|
|
|
|
Die Sabbat |
|
|
|
Wednesday, 21 March 2007 |
|
Moet ‘n Christen die Sabbat hou? Is dit Saterdag? Is dit Sondag? Of het die begrip "sabbat" ‘n heel ander betekenis in die Nuwe Testament as die onderhouding van ‘n spesifieke dag? Moet ‘n Christen hoegenaamd een dag bo ‘n ander ag? Hierdie artikel was vroeër "Die wet en die sabbat." Daar is nou ‘n aparte artikel: Die wet (uitgebrei). Dit lê ten grondslag van hierdie artikel en moet hiermee saam verstaan word.
In die artikel: Die wet, word bespreek dat Christus by sy dood en opstanding die Ou Testamentiese wet vervul en beëindig het. Hy het die Nuwe Testament ingelei waaronder ons as Christene nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade. Ons is nie meer onder die verpligting om die Ou Testamentiese wette te onderhou nie, maar die wet van die Gees van lewe in Christus Jesus het ons vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Dit vind praktiese uitdrukking in die liefdesgebod van Christus: liefde vir God en die naaste. As mens verstaan hoe die Nuwe Testament oor die wet praat, spreek dit eintlik vanself of dit nodig is om die Sabbat te hou of nie. Hoe kan ons "ontslae" wees van die wet en dit "afgesterf" het (Rm 7:6) en "nie meer onder die wet" wees nie (Rm 6:14,15), maar steeds verplig wees om die Sabbat te hou? Paulus sê uitdruklik dat al die gebooie ("watter ander gebod ook al") saamgevat word in hierdie woord: jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Rm 13:9). Die hele wet word vervul deur die gebod van die liefde (Gl 5:14). Die gebod van die liefde vir God en jou naaste is dus die enigste gebod wat nodig is om te onderhou. Enige ander gebod word as’t ware opgeneem onder die groot gebod. Die groot gebod sluit alle ander gebooie in. Die Sabbat is geen uitsondering nie. Maar ter wille van volledigheid sal ek al die relevante verwysings na die Sabbat bespreek. Die Sabbat in die Ou Testament 1. Die eerste vraag wat mens moet vra is: Waar kom die Sabbatsgebod vandaan? Die eerste teken van ‘n Sabbatsgebod in die Ou Testament is in Eks 16:23-30 waar die volk dubbel die hoeveelheid manna op die sesde dag moes insamel sodat hulle op die sewende dag kon rus. Dit kom dan weer voor in Eks 20:10 waar dit deel vorm van die geskrewe wet wat Moses direk van God ontvang het. Hoewel God op die sewende dag van die skepping gerus het en dit geseën en geheilig het (Gen 2:3), was dit nie as sodanig as ‘n gebod ingestel vir elke sewende dag nie. Sommige meen dat daar sprake van Sabbatsonderhouding was voor Eks 16 n.a.v. Noag se sewe-dag-siklusse waarin hy die duif uitgestuur het (Gen 8:10,12) of die feit dat Jakob twee keer vir sewe jaar moes werk vir Ragel (Gen 29:27-28), maar dit dui eerder op die feit dat mense wel met "vaste tye" vir sowel dae as jare gewerk het (Gen 1:14). Die begrip "jaar" kom reeds voor in Gen 5:3 en "maand" in Gen 7:11. Gen 7:11 gee ‘n vaste datum aan vir die vloed – ‘n spesifieke dag in die lewe van Noag. So, hoewel die term "weke" eers voorkom in Eks 34:22, lyk dit redelik seker dat die mens van die begin af ná die skepping met sewe-dag-siklusse (weke) gewerk het. Die Sabbatsgebod self is egter eers heelwat later (+- 2500 jaar ná die skepping) as ‘n gebod ingestel (430 jaar na Abraham: Gal 3:17). Die hele wet is bygevoeg weens die oortredinge (Gal 3:19). Regdeur die Bybel is God se openbaring progressief. Die Ou Verbond(e) is opgerig, daarna het die wet gekom, daarna het nie Nuwe Testament en die Nuwe Verbond gekom. Die nuwe vervul en gee altyd dieper betekenis aan die oue. So ook het die Sabbatsgebod wel gebou op die beginsel van God se rus op die sewende dag (Eks 20:11), maar het eers in die woestyn as gebod en deel van die Ou Verbond tot stand gekom. In Deut 29:1,9,12,14,21,25 word die term "verbond" (berit) verstaan as die hele wet wat uiteengesit is in die voorafgaande Deut 6-28. In hierdie sin is die terme "verbond" en "wet" uitruilbaar. 