|
Nadat ek kommentaar gelewer het op elk van ‘n reeks artikels van Leon Retief (klik) wat op Kletskerk geplaas is, het Retief (ongeveer 10 maande na die laaste artikel in die reeks, en omtent presies ‘n jaar ná die artikel ter sprake) gereageer op my kommentaar (hier), onder die opskrif “Wetenskap en wensdenkery.” Ek moes dus weer al die artikels gaan lees en weer my geheue oor alles verfris.
Hy fokus in sy respons op een van my reeks van 6 artikels (die 2’e een , een van die korteres) en fokus veral op ‘n kort paragrafie wat ek oor kwantum fisika geskryf het, asook enkele opmerkings wat ek gemaak het oor die aard van die menslike bewussyn, en die verklaring wat kwantum fisika daarvoor bied al dan nie. My bedoeling was natuurlik nie om in ‘n debat met hom betrokke te raak of om hom anders te oortuig nie, maar bloot om informasie aan gelowiges beskikbaar te stel wat krities wil omgaan met die oortuigings van Retief.
Terwyl Retief die moeite doen om homself te verwerdig om enigsens te antwoord op iemand wat hy by implikasie ‘n “pseudowetenskaplike” noem (sien sy eerste paragraaf), is dat tog jammer dat hy nie by die begin begin, waarin ek in my eerste artikel gesels oor Retief se wetenskapsfilosofie nie. Ek haal enkele sinne aan daaruit:
" Indien ‘n teorie empiries toetsbaar is, versterk dit die wetenskaplike gangbaarheid en waarskynlikheid van sodanige teorie, maar alles wat vandag in die wetenskapswêreld as teorieë beskou word is nie ewe toetsbaar nie. Dan hang natuurlik ook af van wat as ‘n geldige toets beskou kan word. Die beste toets van evolusie sou wees om werklike evolusie empiries waar te neem terwyl dit plaasvind. Dit sou die ware toets wees of evolusie inderdaad as ‘n geldige teorie beskou kan word. Dit is egter nog nooit as sodanig waargeneem of in ‘n labratorium deur middel van ‘n empiriese eksperiment aangeteken terwyl dit gebeur nie. Dit wat evolusioniste as "bewyse" of geldige "toetsings" beskou, is in der waarheid onlosmaaklik verbonde aan bepaalde voorveronderstellings. Diegene wat dus evolusie as ‘n teorie beskou, moet noodwendig dus vashou aan die oper / breër definisie van wat ‘n teorie is (wat ook die definisie van "hipotese" insluit). Evolusioniste gebruik ongelukkig dikwels die enger definisie van ‘n teorie en stel evolusie gelyk aan ‘n feit, wat myns insiens onverantwoordelik en onwetenskaplik is.
Die akkuraatheid of waarskynlikheid van ‘n teorie hang saam met die mate van interpretasies en voorveronderstellings wat teenwoordig is in die hantering van getuienis. Al die metodes van verifikasie wat Retief noem, bevat egter groot hoeveelhede voorveronderstellings en interpretasies.
" En
" Om ooreenstemmende sodanige eienskappe onder spesies te identifiseer, bewys op sigself egter nie die hipotese dat daar inderdaad ‘n gemeenskaplike voorouer is by sodanige spesies nie. Al wat dit doen is om ‘n bepaalde frekwensie van ooreenstemmende eienskappe onder spesies te identifiseer. Dit bring nie op ‘n harde, empiriese wyse sodanige spesies in direkte verband met ‘n gemeenskaplike voorouer nie. Die metodologie bly dus induktief en nie deduktief nie. ‘n Induktiewe metode maak groter afleidings oor die individu na gelang van oorhoofse patrone, terwyl die deduktiewe metode groter afleidings maak na gelang van die individuele getuienis. Die induktiewe metode is dus baie nouer verbonde aan voorveronderstellings en interpretasie, as wat die deduktiewe metode is. Die induktiewe metode word in baie kringe nie as deel van formele logika (wat die grondslag vir die empiriese wetenskaplike metode behoort te wees) aanvaar nie. "
Ek is nie seker waarom Retief nie by my eerste artikel begin nie, want wetenskapsfilosofie en epistemologie lê tog ten grondslag vir jou ganse wetenskapsmetode wat jy gebruik, hoe jy gesag bepaal, hoe jy data hanteer, hoe jy ‘n teorie en ‘n hipotese hanteer, hoe jy data interpreteer, of jy bewus is van jou eie voorveronderstellings, ens.
