Home
News (Blog)
Opdatering van Evolusie-Skepping artikel
Wednesday, 18 August 2010
Ons sien op die internet gereeld dat nuwe webblaaie verskyn, bestaandes opgegradeer word, maar ook dat oues verdwyn. 'n Internet-gebaseerde artikel wat dus heelwat skakels na ander inhoud op die internet vertoon, moet dus gereeld opgedateer word. Juis om hierdie rede is die ... Read more
Esterhuyse sê Genesis en Eksodus is belangrike mites
Wednesday, 26 May 2010
Prof Willie Esterhuyse het só gesê op 'n dakonferensie vir Eietydse Spiritualitiet. Volgens 'n berig in die aanlyn Kerkbode is Esterhuyse se mening dat die Bybel nie ’n geopenbaarde waarheid is van bo nie en dat die teks insigself ook nie heilig is nie. ... Read more
Saambly is reg?
Monday, 30 November 2009
Verskeie stemme het begin opgaan vanuit die NG Kerk en die Hervormde Kerk dat die kerk 'n sagter stanpunt moet formuleer oor saambly. Die gevoel is dat tye verander het en dat die kerk nie so hard en eksklusief moet wees teenoor diegene wat ... Read more

Latest Articles & News

Popular Articles & News

Kommentaar op Claassen se 'Die klippe roep dit uit' Print E-mail
Friday, 12 February 2010
George Claassen, bekende ateïs en skeptikus van die Christelike geloof, is ook die wetenskapsredakteur van die Burger. Hy het op 2 Feb 2010 ‘n lesing gelewer by die Fakulteit Teologie. Hierdie lesing is o.a. beskikbaar op Kletskerk.

Ek maak enkele opmerkings hieroor.

Hy begin sy lesing deur te verwys na die opname in 10 lande wat gedoen is oor die persentasie van mense wat evolusie as ‘n feit aanvaar – minder as die helfte. In Suid Afrika is dit 42%. Hy sê: "Hoe is dit moontlik dat waarskynlik die belangrikste wetenskaplike ontdekking en teorie wat tot op hede gemaak en ontwikkel is, vandag steeds so verkeerd begryp en uit verband geruk word en waaroor soveel verkeerde daaglikse inligting versprei word deur intelligente mense?"

fDie trant van sy hele lesing is sodanig dat hy impliseer dat diegene wat die evolusieleer verwerp, nie intelligent is nie, irrasioneel is of analfabete is. Hierdie trant getuig nie van wetenskaplikheid nie, maar voer eerder die aanval op ‘n emosionele vlak. Die ander aspek wat duidelik na vore tree is dat die werklike kritiek teen die evolusieteorie nie hanteer word nie, maar dat enkele populêre misvattings of karikature geskep word om sy betoog te steun.

Hy sit sy betoog voort deur te sê: "’n Paar feite oor evolusie en dié wetenskaplike teorie se verhouding met ’n skeppingsidee en gevolglike skepper-filosofie illustreer hierdie toedrag van sake." Hy bespreek dan 4 punte:

 

 

1. Die eerste punt wat hy noem is: "Evolusie is nie ’n geloof nie."

Die manier hoe hy hierdie argument hanteer is nie korrek nie. Die kritiek is nie soseer dat evolusie ‘n soort religie of plaasvervangende aanbidding is nie. Die kritiek waarop hy sinspeel verwys eintlik na die feit dat die evolusieleer uitgaan van bepaalde voorveronderstellings, wat ekwivalent is aan ‘n geloofsposisie. Dit verwys m.a.w. na onbewese aannames wat ten grondslag lê van die evolusieleer.

