Een van die vrae wat mense dikwels vra is of mens slegs deur Christus gered kan word. Wat van ander godsdieste? Het hulle nie ook die waarheid beet nie? Dien ons nie maar dieselfde God en gee Hom net 'n ander naam nie? Of is godsdienste oor die algemeen nie maar net projeksies van die menslike denke nie? Hierdie artikel is 'n algemene apologetiek van die Christelike geloof.
Alvorens mens in ‘n gesprek kan tree oor die geldigheid en waarheid van die Bybel se aansprake oor die weg na saligheid en die geskiedenis van die Christendom, is dit nodig om oor ‘n paar sake duidelikheid te kry.
Bestaan God?
Ongeag vanuit watter perspektief na Christenskap gekyk word, is dit nodig om uitsluitsel te kry oor die bestaan van God. Daar is verskeie godsdienste wat oor eeue heen aanspraak maak op een of ander opperwese. Met die eerste oogopslag kan dit op twee moontlike maniere verklaar word:
1. Godsdiens is ‘n psigologiese verskynsel. Met ander woorde, die god / gode wat vereer word is ’n projeksie of maaksel van die menslike denke. Dit sou verband hou met een of ander inherente behoefte by die mens om deur middel van godsdienstige praktyke daardie geprojekteerde godheid te vereer.
2. Daar bestaan inderdaad ‘n God of gode wat werklike magte of wesens is wat die bestaande werklikheid geskep het en in stand hou, eer vir hulleself toe-eien en ‘n invloed het op mense se lewens.
Indien die eersgenoemde waar is, sou dit baie probleme uitskakel in verband met die intoleransie van verskillende godsdienste teenoor mekaar. Dit bring egter bepaalde vrae na vore oor bv. hoe lewe op aarde verklaar kan word, in ag genome die feit dat die balans so ontsettend fyn moet wees vir lewe om moontlik te wees. Lewe op aarde word dan ‘n feitlik ondenkbare gelukskoot: een uit duisende biljoene.
Indien laasgenoemde waar is, moet gevra word of daar dus meer as een godheid is wat op verskillende plekke manifesteer en saam een of ander vorm van harmonieuse veelgodedom vorm. Dit sou ook bepaalde probleme na vore bring. As alle gode in harmonie verkeer, hoekom sou daar sulke fanatiese verskille tussen mense van verskillende godsdienste wees?
3. Daar bestaan ‘n derde moontlikheid. Dalk is daar een ware God en daarom net een ware godsdiens. Die ander godsdienste is dan een of ander projeksie van die menslike denke.
Hoewel die konsep van menslike projeksie ‘n bevredigende verklaring bied vir baie godsdiensvorme (veral godsdienste wat een of ander beeld van die godheid maak, dit vereer, maar dit maak geen wesentlike verskil in hulle lewens nie – buiten in die persepsie in hulle denke), is dit problematies, want bo-natuurlike verskynsels kom in menige godsdienste voor, soos wondergenesings (bv. ledemate wat langer word, verlamdes wat genees word, dowes wat kan hoor), levitasie, toordery ens. Goddelike wesens wat bo-menslike kragte kan laat manifesteer, moet dus as ‘n reële moontlikheid beskou word.
4. Die vierde moontlikheid is om wel ‘n Opperwese te erken met ander ondergeskikte wesens (soos engele) wat in harmonie is met die God. Hierdie God is egter in stryd met ander wesens (soos demone) van ander godsdienste. Die Opperwese sou dan die God van die ware godsdiens wees en die demone wat waarskynlik ook ‘n leier het, sou dan die "gode" van die valse godsdienste wees.
Gestel no 4, wat op hierdie stadium na die beste moontlikheid lyk, word oorweeg, lei dit na die volgende vraag: Watter godsdiens is die ware godsdiens?
Op blote empiriese vlak, sou die neiging wees om te kyk na die godsdiens wat as’t ware die "sterkste" God het. Maar hoe stel mens dit vas? Is dit êrens in die geskiedenis vasgestel?
Indien die waarheid te vinde sal wees binne die ware godsdiens, behoort die inhoud daarvan uniek te wees, asook die vlak van krag wat daarin gemanifesteer word. Is daar so ‘n godsdiens?
