let wel, soos uit die inleiding aangetoon hoef 1) slegs 'n moontlike verklaring gegee te word om dit waarna die tekste verwys te harmoniseer, en 2) dat tekste met verskillende detail wel kan inpas binne die geheel van ‘n moontlike scenario]

 

Die beweerde kontradiksie in chronologie tussen Gen 1 en 2 kan nie volgehou word nie, aangesien Gen 1 aanspraak maak op chronologie en Gen 2 nie, maar slegs 'n meer gedetaileerde weergawe van die skepping is op sekere punte (reeds vroeër bespreek).

Gen 4:26 en Eks 6:3 is nie weersprekende getuienis oor die openbaring van die naam Jahwe nie (reeds bespreek).

Die beweerde kontradiksie in die genealogie van Gen 4:17-26 en Gen 5:1-32 is totaal ongegrond.  Hier word gewoon twee geslagslyne gegee.  Gen 4 gee die geslagslyn van Kain en Gen 5 gee die geslagslyn van Set tot en met Noag se seuns.  Baie van die name in die onderskeie geslagslyne kom ooreen, maar is geen rede tot kontradiksie nie.

Die beweerde "lewensduur" van die mens wat na die vloed vasgestel is op 120 (Gen 6:3), maar dat mense daarna ouer geword het (Gen 12 en verder: bv. Abraham het 175 jaar oud geword), is nie akkuraat nie.  Die betekenis van "sy dae sal 120 jaar wees" in hierdie konteks verwys nie na die lewensduur van individue nie, maar verwys na 'n sekere punt voor die vloed, "toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was" (vers 5) waar God besluit het dat die grasietydperk vir die mens (korporatief) 120 jaar sou wees voordat Hy die goddeloses saam met die vloed van die aarde sou verdelg (sien 1 Pt 3:20).  Dit is wel so dat mense 'n korter lewensduur gehad het na die vloed, maar dit was as gevolg van die veranderde omstandighede na die vloed (vroeër bespreek): minder suurstof, ens.

Jaco sê volgens Gen 7:4,12,17 was die duur van die vloed 40 dae en volgens Gen 7:24; 8:3 was dit 150 dae.  Die verklaring hiervoor is eenvoudig, die reën en die toevloei van water was vir 40 dae.  Na 40 dae het die water nie meer vermeerder nie maar begin wegvloei, en dit het in totaal 150 dae geduur vir die water om so te sak dat die mense uit die ark kon kom.

Die opdrag van die diere wat in die ark moes gaan: twee van elke soort, was vroeër aan Noag gegee, nog voor die ark klaar was (Gen 6:19).  Die opdrag van God om sewe pare van al die “rein diere en voëls” in die ark te laat ingaan (Gen 7:2-3) was later aan Noag gegee, en is 'n meer spesifieke en aanvullende opdrag (klaarblyklik sodat hulle vinniger kan vermeerder om as voedsel en offers te dien).

Die beweerde kontradiksie tussen mense wat verskillende tale gepraat het in Gen 10:15 en die een taal wat hulle gepraat het tydens die bou van die toring van Babel, en die verwarring deur God daarna (Gen 11:1-9), is totaal ongegrond.  Die geslagsregister in Gen 10 oorvleuel met die geskiedenis wat in Gen 11 vertel word.  Gen 10:10 sê dat Nimrod die stigter van Babel was in die land Sinear.  Gen 11 kleur maar net daardie detail in.  Gen 11:2 vertel van hoe die mense 'n laagte in die land Sinear gevind het.  Vers 4 en 9 vertel van hulle voorneme om 'n stad te bou en dat hulle dit Babel genoem het.  Gen 10:20, waar aangedui word hoe die volke verskillende tale gehad het, is dus in 'n punt in die geskiedenis na die insident met die toring van Babel.

Die vermeende kontradiksie met die ouderdom van Abraham by sy vader se dood tussen Gen 12:4 en Gen 11:26,32 is ook vals.  Gen 12:4 gee Abraham se ouderdom (70) toe hy sy vader se huis verlaat het, nie toe Tera dood was nie.

Jaco se bewering dat Ismael 'n baba was toe Hagar hom in die woestyn in geneem het (Gen 21:14-18) is ongegrond (wat in skynbare teenstelling sou wees met Ismael wat ongeveer 16 jaar oud was teen daardie tyd: Gen 17:24,25).  Gen 21:8 gee reeds die aanduiding dat Isak gespeen was, en Isak was heelwat jonger as Ismael.  Dit was eers daarna wat Sara wou gehad het die kind (Ismael) moes hulle huishouding verlaat.  Gen 21:14 sê Abraham het brood en 'n sak water na Hagar geneem "en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind."  Die kind is kennelik nie ook op haar skouer gesit nie.  Daar is niks in die teks (vers 14-18) wat suggereer dat die kind nog 'n baba was nie, ook nie die feit dat sy hom onder 'n bos neergewerp het nie (vers 15).  Vers 18 sê: "lig op die seun (rig hom op) en hou hom vas met jou hand."  Dit impliseer juis dat hy al ouer was, want sy het hom met die een hand vasgehou (aan die hand geneem).  Sy het hom ook laat drink van die water (vers 19).

Jaco sê volgens Gen 26:34; 28:5 was Jakob 40 jaar oud toe hy van sy huis gevlug het, maar volgens Gen 41:46,53; 45:6 al 77 jaar oud toe hy gevlug het.  In nie een van hierdie tekse word Jacob se ouderdom aangegee nie.  Gen 26:34 praat van Esau se ouderdom (40) toe hy 'n vrou geneem het.  Gen 28:5 praat van die wegstuur van Jacob sonder dat sy ouderdom vermeld word.  Gen 41:46 praat van Josef se ouderdom wat 30 jaar oud was toe hy voor die koning van Egipte gestaan het.  Gen 41:53 praat van die sewe jare van oorvloed wat tot 'n einde gekom het.  Gen 45:6 praat van twee jaar hongesnood en nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sou word nie.  Die sg. teenstrydige ouderdomme van Jakob is niks anders as wilde, ongegronde spekulasie nie.

Jaco sê Bet-El was volgens Gen 28:18-19 vernoem toe hy onderweg na Padan-Aram toe was, maar volgens Gen 35:13-14 eers toe Jakob teruggekom het van Padan-Aram.  Dit is nie korrek nie, Gen 35:7 verwys terug na die geleentheid toe Jakob vir sy broer gevlug het en die plek toe al Bet-El genoem het.  Gen 35:9 sê God het toe weer aan Jakob verskyn met sy terugkoms.  Die feit dat Gen 35:15 weer verwys daarna dat Jakob die plek Bet-El genoem het, bedoel juis nie dat Jakob dit eers by sy terugkoms Bet-El genoem het nie (soos vers 7 en 9 uitwys), maar bevestig net dat Jakob die plek vroeër Bet-El genoem het.

Jaco sê volgens Gen 29:20-21; 31:41 is elf van Jakob se seuns gebore oor 'n periode van 13 jaar en volgens Gen 29:30-31; 30:25 oor 'n periode van 7 jaar.  Gen 29:20-21 praat van die feit dat Jakob 7 jaar vir Ragel gewerk het.  Gen 31:41 praat van 20 jaar wat Jakob vir Laban gewerk het.  Gen 29:30:31 vertel van hoe Jakob vir Ragel meer liefgehad het en dat God Lea se skoot geopen het en nie Ragel s'n nie.  Gen 30:25 sê dat nadat Ragel Josef gebaar het (dit sê nie hoe lank daarna nie) het Jakob vir Laban gesê om hom te laat trek.  Hier word 1) nêrens in hierdie teksgedeeltes vermeld hoe lank dit geneem het vir elf van Jakob se seuns om gebore te word nie, 2) daar word nie vermeld hoe lank na Josef se geboorte hulle inderdaad getrek het nie, en 3) dit sê ook nie of Jakob dadelik na die 20 jaar getrek het nie (Gen 31:41) maar wel dat hy toe in gesprek met Laban gegaan het.  Die aannames wat Jaco hier teenoor mekaar stel, bly spekulasie.

Jaco sê Jakob is volgens Gen 32:28-30 "Israel" genoem oos van die Joradaan by Pniël maar volgens Gen 35:10 is Jakob "Israel" genoem wes van die Jordaan by Bet-El.  Let egter op na die verskil: Gen 32:28 sê: “Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.”  Gen 35:10 sê: “en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem.”  In Gen 32:28 is slegs die belofte dat God hom “Israel” sal noem, maar in Gen 35:20 het God hom inderdaad “Israel” genoem.

Jaco sê volgens Gen 21:31 het Isak die plek Berséba genoem, maar volgens Gen 26:27 het Jakob dit vernoem.  Jaco se aanname is in beide gevalle verkeerd.  Gen 21:31 dui daarop dat Abraham en Abiméleg die plek vernoem het.  Gen 26:27 handel oor die verbond tussen Isak en Abiméleg.  Dit het niks met die vernoeming van Berséba te doen nie.

Jaco sê volgens Gen 37:25-27; 39:1 was Josef aan die Midianiete verkoop wat hom na Egipte toe geneem het, maar volgens Gen 37:28,29,36 was dit die Ismaeliete.  Gen 37:28 sê: “En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.”  Dit sê duidelik dat hierdie twee groepe saam gereis het en saam gewerk het om Josef te neem en na Egipte te bring.  Daarom word die koop en wegneem van Josef soms aan die Midianiete en soms aan die Ismaeliete toegeskryf.

Jaco sê volgens Gen 35:16-19 was Benjamin gebore in Padam-Aram, maar volgens Gen 35:24-26 in Kanaän.  Nie een van hierdie teksgedeeltes sê presies waar Benjamin gebore is nie.  Gen 35:16 sê hulle was nog ‘n endtjie van Efrat af toe Ragel vir Benjamin moes baar en vers 19 sê dat sy in Betlehem begrawe is.  Gen 35:26 sê dat Gad en Aser in Padan-Aram gebore is.

Jaco sê volgens Gen 35 het Rebekka gesterf toe sy aan Benjamin geboorte gegee het, maar was volgens Gen 37 nog lewend daarna.  Om mee te begin, Rebekka was nie Benjamin se moeder nie, maar Ragel.  Sy het by Benjamin se geboorte gesterf.  “Rebekka” of “Ragel” se name kom nie een voor in Gen 37 nie.

Jaco sê volgens Gen 40:15 was Kanaän die land van die Hebrieërs, maar dat volgens Jos 1:11 dit eers jare later hulle land geword het.  Gen 40 sê nie dat die “land van die Hebrieërs” Kanaän is nie.  Josef sê bloot dat hy gesteel is uit die land van die Hebreërs.  Waarskynlik was hulle gesetel in ‘n gedeelte van Kanaän.  Maar daarna is die Israeliete eers Egipte toe, toe is Kanaän nie meer hulle land nie (al was dit ook vroeër).

Volgens Jaco is daar weersprekende lyste name vir die seuns van Benjamin (Gen 46:21; Num 28:38-40).  Gen 46:21 “Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard.”  Num 28 lys geen seuns van Benjamin nie, maar wel Num 26:38-40 “Die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte: van Bela die geslag van die Baliete; van Asbel die geslag van die Asbeliete; van Ahíram die geslag van die Ahiramiete;  (39)  van Sefúfam die geslag van die Sufamiete; van Hufam die geslag van die Hufamiete.  (40)  En die seuns van Bela was: Ard en Naäman; van Ard die geslag van die Ardiete; van Naäman die geslag van die Naämiete.”  Gen 46:21 gee meer detail as Num 26.  Hier moet opgemerk word dat na seuns en kleinseuns verwys word.  Num 28 gee dus nie dieselfde detail as Gen 46 nie.  Die alternatiewe name, Ahiram vir Egi, Sefufam vir Huppim en Hufam vir Muppim (of Sefufam vir Muppim en Hufam vir Huppim) is 1) a.g.v. ‘n kopiëringsfout, of 2) verkillende name vir dieselfde persone (wat ‘n bekende verskynsel was in die antieke kultuur).

Vgl. http://www.apologeticspress.org/articles/606

Die naam van Moses se skoonvader was Jetro (Eks 3:1), Reuel (Eks 2:18) en Hobab (Right 4:11).  Die variasie in name is nie ‘n onbekende verskynsel nie, want dieselfde persone is dikwels meer as een naam gegee.  Baie meen egter dat Reuel die vader van Hobab was, wat ook Jetro genoem is.

Volgens Jaco verskil die numering en die chronologie van die plae (Eks 7-11; Ps 78:43-51; Ps 105:27-36). Beide Ps 78:43-51 en Ps 105:27-36 is gedigte en noem net bepaalde grepe uit daardie geskiedenis, sonder die pretensie om 'n volledige of chronologiese weergawe daarvan te wees.

Jaco sê volgens Gen 15:16 het die uittog uit Egipte na 60-120 jaar geskied, maar volgens Gen 15:13 en Eks 12:40 was dit 400 tot 430 jaar.  Gen 15:16 praat van die vierde geslag wat sal terugkom en in Gen 15:16 sê God aan Abraham dat sy nageslag sal vir 400 jaar verdruk sal word.  Die geslagte in daardie stadium was ongeveer 100 jaar elk.  Daar is geen teenstrydigheid nie.

Jaco sê volgens Eks 14:21 is die see oorgesteek nadat Jahwe 'n sterk oostewind laat opsteek het, maar volgens Eks 14:23 is die see oorgesteek nadat Moses die water geskei het om twee mure te vorm.  Eks 14:23 sê niks van hierdie aard nie en vertel van die Egiptenaars wat die Israeliete agtervolg het.  Vers 22 sê wel dat die Israeliete midde-in die see getrek het op droë grond en dat die waters vir hulle 'n muur aan hulle regter- en linkerkant was.  Dit sê nêrens dat "Moses die water geskei het" nie.

Jaco sê daar is weersprekende name en aantal stamme (Gen 49; Num 1; Deut 33; Josua 19; Rigt 1; 5).  Al die gedeeltes is nie volledige lyste van die 12 stamme nie (bv. Josua en Rigters).  Wat die ander parallelle gedeeltes betref, is dit bekend dat die stam Josef, later vervang is met sy afstammelinge: Efraim en Manasse.  Die twaalf stamme bly deurgaans dieselfde, soms word sekere name net met ander afstammelinge vervang van daardie selfde stam.

Jaco sê die roetes en reisweë van die uittog in die Sinai Skiereiland in Eks 13-17 verskil van die woestynreise soos in Num 10-33 uiteengesit.  Die probleem hier is dat nie een van die roetebeskrywings volledig is nie, en dat die een weergawe soms meer detail en tussenin-plekke gee as wat die ander weergawe gee.  Daar is ook variasie in die benamings vir dieselfde plekke.  As mens al die legkaartblokkies bymaar sit, kry mens ‘n meer volledige prentjie.

Jaco noem dat die bewoording van die dekaloog verskil (Eks 20:1-17; Eks 34:10-26; Deut 5:5-21).  Die weergawes in Eks 20 en Deut 5 verskil bitter min.  Slegs die motivering vir die 4'e gebod is effens anders.  Eks 34:10-26 handel glad nie oor die dekaloog nie, maar vervat ander aspekte van die verbond.  Eks 34:1 dui reeds aan dat dieselfde gebooie as in Eks 20 op die kliptafels geskryf is, en word dan nie herhaal nie, maar ander aspekte van die verbond word daarna bespreek.

Jaco sê volgens Eks 34:1 het Jahwe die wet neergeskryf en volgens Eks 34:27 het Moses dit neergeskryf.  Dit wat God geskryf het was die 10 gebooie en dit wat Moses later moes neerskryf is ander aspekte van die verbond.

Jaco sê volgens Eks 3:1 was die naam van die berg waar die wet gegee is Sinai en volgens Eks 19:1 was dit Horeb.  Buiten dat Jaco dit omgeruil het, het hy dit in elk geval al weer verkeerd.  Die berg waar Moses vir Jahwe ontmoet het deur die brandende bos was Horeb (Eks 3:1).  Hy het nie daar die wet ontvang nie.  Die wet het hy op Sinai ontvang (Eks 19:1)

Jaco sê volgens Eks 3:18 ens. was Israel beveel om offers aan Jahwe te bring, maar dat Jahwe by die uittog uit Egipte en toe hulle in die woestyn gewoon het, nooit vir hulle gevra het om offers te bring nie (Jer 7:22-23).  Jer 7:22-23 praat bloot van "die dag toe" hulle uit Egipte getrek het, en bloot dat God hulle nie op daardie stadium enige bevel gegee het oor brandoffer of slagoffer nie.  Daar is geen kontradiksie nie.