 

Ek noem kortliks ‘n paar van hierdie voorveronderstellings:

Gitt, W (1993 Did God use Evolution? Ebner Ulm: Germany) noem die volgende (punte 1-8):

i) Biologiese evolusie word as ‘n gegewe aanvaar. Werklike biologiese evolusie is egter nog nooit waargeneem nie.

ii) Evolusie is ‘n universele beginsel. Dit is nog nooit bewys nie.

iii) Mens moenie ‘n Skepper bybring nie. Ateïsme, die geloof dat daar geen Skepper is nie, is een van die hoekstene van evolusie.

iv) Hierdie wêreld en alle lewende organismes is eksklusief gebaseer op materialistese beginsels (filosofies). Dit is ‘n monistiese beskouing.

v) Materie word as gegewe aanvaar. E=mc2 suggereer dat die som van alle energie en materie konstant is. Daar is geen wetenskaplike verduideliking vir die ontstaan van materie en energie nie. Dit word veronderstel dat dit teenswoordig was voor die "big bang."

vi) Mutasies en natuurlike seleksie is die aandrywingskragte van evolusie. Dit is nog nooit bewys nie. Mutasies kan nie nuwe genetiese informasie skep nie. Natuurlike seleksie is beperk tot die gene-poel van ‘n soort.

vii) Daar was ‘n egalige oorgang van nie-lewe tot lewe. In geen wetenskaplike eksperiment is lewe geskep vanuit dooie materie nie. Dit is meer geloofwaardig om te glo in ‘n Intelligente Ontwerper, as om te glo dat lewe ontstaan het vanuit "oersop."

viii) Die hede is die sleutel tot die verlede. Dit is waarskynlik een van die mees fundamentele aannames van ontstaans-wetenskap. In terme van die geologie, huidige prosesse (later bespreek) word ‘n lineêre ekstrapolasie (later bespreek) tot in die verlede gemaak op die basis van die aanname dat geologiese prosesse dieselfde was in die verlede. (Noag se vloed suggereer dat hierdie prosesse verander het sedert die vloed). Dit vorm die basis van teorieë soos radiometriese datering (later bespreek), ens. Omdat biologiese evolusie baie tyd verg, word ‘n geologies ou aarde (biljoene jare) veronderstel.

Ek voeg 'n punt 9 by:

ix) Enige nuwe getuienis (bv.
sagte, elastiese dinosaurusweefsel) word geïnterpreteer aan die hand van hierdie onderliggende geloofs-aannames. Waar iets soos sagte dinosaursweefsel die hele idee van miljoene-jaar-evolulsie negeer, word eerder alternatiewe verduidelikings aangebied om die data te maak pas binne ‘n miljoene-jare raamwerk. Die dinosaurusweefsel moet net miljoene jare oud wees!

 

Die aanname onderliggend aan Claassen se standpunt is dat evolusie ‘n feit is. Dit is egter nie ‘n houdbare standpunt nie, bloot omdat geen data in die natuur vanself spreek nie, maar geïnterpreteer moet word na gelang van bestaande teorieë. Die evolusieleer ontsnap beslis nie aan die aannames onderligged daaraan nie. Sien "Is Evolution a "Fact" of Science?" deur Thompson.

 

Wat die saak verder bemoeilik is juis die feit dat in die onstaanswetenskap (origin science) mens slegs huidige data van fossiele, gesteenstes en prosesse in die natuur tot jou beskikking het, en in die verlede moet ekstrapoleer en sodoende moet projekteer hoe en wanneer wat gebeur het in die verlede. Die neiging bestaan onder evolusioniste om in terme van die beskikbare data en prosesse, lineêre ektrapolasies te maak in die verlede in. Met ander woorde, die tempo van verval van elemente in gesteentes word waargeneem, die tempo waarteen kontinente tans beweeg word waargeneem (om slegs twee voorbeelde te noem), en ‘n lineêre projeksie word in die verlede in gemaak, as sou die tempo waarteen hierdie prosesse in die verlede plaasgevind het, dieselfde is as nou. Die probleem is dat daar te veel veranderlikes is om sodanige projeksies te maak. Bv. ‘n globale vloed bied ‘n uitstekende wetenskaplike verklaring vir onder andere:

 

i) die orde waarin meeste fossiele afgeset is (skulpe en kleiner seediere onder, dan visse, dan plante, dan diere, dan voëls en mense. Vir ‘n fossiel om gepreserveer te word moet dit onmiddelik deur ‘n katastrofiese gebeure vasgevang word),

ii) die gelykmatige manier (in soms byna perfek gelyke lae) hoe sedimente op mekaar lê wat nie kenmerkend is van eeue oue verwering nie maar eerder die gevolg is van terbudiete (afsetting deur watervloei),

iii) die waarskynlikheid dat gesteentes ouer voorkom as wat dit werklik is (omdat die persentasie van dogter-elemente op groot skaal deur die vloei van water beïnvloed is, en die gevolglike vermenging [“mixing”] van elemente wat in gesteentes plaasgevind het),

Sien
Skepping of Evolusie onder die opskrif "Wetenskaplike getuienis vir ‘n vloed-gebeure" vir meer inligting.

en

iv) die feit dat die persentasie suurstof en atmosferiese druk in lugblasies van ou amber heelwat hoër is as huidige atmosferiese druk en persentasie suurstof. Die afname in suurstofpersentasie en afname in atmosferiese druk sou ‘n logiese gevolg wees van ‘n kataklismiese, globale vloed waarby onderaardse water op groot skaal in die atmosfeer gekom het en die oseane vergroot het. Groot hoeveelhede water wat uitgekom het by Mid-Oseaniese Riwwe sou baie vinnige kontinentale drywing na buite veroorsaak het wat oor jare heen stadiger geraak het.

Sien
Skepping of Evolusie onder die opskrif "Hoe sou ‘n wêreldwye vloed plaasvind?" vir meer inligting.

 

Om dit anders te sê, hoofstroom evolusionisme laat by voorbaat die moontlikheid van ‘n globale vloed buite rekening omdat hulle glo dat dit ‘n feeverhaal is, daar is nie daadwerklike pogings om die geldigheid daarvan te probeer ondersoek nie. Enige toerievorming oor die onstaan van die aarde wat ‘n globale vloed binne rekening bring, word outomaties as onwetenskaplik of religie bestempel.

 

Die vergelyking wat Claassen maak tussen die evolusieleer en dinge soos termodinamika, swaartekrag, die kiemteorie van Pasteur, of Bernoulli se teorie oor lug- of vloeistofdruk, is ‘n misleidende vergelyking, want al hierdie teorieë hou verband met huidig waarneembare data wat hier en nou empiries waargeneem en geverifiëer kan word. Evolusie is nog nooit in aksie empiries waargeneem nie, maar bou op lineêre projeksies in die verlede op grond van huidige data en prosesse.

Om mense wat die hipotetiese aard van evolusie uitwys as "irrasionele mense" te bestempel, hou dus nie rekening met hierdie problematiek nie, maar getuig eerder van ‘n onverantwoordelike, modernistiese, positiwistiese wetenskapsfilosofie – iets wat ek al meermale by Claassen opgemerk het.

 

 

2. Die tweede argument wat Claassen voer is "Evolusie is nie maar net ’n teorie nie."

Claassen se hantering van diegene wat die evolusieleer kritiseer as "net ‘n teorie" is ook ‘n bepaalde karikatuur, en omseil die werklike problematiek, naamlik dat alle data in die natuur geïnterpreteer moet word en dat die onstaanswetenskap onderhewig is aan projeksies in die verlede. Die eintlike punt wat Claassen homself teenoor moet verantwoord is die feit dat postmoderne wetenskapsfilosofie ons daarop attent gemaak het dat geen wetenskapsbeoefening (en veral die nie-eksakte wetenskappe – soos ontstaanswetenskap) sonder voorveronderstellings, aannames en hipoteses kan werk nie. Dit is inderdaad ekwivalent aan geloof. Hierdie vorm van geloof kan nie losgemaak word van die wetenskap of van die alledaagse lewe nie.

