Home arrow Theology arrow Ethics arrow Die wet
Die wet Print E-mail
Tuesday, 16 October 2007

Wat word verstaan onder die begrip "wet" soos wat dit veral deur Jesus en Paulus gebruik word? Dui dit op die 10 gebooie of het dit te doen met die ganse Ou Testamentiese wet? Staan ons as Nuwe Testamentiese Christene onder die verpligting om die Ou Testamentiese wet te onderhou? Wat is die implikasie van ons verstaan van die wet vanuit 'n Nuwe Testamentiese perspektief? Die twee ander artikels wat hiermee verband hou is Die Sabbat en Tiendes?

Waarop dui die begrip "wet" in die Nuwe Testament?

Wanneer Jesus na die begrip "wet" verwys, verwys hy meestal na die ganse Ou Testamentiese wet wat al die morele wette, offerwette, reinigingswette, seksuele wette, feeste-wette, tiende-wette, besnydenis-wette en alle ander Ou Testamentiese wette insluit (bv. Mt 5:17; 7:12; 11:13; 12:5; 22:36,40; 23:23; Lk 2:22-24,27; 10:26; ens.). Dit word daarom ook meestal saam met "die profete" gebruik. Dit verwys eintlik na al vyf boeke van Moses (Gen – Deut): die Pentateug. Die Biblica Hebraica (Hebreeuse Bybel) is opgedeel in drie dele: 1) die Torah (Wet) = Gen – Deut, 2) die Nivi-im (Profete) = Jos, Rigt, 1-2 Sam, 1-2 Kon, Jes, Jer, Eseg, 12 Klein profete (Hos-Mal) en 3) die Ketovim (Geskrifte) = Ps, Spr, Job, Hoogl, Rut, Klaag, Pred, Est, Dan, Ezr+Neh, 1-2 Kron. As mens bv. kyk na Deut 6 tot 27, word 'n groot aantal wette, stipulasies en feeste aan die volk deurgegee. Deut 28:1 sê: "As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde." Die volgende verse vervat verdere seën van die Here as hulle al die gebooie hou.

Die tien gebooie (soos dit voorkom in Eks 20 en Deut 6) het nie los gestaan van die res van die wet nie. God het alles aan die volk gegee as wet, omdat dit die manier was waarop die Israelitiese volk hulle kant van die verbond teenoor God kon hou (sien bv. Deut 7:9-12). Maar beteken dit ons as Nuwe Testamentiese Christene steeds onder die verpligting staan om al die Ou Testamentiese wette en feeste presies nog net so letterlik na te kom soos dit o.a. in Deut 6-27 beskryf word?

Klaarblyklik nie. Ons gee nie meer dankoffers en spysoffers nie, ons sien nie dit as sonde om varkvleis te eet nie, ens. En tog geld dieselfde onderliggende beginsels (nie die letterlike stipulasies nie) agter die Ou Testamentiese wet vir ons vandag omdat God se karakter en Sy morele standaard nie verander het nie, en omdat die Ou Testamentiese wet ook gekoppel was aan Sy karakter.

Paulus gebruik die term "wet" (veral in Rom en Gal) ook op die manier dat hy verwys na die ganse Ou Testamentiese wet. Trouens, daar is nêrens in die Nuwe Testament waar daar 'n prinsipiële onderskeid getref word tussen die 10 gebooie en die res van die wet nie.

Die Ou Verbond en wet word vervang met die Nuwe Verbond en die nuwe wet

Die wet wat God aan Moses gegee het (bv. Deut 6-27) was nie van die begin af daar nie. Dit het later bygekom en het gedien as "tugmeester" om God se volk "in bewaring" te hou met die oog op die geloof wat later in Christus geopenbaar is.

Een van die duidelikste gedeeltes in dié verband is Gl 3:19-25: "Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad [Christus] aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar. (20) En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een. (21) Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees. (22) Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word. (23) Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. (24) Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. (25) Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie."

Rm 6:14-15 sê: "Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. (15) Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!"

Gl 4:1-5 sê ook: "Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; (2) maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. (3) So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. (4) Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, (5) om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang."

Jesus het gekom om die wet te vervul (bv. Mt 5:17 en Lk 24:44).

Die woord wat in Mt 5:17 en Lk 24:44 gebuik word, is "plêro-ô." Volgens Strongs beteken dit: "to make replete, that is, (literally) to cram (a net), level up (a hollow), or (figuratively) to furnish (or imbue, diffuse, influence), satisfy, execute (an office), finish (a period or task), verify (or coincide with a prediction), etc.: - accomplish, X after, (be) complete, end, expire, fill (up), fulfil, (be, make) full (come), fully preach, perfect, supply." Dit word veral gebruik in die konteks van die vervulling van 'n profesie (Mt 1:22; 2:15,17; 2:23; 4:14 ens.). Dit beteken die profesie kom tot 'n voltooiing of beëindiging.

