Home arrow Theology arrow Bible Interpretation arrow Die bybel as die Woord van God - watter vertaling?
Die bybel as die Woord van God - watter vertaling? Print E-mail
Wednesday, 21 March 2007

Hoe moet mens onder die term "Woord van God" verstaan?  Is alle Bybels die direkte Woord van God?  Indien wel, waarom verskil Bybelvertalings dan so drasties? Beteken dit dat ‘n Bybel letterlik God se Woord is, en daarom as sodanig heilig is?  Baie van ons het grootgeword met die idee dat mens bv. nie ‘n Bybel op ander boeke mag neersit nie, of dat mens die boek self met baie respek moet hanteer. 

Bybels het egter geen inherente, of magiese krag nie. Dit is slegs die Gees van God wat die menslike verstand en die gees van die mens oop en ontvanklik kan maak vir die woorde van die Bybel. 2 Kor 3 praat bv. daarvan dat daar ‘n bedekking oor die lees van die Ou Testament is, wat slegs in Christus vernietig word (vers 14). Christus moes die dissipels se verstand open om die Skrifte te verstaan (Lk 24:45). Dit is daarom ook die Gees van Christus wat mens lei in die waarheid (Jh 16:13). Daarom is die Skrif deur God ingegee, en die mense wat dit geskryf het, is deur die Heilige Gees "gedrywe":

2 Tm 3:16 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid…"

2 Pt 1:20 "terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; (21) want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek."

Die woord wat met "gedrywe" vertaal word, is "fero" (Grieks), wat "dra" beteken. Die KJV vertaal dit met "moved by." Die 1983 vertaling se "meegevoer" is ‘n baie goeie vertaling. Volgens die Skrif self, was die skrywers van die Bybel dus onder direkte leiding van die Heilige Gees. Die Skrif is dus inderdaad deur mense geskryf, maar dit wat hulle geskryf het, was God se openbaring en sy Woord, wat Hy deur sy Gees in hulle harte gewerk het. Die term "Woord van God," kom soos volg in die Bybel voor:

Rigt 3:20; 1 Sa 9:27; 2 Sa 16:23; 1 Kon 12:22; 1 Kron 17:3; Spr 30:5; Mk 7:13; Lk 3:2; 4:4; 5:1; 8:11,21; 11:28; Jh 10:35; Hd 4:31; 6:2,7 8:14; 11:1; 12:24; 13:5,7,44,46; 17:13; 18:11; Rm 9:6; 10:17; 1 Kor 14:36; 2 Kor 2:17; 4:2; Ef 6:17; Kol 1:25; 1 Th 2:13; 1 Tm 4:5; 2 Tm 2:9; Tt 2:5; Heb 4:12; 6:5; Heb 11:3; 13:7; 1 Pt 1:23; 2 Pt 3:5; 1 Jh 2:14; Op 1:2,9; 6:9; 19:13; 20:4.

Die lys vir "Woord van die Here" is heelwat langer. Hier is slegs ‘n paar voorbeelde:

Gn 15:1,4; Num 15:31; Dt 5:5; 1 Sam 15:10; 1 Kon 6:11; 2 Kon 7:1; 2 Kron 18:18; Ps 18:31; 33:4,6; Jes 38:4; Jer 1:4; Eseg 1:3; Dan 9:2; Hos 1:1; Joe 1:1; Am 7:16; Jon 1:1; Mig 1:1; Sef 1:1; Hag 1:1; Sag 1:1; Lk 22:61; Hd 8:25; 11;16; 13:48,49; 15:35,36; 16:32; 19:10,20; 1 Ts 1:8; 4:15; 2Ts 3:1; 1 Pt 1:25 (nie volledig nie).

Ander tekste wat die term "Skrif" gebruik, is soos volg:

Eks 32:16; Dt 10:4; Mk 15:28; Lk 4:21; Jh 2:22; 7:38,42; Jh 10:35; 13:18; 17:12; 19:24,28,36,37; 20:9; Hd 1:16; 8:32,35; Rm 4:3; 9:17; 10:11; 11:2; Gl 3:8,22; 4:30; 1 Tm 5:18; 2 Tm 3:16; Jk 2:8,23; 4:5; 1 Pt 2:6,20.