Sien "
Nie of mens glo nie maar wat mens glo"

 

Die feit is ook dat selfs as bepaalde data pas gemaak kan word op ‘n bepaalde hipotese, dit nie noodwendig beteken dat daardie teorie waar is nie, of nog minder dat dit as ‘n voldonge feit bestempel kan word nie. Daar is in elk geval baie data wat juis nie so lekker inpas binne ‘n evolusionêre model nie, bv. die tempo waarteen die son groter word, die tempo waarteen die magnetiese pole op die aarde swakker word, die tempo waarteen die aarde besig is om stadiger te draai, die tempo waarteen rivierdeltas afgeset word, die tempo waarteen die maan wegbeweeg van die aarde, ens.

Sien

Sien
Skepping of Evolusie onder die opskrif "Ander getuienis vir ‘n jong aarde" en "Die aarde-maan sisteem" vir meer inligting.

Maar hierdie data word gerieflikheidshalwe geïgnoreer.

 

Wanneer Claassen verwys na die hoeveelheid "bewyse" wat opgestapel is vir evolusie, word die hipotetiese en interpratiewe aard van hierdie "bewyse" nie in ag geneem nie – ongeag die kwantiteit daarvan. Om iets as wetenskaplik of selfs in sekere opsigte wetenskaplik verantwoordbaar te bewys (waar hy bv. aanhaal: "For a theory to be considered scientific...") bewys op sigself nog nie die waarheid van sodanige teorie nie. Dit mag miskien in bepaalde opsigte wetenskaplik verantwoordbaar wees, maar in die geval van die evolusieleer kan dit onmoontlik rekening hou met al die veranderlikes in die verlede waaroor ons geen konkrete inligting het nie, en dit kan onmoontlik ontkom van al die onbewysbare aannames wat gemaak moet word om die evolusieteorie te laat werk nie. Benewens dit hou dit ook nie rekening met data wat die evolusieleer weerspreek nie.

Claassen sê "Daar is nie ’n enkele Hoekom?-vraag in biologie wat ordentlik beantwoord kan word sonder om evolusie te oorweeg nie."

Die begrip "oordentlik" is natuurlik subjektief. Hy moes eerder sê "oordentlik relatief tot evolusionêre bevooroordeeldheid."

Claassen se verwysing na Melanchton en Calvyn se afwysing van Coperinkus is skokkend naïef vir die werklike kritiek teen evolusie. Hy maak dus ‘n karikatuur en skiet dan die karikatuur af.

 

Claassen se verwysing na natuurlike seleksie as "werklike dryfveer" van evolusie verg eintlik ‘n verantwoording op sy eie. Evolusieleer gaan uit van die voorveronderstelling dat natuurlike seleksie evolusie is, wat volgens evolusionêre teorie wel die geval is. Maar dit is juis hier waar een van die wesenlike punte van kritiek teen evolusieleer lê. Want nutuurlike seleksie word nie deur skeppingswetenskaplikes ontken nie (baie skeppingswetenkaplikes verwys hierna as mikro-evolusie). Wat wel ‘n probleem is binne die evolusieleer is hoe natuurlike seleksie kan uitkom by makro-evolusie, waar ‘n soort (bv. hond) kan oorgaan na ‘n ander soort (bv. perd). Ek gebruik doelbewus nie hier die terme "oorgaan van een spesie na ‘n ander spesie" nie, want tegnies word een soort vink en ‘n ander soort vink vandag in die wetenskap as verskillende spesies bestempel. Die probleem is dat die evolusieleer beweer dat een soort (bv. vis) oor baie tyd (of by ander deur "punctuated equilibrium" – d.w.s. vinnig) kan evoleer na ‘n ander soort (bv. landdier). Hierdie sprong van een soort na ‘n ander kan nie wetenskaplik bewys word nie en is ook nog nooit in die natuur waargeneem nie. Natuurlik is daar die beweerde "oorgangsfossiele" wat gemaak pas word om evolusionêre bevooroordeeldheid te regverdig. Onder die kritiese vergrootglas bewys nie een van hierdie sg. oorgangsfossiele egter die sprong van een soort na ‘n ander soort nie.