Jesus se soenverdienste het die funksie van die wet as tugmeester kom vervang (volgens Gl 3:19-25). Jesus was self ook "onder die wet." Hy is besny en het al die voorskrifte van die wet nagekom soos dit van ‘n Israeliet verwag is. Trouens, Jesus was die eerste en enigste persoon die wet kon vervul in die sin dat Hy die wet in alle opsigte kon nakom omdat Hy sondeloos was. Maar Jesus se vervulling van die wet beteken ook dat Hy die Ou Testamentiese Wet en die Profete kom vervul het deur middel van Sy versoeningswerk en uiteindelike, finale offer wat plaasbekledend alle mense se sonde en onvermoë om die wet te vervul, op Hom geneem het. Dit vervang al die reinigingswette en sondoffers en ander Ou Testamentiese wette.

Heb 9:24-26 sê: "Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; (25) ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, (26) want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen."

Heb 10:1 sê daarom: "Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie." En later (Heb 10:14-18): "Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. (15) En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; (16) want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, (17) en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. (18) Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie."

Jesus was meer as net die vervulling van die wet, maar ook die vervulling en vervanging van die Ou Verbond.

Heb 8:13 sê: "As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning."

Heb 9:15 "En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang."

Heb 12:24 "en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel." (sien ook Mt 26:28; Mk 14:24; Lk 22:20; 1 Kor 11:25; 2 Kor 3:6).

Jesus se versoening gee dus nuwe inhoud aan die wet. Hy sê (Joh 13:34) "‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." Daarom antwoord Jesus ook aan een van die wetgeleerdes wat vir Hom gevra het wat die groot gebod in die wet is: (Mat 22:37-40) "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. (38) Dit is die eerste en groot gebod. (39) En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (40) Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete." (sien ook Mk 12:30; Lk 10:27). Hierdie nuwe gebod is die samevatting en vervulling van die hele wet en die profete. Daarom staan daar ook in Rom 13:8-10 "Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. (9) Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al [insluitende alle Ou Testamentiese wette], word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (10) Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet." Gl 5:14 "Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Die gebod van die liefde vir God en jou naaste sluit daarom alle ander gebooie in. Dit is die enigste gebod wat daar vir die Nuwe Testamentiese Christen is wat hy nodig het om te onderhou.

Ander teksgedeeltes wat daarop dui dat die wet afgeskaf is, is:

Christus is die EINDE van die wet (Rom 10:4). Dit is om hierdie rede dat Paulus sê ons is NIE MEER ONDER die wet nie (Rm 6:14,15). Rom 7:2-10 "Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ONTSLAE van die wet van die man. (3) Daarom dan, as sy ‘n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ‘n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy VRY van die wet, sodat sy nie ‘n egbreekster is as sy ‘n ander man s’n word nie. (4) So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet DOOD deur die liggaam van Christus, om aan ‘n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra. (5) Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. (6) Maar nou is ons ONTSLAE van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit AFGESTERF het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie. (7) Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. (8) Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. (9) En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. (10) En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees."

Rom 4:15 sê ook: "Want die wet werk toorn; maar waar GEEN WET is nie, daar is ook geen oortreding nie." Ef 2:13-18 sê ook: "Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. (14) Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het (15) deurdat Hy in sy vlees die vyandskap TOT NIET GEMAAK het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep (16) en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. (17) En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; (18) want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader." Die vyandskap en skeidsmuur was die wet self. Dit het Christus tot niet gemaak. Dieselfde gedagte kom na vore in Kol 2:13-14 "En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, (14) en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge (die wet) ons vyandig was, UITGEDELG EN WEGGERUIM het deur dit aan die kruis vas te nael." Later in Kol 2 staan daar (vers20-23): "As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld [verwysend na die wet] AFGESTERF het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge (21) soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? — (22) almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, (23) wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees."

Heb 7:12-22 sê "Want met verandering van die priesterskap [Christus as nuwe Hoëpriester] kom daar noodsaaklik ook verandering van wet; …(15) En nog baie duideliker is dit as daar ‘n ander priester opstaan [Christus] na die ewebeeld van Melgisédek, (16) een wat dit geword het nie kragtens die wet van ‘n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe. (17) Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. (18) Want aan die een kant is daar die OPHEFFING van die voorafgaande gebod weens die swakheid en nutteloosheid daarvan, (19) omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader. (20) En vir sover dit nie sonder eedswering was nie—want húlle het sonder eedswering priesters geword, (21) maar Hy met eedswering deur die Een wat aan Hom gesê het: Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek— (22) in sover het Jesus van ‘n beter verbond borg geword." Die Ou Testamentiese wet is opgehef. Jesus het borg van 'n beter verbond geword.

