Home arrow Theology arrow Dogma arrow Is dit belangrik dat Christus letterlik fisies opgestaan het?
Is dit belangrik dat Christus letterlik fisies opgestaan het? Print E-mail
Monday, 16 July 2007

Hoe belangrik is dit vir die Christelike geloof dat Christus letterlik fisies opgestaan het? Sou dit bv. aanvaarbaar wees om te glo dat die opstanding ‘n vroeg-Christelike mite was of dat dit slegs iets te doen het met jou subjektiewe belewenis van Christus, bv. dat dit voldoende sou wees om te glo dat Christus "in jou hart" opgestaan het?

Die dokumentêre DVD wat onlangs in die omloop gekom het, getiteld "Nuwe Strominge in die Teologie: Word die hart van die evangelie uitgeruk?", verwoord die liberale teologie wat in ons eie land posgevat het in hierdie verband, waaronder die sg. "Nuwe Hervorming" een van die meer prominente wyses is waarin dit uitdrukking gevind het. Dit fokus op die uitsprake van bekende liberale teoloë in Suid Afrika en lê só die onderliggende New Age- en gnostiese onderbou van daardie teologie bloot.

Watter uitsprake lewer die Skrif in hierdie verband?

Seker een van die bekendste uitsprake in dié verband is:

1 Kor 15:12-18 "As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? (13) As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. (14) En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; (15) en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. (16) Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; (17) en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; (18) dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore."

Volgens hierdie Skrifgedeelte is die opstanding ‘n ononderhandelbare deel van ons geloof. Dit vorm deel van die hart van die evangelie. Daarsonder is die ganse evangelie nutteloos en betekenisloos. Maar wat van die siening dat die eerste Christene die opstanding as metafories of mities verstaan het?

Vroeër in hierdie gedeelte (vers 6) word gesê dat Christus tegelyk aan 500 broers verskyn het. Kon dit ‘n geestelike of "spook-agtige" verskyning gewees het? Of sou dit slegs daardie 500 mense se subjektiewe ervaring van Christus verwoord het? Volgens die evangelies is daar geen twyfel nie dat Jesus se dissipels hom na sy opstanding as ‘n werklike fisiese persoon gesien en ervaar het.

In die Johannes-evangelie word vertel dat Christus vis gebraai het om te eet en dit aan die dissipels aangebied het ná sy opstanding (Joh 21:9-13).

Joh 20:25-29 sê:"Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. (26) En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! (27) Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. (28) En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! (29) Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het."

1 Jh 1:1 praat ook van Christus (die Woord van die Lewe) "wat ons (die dissipels) aanskou het en ons hande getas het."

Die ander belangrike stuk geskiedenis is op skrif gestel in Luk 24:13-53, waar vertel word van die Emmaüsgangers wat met Jesus ná sy opstanding gesels het maar nie besef het dit was Hy nie. Hulle het Hom beslis as ‘n werklike, fisiese persoon gesien en ervaar. Jesus het voor hulle oë sy fisiese hande en voete aan hulle getoon en iets geëet (vers 39-42), juis om aan hulle te bevestig dat Hy liggaamlik (fisies) opgestaan het. Jesus sê volgens Lk 24:39 "Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie."

Die ander gedeelte wat daarop dui dat mense fisies aan die opgestane Jesus geraak het is Mat 28:9: "En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom." Jesus verwys self ook na 'n fisiese opstanding in Mt 10:28.

Enige iemand wat dus nie in die letterlike fisiese opstanding van Christus glo nie, trek die integriteit en betroubaarheid van Christus se woorde en / of die integriteit van die skrywers van die evangelies op hierdie punt in twyfel. Om bloot ‘n soort kulturele dekonstruksie op die evangelies te doen, as sou hierdie weergawe van die woorde van Jesus bloot die produk wees van die kultuur-historiese konteks of die subjektiewe wêreldbeeld van die eerste lesers, as sou dit geen aanspraak maak op historisiteit nie, is na my mening ‘n ernstige vorm van inlegkunde. Anders gestel, dit laat die Bybel buikspreek om jou eie ideologie te bevestig. Nie net dit nie, dit gaan in teen die grein van die inherente aanspraak op historiese korrektheid van die evangelie-skrywers (bv. Lk 1:1-4). Om dit nog anders te stel, die neiging in die liberale teologie om weergawes van die opstanding (soos dié een in Lk 24) te relativeer aan die hand van die moderne teologie en dekonstruksie-metodes is net ‘n eufemistiese, gesofistikeerde manier om te sê hulle glo nie die Bybel vir wat dit is en vir dit waarop dit aanspraak maak nie. Dit maak die deur oop om in die Bybel in te lees wat jy wil en jou kulturele konteks (heersende waardes en wêreldbeskouing) as normatief te bekou en die Bybelse aansprake aan die hand daarvan te relativeer. Die opstandingsteologie van die sg. Nuwe Hervorming ruk daarom die hart van die evangelie uit, nie net omdat dit die letterlike, fisiese opstanding van Christus ontken nie, maar omdat die Skrif vir hulle geen inherente normatiewe krag het nie, maar moet buig voor die dekonstruktiewe en relativerende krag van die postmoderne hermeneutiek.