Sien ook "Skrifte":

Mt 21:42; 22:29; 26:54,56; Mk 12:24; 14:49; Lk 24:27,32,45; Jh 5:39; Hd 17:2,11; 18:24,28; Rm 1:2; 15:4; 16:26; 1 Kor 15:3,4; 2 Tm 3:15; 2 Pt 3:16.

Jesus self, waar hy in die woestyn in gesprek gaan met die Satan, sê bv: "daar is geskrywe." (bv. Mt 4:4-10). Die Skrif het daarom ‘n bepaalde gesag as dit reg gebruik word. Die Satan het juis in hierdie gebeure ook die Skrif gebruik, maar hy het dit gebruik om Jesus as’t ware te tart. Hy haal bv. uit Ps 91:11-12 aan (Mt 4:6) waar hy Jesus versoek om van die tempel af te spring.

Daar is dus ‘n verkeerde manier om die Bybel te gebruik. Dit is om dit slegs te gebruik vir jou eie begeerlikhede, of in ‘n meer genuanseerde vorm, om jou eie ideologie te regverdig. Dit is daarom geen wonder dat daar vandag so baie verskillende ideologieë is nie. En baie van hulle maak aanspraak op die Bybel.

2Tm 4:3 sê: "want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede," (sien ook 2 Pt 3:3; Jd 1:18). Slegs die persoon wat aan God se Gees oorgee, en toelaat dat Hy jou denke verander, en bereid is om jou vooropgestelde idees neer te lê, kan die Woord as ‘n tweesnydende swaard in sy lewe ervaar, wat sny deur gees, siel en gewrigte en murg, en die diepste oordenkinge van die hart beoordeel (Heb 4:12).

Hoewel die Bybelskrywers mense was, het God hulle spesiaal toegerus om sy Woord vas te lê, wat aan baie mense direk oorgedra is. Dit is veral die profetiese boeke wat praat van die direkte Woord van die Here wat tot hulle gekom het. Die frekwensie van die term "Woord van die Here" wat gekom het tot die profeet, val veral op in Jeremia (53 keer) en Esegiël (59 keer). Seker een van die suiwerste voorbeelde waar die Woord van God tot die mens gekom het is waar Hy hoorbaar met Moses gepraat het (Exo 19:19): "Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord." Die Bybelskrywers was dus almal mense wat gedryf was deur dieselfde Gees. Die kontinuïteit en die "koherensie" (inherente teologiese samehang en eenheid) van die Bybel is daarom merkwaardig.

Maar daar is ook ‘n groot mate van "kontingensie" by die verskillende Bybelskrywers (vir koherensie / kontingensie, sien Beker JC 1990. The Triumph of God. The Essence of Paul’s Thought). Dit verwys na die spesifieke (toevallige) omstandighede en situasie waarin die skrywers hulleself bevind. Hoewel die hele Bybel deur God geïnspireer is, verskil die skrywers se persoonlikhede, style, omstandighede, ens. Sekere skrywers is lief vir sekere uitdrukkings, sekere stylfigure, sekere tipes retoriese tegnieke, ens. Dit is in alle gevalle belangrik om te vra na die gerigtheid of bedoeling van die skrywers. Met ander woorde, die Bybel moet primêr gelees word na gelang van sy boodskap en sy koherensie. Hoewel sekere skrywers aanspraak maak op historiese korrektheid (bv. Lukas: Lk 1:1-4), is die Bybel nie primêr bedoel as historiese geskiedskrywing, met die oog daarop om dit te gebruik as ‘n geskiedenishandboek nie. Dit is ook nie 'n wetenskaps- handboek nie. Dit beteken egter nie dat geen historiese of wetenskaplike data van die Bybel afgelei kan word nie, maar dit gee in baie gevalle kriptiese en onvolledige inligting. Die inligting wat die Bybel wel gee is nie vanuit 'n wetenskaplike perspektief nie, maar ook nie noodwendig in stryd met die wetenskap nie. Hoewel die Bybel wel duidelik is oor die skepping, kan daar nie klaar kosmologiese of geologiese konklusies oor alle aspekte van die wetenskap vanuit die Bybel gemaak word nie. Die unieke karakter van die Bybel vra wel dat dit reg gelees word, dit wil sê, dat ons die leiding van die Heilige Gees sal soek om die waarhede wat God deur die Bybel aan ons wil bring, raak te sien en te waardeer. Die Bybel is dan ‘n instrument waarmee God ons lewens kan verander en nader kan bring aan sy perfekte wil in en deur ons op hierdie aarde.