Ek verwys kortliks na een voorbeeld, die gewilde "
Archaeopteryx," wat dikwels deur evolusioniste voorgehou word.

 

Daar bestaan die volgende probleme om hierdie spesie as ‘n oorgangsfossiel te beskou:

i. Beweerde "geveerde dinosaurusse" word 20 miljoen jaar later gedateer as die Archaeopteryx. Dit is ‘n probleem, aangesien Archaeopteryx nou as ‘n ware voël gesien word (P.J. Currie et al., eds., Feathered Dragons: Studies on the Transition from Dinosaurs to Birds, Indiana University Press, Bloomington, Indiana, 2004).

ii. Baie word gemaak van die feit dat die Archaeopteryx tande, vingers, vlerke en ‘n lang stert het. Dit sou na bewering sy reptieliese afkoms bevestig. Hoewel daar nie lewende voëls is wat tande het nie, is daar ander gefossileerde voëls wat ook tande het (bv. Hesperornis). Sommige moderne voëls soos die volstruis het "vingers" aan sy vlerke. Die Suid Amerikaanse hoatzin jongeling het goed ontwikkelde vingers en tone waarmee dit boom kan klim.

iii. Daar is ook geen meganisme al waargeneem wat skubbe in vere kan laat verander nie, ook nie ‘n meganisme wat ‘n reptiel-long in ‘n voël-long kan laat verander nie.

iv. Daar is ook geen legitieme geveerde dinosaurus al gevind nie. Daar was wel in 1999 met groot fanfare ‘n Archaeoraptor liaoningensis gepubliseer in die National Gegraphic, wat later as ‘n vervalsing uitgewys is.

sien:

http://www.answersingenesis.org/articles/nab/did-dinosaurs-turn-into-birds#fnMark_1_13_1

 

Die ander aspek wat dikwels deur evolusioniste in verband met natuurlike seleksie gebring word, wat Claassen niks oor sê nie, is die hele konsep van mutasies, wat ook een van die hoekstene vorm van die evolusieteorie. Volgens evolusionisme is mutasies die meganisme waarop een soort ‘n ander soort kan word. Dit is egter bekend dat geen mutasie nuwe genetiese inligting kan skep nie, maar bloot bestaande genetiese inligting kan herrangskik en bepaalde eienskappe kan aan en af skakel. Daar is geen harde bewyse wat daarop dui dat mutasies een soort kan omskep in ‘n ander soort nie.

 

 

3. Claassen se 3’e punt is teen wat hy noem: "Evolusie is nie immoreel nie Een van die gereelde beskuldigings wat anti-evolusioniste maak, is dat evolusie en bose ateïsme hand aan hand gaan en dan word as voorbeeld gebruik dat Hitler en Stalin hul moorddadige ideologieë gebou het op die superras- en supermensidee wat tot die dood van miljoene gelei het."

Hy verdedig dan deur onder andere te wys op Hitler se beroep op die bybel om sy moord teen Jode te regverdig. Natuurlik sou Hitler homself op die Bybel beroep het as dit hom pas, net soos Claassen bv. met sy verwysing na Mat 7:1 homself op die bybel beroep wanneer dit hom pas. Ek dink min mense koop hierdie alibi van Hitler vir sy optrede teenoor Jode. Hierdeur omseil Claassen die eintlike kritiek, naamlik dat die hele idee van die "ubermensch" gebou is op evolusionêre bevooroordeeldheid, en dat mens as’t ware die genetiese poel moet suiwer maak deur etniese suiwering om daardie "ubermensch" te skep. Dit is bekend dat Hitler wel die evolusieleer onderskryf het en ook in sy skrywes daarby aanklank gevind het. Dit het sonder twyfel ‘n invloed gehad op sy beskouïngs.