Jaco sê die tyd toe die ark van die verbond gebou is volgens Deut 10:3-5 verskil van die weergawe in Eks 25:10 en Eks 35:12.  In Deut 10:3-5 word geen tyd aangegee nie, maar sê bloot dat God bevel gegee het om 'n ark te maak en dat Moses die kliptafels daarin moes sit.  Eks 25:10 en Eks 35:12 gee bloot meer gedetaileerde instruksies oor die ark en sy draaghoute, ens.

Jaco sê dat die teofanie volgens Eks 19 en 24 verskil van die weergawe in Deut 4.  Eks 19 en Eks 24 was nie dieselfde insident nie.  Eks 19 en Deut 4 is dieselfde, waar dieselfde insident net vanuit verskillende perspektiewe met die beklemtoning van verskillende aspekte vertel word.  Harmonisering is hier geen probleem nie.

Die volgende weergawes wat Jaco sê mekaar weerspreek is bloot aanvullend en vanuit verskillende perspektiewe geskryf.  Die detail pas in by mekaar, maar die weergawes is beslis nie weersprekend nie:

Die weergawes van die manna en die kwartels in Eks 16:1-36 en Num 11:4-35; die weergawes van die water wat uit die rots gevloei het in Eks 17:1-7 en Num 20:1-21; die weergawes van die goue kalf insident in Eks 32:1-29 en Deut 9:11-29.

Jaco sê die reisweë in die woestyn verskil in Num 21:10-20 van die weergawe in Num 33:44-49.  Hier is dit ook ‘n geval dat dieselfdie plekke dikwels verskillende benaminge het, en dat die weergawes nie dieselfde vlak van detail en tussen-in stasies gee nie.

Jaco sê volgens Lev 17:3-4 is die diere by die ingang van die tabernakel geslag en volgens Deut 12:15-16 op 'n ander plek.  Deut 12:15 sê: "op die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring."  Dit is nie noodwendig weg van die tabernakel af nie, maar dui waarskynlik op verskillende plekke by die ingang van die tabernakel.

Jaco sê volgens Num 3:6 was die Leviete vir die eerste keer geheilig by Sinai, maar volgens Deut 6:8 op 'n latere stadium.  In nie een van hierdie gedeeltes word van die "heiliging" van Leviete gepraat nie.  Num 3:6 vertel dat die stam van Levi moet nader kom en voor Aäron gestel moes word om hom te dien, en Deut 6:8 praat oor die woorde wat as teken om die Israeliete se hande en as voorhoofsband tussen hulle oë gebind moes word.

Jaco sê volgens Num 20:19-20 en Rigters 11:17-18 het die Edomiete geweier dat die Israeliete hulle voorrade kon aanvul en kon deurtrek, en volgens Deut 2:4,28-29 wel.  Die weergawe in Deut 2:4,28-29 was 'n aparte geleentheid en was nie in die binneland nie, maar langs die kus.

Jaco sê volgens Num 27:12 het Moses die beloofde land vanaf die berg Abárim besigtig, maar volgens Deut 3:27 was dit op die berg Pisga.  Pisga was 'n heuwel / kop in die Abárim gebergte.  Dit is dus nie weersprekend nie.

Jaco sê volgens Num 20:27-28 het Aäron gesterf op die berg Hor en volgens Deut 10:6 op die berg Moséra.  Hor was die naam van die berg en Moséra was die naam van die omgewing, nie die berg nie.

Jaco sê volgens Num 33:37-42 het die Israeliete na Aäron se dood na Sálmona en Punon gegaan, maar volgens Deut 10:6-7 het hulle na sy dood na Gudgod en Jotbat getrek.  Gudgod was waarskynlik 'n algemene naam wat die plekke Sálmona, Punon en Obot ingesluit het (Num 33:41-43).

Jaco sê volgens Num 14:24 was Kaleb die enigste een wat nie teen Jahwe gerebelleer het nie, maar volgens Num 14:30 het Josua ook nie teenoor Jahwe gerebelleer nie.  Num 14:24 sê beslis nie dat Kaleb die “enigste een was” wat nie teen God gerebeleer het nie.  Vers 30 sê dat Josua ook in die land sal kom.  Die twee tekste is dus nie weersprekend nie.

Jaco sê volgens Jos 14:6 was Kaleb die seun van Jefúnne, volgens 1 Kron 2:18 was hy die seun van Hesron, en volgens 1 Kron 2:50 was hy die seun van Hur.  1 Kron 2:18 praat nie van dieselfde Kaleb as Jos 14:6 nie, maar van Kelubai, die seun van Herson (1 Kron 2:9).  In 1 Kron 2:50 is Hur die seun van Kaleb, nie die vader nie (sien 1 Kron 2:19).  Die verhouding tussen Kaleb en Hur word nie in 1 Kron 2:50 gegee nie, maar veronderstel, omdat dit reeds in 2:19 gegee is (dit is die konteks).

Jaco sê volgens Deut 12:5 ens. het Jahwe beveel dat die Israeliete hulle aanbidding in die Beloofde Land moes beperk tot die gesentraliseerde kultiese plek, maar dat Eks 20:20-24; Rigt; 1-2 Samuel / 1-2 Konings impliseer Jahwe het dit nooit beveel nie.  Die aanwys van die plek waar die Here al die stamme sou uitkies, waar Hy sy naam sou vestig, en waarheen hulle moes kom om te offer en te aanbid, was vir daardie tyd en omstandighede, en is nooit bedoel as ‘n ewige beperking op die lokus van aanbidding nie.

Jaco sê die weergawe van die eerste vernoeming van Hebron in Gen 13:18 weerspreek die weergawe in Josua 14:15.  Gen 13:8 is nie noodwendig ‘n weergawe van Hebron se vernoeming nie, maar sê bloot dat Abram daar tente opgeslaan het en ‘n altaar gebou het.  Jos 14:14-15 noem bloot dat Hebron Kaleb se erfdeel geword het en dat die naam van Hebron tevore die stad van Arba was.  Dit is dus ook nie ‘n “weergawe van vernoeming” nie.

Jaco sê volgens Jos 10:40 was die Kanaäniete volledig vernietig en volgens Rigt 1:28 was hulle bloot onderdruk.  Hierdie verwys na twee verskillende insidente.

Jaco sê volgens Deut 7:22 het Jahwe nie al die heidene van die land vernietig nie omdat hy nie wou hê die wilde diere te veel moes raak nie, maar dat volgens Rigt 2:22 het Jahwe nie die heidene van die land vernietig nie om te sien of die Israeliete getrou was.  Hierdie twee motiverings is nie weersprekend nie, maar aanvullend.

Jaco sê volgens Jos 10:42 was die Israeliete se vestiging vinnig en volgens Jos 11:18 en Rigt 1-19 was dit stadig.  Josua 10:42 verwys egter net na die spesifieke konings (van Kades Barnea tot by Gasa en vanaf Gosen tot by Gibeon) wat in een slag geneem is, en verwys nie na die spoed van hulle vestiging nie.

Jaco sê volgens Jos 15:63 kon die Israliete nie die Jebusiete oorwin voor die tyd van Dawid nie, maar dat hulle lank voor dit hulle verslaan het (Rigt 1:8).  Jerusalem, wat in daardie stadium deur Jebusiete beset was, was wel verslaan, maar daar is nie later voldoende beheer uitgeoefen om hulle terugkeer en hervestiging daar te verhinder nie.  Jos 15:63 sê in elk geval nie dat die Jebusiete “nooit oorwin” sou word nie, maar nooit verdryf sou word nie.

Jaco sê volgens Jos 12:21-23 was die stede Táänag en Dor verower, maar volgens Rigt 1:27 is hulle nie verower nie.  Rigt 1:27 praat van Táänag en Dor as onderhorige plekke van Manasse, en dat hulle nie “verdryf” is nie, nie dat hulle nie “oorwin” is nie (Jos 12:7).

Jaco sê volgens Jos 8:12 is die stad Ai met 30 000 krygsmanne aangeval, maar volgens Jos 8:3 was dit 5000.  Buiten dat Jaco dit verkeerdom het (30 000 volgens 8:3 en 5000 volgens 8:12), het die 30 000 verwys na die totale leer wat gereed gemaak het om te veg.  Die 5000 man was slegs die hoeveelheid manne wat in die hinderlaag tussen Bet-el en Ai opgestel is.  Die ander 25 000 het by Josua gebly.

Jaco sê volgens Jos 15:32 was die aantal stede wat geneem was 29 en volgens Jos 15:21-32 was dit 38.  Hier is twee moontlike verklarings: 1) Nege van die stede was aan die stam van Simeon gegee (Jos 19:1), m.a.w. dat die stede hier beide Juda s’n en Simeon s’n insluit. 2) Nege van die plekke wat genoem word was nie stede nie, maar bloot onommuurde dorpies, en daarom nie in die selfde lig gesien as die 29 stede nie.  As mens dan weer vers 32 lees maak hierdie interpretasie myns insiens die meeste sin: “al die stede saam nege en twintig, met hulle dorpe.”

Jaco sê volgens Rigt 4:20 is Sísera dood terwyl hy geslaap het, maar volgens Rigt 5:25 terwyl hy gestaan het.  Rigt 5:25-27 sê nie dat hy gestaan het nie, maar dat hy inmekaargesak het by haar voete.  Hy het waarskynlik nog gespartel en dalk probeer opstaan voordat hy by haar voete inmekaargesak het.  Dit lyk in elk geval dat die enigste manier wat sy dit kon regkry om ‘n tentpen in sy slape in te dryf was as hy stil gelê het.

Jaco sê volgens Rigt 20:15 was die aantal Benjaminiete wat doodgemaak is 26 100, maar volgens Rigt 20:46-47 was dit 25 000.  Jaco het die eerste teks en die getal hier verkeerd.  Rigt 20:35 sê dat 25 100 Benjaminiete verslaan is.  In 20:46 word die getal as 25 000 aangegee, wat ‘n afgeronde getal was, en ‘n bekende praktyk was.

Jaco sê die name van die seuns van Samuel in 1 Sam 14:49 weerspreek die lys in 1 Sam 31:2.  Jaco het dit weer verkeerd.  Dit gaan nie oor die seuns van Samuel nie, maar oor die seuns van Saul.  Volgens 1 Sam 14:49 is dit Jónatan, Jiswi en Malkisúa.  Volgens 1 Sam 31:2 is dit Jónatan, Abinádab en Malkisúa.  Jiswi is ook (of later) Abinádab genoem.  Dit was ‘n bekende praktyk dat iemand se naam verander of dat ‘n persoon op meer as een naam genoem word.

Jaco sê volgens 1 Sam 16:14-23 is Dawid in die diens van Saul en speel op die harp vir hom, maar volgens 1 Sam 17:55-58 het Dawid in sy hele lewe nog nooit vir Saul ontmoet nie.  Hier is twee moontlike verklarings: 1) Die feit dat Saul vra wie se seun Dawid is, beteken nie hier dat Saul nog nooit vir Dawid ontmoet het nie, maar a.g.v. van Saul se psigologiese kondisie en aangesien Dawid op soveel verskillende plekke gedien het, vergeet het wie Dawid se vader is.  Let op, hy vra nie wie dit is of wat sy naam is nie, maar wie sy vader is.  Hy het hiervan kennis geneem tedens sy afwyking en het na Isai gestuur vir Dawid, maar aangesien hy geen persoonlike korrespondensie met Isai gehad het nie, kon Saul maklik daarvan vergeet.  2) Die moontlikheid bestaan ook dat Saul gewoon nie vir Dawid herken het nie (bv. met ‘n lang baard ens.), omdat hy vir so ‘n lang tyd weg was.

Jaco sê volgens 1 Sam 17:1,49 het Dawid vir Goliat doogemaak, maar volgens 2 Sam 2:18-19 was dit Élhanan.  Jaco het die tweede teks verkeerd.  Hy bedoel seker 2 Sam 21:18-19.  Die teks moet hier lees: “Élhanan… het [die broer van] Góliat, die Gittiet…verslaan.”  Sien 1 Kron 20:5.  Hier het waarskynlik ‘n fout met die kopiëring ingesluip.

Jaco sê die weergawes van Saul se dood weerspreek mekaar in 1 Sam 34:4-5; 2 Sam 1:4-10 en 2 Sam 21:12.  Jaco het die eerste teks weer verkeerd.  Hy bedoel seker 1 Sam 31:4-5.  1 Sam 31:4-5 vertel dat Saul in sy eie swaard geval het en gesterf het.  Die man uit die leër van Saul wat vir Dawid kom vertel het van Saul se dood (2 Sam 1:4-10) se weergawe stem ooreen met 1 Sam 34:4-5, met die addisionele detail dat hy, nadat hy gesien het dat Saul in sy eie swaard geval het, nie heeltemal dood was nie, en op Saul se versoek seker gemaak het dat hy dood is en hom van kant gemaak het.  2 Sam 21:12 is nie ‘n weergawe van Saul se dood nie, maar vermeld dat Dawid die beendere van Saul en sy seun gaan haal het, nadat die Filistyne hulle dooie liggame opgehang het.

Jaco sê volgens 1 Kron 10:6 het Saul se familie saam met hom gesterf, maar volgens 2 Sam 2:8 was dit nie die geval nie.  Die “huis van” Saul wat gesterf het (1 Kron 10:6) verwys na almal in sy huis wat saam met hom op die slagveld was.  Die jonger seuns (bv. Isbóset) het waarskynlik by die huis gebly.

Jaco sê volgens 2 Sam 2:10 het Isbóset vir 2 jaar geregeer, maar volgens 2 Sam 2:11 vir 7 jaar.  2 Sam 2:11 verwys egter na Dawid se regering ná Isbóset.  Hierdie 7 jaar wat Dawid in Hebron oor Juda geregeer het moet getel word by die 33 jaar wat hy oor die hele Israel vanuit Jerusalem geregeer het (altesaam 40 jaar: 2 Sam 5:4-5).

Jaco sê volgens 2 Sam 6 is Ussa gedood deur Jahwe by die dorsvloer van Nagon, maar volgens 1 Kron 13 by die dorsvloer van Kidon.  Hierdie name was wisselvorme vir dieselfde plek.

Jaco kontrasteer wat hy noem die feilbare karakter van Dawid (1 Sam 16 tot 1 Kon 2) met die geïdialiseerde Dawid (1 Kron 10-29).  Hierdie waarneming is baie subjektief, en word maklik verklaar aan die hand van die gesigshoeke en perspektiewe van die onderskeie skrywers.  Dit is nie weersprekend nie, maar belig onderskeie kante van dieselfde saak.

Jaco sê die weergawe van waar die troepe gestasioneer was in 2 Kon 11:5-7 word weerspreek deur die weergawe in 2 Kron 23:4-5.  Hierdie weegawes is maklik versoenbaar.  Die poort “Sur” en die “Fondamentpoort” was dieselfde. 

Die aanhitsing van Dawid deur Jahwe (2 Sam 24:1) en die Satan (1 Kron 21:1) is reeds bespreek (Die karakter van God).  Beide is korrek, want hoewel die Satan vir Dawid aangehits het, was dit binne Jahwe se wil, en het Hy dit so toegelaat.

Jaco sê volgens 1 Kron 21:5-7 was die aantal soldate in Israel en Juda 1 100 000 en 470 000 onderskeidelik, maar volgens 2 Sam 24:4-5 was dit 800 000 en 500 000 onderskeidelik.  Jaco het die 2’e teks verkeerd.  Dit moet 2 Sam 24:9 wees.  Wat die 800 000 en die 1 100 000 betref, is daar twee moontlike verklarings. 1) 1 Kron 21:5 sê dat daar 1 100 000 manne is “wat die swaard uittrek.”  2 Sam sê daar was 800 000 “weerbare manne wat die swaard uittrek.”  Die outeur van 2 Sam verwys moontlik na die veterane, terwyl die skrywer in 1 Kron verwys na almal wat die swaard uitgetrek het.  2) In 1 Kron 27 is daar 12 divisies van 24 000 man elk.  Dit gee ‘n totaal van 288 000.  Dit kan wees dat die Kronieke-skrywer hierdie manne tel en die outeur van 2 Sam nié.  Die 800 000 man in 2 Sam is ingesluit in ‘n sensus, maar omdat die getalle van die divisies vas was, is dit waarskynlik nie nodig geag om die mense afsonderlik te tel waarvan die getalle reeds bekend is nie.  Dit is dus nie onredelik om te dink dat die skrywer van 2 Sam nie hierdie 288 000 ingesluit het nie, en die Kronieke-skrywer wel.  Wat die 470 000 en die 500 000 betref.  Hier is ook 2 moontlike verklarings. 1) Die outers kon na ‘n verskillende plek afgerond het.  2) In 1 Kron 21:6 moet opgemerk word dat Joab nie die numering voltooi het nie, omdat hy nie die stam van Benjamin (of Levi) getel het voordat Dawid besluit het om nie die sensus te voltooi nie.  Joab was bly om homself te weerhou toe hy die koning se hartsverandering sien.  Dit lyk dus moontlik dat die getal van 500 000 die Benjaminiete ingesluit het maar die getal 470 000 nié.