Dit lyk dus of die ware godsdiens vasgestel kan word deur objektief na alle godsdienste te kyk, en te probeer vasstel watter een uniek is en in watter een die vlak van gemanifesteerde krag die grootste is. Die probleem hiermee is dat volkome objektiwiteit feitlik onmoontlik is. Elke mens het ‘n bepaalde verwysingsraamwerk en oriëntasie ten opsigte van die werklikheid. Elke mens het reeds ‘n bepaalde stel reëls waaraan hy waarheid en geldigheid meet. Dit is veral waar van mense wat grootgeword het in ‘n sekere godsdienstige tradisie. Maar selfs agnostici en ateïste het ‘n bepaalde kyk op die werklikheid. Ook hulle argumenteer vanuit ‘n sekere voorverstaan.
Ooreenkomste tussen godsdienste
Ongeag vanuit watter posisie van voorveronderstelling geredeneer word, is daar sekere ooreenkomstige eienskappe wat in verskillende godsdienste erken moet word:
1. Meeste godsdienste erken die bestaan van een of ander opperwese.
2. Meeste godsdienste het onderskei tussen goeie waardes (bv. liefde, welwillendheid, behoud van lewe, ens.) en slegte waardes (moord, diefstal, haat, bedrog, ens.). In baie godsdienste (soos oosterse godsdienste) word die goeie en die slegte vermeng, maar steeds as twee pole binne die morele spektrum beskou.
3. Baie godsdienste verwag ‘n dag van oordeel, waar die bestaande werklikheid tot ‘n einde gaan kom.
4. ‘n Vorm van hemel en hel word deur baie godsdienste erken.
5. Meeste godsdienste erken een of ander vorm van verlossing.
6. Baie godsdienste erken een of ander Verlosser of leier met hoë morele status wat verlossing help meebring of modelleer.
7. Meeste godsdienste beskou een of ander vorm van goeie werke as noodsaaklik vir verlossing.
Hierdie ooreenkomste maak dit egter nie makliker om vir een godsdiens te kies nie. Die vraag is, as daar net een ware godsdiens is, hoekom is daar dan so baie ooreenkomste tussen godsdienste?
Uit die perspektief van die bose leier
Om terug te kom op die vierde moontlike verklaring van die verskynsel van godstienste, nl. om ‘n Opperwese te erken, wat in stryd is met die bose wesens en magte, lyk dit of dit lig sal werp op die saak deur te probeer kyk vanuit die perspektief van die bose wesens. Wat sou die strategie wees van die bose wesens of hulle leier? Dit sou klaarblyklik wees om dit so moeilik as moontlik te maak om in die ware God te glo, en alles in sy vermoë doen om steun vir homself te werf. Indien hy ‘n godsdiens of godsdienste sou vervaardig wat radikaal anders was as die ware godsdiens, sou dit baie makliker wees om die ware godsdiens uit te ken. Dit sou baie meer sin maak om godsdienste te vervaardig wat so na as moontlik aan die waarheid is. Hy sou waarskynlik gebruik maak van een of ander vorm van vervalsing – volgens die woordeboekdefinisie: "met vreemde bestanddele meng; namaak; verdraai." Dit is soos om geld te vervals. As die regte produk nie bestaan nie, sou dit nie vervalsing gewees het nie.
Op die vlak van godsdiens, behoort hy die meeste sukses te hê deur meer as een godsdiens te produseer waarvan almal op een of ander manier ‘n kopie is van die ware een. Maar dit alleen is nie genoeg nie. Dit sal soveel beter werk as hy die ware godsdiens infiltreer en teen-strominge en skeuringe daarin bring, en selfs nog beter as hy subtiele vervalsing inbring, deur mense te laat waarde heg aan simbole en beelde wat geleen is uit die valse godsdienste.
Die Christendom
Om die volgende redes, lyk dit of die Christendom op hierdie stadium die beste binne hierdie prentjie pas:
1. Dit is die godsdiens met seker die meeste verskillende strominge, waarvan sommige redelik ver van mekaar verwyderd is: Rooms Katoliek, Grieks-ortodoks, Kopties, Protestants, Charismaties, Evangelies, Baptiste, Spadereëne, Plain Truth, Adventiste ens. Aan die ander kante van die spektrum is daar ook die Mormone en die Jehova Getuies wat onder andere een of ander vorm van die Bybel gebruik.
2. Dit is die godsdiens wat die sterkste absolute aanspraak maak, m.a.w. wat sê dat verlossing slegs deur Jesus Christus verkry kan word, en dat enige ander vorm van godsdiens jou nie in die hemel sal bring nie. Hulle sê dat Die Vader, Seun en Heilige Gees die enigste ware God is, en dat alle ander gode van ander godsdienste nie God is nie, maar die gevolg van die werking van die bose – hetsy as menslike maaksel of demoniese wese. Meeste oosterse godsdienste, asook Islam, onderkei hulleself nie wesentlik van die Christene nie, in soverre hulle sê die Christene aanbid dieselfde god as hulle – hulle gee hom net ‘n ander naam.
