Home
News (Blog)
Opdatering van Evolusie-Skepping artikel
Wednesday, 18 August 2010
Ons sien op die internet gereeld dat nuwe webblaaie verskyn, bestaandes opgegradeer word, maar ook dat oues verdwyn. 'n Internet-gebaseerde artikel wat dus heelwat skakels na ander inhoud op die internet vertoon, moet dus gereeld opgedateer word. Juis om hierdie rede is die ... Read more
Esterhuyse sê Genesis en Eksodus is belangrike mites
Wednesday, 26 May 2010
Prof Willie Esterhuyse het só gesê op 'n dakonferensie vir Eietydse Spiritualitiet. Volgens 'n berig in die aanlyn Kerkbode is Esterhuyse se mening dat die Bybel nie ’n geopenbaarde waarheid is van bo nie en dat die teks insigself ook nie heilig is nie. ... Read more
Saambly is reg?
Monday, 30 November 2009
Verskeie stemme het begin opgaan vanuit die NG Kerk en die Hervormde Kerk dat die kerk 'n sagter stanpunt moet formuleer oor saambly. Die gevoel is dat tye verander het en dat die kerk nie so hard en eksklusief moet wees teenoor diegene wat ... Read more

Latest Articles & News

Popular Articles & News

Die karakter van God Print E-mail
Monday, 19 March 2007

Wanneer mens kyk na die karakter van God soos die Bybel daarvan praat, is dit van uiterste belang om te begin by die feit dat ons menslike rede se verstaansvermoë te beperk is om vir God volledig en toereikend te kan begryp.  Ons kan nie vir God in 'n menslike skema indruk nie.  Die vernaamste rede is dat ons nog nie verheerlikte liggame het nie (1 Kor 15:52-53) en daarom nie vir God van aangesig tot aangesig kan sien nie.  Ons ken daarom nou ten dele, maar eendag sal ons ten volle ken (1 Kor 13:12).

Ander tekste wat op die mens se onvermoë dui om God ten volle te begryp is bv. die volgende:

Job 11:7-9 "Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? (8) Hoogtes van die hemel is dit – wat kan jy doen? Dieper as die doderyk – wat kan jy weet? (9) Langer as die aarde is die maat daarvan en breër as die see."

Ps 40:6 "Groot dinge het U gedoen, HERE my God – u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel."

Psa 139:5-6 "U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. (6) Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie."

Jes 40:13 "Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?"

Rom 11:33-35 "o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! (34) Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? (35) Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?"

1 Kor 2:14-16 "Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. (15) Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. (16) Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus."

1 Kor 2 dui op die feit dat die natuurlike rede se kapasiteit en dimensies nie voldoende is om volle sin te maak van wie God in die diepste van sy wese is nie. Die wedergebore mens se gees, wat gelei en gevul is met God se Gees kan wel sin maak van wie God is. Ons kan God dus primêr op 'n geestelike vlak ken. Trouens, die kapasiteit en dimensies van ons gees kan baie beter vir God ken as ons verstand. Ons gees is dus ons primêre sintuig waaraan ons God kan ken. Die denke moet dus ondergeskik staan aan die gees, gelei deur die Heilge Gees. Dit is dieselfde beginsel wat dit belangrik maak dat ons denke vernuwe moet word na gelang van die Gees se lewe en werk in en deur ons (bv. Rm 12:2).

Die ander belangrike rede waarom ons nie volledig vir God in die sfeer van die natuurlike rede kan ken nie, is die feit dat ons denke en ons verwysingsraamwerk (simboliese universum) grotendeels aan menslike taal gekoppel is. Die taal wat iemand praat en die verwysingsraamwerk van daardie persoon bestaan in wisselwerking met mekaar. En enige mens se verwysingsraamwerk en taal is beperk, relatief tot die somtotaal van alle ander mense in die wêreld en relatief tot God. Menslike terminologie en taal-simbole is altyd analoog tot sy eie verwysingsraamwerk. Daar gaan dus onvermydelik ook iets verlore van die oorspronklike taal waarin die Bybelskrywers die Bybel geskryf het en die vertaalde Bybel wat 'n Christen in sy eie taal lees. Die taal waarin die Bybelskrywers geskryf het, kan op sy beurt ook weer aan hulle eie verwysingsraamwerk gekoppel word wat sy eie beperkinge het. Die Bybel praat daarom van die onvermoë van menslike woorde om dit wat in 'n geestelike dimensie is toereikend te verwoord.

Rom 8:26 "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." God se Gees kan dinge "verwoord" aan God en op 'n manier vir ons intree met sugtinge wat nie met menslike woorde beskryf kan word nie.

Wanneer Paulus praat oor die spreek in ander tale (glossolalie), beskryf hy dit as die spreek van "verborgenhede" (1 Kor 14:2). Hierdie talespraak is in die dimensie van die gees (1 Kor 14:2,14,15,16) en die verstand is nie daarby betrokke nie; die verstand is letterlik "onvrugbaar" (1 Kor 14:14). Dit is dus geestelike taal wat nie in die dimensie van die verstand geskied nie, maar die dimensie van die gees. Dit kan dus dinge sê en verwoord wat nie in gewone menslike taal verwoord kan word nie. Talespraak kan God dus op 'n ander manier en 'n ander vlak verheerlik as mensetaal. Daarom bou dit die mens se eie gees op om in tale te spreek (1 Kor 14:4).

Paulus sê in 1 Kor 2:4 "en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag," Woorde van menslike wysheid is nie dit wat die deurslag gee waarom mense hulle tot God bekeer nie, maar die betoning van God se geestelike krag (sien ook 1 Kor 4:20).

Nadat God homself aan Job openbaar het in die storm, het Job gesê:

Job 39:37-38 "Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. (38) Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie."

God se grootheid vra soms dat mens se eie menslike woorde moet ophou, en dat mens moet swyg:

Hab 2:20 "Maar die HERE is in sy heilige tempel—swyg voor Hom, o ganse aarde!"

Ps 46:11 "Laat staan (wees stil) en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde."

Sag 2:13 "Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning."

 

Karaktertrekke van God se liefde

Daar is sekere pertinete karaktertrekke van God wat die Bybel vir ons uitwys. Ek gee slegs 'n paar tekste in elke geval:

 

God is liefde

Die Bybel is vol van God se liefde. Dit is deel van sy wese.

Deut 7:9 "Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte."

Rom 5:5 "en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is."

Eph 2:4 "Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,"

1 Joh 4:10 "Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes."

1 Joh 4:16 "En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom."

 

God vergewe en versoen

God se vergifnis ven versoening wat Hy onverdienstelik aan die mens gee is deel van sy liefde en genade.

Lev 4:20 "en met die bul doen soos hy met die sondofferbul gedoen het. So moet hy met hom maak; en die priester moet vir hulle versoening doen, en dit sal hulle vergewe word."

Lev 4:26 "Hy moet ook al die vet op die altaar aan die brand steek soos die vet van die dankoffer. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens sy sonde, en dit sal hom vergewe word."

Ps 32:1 "‘n Psalm van Dawid; ‘n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is."

Ps 32:5 "My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela."

Jer 31:34 "En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie."

Mark 2:5 "En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!"

1 Joh 1:9 "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig."

Ps 78:38 "Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie."

Jes 6:7 "en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen."

Rom 5:10 "Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is."

2 Kor 5:18 "En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,"

Kol 1:21 "Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen"

 

God is lankmoedig

Ten spyte daarvan dat die mens dubbel en dwars God se oordeel verdien, is God lankmoedig en hou sy oordeel terug.

Eks 34:6 "En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou;"

Neh 9:17 "ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hul nek verhard en in hul wederstrewigheid ‘n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny. Maar U is ‘n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie."

Ps 86:15 "Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou."

Luk 18:7 "Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?"

 

God is getrou

God is getrou aan Homself. Hy hou sy beloftes en verbonde. God kan nooit teruggaan op sy eie Woord nie.

Ps 100:5 "Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag."

1 Kor 1:9 "God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here."

1 Joh 1:9 "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig."

Heb 10:23 "Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou"

 

God is goed

Jes 63:7 "Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE, ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede."

 

God is genadig

God se genade is groter as wat ons ooit sal besef. Sy genade teenoor die mens wys dat Hy die mens onbeskryflik liefhet en dat God ten spyte van die mens se sonde Sy genade aan hom gee sonder dat hy dit verdien.

Gen 6:8 "Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE."

Gen 33:5 "Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het."

Gen 33:11 "Neem tog my begroetingsgeskenk wat u aangebied is, want God het my genade bewys, en ek het volop. En hy het by hom aangehou, sodat hy dit aangeneem het."