Vgl. http://www.apologeticspress.org/articles/508

Jaco sê volgens 1 Kron 21:12 was die voorgestelde droogte 3 jaar en volgens 2 Sam 24:13 was dit 7 jaar.  Hier is ook meer as een verklaring.  1) Dit kan ‘n kopiëringsfout wees.  2) Gill (in John Gill's Exposition of the Entire Bible) sê van die 7 jaar in 2 Sam 24:13: “for the reconciling of which let it be observed, that there had been three years of famine already on account of the sin of Saul, 2 Sam 21:1; and in the current year, through the rains not falling in the proper time, the land was barren and unfruitful; or through the penury of the preceding years the famine would be continued at least until the harvest; and then three years more now proposed made seven years; or, if these three years would have immediately followed the other three, the following in course would be a sabbatical year, in which were no ploughing, sowing, nor reaping, or the current year was such an one: and the sense is, shall there be a continuance of seven years of famine, that is, three more added to what had been? which must be most dreadful to think of…”

Jaco sê volgens 2 Sam 24:24 het Dawid 50 sikkels silwer vir die dorsvloer betaal, maar volgens 1 Kron 21:25 was dit 600 sikkels goud.  Hier is meer as een moontlike verklaring: 1) Die mees waarskynlike verklaring is dat daar twee transaksies was, 1’e transaksie: dat die dorsvloer, beeste en implimente vir 50 sikkels silver gekoop is, en die 2’e transaksie: die hele plek (land) is vir 600 sikkels goud gekoop.  2) Die ander moontlike verklaring is dat elk van die 12 stamme 50 sikkels elk gegee het.

Jaco sê volgens 2 Sam 8:4 het Dawid 1700 ruiters geneem, maar volgens 1 Kron 18:4 was dit 7000.  Die lesing in 2 Sam 8:4 kan ook wees: “1000 strydwaens” (ooreenkomstig met 1 Kron 18:4) en 700 ruiters (sien bv. KJV).  Dan verwys die 700 ruiters na die howe / kapteine van die ordes, waarvan daar 10 in elke orde was.

Jaco sê volgens 1 Kon 11:1-13 het Salomo afgodery beoefen, maar volgens 2 Kron 9; 35:4 was dit nie die geval nie.  2 Kron 9 en 35:4 sluit nooit die moontlikheid uit dat Salomo wel later in sy lewe agter ander gode aangeloop het nie.

Jaco sê volgens 1 Kon 11:3 het Salomo 1000 vroue gehad en volgens Hooglied 6:8 slegs 140.  Die 140 koninginne en byvroue is geen letterlike refleksie op die hoeveelheid vroue van Salomo nie, maar vorm deel van ‘n gedig en is simbolies vir iets anders.  Daar bestaan verskil van mening waarna die simboliek verwys.

Jaco sê volgens 1 Kon 5:13-14 het Salomo die Hebreërs aan slawerny onderwerp, en volgens 1 Kon 9:22 het Salomo geeneen van die Hebreërs aan slawerny onderwerp nie.  Die terme in hierdie twee gedeeltes is verskillend.  1 Kon 5:13-14 praat van dwangarbeiders.  Dit was ‘n tydelike tipe heffing / verpligting wat op hulle gelê is.  Hulle was nie slawe in terme van permanente besittings nie (bondmen), waarvan 1 Kon 9:22 praat nie.

Die sg. “verskillende tipes wysheid” van Salomo wat Jaco probeer uitwys in 1 Kon 3; 2 Kron 1 en Spreuke en Prediker is ‘n baie subjektiewe oordeel.  Ek sou eerder sê dit vul mekaar aan en belig onderskeie kante van Salomo se wysheid.

Jaco sê volgens 2 Kron 9 het Salomo 4000 stalle gehad, maar volgens 1 Kon 4 was dit 40 000.  Hier is twee moontlike verklarings. 1) Daar was ‘n kopiëringsfout by een van die twee gedeeltes. 2) 2 Kron 9 verwys na die stalle (met 10 krippe elk) en 1 Kon 4 verwys na die totale hoeveelheid krippe.  Volgens BDB is beide betekenisse (stalle of krippe) moontlik vanuit die Hebreeuse woord “ârâyâh.”

Jaco sê volgens 1 Kon 9 het Salomo 550 opsieners gehad, maar volgens 2 Kron 8 was dit 250.  Daar was 3 rangordes, die laagste was 3300, die middelste 300 en die hoogste 250 (waarvan 2 Kron 8 praat).  Die middelste en hoogste rang saam (waarvan 1 Kon 9 praat) was saam 550.

Jaco sê volgens 1 Kon 5-7 was Salomo se tempel (A) 18 el hoog, (B) het 3300 opsieners gehad en (C) die “see” van brons het ‘n volume van 2000 bat (antieke maateenheid: engels: "baths") gehad, maar volgens 2 Kron 2-4 was (A) die tempel 35 el hoog, (B) het 3600 opsieners gehad, en (C) die see van brons het ‘n volume van 3000 bat gehad.  A. Jaco het sy data weer verkeerd.  Die weergawes van 18 en 35 el onderskeidelik verwys nie na die hoogte van die tempel nie, maar na die hoogte van die pilare van die tempel (1 Kon 7:15 en 2 Kron 3:15).  Hier is 2 moontlike verklarings.  1) Die Kronieke-skrywer het die twee pilare se hoogte saamgevoeg (17.5 [afgrond na 18] el maal 2).  2) Aangesien die Hebreeuse letters vir 18 en 35 baie dieselfde lyk, is dit moontlik ‘n kopiëringsfout (siende dat 2 Kon 25:17 en Jer 52:21 beide op 18 el dui).  B. 1 Kon 9:23 noem dat die hoofopsigters oor Salomo se geboue 550 was en 3300 wat opsigters oor die werkers was (1 Kon 5:16).  2 Kron 2:18 gee die getal opsieners aan as 3600 en die hoofopsigters van die koning as 250 (2 Kron 8:20).  As beide opsigters in 1 Kon en 2 Kron bymekaargetel word, gee dit 3850 (3300+550=3850; 3600+250=3850).  Hier is verskillende maniere van klassifikasie gebruik.  By die Kronieke-skrywer word die Kanaänitiese opsieners onderskei van die Israeliteise opsieners (3600 Kanaäniete en 250 Israeliete: in 2 Kron 2:17 word uitdruklik na die 3600 verwys as “uitlanders”), en by die skrywer van Konings word rang as onderskeid gebruik.  C. Wat die inhoudsmaat van die “see” betref, is daar ten minste 3 moontlike verklarings.  1) Dit kan die gevolg wees van ‘n kopiëringsfout (waar ‘n verwarring tussen die “gimel” en die “bet” (Hebreeuse letters) kon ontstaan.  2) 2 Kron gebruik ‘n woord wat nie in 1 Kon voorkom nie.  2 Kron sê die “see” het “gehou (châzaq = sterk wees / uithou / ferm wees) en bevat (kûl): 3000 bat.”  Dit kon daarop dui dat die “see” onder normale omstandighede 2000 bat kon hou, maar 3000 bat as dit heeltemal tot by die rand vol gemaak sou word.  3) Die moontlikheid bestaan dat die bat-eenheid wat die skrywer van Konings gebruik het, groter was as die bat-eenheid wat die Kronieke-skrywer gebruik het.

Jaco sê volgens 1 Kon 16 (vers 6-8) het Baésa in die 26’e jaar van die regering van Asa gesterf, maar volgens 2 Kron 16 (vers 1) het Baésa vir Juda aangeval gedurende die 36’e jaar van die regering van Asa.  Die 36’e jaar (1 Kron 16:1) moet verstaan word as van die koninkryk van Juda, toe dit verdeel was van Israel.  Van daardie stadium tot en met hierdie punt was 36 jaar: 17 onder Rehobeam, 3 onder Abijam, sodat dit die 16’e jaar van Asa was.  So word dit uitgewerk in die Joodse chronologie, en word deur baie van die chronoloë op hierdie manier bereken.

Jaco sê volgens 2 Kron 14 het Asa al die hoogtes verwyder, maar volgens 1 Kon 5 het hy nie al die hoogtes verwyder nie.  Jaco se tweede teks is verkeerd.  Dit moet 1 Kon 15 wees.  Asa het waarskynlik nog die mense toegelaat om Jahwe op plekke te aanbid wat bestaan het van voor die tempel gebou is.  Hy het waarskynlik gedink dit is nog gangbaar as die mense Jahwe daar aanbid (1 Kon 15:14), maar die hoogtes vir afgodery is verwyder (2 Kron 14:3).

Jaco sê volgens 2 Kon 22:37 het Agab in Ramot Gilead gesterf, maar volgens 1 Kon 21:1,19 was dit in Jisriëel.  2 Kon 22 het nie 'n vers 37 nie, en in 1 Kon 21:1,19 is Agab nog nie dood nie.  Daar staan wel in 1 Kon 21:1 dat Nabot 'n wingerd langs die Paleis in Jisreël gehad het, maar sê nêrens dat Agab in Jisriëel sou doodgaan nie.  1 Kon 22:37 sê bloot dat Agab reeds dood was toe hy in Samaria aangekom het, en daar begrawe is.  Vers 29 van dieselfde hoofstuk sê wel dat Agab en die koning van Juda opgetrek het na Ramot in Gílead, maar sê nie in soveel woorde dat hy daar gesterf het nie. 

Die volgende 3 oënskynlike teenstrydighede waarvan Jaco praat het almal dieselfde oplossing, en hou almal verband met die interpretasie van 2 Kon 15:30:

1.   Jaco sê volgens 2 Kon 15:30 het Jotam vir 16 jaar regeer, maar volgens 2 Kon 15:33 was dit 20 jaar.  Jaco het hier die getalle en die teksverwysings verkeerdom.  Hy bedoel seker volgens 2 Kon 15:30 het Jotam vir 20 jaar regeer, maar volgens 2 Kon 15:33 was dit 16 jaar. 

2.   Jaco sê volgens 2 Kon 15:27 het Peka 20 jaar geregeer, maar volgens 2 Kon 15:32-33 was dit 30 jaar.  Ek weet nie hoe projekteer Jaco Peka se regering op 30 volgens vers 32-33 nie, maar as Peka gedood is in die 20'e jaar (volgens vers 30) van Jotam (of dan nou die 4'e jaar van Agas) sou so 'n projeksie moontlik sin maak (?).

3.   Jaco sê volgens 2 Kon 15:27 het Hosea begin om te regeer gedurende die 3'e jaar van Agas se regering, maar volgens 2 Kon 17:1 het Hosea begin regeer gedurende die 12'e jaar van Agas se regering.

1. 2. en 3.  Hosea het saamgesweer teen Peka, in die 20'e jaar van sy regering, wat die 18'e jaar was sedert die begin van die regering van Jotam (koning van Juda).  Twee jaar daarna, in die vierde jaar van Agas, en die 20'e van Jotam (omdat die skrywer hier nog nie vir Agas bekend gestel het nie [eers in vers 38], tel hy 20 jaar sedert Jotam begin regeer het, al het hy net 16 jaar in totaal geregeer [vers 33]), het Hosea homself regeerder gemaak van 'n gedeelte van die koninkryk (2 Kon 15:30).  In die 12'e jaar van Agas, het Hosea vredevol die hele koninkryk besit (2 Kon 17:1). (sien Calmet in Clarke: Adam Clarke's Commentary on the Bible).

Jaco sê volgens 2 Kon 8 (vers 26) het Ahásia koning geword toe hy 22 jaar oud was, en volgens 2 Kron 22 (vers 2) was hy 42.  Dit is waarskynlik die gevolg van 'n kopiëringsfout.

Jaco sê volgens 2 Kon 14:2,7,23 het Asárja begin regeer tydens die 15'e jaar van Jerobeam, maar volgens 2 Kon 15:2 was dit gedurende die 27'e jaar van Jerobeam.  Jaco het beide tekste verkeerd.  Die eerste teks moet 2 Kon 14:2,17,23 wees (nie vers 7 nie), en die tweede teks moet 2 Kon 15:1 wees.  Die lesing in 2 Kon 14:2 van 27 jaar, moet 15 jaar lees, en is waarskynlik die gevolg van ‘n kopiëringsfout, siende dat die Hebreeuse letters vir 27 en 15 met mekaar verwar kan word.

Jaco sê volgens 2 Kon 10:36 het Jóahas begin regeer tydens die 19’e jaar van Joas, maar volgens 2 Kon 13:1 was dit in die 23’e jaar van Joas.  Die afleiding wat gemaak word dat Jóahas begin regeer het tydens die 19’e jaar van Joas (1 Kon 10:36), staan nie direk daar nie, maar word waarskynlik so bereken omdat Joas begin regeer het in die 7’e jaar van Jehu, en omdat Jehu selgs 28 jaar geregeer het, maar hiervolgens moes dit dan in die 21’e jaar van Joas gewees het (nie die 19’e nie !!?).  Die probleem kan opgelos word as verstaan word dat dit aan die begin van die 7’e jaar van Jehu was wat Joas begin regeer het, en in die begin van die 23’e jaar van Joas toe Jóahas begin regeer het.

Jaco sê volgens 2 Kon 12:13-14 was die gereedskap van die tempel nie gemaak in die tyd van Joas nie, maar volgens 2 Kron 24:14 was die gereedskap van die tempel wel gemaak in die tyd van Joas.  Dit is nie vir my duidelik waarom Jaco in 2 Kon 12 verstaan dat die gereedskap vir die tempel nie gemaak was in die tyd van Joas nie, want die gedeelte sê juis dat Joas die opdrag gegee het om die gereedskap te maak (vers 7), en ook dat hy nog opgetree het nadat die gereedskap gemaak is.  Die enigste moontlikheid waaraan ek kan dink is dat sy verstaan dat Joas se dood, wat ná die maak van die tempelgereedskap vermeld word, om een of ander obskure rede op ‘n vroeër datum veronderstel word.

Jaco sê volgens 1 Kon 16:15 het Omri begin regeer gedurende die 27’e jaar van Asa, maar volgens 1 Kon 16:23 was dit die 31’e jaar van Asa.  Die 12 jaar van Omri se regering (1 Kon 16:23) moet bereken word van die begin van sy regering, wat die 27’e jaar van Asa se regering was.  Hy het vir regering meegeding met Tibni vir 4 jaar, en daarna, op die datum wat in die teks vermeld word, alleen begin regeer vir ‘n totaal van 8 jaar.

Jaco sê volgens 2 Kron 34 het Josia se reformasie plaasgevind gedurende die 12’e jaar van sy regering, maar volgens 2 Kon 22 was dit gedurende die 18’e jaar van sy regering. Volgens 2 Kron 34:3 het hy begin met hervorming in sy 12’e, maar was nog besig daarmee in sy 18’e jaar (vers 8), waar verwys word na dieselfde insident as in 2 Kon 22:3 (ook 18’e jaar van sy regering).  Daar is geen kontradiksie nie.

Jaco sê volgens 2 Kron 28 was Agas verslaan deur Israel in Sirië, maar volgens 2 Kon 16 was dit nie die geval nie.  Dit is nie seker na watter slagting Jaco verwys nie.  2 Kron 28:5 praat daarvan dat Agas verslaan is deur Aram en dat ‘n groot klomp gevangenis weggevoer is na Damaskus.  Hy het hulp gevra aan o.a. Assirië, maar Tilgat-Pilnéser, die koning van Assirië het hom nie gehelp nie, maar verslaan (vers 20).  Daar word nie gesê waar die slagtings plaasgevind het nie.  2 Kon 16:9 sê dat die koning van Assirië teen Damaskus opgetrek het.  Hierdie is almal drie afsonderlike insidente.

Jaco sê volgens 2 Kon 16:20 is Agas by sy vaders begrawe, maar dat volgens 2 Kron 28:27 dit nie die geval was nie.  Hier is geen weerspreking nie.  Agas is volgens beide gedeeltes by sy vaders begrawe, maar nie in die gedeelte waar die vorige konings van Israel (soos Dawid en Salomo) begrawe is nie.