Indien Christenskap as die enigste ware godsdiens aanvaar word, is dit belangrik om daarna te kyk in die suiwerste moontlike vorm. Die probleem waarom soveel paganisme in die totale spektrum van die Christendom gevind kan word, kan verklaar word juis aan die hand van die mate van infiltrasie en vervalsing wat deur die bose magte ingetree het.
Wat nie deel is van Christenskap nie, en nie daarin hoort nie
Die gevaar bestaan om Christenskap te be-oordeel aan die hand van eienskappe wat nie inherent daarvan deel is nie, maar die gevolg is van die infiltrasie van die bose. ‘n Beoordeling van Christenskap aan die hand hiervan, sou dus nie ‘n regverdige oordeel wees nie. Die probleem het onstaan dat vele paganistiese invloede in die kerk ingesyfer het en so die kerk kom verwurg het. Hier volg ‘n paar sulke voorbeelde:
1. Die optekening van die skeppingsgebeure en sekere antieke verhale is nie uniek aan die Ou Testament nie. Skeppingsverhale (ook gevind by die Gilgamesh-epos), die verhaal van Eden, die vloedverhaal, sekere figure soos bv. Abraham (ook gevind onder Islam), Moses ens., word in baie ander godsdienstige tradisies en antieke godsdienste teruggevind. Dit is nie vreemd nie, aangesien die Satan van die vroegste tye af die waarheid op allerhande maniere probeer vervals het. Wat dikwels gebeur het, is om ‘n sekere mens (soos Nimrod: Gen 10:8-10) te verafgod, en hom ‘n ander naam te gee: Ninus / Tammuz (onder andere). Dieselfde kan van Noag gesê word: Vishnu (onder andere). Indeendeel, alle antieke paganistiese godsdienste kan herlei word na Babiloniese wortels (Sien Hislop 1959). Dit maak die kwessie van die datering van antieke geskrifte in ‘n sekere sin irrelevant, want dit is in elk geval bekend dat die Ou Testament bestaan het in ‘n mondelingse tradisie, lank voordat dit neergeskryf is. Tog is dit duidelik dat die Woord van God deur al die eeue heen behoue gebly het en ‘n geweldige effek op mense se lewens gehad het.
2. Kersfees is nie ‘n heilige dag of die dag waaraan Christus se geboorte gekoppel behoort te wees nie. Hoewel duisende Christene kersfees vier, is dit nie inherent deel van Christenskap nie. Dit is ‘n paganistiese fees wat later ver-Christelik is. Dit is oorspronklik gevier onder paganistiese godsdienste en dit het die geboortedag van heidense gode herdenk.
3. Paasfees, paaseiers en hot-cross-buns se wortels is ook heidens (fees van Ishtar), en is ook later ver-Christelik. Hoewel dit wat herdenk word eg Christelik is (Christus se dood en opstanding), moet verstaan word dat die datum van paasfees, paaseiers en paas-buns geen inherente waarde vir Christenskap behoort te hê nie.
4. Selfs die simbool van die kruis het geen inherente Christelike waarde nie. Dit het ook paganistiese wortels. Die simbool van die kruis herinner aan die gebeure op golgota, maar dit hoort nie in Christenskap as iets wat enige inherente krag dra of as iets wat veronderstel is om geluk te bring nie.
5. Alle paganistiese infiltrasie in die kerk (veral te vind in die Roomse-, Grieks-ortodokse- en Koptiese kerke). Baie van hierdie infiltrasie het in die vroeg-Christelike eeue veral in Rome neerslag gevind. Buiten die gebruik om babatjies te besprinkel, wat Rome direk gaan leen het uit die Babiloniese godsdiens, kan dieselfde gesê word van talle godsdienstige vervormings van die Roomse Kerk. Die manier waarop die triniteit uitgebeeld word, is dieselfde as hoe dit in die Babiloniese godsdienste uitgebeeld is, asook die moeder-baba uitbeelding (Jesus en Maria word uitgebeeld net soos Semiramis en Nimrod, Isis en Osiris ens.). Die verering van Maria het ook babiloniese wortels, asook die Madonna-beelde. Die Rooms Katolieke feeste is geleen uit Babilon; so ook die die heilige mis (waar die dun ronde koekie bv. op die altare in Egipte gevind is, wat die son simboliseer), die laaste oliesel, die vagevuur en die daarmeegepaardgaande gebede vir die afgestorwenes, die verering van relikwieë, die rosekrans / bidsnoer (rosary) en die verering van die "Heilige Hart," die kleding en bekroning van beelde en heiliges, die gebruik van lampe en waskerse, die soewereine pousdom, asook priesters, monnike en nonne. Die ooreenkoms van al hierdie godsdiensvorme met die antieke Babiloniese kultus, wat Hislop (1959) in soveel diepte en detail bespreek, is merkwaardig.
