Home
News (Blog)
Opdatering van Evolusie-Skepping artikel
Wednesday, 18 August 2010
Ons sien op die internet gereeld dat nuwe webblaaie verskyn, bestaandes opgegradeer word, maar ook dat oues verdwyn. 'n Internet-gebaseerde artikel wat dus heelwat skakels na ander inhoud op die internet vertoon, moet dus gereeld opgedateer word. Juis om hierdie rede is die ... Read more
Esterhuyse sê Genesis en Eksodus is belangrike mites
Wednesday, 26 May 2010
Prof Willie Esterhuyse het só gesê op 'n dakonferensie vir Eietydse Spiritualitiet. Volgens 'n berig in die aanlyn Kerkbode is Esterhuyse se mening dat die Bybel nie ’n geopenbaarde waarheid is van bo nie en dat die teks insigself ook nie heilig is nie. ... Read more
Saambly is reg?
Monday, 30 November 2009
Verskeie stemme het begin opgaan vanuit die NG Kerk en die Hervormde Kerk dat die kerk 'n sagter stanpunt moet formuleer oor saambly. Die gevoel is dat tye verander het en dat die kerk nie so hard en eksklusief moet wees teenoor diegene wat ... Read more

Latest Articles & News

Popular Articles & News

Lewe in 'n geestelike dimensie Print E-mail
Friday, 23 March 2007

Die Bybel sê die mens is liggaam, siel en gees (1 Th 5:23; Heb 4:12). Die siel verwys na die mens se verstand, denke, wil en emosies. As ons praat van iemand wat "geestesgesond" is, verwys ons gewoonlik na iemand wat gebalanseerd is in hierdie aspekte van menswees. Maar dit is eintlik ‘n misnoemer, want "gees" verwys in der waarheid na ‘n ander dimensie van menswees. God is Gees (Joh 4:24), en Hy het die mens na sy beeld geskape (Gen 1:26). God het die mens primêr as "gees" gemaak sodat ons ‘n "geestelike" verhouding met Hom kan hê.

Volgens die Ou Testament is die gees die "asem." Dit is dit wat die mens laat lewe (Jes 38:16). Sonder die gees is die mens dood. Iemand wat nog nie wedergebore is nie, se gees word beheer deur die siel en die ligaam. Volgens Rom 8:8-9 verkeer die ongeredde mens in ‘n "vleeslike toestand" ("sarks"). In terme van ‘n verhouding met God is die mens se gees in ‘n toestand van geestelike dood. As God die mens wederbaar, skep hy nuwe lewe in die gees (Ef 2:1; Kol 2:13; 1 Kor 15:22) en maak die mens se gees totaal en al nuut (2 Kor 5:17). Ons is gebore uit God se Gees (Joh 3:5) – vanuit die onverganklike saad van die lewende Woord van God (1 Pet 1:23). By wedergeboorte bring God die mens terug na sy skeppingsdoel – om in ‘n lewende verhouding met God en sy naaste te staan (1 Jh 1:1-3). Wedergeboorte maak dat die mens weer werklik mens kan wees soos God dit bedoel het. Dit gebeur in die gees van die mens. Die mens se gees word dan ingewoon deur die Heilge Gees, en ons gees getuig dan saam met God se Gees dat ons kinders van God is (Rom 8:15-16). Dis Bybel praat dikwels van lewe in / deur die gees. Somtyds is dit onduidelik of die Griekse "pneuma" met ‘n hoofletter of ‘n kleinletter vertaal moet word (want alles in die Grieks is óf net hoofletters óf net kleinletters). Maar in ‘n sekere sin maak dit nie saak nie, want aangesien ons gees een is met God se Gees (1 Kor 6:17), kan die Griekse "pneuma" eintlik op beide dui. Die Griekse "pneuma" verwys dan na die geestelike dimense van menswees wat beheer word deur die Heilige Gees.

Interessant genoeg praat die Bybel van ‘n skeiding / onderskeid tussen siel en gees (Heb 4:12). Hierdie onderskeid bring ‘n sekere orde mee en dit is belankrik om dit te handhaaf terwyl ons nog in die teenswoordige bedeling hier op aarde is. 1 Kor 15:46 sê: "Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike." As die skeiding verbreek word deur bv. hipnose, oosterse meditasie of dwelmmiddels, kan ons onsself blootstel vir demoniese invloede. By mense wat sielsiek is, is hierdie skeiding verbreek. Die liggaam bring ‘n natuurlike onderskeid tussen gees en siel hier en nou. Daarom gaan God ons natuurlike liggame verander sodat ons God van aangesig tot aangesig kan sien. 1 Kor 15:53-54 sê: "Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. (54) En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning."

