Flp 3:1 "Verder, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid."
Flp 4:4 "Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!"
Vir baie Christene is dit makliker gesê as gedaan. As jy mismoedig is, is dit seker een van die ongemaklikste dinge as iemand vir jou sê: "ruk jou reg" of "snap out of it", of nog erger, "kry ‘n ‘smile’ op jou gesig man! – moenie so ‘sad’ lyk nie!" Baie sal antwoord: "ek het al probeer, maar dit werk nie!" of "maklik vir jou om te sê, ja!" of "ag los my uit man!"
Om jou in die Here te verbly is egter iets anders as om te wag vir een of ander lekker gevoel. Dit is iets anders as om te wag dat jou omstandighede beter raak. Om jou te verbly in die Here is eerstens ‘n keuse wat jy maak, ongeag hoe jy voel. Dikwels is dit moeilik vir iemand wat mismoedig is om hierdie keuse te maak, want daar is iets gemakliks aan om bejammerenswaardig of "spiteful" te bly, en dis soms moeilik om daardie gevoel prys te gee. Dit is amper soos om jou eie trots te sluk. Die wonderlike ding daaraan om jou in die Here te verbly, is dat dit jou fokus verstel. Dit neem jou fokus af van jou omstandighede en rig dit op God. Omstandighede verander, maar God is altyd dieselfde.
Paulus en Silas het, toe hulle in die tronk was, die Here geloof en geprys (Hd 16:25-28), nie omdat hulle omstandighede wonderlik was of omdat hulle noodwendig goed gevoel het nie, maar omdat Jesus die Here is en altyd lofwaardig is. Om jou in die Here te verbly is nie om een of ander "bly" gevoel in jouself te probeer opwerk nie. Dit is om jou vertroue en fokus in die Here te stel en om jou omstandighede of jou gevoel aan God te onderwerp. As ons eers gaan wag totdat ons beter voel voordat ons ons in die Here verbly, dan mis ons die punt. God wil juis hê ons moet midde in ons omstandighede en ten alle tye ons vertroue in die Here stel. Flp 3:1 (hierbo aangehaal) sê dit gee ons sekerheid. Hoekom? Omdat dit God se beheer oor ons lewe erken en bevestig in ons gemoed.
Dit hang ook saam met ‘n positiewe en dankbare lewensingesteldheid.
1 Tess 5:18 "Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle."
Ef 5:19-20 "Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, (20) terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus."
Kol 3:16-17 "Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. (17) En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom."
Ef 5:20 sê ons moet God die Vader vir alles dank. Ook vir negatiewe dinge? As ons in die wil van die Here lewe, kan ons God ook vir die negatiewe dinge dank. Want God is by magte om alles ten goede te laat meewerk (Rm 8:28). Om God vir alles te dank is ook om Hom te erken as Here oor alles in jou lewe. Dit bevestig dat God Here is oor jou.
Om jou altyd in die Here te verbly of God vir alles te dank is nie om die realiteit van jou omstandighede te ontken nie. Dit beteken ook nie ons moet vir mense sê dit gaan goed terwyl dit eintlik sleg gaan nie. Dit is nie ‘n soort mantra (soos positive thinking) wat een of ander kits-effek het om jou omstandighede te vernader nie. Soms wil God hê dat ons steeds lyding moet ervaar terwyl ons in Sy perfekte wil is. Lyding beteken nie God is nie in beheer nie. As dit sleg gaan, wil God eerder hê ons moet antwoord: "dit gaan moeilik, maar my vertoue is in die Here en ek verbly my in Hom!"
As ons ons in die Here verbly, help dit ons ook om God se vrede te ervaar en dit help ons om ons vrees en angstigheid te oorwin. Waarom? Weereens, dit erken God se teenwoordigheid en sy heerskap oor ons lewe en ons omstandighede. Ons kan nie God dank en ons in Hom verbly as ons steeds ons eie bekommernisse voed met angstigheid en ongeloof nie. Deel van verblyding in die Here is ook om alles vir God te gee, ook jou gedagtes. In die konteks van Flp 4, volg vers 6-8:
Flp 4:6-8 "Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. (7) En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (8) Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit."
Dit is alles deel van dieselfde proses en dieselfde ingesteldheid. Om jou in die Here te verbly, om God vir alles te dank, om God te loof en te prys in alle omstandighede en om jou gedagtes altyd op Hom te rig, is alles deel van die gesindheid wat in ons moet wees – dieselfde gesindheid wat in Christus is (vgl. Flp 2:5). Dit maak ons los van ons eie beheptheid met ons probleme, ons omstandighede en ook ons eie tekortkominge, en erken God as Here en Meester oor ons lewens. Ons oorgawe aan God kan nie afhanklik wees van ons gevoel of omstandighede nie. God vra ons toewyding ten alle tye. Ons is tog nie net God kinders wanneer dit met ons goed gaan nie!
Geen vader wil hê dat sy kinders net heeltyd moet kla of heeltyd met versoeke na hulle vader moet kom nie. Ons Vader begeer dat ons gelukkig en geborge moet wees in sy teenwoordigheid, ongeag ons omstandighede, want Hy jubel en juig oor oor ons! (Sef 3:17). Ek verstaan dit beter as ek sien dat my klein dogtertjie altyd bly is om haar pappa te sien. Dan besef ek waarom God wil hê ons moet soos kindertjies word (Mt 8:13).
Philip du Toit
Bespreek dit hier.