Eerder as wat Retief homself op ‘n wetenskaplike wyse hierteenoor probeer verantwoord, verkies hy eerder om sy artikel af te skop met stellings soos hierdie:
Ek haal ‘n paar sinne aan:
“Anders as regte wetenskaplikes doen kreasioniste bitter min navorsing, publiseer feitlik geen navorsingsresultate nie en kan ook nie intern samehangende teorieë oor hul sogenaamde “wetenskap” aanbied nie. Hulle is dus noodwendig aangewese op die reklamegeleenthede wat die internet bied en hulle maak meesterlik gebruik hiervan.” (eie aksente)
En
“Daar is dus sterk ooreenkomste tussen kreasionisme en die advertensiewese en ek sal hierdie leuens later bespreek.” (eie aksente)
En
“Hierdie reeks artikels sal dan ook my enigste reaksie wees – mens kan net soveel tyd spandeer om kreasionistiese feëverhale te weerlê en bowendien het ek, soos die Ingelse sê, “a life to live” – dit is ook waarom ek so lank geneem het om te respondeer.” (eie aksente)
As ek net eers hierop kan reageer. Hy gebruik ‘n bekende retoriese tegniek wat bekend staan as “ad hominem.” Dit is om ‘n ander persoon verdag te probeer maak, voordat jy poog om die argumente van daardie persoon op eie meriete te hanteer. Met ander woorde, jy skop af deur die man te speel en nie die bal nie. Dit op sigself plaas ‘n vraagteken agter Retief se retoriek en metodiek waarmee hy afskop in sy reaksie.
Hierdie stellings in Retief se inleiding (soos hierbo aangehaal) is natuurlik sterk emosioneel gelaai, en getuig eerder van irritasie, misnoë en averise met sy kritici, as dat dit van huis uit begrond probeer word. Buiten dit meen ek dat sy respons kort kom aan basiese gespreksetiek waarin jy iemand wat met jou verskil op menswaardige en respekvolle wyse hanteer. Ek sien baie dieselfde tegniek wat in die polulêre media gebruik word deur evolusie-aanhangers om sodoende hul gehoor as’t ware emosioneel te betrek deur hulle byvoorbaat negatief te stem teenoor iemand wat krities staan teenoor hulle eie standpunt. Die tegniek om die integriteit van die persoon met opponerende standpunt verdag te maak, en as’t ware te brandmerk of te verkleineer (deur bv. ‘n term soos “pseudowetenskaplike”) sonder begronding, dien dus die retoriese doel om sy gehoor by voorbaat deur emosie te probeer oortuig eerder as deur grondige argumentasie, of anders gestel, dit poog om die leser te ontneem daarvan om argumente van beide persone op 'n objektiewe, onemosionele wyse op eie meriete self te evalueer. Is dit wetenskaplik verantwoordelik? Ek dink beslis nie so nie. Trouens, as hy ‘n term soos “pseudowetenskaplike” gebruik en daarmee saam dit nie nodig vind om homself te verantwoord t.o.v. die kritiek van sy eie wetenskapsfilosofie nie, plaas dit ‘n noodwendige vraagteken nie net agter sy wetenskapsfilosofie nie, maar ook agter sy metodiek.
Die ander eienaardige element in sy reaksie op my kritiek, is die feit dat hy aanhaal uit my kritiek sonder om na die bron daarvan te verwys. Ek het gedink dit sou ten minste wetenskaplike etiket wees om op die oorsprong van die aanhalings wat hy gebruik, te dui, al is dit dan nie met ‘n skakel na my blad wat mens kan klik nie, maar ten minste ‘n aanduiding waar lesers my kommentaar kan vind. Is Retief bang om lesers na my kommentaar te verwys omdat hulle dalk kritiek gaan sien wat Retief nie kan of nie bereid is om homself teenoor te verantwoord nie? Is dit nie goeie gespreksetiek om ten minste vir lesers aan te dui waar hulle die oorspronklike weergawe van my kritiek kan vind nie? Ek dink dit is die minste wat verwag kan word vir iemand wat aaspraak maak daarop om ‘n wetenskaplike te wees.