Jaco sê volgens 2 Kon 23 is Josia dood in Megiddo, maar volgens 2 Kron 35 is hy dood in Jerusalem.  2 Kron 35:23-24 sê wel dat Josia in Megiddo geveg het en daar gewond is, maar hoewel hy nie dadelik dood is nie, word nie vermeld waar hy dood is nie, maar daar word slegs gesê dat hy gesterwe het en in Jerusalem begrawe is – waarskynlik nog toe hulle by Megiddo was.  Daar is geen kontradiksie nie.

Jaco sê volgens 2 Kon 25 (vers 8) het Nebusarádan gekom op die 7’e dag, maar volgens Jer 52 (vers 12) is dit op die 10’e dag.  Die inval het begin op die 7’e en die vure het gebrand tot op die 10’e.  Daarom is daar hierdie twee datums.

Jaco sê volgens 2 Kron 38 het Joas na Josia koning geword, maar volgens Jer 22 was dit Sallum.  Jaco het die eerste verwysing verkeerd.  Dit moet seker 2 Kron 36 (vers 1) wees.  Die weergawe dat “Sallum” in Josia se plek koning geword het (Jer 22:11) het meer as een moontlike verklaring. 1) Dit verwys ironies na Joahas, wat drie maande geregeer het, “asof daar ‘n tweede Sallum was” (wat net 1 maand in Samaria geregeer het: 2 Kon 15:13).  Die term “sallum” beteken “wraak / vergelding.”  Aanvaanklik het sekere mense hom “Shalom” genoem. 2) Ander meen dit verwys na Jójakim (Jer 22:18).

Jaco sê die weergawes van hoe die sonnewyser-wonderwerk in 2 Kon 20 en Jes 38 weerspreek mekaar.  Hier is geen kontradiksie nie.  In beide gevalle het die sonnewyser 10 grade terugbeweeg.

Jaco sê volgens Jer 36:30 het Jójakim geen opvolger gehad nie, maar volgens 2 Kon 14:6 is hy deur sy seun opgevolg.  Jaco het die 2’e teks verkeerd.  Dit moet 2 Kon 24:6 wees.  Hoewel sy seun vir 3 maande lank regeer het, is dit gereken as niks, en kon nie “sit op die troon” genoem word nie.  Sy koningskap was in elk geval nooit deur die koning van Babilon erken nie.  Sedekia was nie sy wettige opvolger nie.  Serubbabel was ook nie koning nie, en daar was ook geeneen koning vanuit hierdie familie tot en met die koms van die Messias nie.

Jaco sê volgens 2 Kon 21 was Manasse boos tot en met sy dood, maar volgens 2 Kron 33 het hy net voor sy dood hom bekeer.  2 Kon 21 vertel net van al die bose dinge wat Manasse gedoen het en die gevolge daarvan.  Dit sê nêrens dat hy net boos was tot en met sy dood nie.  2 Kron 33, wat vertel van sy verootmoediging, vul maar net detail in wat in 2 Kon 21 ontbreek.  2 Kon 21:17 erken as’t ware dat dit nie al die detail gee nie, en verwys die leser na die Kronieke-weergawe.

Jaco sê volgens 2 Kon 24:14-16 is die hoeveelheid ballinge 10 000, maar volgens Jer 52:28-30 was die hoeveelheid ballinge 4600.  Die drie groepe ballinge wat in Jer 52:28-30 genoem word (4600) verteenwoordig nie al die ballinge waarvan 2 Kron 24:14-16 praat nie.

Jaco sê volgens Esra 2:1-63 is die aantal mense wat van ballingskap terugkeer 42 360, volgens Esra 2:64 is dit 29 818, en volgens Neh 7 is dit 31 089.  Die twee tekste: Esra 2:64 en Neh 7:66 kom ooreen!  Beide sê 42 360.  Die kleiner getal waarby uitgekom word as al die afsonderlike, kleiner getalle in Esra 2:1-63 bymekaar getel word, is moontlik 1) omdat net ‘n sekere groep aangegee is (bv. diegene bo 12), of 2) dat daar êrens in die kopiëringsproses data verlore geraak het.  Die variasie in die sensuslyste tussen Esra 2 en Neh 7 kan ook moontlik die gevolg wees van 1) verskillende tellings-metodes, 2) kopiëringsfoute.  Wat die groter prentjie betref bly dit opmerklik dat die getal 42 360 by beide Esra 2:64 en Neh 7:66 ooreenkom!

Jaco sê volgens Esra 2:36 was daar 4 priesterklasse en volgens Neh 7:1 was daar 22.  Ek weet nie waar Jaco hieraan kom nie.  Neh 7:1 sê niks oor priesterklasse nie maar verhaal oor die bou van die muur, ens.  Esra 2:36-39 en Neh 7:39-42 kom ooreen!  Daar is by beide 4 priesterklasse.

 

Hierdie verklarings van die beweerde teenstrydighede is nie bedoel om al hierdie tekste wat Jaco noem 100% te harmoniseer, sodat dit enige moontlike variasie in hierdie tekste summier van die tafel wil afvee nie, maar gee moontlike verklarings van tekste wat dikwels op die oog af moeilik versoenbaar is.  Baie van die verklarings wil nie die variasie in die tekste weg-verklaar nie, maar erken juis die menslike faktor wat teenwoordig was by die samestelling en kopiëring van die tekste waartoe ons toegang het.  Iets soos moontlike kopiëringsfoute is byvoorbeeld ‘n realiteit waarmee ons moet rekening hou in terme van die beskikbare tekste.  Daarom is daar variasies in getalle en name.  Die ander, meer inhoudelike beweerde teenstrydighede is nêrens van so aard dat dit as “kontradiksies” beskryf kan word nie, maar hoogstens verskillende perspektiewe.  Nie een van die beweerde teenstrydighede wat Jaco in hierdie lys noem, bring die wesenlike historisiteit van die Ou Testament in gedrang nie.  Selfs al sou mens baie van hierdie beweerde teenstrydighede toegee (wat ek nie geneig sal wees om te doen nie), is die ooreenkomste en onderlinge koherensie van die Ou Testamentiese teks merkwaardig.  Trouens, as dit vergelyk word met ander antieke geskiedskrywing is dit van ‘n uiters hoë standaard.  En selfs as sekere weglaatbaar klein variasie in “nitty gritty” detail van die geskiedenis, getalle en name toegegee word, bly dit nog steeds ‘n finominale sprong om die bybelgeskiedenis as fiktief te beskou en nog ‘n groter sprong om Jahwe se bestaan te dekonstrueer as gevolg daarvan.

 

Jaco gaan voort met die volgende argument, wat hy noem “kosmografiese fiksie.” (p. 295).  Hierdeur beweer hy dat baie van die tekste wat aanspraak maak op historisiteit, in der waarheid na plekke verwys wat nooit bestaan het nie:

 

Dat die “firmament” en die waters wat van die waters geskei is fiktief sou wees (volgens Gen 1:6-8) is ongegrond (reeds bespreek).

Dat die weg na die boom van die lewe wat die gerubs beskerm het (Gen 3:22-24), fiktief is, is ongegrond.  Jaco verstrek geen rede nie.  Neem hy maar net aan dis fiktief?

Die bewering dat die Num 16 gebeure (waar die aarde sy “mond oopgemaak het” en die mense “lewendig in die doderyk afgedaal het”) fiktief is, is ook ongegrond (reeds bespreek).

Dat Elia se opname in die lug (2 Kon 2:11) fiktief is, is ook ongegrond (reeds bespreek).

Jes 7:10-11 (die teken wat Agas moes eis: “sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe”) is metaforiese taal (in beginsel reeds besreek).

Dat die aanhalings uit Job 38 fiktief is, is niksseggend, aangesien dit in elk geval ‘n gedig is met metaforiese taal.

 

Natuurlik kan Jaco nie bewys dat hierdie plekke fitief is nie, maar dit is sy aanname.  Die res van sy aannames bly daarom ook net by aannames. 

 

Jaco se volgende argument is wat hy noem ‘n “onmoontlike narratiewe perspektief.”  Hy sê tensy mens glo in meganiese inspirasie, beskou hy dit as fiktief waar die skrywer ‘n gedetaileerde beskrywing gee van ‘n private dialoog van die opposisie, wanneer die skrywer ‘n gedetaileerde weergawe gee van wat ander mense in die geheim dink, of waar geskryf is oor mense se handelinge of dialoog wat al dood is en daar as’t ware niemand was om die storie oor te vertel nie. 

 

In al hierdie tekste wat Jaco as 'n "onmoontlike skrywersperspektief" voorhou (Gen 3:22-24; 18:17-19; Eks 13:17; Num 23:3; Rigt 3:25-26; 16:23-30; 1 Sam 4:6-9; 1 Sam 31:4-5; 1 Kon 11:21-22; 12:26-27; 20:30-31; 2 Kon 3:22-24; Job 1:6; Est 5:10-13), is daar geen rede waarom God nie hierdie inligting aan mense kon openbaar (wat dit oorvertel het) of direk aan die skrywers kon openbaar nie.  As die Bybel praat van die gawe van ‘n “woord van kennis” wat die Heilige Gees in mens werk (1 Kor 12), is inligting wat op hierdie manier openbaar word niks “onnatuurlik” vir die manier hoe God werk nie.  Om inligting wat in hierdie kategorie val outomaties as “fiktief” af te maak, skakel by voorbaat die moontlikheid uit van inligting wat God op ‘n bonatuurlike wyse, vanuit sy alomteenwoordigheid en alwetentheid kon oordra.  Die vraag is of hierdie soort bonatuurlike inligting wat God aan mense gee “meganiese inspirasie” veronderstel?  Gewoonlik verwys “meganiese inspirasie” daarna dat elke woord in die Bybel letterlik God se woorde is.  Hoewel mens in baie tekste nie daardie moontlikheid buite rekening kan laat nie (waar bv. direk na God se woorde verwys word), het elke skrywer se eie taalgebruik, styl, perspektief, ens.  So, hoewel God waarskynlik dikwels op ‘n bonatuurlike wyse inligting aan mense deurgegee het, is daardie inligting in baie gevalle oorvertel, verwerk, of gekleur deur subjektiewe faktore soos menslike taal, simboliese universum, persoonlikheid en perspektief.  Hierdie subjektiewe faktore was egter nooit van so aard dat dit die objektiewe waarheid van die Bybel in gedrang gebring het nie, aangesien God self gesorg het dat die objektiewe waarheid van die werk van God in die geskiedenis behoue gebly het in die hele proses van die tot-stand-koming van die teks van die Bybel.

 

Jaco se volgende argument is die van wat hy noem “numerical absurdities.”  Hy bespreek hoofsaaklik die besware wat Biskop Colenso gehad het teen die getalle van die Israeliete soos dit in Numeri 1 vervat is.  Natuurlik sal iemand wat skepties is dink die getalle is oordryf.  Trouens, baie skieptiese mense aanvaar geen bonatuurlike elemente in die Bybel (of elders) nie.  Die feit bly dat God sy belofte om die Israeliete ‘n groot nasie te maak, nagekom het, en dat God met hulle was.  Al die besware wat Colenso gee ignoreer die krag van God en die vermoë van God om in alle opsigte te voorsien aan sy volk (selfs al is dit om Moses se stem te versterk, om voedsel aan die volk vir die Pasga te voorsien, om hulle vinnig te laat trek, of wat ook al).  Niks is by God onmoontlik nie.

 

Jaco se volgende argument is die van “chronologiese skematisering.”  Hy meen dat datums, ouderdomme, lengte van regerings van konings ens. fiktief is.  Hy meen verder dat die verskille in verskillende tekste: (MT: Masoretiese Teks, SP: Siriese Peshita en die LXX: Septuaginta) hierdie argument dien.  Hy meen verder dat Bybelse chronologie min in gemeen het met “werklike historiese chronologie.”  Hy gaan natuurlik uit van die voorveronderstellings dat die geologiese evolusieteorie waar is, dat mense nie so oud kon word voor die vloed nie, dat ‘n wêreldwye vloed nie bestaan het nie, ens.  Die ander voorveronderstelling wat hy gebruik is dat die rekonstruksies van historici van die “ware geskiedenis” in alle opsigte akkuraat en / of objektief is.  Die ouderdomme wat hy lys, regeringstydperke, die lengte van die woestyngebeure, ens. wat op ronde of “ongelooflike” getalle uitkom, is maar net gebaseer op die voorveronderstelling van Jaco dat God nie bonatuurlik kon ingryp in die geskiedenis nie, en dat die getalle daarom “ongeloofwaardig” is.  Die verskille wat hy lys tussen verskillende tekste en kopieë van die Ou Testament is niksseggend, omdat kopiëringsfoute en vertalingsfoute ‘n realiteit is, en omdat ons in elk geval nie toegang het tot die oorspronklike manuskripte van die Ou Testament nie.

 

Jaco se volgende argument is vanuit wat hy noem “mitologiese motiewe.”  Buiten dat ek al baie van die sogenaamde mitologiese motiewe weerlê het, is baie van Jaco se aannames verwant aan die feit dat hy heidense trasies sien as die bron van baie Bybelse inhoud, terwyl dit net andersom is.  Bybelse persone is later vergoddelik in ander godsdienste (bv. Noag is vergoddelik as Vishnu, Dagon, Janus / Oannes ens.; Nimrod is vergoddelik, ens.).  Die parallelle wat Jaco trek met Simson en songod-verering is ongegrond.  Buiten dat Simson waarskynlik later deur heidense godsdienste vereer is (en nie andersom nie), verwys die naam "Simson" nie noodwendig na die son (shemesh) nie, maar verwys na die "sterke / uitdagende een" (sien Josefus se geskrifte).  Simson kom nie van Bet-Semes nie, maar van Sórea (Rigt 13:2).  Simson se 7 haarlokke waarin sy sterkte lê, het geen verband met sonstrale nie, maar is die setel van die goddelike krag in hom, en teken van sy verbintenis met God.  Die parallelle wat Jaco trek tussen die jakkalse waarvan hy die sterte aan die brand steek, en die son, is vergesog.  So ook die parallel tussen Simson wat uit sy "kamers" uitkom in vergeleke met die beeldspraak van die son (Ps 19A).  Dat Simson 'n "rigter" genoem word het niks te doen met sy individuele aard of karakter nie, want al die leiers in daardie tyd is "rigters" genoem.  Die parallel wat Jaco dus tussen Simson as "rigter" trek met die son wat in heidense godsdienste as "regter" gesien word is dus 'n kunsmatige argument.  Delíla beteken die "nag" of "donkerte" nie, maar die een wat "verswak" of "swak maak."  Sy is so genoem omdat sy Simson "swak" gemaak het.  Die argument dat sy as't ware die "nag" was wat die donkerte van die son verswak het is ook kunsmatig.  Die aftrek van die pilare wat gesien word as die "aftrek van die pilare" waarop die blou lug rus (as die son ondergaan) is net so kunsmatig.

 

Jaco bly dus in gebreke om met begronding aan te toon dat:

1)   daar inderdaad mitologiese motiewe in die Bybel is, en

2)   dat moontlike parallelle in heidense mitologie bestaan omdat dit ouer sou wees as die Bybel.

 

Die volgende argument wat Jaco aanvoer is dat daar beweerde argeologiese falsifikasie vir die Bybelse geskiedenis bestaan.  Hy gaan nie hier in detail in nie maar verwys lesers na sy seleksie van kritiese (ateïstiese?) argeoloë.  Hy erken dat hierdie onderwerp uiters kontroversiëel is.  Die mate van bevooroordeeldheid op die vlak van die interpretasie van die argeologiese data is 'n belangrike faktor wat binne rekening gebring moet word.  Argeologie op sigself kan in elk geval nie die geskiedenis van die Bybel "bewys" of "teenbewys" nie, maar hoogstens die mate van waarskynlikheid verhoog of verlaag.  Myns insiens bevestig die argeologiese data juis die historiese korrektheid van die Bybel as andersom.  So is daar voorbeelde van waar die globale vloed as wetenskaplik waarskynlik beskou word.  Die ontstaan van die Grand Canyon is seker een van die beste voorbeelde, aangesien die diep rafyn vinnig moes vorm, en aagesien die water opdraend moes vloei indien dit oor 'n lang evolusionêre periode neergeset sou word (dit het eerder opgestoot teen die berge en “gebreek” soos ‘n damwal breek).  'n Ander voorbeeld is die egalige sedimentêre lae reg oor die wêreld, boomstam-fossiele by die pole (wat daarheen gedryf het), die fossielrekord in die algemeen (wat vinnige, skielike, katastrofale omstandighede nodig het) wat dikwels in "massa-grafte" voorkom, die jonkheid van die rivierdelta's, ens.

sien "Evolusie of Skepping?"