Luk 1:30 "En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind."

Rom 5:2 "deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God."

Rom 5:15 "Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword."

1 Kor 1:4 "Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is,"

Jud 1:4 "Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën."

 

God is dinamies

God is nie voorspelbaar nie. Omdat God soewerein, almagtig en dinamies is, kan Hy sy plan verander. Aangesien God sy verhouding met die mens ernstig neem as die hoofdoel waarmee Hy die mens gemaak het (1 Joh 1:1-3), kan God sy plan of sy gesindheid teenoor mense verander. God se genade is so groot dat Hy die mens toelaat om met Hom te onderhandel. Hierdie bereidheid van God om te onderhandel is binne sekere perke. God sal nooit ingaan teen sy eie karakter nie. Een so 'n voorbeeld is waar Abraham met God onderhandel het vir die hoeveelheid regverdige mense wat nodig is om vir Sodom en Gomorra nie te vernietig nie (Gen 18:23-33).

Die 1983 Afrikaanse vertaling vertaal Jesaja 43:26 so: "Kla My aan, laat ons die saak tussen ons uitmaak, praat jy en bewys jou onskuld."

 

God het berou oor onheil

God kan berou kry oor onheil wat Hy gespreek het. God kan sy oordeel versag of afwend, omdat Hy liefdevol, genadig en lankmoedig is.

Eks 32:14 "Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen."

2 Sam 24:16 Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die HERE berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die HERE was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

Jer 18:8 "maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen." (sien ook 26:3,13,19; 42:10)

Jona 3:10 "En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie."

Jona 4:2 "Toe bid hy tot die HERE en sê: Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil."

 

God het emosie

God is die Skepper van emosie. Daarom het God self ook emosie. God "verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel " (Sef 3:17). Maar Jesus het ook gehuil (Joh 11:35). Jesus het "innig jammer" gevoel vir mense (Mt 9:36). Die Heilige Gees kan bedroef word (Jes 63:10; Ef 4:30). God kan ook kwaad word. Num 22:22 "Maar die toorn van God het ontvlam…" Rm 1:18 sê: "Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar…"

 

God is heilig

Dikwels beklemtoon ons net God se liefde en genade en ons is huiwerig om oor God se heiligheid (Jes 6:3; Op 4:8), regverdigheid en sy oordeel te praat. God se liefde kan egter nie bestaan sonder sy heiligheid nie. Daar is geen boosheid en geen sonde in God nie (Heb 4:15; 7:26; 2 Kor 5:21; 1 Joh 3:5). God se liefde is suiwer. As dit nie daarvoor was nie, was Sy liefde goedkoop of profaan. God het ons juis so lief dat Hy die sonde haat. God het ons so lief dat Hy ons nie in die sonde wil los nie, maar ons daarvan wil bevry. Daarom is God se verlossing van so aard dat Hy ons sonde wegneem en ons wedergebore mense maak, sodat ons in 'n heilige verhouding met Hom kan staan. God kan nie gemeenskap hê met die duisternis nie (1 Jh 1:5-6). God kan nie met ons in ‘n geestelike verhouding tree as hy nie eers ons gees nuut maak nie (2 Kor 5:17; 1 Pt 1:23). Daarom het God Homself voorgeneem om ons heilig en sonder gebrek in sy liefde te stel (Ef 1:4).

 

God oordeel regverdig

Omdat God getrou is aan Homself en omdat Hy heilig is, is Hy ook ‘n God wat die sonde oordeel. As God die sonde sou oorsien, sou Hy nie heilig wees nie. As God nie ook ‘n God van oordeel was nie, sou Hy ook nie ‘n God van suiwer liefde kon wees nie. God is ook ‘n regverdige regter wat jaloers is op sy kinders. Die duiwel en die bose magte staan in stryd met God. Sodra God sonde akkomodeer en ongestraf laat bly, akkomodeer Hy ook die bose magte. God het egter oor die bose magte getriomfeer en in die openbaar tot skande gemaak (Kol 2:15). Angesien God sonde nie ongestraf kan laat bly nie, het God alle straf op Christus laat neerkom (Jes 53:5). Hy het Hom sonde gemaak sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Kor 5:21). Uiteindelik gaan God alle sondaars en alle mense vir wie Hy nie ken en in 'n persoonlike verhouding staan nie, vir ewig veroordeel en verdoem (Joh 12:48; Rom 2:16; 1 Pt 4:5; Op 6:10). Hier is ‘n paar tekse wat dui op God se regverdige oordeel:

Ps 96:10 "Sê onder die volke: Die HERE is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel."

Jes 11:4 "maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak."

Jes 51:5 "My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop."

Mat 19:28 "En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel."

Mat 23:14 "Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang."

Joh 5:22 "Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,"

Joh 5:30 "Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het."

Joh 12:48 "Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag."

 

Oordeel God onskuldiges?

Een van die aanklagte wat dikwels na God gerig word is dat Hy onskuldige mense oordeel. Die belangrikste vraag waarmee mens moet begin as mens hierdie vraag vra is of daar hoegenaamd enige onskuldige mense is? Rm 3:10-12 sê "daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie;" en "daar is niemand wat God soek nie;" en "daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie." Hierdie is dikwels 'n punt wat baie mense nie snap nie. Mense plaas dikwels vir God in die beskuldigingsbank en oordeel Hom op grond van menslike standaarde. Die mens is dikwels geneig om God te oordeel aan die hand van hoe hy dink God behoort op te tree. Maar dit wat mense dink hoe God "behoort op te tree" is altyd 'n subjektiewe, menslike oordeel, want daar is geen objektiewe kriterium aan die hand waarvan reg en verkeerd gemeet kan word nie, behalwe God se karakter self en die manier hoe Hy sy wet / basis-moraliteit in mense se gewetes geopenbaar het (Rom 2:15) en deur sy Gees aan mense openbaar.

Die ander belangrike aspek van God se oordeel is dat alle mense in elk geval God se oordeel verdien. Na regte het geen mens 'n "reg" op lewe nie. Trouens, geen mens het 'n reg op enige iets op aarde nie. Dit wat die mens het en die ruimte wat die mens op aarde het om te lewe het God uit sy genade, onverdiend aan hom geskenk. Indien elke mens na regte vergeld moes word vir wie en wat hy / sy is, moes almal verlore gegaan het. Daarom is elke mens op die aarde, die "hele wêreld" doemwaardig voor God (Rom 3:19). Die val van die mens het implikasies gehad vir die hele skepping. Met die vloek wat God uitgespreek het na Adam se sonde (Gen 3:14-19), is die hele aarde vervloek (vers 17). Hos 4:3 vertel bv. hoe die hele land treur en alles wat daarop woon (ook diere en visse) wegkwyn as gevolg van die sonde van die volk. Rom 8:20 sê "Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het." 2 Pt 3:7 sê: "die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense."

Baie mense verkeer onder die indruk dat die lewe hulle "iets skuld" of dat God hulle "iets skuld." Maar die feit van die saak is, God skuld niemand niks!! Die feit dat God hoegenaamd mense op hierdie aarde in die lewe hou en nog nie verdelg het nie is toe te skryf aan Sy onuitspreeklike genade en lankmoedigheid. Die feit dat God vir hom 'n volk uitgekies het (in die Ou Testament) was loutere genade. Die feit dat God hoegenaamd sy Seun gestuur het as losprys vir baie (Mt 20:28) is 'n totaal onverdiende gawe van God. Rom 6:23 sê: "Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here." Die feit dat God steeds lankmoedig is om die deur oop te hou dat mense baie jare na Sy Seun se kruisdood steeds gered kan word, maak God se genade nog meer merkwaardig. 2 Pt 3:9 sê daarom: "Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom."

Tekste wat dikwels gebruik word om God daarvan te bekskuldig dat Hy onskuldige mense of diere oordeel is die volgende:

Gen 18:23-32 praat van hoe Abraham met God onderhandel het om vir Sodom en Gomorra te spaar as daar tot net 10 regverdiges in is. God het ingestem en het in elk geval vir Lot en sy familie gespaar.

Eks 9:1-3 sê hoe die Here vir Moses gesê het dat hy vir Farao moet sê dat hy die Israeliete moet laat trek, want as hy weier sal die hand van die Here wees teen sy vee, perde, esels, kamele, beeste en kleinvee met 'n baie swaar pes.

In Eks 11:4-5 word verhaal hoe die Here sal trek deur Egipte om al die eersgeborenes te tref, insluitende Farao se eie seun, tot die eersgeborenes van die slawe en die eersgeborenes van die vee.

In Num 25:9 staan hoe twintig duisend mense gesterf het deur die plaag omdat die volk agter ander gode aangeloop het (vers 2-3).