Paulus verduidelik hierdie beginsel in 2 Kor 3 verder. Hy sê God maak ons bekwaam "as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend." (2 Kor 3:6). 2 Kor 3:7-8 sê dan "En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer [dit verwys na die letter van die geskrewe wet – veral die 10 gebooie], in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, (8) hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?" Dit wat op klippe gegraveer was verwys na die letter van die wet, en veral die tien gebooie. En dan ( 2 Kor 3:14-17): "Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. (15) Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; (16) maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. (17) Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid." Dit gaan oor twee maniere of twee modusse om na die wet (verwysend na die ganse Ou Testamentiese wet, insluitend die 10 gebooie) te kyk: of dié van die letter of die van die gees / Gees. Die een kyk met 'n Ou Testamentiese perspektief en die ander met 'n Nuwe Testamentiese perspektief. Die een lees die Ou Testament na die letter en die vlees, en die ander lees die Ou Testament na die gees / Gees en die BEGINSEL(S) wat ten grondslag daarvan lê eerder as om die kontingente stipulasies wat God in tyd vir sy volk Israel neergelê het op 'n direkte / letterlike manier op vandag se Christene van toepassing te maak. God se karakter is dieselfde in die Nuwe Testament as in die Ou Testament. God se karakter is die grondslag vir wat reg en verkeerd is, nie die Ou Testamentiese wet as sodanig nie. Die liefdesgebod (vir God en die naaste) vervat en omvat daarom die totale BEGINSEL wat ten grondslag lê vir die ganse Ou Testamentiese wet. Daarom is dit al gebod wat ons as Nuwe Testamentiese Christene moet onderhou. Dit word gewerk en bevestig deur die werk van die Heilige Gees in ons lewens. Die Gees oortuig ons van sonde, nie die Ou Testamentiese wet nie. Die WET VAN DIE GEES (die nuwe wet – wat praktiese neerslag vind in die liefdesgebod) van die lewe in Christus Jesus het ons vrygemaak / losgemaak van die wet van die sonde en die dood (Rom 8:2). Gal 5:18 sê: "Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie."

Gal 4:21-31 "Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?  (22)  Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye.  (23)  Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.  (24)  Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar;  (25)  want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.  (26)  Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.  (27)  Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.  (28)  Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte;  (29)  maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.  (30)  Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.  (31)  Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye."

Dit praat van die twee verbonde: die Sinaïtiese verbond (die geskrewe wette) en die verbond uit die geloof.  Die slavin Hagar (simbool van die Sinaïtiese wets-verbond) is uitgewerp, en ons is nou kinders van die belofte aan Abraham.  Vers 29 sê dat die wat na die Gees is (gebore uit Gees [soos ek dit sien]) nou ook vervolg word.  Die slavin (die ou Sinaïtiese wet) moet uitgewerp word (vers 30).  Dit wil sê die Sinaïtiese wet self word uitgewerp! Ons is daarom nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.

In Hand 15 word vertel van waar sommige gelowiges aan ander Christene gesê het dat dit noodsaaklik was om die wet van Moses te onderhou en hulle nog te laat besny (Hand 15:5). Petrus het opgestaan het gesê: (Hand 15:10-11) "Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê [verwysende na die wet van Moses] wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? (11) Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook."

Die apostels en ouderlinge het oor hierdie saak besin en hulle antwoord in die vorm van 'n brief weergegee. In Hand 15:23-29 word vertel: "En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete! (24) Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou, …(28) Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie [verwysende na die wet van Moses] as hierdie noodsaaklike dinge: (29) dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!" Later word vertel dat die gemeente baie bly was toe hulle dit hoor (vers 31) en daardeur bemoedig en versterk is (vers 23).

Bespreking van spesifieke Skrifgedeeltes rakende die wet

Lk 16:15-17 en Mt 5:17-22

Lk 16:15-17 "En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God. (16) Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. (17) Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val."