 

Ander argeologiese data wat lyk of dit die Ou Testamentiese geskiedenis op baie punte bevestig, is bv. die lae sendimentêre rots wat wat inmekaargevou is deur intense hitte by Jebel Usdum (Mount Sodom: naby waar argeoloë dink Sodom en Gomorra was).  Bryant Wood gee 'n opsomming van argeologiese verskynsels waarin die bybelse inval van Jerigo pas: die stad was sterk gefortifiseer (Jos 2:5,7,15; 6:5,20), die inval het net na die oes in die lente plaasgevind (Jos 2:1; 3:15; 5:16), die inwoners het geen geleentheid gehad om met hul voedsel te vlug nie (Jos 6:1), die beleg was kort (Jos 6:15), die mure is gelyk gemaak met die grond (Jos 6:20), die stad is nie geplunder nie (Jos 6:17,18), en die stad is verbrand (Jos 6:24).  Die opgrawing van Gibea (een van die vestings van Dawid) het slingervelle opgelewer – een van die primêre wapens van die tyd (vgl. Dawid en Goliat, asook Right 20:16).  Die boek Samuel vertel dat by Saul se dood is sy wapenrusting in die tempel van Astarte ('n Kaänanitiese vrugbaarheidsgodin) geplaas by Bet She'an, terwyl Kronieke vertel dat sy hoof in die tempel van Dagon, die Filistynse god geplaas is.  Baie het gedink dit moet 'n fout wees, totdat opgrawings bevestig het dat daar twee tempels was op daardie plek wat met 'n gang verbind is: een vir Dagon en een vir Astarte.  Dit lyk of die Filistyne die Kaänanitiese gode aangeneem het.  En van die groot dinge wat die koninkryk van Dawid vermag het was om Jerusalem te verower.  Wat problematies in die Bybel was, was dat die Israeliete die stad binnegegaan het deur 'n tonnel wat na die poel van Siloam gelei het.  Daardie poel was egter buite die stad geïdentifiseer, totdat opgrawings in die 1960's aan die lig gebring het dat die stadsmuur inderdaad vroeër verby die poel gestrek het.  Die inval van die Farao van Egipte se inval in Geser is bevestig (1 Kon 9:16).  En dit is slegs om enkeles te noem.  (sien bv. McDowell, J 1999. The New Evidence that demands a verdict. p. 94-98).

 

Jaco se volgende argument is vanuit beweerde anachronismes in die teks (p. 319).  Die voorbeelde wat hy noem van stede, plekname, makgemaakte diere, nasies, godsdienstige idees, persone, ens. wat skynbaar nie bestaan het in die tydvak waarvan die Bybel praat nie, is bloot spekulasie.  Hierdie spekulasie berus waarskynlik op projeksies van diegene wat meen dat hierdie dinge waarvan gepraat word eers later ontstaan het.  Hierdie projeksies is egter nie bewysbaar nie.

 

Die volgende argument is vanuit wat hy noem "indringende literêre konstrukte.”  Sy bewering dat die storie van Josef, Abraham, Moses, Dawid en Daniël eintlik fiktief is en bloot literêre konstrukte is vanuit estetiese oorwegings, wat Jaco dan aanwend om Jahwe se ontologiese status te bevraagteken, is ongegrond.  Die geskiedenis van hierdie mense bewys juis dat God bestaan en bonatuurlik voorsien, en dat God juis dikwels die onwaarskynlike gebruik, die nederige en kleinere om sy grootheid en getrouheid bekend te maak,  Om Josef, Abraham of Moses se verhaal as fiksie te beskou, is maar net nog 'n voorbeeld van waar kritiese teoloë 'n stuk geskiedenis afskryf as fiksie omdat die inhoud en die detail daarvan te "ongeloofwaardig is" of "te goed is om waar te wees" vir hulle.  Onderliggend skuil 'n naturalistiese uitgangspunt wat die bonatuurlike ontken.

 

Dieselfde tendens skuil agter die volgende voorbeelde wat hy noem.  Bloot omdat die gesange, lang seëninge, profesieë wat later presies waar geword het, gedetaileerde gesprekke wat later neergeskryf is, lang gebede van individue, geslagsregisters, en die (geestelike) belang van getalle in die geskiedenis vir Jaco "ongeloofwaardig" of "ongelooflik" lyk, beskou hy dit as opgemaakte stories.  Weereens word bonatuurlike elemente byvoorbaat weggeredeneer, omdat uitgegaan word vanuit 'n naturalistiese (ateïstiese?) voorveronderstelling.  Ironies genoeg is dit juis hierdie elemente wat God se bonatuurlike ingrype in die geskiedenis bevestig.  Die "opgemaaktheid" wat Jaco in sekere Bybelse name soek, is gewoon vergesog, veral waar hy bv. Ester met Istar en Mordegai met Marduk identifiseer.  Die aanname dat dit te "ongeloofwaardig" is dat iemand “word” of 'n roeping “uitleef” waarop sy / haar naam op dui, val ook binne die kader van hierdie tendens.  Jaco se stelling dat hierdie name of dui op "magiese (goddelike) bestemming of dat dit nie geskiedenis is nie" gee daarom sy voorveronderstelling weg (naamlik dat bonatuurlike elemente in die teks by voorbaat ontken word). 

 

Jaco se aantyging dat profesieë waar profete in die eerste persoon namens God praat, opgemaak is (m.a.w. dat Jahwe nie sou bestaan nie) bly nog steeds in hierdie selfde lyn van die ontkenning van die bonatuurlike.  Profesie geskied trouens vandag nog op dieselfde manier.  Die stelling dat profesieë die produk is van latere dissipels van 'n profeet, outeurs of redaktors en aangepas word vir 'n spesifieke konteks is net so ongegrond, asook die aanname dat die woorde in die teks nie meer die oorspronklike woorde van die profesie is nie.  Die sg. "al te menslike" karakter van Jahwe in die profesieë, waar Jahwe sou verwys na beweerde fiktiewe geskiedenis, beweerde fiktiewe entiteite soos Rahab of Leviatan, beweerde fiktiewe plekke, en hy daarmee Jahwe se ontologiese status wil dekonstrueer, is in beginsel reeds weerlê, aangesien al hierdie bewerings reeds as ongegrond uitgewys is.  Die aantyging dat baie van die dinge wat Jahwe geprofeteer het, nie waar geword het nie, is ook reeds weerlê.  Met die aantyging dat baie van die poëtiese gedeeltes wat direkte woorde van Jahwe bevat (bv. Jesaja, Jeremia, Esegiël, Hosea, Amos) kunsmatig is omdat hy sê "niemand spontaan in gedigte praat nie," ontken Jaco by voorbaat ook die moontlikheid dat God dit kan doen.

 

Jaco se volgende argument is van wat hy noem "etiologiese ideologie," menende dat baie van die verhale in die Bybel die gevolg was van vrae oor die oorsprong van dinge, bv. "waar kom die wêreld vandaan?", "waarom is daar ligte in die hemelruim?", "waar kom mense vandaan?", "waarom rus mense op die 7'e dag?", "waar kom die instelling van die huwelik vandaan?", "waarom seil 'n slang op sy maag?", "waarom leef mense nie vir ewig nie?", "waarom is daar 'n reënboog?", ens.  Die feit egter dat 'n verklaring gegee word in die Bybelse geskiedenis vir hierdie tipe vrae, beteken nie dat die bybelgeskiedenis opgemaak is nie.  Trouens, daar is baie diepgaande lewensvrae wat nie direk deur die Bybel aangespreek word nie, bv. "waarom het God die mens gemaak?", "wanneer is engele geskep?", "wat is die intrinsieke aard van engele?", "hoe verklaar mens God se karakter?", ens.  Die feit dat die Bybelgeskiedenis verklarings gee vir baie van die basiese vrae van menslike bestaan en sy omgewing, is juis die feit dat God Homself vanuit sy liefde deurlopend aan die mens openbaar het, en hom toegerus het en ingelig het sodat die mens alles weet wat vir hom nodig is om 'n sinvolle bestaan op aarde te voer.  God het nie die mens as't ware in die duister gelaat nie, maar het van huis uit toegetree tot 'n wederkerige verhouding met die mens.

 

Jaco se volgende argument is vanuit wat hy noem "tipologiese konstruksies."  Hy sien bv. die verhale in Gen 12; 20; 26 as fiktiewe stories op die tema / motief van "die matriarg in gevaar," Gen 19 en Rigt 19 as "dorpsmense wat vyandig is teenoor vreemdelinge," Gen 18; 25; 34; Rigt 13; 1 Sam 1 as "die onvrugbare geliefde vrou motief," Isak, Jakob, Josef en Dawid as "die jonger seun wat bevoordeel word," Eks 17; Num 20; Rigt 16 as "water van die rots motief," ens.  Nodeloos om te sê ontbloot dit dieselfde voorveronderstelling as hierbo, nl. om byvoorbaat die bonatuurlike element uit te skakel, bloot omdat dit "darem te goed is om waar te wees."  Weereens is dit ironies genoeg juis die manier hoe God nog deur al die eeue heen werk, nl. om die geringe en onwaarskynlike te gebruik (bv. die jongere, onvrugbare, ens.) om sy getrouheid deur al die eeue heen ten toon te stel.  M.a.w. daardie "tendense" in die geskiedenis bestaan nie omdat dit literêre konstrukte is nie, maar omdat dit juis is hoe God is en hoe Hy gewerk het in die geskiedenis.

 

Jaco se volgende argument is die van beweerde "misinterpretasie van natuurlike en sosiale verskynsels."  Hy sê gewone natuurlike verskynsels en gebeure is as goddelik geïnterpreteer terwyl God nooit werklik in die geskiedenis gehandel het op die manier wat dit in die Bybel uitgebeeld word nie.  Hy sê dit na aanleiding van baie kritiese teoloë wat meen dat die natuurlike geskiedenis later ge-herinterpreteer is deur die oë van geloof, en as sodanig as heilsgeskiedenis gesien is.  Hy lys dan 'n klompie handelinge van God wat hy sê misinterpretasies is van natuurlike verskynsels: 

 

Dat die kosmos beheer sou word as 'n goddelike monargie van die Yster Tydperk (Gen 1-11) is reeds weerlê.

Dat goddelike manifestasies eintlik maar gewone natuurverskynsels sou wees (vulkane, donderweer, weerlig, eklipse, komete, meteoriete, ens.: Eks 15,19; 1 Kon 17-19) is reeds weerlê.

Dat goddelike voorsiening bloot maar natuurlike rampe of goeie oeste sou wees (droogtes, reën, aardbewings, vloede, ens.: Samuel-Konings; Profete, ens.) is ook weerlê.

Dat goddelike kommunikasie modusse sou wees van psigologiese prosesse (profesieë, drome), is totaal ongegrond.

Dat geestelike entiteite bloot maar toegeskryf sou kon word aan psigologiese prosesse (1 Sam 16, Psalms) is ook ongegrond.

Dat goddelike voorsiening in regerings bloot maar gewone sosio-politiese ontwikkelings sou wees (Eks 1-12; Jes 11; ens.) is ook totaal ongegrond.

Dat goddelik-bepaalde strukture bloot kulturele instellings sou wees (Eks-Deut, Spr) is ook soner enige gronde.

 

Dieselfde voorveronderstelling is maar net nogeens hier ter sprake, nl. dat al hierdie dinge wat Jaco hierbo noem, vir hom "net te goed is om waar te wees" en te "ongeloofwaardig" sou wees as sou dit werkinge wees van 'n transendente God.  Dit val maar net weer binne die kategorie om alle bonatuurlike verskynsels op een of ander manier te probeer wegverklaar.  Hoewel God nog vandag net so sterk ingryp by lande en regerings wat Hom dien (hoewel daar bitter min sulke regerings is: hoofsaaklik in klein lande), is die grootste regerings in die wêreld nie meer onder die beheer van God nie, nie meer teokrasie nie, maar demokrasieë, kommunistiese regerings of diktature onder die beheer van Satan en sy magte en sisteme.  God beheer nie vandag die wêreldse regerings of die wêreldse geskiedenis op 'n bonatuurlike wyse as die regerings of mense Hom nie soek en Hom nie dien nie.  Jaco kan dit daarom nie as argument gebruik om sy aannames oor die beweerde naturalistiese oorsprong van goddelike verskynsels in die Bybelse geskiedenis te regverdig nie.  God se bonatuurlike werking en manifestasie is wel vandag nog net so tasbaar en sigbaar teenwoordig by Sy kinders (kyk maar na die gawes van die gees [profesie, woorde van kennis, genesing, ens.], geloofsgenesing, wonderwerke, bonatuurlike geestelike manifestasies, ens.).  Voorts bly God steeds in beheer, hoewel wat die sondige wêreld betref meer indirek, in die sin dat God die wêreld binne sekere perke en tydsgrense sy gang laat gaan en toelaat dat die Satan in die vorm van valse profete en antichriste verskyn tot tyd en wyl Hy weer sy Seun gaan stuur om te oordeel.  Trouens, die Bybel voorspel juis dat mense in die laaste dae gaan dink alles bly net soos dit was van die begin van die skepping af, en dat mense gaan wonder waar die belofte van Sy wederkoms is (2 Pt 3:4).

 

Met Jaco se aanhalings uit Barr oor hoe profesie verstaan moet word, openbaar Jaco die feit dat hy nie enige begrip het van hoe die gawe van profesie werk nie.  Die gawe van profesie (soos die gawe van spreek in tale) onspring vanuit 'n spontane vloei van woorde waaroor die profeet geen beheer het nie.  Die profeet weet nie voor die tyd wat hy gaan sê nie.  Wat wel soms gebeur is dat God 'n kriptiese openbaring oor die begin van die profesie aan die profeet gee (gewoonlik net die eerste sin van die profesie – maar dit gebeur nie noodwendig so nie).  Die inhoud van die profesie is nie woorde wat die profeet vooraf hoor en dan herhaal nie.  God neem deur sy Gees totale beheer oor van die profeet se spraak.  Die profeet kan wel die gawe onderdruk of toelaat.  Dit is soos om die stroom van God deur jou te laat vloei of te keer.  In 'n tipiese geval voel die profeet 'n diepe geestelike aansporing om te begin profeteer, skakel dan as't ware in by God se spraak (waarvan hy net die mondstuk is) en laat dit deur hom vloei totdat dit vanself ophou.

 

Jaco se verdere voortborduur op die beweerde kunsmatigheid en verbeelding van die Bybelse teks is maar net die gevolg van sy volgehoue naturalistiese voorveronderstellings en sy noodwendige onvermoë om die geestelike, bonatuurlike dimensie (wat vanuit 'n naturalistiese lees van die Bybel inderdaad "ongeloofwaardig lyk") raak te sien.

 

Jaco se volgende argument is vanuit wat hy noem “retrojektiewe ideologiese projeksies.”  Dit is die beweerde invloed van wat hy noem “die projeksie van later geloofsoortuigins in vroeër tye vir ideologiese doelwitte.”  Vanuit die voorbeelde wat hy noem,

1)   ontken Jaco die moontlikheid dat die outentieke geskiedenis reeds ‘n diepere inhoud gehad het wat eers later beter verstaan is.  

2)   Hy ontken dus die moontlikheid dat ‘n bybelse teks ‘n dieper, goddelike dimensie besit wat nie ten volle verstaanbaar was vir die eerste hoorders / lesers nie (wat dalk eers later beter begryp sou word). 

3)   Sy aanname dat Israel hulle offerpraktyke oorgeneem het van heidense godsdienste is presies verkeerdom.  Heidense godsdienste het hulle offerpraktyke gaan leen vanuit Jahwisme en vervals.

 

Jaco se volgende argument is vanuit wat hy noem “wetenskaplike absurditeite.”  Hierin skuil weereens die voorveronderstelling dat baie van die Bybelse gebeure “te wonderbaar” is of “te goed is om waar te wees.”  Wat die ark betref, is daar ‘n paar belangrike dinge om te onthou:

 

1.   Oorspronklike vorme van spesies is opgeneem (en nie subspesies wat ontstaan het vanuit natuurlike seleksie nie), bv. een paar wolwe.  Al die honde-, jakkals- en wolf subspesies is geneties verwant aan ‘n oorspronklike vorm.  So is daar baie ander spesies wat ontstaan het vanuit oorspronklike vorme.  (Onthou net: natuurlike seleksie is nie evolusie nie. Of te wel, dis mikro-evolusie, maar nie makro-evolusie nie).