Num 31:17 sê hoe Moses-hulle alle mans en alle vroue wat met mans gemeenskap gehad het onder die Medianiete moes doodmaak.

Deut 20:13-18 vertel van hoe God sy volk se vyande in hulle hand sal gee en hoe hulle hulle vyande met die banvloek moet tref.

Jos 2:1-24 vertel van die twee verspieders wat Ragab gehuisves het en hoe hulle vir Ragab gesê het om die rooi tou by die venster te laat uithang, sodat as God Jerigo met die banvloek tref, vir Ragab en haar gesin kan spaar.

Jos 11:6,9 vertel van hoe die Israeliete die hakskeensenings van hulle vyande se perde moet afsny en hulle strydwaens met vuur moet verbrand.

1 Sam 2:27-36 vertel van hoe 'n man van God by Eli gekom het en vir hom vertel het hoedat die huis van Eli tot 'n val sal kom as gevolg van die sonde van Hofni en Pineas – waar hulle die slagoffer van die Here verag het en dit geprofaniseer het.

1 Sam 15:1-3 sê hoe Samuel vir Saul gesê het om die Amalakiete te verslaan – hulle wat in die weg gestaan het by Israel se optog uit Egipte, en dat Saul die Amalakiete met die banvloek moes tref: mans, vrouens, kinders, suigelinge, beeste, kleinvee, kamele en esels.

1 Sam 6:19-21 vertel hoe God onder die mense van Bet-Semes 'n slagting aangerig het omdat hulle die ark van die Here (gesteel het en) bekyk het. Daarna het hulle besluit om die ark van die Here terug te besorg aan die Israeliete.

1 Sam 27:1-12 vertel van hoe Dawid in die tyd toe hy in die land van die Filistyne gewoon het, die nasies rondom hom verower het. En as hy dit gedoen het "laat hy geen man of vrou lewe nie, en neem kleinvee en beeste en esels en kamele en klere saam."

2 Sam 21:1-14 vertel van hoe Dawid op bevel van die Here versoening aan die Gibeoniete gedoen het, nadat Saul hulle onregmatig verdelg het. Die Gibeoniete het versoek dat Dawid aan hulle sewe seuns vanuit die Israeliete moes gee dat die Gibeoniete hulle kon ophang as versoening. Daarna het God die hongersnood gebreek wat oor die land was.

2 Sam 24:10-15 sê hoe God 'n pes onder die volk gestuur het waarvan sewintig duisend man gesterf het, omdat Dawid die volk getel het (vers 1).

2 Sam 24:17 vertel van hoe die engel van God onder die volk doodgeslaan het as gevolg van Dawid se sonde. Dawid het gesê: "Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie." God het ook inderdaad sy hand teruggetrek (vers 16).

1 Kon 16:33-34 praat van hoe Hiël (in die dae van Agab) vir Jerigo opgebou het ten koste van Agab se eersgeborene en sy jongste seun, omdat hy die Here meer geterg het as al die konings van Israel.

2 Kon 2:23-24 vertel hoe Elia twee klein seuntjies gevloek het in die naam van die Here en hoe twee berinne twee en veertig van hulle verskeur het – dit nadat hulle gesê het: "Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!"

2 Kon 5:26-27 sê hoe Gehasi melaats geword het omdat hy geld en klere van Naäman aangeneem het wat hy nie moes doen nie en vir Elisa daaroor gelieg het.

2 Kon 20:16-19 vertel van hoe Jesaja die Woord van die Here aan Hiskia gebring het – waar Jesaja gesê het dat daar dae sal kom waar alles wat sy vaders opgehoop het na Babel toe weggevoer sal word, en dat van sy seuns hofdienaars van die koning van Babel sal word. Hiskia het gedink die Woord van die Here is goed, solank daar net bestendigheid in sy eie dae sal wees.

2 Kron 21:12-15 sê hoe die Here 'n groot plaag onder die volk en hulle goed sal stuur, en dat Libna self baie siektes sal ly: aan 'n ingewande-siekte. Dit omdat Libna die volk laat hoereer het volgens die hoererye van die huis van Agab.

2 Kron 36:15-17 sê dat God sy boodskappers vroeg en laat na die volk gestuur het omdat Hy medelye met sy volk en sy woning gehad het, maar dat die volk die boodskappers uitgelag het en God se woorde verag het en met sy profete gespot het, todat God se toorn teen sy volk opgekom het en daar geen meer genesing was nie.

Jes 13:14-17 praat oor die oordeel van God oor Babel wat sal plaasvind op die dag van die Here. Daar sal mense deurboor word, kinders verpletter word, huise geplunder word, vroue onteer word. God sal die Meders verwek om dit te doen.

Die skrywer in Klaagl 5:7 kla dat hulle vaders gesondig het, maar dat hulle nou die vaders se ongeregtighede dra.

Eseg 21:3-4 vervat die Woord van die Here wat tot Esegiël gekom het waar God teen Jerusalem sal optree (wat geprofaniseer is en gesondig het), waar God sy swaard sal uittrek en regverdige sowel as goddelose sal uitroei. Die "regverdige" verwys hier waarskynlik na diegene met ‘n uiterlike regverdigheid, m.a.w. wat die wette en godsdiens nakom.

Hos 13:12,16 praat van Efraim se sonde en Samaria wat moet boet omdat hy weerspannig was teen God: hulle sal val deur die swaard en hulle kinders sal verpletter word en hulle swanger vroue sal oopgesny word.

Mal 1:2-4 praat van God wat Jakob liefgehad het en Esau gehaat het. Die Here sal daarom Edom verwoes, al bou hulle dit weer op. Die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid!

Job 42:11 sê hoe Job se vriende met hom medelye gehad het en hom vertroos het na die "onheil wat die Here oor hom gebring het."

Ps 137 gaan oor Israel se weeklaag toe hulle na Babel weggevoer is. In vers 7-9 word die val van Babilon by God versoek. Die psalmdigter sê van Babel: "gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het!" en "Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!"

 

In geen een van hierdie voorbeelde was God se oordeel sonder rede nie. Selfs die volke wat met die "banvloek" getref is, was almal volke wat afgode gedien het, en nie vir God nie. Al hierdie mense word in elk geval bewaar vir die finale oordeel (2 Pt 2:9). Die vroue en kinders is ook nie uitgesluit by God se oordeel nie. Kinders en selfs babas is nie vrygespreek net omdat hulle nog nie 'n kans gehad het om 'n keuse vir of teen God te maak nie, want alle kinders is in sonde gebore (Ps 51:7 1933 Afrikaans; 51:5 KJV). Dit staan God egter vry om babas of kinders te red, maar dit sal nie wees omdat hulle ontkom het aan die sondige aardse bestaan nie, maar vanuit God se loutere, onverdiende genade. Aangesien die natuur ook aan die nietigheid en die sondeval onderworpe is, deel die ganse skepping in die sondige, onvolmaakte bestaan. Diere en plante is daarom nie gevrywaar van God se oordeel nie. Die feit dat God wel diere en plante laat behoue bly te midde van 'n sondige wêreld is ook God se loutere genade.

Ek dink nie die mens besef of wil altyd besef hoe diepgaande die oordeel oor hierdie sondige aarde en alles wat daarop is, strek nie. Niks is veronderstel om gespaar te wees van die oordeel van God nie (sien bv. die geskiedenis van die sondvloed). Dit is in die mens se natuurlike aard om sy eie afgod te maak. As hy nie fisies 'n afgod kan maak nie, is hy geneig daartoe om die ware God te wil inforseer in sy eie vleeslike idee van hoe God moet wees. Vir die natuurlike, vleeslike mens moet God 'n "sugardaddy" wees. Hy moet "krismisvader" wees wat almal se regte respekteer, vir almal volop voorsien, vir almal op die skouer klop en nooit enige mens enige leed aandoen nie. Die feit is, dit is nie wie God is nie. God is 'n verterende vuur!!! (Heb 12:29). As mens dit nie besef nie, kan mens ook nie besef hoe genadig God werklik is nie. Genade sonder die keersy van oordeel en sonder dat God heilig is en die sonde haat, is goedkoop genade! Dit is juis hierdie dimensie van God waaraan die wêreld aanstoot neem. Dit is veral die sekulêr humanistiese wêreld wat "'n probleem het met die God van die Bybel." Dit is nie omdat daar iets fout is met God of die Bybel nie, maar omdat die natuurlike mens net 'n God van liefde wil ken en nie ook 'n heilige God van oordeel nie. God se liefde maak egter nie sin sonder God se heiligheid nie, want God wil ook nie net liefgehê word nie, maar ook gevrees word (bv. Lev 19:14,32; 25:17; Deut 6:2,13,24; 10:20; 2 Kor 5:11; Kol 3:22; Op 15:4).