Waarna verwys "wet" in hierdie gedeelte? Jesus sê die "wet en die profete" was tot op Johannes en dat die evangelie as't ware in die plek daarvan gekom het. Die term "wet" in hierdie konteks verwys na die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug, wat onder die Jode bekend gestaan het as die Torah (Die Wet). Die term "profete" verwys na die die geskrifte: Jos, Rigt, 1-2 Sam, 1-2 Kon, Jes, Jer, Eseg, 12 Klein profete (Hos-Mal), wat onder die Jode bekend gestaan het as die Nevi-im. Buiten hierdie gedeelte (Lk 16:16-17), word die term "wet" (Grieks: nomos) in die evangelie van Lukas sewe ander keer gebruik (Luk 2:22,23,24,27,39; 10:26; 24:44). In al die gevalle verwys dit na die ganse wet van Moses, nie slegs die 10 gebooie nie. Ook as mens kyk na die ander evangelies, word nomos op dieselfde manier gebruik (Mat. 5:17, 18; 7:12; 11:13; 12:5; 22:36, 40; 23:23; Joh 1:17, 45; 7:19, 23, 49, 51; 8:5, 17; 10:34; 12:34; 15:25; 18:31; 19:7). Dit is veral Joh 10:34 en Joh 15:25 wat interessant is in dié verband. Daar word nomos selfs gebruik met verwysing na die Psalms. Dit lyk dus of die algemene gebruik van die term "wet" beslis 'n breër betekenis gehad het as bloot verwysende na die 10 gebooie. As Jesus die term "wet en profete" gebruik in Lk 16:17, verwys hy na die ganse ou bedeling of die ou verbond, soos dit vervat is in die Ou Testament.

Die woord "tittel" (keraia) beteken letterlik "horinkie," en verwys na die kleinste deeltjies van die Hebreeuse letters wat die aksente aandui. Daarmee bedoel Jesus dat die opgetekende openbaring van God teenoor sy volk soos dit in die Pentateug staan (en by implikasie ook die profete), volledig geldig bly en dat niks daarvan kan wegval nie. Elke klein deeltjie daarvan is belangrik omdat dit noodsaaklik is om 'n volledige getuienis te vorm wat heenwys na Christus. Hy kom die wet en die profete vervul tot in die fynste besonderheid. Niks wat in die wet en die profete staan is daarom onnodig of oorbodig nie. Natuurlik is die morele wet ook deel daarvan, maar uit die konteks blyk dit duidelik dat Jesus die klem verskuif na die gesindheid en die hart, weg van die uiterlike vorm daarvan. Verse 15 praat van die feit dat God na mense se harte kyk. Dit gaan nie vir God oor die letter van die wet nie, maar die motief van jou optrede. Jesus stel juis hierdie verstaan van die wet teenoor die siening en die optrede van die Fariseërs wat vasgehou het aan die letter van die wet. Hulle het Jesus beskimp (vers 14) en hulle het Jesus se optrede en sy lerings beoordeel aan die hand van hulle eie wettiese sisteme (waaronder addisionele wette bygevoeg is: wat later in die Talmud vervat is) en hulle religieuse werkgeregtigheid voor mense. Hierdie interpretasie word baie duidelik bevestig deur Mt 5:17-22.

Mt 5:17-22: "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. (18) Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. (19) Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. (20) Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. (21) Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. (22) Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur."

Net soos in die geval van Lk 16:16,17 (hierbo bespreek), verwys die term nomos (wet) nie na die 10 gebooie as sodanig nie, maar word ook in die konstruksie "wet of profete" gebruik. Net soos in die res van Matteus, word nomos deurgaans verstaan as verwysend na die ganse wet van Moses, nl. die eerste vyf boeke van die Bybel (7:12; 11:13; 12:5; 22:36, 40; 23:23).

Soos in die begin van hierdie artikel bespreek, kan die woord plero-ô (vers 17) wat hierbo vertaal word met "vervul," verstaan word as "beëindiging" of "volvoering" (sien Strongs lexicon). Die UBS woordeboek verklaar die woord so: "fulfill, make come true, bring about (of Scripture); fill, make full; bring to completion, complete, accomplish, finish; make fully known, proclaim fully (Ro 15.19; Col 1.25); supply fully (php 4.18, 19); pass. elapse, pass (of time)." Christus is daarom die einde van die Ou Testamentiese wet (vgl. Rom 10:4).