2. Een van die belangrike beginsels oor die Sabbat is dat die Sabbat gemaak is vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie (Mk 2:27). Die Sabbat is deur God ingestel met die oog daarop dat die mens en al sy mense en diere gereeld kon rus van hulle werk. Hiervan is die volgende twee gedeeltes sprekende voorbeelde: Eks 23:12 "Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep." Deut 5:14 "maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy." 3. Die Sabbat was 'n "teken" of ‘n "sein" tussen God en die mens dat die mense kan weet dat God die Here is, en dat God se mense daardeur heilig en afgesonder vir God is (Eseg 20:12,20; Eks 31:13). Dit gaan oor die feit dat die mens 'n sekere dag aan die Here moes wy en dit moes heilig en God moes erken as Here en Skepper van hemel en aarde in ses dae, net soos Hy op die sewende dag gerus het na sy skepping en dit geheilig het (Gen 2:2-3). Ten diepste het dit daarom gegaan dat hulle een dag van die week moes eenkant sit om met God te ontmoet en Hom kan aanbid en erken vir wie Hy is. Dit was ook ‘n getuienis teenoor almal dat God die enigste Here is – soos ‘n vlag of ‘n banier vir God. Net soos met baie ander wette, moes mense gedood word as hulle dit nie hou nie (Eks 31:41). Na aanleiding van die leringe van Ellen White, die stigters-profeet van die Sewende Dag Adventiste, vertaal hulle die Hebreeuse ôth in Eseg 20:12,20 en Eks 31:13 met "merk" – wat slegs een van die moontlike vertalings is. Ellen White het gesê dat die merk van die dier in Op 13:16-18 verwys na Sondag-onderhouding wat volgens haar deur die Pous ingestel is (wat nie bewys kan word nie – dit word later bespreek) en dat diegene wat nog die Saterdag onderhou nie die merk van die dier dra nie. Maar die Griekse garagma in Op 13:16-17 verwys volgens Strongs eerder na ‘n gegraveerde skraap, ets of stempel, of ‘n uitgekerfde figuur: "a scratch or etching, that is, stamp (as a badge of servitude), or sculptured figure (statue): - graven, mark." Volgens Thayer beteken dit: "1) a stamp, an imprinted mark 1a) of the mark stamped on the forehead or the right hand as the badge of the followers of the Antichrist 1b) the mark branded upon horses 2) thing carved, sculpture, graven work 2a) of idolatrous images." 4. Die sabbat is bedoel om ‘n dag van vreugde en verlustiging te wees waarin die Here se kinders hulleself in Hom kan verbly, en nie ‘n uiterlike bykomende plig om die lys van wette nog swaarder en nog langer te maak nie. Jes 58:13-14 "As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; (14) dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek." 5. Daar is reeds in die Ou Testament sprake van God se misnoë met ‘n uiterlike vormgodsdiens wat godsdienstige rituele aanhang sonder dat hulle hart daarin is. Jes 1:13-17 "Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! (14) Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. (15) En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. (16) Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, (17) leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee." Jes 30:15 "Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie" Hierdie teks dui daarop dat die volk nooit in die ware rus (in Hom) ingegaan het soos Hy dit bedoel het nie. Hoewel die Sabbat veronderstel was om hierdie ware rus te help fasiliteer, het die volk nooit werklik in die ware rus in God ingegaan soos Hy dit bedoel het nie. Die Sabbat in die Nuwe Testament 1. Jesus is die Here van die Sabbat. Mt 12:1-8 "In daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet. (2) Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. (3) Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het— (4) hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? (5) Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? (6) En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. (7) Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; (8) want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat." (sien ook Mk 2:28; Lk 6:5) Dit beteken Jesus het die Sabbat in Homself vervul. As Here van die Sabbat het Hy die mag om nuwe inhoud aan die Sabbat te gee. Jesus is groter as die tempel. Hy is die nuwe sentrum van aanbidding. Hy is die persoon wat die diepere betekenis van die Sabbat beliggaam. Hy is ons Middelaar waardeur ons kan toetree tot 'n ware bewussyn en erkenning van God. 2. Jesus het die gebod van die Sabbat verbreek. Jh 5:15-18 "Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. (16) En hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het. (17) En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. (18) Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen DIE SABBAT GEBREEK het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het." Joh 9:16 "En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie. Ander sê: Hoe kan ‘n sondige mens sulke tekens doen? En daar was verdeeldheid onder hulle." Mar 2:24 "Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?" Johannes (5:18) skryf self dat Jesus die Sabbat verbreek het, hoofsaaklik omdat Hy telkens mense op die Sabbat genees het (bv. Lk 13:14; 14:3; Jh 5:10; 7:23; ens.), omdat Hy mense wat Hy gesond gemaak het, beveel het om hulle beddens opneem om te loop (bv. Jh 5:8-9), en omdat Jesus dit ook goedgekeur het dat sy dissipels koringare op die sabbat gepluk het. Jesus se verbreking van die wet van die Sabbatdag was een van die vernaamste redes waarom die Joodse owerstes vir Jesus tot die dood veroordeel het (Mt 12:1; Mk 2:23; Lk 6:1). 3. Die ware sabbatsrus is om toe te tree tot die ware rus in Jesus Christus. Heb 4:1 praat van die rus waarin ons moet ingaan terwyl die belofte nog standhou. Vers 3 sê: "…ons wat geglo het, gaan die rus in…" Heb 4:4-10 "Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; (5) en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. (6) Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, (7) bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. (8) Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. (9) Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; (10) want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne." In Heb 3:11, die vorige hoofstuk, is dit duidelik dat die "rus" (katapausis) waarin die volk moet ingaan, nie op die onderhouding van ‘n spesifieke dag dui nie, maar die ewige rus in Christus is. Iemand wat nie God se weë leer ken het nie en afvallig geword het, gaan nie in die rus in Christus in nie (Heb 3:10,12). Heb 4:1-3 praat van presies dieselfde rus, die ewige rus in Christus, nie die sabbat nie. Die manier hoe mens toetree tot hierdie rus is deur die geloof in Christus en deurdat ons met Hom ‘n persoonlike verhouding het (Heb 4:3). Nou belangrik, vers 4 sê: "Want (gar) Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus." Nou praat hy van die 7’e dag, die sabbatdag. Dus, die skrywer begrond die ewige rus in Christus in die beginsel dat God gerus het van sy werke op die 7’e dag. Die diepere betekenis van die sabbatdag, dit waarvan die sabbatdag ‘n skaduwee was, vind dus vervulling in die ewige rus in Christus: as ons in Hom glo en onsself aan Hom verbind. Heb 4:6-7 sê: "Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, (7) bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie." Nou bepaal God weer ‘n "sekere dag." Wat is die "sekere dag" wat vroeër bepaal is? Dit is die sabbatdag! Maar nou bepaal God weer ‘n sekere dag, maar nou is dit nie ‘n spesifieke dag van die week nie, dit is "vandag" – elke dag, nou, enige dag! (hierdie betekenis van "vandag" kan duidelik gesien word in Heb 3:13 en konteks). Nou tree ons tot die rus in Christus toe enige dag as ons nie ons harte verhard nie, maar die belofte van sy ewige rus glo, waarvan die fisiese sabbatdag maar net ‘n skaduwee was. Vers Heb 4:8 sê "Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie." Josua het dus nie die werklike rus vir hulle gegee nie. Die werklike rus is slegs in Christus, juis omdat die fisiese sabbatdag daarvan ‘n skaduwee was, en daarheen gewys het, en daarin (in Christus) vervul is. Daarom bring die skrywer juis in vers 9 die ewige rus in Christus en die sabbatsrus in verband met mekaar. Dus (ara) bly daar ‘n sabbatsrus oor. Behels dit die onderhouding van die fisiese, Ou Testamentiese sabbat, wat slegs ‘n skaduwee was van die werklike ewige rus in Christus? Verseker nie. Die konteks maak dit duidelik dat die term "sabbatismos" hier figuurlik gebruik word. Dit word in verband gebring met die ewige rus (katapausis). Dit word verder versterk deur vers 10. Vers 10 is kardinaal: "want (gar) wie in sy rus (katapausis = ewige rus) ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne (sabbatsrus)." Vers 10 sê dus in soveel woorde, dat hulle wat in die katapausis