Die ander probleem is dat die immoraliteit van evolusie nie in die eerste plek lê in die invloed al dan nie daarvan op die dade van Hitler of Stalin nie, maar op die feit dat God as Skepper by voorbaat buite rekening gelaat word en as’t ware as voorvereiste dien vir die evolusieteorie. Ten diepste verwerp dit die gesag van die bybel, en beskou die skeppingsgeskiedenis as ‘n feeverhaal. Dit skep dan die president om enige iets in die bybel (insluitende moraliteit) te verwerp net soos dit jou pas.

 

 

4. Claassen se vierde punt is "Evolusie (en wetenskap) soek nie die vingerafdrukke van God nie. Gelowiges gebruik aanhoudend die argument dat die wetenskap nie die bestaan of nie-bestaan van God kan bewys nie. Dit is ’n veilige skans waaragter geen rasionele en intelligente mens behoort te skuil nie. Dit is nie die wetenskap se plig en doel om God se bestaan te bewys nie."

In ‘n sin is Claassen natuurlik reg, die wetenskap hou homself besig met dit wat empiries meetbaar is, binne die natuurlike realm. Wat egter onderliggend lê aan hierdie punt in Claassen se geval, is ‘n naturalistiese en positivistiese epistemologie.

Epistemologie het te doen met wat ons kan ken. Positivisme (hoewel daar verskillende vorme daarvan is) verwys in sy algemene definisie na ‘n beskouïng dat ons slegs geldige kennis kan hê oor dinge wat ons empiries kan meet (d.m.v. die wetenskaplike metode). Naturalisme hang ten nouste hiermee saam, naamlik dat alle verskynsels en alles wat ons kan ken en as waar beskou, op grond van natuurlike prosesse verklaar moet word, met ander woorde, dit ontken ‘n bonatuurlike, of metafisiese dimensie.

Hierdie soort epistemologie was veral kenmerkend van die modernistiese tydvak, waarin gemeen is dat "die wetenskap" ‘n greep kan hê op die totale lewe. Dit is natuurlik nie moontlik om hierdie soort wetenskapsfilosofie konsekwent te handhaaf nie, want daar is net te veel dinge in die lewe wat mens gewoon nie met die wetenskaplike metode kan verifiëer nie: bv. denke, wil, kreatiwiteit, liefde, emosie, lewe, bewussyn, idee, geloof, altruïsme, ens.

Die bonatuurlike dimensie is per difinisie nie meetbaar deur middel van natuurlike / wetenskaplike meetinstrumente nie. Indien wel, sou dit nie meer bonatuurlik wees nie. Dus, die feit dat empiriese meetinstrumente nie die bonatuurlike dimensie kan meet nie, is geen bewys dat dit nie bestaan nie.

Sien "
Maintaining a Biblical Worldview" vir meer inligting hieroor.

 

Claassen se stelling "Navorsing het reeds lankal die genetiese verband van gay-wees aangetoon" is gewoon onverantwoordelik en hou nie rekening met die wetenskaplike data in hierdie verband nie.

Die "Human Genome Project" is in 2003 voltooi (twee jaar voor skedule) in die hoop om ‘n "gay-geen" op te spoor. So ‘n geen is egter nooit geïdentifiseer nie. Daar is egter verskeie voorbeelde in die wetenskapswêreld waar wetenskaplikes gepoog het om ‘n genetiese oorsprong vir homoseksualiteit aan te dui.

Die bekendstes is seker dié van
Dean Hamer, Simon LeVay en J.M Baily en R.C. Pillard. In nie een van hierdie gevalle kon daar onomwonde ‘n genetiese verband met homoseksualiteit aangetoon word nie.Sien "Homoseksualitiet" vir ‘n bespreking daaroor.