Mat 5:18 sê: "voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie." Die betekenis van die frase "voordat die hemel en aarde verbygaan" is iets soos: "alles kan verander maar hierdie een ding kan nie verander nie" (vgl. Barnes). Dit dui nie as sodanig op die voleinding van die wêreld nie, maar is eerder 'n uitdrukking om aan te dui dat die stelling wat daarop volg vas en seker is. Niks van die wet (verwysend na die ganse wet – die vyf boeke van Moses) sal verbygaan (of val – vgl Lk 16:17) totdat "alles gebeur het nie." "Alles" verwys na die inhoud van die Pentateug / Torah – alles waarvoor dit gestaan het en alles waarop dit gedui het wat nog in vervulling moes gaan. Die frase wat in die 1933/1953 Afrikaanse Vertaling vertaal is met "gebeur het," is vertaal vanaf die Griekse ginomai. Die Strongs lexicon vertaal dit met: "to cause to be ("gen" -erate), that is, (reflexively) to become (come into being)…" Die vertaling "come into being" kom ook voor in die UBS woordeboek. Die betekenis is dat niks van die Pentaeug / Torah sal wegval voordat alles waarop dit dui nie vervul / tot stand gekom het nie. Die KJV vertaal: "till all be fulfilled." Die vraag is, wanneer het dit gebeur? Wanneer is die wet vervul? Jesus het dit vervul / beëindig. Net die vorige vers sê dit. Vers 17 en 18 kom dus ooreen in betekenis, dit stel dit net op 'n ander manier. Christus, en veral sy dood en opstanding is die totale vervulling en beëindiging van die ganse Ou Testamentiese wet.

Vir diegene wat Luk 16:17 en Mt 5:18 só verstaan dat dit sou beteken dat die 10 gebooie, insluitende die Sabbatsgebod nog net so letterlik vandag nagekom moet word, skep dit die volgende probleme:

1) Dit is baie duidelik dat nomos (die wet) in hierdie gedeeltes nie dui op die 10 gebooie as sodanig nie, maar op die ganse Ou Testamentiese Torah (soos hierbo en in die begin verduidelik). Dit sluit alle wette in. Sou iemand dan sê dat hierdie gedeeltes beteken dat ons as Nuwe Testamentiese Christene steeds onder die verpligting is om die letter van hierdie nomos te onderhou, dan sou ons veronderstel gewees het om alle ander Ou Testamentiese wette, feeste en voorskrifte (uitgesluit die 10 gebooie) ook te onderhou! Dit kan egter onmoontlik die bedoeling van hierdie gedeelte wees, veral as dit vergelyk word met wat die res van die Nuwe Testament oor die wet sê.

2) Om nomos in hierdie twee gedeeltes te verstaan as beduidend op die 10 gebooie, is nie net eksegeties onverantwoordbaar en hou nie rekening met die konteks nie, maar maak 'n prinsipiële onderskeid tussen die 10 gebooie en die res van die Ou Testamentiese wet, wat nie vanuit die Nuwe Testament begrond kan word nie. Nêrens in die Nuwe Testament word die 10 gebooie uitgesonder of op 'n ander vlak gesien as die res van die Ou Testamentiese wet nie.

Rom 3:31

Rom 3:31 "Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet."

Die belangrikste vraag wat weereens hier gevra moet word is: Waarna verwys die term "wet" hier? Soos bespreek dui die term nomos (wet) in die Evangelies meestal op die Torah, die ganse wet van Moses. In die briewe word nomos op verskillende maniere gebruik, bv.:

Die hele Ou Testamentiese morele wet (Rm 2:12,13, 23, 25, 26 ens.; 10:4; Gal 3:2,5,10 ens.).
Die wet as natuurlike morele beginsel wat ook by Heidene teenwoordig is (Rom 2:14).
Die wet van die geloof (Rm 3:27).
Die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus (Rom 8:2).
Die wet van Christus (1 Kor 9:21; Gal 6:2) – verwysende na die liefdesgebod (sien ook Joh 13:34; 14:21; 15:12; 1 Joh 2:8; 4:21; 5:3; 2 Joh 1:6).
Die volmaakte wet van die vryheid (Jak 1:25; 2:12) – verwys ook na die liefdesgebod (word later bespreek).

Die argument wat Paulus in Rom 3 uitmaak is dat die funksie van die Ou Testamentiese, morele wet (alle morele wette) is dat mens daardeur die sonde ken (3:20). Maar dit beteken egter nie dat die Heidene enige verontskuldiging het nie (soos hy ook in Rom 2:14-15 uitgewys het) omdat hulle ook ‘n wet het in hulle eie gewete. Hy sê daarom dat die heidene ook "onder die sonde" is (3:9). Let wel, hy sê nie "onder die wet" is nie. So ten diepste gaan dit daaroor dat almal onder sonde is omdat dit wat moreel reg is, ook ingebou is in diegene se gewete wat nie ‘n geskrewe wet het nie. Rom 3:21 sê dat die geregtigheid van God geopenbaar is sonder die wet. M.a.w. vir diegene wat tot geloof kom in die Nuwe Testamentiese bedeling, staan hulle nie onder wet nie of is hulle nie onder die verpligting om die Ou Testamentiese geskrewe wette te onderhou nie. Daar is dus vir niemand wat tot geloof gekom het iets om op te roem nie, want hulle word nie geregverdig o.g.v. die wet van die werke nie (verwysend na die ganse Ou Testamentiese wet), maar o.g.v. die wet van die geloof (3:27-28). Of jy nou besny is of nie (en of jy by implikasie die geskrewe wet het of nie), regverdiging vir beide Jood en nie-Jood is op grond van geloof (3:30). Rom 3:31 sê dan: "Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet." Beteken dit dat Nuwe Testamentiese Christene steeds onder die verpligting is om die hele Ou Testamentiese wet te onderhou? Klaarblyklik nie, want dit sou lynreg ingaan teenoor alles wat Paulus in die voorafgaande verse verduidelik het. Vanuit die konteks is dit ook onmoontlik om die nomos hier te laat dui op die 10 gebooie, aangesien Paulus geen so ‘n onderskeid maak nie, maar na die ganse wet verwys. Hy reken bv. die besnydenis ook as deel van die Ou Testamentiese wet, wat op sigself nie meer nodig is om te onderhou nie (Rom 3:30). So wat beteken dit dan?