Aan die een kant is 'n ontkenning van die fisiese opstanding van Christus bloot die vrug van 'n konsekwente handhawing van die liberale teologie. Maar aan die ander kant is die tendens om die fisiese opstanding te ontken maar wel jouself as Christen te identifiseer inkonsekwent. Want volgens watter objektiewe kreteria word besluit dat sekere elemente van die Christelike geloof histories is en ander nie-histories? Die antwoord is, die mens besluit self: alle kreteria is volgens die modernistiese en post-modernistiese denk-kategorieë subjektief, en daarom arbitrêr. Dit is daarom nie vreemd dat teoloë wat konsekwent die voorveronderstellings van die liberale teologie handhaaf ook daarmee saam hulle geloof in God totaal en al prys gee nie. Ek dink bv. aan die proefskrif van Jaco Gericke (wat ek in detail bespreek het).

Maar is dit teoreties moontlik dat die eerste Christene aan die opstanding geglo het as ‘n mite? Die probleem is, die skrywers van die Nuwe Testament kon nie ‘n mite in hulle eie leeftyd begin het nie, want dit sou deur ooggetuies weerlê word wat die feite geken het. Die evangelies sou gou ontbloot word as leuens. En dit het nie gebeur nie. Inteendeel, die Nuwe Testament (en die Ou Testament) is die meeste gekopiëer van alle geskrifte, en duisende mense in die geskiedenis het daarin geglo. By ander godsdienste soos Boeddhisme en Islam bv., is die grondvesters eers ‘n paar generasies later vergoddelik. Waarom sou hierdie "mite" van die grootste denkers van die geskiedenis bly aangryp? - bv. Paulus, Augustinus, Aquinas, Luther, Calvyn, Kepler, Kierkegaard, Michelangelo, Descartes, Pascal, Copernicus, Tolstoy, T.S. Elliot, ens. En om te dink dat die grootste "leuen" in die wêreld die meeste bekerings en morele transformasie van mense in die geskiedenis se lewens teweeg gebring het: transformasie na onselfsugtigheid, afstand van wêreldse plesier, nuwe vlakke van heiligheid, vreugde, onge-ewenaarde vlakke van sin en lewensvervulling, en dit slegs deur ‘n blote mite. Verder, as die evangelies lieg, wie het die leuen uitgedink, en om watter rede? Was dit Jesus se dissipels? Wat het hulle daaruit gekry? Martelaarskap – beswaarlik ‘n aantreklike versoeking. ‘n Leuenaar het gewoonlik ‘n selfsugtige motief. Waarom sou duisende vermoor en gemartel word vir ‘n leuen? Of dalk was dit nie ‘n opsetlike leuen nie, maar ‘n hallusinasie of ‘n mite wat daadwerklik vir die waarheid verwar is. Wie was dan die naïewe dwase wat eerste daarin geglo het? (vgl. Kreeft & Tacelli 1994: 155-158).

Om terug te kom waar ek begin het, as Christus nie werklik fisies opgestaan het uit die dood (soos waarop die Bybel aanspraak maak nie), is ons geloof tevergeefs. Dan hoop ons ook verniet op die opstanding van die dode wanneer Christus weer kom. Dan kom ook ons geloof in die hiernamaals in gedrang en daarmee saam die kern van die Christelike geloof.

 

Philip du Toit

Bespreek dit hier.

Last Updated ( Thursday, 13 October 2011 )
 
< Prev   Next >
Joh 8:32 ...and the truth shall make you free.

Find 'n poskode / Find a postal code  |   Translate Afrikaans to English  |  Extreme Airports for FSX  | SA Scenery for FSX  |  SA News  |  Afrikaanse  Nuus  |  Guitar Chords  |  Free Piano Lessons!!  |  Free Guitar Lessons!!  |  Add Melody to Chords  |  Free Classified Ads!!  |  Free Property Listings!!  |  Free Fax to Email!!  |  Car buying online  |  Web Hosting R17 p/m  |  Jobs SA  |   Toets jou persoonlikheid

TRU Developing - Creative Web Development