6. Die Sondag is ook nie ‘n heilige dag nie. Die Sondag kom nie in die plek van die Ou Testamentiese sabbat nie, want Jesus het die Ou Testamentiese sabbat in homself vervul. Hy het as’t ware in die plek van die sabbat gekom. Die Sondag was bloot die dag waarop Christene die opstanding herdenk het. Christene is in elk geval nie veronderstel om enige inherente waarde of heiligheid aan die Sondag as sodanig te koppel nie. ‘n Christen het eintlik elke dag van die week "kerk," want kerk is in wese vir Christene om ‘n verhouding met God te hê, en ‘n verhouding met gelowiges te hê. "Kerk" kom van die griekse "ekklesia": gemeenskap van gelowiges.
7. Die doop en die nagmaal is ook nie uniek aan Christenskap nie. Soortgelyke gebruike kom in ander godsdienste voor. Die verskil is dat die gebeure van Jesus se dood en opstanding waarvan die doop en nagmaal getuig, en die reperkussies daarvan in die geskiedenis van die wêreld, en die geestelike krag wat dit in gelowiges se lewens vrystel, nog nooit ge-ewenaar is nie.
Dit is belangrik om daarop te let dat Christene se taal, simbole en gebruike nie noodwendig uniek is nie, maar dat hulle ‘n unieke inhoud daaraan gee, op grond van werklike gebeure. Dit raak dan irrelevant om die oorsprong van sekere konsepte, soos bv. die opstanding in 3 dae, te probeer blootlê, om sodoende outentisiteit te probeer vasstel. Christene bely dat hulle vreemdelinge en bywoners is (1 Pt 2:11), maar midde-in die wêreld met sy sisteme is, juis met die oog daarop om dit te versoen met God.
Unieke eienskappe van Christenskap
Die volgende unieke eienskappe kan vanuit die hart van Christenskap geïdentifiseer word:
1. Christenskap is in wese nie primêr ‘n godsdiens nie, maar ‘n persoonlike verhouding met God. Geen ander godsdiens maak aanspraak op ‘n lewende verhouding met God as persoon nie. In sekere godsdienste is daar hoogstens ‘n sg. eenwording met onpersoonlike kosmiese magte. Die Heilige Gees wat in die mens kom woon, bring hom in kontak met God self.
2. By baie godsdiensvorme is daar ‘n middelaar of verlosserfiguur, wat aanspraak maak op "lig" en "waarheid," maar Jesus Christus is die enigste wat daarop aanspraak maak dat hy die enigste weg is na die Vader (Jh 14:6; Jh 10:1-9). Vir Christene is ander godsdienste dus nie ‘n ander manier om by dieselfde God uit te kom nie. Christenskap is die enigste godsdiens wat so 'n absolute aanspraak maak ten opsigte van verlossing.
3. By alle godsdienste speel een of ander vorm van werke of goeie dade ‘n verdienstelike rol in verlossing. By Christenskap word jy gered deur geloof alleen in die verdienste van Christus (Rm 10:10-12).
4. Christenskap is die enigste godsdiens waar daar ‘n reële nuwe geestelike geboorte plaasvind (Jh 3:5). Daar gebeur iets tasbaar in die mens se gees. Die ou, sondige mens word uitgehaal, en God maak die mens se gees totaal nuut (2 Kor 5:17; 1 Pt 1:23; Rm 6:1-4; Rm 8:1-16). Daarvan getuig miljoene Christene.
5. Verlossing vind dus hier en nou plaas in die mens se lewe. Dit is nie soos by ander godsdienste wat jy nooit seker kan wees of jy uiteindelik gered gaan word nie, en waar verlossing eers aan die einde van tye sal plaasvind nie.