Wanneer Retief na sy aanvanklike artikel verwys oor bewussyn en kwantumfisika, erken hy:
“In die betrokke artikel verwys ek kortliks na aspekte van kwantumfisika wat moontlik met bewussyn te doen het. Daar is duidelik gestel dat die betrokkendheid van kwantumfisika by bewussyn slegs as ‘n moontlikheid beskou moet word en ek het die artikel geskryf om die eenvoudige rede dat dit ‘n interessante alternatief tot ander teorieë is. Geen bewering is gemaak dat die teorie wye aanhang geniet of dat dit algemeen aanvaar word nie. Te oordeel aan reaksies op du Toit se webwerf lyk dit egter asof sommige van sy geesgenote dink dat ek die spesifieke teorie “aangryp” – om nie te praat van die betrokke persone se onvermoë om te onderskei tussen bewussyn en moraliteit nie!” (eie aksente)
Hy erken dus dat daar nie genoeg gronde is om hierdie verband wat hy tussen kwantumfisika en bewussyn lê in beton te giet nie of tot voldonge feit te verhef nie. Daardeur het hy homself reeds in die voet geskiet, want net daarnaa gaan hy voort om my identifisering van die kwantumteorie as tentatiewe en spekulatiewe teorie, summier af te skiet wanneer hy sê: “Du Toit se stelling dat kwantumfisika spekulatief en tentatief is getuig van diepgaande, grondige en allesomvattende onkunde oor hierdie aspek van fisika en is van alle waarheid ontbloot – en hierdie is baie sagkens gestel.” Nou hoe nou? Die feit dat hy homself nie verantwoord het t.o.v. sy eie wetenskapsfolosofie, help ook nie sy argument nie. Want hy het homself weerspreek deur in die een asem te erken dat hy slegs sy verband met bewussyn en kwantumfisika as ‘n moontlikheid beskou, maar in dieselfde asem my identifisering van die spekulatiewe aard van kwantumfisika totaal van die tafel af te vee as “van alle waarheid ontbloot.”
Ek het nie in my aanvanklike artikel kwantum fisika totaal van die tafel gevee of beweer alles daarin is ‘n klomp bog nie, soos wat Retief skynbaar impliseer nie. Ek het bloot gekonsentreer op die aspek waarin 1) beweer word dat twee partikels gelyk op een plek kan bestaan, en 2) of mens ‘n verband kan lê met kwantum fisika en die mens se bewussyn al dan nie.
Alhoewel dit mag wees dat die artikel waarna ek aanvanklik geskakel het oor kwantum meganika op Wiki (wat in elk geval intussen verander het – omdat dit gereeld opgedateer word) slegs na Einstein verwys wat krities was teenoor baie van die bewerings van kwantumfisika, sal Retief sekerlik erken dat Einstein nie die enigste wetenskaplike in die geskiedenis is wat van die bewerings van kwantumfisika bevraagteken het nie. Die ander belangrike punt is dat die artikel waarna ek geskakel het bloot na kwantum meganika verwys en nie so seer ingaan in kwantum teorie (die toepassing daarvan) nie. Ek kom terug daarop. Baie van Einstein se kritiek teen van die bewerings van kwantumfisika is ook deur ander verder uitgebou en word ook deur baie van vandag se wetenskaplikes as belangrik beskou.
