1) Dit het te doen met ons sondige natuur wat in Christus gesterf het.
2) Dit verwys na die einde van die Ou Verbond en die vleeslike bestaanswyse, waarin die mens geregverdig was deur die werke van die wet. In die Nuwe Testament leef ons as wedergebore mense wat die sondige vlees afgesterf het.
Die belangrike vraag is of ons reeds die ou mens in Christus afgesterf het, en of dit nou gebeur wanneer ons tot geloof kom?
Kol 2:11-12 "in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, (12) omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het."
Christus het die vleeslike bestaanswyse vernietig in Christus. Beteken dit dat alle mense wat lewe ná Christus se sterwe en opstanding "by default" (van nature / van huis uit) nie meer onder die vlees is nie en reeds wedergebore is?
2 Kor 5:14-19 sê: "Want die liefde van Christus dring ons, (15) omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. (16) Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. (17) Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. (18) En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, (19) naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou."
Die volgende kan hieruit afgelei word:
1) Alle mense het gesterf in Christus.
2) Christus het vir alle mense gesterf.
3) "Die wat lewe" leef nie meer vir hulleself nie. Staan almal saam met Christus op in die lewe soos wat almal in Christus gesterf het? Dit is nie wat die teks sê nie.
4) As iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel. Is almal in Christus? As dit so is dat alle mense saam Christus gesterf het, maar nie almal saam met Christus opstaan in die nuwe lewe nie, dan kan hierdie teks nie dui op diegene wat saam Christus gesterf het alleenlik nie (wat alle mense sou insluit), maar op diegene wat beide in Christus gesterf het en ook opgestaan het in die nuwe lewe (die wat Christus in geloof aangeneem het). Slegs die wat glo in Christus, is nuwe skepsels deur die verbondenheid van hulle geloof. Geloof is die toegang tot die besondere genade in Christus (Rom 5:2). Dit is dus moontlik om nie in Christus te wees nie. Dit kan gesien word in hierdie insiggewende skrifgedeelte (Rom 16:7): "Groet Andronícus en Júnias, my stamgenote en my medegevangenes, wat in aansien is onder die apostels en reeds voor my in Christus gewees het." Dit dui daarop a) dat iemand slegs in Christus is wanneer hy 'n gelowige is, en b) dat alle mense nie "by default" in Christus is nie. Dit is dus betreklik duidelik dat diegene "in Christus" waarna 2 Kor 5:17 verwys, diegene is wat in geloof Christus as Verlosser aangeneem het (sien ook Rom 8:1; Gl 3:28; vgl. ook Joh 15:4).
Volgens Rom 6, identifiseer ons by die doop met water in beide Christus se dood en die afsterwe van die ou mens, deurdat ons daarin "saamgroei", asook die opstanding in die nuwe lewe deur die geloof:
Rom 6:5-8 "Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; (6) aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. (7) Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. (8) As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe."
Geloof is die sleutel tot die nuwe lewe. Dit sien mens in Joh 3:15,16,36. Daar is dus nie'n verdienstelike proses waarin die mens self as't ware moet sterf in die ou mens nie. As ons gered is, moet ons wel ons denke en gedrag in ooreenstemming bring met daardie realiteit. Deur geloof neem ons daardie realiteit aan in Christus. Wanneer ons ons geloof bely in Chrittus se soenverdienste en met Hom in sy dood en opstanding identifiseer, raak ons afsterwe van die ou mens, asook ons opstanding in die lewe effektief in ons lewe. En dit alles is in prinsipe reeds vir alle mense geskenk in Christus.
Sou mens egter sê dat alle mens effektief reeds tydens Christus se verlossingswerk wedergebore is, is dit net so goed mens sê dat alle mense wat vandag bestaan "by default" gered is en inherent goed, regverdig en in 'n verhouding van geregtigheid met Christus staan. Die argument lei gewoonlik verder dat die enigste werklike sonde, is die sonde van ongeloof. Mense gaan verlore omdat hulle Christus verwerp in ongeloof. Dit op sigself is natuurlik nie onwaar nie, maar geloof tot redding behels meer as net 'n verandering van denke (bekering), maar is die toegang tot die genade (Rom 5:2). Met ander woorde, dit beïndig die weerstand teen God se reddende krag. En hier is die belangrike punt van onderskeid. Die evangelie is die krag van God tot redding vir die wat glo (Rom 1:16). Wanneer iemand in geloof Christus se soenverdienste aanneem, kom God se reddende krag in werking en wederbaar God die mens se gees. 'n Nuwe, geestelike geboorte vind plaas vanuit die onvergangklike saad van die Woord (1 Pet 1:23): die swaard van die Gees.