Die "Woord van God" is daarom meer as net die versameling boeke wat ons "Die Bybel" noem. Die "Woord van God" het van ewigheid af bestaan (Jh 1:1; 1 Jh 1:1) en bly vir ewig (Ps 119:89; Mt 24:35; 1 Pt 1:25). Die Woord is beliggaam in Jesus Christus self (Jh 1:14; Op 19:13). Heb 1:3 "Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die Woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte." Ons is wedergebore vanuit die saad van hierdie Woord (1 Pt 1:23). Die Woord is self God (Jh 1:1). Ons is daarom ook uit God gebore (1 Jh 3:9). Die Woord is ook die "swaard van die Gees" (Ef 6:17; Heb 4:12) wat in ons woon (Kol 3:16; Jh 15:7; 1 Jh 2:24).

Streng gesproke is dit problematies om te sê die Bybel is totaal en al foutloos. Hoewel die Woord van God foutloos is, is die Bybel as sodanig nie inherent en meganies die Woord van God nie (soos hierbo verduidelik). Buiten dat ons nie die oorspronklike Bybel het nie (wat later bespreek sal word), is daar ook kleiner "foute" in die Bybel. Daar bestaan bv. grammatikale foute in Openbaring waar die skrywer die verkeerde naamvalle gebruik, grammatikale geslagte meng ens. (sien Kruger, G 1981:71-72. Die Skrywers van die Nuwe Testament. US Uitgewers, Stellenbosch.) Daar bestaan ook variasies in getalle by dubbele vertellinge van dieselfde gebeure in die Ou Testament (hoewel daar moontlike verklarings vir baie daarvan is), bv. in Dawid se sensus volgens 2 Sam 24:9 is daar 800 000 manne in Israel wat die swaard uittrek en volgens 1 Kron 21:5 is daar 1 100 000; 2 Sam 24:9 praat van 500 000 manne in Juda en 1 Kron 21:5 van 470 000 manne in Juda wat die swaard uittrek. Daar bestaan ook variasies in vertellinge in die vier evangelies, hoewel nie noodwendig teenstrydig nie maar meestal aanvullend en vanuit verskillende perspektiewe. Daar is egter geen diepgaande of essensiële foute in die Bybel nie. Nêrens word die hart van die Bybelse boodskap en die wesentlike betroubaarheid van die Bybel aangetas of onder verdenking geplaas nie. Die Bybel bly inderdaad merkwaardig betroubaar. As ek dus 'n definisie vir die Bybel sou gee, sal dit wees:

 

Definisie van die Bybel:

1.Die Bybel is die Woord van God.

2. Die Bybel is 'n betroubare getuienis aangaande God se openbaring aan die mens.

Die Bybel is reeds die Woord van God en word nie eers die Woord van God wanneer ons dit lees nie. Maar die doel waarmee Hy die Bybel aan die gemeenskap van gelowiges gegee het, kom eers tot verwesenliking wanneer die Gees die Woord lewendig maak in ons harte en ons daarop reageer.

 

Watter vertaling?

As die Woord van God (in sy werklike definisie) aan die werk kom in ons lewens, sal die Heilige Gees self ons in die hele waarheid lei (Jh 16:13; 1 Jh 2:27). Hoe meer ons in aanraking kom met die Woord van die Here, hoe nader aan die waarheid sal ons kom. Dit is die Gees wat ons wys wat die ware bedoeling in die teks van die Bybel is.