 

God help in oorlog

Die ander aspek wat dikwels in die Ou Testament ter sprake kom is dat God sy volk bewaar het en die weg gebaan het deur ander nasies in hulle hand te gee. God het met ander woorde sy volk gehelp in oorlog. Die hele geskiedenis van Israel is vol hiervan. Die doel hiervan was om deurgaanse verlossing aan God se mense te bring, om sy grootheid en almag aan hulle en die ander nasies te demonstreer, en om sy volk te bewaar met die oog op die uiteindelike Verlosser, Jesus Christus, wat uit die geslag van Dawid gebore sou word. Dit dien ook met ander woorde 'n groter doel, naamlik God se hand in die totale heilsgeskiedenis. God se Gees het mense dikwels direk gelei om op te tree en oorlog te voer teen die Heidense volke. Die Rigters is veral sulke voorbeelde:

1 Kon 16:12 vertel hoe Simri die hele huis van Baésa verdelg het volgens die woord van die Here.

In 2 Kon 18 staan hoe Israel deur die koning van Assirië in ballingskap weggevoer is weens hulle ongehoorsaamheid aan die Here en omdat hulle die verbond oortree het (vers 11-12). Hiskia wou toe met die koning van Assirië onderhandel om weg te trek. In 2 Kon 18:19 staan hoe die rábsake vir Hiskia se dienaars sê: " Sê tog vir Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië! Wat is dit vir ‘n vertroue wat jy koester?" In 2 Kon 18:25 staan hoe die rabsake aan die dienaars van Hiskia sê: "Het ek nou sonder die HERE opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes? Die HERE het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit."

In 2 Kron 14:14 word vertel hoe Juda die stede van Gerar oorweldig het omdat die skrik van die Here op die Kusiete was. Juda het al die stede geplunder omdat daar groot buit in was.

Rigt 6-8 vertel hoe God die Rigters gelei het om die volke in die beloofde land te verower. Rigt 6:34 vertel hoe God se Gees vir Gideon vervul het en hoe God hom gebruik het om Israel te verlos.

Rigt 11:29 vertel ook hoe die Gees van die Here oor Jefta gekom het en hoe hy die volke van die beloofde land verower het.

Rigt 13:24 tot Rigt 16 vertel ook hoe die Gees van die Here vir Simson begin drywe het (13:25), en oor hom vaardig geword het (14:6; 15:14; 16:28) om die Filistyne te verslaan.

 

God tree soms anders op as wat ons verwag of verstaan

As God se Gees oor iemand vaardig word beteken dit nie altyd dat so 'n persoon sag of bedees sal optree nie, maar soms kan God se oordeel, toorn of onstuitbare krag daardeur na vore kom. Soms kan mense uitsinnig optree as die Gees van God oor hulle vaardig word:

1 Sam 11:6-7 vertel hoe die Gees van God oor Saul gekom het en dat hy baie kwaad geword het. Hy het twee beeste stukkend gesny en deur Israel gestuur en aan die volk gesê wie nie agter Saul en Samuel aan trek nie, se beeste sal dieselfde mee gedoen word. Die skrik van die Here het toe op die volk geval en hulle het soos een man uitgetrek.

1 Sam 19:23-24 sê hoe die Gees van die Here oor Saul gekom het en hoe hy geloop en profeteer het. Saul het ook sy klere uitgetrek en die hele dag en nag voor Samuel geprofeteer.

Eseg 3:14 vertel hoe die Gees van God vir Esegiël opgehef en weggeneem het. Esegiël het verbitterd en kwaad weggegaan, maar die hand van die Here was sterk op hom.

Paulus sê ( 2 Kor 5:13) as ons uitsinnig is is dit vir God en as ons by ons verstand is, is dit vir mense.

Spreek in tale (glossolalie) is ook 'n voorbeeld van 'n uitsinninge uiting van God se Gees (1 Kor 14).

Dikwels verstaan ons nie God se optrede nie. Die volgende is voorbeelde van God se handelinge wat moeiliker is om te verstaan omdat dit 1) baie min inligting deurgee van wat presies gebeur het en presies hoe God gewerk het en 2) omdat ons daarom nie 'n presiese rekonstruksie van die konteks waarin die gebeure plaasgevind het, kan maak nie.

Gen 32:22-32 vertel hoe 'n Man met Jakob geworstel het deur die nag en Jakob op die heupbeen geslaan het. Vandaar is Jakob Israel genoem omdat hy met God geworstel het. Die Man het toe vir Jakob geseën.

Eks 4:24-26 vertel hoe God Moses wou doodmaak (omdat hy nie sy seun besny het nie: sien Gen 17:9-14). Sippora (terwyl sy aangevoel het dat goddelike misnoë Moses se lewe bedreig het) het haar seun toe besny en aan Moses gesê hy is haar "bloedbruidegom."

Lev 16 vertel hoe Aäron een maal per jaar versoening moet doen vir die sondes van die volk deur al die sondes van die volk te laat neerkom op " die bok waar die lot vir Asásel op gekom het" (scapegoat). Die bok moet dan vir Asásel in die woestyn gestuur word.

 

In watter relasie staan die bose tot God?

Hierdie is een van die onderwerpe wat vir baie mense moeilik is om te begryp. Vir baie mense is dit ‘n struikelblok. Dit hou verband met die almag van God. Dit is ook 'n onderwerp wat lê binne 'n geestelike sfeer. Die natuurlike mens het geen natuurlike sintuie om 'n aanvoeling te hê vir hierdie dimensie nie. Dit is slegs die geestelike mens wat iets daarvan kan begryp, maar vernaam in die dimensie van die gees en nie die dimensie van die verstand nie (1 Kor 2:10-16). Die relasie waarin die bose tot God staan word ook nie in duidelike, dogmatologiese terme in die Bybel vir ons uitgespel nie en bly in baie opsigte nog 'n misterie. Daar is egter 'n paar aanduiders wat die Bybel ons wel gee:

Kol 1:16 "want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape."

1 Pt 3:22 "wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is."

Uit hierdie gedeeltes blyk dit dat God op ‘n manier in beheer staan oor alle magte. Tegnies sluit dit dus bose magte in! Beteken dit dan dat God as’t ware die bose in die wêreld direk beheer en orkestreer? Myns insiens werp die verhaal van Job lig op hierdie problematiek (Job 1:6-12). Dit vertel die verhaal van die Satan wat met God in gesprek gaan oor Job. God laat die Satan toe om teenoor Job sy hand uit te steek binne ‘n sekere perk: hy mag net nie sy lewe neem nie (1:12; 2:6). Die Satan staan dus ook onder God se heerskappy net soos alle dinge aan Jesus onderwerp is en onder sy voete gestel is (Ef 1:22; Heb 2:8). Geen mag is verhewe bo God nie. Die "magte" waarna Ef 6:12 en Kol 2:15 verwys, is die bose magte wat teenoor God en sy magte staan. Kol 1:16 verwys egter na God se oormag oor alle geskape dinge, heerskappye, owerhede en magte. Dit sluit alle geestelike magte in, insluitende engele en demone.

Dit is egter belangrik om bewus te wees van die geskiedenis van die engele. Hoewel God aanvanklik alle engele geskep het, het ‘n sekere gedeelte van die engele afvallig geraak. God is steeds magtig bo hulle en hulle kan slegs bestaan in soverre God vir hulle bestaansruimte toelaat. Dit beteken egter nie dat God die bose geskep het nie. Dit beteken wel dat God engele (en mense) met ‘n vrye wil geskep het. Hulle het gekies om van God afvallig te raak (2 Pt 2:4; Jud 1:6; Job 4:18; 21:22). God het dus ‘n bepaalde vryheid gegee aan sy skepping. Die Satan en sy magte staan dus inderdaad in stryd met God en sy magte, maar God laat hulle slegs beperkte speelruimte toe. Daar sal ‘n dag kom wanneer God alle bose magte finaal gaan vernietig (Op 20:9; Rm 16:20). Maar die Satan self staan in beheer van alle bose sisteme, regerings en magte van hierdie wêreld wat sedert Babilon in hierdie wêreld werksaam is. Ef 6:12 sê: "Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug." Natuurlik kan God enige tyd ingryp en dit stop, en Hy gaan ook eendag, maar God kies soos met Job om beperkte ruimte aan die Satan en sy magte te gee tot tyd en wyl die oordeelsdag aanbreek. Wat presies die grens is waarbinne hulle kan opereer weet ons nie. Wat presies die rede is weet ons ook nie, maar ek vermoed dat God juis die magte toelaat en lankmoedig is sodat die mens as God se skeppingskroon (Ps 8) uit vrye keuse, midde in ‘n stryd tussen die goeie en die bose, Hom kan aanneem en Hom kan dien (vgl. 2 Pt 3:9), en nie omdat hulle in 'n noodwendige liefdesverhouding met God staan nie. Want God begeer om toe te tree tot 'n wederkerige liefdesverhouding met die mens. Dit was die oorspronklike doel waarmee Hy die mens gemaak het (1 Jh 1:1-3). En vir 'n ware wederkerige verhouding om tussen twee partye te bestaan, is dit nodig dat beide partye ook teen die ander party kan kies. Vir ware liefde tussen twee partye is daar dus 'n bepaalde risiko en 'n bepaalde vryheid nodig.