Jesus se woorde aan Nikodemus belig dit verder: Joh 3:5-6 "Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. (6) Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees."
Iemand wat "uit die vlees gebore is" verwys na iemand wat natuurlik gebore word. Alle mense word "uit die vlees" gebore en is dis "by default" in die dimensie van vlees. Almal het "by default" 'n vleeslike bestaanswyse. Dit is slegs wanneer God 'n werk van wedergeboorte in iemand se gees bewerkstellig, dat so 'n persoon nie meer in die vlees is nie, maar in die Gees.
Dit word bevestig deur die volgende Skrifgedeeltes in Rom 8. Dit verduidelik die toestand van die wedergebore mens waarin die Gees van God woon:
Rom 8:9-11 "julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. (10) Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. (11) En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon."
Rom 8:13-14 "want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. (14) Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God."
Rom 8:16 "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is"
Met ander woorde, mens is nie outomaties of "by default" 'n kind van God nie, maar wanneer God se Gees in jou woon, wanneer jy gelei word deur God se Gees, en wanneer jou gees getuig saam met God se Gees dat jy 'n kind van God is. Dit kom eers in werking wanneer wedergeboorte 'n realiteit word in ons lewens. Geen mens word "by default" deur God se Gees gelei nie, maar deur sy eie vlees en begeertes. Geen kind is bv. van nature mededeelsaam en ingestel op ander nie.
Die implikasie van 'n siening dat alle mense "by default" gered is, maar dit bloot "verloor" as en wanneer hulle ongelowig word, is:
1) dat die mens nie inherent sondig of boos is nie, en by implikasie nie 'n sondige aard / natuur het nie.
2) dat daar geen verandering in die wese / aard van die mens plaasvind wanneer hulle in geloof Christus aanneem nie.
3) die mens word nie in sonde ontvang en gebore nie.
4) dat daar êrens tydens die Verlossingsgebeure ‘n effektiewe geestelike transformasie by alle mense plaasgevind het (wedergeboorte) waarin die aard van menswees op aarde radikaal verander het.
Al hierdie punte is problematies in die lig van die Nuwe Testament.
Rom 2 en 3 maak dit duidelik dat alle mense "by default" onder die sonde is en in die vlees is:
Rom 2:12 "Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word."
Almal wat gesondig het gaan verlore, of hulle nou die geskrewe wet van Moses het of nie. En wie het almal gesondig?
Rom 3:9-11 "Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, (10) soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. (11) Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie."
Rom 3:23 "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God"
Daar het niks verander in die inherente aard van die natuurlike mens sedert Christus se kruisiging en opstanding nie. Die natuurlike mens is steeds net so sondig en inherent verdorwe soos die mens voor Christus se koms. Mens kan bloot kyk na al die boosheid wat vandag in die wêreld teenwoordig is. 1 Kor 2:14 "Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word." Alle mense wat nie wedergebore is uit die Gees nie, is "natuurlike mense". Geen mens is "van nature" ‘n geestelike mens nie. Mens kan slegs ‘n "geestelike mens" word as God jou gees wederbaar het.
Rom 7 verduidelik die toestand van die ou mens voor wedergeboorte. Dit beskryf die inherente sondige aard van die mens:
Rom 7:18 "Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees (sondige natuur), niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie."
"Om te wil" is wel aanwesig, maar dit lê op 'n ander vlak as die sondige aard/natuur van die mens. Die wil, wat deel is van die mens se siel en 'n godgegewe gawe is aan alle mense, bevat nie iets substansiëel wat jou kategoriseer in terme van jou inherente aard nie, want ná wedergeboorte moet jou wil en jou denke (wat op dieselfde vlak lê) getransformeer word deur die werking van die Gees (sien