Die wet wat bevestig word en staande bly in 3:31 beteken waarskynlik een van (of ‘n kombinasie?) van die volgende:

1) Omdat Paulus in 3:27 verduidelik het dat nie-Jode ook verbonde is aan ‘n wet, maar ‘n ander wet, naamlik "die wet van die geloof," bedoel Paulus moontlik dat dit wat staande bly / bevestig word is die wet van geloof wat ook ‘n soort wet is. Dit is ook ‘n regverdigingsbeginsel, net soos wat die geskrewe wet ‘n regverdigingsbeginsel in die Ou Testament was. Anders gestel, in die Nuwe Testament staan die beginsel steeds dat daar ‘n "wet" is tot regverdiging, hoewel in die Nuwe Testament is dit die wet van die geloof.

2) Omdat Paulus in die groter konteks verduidelik het dat Grieke / nie-Jode ook "‘n wet" in hulleself het, al het hulle nie die Ou Testamentiese geskrewe wette nie, het almal "’n wet" omdat mens die sonde daardeur ken (die Jood deur die geskrewe wet en die Heiden deur die wet in sy gewete) en omdat almal daarom skuldig staan en onder die sonde is. Die "wet" in 3:31 dui volgens hierdie interpretasie dan op die "beginsel van moraliteit" wat by alle mense teenwoordig is en vir alle mense tot die kennis van sonde bring. Daardie beginsel staan steeds.

Die wet in Jakobus

Jak 1:25 praat van die persoon wat gelukkig sal wees in wat hy doen as hy bly by, en en diep insien in "die volmaakte wet van die vryheid." Waarop dui hierdie wet? Vanuit die konteks is dit duidelik dat dit op die "koninklike wet" dui – die liefdesgebod (2:8) – die wet van Christus (vgl. 1 Kor 9:21; Gal 6:2; sien ook Joh 13:34; 14:21; 15:12; 1 Joh 2:8; 4:21; 5:3; 2 Joh 1:6).

Jak 2:10-11 sê: "Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. (11) Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword." Hier word verwys na die wet as morele, geskrewe wet van die Ou Testament. Hierin word die beginsel gestel dat as jy jouself onder die Ou Testamentiese, geskrewe wet stel om dit te onderhou, maar slegs een kleintjie nie hou nie, is jy skuldig aan die hele wet. Dit kom ooreen met dieselfde beginsel wat Jesus stel (bv. Mt 5). Bedoel die skrywer van Jakobus dat Nuwe Testamentiese Christene steeds onder die Ou Testamentiese, geskrewe wet staan of onder die verpligting is om dit te onderhou? Klaarblyklik nie, want in die volgende vers spreek hy die lesers direk aan (waar hy in verse 10-11 in algemende terme gepraat het [Wie die hele wet hou…]). Hy sê: "Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word." (2:12). Soos vroeër gesien, dui die "wet van vryheid" op die wet van van Christus – die liefdesgebod. As Jakobus by die mense aandring dat hulle geloof ook werke moet hê, met ander woorde, tot dade moet oorgaan, beteken dit beslis nie dat Nuwe Testamentiese gelowiges onder die Ou Testamentiese wet van werke staan nie, maar onder die wet van vryheid, die liefdesgebod. Dit kom ook ooreen met Paulus se woorde in Rom 8:2 "die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood." In Rom 8:2 gaan dit oor die beginsel van leiding deur die Heilige Gees, wat ook werk op die beginsel van vryheid. Daarom se Paulus in Gal 5:18 ook: "Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie." Die Heilige Gees stel mens vry om dit te doen wat God verlang. Dit laat mens tot dade oorgaan (sien bv. die vrugte van die Gees in Gal 5:22). Die dade is die praktiese uitdrukking van die Heilige Gees se werking in en deur jou, wat ooreenstem met die wet van Christus, die nuwe gebod van die liefde (Joh 13:34; 15:12), wat ‘n morele beginsel is. Geloof sonder goeie werke is daarom dooie geloof.