Kan God die "bose" opdrag gee om sy wil uit te voer? Baie Christene wil nie hierdie dimensie erken nie, maar God kan ook opdragte gee aan bose magte. Hoewel die bose magte hoofsaaklik opereer binne die ruimte wat God vir hulle toelaat (wat teenswoordig die hele aarde en die natuurlike, sondige wêreld insluit), kan God by geleentheid aan hulle ook opdrag gee om sy spesifieke plan uit te voer. God is by magte om dinge wat deel is van ons gevalle wêreld direk of indirek te gebruik om sy plan uit te voer. God kan daarom ook siekte bring, plae bring, hongersnood bring, natuurrampe bring, ens. God kan lewend maak en God kan dood maak. God is soewerein en dit staan Hom vry om te doen wat Hy wil. God kan seën soos Hy wil en God kan vloeke uispreek soos Hy wil. Die volgende tekste onderstreep hierdie aspekte van God se almag en soewereiniteit:

Die Here maak stom of blind (Eks 4:11).

God kan vloeke uitspreek (Num 23:8).

God maak dood en lewend. God verbrysel en genees. (Deut 32:39).

Job sê aan sy vrou dat hy nie net die goeie nie maar ook die slegte van God sal aanneem (Job 2:10).

Job sê God vernietig die vrome (Job self) en die goddelose. Hy sê God lag vir die beproewing van die onskuldiges, die aarde is in die mag van die goddeloses en God bind die gesig van die regters toe (Job 9:22-24).

Wie kan reguit maak wat God krom gemaak het? (Pred 7:13)

God het die verderwer geskape om te verniel (Jes 54:16).

Goed en kwaad gaan uit die mond van God (Klaagl 3:37-38).

Die Here bewerk onheil in die stad (Am 3:6b).

Dit kom van die Here dat volke arbei vir vuur en nasies hulle afmat vir niks (Hab 2:13)

 

Paulus skryf veral in Rm 9 oor God se soewereiniteit:

God het Jakob liefgehad en Esau gehaat (vers 13; sien ook Mal 1:2,3).

God is barmhartig oor wie Hy barmhartig wil wees en ontferm Hom oor wie Hy Hom wil ontferm (vers 15; sien ook Eks 9:16).

Dit hang nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is (vers 16).

God is barmhartig oor wie Hy wil en verhard wie Hy wil (vers 18).

"Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?" (vers 20).

Het die pottebakker nie mag om een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? (vers 21).

Paulus sê in Rom 9:22-24 "En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, (23) juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, (24) ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?"

(sien:
Die Uitverkiesing vir 'n volledige bespreking van Rom 9).

Paulus beklemtoon weereens hoe onverklaarbaar ironies God se genade is.

Daar is ook gevalle in die Ou Testament waar God in 'n meer direkte relasie staan met bose magte of geeste:

Rigt 9:22-25 sê hoe God 'n bose gees gestuur het tussen Abimeleg en die burgers van Sigem sodat die onreg tussen die sewentig seuns van Jerúbbaäl sou uitkom.

1 Sam 16:14-16 vertel hoe die Here 'n bose gees gestuur het om Saul te verskrik.

In 1 Sam 18:10 word ook vertel hoe 'n bose gees van God oor Saul vaardig geword het.

1 Sam 19:9 vertel ook van 'n bose gees van die Here wat oor Saul gekom het.

Met die twee parallelle gedeeltes oor die volkstelling van Dawid sê 2 Sam 24:1 die Here het Dawid teen die volk aangehits om hulle te tel en 1 Kron 21:1 sê die Satan het teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.

1 Kon 22:19-23 sê hoe 'n gees na God gekom het en aangebied het om 'n leuengees te word om Agab oor te haal. God het die gees toe beveel om so te doen. Vers 23 sê: "En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek."

Job 1:10-12 vertel hoe die Satan die Here gevra het om Sy hand uit te steek na Job om alles aan te tas wat hy het. God gee toe vir Job en alles wat hy het in die Satan se hand, net sy lewe mag hy nie geneem het nie.

Job 2:1-7 vertel verder hoe die "seuns van God" (engele) en Satan hulleself voor God kom stel het. Die Satan het aan God gesê hy was op 'n swerftog oor die aarde. God het aan die Satan gesê Job is godvresend alhoewel die Satan vir God opgehits het om Job te vernietig sonder oorsaak. Die Satan het die Here versoek om Job se gebeente en sy vlees aan te tas. God het aan die Satan gesê Job is in sy hande. Die Satan het toe vir Job met bose swere getref.

Hierdie voorbeelde dui op God se totale heerskappy. Aangesien alle magte aan God onderworpe is (vgl. 1 Kor 15:27; Ef 1:22; Heb 2:8), kan God ook direkte opdragte gee aan bose magte om sy plan uit te voer, of God kan ook bose magte toelaat om binne die perke wat God vir hulle stel hulle gang te gaan (soos met Job). God kan dit gebruik om iets goed daaruit te laat voortkom (Rm 8:28).

Omdat God soewerein is en niemand vir God kan keer om sy planne uit te voer nie, kan God soms 'n teëstander verwerk om sy kinders te verhinder om die verkeerde weg te volg om sodoende God se plan uit te voer. Die volgende tekste is voorbeelde hiervan:

Num 22:22 vertel hoe die Engel van die Here in die pad van Bileam gestaan het as teëparty.

1 Kon 11:14,23,25 sê hoe God vir Salomo as teëstander verwek het: Hadad, die Edomiet. So ook het God vir hom as teëstander verwek: Reson, die seun van Éljada.

In Ps 109:6 vra Dawid dat 'n goddelose, 'n teëstander gestel moet word oor sy vyand.

 

God gebruik ook negatiewe dinge, of laat dit toe

God kan ook negatiewe dinge toelaat of gebruik om sy plan uit te voer. Soms is dit om verlossing te bring. Soms is dit om te straf. Soms is dit om sy naam onder nasies bekend te maak en om sy almag en goddelikheid aan mense te toon. As God negatiewe dinge laat gebeur of toelaat (soos om die hart van die Farao te verhard – die Farao wat in elk geval nie vir God gedien het nie), is dit nooit 'n doel op sigself nie, maar teen die agtergrond van die groter prentjie – die groter prentjie van God se deurgaanse verlossing van sy volk om hulle as sy nasie te behou en sy beloftes aan hulle na te kom. Die verlossings-geskiedenis kulmineer in Christus, waarna die wet en die profete heenwys, en waarin dit vervul is (Mt 5:17). As God die Jode se harte verhard teenoor die evangelie (wat in elk geval vir God verwerp het en verdoemenis verdien), is dit om verlossing aan die Heidene te bring (Rm 9:30-33). En tog stel God telkens vir die mens die keuse om Hom te dien of te verwerp (bv. Jos 24:15) en laat doelbewus die moontlikheid oop dat die mens ook die bose kan kies en teen God kan kies, juis omdat dit God se begeerte is om in 'n wederkerige verhouding met die mens te staan waarin hy te midde van 'n sondige wêreld vir God kan dien en vrees.

Die volgende tekste beklemtoon die feit dat God in sy soewereiniteit ook negatiewe dinge kan toelaat of gebruik om sy plan uit te voer:

God het die boom van kennis van goed en kwaad uit die tuin laat uitspruit (Gen 2:9)

Josef sê dat dit God se plan was om Josef te laat verkoop, sodat hy as verlosser vir sy volk kon optree te midde van die hongersnood (Gen 45:5-9).

Josef sê sy broers het wel kwaad teen hom bedink, maar God het dit goed bedoel en dit gebruik om uiteindelike redding vir baie mense te bring (Gen 50:20).

God sê aan Moses dat hy alles moet doen wat God vir hom sê, en dat Hy Farao se hart gaan verhard om sy tekens en wonders in Egipteland te vermenigvuldig (Eks 7:2-3).