 

Dit beteken nie dat God los van ons verstand of denke werk nie, maar sy Gees moet ons denke voortdurend vernuwe (Rm 12:1-2), sodat ons die beskikbare gegewens ten beste kan gebruik. En wat is die beskikbare gegewens? Ongelukkig bestaan daar nie iets soos "die oorspronklike Bybel" nie. Die oudste Hebreeuse tekste van die Ou Testament en die oudste beskikbare Griekse tekste van die Nuwe Testament is onvolledig en daar is talle klein verskille, met die klem op die "klein." Nêrens in die teksgetuienis is daar wesentlike verskille of verskille wat die hart van die evangelie en die Bybelse boodskap aantas nie. Die nuuste Griekse Nuwe Testament (Nestle Aland 27’e uitgawe), is ‘n samestelling van die getuienis wat die samestellers gedink het die naaste aan die oorspronklike behoort te wees. Daar is dus alreeds heelwat interpretasie aan verbonde. Menslike foute kan insluip met die keuse van sekere manuskripte bo ander. Iets soos die 1933-1953 Afrikaanse vertaling is bv. vertaal uit die Textus Receptus – ‘n baie ouer samestelling van Griekse manuskripte wat minder akkurate getuienis gebruik het. D Erasmus, wat die teks saamgestel het, het bv. sekere dele aan die einde van Openbaring nie tot sy beskikking gehad nie, en sommer vanuit die beskikbare Latynse Bybel terug vertaal in Grieks. So het hy bv. Op 22:19 vertaal met "boek van die lewe" (1933 / 1953 Afrikaanse vertaling), wat eintlik "boom van die lewe" moet lees (sien latere uitgawes).

Menslike foute is ook nie uitgesluit as dit by vertalings kom nie. Sekere vertalings is myns insiens doodgewoon verkeerd. Daar bestaan hoofsaaklik 3 maniere van vertaal:

1. Ideolekties of woord-vir-woord. Dit is om elke woord so akkuraat as moontlik net so oor te bring vanaf die oorspronklike taal na die nuwe taal. Dit het egter bepaalde probleme. ‘n Ideolektiese vertaling van ‘n idiomatiese uitdrukking maak nie altyd sin in die nuwe taal nie, en gedigte of rym gaan dikwels verlore. Bv. Rm 12:20 "…want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop" (1933 / 1953 Afrikaans).

 2. Dinamies ekwivalent of funksioneel ekwivalent. Dit is om die betekenis van die oorspronklike taal te probeer oorbring na die nuwe taal deur middel van ‘n kompakte omskrywing. Die probleem is dat daar ‘n groter mate van interpretasie teenwoordig is. Dikwels sê hierdie tipe vertaling te min om ‘n volledige omskrywing te bied, en net genoeg om jou in ‘n bepaalde denkrigting te stuur. Bv. Rm 12:20 "…want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte" (1983 Afrikaans). Sekere vertalings probeer om gedigte of idiome in die nuwe taal ook in gedigte of idiome te vertaal. Bv. Lk 7:32 "A wedding song we played for you, the dance you did but scorn. A woeful dirge we chanted, too, but then you did not mourn." (International Standard Version).

3. Parafrase. Dit is ‘n vrye vertaling wat so maklik as moontlik vloei in die nuwe taal, en nie noodwendig probeer om spesifieke woorde van die oorspronklike taal na die nuwe taal oor te bring nie, maar wel die essensensie (volgens die interpretasie van die vertaler) van die oorspronklike teks in hedendaagse taal te probeer weergee. Die mate van interpretasie in hierdie vertalingsmetode is dus nog groter. Bv. Rm 12:20 "As jy dit doen, sal jy hom sommar baie skaam maak." (Die Boodskap). Hierdie tipe vertaling kan so hedendaags wees, dat dit hom kan skuldig maak aan anachronismes (diskontinuïteit m.b.t. tyd: die plasing van ‘n persoon of saak in ‘n tydperk waarin dit nie kon plaasvind nie). Bv. "Dan nooi sy gou-gou al haar vriendinne oor vir ‘n koppie tee" (Lk 15:9: Die Boodskap).