Jak 4:11-12 sê: "Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ‘n dader van die wet nie, maar ‘n regter. (12) Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ‘n ander oordeel?" Na watter wet verwys Jakobus hier? Na die "koninklike wet" van Christus of die wet van die werke? Klaarblyklik na eersgenoemde, want dit gaan hier oor die oordeel van ‘n broer, wat nie pertinent vervat is in enige Ou Testamentiese wet nie, maar eerder direk te doen het met die liefde vir die naaste – die liefdesgebod.

1 Tim 1:5-11

1Tim 1:5-11 "Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof (6) waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies; (7) hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie. (8) Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik (9) en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, (10) hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, (11) volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is."

Die eerste belangrike vraag wat mens moet vra is, waarna verwys die terme "wet" en "gebod" hier? Die "gebod" verwys duidelik na die gebod van liefde wat Christus kom instel het. Soos elders bespreek, het Christus die essensie en die hart van die Ou Testamentiese wet, die pentateug saamgevat. Dit gaan nie in die Nuwe Testament oor die uitvoering van die letter van die Ou Testament nie, maar oor ‘n "rein hart," "’n goeie gewete" en "ongeveinste geloof" (vers 5). In vers 8 noem Paulus dat die "wet" goed is vir iemand wat dit wettiglik gebruik. Hier verwys die "wet" soos elders by Paulus op die ganse geskrewe wet (wat alle Ou Testamentiese wette insluit). Dinge soos sodomie, onheiligheid, ongewydheid, tugteloosheid (vers 9-10) figureer in elk geval nie in die 10 gebooie nie, maar kom elders in die wet ter sprake. Hy sê die wet is goed vir iemand wat dit wettiglik (nomimôs – afgelei van nomos) gebruik. Dit beteken dat die wet reg gebruik moet word – vir dit waarvoor dit bestem is. Dan sê Paulus, "as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense…" Die wet is daar vir die sondaar sodat hy sonde daardeur kan ken (Rom 3:20). Dit is bygevoeg weens die oortredinge (Gal 3:19). Dit was dus nie deel van die oorspronklike doel met die skepping van die mens nie, maar slegs ‘n tugmeester na Christus. Dit beteken nie dat die wet op sigself sleg was nie (1 Tim 1:8). Paulus sê dit ook in Rom 7:12, as hy praat oor die toestand van die ou mens voor verlossing. Die wet beklemtoon die feit dat geen mens by magte is om dit uit te voer nie, al wil hy ook (Rom 7). Daarom noem Paulus in Rom 7:6 dat ons as nuwe mense die wet afgesterf het in Christus. Wettige gebruik van die wet is dus "om te weet" dat dit nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose (1 Tim 1:9). In die Nuwe Testament is ons slegs onder die gebod van die liefde. Die "gesonde leer" (vers 10), verwys na die moraliteit van die gebod van die liefde, wat die wese van moraliteit, wat ook ten grondslag gelê het van die Ou Testamentiese wet, totaal en al vervat. Dit vorm die kern van die evangelie wat Christus verkondig het (vers 11).

Jesus en die wet

Jesus se totale heilswerk op aarde, asook die nuwe gebod van die liefde vir God en die naaste wat Hy kom gee het (Jh 13:34), is die volledige vervulling en kulminasie van dit waarvoor die Torah (Wet) staan. Eers met Jesus se dood en opstanding het die volle implikasie van die verulling van die Wet in effek gegaan. Jesus se bediening op aarde het dus die oorgang van die Ou Testament na die Nuwe Testament verteenwoordig. Jesus self was onder die Ou Verbond, het dit herinterpreteer en vervul, maar het ook self die Nuwe Testament ingelei. Daar is daarom nog meer tekens van die Ou Verbond in Jesus se prediking as bv. by Paulus. Dit is nie omdat daar teenstrydigheid tussen Jesus en Paulus bestaan nie, maar omdat God se openbaring van die heil progressief is. Die Nuwe Testament het in sy volle konsekwensie in effek gegaan by die uitsorting van die Heilige Gees op Pinksterdag (Hand 2). Sommige verwys hierna as die heils-historiese geksiedenis. Daarom lees Nuwe Testamentiese Christene die Ou Testament met 'n ander bril. Die Heilige Gees se werking in en deur ons harte is die nuwe norm en maatstaf waaraan ons die wil van God meet (Rom 8:2; Gal 5:18) en waardeur die bedekking oor die Ou Testament verwyder word, sodat ons nie meer die Ou Testament na die letter lees nie, maar na die gees / Gees en alles wat dit behels (2 Kor 3). Dit maak ons totaal en al vry van die Wet en vry in ons verhouding met God (Gl 5:18).