God het Farao se hart verhard dat hy die Israeliete agtervolg om Homself aan die Egiptenare te verheerlik (Eks 14:4).

Indien iemand doodgemaak word op so ‘n manier dat God iemand oorgelewer het in sy hand, moet daardie persoon vlug (Eks 21:13)

Deut 29:4-6 sê dat die Here nie aan sy volk ‘n hart gegee het om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor nie. Hy het hulle 40 jaar in die woestyn laat trek en nie brood laat eet of wyn laat drink nie sodat hulle kan weet dat Hy die Here hulle God is.

Die Here het dit so beskik dat Simson vir hom ‘n vrou uit die Filistyne neem, omdat God rede gesoek het teen die Filistyne (Rigt 14:3-4).

1 Kon 12:15 sê God het dit so beskik dat die koning nie na die volk geluister het nie en so Sy Woord vervul wat Hy aan Jeróbeam gespreek het deur Ahía - as gevolg van sy sondes (sien 1 Kon 11:31-33).

Ps 105:25 praat daarvan dat God die Egiptenare se hart verander het om sy volk te haat en listig teen hulle te handel.

Die prediker (in Pred 6:1-2) sê dat die man aan wie God rykdom, skatte en eer gee, waar Hy hom nie in staat stel om dit te geniet nie – omdat 'n vreemde dit geniet – is vir die prediker 'n vergeefse moeite en 'n bitter lyding. Die prediker reken dit as 'n onheil.

Jesaja (Jes 63:17) bid tot die Here: "HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!" Daar is verskeie interpretasies op hierdie gedeelte. 1) Baie sien hierdie gebed van Jesaja as 'n belydenis van hulle sonde, eerder as dat dit 'n beskuldiging van God is – veral in die lig van die konteks. Vers 8-10 praat van God wat as Verlosser vir die volk opgetree het, maar die volk was wederstrewig en het die Heilige Gees bedroef; daarom het God hulle in 'n vyand verander en het self teen hulle gestry. 2) Ander sien die verharding van Israel in relasie met hulle verharding teenoor die evangelie, en bring dit in verband met Jesaja se gebed in Jes 6:10 (sien ook Joh 12:40). 3) Ander sien die verharding van Israel as 'n geleidelike proses waar Israel se volgehoue ongehoorsaamheid later tot gevolg gehad het dat God hulle progressief verhard het waarin die vloek (van verharding) deur God al dieper ingesny het en 'n al groter invloed uitgeoefen het (sien bv. Jes 6:1-13).

Beveel God soms dat die mens bose dinge doen? Van die tekste wat dikwels aangegee hiervoor is die volgende:

Gen 27:1-40 vertel die geskiedenis van Jakob wat, nadat hy die eersgeboortereg by Esau gekoop het, in Esau se plek geseën is en sodoende vir Esau beroof het van die seën.

In Gen 22:2 beveel God aan Abraham om sy seun te offer om hom te toets of hy werklik vir God met sy hele hart sou dien (sien vers 16-17).

Gen 12:12-18 vertel die stuk geskiedenis van Abram wat sy vrou as sy suster aan Farao voorgehou het. Volgens Gen 20:12 was Sarai inderdaad sy halfsuster.

Gen 20:1-18 vertel die stuk geskiedenis van Abimeleg wat deur God in ‘n droom gewaarsku is dat Sara Abram se vrou is, en haar later aan Abram terug besorg het en sodoende hulle siektetoestand (naamlik dat elke moederskoot van die huis van Abimeleg toegesluit is) laat genees het.

Hos 1:2 verwoord God se opdrag aan Hosea om ‘n hoervrou en hoerkinders te neem.

Jes 8:1-4 sê hoe die profeet sy seun moet noem "Netnou is daar buit, gou is daar roof" want voordat die seuntjie kan praat sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assur bring.

In nie een van hierdie tekste beveel God werklik dat die mens boosheid moet doen nie, maar dit is eerder die geval dat God se plan dikwels "onortodoks" is of teen die algemeen aanvaarde gebruik in is. God vra dikwels aan die mens om iets te doen wat teen-natuurlik is, juis om te toets of die mens werklik gehoorsaam is (soos met Abraham wat vir Isak moes offer).

Soms laat God boosheid, lyding of negatiewe dinge toe en gryp nie dadelik in nie, of stel sy ingrype uit. Lyding is een van die gevolge van die sondeval. Dit is integraal deel van die gevalle wêreld. Dit sal altyd deel wees van hierdie onvolmaakte bedeling tot tyd en wyl God dit finaal kom verander. Dit staan God vry om soms in te gryp in lyding en boosheid en soms nie in te gryp nie. Die volgende tekste is voorbeelde van hoe God dikwels nie ingryp nie:

Job 24:1-12 praat o.a. van hoe mense behoeftiges van die pad af stoot, hoe daar mense is wat nie iets warms het vir die koue nie, hoe baie nie skuiling het teen die reën nie, hoe daar mense is wat weeskingders van die bors af ruk, wat armes se klere verpand, van mense wat hard werk en versmag van dors. Dit praat van hoe mense kerm, hoe gewondes om hulp roep en hoe God nie ag gee op die dwaasheid daarvan nie.

In Ps 44:11-25 kla die psalmdigter dat God hulle verstoot en tot skande maak en toelaat dat mense by hulle plunder en dat Hy hulle verkoop, dat Hy hulle ‘n smaad maak vir hulle bure. Hy kla hulle word "die hele dag gedood en as slagskape gereken." Hy vra waarom God Homself verberg en of Hy hulle ellende en verdrukking vergeet het. Tog, as Paulus hierdie teks aanhaal, sê hy ons is in al hierdie dinge meer as oorwinnaars (Rom 8:36-37).

Ps 78:64-66 sê hoe hulle teenstanders deur die swaard geval het. God het "wakker geword soos en wat slaap, soos ‘n held wat oorweldig is deur die wyn" en die teenstanders geslaan en smaadheid aangedoen. Hierdie "wakker word" en die "oorwediging deur wyn" van God is vergelykende beeldspraak om aan te dui hoe God skielik en onverwags ingegryp het en tot sy mense se redding verskyn het.

Die prediker sê in Pred 9:1-3 dat die regverdiges en wyse manne en hulle dade in die hand van God is, die mens weet nie of liefde of haat vir hom voorlê nie. Hy sê dan hoe een en dieselfde lot die regverdiges en die goddeloses tref. Die prediker sê dit is ‘n verkeerde ding dat dieselfde lot almal tref en dat almal vol boosheid is en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende die lewe. En wat is dieselfde lot wat almal tref? Hulle uiteindelike lot is almal die dood! (vers 3). Die prediker dink dit is verkeerd dat mense nie gouer al gestraf word terwyl hulle nog lewe nie (Sien bv. Pred 8:11).

In Jer 12:1-3 kla die profeet by God en vra waarom die weg van die goddelose voorspoedig is en waarom hulle, al bedryf hulle ontrou, rustig bly voortlewe. Hy sê God het hulle "geplant." Hulle het wortel geskiet en groei en dra vrugte. Hy sê God is naby hulle mond maar ver van hulle niere. Hy vra dan vir God om hulle "te heilig vir die dag van slagting."

Habakuk (Hab 1:2) kla by God en vra "Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie?"

Habakuk (Hab 1:13) vra ook vir God waarom God die trouelose aanskou en swyg wanneer die goddelose die verslind wat regverdiger is as hy.

 

God straf die sonde

Omdat God heilig is kan Hy nie die sonde ongestraf laat bly nie. God se vloek of straf volg daarom op mense wat ongehoorsaam is, sy wette verontagsaam en agter ander Gode aanloop.

Jes 10:5-10 beskryf hoe Assur die roede van God se toorn is en 'n stok (in Sy hand) is. God sal hulle stuur teen 'n roekelose nasie om buit te maak en roof in te samel en te vertrap – en dit terwyl Assur nie bewus is daarvan dat God hulle vir daardie doel aanwend nie.

As deel van die vloeke wat God uitspreek oor mense wat nie sy gebooie hou nie (Deut 28:15), sal hulle geslaan word met kranksinnigheid, blindheid en sinsverwarring. Hulle sal nie voorspoed hê nie. Hulle sal verdruk en beroof wees. As iemand hom met 'n vrou verloof, sal 'n ander man haar skend. Hy sal nie in die huis wat hy vir hom gebou het, woon nie. Hy sal nie die wingerd in gebruik neem wat hy geplant het nie, ens. (Deut 28:16-68).