2.   Dit is nie noodwendig volgroeide spesies wat geneem is nie, bv. dinosaurus-jongelinge.

3.   Baie wetenskaplikes het aangetoon dat die dimensies van die ark meer as voldoende was om al die hoof-spesies (ingesluit insekte) plus voldoende kos-voorraad saam te neem.

4.   Baie van die spesies is na die vloed her-ontwerp: bv. spesies wat herbivore was is herontwerp om karnivore te wees.

Sien bv. http://www.answersingenesis.org/creation/v19/i2/animals.asp

5.   Diere wat op afgeleë eilande of kontinente voorkom wat met water omring is kon net na die vloed nog vrylik daarnatoe beweeg toe daar nog landbrûe was (dalk ook a.g.v. ‘n moontlike kort ys-tydperk net na die vloed), voordat baie daarvan verdwyn het.

Sien bv. http://www.answersingenesis.org/home/area/faq/migration.asp?srcFrom=aignews

6.   Bergreekse (soos die Himalya) is tydens en net na die vloed gevorm, en word verklaar aan die hand van die hidroplaat-teorie (vroeër genoem)

7.   Die skepping in 6 dae is ook wetenskaplik verantwoordbaar (reeds bespreek).

8.   Mense wat ouer geword het voor die vloed (tot ongeveer 1000 jaar) en vir ‘n periode daarna nog ouer geword het as nou (tot so ongeveer 200 jaar) word ook verklaar deur die suurstof en ander atmosfesiese omstandighede wat anders was voor die vloed (reeds bespreek).

 

Die toring van Babel is reeds bespreek (in die sin dat die mense maar net [verkeerdelik] gedink het hulle kan die hemele [geestelike dimensie] bereik).

Dat Jacob die DNA struktuur van beeste sou verander is ongegrond (Gen 30).  Dit staan nie in die teks nie.

Die ander bonatuurlike verskynsels (die slang wat gepraat het, die vinnige vermeerdeing van die Israeliete in Egipte, die pratende donkie, stilstand van hemelliggame, die vermeerdering van die kos by Elia [bodemlose kruik], die vis wat Jona ingesluk het, die manne in Daniël wat deur die vuur geloop het, ens.) verwerp Jaco weereens omdat hy by voorbaat bonatuurlike elemente ontken en dit vir hom “ongeloofwaardig” klink.

 

Jaco se laaste argument in hierdie hoofstuk is vanuit wat hy noem “historiese foute.”  Al bogenoemde verskynsels sien hy as foute.  Hy kleur dan die res van die hoofstuk in d.m.v. ‘n verwysing na Daniël.  Die aanname dat die boek later geskryf is as waarop dit aanspraak maak berus op kunsmatige, ongegronde argumente oor Daniël se styl, taalgebruik, dat apokaluptiek oënskynlik nie toe al verskyn het in Judaïsme nie, dat Esra en Nehemia nie Daniël noem nie, ens.  Hy beweer dat die boek historiese onakkuraathede bevat.

 

Jaco se bewering dat die datum van Jerusalem se beleg verkeerd is (Dan 1:1) omdat dit nie ooreenstem met 2 Kon 24:1 nie, is ongegrond, omdat daar meer as een inval teen Jerusalem was in die regering van Jojakim, en dat Daniël na ‘n ander insident verwys as die een in 2 Kon 24:1.  Die aanname vanuit Bailoniese gskiedenis dat Daniël nie in ‘n raadgewende hoedanigheid in die Babiloniese regering gedien het nie, is ongegrond, want 1) ons weet nie of sulke geskiedenis volledig is nie en 2) Dan 1:7 vermeld dat die koning hom Béltsasar genoem het, en ons weet nie of hy nog onder ander name bekend gestaan het nie.  Dat Bélsasar in Daniël die seun van Nebukadnesar genoem word, is ook nie ‘n probleem nie, aangesien kleinkinders of agterkleinkinders in die antieke geskiedenis dikwels “seuns” genoem word.  Bélsasar was die laaste Chaldese regeerder, waarmee die ryk geëindig het.  Die koning wat in Dan 5:31 “Darius die Meder” genoem word, was Ciaxares seun van Astiages, die oom van Cirus, om hom te onderskei van Darius die Pers.  Die kritiek wat Jaco teen die historisiteit van die boek Ester uitspreek (dat daar mitologiese motiewe sou wees, Mordegai se ouderdom [wat volgends kritici op 120 geprojekteer word] verkeerd sou wees, dat dit ‘n etiologiese legende vir die purimfees sou wees, dat die hoeveelheid perse [75 000] wat in die slagting teen die Jode omgekom het, oordryf sou wees, dat die skrywer nie sou kon weet wat die gesprekke en gedagtes van die persone was nie) verklap ook die naturalistiese inslag en ontkenning van die bonatuurlike element (beide in die teks van die Bybel en die geskiedenis waaroor dit handel).  Die dinge wat Jaco teen die boek Ester lys, kan ook anders geïnterpreteer word.  Amestris was waarskynlik ‘n latere naam wat aan Ester gekoppel is.  Die 127 provinsies was waarskynlik ‘n onderverdeling van groter provinsies.

 

Jaco se konklusies oor die beweerde fiktiewe geskiedenis daarvan bly dus ongegrond en onbewys, en bevestig maar net sy voorveronderstellings, eerder as wat dit die teks objektief lees.  Baie van die aantygins dat die bybelse geskiedenis fiktief sou wees, berus op foutiewe, naturalistiese aannames: bv. dat die geologiese evolusieteorie (waar die aarde biljoene jare oud sou wees) korrek is, dat die buite-bybelse gekiedenis (soos dit voorkom in ander antieke kulture) alles korrek opgeteken is, dat antieke heidense godsdienstradisies ouer as die Bybelse tradisies is, dat ooreenkomste tussen bybelse verhale en heidense mitologiese verhale bestaan omdat die Bybelse tradisie dit vanuit die heidense tradisie geleen het (en nie andersom nie), dat alle “ongelooflike” of “finominale” gebeure (wat sou neerkom op bonatuurlike ingrype) “te goed is om waar te wees”, ens.

 

Argument 7

 

Jaco se laaste argument is vanuit wat hy noem “meta-tekstuele geskiedenis.”  In hierdie argument gebruik Jaco die gekonstrueerde geskiedenis deur kritici van die Bybelse teks, en gebruik dit om die bestaan van Jahwe te dekonstrueer.  Hy gebruik hierdie argument om te probeer aandui dat Jahwisme “’n godsdiens is sonder openbaring” (p. 352).  Uit die aard van die saak kan verwag word dat soos met die vorige hoofstuk, die naturalistiese voorveronderstellings sterk na vore sal kom.  In hierdie hoofstuk blyk dit inderdaad die geval te wees. 

 

Hy begin deur teorieë te lys oor hoe Jahwe ‘n tipe projeksie sou wees deur die menslike psige om dieper menslike vrae te beantwoord, as verklaring vir natuurlike weer- en geologiese verskynsels, as festish, as son-god, see-god of ander god, as mitiese simbool, personifikasie van die totale / groter verstaan van dinge (bigger scheme of things), as verklaring vir antieke ruimtereisigers (aliens)!, as een of ander chemiese funksie van die menslike brein, ens.  Jaco sê dat Jahwe ‘n fiktiewe konstruk is.  Hierdie bewerings, waar dit nie klaar weerlê is nie, is totaal en al ongegrond en in meeste gevalle vergesog (veral die een oor die aliens!).

 

Hy borduur voort deur te spekuleer dat Jahwisme ontstaan het vanuit heidense godsdienste (bv. Egiptiese, Midianitiese Kanäanitiese teorieë) wat net so vergesog is en in elk geval reeds weerlê is.

 

Jaco se rondspeel met al die moontlike etimologiese oorspronge van die tetragrammaton is niksseggend, siende dat die etimologie van ‘n woord nie noodwendig deurslaggewend is vir die konteks waarin ‘n woord gebruik is nie.  Die woord “Jahwe” soos wat God se volk dit verstaan het beteken gewoon “die Een wat is.”

 

Jaco se volgende argument is vanuit wat hy noem “al te onlangse oorsprong.”  Hy begin deur te sê dat die aarde miljoene jare oud is, en dat Jahwisme nie meer as 6000 oud kan wees nie.  Dit op sigself lyk uiteraard na 'n kontradiksie.  Dit bly na my mening een van die grootste teenstrydighede in die teologie van teïsties-evolusionistiese teoloë.  Maar natuurlik bestaan die kontradiksie bloot omdat uitgegaan word van die onbewysbare voorveronderstelling dat die aarde biljoene jare oud is (vroeër bespreek). 

 

Baie kritici (en dit lyk of Jaco dit ook doen) sê egter dat Jahwisme maar so jonk kan wees as 3500 tot 4000 jaar oud, wat ongegrond is, want hoewel die Hebreeuse taal se oorsprong op ongeveer 1200-1500 v.C. geprojekteer word (vgl. bv. http://www.apologeticspress.org/articles/13 ), moet in ag geneem word:

1) dat Jahwisme baie ouer is, aangesien dit in 'n mondelinge tradisie bestaan het voordat dit neergeskryf is (voorheen bespreek),

2) dat daar ‘n groot hoeveelheid “raaiwerk” is aan die projeksies van die onstaanstydperk van die antieke tale, want ouer inskripsies kan nog gevind word,

3) dat die geskrewe taal (tale?) waarin die Ou Testament neeslag gevind het, op sigself 'n dinamika van sy eie het en ontwikkeling ondergaan het in die kopiërings-proses (die 10 gebooie is bv. nie in klassieke Hebreeus neergeskryf nie – Hebreeus het ontwikkel vanuit Wes-Semitiese tale: veral Foenisies en moontlik Ugarities), en

4) dat die taal waarin die Ou Testament geskryf is nie vas is nie.  Die Ou Testamentiese boeke is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf, maar sekere gedeeltes is ook in Aramees (Noord-Semitiese oorsprong) geskryf.  (vgl. La Sor et al. 1982. Old Testament Survey. The Message, form and background of the Old Testament. p. 26-30).  Die moontlikheid dat gedeeltes van die Ou Testament in ander tale of voorfases van Hebreeus / Foenisies / Aramees geskryf kon gewees het (bv. die dekaloog), kan ook nie heeltemal buite rekening gelaat word nie.

 

Die taal van die Ou Testament is dus nie 'n vaste baken van oorsprong vir Jahwisme wat in beton gegiet is nie.  God se Woord is in elk geval groter as die taal (of kultuur) waarin dit neergepen is.  Soos voorheen uitgewys, kan menslike taal in elk geval nie die openbarings-tradisie van God omsluit of in bedwang hou nie.

 

Dat Jaco ander heidense kultuse se ouderdom projekteer op 10 000 jaar oud het absoluut geen basis nie.  Die vroegste inskripsies van antieke godsdienste val nog ver binne die 4000 jaar v.C. gleuf waarin die Ou Testamentiese tradisie ontstaan het (wat lank in mondelinge vorm bestaan het voordat dit deur Moses neergeskryf is: reeds bespreek).

 

Jaco se verwysing na “El” wat in ander heidense godsdienste teruggevind word, asook dat son- en maan kultusse moontlik name van patriarge gebruik (of variante daarvan), word maklik verklaar as aangeneem word dat die Satan in en deur heidense godsdienste die waarheid gekopiëer en vervals het.

 

Die aannames wat Jaco maak dat die aarde biljoene jare oud is, dat Neandertal 100 000 jaar oud sou wees, dat die “mother godess” voor 30000 v.C. vereer sou wees, of dat gosdiens in Palestina teruggedateer kan word tot 8000 v.C. is almal totaal ongegrond en berus op spekulasie.

 

Die feit dat die Bybel nie nasies buite die Ou Nabye Ooste by die naam noem nie, beteken nie God het nie “van hulle geweet” nie.  Die Bybel praat dikwels van al die nasies, bedoelende die nasies in die hele wêreld (bv. Ps 2:8; 72:17; Jes 2:2; 5:26; 34:1; ens.).  Die aanname dat die heelal net “beperk” was is ook ongegrond.

 

In Jaco se volgende argument, wat hy noem “die probleem van die Ou Testament as ‘n rekord van openbaring in die geskiedenis” openbaar hy maar net weer sy voorveronderstelling dat alle bonatuurlike elemente ontken word en dat alles aan die hand van naturalisme verklaar word.  Sy hele argument borduur maar net voort op hierdie voorveronderstelling, asook die (verkeerde) voorveronderstelling dat die heidense godsdienste ‘n invloed uitgeoefen het op Jahwisme (p. 365-370).  Jaco se aantyging dat gelowiges ‘n begeerte het om die uniekheid / onderskeibaarheid van die Bybelse geloof teenoor ander godsdienste uit te druk is ongegrond, siende dat die Bybel reeds inherent unieke inhoud het.  Sy aanname dat daar ‘n behoefte sou wees by gelowiges om objektiewe aansprake te maak om sodoende aanvaarbaar te wees by moderne, denkene mense, is ook totaal ongegrond, juis omdat gelowiges juis weet dat die waarheid ‘n struikelblok is vir die wêreld, en omdat hulle weet dat die natuurlike mens nie die dinge van die Gees van God aanvaar nie.  Hulle wil juis nie die evangelie “aanvaarbaar” maak vir die skeptiese wêreld nie, maar dit verkondig en daarvan getuig net soos dit is.  Die feit dat Cirus II, die koning van Persië krediet gee aan Marduk vir sy verwoesting van die Babiloniese Ryk (539 v. C), is niksseggend, siende dat hy in elk geval nie vir Jahwe gedien het nie, en uit die aard van die saak gedink het sy gode help hom.  Sy aanname dat die Bybelse gebeure “bewys” moet kan word voordat dit as waar aanvaar moet word is ongeldig, aangesien die getuienis dat die Bybel waar is reeds oorvloedig is in die geologie, die argeologie, die antieke geskrifte, en natuurlik die Bybel self, wat die bes bewaarde antieke geskrif is en geen inherente aanduider het dat die geskiedenis onakkuraat sou wees nie.  As mens eers moes “sien” voordat jy glo, sou geloof sinneloos gewees het.  Dit gaan op die ou end oor gesag.  Wie se gesag aanvaar jy?  Die Bybel s’n en God s’n?  of die wêreld s’n en die ateïstiese, naturalistiese kritici s’n?

 

Jaco se volgende argument oor die beweerde “al te menslike” geskiedenis van die Ou Testament as sou dit nie goddelike openbaring wees nie, bloot omdat kritici die ontstaangeskiedenis van die teks bevraagteken het, is ongegrond.  Die kritici se bevraagtekening van die ontstaansgeskiedenis berus op ongeverifiëerde aannames op grond van hulle naturalistiese voorveronderstellings.

 

Jaco se volgende argument, waar hy beweer die Ou Testament is “vroom korrupsie” is ook ongegrond.  Die bewerings van kritici dat die Bybel nie deur die skrywers geskryf is waarop dit aanspraak maak nie, is gebaseer op naturalistiese voorveronderstellings.  Die beweerde historiese foute, anachronismes, kontradiksies, ens. is reeds weerlê.  Die drie argumente wat hy noem waarom apologete se kritiek teen kritici onregmatig sou wees, is ongegrond: 

1.   Dat nie alle kritici in die “strooiman profiel” pas nie, is irrelevant, aangesien naturalistiese voorveronderstellings in ‘n mindere of meerdere mate by almal teenwoordig is.  Sommige kritici neem baie van die kritiek van ander kritici klakkeloos aan, sonder om die voorveronderstellings daarvan te bevraagteken.  Baie van hulle mag dalk nie ‘n onderliggende “naturalistiese agenda” hê nie, maar hulle doen mee en laat toe dat hulle eie voorveronderstellings (dikwels onbewustelik) geïndoktrineer word. 

2.   Dat baie kritici anti-bonutuurlik raak “nadat hulle ontdek het dat hulle konserwatiewe oortuigings geen basis het nie” is ‘n sirkelredenasie op sigself, siende dat ten grondslag van die bewering “dat hulle geloof geen basis het nie” reeds ‘n anti-bonatuurlike voorveronderstelling lê.  Geen konklusies oor ‘n teks se geldigheid al dan nie kan los van voorveronderstellings geskied nie.  Al wat gebeur is dat paradigmaskuiwe gaandeweg gemaak word: van ‘n voorveronderstelling dat die bonatuurlike moontlik is tot een wat dit verwerp. 

3.   Die argument dat die geldigheid van argumente nie afhanklik is van die tipe teologiese voorveronderstelling nie (nl. liberaal of konserwatief), is daarom ook nonsens.