ingegaan het, die ewige rus in Christus (waarvan die fisiese sabbatsgebod slegs ‘n skaduwee was), "rus ook self van sy werke soos God van syne." Is dit nie pragtig nie? Wat sê dit? Dit sê dat hy wat in Christus se ewige rus ingegaan het, het ook die sabbat vervul. Anders gesê, hy wat in Christus rus het ook dit nagekom wat die fisiese sabbatsrus bedoel was om te doen. Sou dit dus nodig wees om die Ou Testamentiese, fisiese sabbatsgebod waarin ‘n sekere dag onderhou word nou steeds te onderhou? Verseker nie, want dit is vervul in Christus, en deurdat ons deur geloof aan Christus verbind is, tree ons toe tot die eintlike rus, waarvan die fisiese sabbatsgebod slegs ‘n skaduwee was. Mt 11:28-30 sê "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. (29) Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; (30) want my juk is sag en my las is lig." Sien ook die profesie in Jes 11:10: "En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees." 4. Die Nuwe Testament veroordeel wettisisme. ‘n Goeie voorbeeld van mense wat geneig was tot wettisisme is die Galasiërs. Paulus is baie ontsteld oor die manier hoe hulle, nadat hy aan hulle die evangelie van genade verkondig het, weer teruggeval het in wettisisme. Hy sê onder andere: Gl 3:1-5 "o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? (2) Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? (3) Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? (4) Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! (5) Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?" Dit lyk of die Galasiërs geneig was tot ‘n klomp "moets" en "moenies." Hulle het onder andere steeds van Christene verwag om hulle te laat besny, wat deel was van die Ou Testamentiese wet. Daarom sê Paulus aan hulle (Gl 5:1-4): "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. (2) Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. (3) En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. (4) Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval." Paulus beskou dit as so ‘n ernstige saak dat hy aan hulle sê dat hulle deur wettisisme hulleself losmaak van Christus en selfs dat hulle van die genade verval het. In Gl 4:10-11 sê hy hierdie insiggewende woorde: "Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. (11) Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het." Dit verwys na die Joodse feeste en dae, waaronder die Sabbat ook een is, wat hulle waargeneem het. Net soos wat dit nie meer nodig is om hierdie feeste waar te neem nie, is dit nie meer nodig om die Sabbat waar te neem nie. Al hierdie dae was in elk geval net ‘n skaduwee op die evangelie en die ware rus wat sou kom in Jesus Christus (Kol 2:16-17; vgl. Heb 10:1). Paulus spreek ‘n soortgelyke probleem aan by die Romeine (Rm 14:1-23). Daar was diegene onder hulle wat gemeen het mens mag nie vleis eet nie, en vaste wette voorgehou het oor wat mens mag eet. En daar was ook diegene wat gemeen het dat mens sekere dae moet waarneem (soos die Joodse feeste en die Sabbat) en sekere dae as belangriker as ander beskou het, en waarskynlik van die ander Christene verwag het om dit ook te doen (vers 5). Daar was duidelik onenigheid in die gemeente hieroor. Hy vermaan hulle om die wat "swak is in die geloof" in liefde aan te neem (verse 1-2). Hierdie "swakkeres" was diegene wat klaarblyklik nie die genade-karakter van die evangelie reg verstaan het nie en telkens terug wou val in wettisisme. Dieselfde tipe probleem word ook by die Korinthiërs aangespreek waar sekere mense ander verbied het om vleis te eet wat aan afgode ge-offer is (1 Kor 8:1-13). Paulus sê dit is belangrik om ruimte te maak vir mense wat swak is in die geloof en hulle nie te benader vanuit ‘n posisie van oordeel of selfs vanuit ‘n posisie van ‘n nuwe tipe wetmatigheid nie, maar in genade en liefde: liefde wat alles bedek. As Paulus met die Kolosssense praat, beskryf hy die volkome werk van Jesus wat hy deur sy dood en opstanding gedoen het. Daardeur het Hy die skuldbrief teen ons wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim aan die kruis en getriomfeer oor alle owerhede en magte (Kol 2:9-15). Daardeur kan ons deel en identifiseer met alles wat Christus gedoen het, waarin Hy vir ons ‘n