Nadat Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here deur Baäls en heilige boomstamme te dien (Rigt 3:7), het God se toorn ontvlam, en Hy het hulle verkoop in die hand van Kusan Risatáim en hulle het hom agt jaar lank gedien (Rigt 3:8). Maar toe die Israeliete die Here aangeroep het, het Hy hulle weer verlos (Rigt 3:9).

Rigt 3:12 sê die Here het Eglon sterk gemaak teen Israel omdat hulle weer gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here.

Rigt 4:1-3 vertel dat na die dood van Ehud het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. God het hulle daarom verkoop in die hand van Jabin. Daarna het Israel weer die Here aangeroep.

Die Here wou Eli se seuns ombring omdat hulle gruwelike sondes teen die Here gepleeg het (1 Sam 2:22,25).

1 Kon 13:1-2 sê hoe 'n man van God uit Juda by Jerobeam aangekom het, terwyl hy offerrook laat opgaan het op 'n altaar (van die afgode). Die man van God het geprofeteer dat Josia gebore sal word om die priesters van die hoogtes (van die afgode) te slag op die altaar, en dat mensbene daarop verbrand sal word.

1 Kon 13:11-34 vertel van die man van God wat wederstrewig was en teen die bevel van die Here in brood geëet en water gedrink het. God se straf het op hom neergekom deurdat 'n leeu hom verskeur het en dat sy lyk nie in die graf van sy vaders gekom het nie.

1 Kron 5:25-26 sê omdat die stam van Manasse ontrou gehandel het teen God en agter ander gode aan gehoereer het, het God "die gees van Pul, die koning van Assirië, naamlik die gees van Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, aangewakker, wat hulle, die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse, in ballingskap weggevoer en hulle gebring het na Halag en Habor en Hara en die rivier van Gosan…"

2 Kon 24:2-4 sê dat die Here die bendes van die Chaldeërs, Arameërs en die Moabiete gestuur het teen Juda om dit te verdelg volgens die woord van die Here. Vers 3-4 sê "Sekerlik het dit volgens die bevel van die HERE oor Juda gekom, om hulle van sy aangesig te verwyder vanweë die sondes van Manasse, volgens alles wat hy gedoen het; (4) en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie."

Jes 19:2,4 vertel hoe God Egipte teen homself sal ophits sodat hulle onder mekaar verdeel sal wees, en dat God Egipte sal oorgee in die hand van 'n harde koning. Dit alles as gevolg van hulle afgodery (vers 1).

In Jer 43:10-11 sê God Hy sal Nebukadrésar, die koning van Babel laat haal en en sy troon neersit "bo-op hierdie klippe wat Ek begrawe het; en hy sal sy pragtapyt daaroor uitspan. (11) En hy sal kom en Egipteland verower: wie vir die pes bestem is, vir die pes; en wie vir die gevangenskap, vir die gevangenskap; en wie vir die swaard, vir die swaard!"

Jer 50:10 sê "Chaldéa (Babilon) sal ‘n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word."

In Jer 51:1 sê God "Ek wek op teen Babel en teen die inwoners van 'die Hart van my Teëstanders' die gees van ‘n verwoester."

Jer 51:20-24 sê Jakob is vir God soos 'n hamer en oorlogswapens. Met hulle verbrysel God nasies en koninkryke, perd en ruiter, strydwaens, man en vrou, grysaard en seun, jongman en jongedogter, herder en vee, landbouer en osse, goewerneurs en owerstes. Maar God sal voor hulle oë Babel vergeld al die kwaad wat hulle in Sion gedoen het.

Eseg 20:20-27 vertel van hoe God sy grimmigheid en toorn oor die Israeliete laat kom het omdat hulle nie God se sabatte geheilig het nie en wederstrewig was en agter ander gode aangeloop het. Vers 26 sê God het hulle "verontreinig" (onrein gemaak) deur hulle offergawes omdat hulle hulle babatjies deur die vuur (van Molog) laat gaan het. Hulle het troubreuk teen God begaan (vers 27).

Hos 13:16 (14:1) sê Samaria sal moet boet omdat hy weerspannig was teen God; hy sal val deur die swaard, en hulle kinders sal verpletter word en hulle swanger vroue oopgesny word.

Sag 11:16-17 vertel hoe God 'n herder sal verwek in die land (van Juda en Israel); " na wat verlore is, sal hy nie omkyk nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie; en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy eet en selfs hulle kloue afruk. (17) Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word!" Dit omdat die volk van Hom afkerig geword het (vers 8).

Sag 14:2 praat van wanneer God al die nasies sal versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; waar die stad ingeneem en die huise geplunder word en die vroue onteer word. Die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uitgeroei word nie.

 

God kan ook polities en sosiaal ingryp as Hy wil

In God se soewereiniteit staan dit Hom ook vry om in te gryp in regerings en sosiale strukture soos Hy wil. God kan die politiese en sosiale verloop stuur en rig as hy ‘n spesifieke doel daarmee wil bereik. God doen dit egter nie noodwendig met alle regerings in die wêreld nie. Die regerings van hierdie wêreld staan oor die algemeen onder die beheer van Satan en sy magte – die god van hierdie wêreld (Ef 6:12; 2 Kor 4:4). Die volgende tekse is voorbeelde van waar God ingegryp het in regerings of bevolkings:

Gen 11:4-9 vertel van die die mense wat besluit het om die toring (van Babel) te bou. Hulle wou vir hulleself naam maak en nie verstrooi raak nie. God het toe neergedaal en hulle verwar sodat hulle nie meer mekaar verstaan het nie. God het hulle oor die aarde verstrooi. Daarom is hulle Babel genoem.

In Gen 15:13-16 sê God aan Abraham dat sy nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal diensbaar wees en verdruk word vir 100 jaar. Maar God sal oor die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees. God sê ook van die vierde geslag wat na die land sal terugkom.

Die Engel van die Here sê in Gen 16:11-12 vir Hagar sy sal 'n seun in die wêreld bring: Ismael. Hy sal 'n wilde-esel van 'n mens wees. Sy hand sal teen almal wees en almal se hand teen hom. Hy sal teenoor al sy broers woon.

Gen 25:22-23 vertel hoe Rebekka swanger was en die seuns gestoot het binne-in haar, waarop die Here geantwoord het dat daar twee nasies in haar skoot is. Die een nasie sal sterker wees as die ander een, en die oudste sal die jongste dien.

Eks 9:34-10:2 sê hoe God Farao se hart verhard het en Farao weereens nie die Israeliete wou laat trek het nie. Dit het God gedoen sodat Hy die tekens kon verrig dat Moses se nageslag kan weet dat God die Here is.

Deut 2:30 sê hoe die Here Sihon se hart verhard het en nie die Israeliete by hom wou laat deurtrek het nie, sodat God hom in Irael se hand kon gee.

Deut 15:11 sê die armes sal nie in die land ontbreek nie. God beveel Israel om sy hand wyd oop te maak vir die arme.

2 Sam 17:14 vertel hoe God die raad van Agitófel verydel het, sodat die Here die onheil oor Absalom kon bring.

1 Kon 12-22-24 vertel hoe die woord van God gekom het dat Rehábeam en die volk nie mag optrek teen hulle broers om oorlog te voer nie, maar dat elkeen na sy huis moet gaan, want hierdie saak was van die Here. Hulle het toe geluister en weer huis toe gegaan.

2 Kon 10:28-30 sê hoedat Jehu vir Baäl uit Israel verdelg het. Daarom het God gesê Hy sal sy seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. Maar Jehu het egter dieselfde sondes as Jeróbeam gepleeg (goue kalwers gemaak, ens.). God het toe vir Israel begin inkort, en Hásael het hulle in die hele gebied van Israel verslaan.

2 Kon 19:25-27 vertel hoe God van lankal af vir Hiskia en die volk beskik het om versterkte stede tot puinhope te verwoes sodat hulle inwoners magteloos is en verskrik en beskaamd staan.

2 Kron 15:1-7 sê hoe die Here met Oded gepraat het om aan Asa, Juda en Benjamin te sê dat die Here met hulle is, en as hulle Hom soek, dat Hy Hom deur hulle laat vind. Maar as hulle Hom verlaat sal Hy hulle verlaat. Die volk was lank sonder die ware God, 'n lerende priester en die wet, maar as hulle in nood hulle tot God bekeer het, het Hy Homself deur hulle laat vind. In daardie tye was daar geen vrede nie, maar groot beroering oor die inwoners van die lande. Die nasies het teen mekaar gebots "omdat God hulle deur allerhande nood in verwarring gebring het."