 

Claassen se verwysing na homoseksualiteit by diere is irrelevant, want diere se "moraliteit" (as mens hoegenaamd van so iets kan praat) is nie vergelykbaar met mense nie. Diere van dieselfde spesie maak mekaar dood (bv. die sterkste mannetjies in ‘n trop, of die spinnekopwyfie wat die mannetjie opvreet), maar dit kan nie moord onder mense regverdig nie.

Claassen sê "Ons staan vandag by ’n waterskeiding waar religie en gelowiges kennis sal moet neem van die bevindings van die wetenskap en evolusionêre biologie, nie net wanneer dit hulle pas nie"

Skeppingswetenskaplikes sou dieselfde van evolusioniste kon verwag, naamlik dat evolusioniste kennis moet neem van die bevindings van die wetenskap in terme van waar dit die bevindings van evolusionêre biologie weerspreek, en nie net hulleself op die wetenskap te beroep wanneer dit hulle pas nie

Hy sê ook: "Die bewyse vir evolusie het nou so oorweldigend geword dat heelwat gelowiges dit selfs aanvaar."

Watter bewyse? Claassen veronderstel hier "bewyse" wat in der waarheid geen bewyse is nie, maar interpretasies van evolusioniste op grond van evolusionêre bevooroordeeldheid.

 

Claassen sê: "Jerry Coyne verklaar hierdie nuwe verskynsel so: ‘Die werklike oorlog is tussen rasionaliteit en bygeloof. Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is.’ Hy gaan verder: ‘As die geskiedenis van die wetenskap ons iets wys, is dit dat ons nêrens kom deur ons onkunde ‘God’ te noem nie.’"

Ai! Wat ‘n karikatuur!, asof enige teorie wat ‘n Skepper inkorporeer outomaties irrasioneel is, en asof geloof in God onkunde is. Ek sou sê dit sou meer rasioneel wees om te sê dat om te glo dat intelligente lewe vanuit dooie materie ge-evoleer het irrasioneel is.

In elk geval, alles wat nie ogv die empiriese wetenskap verklaarbaar is nie, is nie outomaties bygeloof nie. Ek dink gewoon dat die reikwydte van die empiriese wetenskap onvoldoende is om die totale werklikheid van menswees te verklaar.

Hy sê ook: "Religieë kan nie langer die werklikhede van wetenskaplike ontdekkings lukraak en selektief aanvaar, maar evolusie se bevindings en fisika se noukeurige radiodatering verwerp omdat dit die skeppingsboodskap van heilige boeke weerspreek nie."

Dit is ook ‘n bepaalde karikatuur. Skeppingswetenskap gebruik ‘n bepaalde hipotese, naamlik dié van ‘n Skepper (net soos evolusie Skepperloosheid as hipotese gebruik). Die data in die Bybel en die data in die natuur word dan aan die hand hiervan geverifiëer. In terme van verantwoordelike wetenskap (nie populêre wetenskap soos ons dit in die media sien nie) is daar nog nie data wat onomwonde die Bybelse geskiedenis weerspreek nie. Daar is egter heelwat data wat die geldigheid van Skeppingsteorie ondersteun.

 

Wat radiometriese datering betref. Dit op sigself is natuurlik geensins ‘n voorveronderstelling-lose tegniek nie. Trouens, dit wemel van voorveronderstellings, bv.

Om hierdie metode van datering te gebruik, moet aangeneem word dat daar 1) niks van die dogter-element teenwoordig was met aanvang nie, of 2) dat die hoeveelheid van die dogter-element met aanvang bekend is. 3) Dit moet ook bekend wees of enige elemente die sisteem binnegring het of verlaat het, met ander woorde: het die sisteem geslote gebly?