nuwe vryheid gebring wat ons losmaak van alle vorme van wettiesisme. Daarom sê Paulus in vers 16-19: "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, (17) wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. (18) Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, (19) en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word." Paulus sê "laat niemand julle dan oordeel…" juis omdat die Nuwe Testamentiese Christene nie moets en moenies gehad het oor wat hulle eet nie, en hulle het ook nie vaste verpligtinge en wette gehad oor feeste of die sabbat nie. Hy sê dit omdat hulle alles geëet het, drank gebruik het, en nie die Joodse feeste of die sabbat onderhou het nie – anders sou hierdie uitspraak van Paulus geen sin maak nie. Dit was nie nodig om hierdie dae te onderhou nie, want Christus het alles in almal vervul. Paulus som ‘n wettiese instelling ten opsigte van eet, drink, feeste en sabbat baie goed op in die daaropvolgende woorde aan die Kolossense: Kol 2:20-23 "As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge (21) soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? — (22) almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, (23) wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees." Kom die Sondag in die plek van die Sabbatdag? Die Nuwe Testament praat van die dissipels wat op die "eerste dag van die week" vergader het en brood gebreek het (Hand 20:7) en van fondse wat vir die heiliges ingesamel is op die eerste dag van elke week (1 Kor 16:2). Jesus het op die eerste dag van die week opgestaan uit die dode (bv. Lk 24:1) en het ook op die eerste dag van die week aan sy dissipels verskyn (Jh 20:19). Daar is aanduiders in die geskiedenis dat die eerste Christene op die eerste dag van die week bymekaar gekom het om nagmaal te hou en saam te bid. Daar is bv. aanduidings in Die brief van Barnabas (ongeveer 74 nC) dat Christene die agste dag herdenk het. Dit sê: "Ons onderhou die agste dag met vreugde, die dag waarop Jesus ook weer opgestaan het uit die dood." (Die brief van Barnabas 15:6-8). Die Didaché (ongeveer 90 nC) praat ook telkens van hierdie praktyk, asook natuurlik heelwat van die kerkvaders (bv. Ignasius, Justinus, Tertulianus, Origenes, Augustinus, ens.) Die eerste historiese optekening van Christene wat egter die Saterdag herdenk het, was die Anabaptiste-leiers: Andreas Fisher en Oswald Glait in 1527 nC. Nêrens in die Nuwe Testament is daar egter ‘n aanduiding dat die Sondag die Sabbatdag vervang het nie. Dit sou neerkom op ‘n nuwe wet. Dieselfde geld vir die besnydenis. Die Bybel sê ook nie dat iets anders (soos die doop) in die plek van die besnydenis gekom het nie, want dit sou ook weer ‘n nuwe wet veronderstel het. Kol 2:11-13 sê dat Christus se besnydenis (sy dood) in die plek van die besnydenis gekom het. Op dieselfde manier is nie nagmaal (of die paasfees) nie ‘n nuwe wet of ‘n nuwe fees wat in die plek van die pasga gekom het nie. Christus self is die Lam (Joh 1:29,36), waarvan die lam op die pasga ‘n afskynsel was. Trouens Christus het ALLES waarvan die Ou Testamentiese Wet, Profete en Psalms praat in Homself vervul: Luk 18:31 "En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en ALLES wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word." Luk 24:44 "En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat ALLES wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word." Ef 1:22-23 "En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, (23) wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat ALLES in almal vervul." Die herdenking van die Sondag kan dus nie verstaan word as ‘n nuwe wet nie. Dit is nêrens deur Christus spesifiek ingestel nie. Christene moet daarom versigtig wees om inherente waarde te heg aan die Sondag. Streng Sondag-onderhouding (veral as dit gepaard gaan met allerlei wette soos: "moenie dit op ‘n Sondag" of "moenie dat op ‘n Sondag") kan aanleiding gee tot wettisisme en mense van die genade laat vervreem. Dit kan ook aanleiding daartoe gee dat mense net een dag aan die Here wil wy en dan as’t ware deur die week leef soos hulle wil en die sonde wat hulle deur die week gedoen het skielik op die Sondag wil bely. Dieselfde kan egter van Saterdag-onderhouding