fWanneer dit kom by meer abstrakte dinge of geloof het mense uiteenlopende standpunte omdat daar verskillende bronne van gesag is vir verskillende mense. Vir die meer katolieke en ortodokse gelowe speel hulle tradisie bv. ‘n belangrike rol. Vir baie gelowe en Christelike denominasies is hulle voorlopers of aanvanklike profete belangrik. Hulle bepaal gewoonlik tot ‘n groot mate die inhoud van sulke groepe se geloof. Die leer en lewe van die voorlopers dra vir hulle gesag.
Groepsdruk speel ook ‘n belangrike rol in mense se wêreldbeeld. Dit is baie makliker om saam met die groep of die stroom te gaan as wat dit is om "uit" te wees by die groep. Trots is hier ook ‘n belangrike faktor. In die meer akademiese kringe is dit nog moeiliker om teen die stroom in te glo. As iemand opvoeding en opleiding in sekere beskouinge gehad het, en indien daardie beskouinge deel is van die gerespekteerde intellektuele hoofstroom, sal so ‘n persoon as’t ware sy akademiese trots moet inboet as hy/sy ander sienings aanvaar. Die hoofstroom wetenskap vorm in daardie sin ‘n akademiese elite wat neersien op enige ander teorieë of beskouinge. Die manier hoe evolusioniste neerkyk op kreasionistiese wetenskaplikes en hulle nie as wetenskaplikes beskou nie, is een so ‘n voorbeeld. Een van die kriteria wat hiermee saamhang, is die feit dat die hoofstroom wetenskap dikwels hulle eie standaarde neerlê vir wat as wetenskaplik beskou kan word en wat nie. Hulle sal dit bv. noodsaaklik maak dat wetenskaplike kreasionistiese artikels eweknie-geëvalueer ("peer-reviewed") moet wees. Daarmee bedoel hulle dat die hoofstroom wetenskaplikes dit moet "peer-reiview." Maar die probleem is dat die hoofstroom wetenskap ‘n front vorm om die kreasionistiese wetenskaplikes uit die hoofstroom te hou. Meeste evolusioniste sal daarom weier om kreasionistiese wetenskap te "peer-review" of as ‘n geldige wetenskaplike alternatief te aanvaar. Dit gaan dus ook oor mag. Die met die meeste mag en geld hou beheer. Die effek van groepsdruk kan baie erger vorme ook aanneem, sodat mense met ‘n minderheids-mening afgeknou of selfs mishandel word deur skeldname en etikette, of deur die weiering van werksgeleenthede, ens.
Dieselfde kan natuurlik gesê word vir baie ander instansies. Die grootste media-reuse sien toe dat slegs die nuus en die berigte wat hulle eie ideologie bevorder versprei moet word aan die goed-gelowige publiek. Indien van die kleiner media-organisasies alternatiewe nuus plaas of versprei sal dit baie gou onderdruk of gediskrediteer word deur die groot media-reuse.
Die groot staats-beheerde opvoedkundige instansies is so saamgestel dat dit hulle eie ideologie bevorder. Om weer evolusie as voorbeeld te gebruik... Sedert die popularisering van die evolusie-teorie is die sallabusse in skole en universiteite aangepas om die evolusionêre en humanistiese ideologieë te bevorder. Bloot op grond van die sallabusse in skole sal die kinders van vandag nie eers weet daar bestaan iets soos kreasionistiese wetenskap nie. Hulle bevraagteken nie die evolusie-teorie nie want daar word nie eers ‘n alternatief aan hulle genoem nie. Dit is in ‘n postmoderne samelewing eintlik baie ironies. Postmodernisme is veronderstel om ruimte te maak vir diversiteit en ‘n verskeidenheid van opinies en beskouinge.
Die vraag wat mens jouself moet afvra is in watter mate is jou wêreldbeskouing en dit wat jy as waar en geldig beskou die produk van jou opvoeding of die produk van die hoofstroom-mening van die samelewing? Anders gestel, wat is die mate van gesag wat die hoofstroom wetenskap, die hoofstroom media en die hoofstroom mening op jou wêreldbeskouing het?
Die ander noodwendige gevolg van die gesagstruktuur in die wêreld is dat mense nie meer vir hulleself kan dink en op grond van selfstandige navorsing hulle eie konklusies kan maak nie. Ook in die wetenskap bestaan die tendens so sterk dat baie mense met doktorsgrade slegs ander akademici napraat en voortbou oop bevindinge van ander navorsing wat klakkeloos en kritiekloos aanvaar word. Dit is amper soos ‘n soort "Truman Show" waar iemand ontmoedig word om ‘n ontdekkingsreisiger te word omdat alles reeds ontdek is.
Vandag se samelewing het ook die gesag van die Bybel begin bevraagteken. Om weer terug te kom na die evolusie-teorie… Vandat die evolusieteorie posgevat het onder die hoofstroom wetenskaplikes en die hoofstroom-opinie van die samelewing, is dit gestel bokant die gesag van die Bybel. Hoewel die Bybel ‘n volledig wetenskaplik verantwoordbare kosmologiese model daar stel (soos wat ek self bevind het), word dit deur die hoofstroom wetenskap as belaglik en ongeloofwaardig afgemaak, nie omdat hulle dit kan teenbewys of omdat ‘n skeppings-wetenskaplike model ongeldig is nie, maar bloot omdat die wetenskaplike wêreld genoeg mag het en genoeg gesag by mense het om die skepping te diskrediteer.
Die relativering van die gesag van die Bybel het ook op baie ander vlakke van die teologie sy verskyning gemaak. Baie van die bonatuurlike elemente (soos die wonderverhale, wonderwerke van Jesus, die maagdelike geboorte) word weg-verklaar omdat dit nie inpas by die humanistiese en naturalistiese wêreldbeskouing van die hoofstroom nie. Baie van die gedeeltes in die Bybel word dus gerelativeer en van sy inherente gesag beroof deur dit te kategoriseer as mites wat slegs gebonde is aan die sogenaamde "pre-moderne wêreldbeeld." So word die Bybel beroof van sy goddelike en transendente karakter. Indirek word God se gesag ook daardeur in twyfel getrek. Die Bybel wat eers ‘n betoubare getuienis van God se Woord was, raak nou ‘n uitsluitlik menslike boek vol foute, mites en teenstrydighede.
Die vraag is, wie dra gesag in jou lewe? En hoekom? Glo jy dinge omdat dit vir jou gesê is, of glo jy omdat jy in jou eie soeke en navorsing daarby uitgekom het?
Maar weet net dit, as jy kies om konsekwent die gesag van die Bybel te aanvaar, kies jy die moeilike weg, jy kies die weg van vernedering en belediging, nie net van die sekulêre samelewing nie, maar juis ook van die religieuse samelewing.
Philip du Toit
Bespreek dit hier.