Job 12:13-25 praat van God se beheer oor wysheid en mag, sy vermoë om af te breek en op te bou, sy beleid en raad. Hy maak regters tot dwase. Hy "maak die band los waar konings mee bind, en bind ‘n lyfdoek om hulle heupe." Hy voer priesters uitgeplunder weg, bring wie vasstaan tot 'n val, neem die spraak van betroubare mense weg, beroof ou mense van hulle oordeel, stort veragting uit oor edeles, ens. Hy maak nasies groot en laat hulle omkom, brei nasies uit en voer hulle weg, neem die verstand weg van die volkshoofde, ens.

Spr 21:1 sê dat die hart van die koning is in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil.

Jes 41:2-4 vra wie die regverdige van die Ooste opgewek het en hom op die been laat kom het. Dit vra wie die nasies aan hom oorgegee het en laat hom konings vertrap dat hy hulle agtervolg, ens. Dit vra wie het dit tot stand gebring. Die antwoord: Die Here – hy wat die geslagte roep van die begin af – die Eerste en die Laaste.

Amos 9:7 vra of Israel dan nie vir Hom is soos die kinders van Kus nie. Die Here sê: "Het Ek Israel nie laat optrek uit Egipteland en die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?"

Sag 8:10 sê dat daar voor "hierdie dae" het die mesne en diere geen loon getrek nie, en dat "vir die wat uit- en ingaan was daar weens die teëstander geen veiligheid nie; want Ek het al die mense die een teen die ander losgelaat."

 

Mislei God mense?

Die tekste wat dikwels aangehaal word in hierdie verband is:

Deut 13:1-3 sê as 'n profeet optree en sê dat die volk agter ander gode moet aanloop, moet die volk nie luister na die woorde van die profeet nie, omdat God vir Israel beproef om te weet of hulle werklik vir God lief het. Hoewel God die valse profete kan toelaat of gebruik om Israel te beproef, beteken dit nie dat God direk die volk mislei nie, want as die volk werklik die Here ken, behoort hulle dadelik te weet dit is valse profesieë. Hierdie valse profesieë is daarom dikwels strelend op die ore en beverstig dikwels dit wat die mense wil hoor. Valse profete wat so blatant vals profeteer soos in hierdie voorbeeld (om agter ander gode aan te loop) behoort nie mense te mislei nie, want hulle behoort van beter te weet.

1 Kon 22:19-23 sê hoe 'n gees na God gekom het en aangebied het om 'n leuengees te word om Agab oor te haal. God het die gees toe beveel om so te doen. Vers 23 sê: "En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek." Hoewel God bose geeste kan opdrag gee of toelaat om sy plan uit te voer, beteken dit nie dat God se uiteindelike plan boos is, of dat misleiding self God se uiteindelike plan is nie. In hierdie geval was God se groter plan om Agab om die lewe te bring, aangesien hy goddeloos en afskuwelik gehandel het deur agter drekgode aan te loop, ens. (1 Kon 21:26). In hierdie sin was die leuengees wat God toegelaat het in diens van die straf wat God wou uitvoer.

Jer 4:10 "Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei (deur die valse profete: vers 9) met die woorde: Julle sal vrede hê – terwyl die swaard tot aan die siel raak." In die konteks van hierdie gedeelte (vers 1-30) word die sonde en onbesnedenheid van hart van Juda en Jerusalem betreur: hulle verfoeisels, boosheid, onheilsgedagtes, ens. Wanneer die profeet kla "U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei" word spesifiek verwys na die profesieë van die valse profete, eerder as dat dit direk aan Jahwe gekoppel word. Soos voorheen bespreek, is God by magte om valse profete toe te laat of selfs te gebruik om sy plan uit te voer. Maar in hierdie geval moet die valse profete verstaan word in die konteks van ‘n proses van verval van God se volk, waar (alhoewel God se stem en die profesieë van die profete as sinoniem gesien is) die volk so ver van God af weggedryf het dat hulle nie meer God se Woord deur die profete gehoor het nie.

Jer 20:7 sê: "U het my oorgehaal en ek het my laat oorhaal." Die 1983 vertaling sê: "U het my mislei en ek het my laat mislei" (sien ook KJV). Dit is moeilik om uit die konteks vas te stel wat presies Jeremia hiermee bedoel. In die lig van die daaropvolgende verse blyk dit dat Jeremia baie ongelukkig is met sy omstandighede. Mense dryf met hom die spot. Hy redeneer met God daaroor. Dit lyk of hy dink God het hom mislei, en dat hy ook homself verkwalik dat hy homself laat mislei het. Hy verkwalik eintlik vir God dat Hy hom nie help nie (sien die Living Bible). Hier is dus nie sprake van God se "oorhaling" as sou dit deterministies wees nie. Die uitdrukking "U het my oorgehaal / mislei" is slegs die manier waarop Jeremia probeer om sy klag voor God te verwoord.

Eseg 14:9 "En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek – Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel." Hierdie is ‘n treffende voorbeeld van hoe God inderdaad valse profete kan gebruik om sy plan uit te voer. Net soos wat God met Agab ‘n leuengees kon gebruik om sy plan uit te voer (1 Kon 22:19-23), praat die profeet hier van hoe God ‘n valse profeet kan gebruik. Hierdeur het God die goeie van die slegte geskei en die oorblyfsel van sy mense gereinig waarmee die hele nasie later besoedel is.

 

God werk nie fatalisties nie

Fatalisme beteken dat God elke liewe dingetjie wat in die ganse geskiedenis van die wêreld gebeur, vooraf presies bepaal het, en dat die hele geskiedenis as't ware net soos 'n wekker aftik. Uit al die fasette van God se karakter wat tot dusver bepreek is, mag dit dalk die indruk skep dat God ten alle tye alle dinge beheer en orkestreer. God se soewereiniteit beteken wel dat God kan doen wat hy wil (in ooreenstemming met sy karakter). Dit beteken ook God kan na gelang van sy dinamiese aard soms dinge direk beheer of bepaal of soms kies om nie in te gryp nie. Maar God se almag en soewereiniteit beteken nie dat God ten alle tye elke dingetjie wat in die wêreld gebeur orkestreer of vooraf bepaal het nie. Dit beteken wel dat niemand of niks kan God keer as Hy sy plan wil uitvoer nie, en dat dit God vry staan om dit te doen op die manier wat Hy wil.

 

Slot

God se karakter is baie dieper en baie ryker as wat ons ooit met ons natuurlike denke sal verstaan. God se liefde, lankmoedigheid, genade, goedheid, deernis, heiligheid, oordeel, toorn, jaloesie, regverdigheid, almag en soewereiniteit is alles kante van wie God is. Alle moontlike menslike terminologie, beskrywings en verduidelikings van God se karakter is nog steeds nie toereikend om vir God na regte te beskryf nie. En dit is presies hoekom God God is. As dit nie so was nie, sou mens vir God in 'n mens-gemaakte boksie kon sit, en dan is God nie meer God nie.

Baie sê dat die Nuwe Testament 'n tipe regstelling is op die karakter van God in die Ou Testament. Maar God kan nie verander nie. Sy karakter bly dieselfde. Mens sou hoogstens kon sê dat die Nuwe Testament sekere kante van God se karakter sterker beklemtoon (bv. liefde en genade) en dat die Ou Testament ander kante van God se karakter sterker beklemtoon (bv. heiligheid en oordeel). God se liefde kan egter nie sonder sy oordeel bestaan nie. Die Ou en Nuwe testament tesame gee dus 'n voller prentjie van wie God werklik is. Dit is egter slegs deur die direkte inwoning en leiding van die Heilige Gees waardeur ons vir God geestelik kan ken. Sonder die dimensie van die gees (Gees) bly ons in ons eie beperkte denke vasgevang en is ons altyd geneig om na gelang van ons eie vleeslike gemak van God 'n afgod te wil maak.

 

Philip du Toit

Bespreek dit hier.
Last Updated ( Tuesday, 18 March 2008 )
 
< Prev   Next >
Useful Links

Latest Forum Posts

Polls
Is evolusie en die bybel versoenbaar?
 

Who's Online
There are currently 8 Guests and 0 Users online

Cape Town Weather

Joh 8:32 ...and the truth shall make you free.

Translate Afrikaans to English  |  Cheapest notebook and desktop sales online  |  HP Compaq Dual Core for R4475  |  SA News  |  Afrikaanse  Nuus  |  Guitar Chords  |  Free Piano Lessons!!  |  Free Guitar Lessons!!  |  Add Melody to Chords  |  Free Classified Ads!!  |  Free Property Listings!!  |  Free Fax to Email!!  |  Car buying online  |  Web Hosting R17 p/m  |  Jobs SA  |   Toets jou persoonlikheid

TRU Developing - Creative Web Development