Ons Christene verwar dikwels die "geestelike" dimensie met die "siels-" dimensie. ‘n Mooi uitgewerkte teologiese logiese sisteem of selfs ‘n wonderlike insig in die Bybel lê nie noodwendig op ‘n geestelike vlak nie. Trouens, selfs ‘n emosionele ervaring of belewenis in die teenwoordigheid van die Here, lê nie noodwendig op ‘n geestelike vlak nie. Die mens se emosie kan ook bedrieglik wees (vgl. Jer 17:19). Die geestelike dimensie kan wel (en moet eintlik) die denke en emosie beïnvloed, maar dit gebeur nie noodwendig outomaties by wedergeboorte nie. Die groot verskil tussen die "geestelike" en "siels-" dimensie is die sintuie wat verskil. Die siel word beïnvloed deur liggaamlike sintuie: reuk, gevoel, smaak, gehoor en sig. Die gees word beïnvloed deur onsigbare, geestelike sintuie. Hierdie sintuie is nie noodwendig klaar aktief by wedergeboorte nie. ‘n Mens moet leer om in ‘n geestelike dimensie te verkeer. Dikwels hou Christene hulle besig met dinge wat in ‘n sielsdimensie lê, en dink hulle voed hulle gees daardeur. Dit is dinge soos bybelstudie, sang, gebede, ens. Hoewel sulke dinge die atmosfeer kan skep om geestelik met God in kontak te kom, gebeur dit nie outomaties of noodwendig nie. Gebede of sang sonder ‘n geestelike dimensie is vrugteloos. Daarom sê die Bybel ons moet "in die Gees / gees" bid (Joh 4:23-24; Ef 6:18; Jud 1:20) en ons moet vervul met die Heilige Gees sing tot eer van die Here (Ef 5:18-19).

1 Kor 14:14-15 sê: "Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. (15) Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing." Hier tref Paulus ‘n duidelike onderskeid tussen die geestelike en die verstandelike dimensie. Beide dimensies is belangrik. Die doop met die Heilige Gees is wanneer ons nuutgemaakte gees van die mens in beweging gebring word deur die Heilige Gees. Dit is nodig dat ons geestelike sintuie opgeskerp word en dat God se Gees ons leer om in ‘n geestelike dimensie te lewe. Gal 5:25 sê: "As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel." Die mens se gees is wat hom in staat stel om ‘n wederkererige verhouding met God te hê. Handelinge praat dikwels van die Heilige Gees wat direk met die gelowiges gepraat het en hulle duidelike leiding gegee het met besluite en God se wil in hulle roeping in die wêreld:

Hand 11:12 "En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan."

Hand 13:2 "En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het."

God het bedoel dat elke mens God se stem kan hoor. Om God se stem te hoor is seker een van die vrae waarmee gelowiges die meeste mee worstel. In ‘n westerse samelewing is die geestelike dimensie vreemd, en iemand wat in so dimensie lewe word dikwels as hiper-geestelik of wêreldvreemd gesien. Die rede is grootliks dat meeste stimuli in ‘n westerse samelewing gemik is op die natuurlike sintuie: die visuele, ouditiewe, kos, liggamlike genot, ens. ‘n Tipiese westerse mens vind dit baie moeilik om in ‘n geestelike dimensie te verkeer. Hulle weet nie wat dit is om kwaliteit tyd met God te spandeer nie. Dikwels verval die westerse mens se Christenskap in godsdienstigheid: gebede, byeenkomste, gesprekke, godsdienstige rituele, ens. Dit neig dikwels tot vorm-godsdiens.

Die groot vraag is, hoe lewe mens deur die Gees? Die antwoord lê waarskynlik daarin dat ons moet probeer om ons siel tot bedaring te laat kom. Ons moet by ‘n punt kom waar ons liggaamlike sintuie en liggaamlike stimuli tot bedaring kom sodat God se Gees ons geestelike sintuie kan opskerp. Ons sal nooit God se stem hoor as ons die heeltyd besig is met dinge wat slegs ons verstand en ons emosies prikkel nie – al is dit godsdienstig van aard. Dit is nodig dat God se Gees ons verstand transendeer en in ons gees kan inspreek. In ‘n sin moet ons kom tot siel-stilte. Baie kennis oor God se Woord as sodanig bring ons nie by God se stem vir ons lewens uit nie. Siel-stilte is wanneer ons op hou om ons toekoms, ons werk, ons besluite in eie hande te neem en in God se rus ingaan en toelaat dat sy Gees ons lewens reël.

Mat 11:29-30 "Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; (30) want my juk is sag en my las is lig."