6. Christenskap se sukses lê daarom nie in die eerste plek in sy leringe nie, maar in die ondervinding van krag. Trouens, die misterie-godsdienste het ‘n openbaring voorgestel wat ver meer transendent en esoteries is. Christenskap word dus daarin onderskei dat dit die goeie nuus aktualiseer, en dus die waarhede waarop hulle aanspraak maak, proef-ondervindelik aan mense oordra. Iets tasbaar en daadwerklik het gebeur in die liggaam, siel en gees van werklike mans en vrouens (Johnson 1986:87,96): vreugde, vryheid, vergenoegdheid, liggaamlike en emosionele genesing, heelheid, ‘n liefdevolle passie vir ‘n verlore wêreld, ens. - iets wat nie op dieselfde vlak teenwoordig is in ander godsdienste nie.
7. Geloofsekerheid is daarom ook ‘n kenmerk van Chrsitenskap (1 Jh 5;13), asook volkome vervulling in elke faset van menswees hier en nou (Ef 3:19). Ware vrede (Flp 4:7) en vreugde (Rm 14:17; 15:13; 1 Th 1:6) is kenmerke van wedergebore mense.
8. Die Christendom het ten doel om die hele wêreld te evangeliseer (Hd 1:8; Mt 28:19). God se guns is vir alle mense (Tt 2:11). Dit is daarom belangrik dat die hele wêreld die goeie nuus moet hoor voor Jesus se tweede koms (Mt 24:14). Hulle speel ‘n rol in die rekonsiliasie van die hele wêreld tot God (2 Kor 5:19; Rm 11:15), en hulle antisipeer die wêreld se wedergeboorte na vryheid (Rm 8:20-22). Die gemeenskap van gelowiges is die plek waar God se bedoeling met die wêreld geopenbaar word (Ef 3:9-10). Die gemeenskap neem deel aan die oorwinning oor die hele wêreld (1 Jh 5:4-5). Die heiliges sal daarom eendag ook die hele wêreld oordeel (1 Kor 6:2) (Johnson 1986:92).
9. Soos by baie ander godsdienste, bied Christenskap ook ‘n verklaring vir die totale werklikheid: die skepping, die mens, die sonde, God, die Satan, die oordeel, die hiernamaals, ens. Die verskil is dat die stryd van God teen die bose ook ‘n baie goeie verklaring bied vir die bestaan van ander godsdienste (soos vroeër verduidelik). Volgens die Bybel, het alle ander godsdiensvorme sy ontstaan uit Babel en is vervalsings van die waarheid (dus kopieë met baie ooreenkomste tot die ware een).
10. Baie van die ouer godsdienste bestaan nie meer vandag in dieselfde vorm nie (bv. misterie-godsdienste). Nuwer godsdiensvorme (bv. New Age) het wel sterk wortels in die misterie-godsdienste, maar het nuwe inhoude. Christenskap het oor eeue heen dieselfde inhoud, en hulle geskiedenis kan baie ver teruggevind word in Israelitiese wortels (Ou Testament).
11. In die Ou Testament, wat getuig van dieselfde God as van die Christene, word verhaal dat daar ‘n toets / uitdaging was om te sien watter God die sterkste is (1 Kon 18). Daar het die God van Abraham, Isak en Jakob, gewys dat Hy sterker is as die Baäl-gode, deur die altaar wat met water deurdrenk was, aan die brand te steek. Baie mense het daardie dag tot bekering gekom.
12. Die Satan kan alle gawes van die Gees naboots (bv. spreek in tale, genesing ens.), maar ware liefde kan geen bose wese naboots nie. Liefde wat nie grootpraat nie, liefde wat nederig is (1 Kor 13), liefde wat God sy eie seun nie laat spaar het nie – liefde wat maak dat Christene ook hulle lewens vir hulle broers sal aflê (1 Jh 3:16). "Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?" (1 Jh 3:17).
Hoekstene van die Christelike geloof
Daar is sekere feitelikhede wat vir Christene die fondasie vorm van die Christelike geloof: Hoewel hierdie feite dikwels al in twyfel getrek is deur baie, was daar nog nie oortuigende getuienis om die feitelike aansprake van die Bybel oor Jesus se lewe en werk op aarde te weerlê nie.
1. Die feit dat Jesus ‘n historiese figuur was, word baie moeilik weerlê. Die getuienis daarvan is so sterk, dat die wêreldgeskiedenis radikaal daardeur beïnvloed is. Duisendes het daarvan getuig – ook buite-bybelse skrywers.