 

Wat die Mosaïese outeurskap van die Pentateug betref:

 

1.   Aangesien die Hebreeuse alfabet waarskynlik al bestaan het vanaf ongeveer 3500 v.C. (reeds genoem, asook skakel verskaf), kon Moses maklik die pentateug geskryf het,

2.   Die kode van Hammurabi was baie naby aan so gevorderd soos Moses se wette, en is geskryf voor die tyd van Moses (2000 tot 1700 v.C.).  Dit verklaar ook baie van Jaco se aantygins.

3.   Gen 36:31 wat sê: “En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar ‘n koning geregeer het oor die kinders van Israel” moet in dieselfde lig verstaan word as vroeër beloftes wat gemaak is dat daar konings sal kom vanuit God se volk.  Reeds aan Sara is beloof: “konings van volke sal uit haar voortkom” (Gen 17:16), asook later aan Jakob: “konings sal uit jou lendene voortkom” (Gen 34:11).  Sien ook Deut 17:14-15.

4.   Moses is bonatuurlik geïspireer en kon woorde van kennis (ook oor die toekoms) van God ontvang.  Dit verklaar al reeds baie van Jaco se aantygings.

5.   In die lig van 3. en 4. hierbo, sou dit geen probleem wees dat Moses oor sy eie dood kon skryf, asook die feit dat mense nie sy graf kon kry nie – op grond van God se beloftes! (Deut 34:4-6).  Maar selfs al is die laaste gedeelte van Deuteronomium ná Moses se dood deur bv. Aäron geskryf, verander dit niks aan die Mosaïese outeurskap van Moses m.b.t. die res van die Pentateug nie.

6.   Die term “tot vandag toe” dui nie noodwendig op ‘n tydstip wat “heelwat later” is as toe dit vernoem is nie.

7.   Gen 12:6 en 13:7 verwys na die spesifieke deel van die land waar Abraham wou vestig, en het niks te doen met ‘n “voorkennis dat hulle later daaruit gedryf sou word” nie.

8.   Die “land van die Hebreërs” (Gen 40:15) verwys nie na die hele land Kanaän nie, maar na die gedeelte waarin die Israeliete gebly het.

10.  Die ander beweerde anachronismes is ongegond en / of berus op spekulasie.

 

Die JEDP + (2)R dokumentêre hipotese berus op suiwer spekulasie, is uiters arbitrêr,  en het geen wetenskaplike basis nie.  Die hipotese kon nog nie as waar bewys word nie.  In die lig hiervan, asook bg. 10 punte, val Jaco se verdere gevolgtrekkings ook plat.

 

Sy ongemotiveerde kritiek teen die Dawidiese Psalms, Miga, Jesaja en Daniël kan ek ook nie anders nie as om in dieselfde kategorie as bg. ongegronde bewerings te plaas.  As Jaco sê dat die wêreld onmoontlik kon eindig na die Griekse Ryk, openbaar hy sy foutiewe interpretasie van Daniël se profesieë  as beduidend op die Griekse Ryk van ouds (histories), eerder as dat Daniël se profesieë op die werklike einde van die tye dui (nog in die toekoms).

 

Om aan die Bybel vas te hou as “Woord van God” hoef nie noodwendig te beteken dat mens in meganiese of verbale inspirasie hoef te glo nie.  Hoewel mens van God se bonatuurlike inspirasie kan praat in die Bybel, kom skrywers se eie styl, persoonlikheid en taal na vore in hulle geskrifte, maar op so manier dat hulle skrywes wesentlik getrou bly aan die essensie van die waarheid.  Daarmee word ook erken dat daar kopiëringsfoute of kleiner variasies in getalle en name in die Bybel wat ons vandag het, kan voorkom.  Die kleiner foutjies tas egter nie die wese of die wesenlike betroubaarheid van die Bybelse geskiedenis en boodskap aan nie.  Daarmee saam moet mens erken dat die Woord van God nie vasgevang is in die letters van die Bybel (watter weergawe / vertaling mens ook al kies) nie, maar dat die Woord van God meer is as die letter, maar bestaan in die Gees wat die Bybelwoorde geïnspireer het.  Slegs in ontmoeting met die Gees van die waarheid kan ons uitkom by die bedoeling agter die woorde in die Bybel.

 

In Jaco se argument met verwysing na die tekskritiek, waar hy sê dat ons nie die oorspronklike het nie, maak hy die denksprong dat die oorspronklike nie bestaan nie.  Dit is egter totaal ongegrond.  Wat Jaco ook nie noem nie, is dat die tekskritiese variasie (hoe groot ook al) net op kleiner detail is en nêrens die essensie van die Bybelse geskiedenis en boodskap aantas nie.  Al wat dit op dui is dat die mens feilbaar was (en is) in sy bewaring van die Woord en daarom die Gees van God as Interpreteerder nodig het om ons in die waarheid te lei.  Dit doen die Gees inderdaad en bevestig die waarheid van die Bybel aan sy kinders (Jh 16:13).

 

As Jaco praat van die probleem met die ontwikkeling van godsdienstige oortuigings, verwys hy na beweerde kontradiksies m.b.t. Jahwe se karkater.  Daardie aspekte is reeds bespreek as juis integraal deel van God se komplekse karakter (Die karakter van God).  Sy aantyging dat daar weersprekings in die Ou Testament is oor bykans enige onderwerp (demonologie, thanatologie, etiek, ens.) is gewoon ongegrond, want sistematiese teologie is in elk geval ‘n manier om die bybelse getuienis rakende ‘n onderwerp te sistematiseer sonder om dit noodwendig in ‘n enkelvoudige konstruk in te forseer.  Die sg. kontradiksies met “teomasie,” die oordraagbaarheid van die skuld van sonde (van voorvaders na kinders), of daar lewe na die dood is, Jahwe se sigbaarheid en Jahwe se relasie met die bose is almal reeds weerlê.  Daar is geen “verandering” m.b.t. Jahwe se “geloofsoortuigings” nie, maar die Ou Testament 1) weerspiëel onderskeie fasette van God se karakter, 2) gee soms kriptiese aspekte van God se karakter wat met latere openbaring meer duidelik word, en 3) se betekenis is soms verborge en / of nie voor-die-hand-liggend nie.  Dit impliseer dat daar selfs van die waarhede van die Bybel nog nie ten volle verstaanbaar was vir die bybelskrywers en / of hulle onmiddelike gehoor nie.

 

Die ander probleem met hierdie kritiek van Jaco is dat mens kan vra met wie se geloofsoortuigings werk hy?  Daar is baie Christene se oortuigings waarmee ek myself nie kan vereenselwig nie.  Enige oortuiging moet gebaseer wees op ‘n verstaan van die hele Bybel.  En nie een mens hier op aarde se verstaan is finaal of verhewe bo korreksie nie.  Mense se verstaan van die Bybel kan dus nooit as absolute kriterium dien nie, slegs die Heilige Gees self.

 

Sy volgende argument, wat beweer daar is geen Ou Testamentiese “siening” van God, is om dieselfde redes hierbo ongeldig (Die karakter van God verwys weer).  Die verdere rede waarom Jaco nie God se karakter in die OT kan sien nie, is juis omdat God se karakter nie reglynig simplisties is nie, maar kompleks en verhewe bo die reikwydte van menslike verstaansvermoë.

 

Jaco se volgende argument wat te doen het met die “onderdrukte anti-realisme in die geskiedenis” het hy natuurlik ‘n punt beet, in soverre dat die volle konsekwensie van liberale teologie een of ander tyd moet uitkom by die konklusie dat Jahwe en / of God nie bestaan nie.  Dit ontbloot maar net die ondeliggende agenda van liberale teologie, en nog meer, die agenda van die Satan in hierdie wêreld, nl. om ten alle koste God se gesag te ondermyn.  Die argumente van kritici dat verkillende tekste oor die karakter van God mekaar dekonstrueer (bv. Gen 1-11 en Jes 40-55, Eksodus en Jeremia, Spreuke en Prediker, ens.), is gebaseer op 1) ‘n reglynige, simplistiese dogma oor God, 2) ‘n ingeboude skeptisisme teen God se dinamiese en bo-menslike karakter, en 3) die onvermoë / ontkenning om te sien dat die Bybelse teks soms slegs kriptiese, onvolledige aspekte van God openbaar wat met latere openbaring meer duidelik word.

 

Jaco se argument vir die beweerde “anti-realisme” in die tekstuele variante word myns insiens oordryf, en sy argumente is vaag en kunsmatig.  Dat mense wat tekste oorgeskryf het, soms beïvloed is deur hulle eie voorveronderstellings en menslikheid kan nie ontken word nie (waar bv. foute kon insluip), maar die tekstuele variante is nie groot genoeg om ‘n wesenlike verskil aan die betroubaarheid van die Bybelse tekste te maak nie.  Sy dekonstruksie van realisme op grond daarvan is dus vergesog.  Buiten dit het ons vandag steeds dieselfde Heilige Gees wat op die waters gesweef het tot ons beskikking om as Interpreteerder te dien vir wat die outentieke bedoeling was en is van die Skrif.

 

Die beweerde tendense van “anti-realisme” in die apokriewe geskrifte, hoe waar of onwaar dit ook al is, is irrelevant vir die gesprek, aangesien dit in elk geval nie deur die gemeenskap van gelowiges as outentiek en geïnspireer deur die Heilige Gees beskou word nie (met moontlike uitsonderings hier en daar), juis as gevolg van die dwalinge daarin, asook die feit dat baie daarvan latere geskrifte was en daarom nie as outentiek gesien is nie.  Jaco se aantyging dat baie apokriewe werke demone en engele “geskep” het, is van alle waarheid ontbloot, siende dat die getuienis van engele en demone (gevalle engele) in die Ou Testamentiese (en Nuwe Testamentiese) kanon oorweldigend is (sien Engele, demone en magte).

 

Jaco se argument van die beweerde dekonstruksie van die realisme van die Ou Testament in die Nuwe Testament, is ongegrond.  Die sg. kontradiksies tussen Ou en Nuwe Testament is ook ongegrond en ongemotiveer.  Soos vroeër verduidelik openbaar baie Ou Testamentiese tekste slegs ‘n gedeeltelike en voorlopige openbaring van God, waarvan die volle betekenis eers in God se latere openbaring duideliker word.  Dit is hierdie diepere, goddelike dimensie aan ‘n teks wat dikwels ‘n element van misterie bevat waarvan selfs die skrywers en aanvanklike hoorders van die Ou Testament nie bewus was of ten volle van bewus was nie.  Dit is juis hierdie dimensie waarvoor liberale teoloë nie voor voorsiening maak nie omdat hulle by voorbaat die bestaan van so ‘n bonatuurlike dimensie aan die teks ontken.  Trouens, die Nuwe Testament praat dikwels van die misterie wat geopenbaar is (bv. Rm 11:25; 16:25; 1 Kor 2:7; Ef 1:9; 3:3-9; Kol 1:26-27; ens.).  Soos vroeër bespreek is dit juis slegs vanuit ‘n Nuwe Testamentiese Geestelike, Christus-gedrewe perspektief waarin mens die werklike bedoeling van die Ou Testamentiese teks kan verstaan (2 Kor 3:14-17).  Die liefdevolle Vader-hart wat Christus kom openbaar het, was altyd teenwoordig by God, waarvan daar oorvloedige getuienis in die Ou Testament is (sien bv. Gen 24:27; 39:21; Eks 34:6; ens.).  Maar Christus het nie net die liefde van God verder kom verklaar nie, maar ook sy toorn en die komponent van oordeel (sien bv. Jh 5:22; 9:39; vgl. Rm 1:18).  Die Nuwe Testament is ook ‘n vervulling van die Ou Testament, waar die wet en beloftes in Christus self vervul is.  Christus het daarom nuwe inhoud aan die wet gegee, waarvan die ou wet slegs ‘n tugmeester na Christus toe was (Gl 3:24-25).  Al hierdie dinge het in God se karakter opgesluit gelê in die Ou Testament, hoewel dit nie altyd op die oppervalk sigbaar was nie.  Dit is deur Christus ontsluit.  Jaco se argument teen progressiewe openbaring 1) hou nie rekening met die komplekse, dinamiese karakter van God nie, 2) ontken die misterieuse (verborge) dimensie van baie van die Ou Testamentiese teks, en 3) ontken dat die Nuwe Testament beide God se liefde-kant en oordeel-kant van God se karakter uitlig. 

 

God se uiteindelike beheer oor alle magte (goed en boos) kom net so sterk in die Nuwe Testament voor.  1 Pt 3:22 sê bv. “terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.” (vgl. Kol 1:16; 2:15).  Jesus het bv. die bose geeste van die besetene van Gadara ook opdragte gegee (Mat 8:32 “En Hy sê vir hulle: Gaan! …”).  Jak 1:13 wat sê dat God niemand versoek nie, word ook nie deur die Ou Testament weerspreek nie.  Jakobus sê bloot dat God niemand direk versoek nie, maar dit sê nie dat God nie by wyse van toelating (of selfs by wyse van die bevel aan ‘n bose gees) ‘n versoeking oor iemand se pad kan laat kom nie.  Die wesens wat die “versoek-werk” doen is egter deurgaans die Satan en / of sy demone. 

 

Die voorneme van God om Christus te stuur as Versoener en Verlosser van die wêreld is reeds opgesluit in onder meer die volgende tekste: Gen 3:15 “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”  Gen 17:4 “Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word” en Gen 22:18 “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”  Psa 2:8 “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.”  Psa 18:43  (18:44) “…U het my ‘n hoof gemaak van nasies; ‘n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.” (sien ook Jes 11:10-12; ens.).  In al hierdie tekste, waarvan ek slegs ‘n paar genoem het, lê die voorneme van Christus as Verlosser reeds opgesluit.  In die Genesis-tekste is daardie betekenis egter verborge en opgesluit (soos vroeër verduidelik), maar word in die Nuwe Testament verklaar.  Die eerste hoorders van die Genesis-tekste en selfs die skrywers het waarskynlik nog nie ten volle begryp waarop dit uiteindelik sou dui nie, maar dit was reeds teenwoordig in die teks as verborge, goddelike dimensie.  Dit is daarom nie vreemd dat ‘n liberale teoloog of iemand wat sonder die Heilige Gees as Hermeneut na die tekste kyk, nie die diepere betekenis van daardie tekste sal raaksien of erken nie.

 

Jaco se volgende bewering is dat die vroeë Christendom en Judaïme anti-realistiese tendense getoon het.  Wat die latere tradisies van Judaïsme, en bv. die Talmud betref, kan die tendense wat daar teenwoordig was nie as argument gebruik word om realisme te probeer dekonstrueer nie, aangesien daardie buite-Bybelse Joodse tradisies afgedwaal het van die waarheid, die Heilige Gees van Christus as enigste finale Interpreteerder ontken en weerstaan het, en in die plek van die Heilige Gees vreemde, heidense elemente ingebring het in hulle tradisie, waaronder dinge soos numerologie, Kaballa, majick en ander Joods-mistiese idees tel.  Wat die vroeë Christelike tradisie betref, moet onderskei word in waar die kerkvaders outentieke lerings geleer het en waar hulle gewoon die spoor bietjie byster was (waar hulle bv. geneig was om verkeerdelik te allegoriseer).  Dit is nie sonder rede dat die kerkvaders se geskrifte nie gekanoniseer is nie.  Hoewel hulle van baie waarde is, dra hulle geen absolute gesag nie.

 

Wat die latere geskiedenis (die Middeleeue, die Verligting en daarna) betref (p 398-415), as sou dit dien om realisme te help dekonstrueer, raak al meer ‘n irrelevante argument, siende dat Jaco selektiewe kritici uitkies, en omdat dit al meer gebaseer raak op subjektiewe interpretasie.  Die kritiese neigings daarin val myns insiens in die strategie van Satan om mense al verder van die waarheid weg te dryf en liberalisme en naturalisme al meer in die teologie in te bring, ten einde die einddoel mee te bring om God te ontken (soos Jaco doen).  In een opsig stem ek met Jaco saam, en dit is dat as die liberale, kritiese teologie tot sy volle konsekwensie gevoer moet word, sal dit eindig in anti-realisme en die ontkenning van God.  Die teoloë wat hulle dus besig gehou het met liberale teologie, die subtiele wapen van die Satan, moes die volle konsekwensies daarvan onderdruk as hulle nie ateïste wil raak nie.  Hoewel die Reformasie in baie opsigte nader beweeg het aan die waarheid, was daar mense in die Reformasietydperk (en ook die Satan en sy magte self) wat verhinder het dat die krag van die Reformasie (en by name die krag van die Heilige Gees) deursyfer na alle fasette van die teologie in die groter Kerke.  Desnieteenstaande het God deur al die eeue heen sy Woord en die waarheid bewaar sodat ons vandag dit opnuut kan ontdek.  Daar lê spore van die waarheid dwarsdeur die kerkgeskiedenis, al was dit nie noodwendig in die hoofstroom teologie nie.  Persoonlik dink ek in elk geval nie die waarheid en die Gees van Christus is ‘n hoofstroom-item nie, maar beweeg dikwels in die kleine en geringe (soos ook in die Bybelse tyd). 