gesê word. Die hele punt van Christus wat die ware Sabbat is, is juis dat ons 24 uur van die dag elke dag in verhouding met Hom staan. Ons tree toe tot die Sabbatsrus as ons tyd maak met die Here – vandag! (Heb 4:7) – enige dag. Paulus sê implisiet dat die "sterkere" in die geloof alle dae gelyk ag (Rm 14:5). In beginsel moet die Christen dus elke dag van die week in God se Sabbatsrus toetree. Die kern moet altyd Christus self bly. Hy is die middelpunt van die Christelike geloof. Selfs die doop en die nagmaal – hoewel deur Christus ingestel – kan nooit inherente waarde dra los van Christus se dood en opstanding en sy werk in en deur jou lewe nie. Mense wat werk deur die week (waarvan baie oor naweke werk) kan egter nie 24 uur van elke dag aktief tot God se rus toetree nie – hoewel mens altyd deur God se Gees en in sy teenwoordigheid moet leef. Persoonlik dink ek daarom dit is ‘n goeie beginsel om ten minste een dag van die week slegs op jou verhouding met die Here te fokus, maar dan nie as ‘n nuwe wet nie. En dit hoef nie noodwendig ‘n Saterdag of ‘n Sondag te wees nie. Dit kan enige dag wees. Die lering wat die die kerk ontstaan het dat die onderhouding van die Sondag in die plek van die onderhouding van die Sabbatdag gekom het, kan dus nie Bybels verantwoord word nie (baie van die Sewende Dag Adventiste sê dat ‘n sekere Rooms Katolieke Pous die Sondag as ‘n sabbat in die plek van die Saterdag-sabbat ingestel het op ‘n sekere dag en datum. Dit kan egter nie histories bewys word nie. Dit kom hoofsaaklik van een Van Ellen White se visioene. Dit is eerder ‘n lering wat in die vroeë Rooms Katolieke kerk ontwikkel het Sien bv. http://www.truthorfables.com/Pope_Did_Not_Change_Sabbath_Sunday.htm). Gevolgtrekking Vanuit die regte verstaan van die wet in die Nuwe Testament, spreek dit vanself dat die wet – waarvan die onderhouding van die Sabbatdag deel was – slegs ‘n tugmeester en ‘n skaduwee is van die toekomstige weldade in die evangelie van genade wat aangeneem word deur die geloof. Heb 10:1 "Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie." Deur geloof in Christus tree ons toe tot die ware sabbatsrus in Hom (Heb 4:9), wat spreek van die Nuwe Testament van sy bloed wat ‘n volkome regverdiging en vrymaking is van die wet van die sonde en die dood. Dit spreek van die nuwe vryheid (Gl 5:1,18) en lewe in ‘n persoonlike verhouding met Christus self. Dit is waarheen die Sabbatdag gewys het. Christus self kom dus in die plek van die Sabbatdag, nie die Sondag nie. Ek kan die kern van die Christen se nuwe stand in Christus nie beter saamvat as in die woorde van Paulus nie: Rm 8:1-4 "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. (2) Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. (3) Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, (4) sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees." Gl 5:18 sê daarom: "Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie." As ons deur die Gees van God wandel en ons altyd aan Sy leiding oorgee, sal ons alles doen wat God van ons verlang. Dit vind praktiese uitdrukking in die liefdesgebod: vir God en die naaste. Saam met die werking van die Gees in en deur ons lewens gaan geloof. Die wet van geloof kom in die plek van die wet van werke (Rm 3:27-28). Geloof berus in alle opsigte op die verdienste van Christus. Hy het die wet kom vervul. Hy het alles gedoen wat nodig is vir ons om gered te word. Daar is geen addisionele voorwaardes en wette (insluitende Sabbatdag-onderhouding) wat as voorwaarde kan dien vir redding of ‘n bydrae kan lewer tot ons saligheid nie. Alles waarvoor die Ou Testament staan; al God se wette en profesieë is vervul, nagekom, ingesluit en vervat in Jesus Christus self en die werk wat Hy op aarde gedoen het en nog gaan doen. Daarom, om Christus te ken oortref alles in waarde. Flp 3:7-11 "Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. (8) Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry (9) en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; (10) sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, (11) of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik." Philip du Toit Bespreek dit hier. |
|
Last Updated ( Thursday, 19 June 2008 )
|
|
|
|
|