In ‘n sin is dit ‘n kuns om alles voortdurend aan God oor te gee, want dis is onnatuurlik vir die natuurlike mens om sy redenering, rasionalisering en sy gevoel aan God oor te gee, maar in ‘n ander sin is dit ‘n bevryding en ‘n las wat van ons afrol as ons dit doen. Ons het nodig om ons verstand, denke en emosies op die tafel te plaas en dit as’t ware bereid wees om daarvan afstand te doen. In God se koninkryk kan ons nie bly vasklou aan alles wat aards en natuurlik is nie, maar ons moet eers ons aardse lewe verloor om die ware lewe te vind:

Mat 16:24-25 "Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. (25) Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind."

Dit beteken nie dat ons logiese, rasionele denke en redenasie totaal en al oorboord moet gooi nie, maar God wil hê dat sy Gees ons lewe beheer en nie ons verstand, denke en emosies nie. Ons het nodig om as’t ware soos kinders in God se teenwoordigheid te kom. As ons bv. vas glo dat daar nie iets soos ‘n geestelike dimensie is nie en dat dit nie nodig is om dit na te streef nie, bring dit ‘n blokkasie mee wat verhinder dat ons God se stem kan hoor.

Die Bybel sê ons sal nie van brood alleen lewe nie maar van elke Woord wat uit wat van God uitgaan (Mt 4:4; Luk 4:4). Dit praat nie in die eerste plek van die geskrewe woorde in die Bybel nie, maar van God se lewende Woord wat deur sy Gees in en deur ons lewens praat. 2 Kor 3 praat juis daarvan dat daar ‘n bedekking by die lees van die Ou Testament bly as die Gees van Christus die Woord nie aan ons lewend maak nie. Dit is dus belangrik om nie net die Bybel op ‘n verstands-vlak te lees nie, maar ook op ‘n geestelike vlak. Ons moet nie net na die vorm of struktuur van die fisiese teks kyk nie, maar vir God vertrou om dit lewend te maak in ons gees en vir ons die geestelike betekenis in en deur ons lewe te openbaar. Dit is nodig om die Woord as’t ware weer "naïef" te lees. Baie praat van ‘n "tweede naïwiteit." As ons net die Bybel op ‘n verstands-dimensie lees, is dit moontlik dat ons sulke sterk vooropgestelde idees of teologiese agenda’s het waarmee ons na die teks van die Bybel gaan, dat ons nie kan hoor wat God werklik vir ons deur die Bybel wil sê nie.

Dit het tyd geword dat die gemeenskap van gelowiges in Christus weer in die krag van die Gees opereer. Ons sal nooit die Heilige Gees se kragtige werking in en deur ons lewens ervaar as ons nie in ‘n geestelike dimensie lewe nie. Ons kan ook nie mense van die evangelie oortuig as ons net in ‘n verstandelike dimensie lewe nie:

1 Th 1:5 "Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het."

1 Kor 2:3-16 "Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; (4) en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, (5) sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God... …(10) Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. (11) Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. (12) Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. (13) Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. (14) Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. (15) Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. (16) Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus."

Interessant is dat die gees en krag waarvan Paulus praat nie in die lug bly hang het nie. Hy praat van die "betoning" van gees en krag. Daar was fisiese bewys van God se geestelike werking in en deur Paulus en die ander apostels. Die apostels se bediening het gepaard gegaan met velerlei bonatuurlike werkinge (sien bv. Hand 2:34; 5:12; 14:3; 19:12). As ons nie in ‘n geestelike dimensie lewe nie, kan ons nie in krag en gees in God se koninkryk opereer nie. Sonder God se krag kan ons nie sy roeping vir ons in hierdie wêreld uitleef en God se Missio-Dei na hierdie wêreld laat kom nie. Daarsonder is ons soos mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het (2 Tm 3:5).

 

Philip du Toit

Bespreek dit hier.

 

Last Updated ( Friday, 23 March 2007 )
 
< Prev   Next >
Useful Links

Latest Forum Posts

Polls
Is evolusie en die bybel versoenbaar?
 

Who's Online
There are currently 4 Guests and 0 Users online

Cape Town Weather

Joh 8:32 ...and the truth shall make you free.

Translate Afrikaans to English  |  Cheapest notebook and desktop sales online  |  HP Compaq Dual Core for R4475  |  SA News  |  Afrikaanse  Nuus  |  Guitar Chords  |  Free Piano Lessons!!  |  Free Guitar Lessons!!  |  Add Melody to Chords  |  Free Classified Ads!!  |  Free Property Listings!!  |  Free Fax to Email!!  |  Car buying online  |  Web Hosting R17 p/m  |  Jobs SA  |   Toets jou persoonlikheid

TRU Developing - Creative Web Development