Sien bv. die EPR paradoks, waar dit saam met Einstein ook uitgebou is deur deur Podolsky en Rosein.
http://en.wikipedia.org/wiki/EPR_paradox Die EPR paradoks sê bv. “Quantum mechanics is incomplete in the sense that some element of physical reality corresponding to B cannot be accounted for by quantum mechanics (that is, some extra variable is needed to account for it)”
Nou weet ek dat meeste populêre hoofstroom wetenskaplikes stem nie meer met alles saam in die EPR Dokument nie (selfs Einstein het gemeen dit is te formalisties geskryf en het nie heeltemal bereik wat dit moes nie), maar dit opsigself verhef nie moderne hoofstroom kwantumfisika tot ‘n feit nie, en oorkom nie die spekulatiewe toepassing daarvan nie. Want of mens nou die EPR dokument aanvaar of nie, kwantumfisika behels nie net kwantum meganika nie, maar ook kwantum teorie. Retief lys heelwat aanhalings oor kwantum meganika, maar brei wynig uit oor die interpretasie daarvan, of die moontlike toepassings daarvan (kwantum teorie) en die geldigheid van sodanige toepassings al dan nie. Met ander woorde, kwantum meganika, net soos enige ander gemete data interpreteer nie hulleself nie, maar moet geïnterpreteer word. En daar is so baie verkillende interpretasies van kwantum meganika, dat dit oorbodig is om op te noem. Hierdie artikel lys 11, en sê daar is ook variasies.
http://en.wikipedia.org/wiki/Interpretation_of_quantum_mechanics
Siende dat die eintlike gesprek gaan oor die verband al dan nie van kwantum fisika met menslike bewussyn, bevestig velerlei probleme met die interpretasie van kwantum meganika, die tentitatiewe en onsekere toepasssing daarvan.
Bv. “ The difficulties of interpretation reflect a number of points about the orthodox description of quantum mechanics, including: 1. The abstract, mathematical nature of the description of quantum mechanics. 2. The existence of what appear to be non-deterministic and irreversible processes in quantum mechanics. 3. The phenomenon of entanglement, and in particular, the correlations between remote events that are not expected in classical theory. 4. The complementarity of possible descriptions of reality. 5. The essential role played by observers and the process of measurement in the theory. 6. The rapid rate at which quantum descriptions become more complicated as the size of a system increases. “ Sien http://en.wikipedia.org/wiki/Interpretation_of_quantum_mechanics
So, om dus terug te kom op die verband wat Retief lê tussen menslike bewussyn en kwantumfisika. In een asem noem hy dit slegs ‘n “moontlikheid” en in die ander asem verdedig hy kwantum fisika met vaste sekerheid (skynbaar?), met bv. sy aanhaling van Kuttner wat sê “Quantum theory is stunningly successful. Not a single one of its predictions have ever been wrong. Quantum mechanics has revolutionised our world. One-third of our economy depends on products based on it.” – ‘n stelling wat ek sterk bevraagteken!, (onder andere omdat Kuttner skynbaar die begrippe kwantum teorie en kwantum meganika met mekaar verwar). So, ek weet nie hoe om hierdie teenstrydighede in Retief se reaksie met mekaar te versoen nie.
Die stelling van Kuttner kom uit sy boek “Quantum Enigma: Physics Encounters Consciousness.” En soos verwag kan word, is daar inderdaad substansiële kritiek teenoor die uitlatings in daardie boek deur mense wat (soos waarop Retief aandring) sy werk ewekie-geëvalueer het.
Sien bv. die kriitiek deur Navorsingsprofessor van Fisika: Michael Nauenberg van die Universiteit van Kalifornië, Santa Cruz : http://physics.ucsc.edu/~michael/qefoundations.pdf . Dit bevraagteken onder andere ook die postulering dat ‘n partikel op twee plekke gelyk kan wees.
Sien ook ‘n artikel oor Kuttner se boek en verdere kommentaar daaroor in ‘n wetenskaplike tydskrif hier: http://physics.ucsc.edu/~michael/qeajp.pdf
Alles interessante leesstof. Maar ek wil nie te diep daarop ingaan nie, want ek sien nie die punt in om nou ‘n in diepte gesprek oor kwantumfisika te voer nie. Ek dink dit is genoeg om aan te toon dat daar meer as een kant van die saak is, juis vanuit wetenskaplike geledere.
My vraag is eerder, probeer Retief dus ‘n ongeballanseerde voorstelling maak van die aansprake van kwantum fisika? Ek dink so!