Daar is egter bepaalde faktore wat foute in die datering kan inbring. In terme van kalium-argon datering, is dit bekend dat verhitting (soos met die smelt van lawa) veroorsaak dat argon ‘n gesteente verlaat en dit te jonk laat lyk. As die minerale in die lawa nie gesmelt het nie, kan dit die gesteente te oud laat lyk. Met die smelt van lawa kan ook gebeur dat die gesteente nie "geslote" bly nie. Elemente kan in en uit die sisteem beweeg en die radiometriese ouderdom beïnvloed. Die vloei en sirkulasie van water deur gesteentes (soos met ‘n globale vloed) kan ook veroorsaak dat elemente die sisteem verlaat of binnedring.

Sien Evolusie of Skepping onder die opskrif "
Beperkinge van dateringsmetodes" vir meer inligting (ook ‘n bespreking van isochron datering en anomalieë in daterings).

Claassen sê: "Daarom is die fossielrekord so totaal onvolledig, net ongeveer 0,1 tot 1 persent van alle spesies wat al op Aarde gelewe het."

Dit gaan natuurlik uit van die evolusionêre voorveronderstelling dat daar inderdaad so baie spesies moet wees. Dit veronderstel dus dat die geweldige aantal "oorgangsfossiele" ontbreek. Ek sou eerder sê dat die fossielrekord daarop dui dat daar toe glad nie so baie spesies is as wat evolusioniste dit wil hê nie, maar dat dit i) dui op ‘n globale vloed wat ‘n klomp spesies laat uitsterf het en ii) dat hierdie beweerde "oorgangsfossiele" eintlik glad nie bestaan nie. Trouens, iets soos die selekant wat identies in die fossielrekord is (wat beweerde honderde miljoene jare oud is) as wat die vis vandag lyk, dui dit werklik op evolusie? Waarom sou dit nie ge-evoleer het nie, en ander spesies wel? En dit is nie die enigste spesie nie, baie spesies (plante en diere) word vandag beskou as sg. "lewende fossiele."

Claassen, sê "Die uitroepe van die wetenskap en evolusie se bevindings word daagliks in die klippe gelees." As hy eerlik is oor evolusie, sou hy eerder gesê het "evolusie se bevindings word daagliks in die klippe in-gelees" want dit is waarop evolusionêre teorievorming neerkom.

Claassen sluit af deur te vra: "Hoe kan religie of dan die aanbidding van ’n skeppergod tot voordeel van evolusionêre fiksheid wees en hoe pas godsdiens in by ’n natuur waarin evolusie so ’n kardinale rol speel?"

Mens sou kon antwoord met die teenvraag: "Hoe kan evolusionisme tot voordeel wees van ons menswees, en hoe pas evolusie in die natuur wat so duidelik spreek van ‘n Skepper en intelligente ontwerp?" Die antwoord is, dit pas nie in nie, want aan sy wortel is evoluisionime die omverwerping van God se gesag en die ontkenning van die getuienis in die natuur wat dui op God se skepping, en veral ook die ontkenning van God se oordeel oor die sonde: die vloed wat Hy gestuur het om alle sondaars van die aarde te verdelg:

2 Pet 3:3-7 "Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel (4) en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. (5) Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, (6) waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. (7) Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense."

 

Philip du Toit

Bespreek dit hier.

Last Updated ( Thursday, 08 July 2010 )
 
< Prev   Next >
Useful Links

Latest Forum Posts

Polls
Is evolusie en die bybel versoenbaar?
 

Who's Online
There are currently 7 Guests and 0 Users online

Cape Town Weather

Joh 8:32 ...and the truth shall make you free.

Translate Afrikaans to English  |  Cheapest notebook and desktop sales online  |  HP Compaq Dual Core for R4475  |  SA News  |  Afrikaanse  Nuus  |  Guitar Chords  |  Free Piano Lessons!!  |  Free Guitar Lessons!!  |  Add Melody to Chords  |  Free Classified Ads!!  |  Free Property Listings!!  |  Free Fax to Email!!  |  Car buying online  |  Web Hosting R17 p/m  |  Jobs SA  |   Toets jou persoonlikheid

TRU Developing - Creative Web Development