Die vraag is, watter metode is die beste? Die probleem is dat nie een enkele vertaling ooit volledig reg kan laat geskied aan die oorspronklike teks nie. Die Latynse spreekwoord "Tradutorre traditore," verduidelik dit baie goed. Dit beteken: "Die vertaler is ‘n verraaier." Sekere gedeeltes van Shakespere kan eenvoudig nie na regte in Afrikaans vertaal word nie, en dieselfde geld natuurlik vir prosa of poësie in enige taal wat vertaal moet word na ‘n ander taal. Die rede daarvoor is eenvoudig dat sekere uitdrukkings uniek is aan ‘n taal.

Persoonlik sou ek die volgende riglyne gee in verband met die gebruik van Bybelvertalings:

1. Hoewel daar nie iets soos "die oorspronklike" betaan nie, probeer om so na as moontlik aan die oorspronklike te kom. Gebruik primêr ‘n ideolektiese vertaling (bv. King James Version, 1933 / 1953 Afrikaans, American Standard Version). As jy die oorspronklike taal kan lees is dit natuurlik nog die beste. Hoewel hierdie Bybels se vertaling redelik akkuraat is, is hulle geskoei op die Textus Receptus, wat tekskrities nie sterk is nie, en op sekere punte verskil van die latere Griekse samestellings (soos die Nestle Aland 27’e uitgawe), en moet op hierdie punte met nuwer vertalings vergelyk word. Dit beteken egter nie dat die Nestle Aland teks in alle opsigte beter is nie, want dit is ook verbonde aan die tekskritici se interpretasie van wat "goeie" en "slegte" tekste of teksfamilies is.

2. As sekere tekste onduidelik of onverstaanbaar is, gebruik ‘n dinamies ekwivalente vertaling (bv. NIV, Good News Bible, 1983 Afrikaans).

3. ‘n Parafrase (soos die Boodskap / Message, Lewende Bybel, of die Living Bible) se betekenis is gewoonlik baie helder en lees maklik, maar mens moet in gedagte hou dat dit in baie gevalle net so goed is jy lees iemand se interpretasie of opinie, selfs al is dit ‘n "raak" of "goeie" interpretasie.

4. Die Amplified is nuttig as dit met oorleg gebruik word, maar wil soms te veel in die teks inbring wat nie noodwendig daar hoort nie. Die skrywer het nie noodwendig al die betekenisse van die woorde in gedagte gehad toe hy dit geskryf het nie – gewoonlik net een. So watter een van die ekstra woorde (vir een Griekse woord) kies jy? (Of is enige een van die baie opsies hoegenaamd reg?). Hierdie "ekstra woorde" wat die Amplified gee is dikwels geskoei op die etimologie van woorde asook 'n klomp "moonlike" betekkenisse wat in die meeste gevalle nie deur die skrywer bedoel is nie. Dit word genoem "illegitimate totality transfer." "Woorde het nie betekenisse nie, maar betekenisse het woorde."

5. Probeer om so objektief en so oop as moontlik te bly. Baie keer sê die teks iets wat in stryd is met ons teologie of ons vooropgestelde idee van wat ons dink die teks behoort te sê.

6. Doen alles in biddende afhanklikheid van die Here, want ons het sy Gees nodig om ons in die waarheid te lei.

 

Philip du Toit

Bespreek dit hier.

 

Last Updated ( Monday, 03 October 2016 )
 
< Prev   Next >
Joh 8:32 ...and the truth shall make you free.

Find 'n poskode / Find a postal code  |   Translate Afrikaans to English  |  Extreme Airports for FSX  | SA Scenery for FSX  |  SA News  |  Afrikaanse  Nuus  |  Guitar Chords  |  Free Piano Lessons!!  |  Free Guitar Lessons!!  |  Add Melody to Chords  |  Free Classified Ads!!  |  Free Property Listings!!  |  Free Fax to Email!!  |  Car buying online  |  Web Hosting R17 p/m  |  Jobs SA  |   Toets jou persoonlikheid

TRU Developing - Creative Web Development