As ek sê dat daar meer tekens van die Ou Verbond in Jesus se prediking was, bedoel ek nie dat sy prediking as sodanig Ou Testamenties is nie. Inteendeel, dit is volledig Nuwe Testamenties en bevat reeds die hart van die Nuwe Verbond. Maar sy woorde en prediking is sodanig dat Hy aansluit by die oue (sodat diegene onder die Ou Verbond volledig daarmee kon identifiseer) en terselftertyd die nuwe inlei. Die nuwe was dikwels in die vorm van profesie of heenwysing op dit wat moet volg (bv. Mt 5:17-18 [reeds bespreek]). Maar Jesus het ook heelwat gesê oor die manier hoe die Fariseërs die Ou Testamentiese wet toegepas het (bv. Mt 5). Hulle het sterk gekonsentreer op die letter van die wet en hulle daarop beroem. Buiten dit het hulle nog addisionele wette bygevoeg wat later tot die Talmud (wat op sigself anti-Christelik is en Jesus verloën) ontwikkel het. Jesus het geïmpliseer dat die Fariseërs se hantering van die wet die geregtigheid verskraal het tot 'n stel moets-en-moenies. Daarom sê Jesus dat die geregtigheid oorvloediger moet wees as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Daarmee bedoel Hy nie dat hulle meer wette moes volg as die Fariseërs nie. As mens daaroor dink was die Fariseërs se wetsbeskouïng eintlik baie oppervlakkig, want dit het gegaan oor uiterlike dade teenoor mense om deur hulle raakgesien en erken te word. Hulle geregtigheid was 'n werkgeregtigheid. In hulle oë moes hulle ook hulle geregtigheid voor God verdien. Die implikasie van Jesus se lering is dat dit gaan oor die ingesteltheid van jou hart en nie jou uiterlike dade as sodanig nie.

Jesus vra eerder dat ons harte volledig aan Hom moet behoort. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die stukkie geskiedenis van die ryk jong man (Mark 10:17-22). Hy het aan Jesus gevra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe. Jesus hou toe vir hom dele uit die Ou Testamentiese wet voor, want op daardie staduim was Jesus se gehoor steeds onder die Ou Verbond. Die ryk man sê toe dat hy al die dinge onderhou van sy jeug af. Jesus gebruik dit dan met opset om die Nuwe Verbond in te lei, naamlik dat selfs al onderhou jy al die gebooie van die Ou Verbond, dat dit opsigself jou nie die ewige lewe gee nie, maar om jouself en al jou besittings op te gee en Christus te volg, die kern is van die Nuwe Verbond.

Ons moet nie net 'n paar uiterlike "moets" en "moenies" nakom nie. Ons hele lewe en elke deeltjie van ons optrede moet getuig van Jesus se liefde in en deur ons. Die gebod van die liefde omvat daarom baie meer as wat die morele wet ooit kon omvat of as wat die addisionele wette van die Fariseërs kon vervat. Jesus verskuif reeds die fokus weg vanaf die letter van die wet, na die morele beginsels agter die wet. Morele wette of voorskrifte kan nie al die moontlike scenario’s wat met moraliteit te doen het, omvat nie, maar die gebod van die liefde kan wel. Daarom bedek die liefde alles, dit glo alles, hoop alles, en verdra alles (1 Kor 13:7). Maar uit onsself kan ons selfs nie die liefdesgebod nakom nie. Daarom gee God ons sy Gees om ons optrede te lei. As ons aan die Heilige Gees oorgegee lewe dan is ons nie onder die wet nie en kan die vrug van die Heilige Gees ons optrede lei (Gal 5:18,22).

 

Philip du Toit

Bespreek dit hier.

Last Updated ( Wednesday, 12 October 2011 )
 
< Prev   Next >
Joh 8:32 ...and the truth shall make you free.

Find 'n poskode / Find a postal code  |   Translate Afrikaans to English  |  Extreme Airports for FSX  | SA Scenery for FSX  |  SA News  |  Afrikaanse  Nuus  |  Guitar Chords  |  Free Piano Lessons!!  |  Free Guitar Lessons!!  |  Add Melody to Chords  |  Free Classified Ads!!  |  Free Property Listings!!  |  Free Fax to Email!!  |  Car buying online  |  Web Hosting R17 p/m  |  Jobs SA  |   Toets jou persoonlikheid

TRU Developing - Creative Web Development