2. Dit is presies wat die skrywers van die Nuwe Testament ook gedoen het. Die Bybel is daarom die Woord van God, nie omdat die boek self heilig is of enige inherente magiese krag het nie, maar omdat die Gees van God die woorde in die Bybel ontsluit aan die gewillige leser, en op dieselfde manier as met die mense waarvan die Bybel praat, die lewensveranderende waarheid by die gelowige aktualiseer. Die Bybel is daarom nie primêr geskryf uit die oogpunt van historici nie, maar as getuienis en riglyn van hoe God met werklike mense gewerk het en steeds werk. Dit is daarom belangrik om te vra na die intensie en bedoeling van die Bybelskrywers, eerder as om sekere woorde te isoleer en betekenis daaraan te probeer kry vanuit die etimologie. Daarom kom verantwoordelike semantiek, waarvan Louw & Nida (1988) sê Nuwe Testamentiese Lexicon ‘n goeie voorbeeld is, daarop neer dat woorde nie betekenisse het nie, maar betekenisse het woorde. Dieselfde geld vir die uitleg van woorde in die Ou Testament. Die betekenis moet deur die ko-teks (die geskrif van die skrywer as geheel) bepaal word. Die Christene het in elk geval nie "taal" geskep nie. Dit sou daarom sinneloos wees om een of ander vorm van paganistiese oorsprong in Christelike of Ou Testamentiese terminologie te probeer aandui. Hulle het juis die bestaande taal gebruik en nuwe inhoude daaraan gegee. Hoewel die Bybel deur mense geskryf is, is dit geïnspireer en gedryf deur die Heilige Gees, en is daarom nie ‘n saak van eie uitlegging nie (2 Pt 1:19-21).
3. Jesus het werklik doodgegaan en op die derde dag weer opgestaan. Die feit dat die soldate nie nodig gehad het om Jesus se bene te breek nie, en dat die een sy swaard in sy sy gesteek het om te toets of hy dood is, is bewyse van Jesus se dood aan die kruis – en dit ongeag die menige getuies. Die opstanding word nie alleen bevestig deur die leë graf nie, maar ook deur die gelowiges aan wie hy daarna verskyn het. Die belang van die opstanding vir die Christen, beskryf Johnson (1986:101) soos volg:
"Christianity is not at base a religion of mystical enlightenment. Jesus is not revered as a sage who reached union with the divine and then showed others the way to that same unity. The primordial Christian experience is not seen as others experiencing what Jesus himself experienced; that is regarded as unique as unique as unspeakable. Christianity, rather, begins with Jesus’ followers experiencing Jesus after his death in an entirely new way. Like Judaism, Christianity is a religion of personal encounter with the Other. The primitive Christian experience consisted in encountering the Other in the Risen Jesus. The resurrection faith is the birth of Christianity."
Daarom was Petrus nog besig om te getuig van die opstanding van Jesus (Hd 10:41-46), toe die Heilige Gees skielik op almal geval het, en hulle in tale gespreek het en God grootgemaak het.
4. Jesus is gebore uit ‘n maagd. Maria se maagdelikheid word nie alleen deur die term "maagd" (parthenos = maagd / jonkvrou) gestaaf nie (Mt 1:23; Lk 1:27; Jh 1:13), maar veral deur die feit dat die swangerskap volledig bewerk is deur die die Heilige Gees (Mt 1:18; Lk 1:35) en nie deur Josef, haar verloofde nie. Die term "maagd" is daarom nie een of ander woordspeling vir ‘n voor-huwelikse kind nie. Dit was die vervulling van die Ou Testamentiese belofte (Jes 7:4), en die vervulling van die woorde van die engel van die Here wat aan Josef verskyn het (Mt 1:20 ens.)
5. Jesus is die Seun van God (bv. Mk 1:1). Hy was waarlik God, wat waarlik mens geword het (Jh 1:14). Alles het deur Hom ontstaan (Jh 1:3).
Ten slotte
Hierdie notas is nie primêr bedoel om te verdedig of te oortuig nie, maar om van God se kragtige werk in gewone mense se lewens te getuig, en om die aansprake van Christenskap in hul suiwerste moontlike vorm op die tafel te plaas, aan die hand waarvan grondliggende geloofsvrae aangepak kan word.
Bibliografie
Hislop, A 1959. The Two Babylons. Neptune, NJ: Loizeaux Brothers.
Johnson, LT 1986. The writers of the New Testament. An Interpretaion. Philadelphia: Fortress Press.
Louw, JP, Nida, EA 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains. New York: United Bible Societies.
Philip du Toit
Bespreek dit hier.