 

Ek stem saam met Jaco dat die sg. “tweede naïwiteit” slegs ‘n tipe onderdrukking is van die konsekwensies van die liberale teologie.  Ek sou eerder vra vir ‘n ingeligte, wetenskaplike, Gees-gedrewe lees van die Bybelse teks.

 

Jaco se laaste argument handel oor hoe hy antisipeer dat die tendens van anti-realisme hanteer sal word in konserwatiewe en kritiese teologie:

 

Konserwatiewe teologie.  Hy sê dat die realisme waarvoor die konserwatiewe teoloë (wat hy antisipeer) sal beveg, sal ‘n realisme wees wat niks te doen het met die Bybelse teks nie en alles te doen hê met hulle teologiese tradisies en dogma’s.  Volgens Jaco sal hulle beweerde antropomorfismes, psigomorfismes, sosiomorfismes, mitologiese parallelle, sinkretisme, bygelowigheid, ens. wegverklaar of ontken.  Die probleem is, Jaco of kritiese teoloë kon nog nie oortuigend aantoon dat daar wel sulke dinge bestaan nie, want soos wat ek in hierdie kritiese bespreking van Jaco se proefskrif aangetoon het, is al sy argumente (wat in elk geval uiters swak gemotiveer is – sonder enige diepgaande eksegetiese arbeid) regmatig aanvegbaar.  Al hierdie dinge wat Jaco noem is maar net die manifestasie van die onderliggende voorveronderstellings van kritiese teoloë dat die die bo-natuurlike nie bestaan nie, dat God moet inpas in ‘n reglynige dogmatiese skema, dat die taal, beelde ens. van die Ou Testament se betekenis nie dieper / verborge kan lê nie, ens.  Jaco se atisipasie dat konserwatiewe teoloë nie deeglik genoeg na die teks sal kyk nie en dalk net sekere voorbeelde sal uitlig of konsentreer op gunsteling apologete of gunsteling versies, het ek juis weerlê deurdat ek so volledig as moontlik die tekste wat Jaco aangehaal het, bespreek en geïnterpreteer het.  Wat meer is, is dat ek ook nie simplisties bly vasklou het aan een of ander tradisionele dogma oor God nie, maar my juis laat lei het na wat die teks oor God en sy werk sê (sien veral Die karakter van God).

 

In baie opsigte deel ek Jaco se sentiment jeens liberale teoloë.  As hulle aan die een kant erken daar is dinge soos antropomorfismes, psigomorfismes, sosiomorfismes, mites, sinkretisme, bygelowigheid, fiktiewe geskiedenis en karakters, ens. in die teks, maar hulle bly vasklou aan God, dan voer hulle ‘n stryd teen die bose agenda van Satan om die Bybel en die bestaan van God te diskrediteer.  Hulle speel as’t ware met vuur om hierdie misleiding te omhels en op een of ander manier in hulle teologie te inkorporeer.  Die moontlike gevolg is een van twee dinge: 1) of hulle teologie raak kragteloos, sonder die rugsteun van God self, met die gevolg dat hulle teologie geen verskil meer maak aan ‘n gebroke wêreld nie, of 2) die misleiding van die Satan, wat uitmond in die liberale teologie sluk hulle so in dat hulle eindig waar Jaco eindig en God ontken.  Nodeloos om te sê bring laasgenoemde posisie ook geen positiewe vrug in iemand se lewe nie, maar laat hom / haar ontnugter en verward.  Dit is presies wat die Satan wil hê.  Boonop het sulke ontnugterde toeloë (of ex-teoloë?) die potensiaal om ander goedgelowige, oningeligde gelowiges (dalk sonder dat hulle ooglopend bose intensies het) saam in die afgrond af te sleep en so die werk van die Satan te bevorder.

 

Gevolgtrekkings en slot

 

In my slot wil ek weer terugkom by waar ek begin het, en dit is by Jaco as persoon.  Hoe verder ek deur hierdie proefskrif gewerk het, hoe meer het dit my hart gebreek dat Jaco vir hierdie teologie geval het.  As iemand Jaco se storie lees (wat as bylaag by sy proefskrif beskikbaar is), sal hy / sy besef dat ons hier te doen het met iemand wat die volle aanslag van die Satan in hierdie wêreld verduur het.  Uit persoonlike gesprekke met Jaco, het hy dikwels gesê dat hy altwee kante van die spektrum (gelowige en ongelowige) gesien en ervaar het, en nou as’t ware in ‘n sinnelose “nêrens” sit, ‘n “kind van die wind.”  Ek het baie gewonder hoe dit moontlik kan wees vir ‘n wedergebore Christen om so radikaal sy geloof tot in die ander uiterste te verloor.  Het Jaco nie iets gemis as Christen nie?  Ek is van beskeie opinie dat hy wel iets gemis het, en dit is naamlik dat ek nie weet of Jaco ooit die volheid van die werking van die Heilige Gees ervaar het nie, maar hoogstens “ietsie” daarvan geproe het.  As iemand wat self uit ‘n agtergrond kom wat as kind my hart vir die Here gegee het en eers later die volle werking van die Heilige Gees as Persoon ervaar het, kan ek uit diepe dankbaarheid getuig daarvan dat die doping met die Heilige Gees, die gawes van die Heilige Gees en sy bonatuurlike werking ‘n realiteit in my lewe is.  Vanuit die realiteit van die Heilige Gees se teenwoordigheid in my lewe, ervaar ek dat Hy my lei om die bose agenda van die Satan in hierdie wêreld makliker te identifiseer, ek kan ervaar dat Hy my help om aan die waarheid vas te hou ten spyte van die hoofstroom-menings, en ek kan sien hoe Hy andersins verborge waarhede van die Bybel aan my openbaar en andersins moeilik verstaanbare tekste aan my helderder maak.  Natuurlik weet ek dat my natuurlike rede en logiese verstaansvermoë maar net ‘n onvolkome afskynsel is van die realiteit van die geestelike dimensie van die waarheid wat die Heilige Gees in my gees werk, maar ek probeer deur God se bystand en genade voortdurend om my natuurlike denke daardeur te laat vernuwe (al weet ek ek faal dikwels), sodat my denke al meer geestelike denke kan raak.  Ek dink tog dat Jaco iets van hierdie dimensie van Christenskap gemis het.  Dit laat my dink aan die gelykenis van die saaier, waar die saad ontkiem het, maar die dorings en distels het dit oorweldig.

 

Aanduiders hiervan sien ek in Jaco se persoonlikheid en geskiedenis.  Ek het Jaco leer ken as ‘n man van uiterstes, “reg of weg,” “alles of niks.”  Wat myns insiens hiermee verband hou, is sy persoonlikheidstipe.  In een van ons forumgesprekke het hy laat blyk hy is ‘n INFJ (Meyers-Briggs persoonlikheids-profiel), waarvan hy ‘n 100% lesing op sy “N”-as gekry het.  Natuurlik is hierdie lesing nie die alfa en die omega nie, maar omdat hy so sterk op sy “N”-as getoets het, het dit my persepsie van Jaco tog in ‘n sekere rigting gestuur.  “N” staan vir “intuitive” teenoor “sensing” (S) (sien bv. http://www.personalitypage.com ).  Mens hel gewoonlik oor na die een of die ander kant.  ‘n “N” persoon is dikwels geneig daartoe om meer filosofies geöriënteerd te wees, en het gewoonlik altyd vir jou ‘n antwoord oor enige iets gereed.  ‘n “N” persoon is iemand wat geneig is om te kyk na die groter prentjie en geneig is om makliker tot konklusies te kom, sonder noodwendige in-ag-neming van (of belangstelling in) al die detail.  Dit sien ek by uitstek in hierdie proefskrif ook.  Jaco spring myns insiens baie gou tot groter konklusies sonder om al die detail te verreken.  Wat my aanvanklik van Jaco se styl (op die gespreksforum) verwar het, was die feit dat hy geneig is om jou toe te gooi met detail (veral teksverwysings), lyste en lyste tekste (net soos in hierdie proefskrif).  Ek het daarom gedink hy moet daarom ‘n “S” wees (“sensing” in die Meyers-Briggs persoonlikheidsprofiel: ingestel op detail, ens.), tot ek later agtergekom het dat hy nie stil staan by enige teks nie, maar eerder jou toegooi met nog tekste en nog tekste – omdat hy klaar besluit het wat die groter konklusie is van al die tekste. 

 

Een van die dinge wat my opgeval het vanuit sy proefskrif is die aantal foutiewe teksverwysings (niks te doen met sy interpretasie daarvan nie), veral in die gedeelte oor die beweerde teenstrydighede (6’e argument).  Hoewel ek aanvanklik eers van sy tweede argument begin het om sy foute aan te teken (in rooi onderstreep), en ek nie so sterk daarop ingestel was nie, het ek bo-oor baie van die foute gewerk en dit self reggemaak in my kommentaar.  Ek het ongeveer 15 foutiewe teksverwysings in argument 2 tot 5 aangeteken, hoewel ek onthou dat ek minstens 5-10 foutiewe teksverwysings opgemerk het toe ek die gedeelte oor God se karakter uitgewerk het (Die karakter van God).  Die foutiewe teksverwysings in sy 6’e argument was minstens 20.  Ek tel dus minstens 45 foutiewe teksverwysings (wat ek aangeteken het) in Jaco se proefskrif, wat ek beraam maklik soveel as 60 kan wees.  As iemand sonder ‘n konkordansie werk of nie die konteks lees rondom hierdie tekste nie sal so ‘n persoon nie by die bedoelde teksverwysings uitkom nie.  Hoewel dit vir my werklik vreemd is hoe so baie foutiewe verwysings kon insluip en deurgaan in ‘n doktorale proefskrif, by 1) die skrywer, 2) die promotor en 3) die eksterne eksaminatore, is dit by my persoonlik nie so baie gevra om hierdie menslike foute oor te sien nie.  Maar wat wel vir my effens onrusbarend is, is die moontlikheid dat hierdie groot aantal foute dalk ‘n aanduider is dat Jaco nooit eers na al hierdie tekste gekyk het nie (en nie eers te praat van die eksaminatore nie), maar dit bloot “gecopy” en “gepaste” het vanuit ander bronne.  Vanuit my eie nagaan van die teksverwysings is ek van mening, buiten dat ek nie met Jaco (of dan nou sy bronne) se interpretasies van die tekste saamstem nie, dat ‘n groot persentasie van hierdie sg. “probleemtekste” nie eers naastenby kan kwalifiseer as “probleemtekste” nie, en dat daarvan al te vinnig en maklik “probleemtekste” van gemaak is.  Dit getuig vir my gewoon van ontoereikende eksegese.  Ek kry die indruk dat die aantal “probleemtekste” op ‘n kunsmatige manier so veel as moontlik gemaak word om sodoende sy argument te probeer versterk.  Juis dit het egter vir my die “game weggegee” as dat die grootste gros van sy teksverwysings ‘n klomp ongemotiveerde strooimanne is wat deur liberale teoloë opgemaak is.  Die gebrek aan die herkenning van metafore, beeldspraak en standaard idiomatiese uitdrukkings in die Hebreeuse taal was veral tekenend hiervan. 

 

Die ander aspek van Jaco se verstaansraamwerk wat my opgeval het is die tipe logika waarmee hy werk.  Dit lyk vir my hou verband met die “alles of niks” tendens.  ‘n Ander aanduider hiervan is dat hy sê hy eers ‘n fundamentalistiese Christen was wat skynbaar in verbale inspirasie geglo het.  Dit op sigself blyk ‘n probleem te wees, siende dat enige iemand wat in verbale inspirasie glo, ontnugter sal word – al is dit bloot deur die feit dat ons nie eers die oorspronklike teks van die Bybel besit nie.  Dit wil voorkom asof hy veral gekonsentreer het op die letter van die Bybel en klaarblyklik die Gees wat die lewende Woord is, nooit ontmoet het nie (?) – die Gees wat die letter van die Bybel transendeer.  Dit lyk ook of sy logika oor hoe God behoort te wees (sou Hy sy bestaan erken) neig daarna om baie reglynig en simplisties te wees.  Dis asof hy alleenlik ‘n God van liefde antisipeer nie ook ‘n God van oordeel nie.  Dit lyk voorts asof hy enige dinamika of kompleksiteit in God se karakter wil uitstryk voordat hy bereid sal wees om in Hom te glo.  Dit is ironies, siende dat dit juis hierdie misterieuse en onpeilbare karaktertrekke van God is wat getuig daarvan dat Hy werklik God is en nie ‘n mens nie.  God kan nie in ‘n menslike “boksie” ingedruk word of met ‘n enkelvoudige logiese verduideliking verklaar word nie.  Die diepte-dimensie en dinamiese karakter van God kan nie in mensewoorde omgesit word nie.  Slegs die Heilige Gees kan ons bekend stel aan God se karakter en vir ons die Vader-hart wys.  En dit is hoe God dit wil hê.  God kom gooi nie as’t ware die pêrels vir die varke nie.  Hy begeer om in ‘n intieme verhouding met ons te staan voordat Hy die dieper bedoelings van Sy hart aan ons sal deel.  Ek is van mening dat die moedelose toestand waarin Jaco verkeer (waarvan hy dikwels getuig), vir my soos ‘n soort depressie is.  Dit is vir my dikwels verwant aan ‘n verlies aan kontrole.  Dalk wou Jaco te veel “alles beheer” deur sy denke, terwyl dit nie moontlik is nie, omdat menslike denke te beperk is om oor alles “kontrole te hê” en te geneig is om reglynig te wil dink.  Die posisie van “cognitive dissonance” (in kort: die neiging om aan teenstrydghede vas te hou eerder as om jou oortuiging te verander) is myns insiens ook ‘n byproduk van reglynige, menslike logika.

 

Maar eerder as wat ek Jaco deur al hierdie kommentaar wil “afskiet” of wil veroordeel, laat dit my eerder hartseer – hartseer dat Jaco so meedoënloos meegesleur is deur die bose agenda van die Satan in die vorm van liberale, naturalistiese (en in baie gevalle ateïstiese) teologie, en dat hy as’t ware ‘n maklike teiken was vir die Satan (onder andere a.g.v. sy persoonlikheidstipe).  Die misleiding van die Satan maak dat mens heeltyd onder die indruk bly al die konklusies waartoe jy kom is logies en sonder vooroordeel, terwyl presies die teenoorgestelde waar is.  En ek besef al te goed dat niks wat ek sê of uitwerk (ook nie hierdie stuk) Jaco sal oortuig nie, maar dat dit slegs God self is wat Jaco se hart kan verander.  Of Jaco al te ver heen is in sy ongeloof en of hy nog kan terugkeer na God weet ek nie, net God weet dit.

 

Soos ek in die inleiding gesê het is die grootste motief vir die uitwerk van hierdie kommentaar op Jaco se proefskrif nie om vir Jaco te probeer oortuig of selfs “verkeerd te bewys” nie.  My grootste motief vir die uitwerk van hierdie stuk is om ander gelowiges wat dalk onder aanval van die Satan kom, of die gevaar loop om meegesleur te word deur sy bose agenda, se geloof te help versterk en hulle te bemoedig deur te getuig van God se getrouheid.  Ek getuig dat God nog dieselfde is deur al die eeue heen, dat Sy Gees ons enigste finale Interpreteerder is, en dat ons Hom nodig het om ons te help om te bly vasstaan in ons geloof.  Ek getuig daarvan dat God getrou is om ons die ware bedoeling van elke teks in die Bybel te wys.  Daarmee dink ek nie al my interpretasies op hierdie tekste is die alfa en die omega nie.  Ek weet dat ek ook “verkeerd kon hoor” en dat my eie rede en logika ook maar beperk is, of dat my eie menslike verstaan dikwels tussenbeide kon tree.  Maar ek is tog van oortuiging dat hierdie stuk kan dien as geloofs-hulpmiddel om die pyle van die bose te help afweer.  Mag elke gelowige met ‘n passie vir die waarheid wat hierdie stuk lees, daardeur bemoedig en versterk word.

 

Philip du Toit

 

Bespreek dit hier.