Wanneer Retief verder praat oor die menslike bewussyn, sê hy: “Dat die natuurwetenskap tans nie ‘n bevredigende verklaring van bewustheid kan bied nie beteken hoegenaamd nie dat daar nie ‘n naturalistiese verklaring bestaan nie.” My vraag is, hoe begrond Retief hierdie stelling? Hy kan dit nie bewys nie, want daar is gewoon nie harde bewyse nie. Om net te impliseer daar moet ‘n naturalistiese verklaring voor wees, is geen bewys op sigself nie, maar eerder ‘n erkenning dat daar nie ‘n naturalistiese verklaring voor is nie. Om te impliseer daar gaan later ‘n naturalistiese verklaring voor gaan wees in bloot ongegronde spekulasie.
Retief vra: “indien die menslike psige ‘n nie-natuurlike verskynsel is, hoe kan ‘n nie-natuurlike en nie-materiële entiteit ‘n materiële entiteit beïnvloed? Oftewel, hoe kan nie-natuurlike gebeure in of buite die brein die gedrag van die liggaam affekteer en hoe meet mens hierdie nie-natuurlike gebeure?”
Hier is dit weereens belangrik dat Retief homself eers moes verantwoord het t.o.v. sy wetenskapsfilosofie, veral met verwysing na metafisika. Want ‘n bonatuurlike verskynsel is per definisie nie meetbaar met natuurlike meetinstrumente nie. En die feit dat dit nie meetbaar is nie, is geen bewys dat dit nie bestaan nie. Dit moet dus steeds deur enige verantwoordelike wetenskaplike as reële moontlikheid beskou word.
Retief sê: “As mens gedurig na die bonatuurlike moet gryp om aan iets wat tans onverklaard is ‘n “verduideliking” te probeer gee sou ons vandag nog in die steentydperk geleef het.”
Ek sou eerder sê dit is ‘n geval dat ateïstiese wetenskaplikes alles in hulle vermoë sal doen om bonatuurlike verskynsels as natuurlike verskynsels te probeer verklaar terwyl dit gewoon nie moontlik is nie.
Retief sê: “Du Toit noem dat daar geen verklaring is vir “ander werklike dinge in menswees… bv. kreatiwiteit, liefde, emosie, idee, geloof” nie. Terwyl die wetenskap inderdaad nog ‘n lang pad sal moet aflê voordat hierdie verskynsels selfs gedeeltelik verklaar kan word, sal du Toit dalk verbaas wees om te weet hoeveel daar reeds al bekend is.”
Hierin openbaar Retief sy duidelike positivistiese vertrekpunt, ‘n wetenskapsbeskouing wat aanspraak maak daarop dat die wetenskaplike metode volledige beheer en verklaring kan gee vir alles in die lewe – ‘n sterk modernistiese (uitgediende) wetenskapsfilosofie. Postmoderne wetenskapsfilosofie toon egter dat ‘n positivistiese epistemologie gewoon nie volhoubaar is nie. Alle kennis en persepsies van enige mens, en dit wat hy/sy as waar beskou, kan gewoon nie alles deur die wetenskaplike metode empiries geverifiëer word nie. Dit is ‘n feit soos ‘n koei.
Retief sê: “Ander primate as die mens besit ‘n sin vir regverdigheid en altruïsme – vanselfsprekend minder ontwikkeld as dié van die mens, maar dit is daar. Die gevolgtrekking is onvermydelik: Ons is nie sò uniek as wat ons dink nie en daar is niks bonatuurliks aan ons gedrag of breinfisiologie nie.” As dit dan so is dat soos Retief vroeër gesê het dat die bonatuurlike dimensie nie gemeet kan word (deur wetenskaplike meetinstrumente) nie, en dat dit eintlik nog ‘n onbekende veld is, hoe kan so ‘n gevolgtrekking onvermydelik wees? Want hoe meet mens nou “altruïsme” en ‘n “sin vir regverdigheid” by diere? Aan humanistiese waardes vir moraliteit, aan waardes vir moraliteit wat natuurwetenskaplikes toeken of aan ‘n gesaghebbende bron vir moraliteit? Of meen Retief mens kan “altruïsme” en “ ‘n sin vir regverdigheid” meet met ‘n empiriese, wetenskaplike meetinstrument? Hoe dan nou?
Philip du Toit Bespreek dit hier . |