Wat is dit wat mense sal hê aan wie gegee sal word, en mense sal dink hulle het en weggeneem sal word? Is dit besittings? Dit lyk nie of dit iets fisies en konkreet is nie, want dit is iets wat jy kan dink jy het. Dit kan ook vertaal word: "wat hy skynbaar / blykbaar het." Dit wat mens "het" in hierdie konteks hou direk verband met "hoe jy hoor." Dit lyk dus of dit te doen het met die kennis wat jy opgedoen het nadat jy gehoor het, m.a.w. dit wat jy weet. Iemand kan dink hy weet maar nie regtig weet nie. Mens sou ook kon sê dit het te doen met jou kennis van die waarheid, want jy kan dink jy het kennis van die waarheid, maar jou kennis kan verkeerd wees omdat jy verkeerd hoor of jou ore uitleen vir kennis wat nie kennis van die waarheid is nie.
Om reg te hoor, is soos om "ingetune" te wees. As mens se oor net ingestel is vir sekere frekwensies, kan dit ander frekwensies uitkanselleer, al is hulle ook teenwoordig. As mens ander frekwensies wil hoor wat jy normaalweg hoor, is dit soms nodig om jou oor opnuut in te stel en te leer om daardie frekwensies te hoor.
As mens bewus raak van die vervalsing en misleiding wat teenwoordig is in die hoofstroom nuusmedia en die hoofstroom wetenskap, maak hierdie gedeelte nog meer sin. Die evolusionistiese, humanistiese en ateïstiese wêreldbeeld waarop baie van die moderne wetenskap gebou is: bv. geologie, biologie, antropologie, sosiologie, ens., wat baie mense nooit in hulle leeftyd sal bevraagteken nie, weerhou mens van die volle kennis van die waarheid. As mens se ore slegs ingestel is op dit wat in die hoofstroom wetenskap en die hoofstroom nuusmedia verkondig word, kan mens begin eensydig of verkeerd hoor. Jy kan dink jy weet alles, maar nooit tot kennis van die waarheid kom nie.
Dit herinner ook aan die gedeelte wat sê: (2 Tim 3:1-7) "Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. (2) Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, (3) sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, (4) verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; (5) mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. (6) Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, (7) wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie."
Die ander onderliggende tendens in die hoofstroom is hedonisme. Die natuurlike mens is altyd geneig om hom te laat lei deur selfsug: sy eie vleeslike begeertes. Jou eie vleeslike begeertes kan ook jou ore toemaak vir die waarheid. Dit is dan wanneer mens so maklik aan ander voorskryf hoe hulle moet optree maar jyself bly vasgevang in die greep van die gees van hierdie wêreld. Rom 12:2 sê: "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."
Pas dan op hoe julle hoor! Hoor jy wat jou vlees wil hoor? Hoor jy net die hoofstroom? Hoor jy net die wêreld? Of is jou oor ingestel om die Woord van die Here te hoor en die sagte fluistering van die Heilige Gees te herken wat iets anders verkondig as die populêre opinie? Want die wat kennis van die waarheid het, sal die volle waarheid ken, maar die wat dink dat hulle alles weet, maar die kennis van die waarheid nie het nie, se kennis sal tot niks kom nie.
Philip du Toit
Bespreek dit hier.